Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit - Страница 6
3
ОглавлениеOp die laaste bultjie duskant Rensdal hou Berna stil om haar en die kinders ’n bietjie netjies te maak. Hulle bevind hulle tussen groen landerye, panne veldwater en weiende beeste. Sy het hierdie idilliese prentjie hoogs nodig. Sy is moeg, nie gewoond daaraan om ver ente te bestuur nie. Oor die algemeen is sy baie plekgebonde, en dit voel vir haar of sy besig is om ’n vreemde planeet te besoek.
Vakansies in die verlede was beperk tot ’n besoek aan haar ma (waartydens sy haar pal vererg het vir haar stiefpa wat so oor die muurtjie sit en spoeg en wat al haar ma se spaargeld uitgee op sakke vol patente-medisyne vir sy ipekonders), ’n uitstappie dieretuin toe, een of twee keer Suidkus toe saam met Annalien.
In die enkele jare van hulle huwelik het sy en Ronald ook nie danig rondgerits nie, behalwe in die stad self. Daar was een keer, voor haar swangerskap nog, wel sprake van ’n seevakansie, maar toe dit blyk dat Julia en Ron heel vanselfsprekend sou saamgaan, het sy kop uitgetrek. Die jaar daarna was dit in elk geval chaos, met twee babas op hande.
By die vorige stilhouplek het Berna vir elk van die kleintjies ’n pakkie lekkergoed gegee; jelliemannetjies, wat hulle nie te erg sou besmeer nie. Dit het hulle besig gehou. Nou sien sy wat gebeur het, en waarom hulle so ekstra stil was: Mientjie het gekou en gespoeg tot sy aan die slaap geraak het, en Ronnie sit nou ernstig die halfverorberde lekkergoed van sy sussie se rokkie en afpluk, so tevrede asof hy ’n hele lekkergoedboom net vir hom het.
Berna kam hare, vee gesiggies af en pak reg. Die kar is bitter vol. Benewens persoonlike besittings, het sy ook haar mikrogolfoond en persoonlike rekenaar ingepers. Sy het gereken dat sy dit sal kan gebruik in haar toekomstige pos.
Wel, as daar so iets is. Annalien het gesê sy is stapelgek om nie weer te bel en presies vas te stel wat is wat nie. Totdat Berna moes erken: “Ek is bang, Annalien. Ek is bang ek bel en dit blyk ek is vir die gek gehou … of dat De Vries se vrou my nie daar wil hê nie, of dat die kamtige winkeltjie nie eens bestaan nie.”
“Bang se voet. Jy kan nie jou kinders in die kar pak en daar anderkant voor dooimansdeur aankom nie. Wat doen jy in so ’n geval?”
“Ek sal iewers op daardie dorp ’n gaatjie kry waar ek kan afpak, en ’n los werkie om brood vir my kinders te koop.” Sy sal Hartogh se geld rek en rek.
Annalien, wat aanvanklik die entoesias was, het nou met bedenking na Berna gestaar. “Jy het twee bloedjies op jou hande, weet jy. Belowe my jy sal hulle nie laat hongerly nie. Werk sal jy kry, dit weet ek, met jou kwalifikasies en ervaring. Maar … daar? ’n Klein plekkie het ook maar net soveel werkgeleenthede voor hy versadig is. En jy moet weet dat families en hulle erfgename alle poste volsit en dit dalk nog in hulle lywige testamente aan mekaar bemaak.”
“Dan maak ek my eie besigheid oop,” het Berna beslis gesê. “Al moet ek my trots in my sak steek en geld by my skoonpa leen. Ron is nie te sleg nie, en ek sal sorg dat daar ’n behoorlike kontrak is.”
Blote mondpraatjies. Dinge sal regtig baie sleg moet lyk voor sy hulp by haar skoonouers soek. En tog, is dit so vergesog? Het hulle nie ook ’n verpligting teenoor hulle bloedeie kleinkinders nie? Maar dink net aan die bohaai wat Julia en haar twee dogters sal opskop. Dat Berna haar werk gaan staan en wegsmyt het … aangejaag, seker. Hoe onverantwoordelik van haar, en nou verwag sy dat Ronald se familie haar finansieel moet dra. Sy kan hulle al hoor; die dogters is meer Julia as Julia self.
Dalk is sy wel ’n driedubbele dwaas om die vreemde in te vaar op grond van ’n paar koppies gedeelde koffie in ’n stadskafee. Wie sê sy kan ooit daardie mansmens vertrou, al lyk hy soos ’n liewe omie? Net omdat hy behulpsaam en verdwaald was, en oënskynlik opregte meegevoel met haar situasie gehad het? Tog bly haar vroulike instink haar wysmaak dat Dawie de Vries en sy uitnodiging onvervals opreg was.
Daar onder lê Rensdal, ’n stil wit dorp soos ’n nes vol eiers tussen die rante, vreedsaam onder die namiddagson wat ’n geel, onwerklike waas oor alles sprei. Dit lyk nie of daar ook probleme, behoeftes en botsings kan wees nie. Verkeerd, natuurlik. Maar op hierdie oomblik wil sy dit graag glo. Sy wil een gekke oomblik lank veilig voel in ’n nuwe, skoon oord waar niks of niemand haar kan bykom en verder beseer nie. Want sy is ’n beseerde mens, dit moet sy erken.
Daar is die gebeure van die afgelope paar weke sedert sy by Hartogh weg is. Voor dit was daar die kwellinge en sorge van ’n onvolkome huwelik, met slegs stippels geluk. Daar was, verder terug, haar onvolkome kinderjare. ’n Dromende, vaderlose dogtertjie op die buitestoepie van ’n koshuiswoonstel waarbuite die volle lewe verbygestroom het.
Dis veral haar huweliksjare wat sterk by haar spook. Het sy van haar kant af alles ingesit? Sou sy vir Ronald kon verander, sy emosionele onvolwassenheid, sy moederhaat oor sy moederafhanklikheid … wat hy op sy vrou uitgehaal het? Alles wat verkeerd loop was háár skuld, en het hom die reg gegee om haar te verskree. Die kinders sou hy ’n rukkie lank vashou en dan na haar kant toe stoot as hulle oulikheid wyk voor ’n vuil doek of ’n wind of kramp. Hulle het sy vryheid en sy nagslaap aan bande gelê. Hy het kort-kort nuwe “uitdagings” gesoek en sy werk daarvoor laat staan, sodat Berna haar salaris alkante toe moes rek. Sy dors na plesier en vergetelheid het net groter en groter geword en, toe sy hom nie meer kon vergesel nie, het hy alleen gegaan. Hy was gedurig op soek na iets, aan ’t vlug voor iets.
En tog is dit na hom wat Berna op hierdie oomblik verlang, na die Ronald wat sorgvry saam met haar by die tegnikon was, wat met haar kon jil en speel, haar bemin. En al het dit so suur tussen hulle geword, wie sê dit sou nie tussen hulle kon herstel en groei nie, veral met die tweeling wat al hoe ouliker word en wat hom sou aanhang en omhels, mollige armpies om sy nek?
Vir haar voel dit steeds, na agtien maande, of hy maar nog iewers moet wees. Dalk is dit omdat sy nie by die begrafnis was nie. Toe sy uit haar bewusteloosheid herstel, moes sy hoor dat haar man dood en begrawe is in die ongeluk waarin sy beseer is, deur ’n voertuig wat die rooi lig verontagsaam het. Vader dank dat die babas daardie aand by Julia en Ron gebly het. Die duur grafsteen met Ronald se naam en die datum van sy geboorte en sterfte, kon niks doen om die saak vir haar werkliker te maak nie.
Dit was een van Julia se afskeidsverwyte gister: “En nou, sal die kinders nooit hulle pa se graf kan besoek nie? Wie sal sorg dat hulle hom onthou, as ek dit nie doen nie?” Moenie stout wees nie, julle pappa sou nie daarvan gehou het nie. Dis so ver soos wat Julia se onthousessies ooit gestrek het.
“Ek sorg dat ek dikwels oor hom praat, Julia,” het Berna tam gesê. Noudat die weggaan op hande was, het sy meteens nie meer krag gehad vir hierdie vermoeiende vrou nie. “Ek wys dikwels sy foto’s vir hulle en ek het selfs sy stem op band, jy moet sien hoe luister Ronnie as hy dit hoor.”
Julia se oë het geroer terwyl sy bedink hoe sy haar ook in hierdie gunstige prentjie kan bring. Toe kry sy die blye ingewing: “Maar het ek nie nog vir hom daardie bandopnemer gekoop toe hy student was nie?”
Ja, het Berna ietwat grimmig gedink, sodat sy vriende vir hom lesings kon opneem terwyl hy versuim om klasse by te woon.
Met ’n strooitjie in die laaste pakkie vrugtesap, suig Berna en die tweetjies om die beurt daaraan. Makliker gesê as gedaan, want die boetie en sussie blink uit in die kuns om ’n rusie en ’n kompetisie uit niks te skep. “Boetie suip meerder as my,” kla Mientjie sodra haar beurt verby is.
“Nie suip nie, suig,” help Ronnie reg. “En ek is eelste gebole.”
“Maar ek kan tog al r-r-r sê, en jy sê l-l-l,” snap die sussie, wat ook maar pas die kuns bemeester het en haar r’e erg rol. Dit was vir Annalien te oulik as Mientjie praat van “durrie burreipenne” as sy Annalien se breinaalde tel.
“Vat nou elkeen een lang suig,” beveel Berna, wat haar beurt liefs afgee om vrede te bevorder. Toe tref dit natuurlik so dat die pakkie leeg raak met Mientjie se lang suig, en die gegorrel laat haar in droewige trane uitbars. Berna troos, kam haar eie hare, en vee met ’n snesie die ou grimering en nuwe sweterigheid van haar gesig af. Die nuwe lagie lipstif voel eerder na ’n aanpaksel as ’n verbetering.
Net om dubbeld seker te maak, haal sy Dawie de Vries se padaanwysings weer uit die paneelkissie. Hulle dorpshuis is in die hoofstraat, het hy gesê terwyl hy dit beskryf, maar as sy daar nie lewe kry nie, moet sy sommer verbyry winkeltjie toe. Dis in dieselfde straat, aan dieselfde kant, net so ’n halwe kilometer verder, pas verby die poskantoor. En Koskas is die plekkie se naam glo. Nie baie verbeeldingryk nie, maar Berna het besluit om aan niks te gou te peuter indien hulle so gaaf is om haar in diens te neem nie.
Dis inderdaad doodstil by die groot dorpshuis wat op die handgeskrewe aanwysings aangedui is as Langstraat 32. Berna staak na ’n tydjie haar geklop en gaan terug motor toe om verder in die breë straat af te ry. Die kinders gaan dit nie meer lank hou nie. Na aanleiding van die lang teue van flussies, baklei hulle nou al selfs oor wie die diepste kan asemhaal. In hewige mededinging sit hulle op die oorvol agterkussing en hyg, ’n proses wat hulle af en toe net kortliks onderbreek om mekaar uitasem tereg te wys oor die korrekte metode van asemhaal.
So ver, so goed, dink Berna toe sy Koskas vlak anderkant die poskantoor vind. Die plek bestaan dus wel, al is dit kwalik meer as ’n glasdeur en ’n venster waarin ’n paar leë houers en dose staan. Van vensterversiering is daar geen sprake nie. Volop parkeerplek … wat ’n ongekende weelde.
“Sit nou net ’n klein rukkie doodstil,” maan Berna die moeë kinders in die warm motor en hou haar oog op hulle terwyl sy afklim en die oop deur nader.
Binne is dit amper warmer as buite. Heel eerste ’n lugverkoeler, besluit Berna, en vermaan haarself onmiddellik: dit sal g’n jou plek wees om te maak wat jy wil nie. Jy sal ’n swak betaalde handlanger wees, indien jy enigiets is.
Sy sluit haar hand vas om haar skouerhandsak se band, asof dit op hierdie oomblik haar enigste vastigheid is. Gestel sy vind totaal vreemde mense hierbinne, wat haar aangaap asof sy van die maan af kom? Wat sê sy in so ’n geval vir hulle, waar begin sy met die onmoontlike taak om die ongelooflike te verduidelik?
Dan hoor sy tot haar verligting ’n bekende stem. Skynbaar staan Dawie de Vries in ’n stoorkamer of iets en praat, want hy verhef sy stem ietwat toe hy sê: “Wag nou eers tot jy haar gesien het, dan sal jy ’n ander storie praat.” Kap-kap-kap … hy is skynbaar iets aan ’t timmer.
Nou eers sien Berna die aangesprokene, stellig sy vrou, wat agter ’n staander vol handgemaakte rokke (wel, beslis handgemaak, want dit het ’n eie styl) uitpeul. “Sy het sekerlik bruin oë, Dawid de Vries, want kyk, jy het mos altyd ’n swakte vir bruin oë gehad.” Sy het ’n regte kwetterstem en sy is so toegespits op die gesprek, dat sy Berna glad nie binne die ingang van die lang, smal, oorlaaide vertrek sien staan nie.
“Haar oë was so vol trane, ek belowe jou ek weet g’n watse kleur dit was nie. Maar sy weet alles van advertensie af, dit belowe ek jou, Lam.” Kap-kap-kap.
“Advertensie, wat van advertensie?” Die saak raak so ernstig dat Lam ook stoorkamer toe wip. “Moenie vir my kom vertel van advertensie nie. Ek het een keer geadverteer in die Rensdal-Nuus, en toe spel hulle ‘koesisters’ verkeerd, as ‘koeksisters’.”
“Maar dit is mos koeksisters,” beweer Dawie.
“Kóésister.”
“Kóéksister.”
Die huislike twissie oortuig Berna van minstens een ding: Dawie de Vries is wettig getroud, baie getroud ook daarby. Hy is beslis nie ’n leuenagtige skurk wat iewers op sy werf ’n sinkhok ingerig het as harem vir ’n klomp misleide, ontvoerde meisies uit die stad nie.
Hy het vir Lam, en Lam sal toesien dat hy in sy spoor bly trap. Dat hulle oor haar gesels, is ’n bietjie meer ontstellend. Sy vermoed voorts dat sy die afgelope twee weke die onderwerp van bespreking was. Sal sy haar aankoms bekend maak deur ’n kuggie of ’n roepie of ’n naderstaan? Op so ’n manier dat dit klink asof sy van buite af inkom en nie gestaan en afluister het nie?
“Ek het jou nie stad toe gestuur om die maan vir my te gaan haal nie, Dawid de Vries. Jy moes na daardie kerklike klub toe gegaan het waar my niggie haar nuwe man gekry het, ’n goeie man. Ek het nie bedoel jy moet iemand op straat optel nie. En wie sê Roux hou ooit van haar? Daardie Nel-merrie het hom so vas in haar kloue …”
“Hy sal van haar hou, jy sal sien.”
“Gmf. Seker ook omdat sy bruin oë het.”
“Lam, hou nou op, ek sê vir jou sy het rooi oë gehad.”
“Bruin, ek wed jou.”
“Rooi. Sy het gehuil. Traai sit nou op die stoel, hy sal nie maklik weer breek nie. Hou net ou Anna Deetlefs se vet lowwes van hom af.”
Stoelpote skuif oor ’n sementvloer. “En met twee kinders,” sê Lam.
“Juistement. Nog een sal nie vir haar saak maak nie. Die jong goedjies van vandag wil net rondjakker, hulle wil nie anderman se …” Met hierdie woorde kom Dawie uit die agterkamertjie gestap, ’n swaarderige leunstoel in sy hande, en hy sien vir Berna in die deur staan.
Sy mond val oop, en toe hy weer praat, is dit ’n soort hulproep: “Lááám! Kom gou. Sy’s hier. Ek het jou mos gesê.”
“Wie?” vra Lam, en peul ook te voorskyn.
Dawie hoop opsigtelik dat hy en Lam baie ver gestaan en baie sag gepraat het, en dat sy vriendelike toon enigiets wat Berna mag gehoor het, terstond uit haar geheue sal wis.
“Meisie,” sê hy , “het jy goed gery en die pad maklik gekry? En die ou kleintjies?”
“Daar sit hulle in die kar, oom.” Twee huilgesiggies teen die ruit, sien sy toe sy omkyk.
Sy is in die noute. Hulle weet nie hoe lank sy hier gestaan het nie. Sy kan onkunde veins, maak asof sy niks gehoor het van wat hulle sê nie … en ’n werk kry, maar ook die gevaar loop om misbruik te word. Want dat sy die slagoffer van die een of ander komplot is, en dat dit om die kastige Roux draai, kan sy nie betwyfel nie. Sy is so ontsteld dat sy van kop tot toon bewe. Haar handsak gly van haar skouer af toe sy haar greep op die band verslap. Sy buk swakkies om dit op te tel, en dit voel of al haar bloed in haar wange in loop.
“Ja,” sê sy wesenloos, “ek het gekom. Maar ek ry net hier deur, ek is eintlik op pad …” Die halfklaar leuen weier om homself te voltooi. Want mens ry nêrens heen deur Rensdal nie. Nie see toe, berge toe, luilekkerland of maan toe nie. Jy ry net Rensdal toe, want dit lê vyftig kilometer van die hoofpad af.
“’n Regte uithoekie,” het Annalien gesê toe hulle die padkaart bestudeer.
Dus bly daar vir Berna net die waarheid oor. “Ek het gekom,” herhaal sy. “Maar nou weet ek nie meer nie. Ek wil weet wat julle nou-nou gepraat het. Van Roux wat van my moet hou. Om hom van ’n ander vroumens af weg te kry, of hoe?” En iewers, as haar afleiding korrek was, is daar ’n kind ook in die prentjie. Of ’n opreg geteelde troetelhond of -kat, maar in elk geval iets wat opgepas of grootgemaak moet word.
“Wel, ja,” sê Lam nadat sy en Dawie mekaar ’n slap blik van verwyt en hulpsoeke toegewerp het, “dit is ten dele oor Roux wat Dawie jou gevra het om te kom, maar dit is darem in die eerste plek oor die winkel, moet ek eerlik sê.”
“Oom Dawie,” sê Berna, “ek voel so … so vernederd en diep teleurgesteld. Terwyl jy sit en luister het hoe ek misbruik is, het jy self ’n plan sit en maak om my te misbruik.”
Dawie se mond gaan oop en toe. Hy wik en weeg heel duidelik tussen tienduisend onvanpaste opmerkings, en toe kies hy die verkeerdste een onder die klomp: “Jy sal sien, Roux is nie so sleg nie,” sê hy. “Dalk leer julle tweetjies nog van mekaar hou.”
Toe luister Berna nie verder nie. Sy rig die motorsleutel wat sy soos ’n wapen in haar regterhand vasklem (menigmaal het sy, vrou-alleen, dit ook as wapen gereed gehou op ’n verlate parkeerplek of in die hyser) op Dawie de Vries.
“Mans,” sê sy, “is almal eenders tot hulle dood. As hulle nie klaar aangejaag het nie, is hulle op pad om aan te jaag.” Blindkwaad sien sy Lam se groot oë, en onthou darem om by te voeg: “Toe maar, hy het niks met my probeer nie, hy kan net oor sy Lam praat. Maar bruin oë of nie, ek wil niks met julle gekonkel te doen hê nie. So, hou julle verpesting van ’n ou winkel, en hou julle verpesting van ’n ou seun.”
Daarmee swaai sy om en storm motor toe. Toe sy inklim, huil die tweetjies al goed. Stomme, arme kinders. In wat ’n deurmekaar wêreld lewe hulle, tussen watse deurmekaar grootmense. En hoe nodig het hulle ’n bad en ’n bed, en ’n huis en … ’n pa. Uit die hoek van haar oog sien sy nog hoe Lam driftig beduie, met ’n uitgestrekte arm. Dalk sê sy: “Keer, haar, Dawie, sy is kwaai, en Roux het ’n kwaai vrou nodig.” Of: “Gee haar by die polisie aan, wie gee haar die reg om ons hier in ons eie plek te kom beledig?” Of dalk net: “Fietas! Wat kom soek sy hier tussen ordentlike mense?”
“Sjjjt-sjjjt-sjjjt,” troos sy aanhoudend agtertoe terwyl sy ’n wilde U-draai in die bykans verlate straat maak. Hoe oortuig sy die tweetjies tog om net stil te bly en uit te hou tot hulle weer buite die dorp is? En as sy buite die dorp is, wat doen sy dan met hulle?
Sy is skaars weer op koers in dieselfde rigting waaruit sy gekom het, toe sy sien wat plaasvind: die bakkie wat voor haar teen die randsteen gestaan het, was Dawie s’n. En in hierdie bakkie het hy gespring en dieselfde U-draai as sy gemaak om nou agter haar aan te jaag.
Wat is sy plan? wonder Berna terwyl sy hom in die truspieëltjie dophou. Hy wil haar tog seker nie halfdood ry, soos ’n slagskaap vasbind en voor die vrousoekende Roux se voete gaan neergooi nie?
Die tweeling ruik opwinding, en bly stil om te sien wat nou aangaan. Oppas, vermaan sy haarself, onthou jy het kinders in die kar. Wie een keer in ’n kwaai motorongeluk was, lê daardie skrik seker nooit weer heeltemal af nie. Maar die blou bakkie is op haar hakke, en sy trap die petrolpedaal platter.
Jy sal my stof nie sien nie, kners sy op haar tande. Jy en jou Lam kan gaan doppies blaas. Het sy nog genoeg brandstof? Genade, wat besiel haar? Sy kon die ding verstandig met die twee mense sit en uitpraat het. Sy het immers ’n koel kop en ’n nugter benadering tot die lewe, of was dit alles aangeleerde bates? Is sy sommer ’n wilde wegholding, en was Julia Joubert reg toe sy die aand voor haar seun se troue in die kombuis vir hom gevra het om die Berna-meisie liewers te los? Daardie woorde wat sy eintlik nie moes gehoor het nie, slaan nou terug in Berna se kop: “Ek het jou grootgemaak vir ’n uitsoekvrou, my seun. Dink weer ’n keer, dis nog nie te laat nie.”
Wat op aarde ’n uitsoekvrou is en hoe sy lyk, sou Berna nooit uitvind nie. Maar ’n uitsoekvrou sou seker nie gedoen het wat sy nou aan ’t doen is nie: wegvlug van haar probleem af. Haar vertrek uit die stad hierheen kan dalk nog beskryf word as beplanning, maar nie haar terugvlug soontoe nie, veral aangesien sy daar geen vastigheid meer het nie.
Toe haar gedagtes hierdie punt bereik, maak sy haar gereed om snelheid te verminder, om haar deur Dawie de Vries te laat inhaal en die saak behoorlik uit te stryk. Sy sal in elk geval die nag hier in die dorp moet deurbring, ter wille van die kinders. Maar wat kos ’n hotel nie net nie? Sedert haar salaris haar ontval het, wik en weeg sy voor elke besteding. En altyd roer daar in haar agterkop die twee woordjies: die kinders. Hulle toekoms, hulle vastigheid … So jonk nog toe hy dood is, het Ronald nie regtig polisse gehad nie. Dalk het dit onder in sy bewussyn vasgestaan dat Julia en Ron altyd sal sorg. Veral Julia. Dis vir haar wat hy altyd eerste aangespreek het, om iets te vra, te vertel, of oor te kla. Maar dis ook vir haar wat hy altyd eerste gekritiseer het; onverdraagsaam, heftig, byna hatig.
Dieselfde gedrag wat hy teenoor sy vrou geopenbaar het. Partykeer kon hy so gemaklik en vertroulik wees, ander kere onverklaarbaar gefrustreerd en foutvinderig. Sy het daaraan gedink as sy ligte kant en sy donker kant en dit was vir haar bitter jammer dat die kinders dit ook klein-klein reeds so moes ondervind.
Meteens hoor Berna ’n minder welkome geluid iewers agter haar: die sirene van ’n verkeersvoertuig, waarskynlik die enigste een op die dorp.
“Rensdal,” sê sy hardop met ’n vermoeide uitblaas van die asem, “jy wou my hê, en jy sorg dat jy my kry, of hoe?”