Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit - Страница 7

4

Оглавление

“Ek was nog nooit in my lewe in so ’n verleentheid nie,” sê Berna met klem, terwyl haar hande die stewige koffiekoppie vasklou. Een ding is seker: teen hierdie tyd is koffie vir haar sinoniem met Dawie de Vries, en Dawie de Vries is sinoniem met moeilikheid.

Toegegee, haar stelling is nie volkome waar nie; sy was al in groter verleenthede. Wat van die stel wat sy met die uwe Christiaan Hartogh afgetrap het? Sy klouerige hande, sodat daar agterna ’n blou kol op haar linkerbors was? Maar tyd het mos ’n manier om die skerp rande van herinnering af te skaaf, en dus kan sy haar deeglik inbeeld dat vandag se ervaring erger is as al die voriges in haar lewe.

“Ek bedoel,” sê sy, “ek kom hier aan, ewe goedertrou, nadat ek alle brûe agter my aan die brand gesteek en alle agterdeurtjies toegestop het. Ek kom om my dienste aan te bied en in ruil daarvoor ’n lewe en ’n toekoms vir my en my kinders te kry. En wat kry ek? ’n Sameswering.”

Sy ken haarself nie. Sy is die een wat altyd in staat was om stil te bly en weg te sluk, en hier gee sy haar oor aan ’n aktiewe woede wat haar wonderlik ontledig. En Dawie en Lammie (ja, haar naam is toe werklik Lammie, van Lamberta) buig maar net die kop deemoedig onder hierdie kastyding.

“Ek vra honderd maal om verskoning, Berna-meisie,” sug Dawie. “Help dit darem nie dat ek jou verkeersboete saam met myne sal betaal nie?”

“Dit help, ja,” sê Berna. “Want as ek dit moes betaal, sou ek een van die kinders aan julle moes verkoop vir fondse.”

“Die ou dogtertjie,” aanvaar Lammie gretig. Dis heel duidelik dat hulle uit die staanspoor ’n sagte kolletjie vir Mientjie het, en vir Ronnie is dit nogal iets om te verwerk. Hy haal die afgelope uur vrouliker toertjies uit as wat Mientjie self kan doen, en sy pogings om “r” te sê, is pateties totdat Lammie haar oor hom ontferm en hom volgens haar geheime resep die klank leer sê.

Dis voorts duidelik dat Lammie se wantroue teenoor die vreemde vroumens nou totaal oorskadu word deur haar skuldgevoel teenoor die einste vroumens. Want dat Lammie ook aandeel het in wat gebeur het, is nie weg te redeneer nie. Sy het nou wel nie vir Dawie aangesê om ’n meisie op straat op te tel nie, maar hy moes wel deeglik ’n vrou vir haar seun Roux gaan soek, beginnende by haar stadse niggie wat die goeie tweede man by ’n kerklike klub ontmoet het.

Hulle sit op die toegerankte, diep voorstoep van die De Vriese se dorpshuis, nadat die snoepwinkel sonder slag of stoot toegesluit is sodat Lammie in haar eie motortjie die jaagtog kon meemaak, gelukkig vir haar agter die verkeerskonstabel. En aan die verskonende manier waarop dié hulle bejeën het, kon Berna sien dat sy hier te doen het met ’n gerespekteerde egpaar van Rensdal. Dus was die angel van die wetstoepassing bedoel vir haar, die vreemdeling in die poorte … hoewel Dawie haar voorgestel het as “die dametjie wat by Lam kom inval om die dorp en sy mense beter te dien.”

“Hoe kon oom Dawie so vir hom jok?” wou Berna weet toe die kaartjies klaar geskryf en hulle bekaf op pad huis toe was. “Ek het mos gesê ek gaan nie bly nie.”

“Dit hoef hy nie te weet nie, meisie. Ek het gedink dalk maak dit tog sy hart saf, want hy kom gedurig by Lam se plekkie koop. Koeksisters.”

“Kóésisters,” het Lammie reggehelp.

“Wel, dit het toe nie sy hart saf gemaak nie,” som Berna op. Dit sal haar ook min verbaas as die verhaal van die dubbele spoedoortreding in die plaaslike koerantjie kom.

Op die ou end het hulle darem tot ’n vergelyk gekom: oom Dawie betaal ook haar boete, en sy en die kinders gaan vannag by hulle slaap en môre die terugreis aanpak. Met watter doel, probeer Berna liewers nie aan haarself verklaar nie. Sy het nie gejok nie: sy het inderdaad brûe verbrand en agterdeure toegestop toe sy hierheen gekom het. Dalk gebeur daar tog tussen vandag en môre ’n wonderwerk, iets wat haar sal help rigting kry.

Lammie, wat glo saam met die hoenders opstaan om haar pasteitjies te bak, sal vir Berna vroeg wakker maak met koffie en beskuit, en pap vir die kinders. En al swem Berna se kiewe reeds in die sterkste koffie, klink dit steeds na ’n avontuur. Wanneer, indien ooit, het sy laas koffie in die bed gekry? Laat sy hierdie dag dus maar beskou as ’n kort, interessante vakansie met gratis oornaggeriewe.

Noudat sy so rustig hier sit en ontspan, met die koelte van vroegaand wat oor die dorpstrate toesak en die geur van naeltjiehoender uit die kombuis, is daar in haar ’n stille begeerte om hier te mag bly. Hoe lekker speel die tweeling met sandjies onder die voorstoep. Ja, dink net daaraan: haar kinders ken nie grond, regte grond wat jy tussen jou vingers deur kan laat gly nie. Waar hulle vandaan kom, is daar net grasperk en plaveisel en teer. In Julia se tuin mag hulle nie van die paadjies af trap nie.

“Kyk, Mamma, die sand waai,” demonstreer Ronnie. Berna knik en dink: dis wat ek en my kinders is … waaisand.

“As jy dan nou môre móét terug, Berna, gee solank vir Lam ’n paar idees vir haar plekkie,” versoek Dawie.

“Daar is baie wat sy kan doen,” sê Berna geslote, vas oortuig dat dit weer ’n soort strik is wat hy vir haar stel. Maar namate sy suiniglik op die saak begin uitbrei, neem haar entoesiasme oor. ’n Koöperasie, natuurlik, waar elke lid iets soos 10% van haar inkomste prysgee. En daar kan ’n voltydse kasregistervrou kom wat sommer ook die boekhouding doen. Vir haar salaris kan elke vrou ’n maandelikse bedrag afstaan. En dan, natuurlik, as die geld begin inrol, moet hulle lugreëling insit, en daar moet ’n mikrogolfoond kom (amper wys sy daarop dat sy een tussen haar besittings het), en ’n koeldrankkas, en …

“Wat doen julle tweetjies?” raas Berna kastig met die kinders toe sy agterkom dat haar geesdrif handuit ruk.

Want sy dink ook aan al die advertensie wat gedoen kan word: ’n behoorlike uithangbord, ’n kennisgewing in die plaaslike koerantjie (mens kan altyd vir hulle ’n woordeboek leen indien nodig), gratis eetgoed by winkels, banke en ander instansies om lojaliteit te werf, advertensies per direkte pos, dalk selfs by die fliek. Ag, daardie plekkie kan lag-lag sy omset vervierdubbel, as …

“Genoeg gespeel nou,” sê Berna en sleep met ferm greep vir Ronnie en Mientjie uit die stof om hulle te gaan bad. Die badkamer is op die agterstoep, en hiervandaan kan sy ook die buitevertrekke sien waarvan Dawie aanvanklik gepraat het as tuisgaanplek vir haar.

Dis sommer teenaan die agterstoep, en stilletjies en loer-loer stel sy vas dat dit twee ruim vertrekke en ’n besemkamertjie is, laasgenoemde groot genoeg om as ’n kombuisie te dien. Wat meer het jy nodig, as die badkamer bowendien so naby is?

Ronnie sit in die bad sy “r” en oefen. Lammie het hom eers “bdood” laat sê, al hoe vinniger en vinniger, totdat hy onverwags “brood” uitgekry het. Toe is dit weer “tdein” en so al voort. Berna is later skoon moedeloos vir al die geoefen. Dit was ’n lang, lang dag.

En dit is ook nog glad nie verby nie, vind sy uit toe Dawie haar net voor ete sitkamer toe kom roep vir ’n besoeker. Sy is onmiddellik hoogs agterdogtig. Roux, natuurlik, wat stilletjies ontbied is om haar te kom deurkyk, om haar waarde en kondisie vas te stel en ja of nee te sê vir die ingevoerde produk.

Toe dit lyk of sy gaan weier om vorentoe te gaan, kom Dawie met die waarheid uit: “Dis die dominee wat gehoor het hier is ’n nuwe intrekker, hy kom besoek aflê.”

“Maar waar op aarde kon hy gehoor het?” vra Berna oorbluf.

“Manie het glo vir hom gesê.”

“Manie, die verkeerskonstabel? Het hy reguit pastorie toe gery en gaan vertel? Is my spoedboete ’n saak wat onder die kerkraad se aandag moet kom?”

“Nee, Manie was op pad pastorie toe om te gaan reël vir doopkategese vir die doop van sy kind volgende Sondag, maar toe het hy eers vir ons gesien jaag, en ons gevang.”

Dit klink eienaardig, maar Berna verstaan. En sy voel op ’n manier nogal uitgesoek en heel spesiaal toe sy die besoeker te woord gaan staan. In die duiwehokke van ’n betonoerwoud was dit ’n gans ander saak, met pastorale besoeke naastenby ’n onmoontlike wonderwerk, omdat lidmate gedurig wissel.

Sy kom agter dat sy, tipies mens, haar verdediging agter mekaar aan ’t kry is terwyl sy deur die breë, krakende gang stap. Haar kinders se geestelike opvoeding het sy darem nie verwaarloos nie. Gereeld vir hulle uit die Bybel gelees en gebid, en soms kerk toe gevat, al was dit meestal na die Engelse kerkie wat so gerieflik teenaan die straat net langs die woonstelblok gesit het. Meermale het sy ook sommer net daar ingeglip om ’n wyle te peins en siel en liggaam bymekaar te kry.

Dis ’n taamlike jong ou wat beleef opstaan toe sy inkom, die spreekwoordelike bure-se-seun met vaal kuif en skraal gesig. Tussen sy oë en langs elke mondhoek het hy drie regop plooitjies, wat ’n gemoedelike voorkoms aan hom gee. Hy het ’n somerhemp en kasuele langbroek aan.

“Dis te warm vir ’n pak, ek hoop nie u het beswaar nie,” maak die jongman wat hom voorstel as Johan Jonker verskoning en haak sy duim onder ’n denkbeeldige lapel in.

“Glad nie, dominee. Liewe land, ek is so verbaas om ’n gesalfde te sien, dat u net sowel in ’n swembroek kon gekom het.”

Hy lag spontaan. “Dan sal ek tog oom Joppie se gesig wou sien,” sê hy gedemp.

“Oom Joppie?”

“My koster, en gewete. Elke gemeenskap het mos maar so ’n wagter op die mure, wat toesien dat ’n ou nie die spoor byster raak nie. Ekskuus … het ek gesit en skinder?”

“Nie so dat ek agtergekom het nie.” Dis haar beurt om te lag.

“Vergewe tog maar. ’n Vreemdeling is ’n weelde vir ’n ou wat nêrens stoom kan afblaas nie.” Hy haal ’n wit kaartjie en ’n rolpuntpen uit sy hempsak en voordat sy nog kan waarsku dat sy môre teruggaan, het hy begin invul. Die wyk se nommer en die straatadres, kan sy onderstebo lees. Sy het doodgewoon nie die moed om hom te stuit nie. Die kaartjie is in elk geval klaar bederf, hy sal dit nie maklik weer kan gebruik nie.

Aldus verskaf sy outomaties en nie sonder die gewone tikkie ongemak oor die oordaad nie, haar drie name: Bernadine Magrietha Jacosa. Die “Jacosa” boei hom uitermate. Toe moet hy eers gou die grappie vertel van die klerk wat wou weet of Jacobus en Jacomina met ’n “c” of “k” gespel word, en hoe die vader tuis gaan vertel het van die onnosel klerk wat “Kacobus” en “Kacomina” wou skryf. En Berna moet weer lag.

“Hoe weet u my van?” vra sy nuuskierig toe sy “Joubert” onderstebo lees. “En of ek ooit aan ’n kerk behoort?”

“Wat kerkverband betref, ek werf u nou en hier. Herdersinstink,” sê hy sonder omhaal. Sy pen kras fluks. Hy het ’n mooi skrif, ferm en vry. “En Manie het gesê u is Joubert.”

“Dis reg. My nooiensvan is Viviers, of is dit nie nodig nie?” Om die een of ander rede het sy gedwonge gevoel om dit te sê. Sy kan dit nie verklaar nie. Dalk was sy bang dat hy kan dink haar twee fraai kindertjies is buite-egtelik. Of laat hom dink dat sy geskei is. Enigiets wat vir hom ’n beswarende faktor sal wees. Want daar is net te veel gemoedelikheid in sy benadering. Sy is bo alles kopsku en versigtig.

Dalk is sy heeltemal verkeerd, dalk is hy getroud, al sien sy geen troupand aan sy versorgde hande nie. Dalk het mense hier maar net ’n intenser manier van kyk, van kontak maak, van belangstel. Wie is sy in elk geval om haar te verbeel dat die eerste die beste man op Rensdal haar op ’n sekere manier sal aankyk?

Sy gesig verstrak ’n paar oomblikke. Dit kon sy haar beslis nie verbeel het nie. En asof hulle juis vir hierdie oomblik bestel is, kom die tweeling huilend en gillend oor die plankvloer aangestommel sitkamer toe.

Dis beslis ’n heftige onderonsie waarvoor hulle ’n skeidsregter kom soek. Die vraag “Jou kinders?” wat reeds op Johan Jonker se gesig gevorm het en nog net deur sy mond uitgespreek moes word, verdwyn toe Ronnie lostrek: “Mamma, Mientjie sê tdein-tdein-tdein en sy mag nie! Net ekke mag … net ekke!” ’n Vinger vol kuiltjies word teen ’n mollige borsie in slaapklere gedruk.

“Ekke wil ook sê tdein-tdein-tdein,” huil Mientjie met ’n mond so wyd oop dat jy elke tandjie apart kan sien. “En as ek dit gesê het, wil ek sê bdood-bdood-bdood, tot ekke klaar is.”

Berna paai na die beste van haar vermoë en belowe om vir hierdie oom te vra of hy nie nog sulke woorde ken nie. Dis genoeg om hulle stil te kry en in verwondering na genoemde oom te laat staar.

“Die twee mooiste goedjies wat ek ooit in my lewe gesien het,” sê hy, en dan vra hy verwonderd: “Wat op aarde is tdein en bdood?”

Berna verduidelik, en hy haal ’n skat van nog sulke woorde te voorskyn: groot, bruin, traan, kroes, vroetel. Laasgenoemde is so ’n tongknoper dat hy en Berna dit spoedig ewe hard saam sit en oefen.

“Ek glo dit nie,” sê Johan Jonker later met ’n lag. “Ek wou jou as ’n nuwe besoeker ’n ernstige verwelkoming kom gee, en ’n vermaning om tog in te skakel by ons gemeentelike aktiwiteite … en hier sit ek sowaar my r’e en oefen. Het daar dalk te min kind in ons almal oorgebly?”

“Ek was ook nie van plan om te sit en klank nie,” lag Berna saam. Om te dink sy het al ’n volle drie keer gelag die afgelope tien minute. Sy het regtig gedink daar is niks meer in die lewe om oor te lag nie. Sy neem haar kans waar: “Ek wil net sê ek gaan nie permanent hier bly nie.”

“Maar hoe dan nou?” vra hy verward. “Oom Dawie het die dorp vol verkondig van die bekwame hulp wat vir Koskas op pad is.”

“Nee, die plan het verander. Ek wil môre weer draai.”

“Hoekom?” wil hy verbaas weet.

“Ek het … wel, ek het dinge hier kom aantref soos ek dit nie eintlik verwag het nie,” speel sy oop kaarte. “Toe ek voorlopig ingestem het om hierheen te kom, het ek nie geweet hulle soek eintlik ’n vrou vir hulle seun nie.” Sy beduie met haar kop na die binnehuis om die “hulle” aan te dui. “Ek het per ongeluk, dalk per geluk, ’n gesprek van hulle onderskep die oomblik toe ek aanland. Nou, ek weet nie wie en wat Roux is nie, maar ek dink hy sal net so min soos ek in sy skik oor die komplot wees.”

“Beslis,” sê Jonker, en net hy weet wat hy met die duistere sinspeling bedoel. “Maar dis nie rede vir jou om pad te gee nie. Na dese is jy klaar hier opgeteken.” Hy beduie na die wit kaartjie. “Ek moet net nog jou kinders se name kry. Of sal ek julle sommer Tdein en Bdood noem?” wil hy ernstig weet.

As hy vir Berna sien weifel, vervolg hy: “Roux het klaar besluit vir wie hy wil hê, en dis wederkerig. Niks wat hulle kan doen, sal iets aan die saak verander nie. En niks wat iemand sê of doen, kan jou verplig om met enigiemand op aarde te trou nie. Jy kan dus net sowel bly. Dis ’n gesonde omgewing hierdie. Die landelikheid, stilte. Sê vir my, en dis ’n bloot nuuskierige vraag: is jy geskei?”

Sy het dit sien kom, en kan nie lieg nie. “Weduwee. Maar laat ek maar eerlik wees, dit het glad nie meer so goed gegaan nie.”

“Wanneer gaan dit ooit goed? Maar wees gerus, jy is nie in die biegstoel nie.”

Lammie kom in die binnedeur staan, om te hoor “of dominee Johan nie ’n stukkie saam wil eet nie”.

Dus, dink Berna, is hy beslis ongetroud, anders sou Lammie hom nie genooi het nie. Seker dan verloof. Andersins sal menige gemeentemoeder die oog op hom hê vir ’n hubare dogter.

“’n Stukkie? As my neus my nie bedrieg nie, is daar ’n hele volstruiskuiken, met naeltjies gestowe.”

“Naeltjies is ’n wonderlike ding. Dit help ook vir vismotte,” gee Lammie erkenning aan die pluimpie.

“Perfek,” roep hy uit. “Waar kan ek een kilogram kry vir die vier miljoen vismotte tussen my boeke?”

“Ek het ’n klompie om af te staan, maar nie so baie nie,” weifel Lammie.

“Nee, daar moet meer naeltjies as vismotte wees, want dalk gooi ek nie die eerste keer raak nie,” meen hy.

“Maar mens gooi hulle nie,” hyg Lammie, en kom dan agter dat sy perfek in die slagyster getrap het. Sy glimlag vergewend.

“O, askies. Gee dan maar ’n paar, tant Lammie. Maar net ’n paar. En ek sal nie saam eet nie, maar baie dankie. Ek het nog besoeke.”

Egte beletsel, of net ’n verskoning? wonder Berna. Sou hy saam geëet het as sy juffrou Joubert was, sonder aanhangsels? Of sou Lammie hom dan glad nie genooi het nie, omdat Roux voor in die tou staan? Sy moet dit in elk geval baie, baie veilig ag om hom in die geselskap van ’n weduwee met twee kinders te plaas. Veilig genoeg dat daar nie in Roux se slaai gekrap sal word nie.

Vergeet nou van Roux, vermaan sy haarself. Hy is tien teen een verstok en vol geite. En daarby het hy mos glo iemand. En hierdie Jonker is reg: niks, maar niks, en niemand, maar niemand, kan haar dwing om haar aan hom te laat uitveil nie. Sy verskaf terstond die tweeling se volle name sodat Jonker dit kan opskryf.

“Bly jy nou?” vra Johan toe Berna, ’n kind aan elke hand, in die tuinhekkie staan om hom weg te sien. Hy het sommer gestap. Wonderlik, dink sy, om jou skielik in ’n plek te bevind met loopbare afstande, na die geworstel om ’n paar keer elke dag fisiek uit te kom waar jy moet wees.

“Wel, jy het my oortuig dat ek reeds hier gedokumenteer is.” Hoe lank “jy” en “jou” hulle mekaar al? Reg van die begin af, dalk? Dit verbaas haar noudat sy daarvan bewus raak, maar dis te laat om terug te skakel na ’n formele “u”.

Toe bars dit uit haar: “Ek wil nie terug nie. Ek het so seer daar gekry, en dit sal weer dieselfde wees.” Dis nie die regte tyd om hom, onder meer, van die onsimpatieke gesindheid van haar skoonouers te vertel, of die vervreemding van haar eie ma nie.

“Moet jou net nie bluf nie,” sê hy baie sag. “Mens kry maar oral seer. Soos die digter sê: ‘Maar die hart ken sy verdriet oral, in elk landgebied.’ Dit weet jy natuurlik so goed soos ek.”

“Ja, ek weet dit. Maar ek wil dit net ’n rukkie lank vergeet.”

En dis hoe hulle afskeid neem, sy met die kinders aan weerskante van haar, hy met die pen en die kaartjie wat hy vashou. Sy het ook van lyftaal geleer dat so ’n vashou van ’n artikel ’n soort stut bied. Waarteen sou hy ’n stut wou hê? Hy lyk so ontspanne, so seker van homself, ongedeerd, oortuig van wat hy wil en wat hy weet.

En tog loop hy anders hier weg as wat hy hier aangekom het. Sy weet dit diep en instinktief sonder dat sy dit in woorde sou kon omskryf.

“Oom Dawie en tannie Lammie,” sê Berna toe sy aan tafel sit en die vleis vir die kleintjies in hulle bordjies sny, “domineer Johan het my weer ’n keer oor my teruggaan laat dink. Ek is nou hier, met groot moeite, en met die oorspronklike bedoeling dat ek kom om te bly. Om ’n lewe te maak. As ons kan ooreenkom dat julle my op geen manier verder aan Roux probeer afsmeer nie …”

“Maar natuurlik nie,” sê Lammie en, in dieselfde asem: “Ek hoop nou nie doom Johan het self planne met jou nie.”

“Tannie Lammie, daar gaan ons al weer. Ek het nie kom man soek nie. Ek het kom werk, en werk sal ek werk. Julle haal net vir julle ’n groot ding op die hals met twee kleintjies in julle huis. Ek sal maar graag in daardie buitekamers wil intrek, as dit moontlik is.”

“Net môre begin ons daar verf en regmaak,” sê Dawie, so formeel asof hy die oprigting van ’n vyfsterhotel aankondig.

‘Sal ek my meubels laat kom?”

“Nee, wag eers, op die plaas staan daar van alles en nog wat,” sê Dawie. Daar moet heftige geheime gedagtes wees wat hy op die naeltjiehoender uithaal, want hy lê behoorlik in met mes en vurk.

Sodat Berna dink, met onrus en gelatenheid: Dis nog nie die einde van sy planne nie. Sy sien dit steeds in sy oë woel. Maar op hierdie presiese oomblik kan sy nie ’n duiwel omgee nie. Sy wil net haar leë maag tevrede stel en daarna haar moeë liggaam. Vir die kinders is daar reeds ’n dik, sagte kermisbed langs haar eie hoë wit bed gemaak, en hulle kan nie wag om daarop te gaan baljaar nie.

Wat moet wees, moet dan maar wees.

Sy is nou ’n inwoner van Rensdal. Hier gedokumenteer, soos Johan Jonker gesê het, met die drie fyn, regop plooitjies langs elke mondhoek.

Louisa du Toit Omnibus 8

Подняться наверх