Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit - Страница 12

9

Оглавление

Dis die langste, eienaardigste dag wat Berna nog ooit beleef het, en die vreemdste deel lê sekerlik nog voor. Daar was die vroeg opstaan vanmôre, wat voel asof dit in ’n ander eeu was; die rit saam met Roux, die oplaai van Bambie, die besoek by Julia, die opperste vreemdheid van Annalien se optrede.

En nou gaan sy saam met die niksvermoedende Roux hier in die woonstel sit, en sy weet nie hoe om die situasie te beredder nie. Sy besluit om die duidelikste weg te volg, dié van absolute openlikheid. Maar eers, om dit uit te stel en ook haar kommer oor die tweeling te verlig, bel sy Rensdal toe. Sy probeer glad nie dink aan die dinge wat Roux haar vandag op so ’n bitter trant vertel het nie. Vir my was hulle goed, besluit sy oor en oor as sy dink aan Lammie en Dawie, en ek is nie van plan om hulle goed met kwaad te vergeld nie.

Soos ’n regte oupa en ouma praat albei. Eers Dawie, om te vertel hoe hy, soos afgespreek, vir die tweetjies nuwe skoene gaan koop het, wat ’n bietjie ruim sit, soos Berna gevra het, sodat dit nog in die winter bo-oor kousies kan pas. En hy beskryf hoe hulle nou met die te groot skoene loop, “so klap-klap en met sulke hoog voetjies,” en toe gee hy die foon vir Lammie om te vertel van winkelsake. Lammie het ’n stukkie nuus wat sy nie kan wag om mee te deel nie: sy het ’n stukkie ou weggooitapyt in die hande gekry, vuil en vol gate, Dawie het dit van die asgate af gebring toe hy die laaste bourommel weggery het. Een van die vroutjies van Koskas het dit geëien as ’n egte Persiese mat, en nou het Lammie vier heel stukke daaruit gesny gekry wat sy behoorlik gewas en laat droog word het.

“Om wat mee te doen, tannie Lammie?” vra Berna verbaas. Om iets uit niks te maak, is nie een van haar eie talente nie en dit vul haar met die hoogste verering as iemand dit wel kan doen.

“Vir jou ’n ‘carpet bag’ te maak, op die stel van ’n ‘doctor’s bag’,” vertel Lammie trots, “en drie vir die winkel.” Berna het vir haar vertel hoe in die mode dié soort handsak is en hoe duur jy in die winkel daarvoor kan betaal, en daarom is Lammie nou kliphard aan die werk.

“Ek is nou skoon opgewonde,” sê Berna, wat weet dat Lammie ’n doring met ’n naald is. “Is jou hande nie gaar nie? Dis mos seker te dik vir ’n masjien om te stik.”

“Dit is, ja, maar ek gebruik ’n vingerhoed, en Dawie help met die els en tang en alles.” En dis glo te oulik om te sien hoe die tweeling se handjies al die bewegings namaak sonder dat hulle daarvan bewus is. Ten slotte sê Lammie heel terloops: “O ja, en doom Johan was hier en hy neem ons erg kwalik dat ons hom nie betyds van jou ma se dood vertel het nie.”

“Ek het gedink hy sal ons kwalik neem, hy is so pligsgetrou.”

“Hy sê hy sou jou ook gevat en die begrafnis gehou het as dit moet.”

“As ek terugkom, sal ek hom verseker bedank vir die bereidwilligheid.”

“Watse kind hoor ek dan praat?” vra Lammie skerp. Berna ys; sy het skoon vergeet om te vra dat Roux vir Bambie stil hou. Wat sal Lammie tog dink as sy moet weet? Verseker sal sy trouklokkies hoor lui, en goedjies vir die troutafel begin hekel.

“Die woonstelle is maar baie op mekaar hier, tannie Lammie,” soek Berna flouweg na ’n uitleg.

Toe is die gesprek verby en Berna het geen verskoning meer om Roux nie in die oë te kyk nie. Sy het alles gevra wat sy moet vra: oor die kinderarts wat reken Bambie se pyne kan porfirie wees, maar dat toetsing eers na puberteit betroubaar is. En oor die omsetter waarna hy kom kyk het, en oor hoe dit die plaashuishouding ten goede te staan sal kom. Sy val hom nie in die rede, dat Lammie en Dawie gedink het dis ’n alarm, en of die twee goed dalk verband hou nie. En of hy nou seker is dat môre se draai nie vir hom ongeleë is nie, want sy is seker sy sal by vriende of haar skoonouers geholpe raak met vervoer.

Toe is dit uiteindelik Roux wat die leiding neem. “Hou nou eers op met besig wees en kom sit hier,” sê hy.

Sy gaan langs hom op die rusbank sit, maar op die verste puntjie. Haar hele liggaam spel terughoudendheid en sy hoop dat hy dit raaksien.

“Hoekom is jy so senuweeagtig?” wil hy weet.

“Omdat my vriendin nie vanaand hier kom slaap nie,” kom sy uit met die sak patats.

“Nou? Wat daarvan?” Hy rook rustig, lyk huislik. Hy wou ten alle koste op die balkon rook, is glo nie ’n binnehuisroker nie. Sy het hom egter oortuig dat dit in orde is, haar man was ’n binnehuisroker. En gewonder of sy dalk net die verkeerde ding gesê het.

“Wat daarvan? Alles daarvan. Dat jy van voor af kan begin dink ek probeer jou aankeer. Dat ek jou vanaand onder valse voorwendsels hierheen gelok het.”

“Het jy?” Die glimmende skrewe van sy oë terg of kla aan, sy kan nie besluit watter een van die twee nie.

“Natuurlik nie, en jy weet dit.”

“As jy dan weet ek weet, hoekom bekommer jy jou?”

“Ek is bang jy weet nie dat jy weet nie.”

“Genade,” lag hy en skud sy kop. “Hoe ingewikkeld kan dit wees? Ek sou geweet het as jy gejok het.”

“Solank jy net weet dat daar iets verskriklik snaaks met my vriendin aan die gang is en ek kan nie tot haar deurdring om uit te vind wat dit is nie. Ons was altyd soos susters, maar meteens het daar net ’n muur tussen ons gekom. Die idee was dat sy hier in die woonstel bly solank ek dit nog betaal en daarna sou sy dit oorneem. Nou woon sy nie eens hier nie, sy kom net in om reg te vat en dan verdwyn sy skynbaar weer en ek weet nie waarheen nie.”

“Hierdie bose stad van julle,” mymer hy met ligte spot. “Sy is dalk in die greep van ’n bose bende.” Dan raak hy ernstig: “Jy ken haar beter as ek, so ek vra maar: gebruik sy nie dalk verdowingsmiddels nie? Jy sê sy klink vér.”

“Sy klink afgetrokke, so half verstrooid. Sy het nou die aand gepraat dat sy hoofpynpille gedrink het wat te sterk vir haar was. Maar sy was nooit ’n hoofpynlyer nie. Sy rook ’n paar sigarette per dag, maar hou byvoorbeeld niks van alkohol nie. Ek kan nie glo dat sy haar skielik tot so iets sou wend juis noudat sy oor haar ergste persoonlike probleme gekom het nie. Haar man se verraad en die egskeiding was vir haar ’n knou, maar sy is ’n optimistiese mens en het moedig geveg.”

“Ek glo alles wat jy sê en dis ’n mondvol. Maar vergewe my as ek nie te erg bewoë oor haar lot kan voel nie. Dis omdat ek haar nie ken nie. Jy weet tog, mens hoor van ’n aardbewing in die ooste of ’n orkaan in die noorde en jy vergeet dit weer, behalwe as ’n naby familielid met vakansie daar was.”

Dis nogal baie woorde vir hom, en onnodig ook. Voel hy tog uiters ongemaklik met die situasie waarin hy beland het? “Ja, ekskuus, ek het my verbeel jy kan in my kop sien om te weet hoe sy lyk en is. Ek sal vir Bambie gaan bad, daarna kom ek vir ons iets te ete maak.” Sy het vroeër genoeg tyd gehad om ’n paar inkopies te doen en is voorbereid vir aandete. Daar is ’n paar skywe kalfsvleis waarvan sy schnitzel wil maak. Sy voel onseker oor haar vleisdisse vir die tafel van ’n fynproewer-boer en sal veiliger voel as die vleis met ’n beslag bedek is, en sy is gewoond aan degies en sousies om die begroting te rek. Verder net kapokaartappel, ertjies en slaai. Veilige kombinasie en dit sal nie lyk of sy hom wil beïndruk nie. Beslis geen kerse, blomme en wyn nie, o nee. Nie eens nagereg nie. Sy het mos ’n hele skoen vol sjokolade, wat sy darem intussen in ’n glasbak omgekeer het.

Toe eet Roux nogal besonder lekker. “Ek het nie gehelp met die uitgawes nie,” onthou hy.

“Nou hoe dan, jy wil niks vir reiskoste vat nie.”

Hulle is so beleef met mekaar dat dit eintlik pynlik is. Berna moet uiteindelik toegee dat hy net so ongemaklik soos sy is. “Gaan bad jy,” bied sy na ete aan, “ek sal opwas. Toe, jy het netnou al gesê jy voel sweterig. Hier is helaas nie ’n stort nie.”

Sy het voor ete reeds vir Bambie gehelp om te bad en haar slaapklere aan te trek. Die vyfjarige meisietjie is eintlik baie stil en afhanklik. Berna onthou die warm, nat armpies om haar nek toe sy die kind uitgehelp het. Toe verspreek sy haar en sê: “Goed, houvas maar aan Mamma … ek bedoel aan tannie.” Gelukkig het sy sag gepraat. Sy skaam haar dood as Roux gehoor het. As hy het, besef hy darem seker dat sy dit uit die mag van gewoonte gesê het.

“Nee, ek bad nie voor jou nie,” weier Roux. “’n Man is nie gebore in staat om ’n badkamer so netjies agter te laat as wat hy dit betree het nie. Daarvan het my dierbare oorlede gade my oortuig. Dis ’n onvermoë waarmee ek my versoen het. Buitendien, ’n vrou laat ’n badkamer geuriger agter. Gaan jy gerus eerste.”

Hy het weer te veel gepraat, en dit uit ongemak. Het hy doelbewus sy oorlede vrou genoem, seker dat sy nie moet dink hy deel Nerida Nel se badkamer op ’n gereelde basis nie? En kan hulle tog nie maar net ontspan nie? Hulle is nou eenmaal saamgegooi in die omstandighede waarby hulle al twee prakties baat.

Sonder om verder te redekawel, gaan sy dus badkamer toe en neem die nodige klere saam. Langbroek en warm bloes. Die aande begin al koel word en, gedagtig aan die Julia van vanmiddag en aan die ongemaklike saamgegooidheid met Roux le Roux hier in die woonstel, sal sy beslis nie haar snoesige kamerjas aantrek nie. Sy sal hom geen, maar geen rede gee om haar motiewe te wantrou nie, dis gewis.

Die gespoel van die krane sluit alle ander geluide uit, sodat sy skrik toe daar ’n geklop aan die badkamerdeur kom. Nogal eisend, asof die klopper wil binnekom. Skrik slaan verstikkend in haar keel vas. Die badkamer kan nie sluit nie en sy het nooit iets daaraan laat doen nie, omdat dit nie nodig was nie. Sy was bowendien altyd bang dat die tweeling hulle per ongeluk van binne af kan toesluit.

Kan mens dan niemand vertrou nie? wonder sy vlietend en draai die krane toe om die situasie beter te kan hanteer. “Ja?” roep sy gesmoord.

“Hier is iemand wat die huurder van die woonstel ken.” Roux se stem, en nogal bars daarby.

Sy is nameloos verlig. Wat sou sy doen as hy ingekom en geweier het om weer te loop, soos dit glo een keer met Annalien en ’n verlangse manlike familielid gebeur het? Sy wil roep en vra of dit Annalien is, maar dan sou hy dit anders bewoord het, iets soos “Jou vriendin is hier”. Sy besluit om liewers die aangename bad kort te knip en self te gaan kyk. Sy droog haastig af, trek aan en gaan sommer kaalvoet en met stoomklam hare uit.

In die middel van die sitkamer staan Christiaan Hartogh driftig rond, sy kuif deurmekaar. Toe hy vir Berna sien, ruk sy kop op. Sy weet onmiddellik dat hy haar nie hier verwag het nie.

As hy vir Annalien soek, sal dit baie dinge verklaar. En tog, selfs al vermoed sy vlietend dat hy en Annalien iets aan die gang kan hê, bly Annalien se optrede steeds vreemd. “Naand,” sê sy bloot, nie seker hoe om hom aan te spreek nie. Op sy voornaam sal te familiêr wees, en “meneer Hartogh” te formeel.

“Ek het hier verbygery en die lig sien brand. Nie geweet jy’s hier nie.”

Die lig sien brand? Nogal ’n kuns, aangesien dit ’n hele woonstelblok vol ligte is. Dit moet beteken dat hy die ligging van die woonstel goed ken, dit bestudeer het. Geweet het dat Annalien nie hier slaap nie?

“Ek … ons is net vir die nag hier. My ma word môre op Tierhoek begrawe en meneer Le Roux was so gaaf om my te bring. Hy was vandag by die dokter met Bambie.” Sy beduie na die dogtertjie wat in slaapklere met haar pop sit en speel, maar tog die grootmense fyn dophou asof sy vermoed dat hier die een of ander beslissing onder die oppervlak afspeel.

“Het julle mekaar ontmoet?” probeer Berna verder om die uiters ongemaklike situasie te oorbrug. Hier staan sy en Hartogh teenoor mekaar, onwennig en onseker, en Roux sit hulle onderlangs en aangluur asof hulle alle sedelike reëls oortree het bloot deur mekaar te ken.

Want, ja, Berna kan nie stry nie: die bitterheid het vervaag, en sy voel die aanvanklike aangetrokkenheid teenoor hierdie man weer in haar opleef. Wat gebeur het, was tog ten goede. Sy is voorspoedig gevestig in ’n ander omgewing, waar sy sekuriteit en vooruitsigte het. Sy is in niks meer van Hartogh afhanklik nie, en dit gee nogal ’n ander kleur aan hulle samesyn.

Haar vraag lok geen reaksie uit nie. Sy staan half tussen die twee mans, voel as ’t ware die nodigheid om hulle met haar lyf van mekaar af weg te keer. Aangesien sy aan nie een van die twee toegesê is nie, moet dit net oeroue manlike instink wees wat hulle soveel vyandskap laat uitstraal. “Roux le Roux en Christiaan Hartogh,” stel sy tog maar voor. “Roux, Christiaan was my baas voor ek Rensdal toe is.”

“Die een van wie af jy moes wegkom?” vra Roux so ewe.

Berna ruk haar asem met ’n onhoorbare snak in. Hoe durf hy? Dit was nou uiters, uiters gemeen. Hiervan sal hy nog hoor. Sy sien Christiaan se gesig donker word en dink desperaat aan iets om te sê. Uiteindelik bly net die halmpie van die waarheid oor: “Ja, ons het ’n onderonsie gehad,” sê sy koel, “maar ek reken dis uitgestryk. Ons is nie vir mekaar kwaad nie, of hoe, Christiaan?”

Hy ignoreer die aanspraak. “Kan ek eenkant met jou praat?” vra hy dringend.

Roux glimlag suur. “Toe maar, ek wou afgaan om ’n koerant te koop. Poplap, kom ek sit jou solank in die bed.” Daar is reeds vir haar ’n bedjie gemaak in die klein spaarkamer waar hy self sal slaap.

“Annalien ontwyk my die laaste tyd,” sê Christiaan toe hy en Berna alleen is. “Waar bly sy deesdae?”

“Ek weet nie,” moet sy eerlik erken. “En as ek geweet het, sou dit seker nie reg gewees het om vir jou te sê nie. Jy sê dan self sy ontwyk jou.” Dus is, of was, daar iets tussen hom en Annalien.

“Ek moet met haar praat, daar is dinge wat ek en sy moet uitstryk.” Hy luister verbaas na sy eie stem. “Uitstryk … wie het onlangs die woord gesê?”

“Ek het. Netnou.”

“O.” Hy lyk verlig, die sakeman wat hou van sy greep op gegewens. “Jy moet verstaan dat dit nie juis anders kon gebeur het nie. Dit was nie ’n geval dat ek aan jou ontrou was nie. Ek het hier by haar gekom om jou adres te kry en toe loop dinge maar soos dit loop.”

Ontróú was nie? Waarvan praat hy? Iets is nie met hom pluis nie. Hy lyk verward, en dit ontstel haar meer as die feite oor hom en Annalien; feite wat sy reeds vermoed het.

Hy steek sy arms na haar toe uit. “Is alles nou weer reg tussen ons?”

Sy deins agteruit en sorg dat die tafel tussen hulle kom. “Christiaan, jy moet nou loop. Ek wil gaan slaap, môre is ’n moeilike dag. Ek het jou tog gesê, my ma word begrawe.”

Dit lyk of hy nie eens hoor nie. “Ek weet jy hou nie daarvan dat Annalien my baba verwag nie,” sê hy, “maar ek het nie geweet dit sal gebeur nie. Ek het na jou toe gegaan om alles te verduidelik. Na daardie plekkie toe … wat is die naam nou weer?” Hy frons om te onthou.

“Rensdal? Was jy daar? Is dit jy wat …?” Woede vul haar. Sy kan dit nie verhoed dat haar stem al hoe hoër rys nie. “Jy kon my kinders iets laat oorkom het. Hulle kon hulle morsdood geskrik het. Hoekom het jy nie soos ’n normale mens by die voordeur …” Dan besef sy die ironie van haar eie woorde. Normale mens … maar hy is nié normaal nie. Dit weet sy nou. Daar loop ’n donker knak, ’n breuk, deur sy oënskynlik nugtere sakemansbestaan; ’n breuk waarin Annalien getrap en gestruikel het en waaraan sy, Berna, betyds ontkom het.

Hy kom nog nader en hou steeds sy arms uit. Sy smyt ’n stoel om in haar poging om hom te vermy. Hoe lank duur dit om ’n koerant te gaan koop? wonder sy paniekerig. Sy durf nie skree nie, dit kan Bambie uit die kamer hierheen bring en haar ook in gevaar stel.

Dan gaan die voordeur oop en Christiaan is onmiddellik ten volle beheers.

“Alles nog reg hier?” vra Roux doodluiters. Hy het geen koerant by hom nie. Kan dit wees dat hy heeltyd buite die deur bly staan het?

Dit is die vraag wat sy heel eerste aan hom stel nadat Christiaan Hartogh beskaaf afskeid geneem het: “Was jy heeltyd buite?”

“Natuurlik. Ek weet nou al hy is ’n wellusteling en ek kon in sy oë sien hy is geheel en al nie lekker nie. Dink jy ek sal my kind aan so ene blootstel?”

“Nou nie dat ék juis saak maak nie, of hoe?” Sy hyg nog effens van die skrik. So, presies soos vanaand, was Christiaan se benadering daardie aand by sy huis, en sy het agterna gedink dat sy haar maar verbeel het dat dit so erg was.

“’n Vrou wat vir haar so ’n knopperige bed maak, moet maar daarop slaap,” sê hy onsimpatiek.

Sy wou hom nog bedank, maar nou sal sy dit vervlaks nie doen nie. Net voordat sy gaan slaap, bel sy vir Ron by die hotel waar hy volgens Julia tuis is. Sonder om blyke te gee dat sy weet van die breuk tussen hom en sy vrou, vra sy of hy moontlik kan reël dat haar klompie meubels by hulle geberg word. Die opsigter kan die woonstel oopsluit.

Hy is gaaf gewillig, soos sy hom ken; vra selfs uit na die kinders, en sê ten slotte: “Jy het net betyds gebel, ek is eintlik op pad huis toe. Julia was laatmiddag hier, en ons het besluit …”

“Ek is bly, Ron,” sê sy eenvoudig.

Om in haar ma se piepklein dorpshuisie rond te beweeg, bring vir Berna ’n hartseer mee wat anderkant beskrywing lê. Met ’n gevoel van tevergeefse agterna-liefde raak sy aan kledingstukke en persoonlike besittinkies, sommige waarvan sy nog uit haar kinderdae onthou. Daar is die duifies van wit porselein, fotoalbums, die musiekdosie, die tikmasjientjie waarop haar ma, danig professioneel, die koshuis se weeklikse spyskaarte uitgetik het.

En net as sy dink dat sy in stilte haar verlies kan bepeins, steek haar ou stiefpa sy neus by die kamerdeur in, doodbang dat sy alles kan inpalm en wegdra. En ja, hy is wel veel ouer as wat haar ma was, dit sien sy nou na ’n lang tyd van afwesigheid.

“O, jy kyk maar,” sê-vra hy toe hy die honderdste keer kom kontroleer.

Toe trek sy sommer moer. “Nee, oom Japie, ek kyk nie net nie,” sê sy. “Ek vat wat ek wil hê. Dis nie dinge van waarde nie, maar vir my het dit waarde.”

“Ek is mos maar die enigste erfgenaam,” sê hy uiters droefgeestig. “En as ek dink hoe ek haar die laaste tyd opgepas en bygestaan het.”

Se voet. Hoe het hy haar ma se lot nie verswaar nie. Haar ma was g’n so sieklik dat dit nodig was om haar te versorg nie, en so het Berna ook met haar aankoms by die buurtannie uitgevind. Sy het immers gereeld met haar ma oor die telefoon gepraat. Sy is op die ou end so onverwags dood, aan ’n beroerte, dat haar breinaalde nog in die stuk breiwerk op die rusbank was. Maar emosioneel het die ou man haar lankal behoorlik doodgelewe.

Wat ’n ramp dat hulle vannag nog hier sal moet oorslaap, sy en Roux en Bambie. En soos Berna gedink het, is daar talle uitstaande geldelike verpligtinge, hoewel die byna outydse begrafnisboekie darem die grootste uitgawes dek. Roux staan haar prakties by, waaroor sy diep dankbaar is. Sy skaam haar nie eens teenoor hom vir die powere omstandighede nie.

Die ergste sou nog voorlê: Berna se stiefbroer daag ook op, so bedroef soos ’n volgroeide krokodil kan droom om te wees. Hy het nie sy gesin saamgebring nie, “om hulle die smart te spaar”. En terwyl hy dit sê, kyk hy triomfantelik na Berna. Om hartseerder as sy te kan lyk, is skynbaar een van die min manlike prestasies, behalwe voortplanting, wat hy nog in sy lewe kon bemeester. Soos sy ou pa is hy dik en ongeskik. En, ook soos oom Japie, reken hy skynbaar dat daar ’n onnoemlik grote erfporsie op hom wag in hierdie nederige stiefma-huisie en hou hy vir Berna stip dop, gegrief oor die geringe goedjies wat sy meedoënloos inpak.

Laat hulle kyk, dink sy onbewoë. Haar kinders is ten minste geregtig op ’n paar aandenkings van hulle wettige ouma. En sy pak sommer ook die bekende lappieskombers, die geelkoperblompot, die waskom en beker en die Louis XIV-halfmaantafeltjie ook in.

“As jy nie vir alles in die kar plek het nie, sal ek agterna draf vir halfprys,” sê sy vasbeslote aan Roux wat twyfelend, maar ook geamuseerd, toekyk.

Stiefbroer versoen hom eindelik met die onvermydelike en bied selfs aan om vir Berna môre by die graf “by te staan”. Vir hierdie daad oefen hy deur haar die aand in die kombuis vas te keer. “Ek het nog nie eens behoorlik met jou gesimpatiseer nie,” sê hy, en druk haar teen sy geswolle buik vas. Sy ruik ou drank, ou twak, ou knoffel, en ou sweet in oksels wat vir die okkasie met goedkoop deodorant bespuit is. Hoe meer verbete sy hom probeer wegdruk, hoe deegliker versmoor hy haar in sy vertroosting. “Toe maar, ons is alleen,” verseker hy haar nogal met ’n stoterige asem.

Sy lig haar knie om hom in die mik te tref, maar daar is te min beweegruimte. Die volgende oomblik kom daar verlossing as ’n vaste greep hom beetkry en van haar af wegtrek. Dis Roux wat daar staan nadat die stiefbroer boos die aftog geblaas het. ’n Nou openlik geamuseerde Roux. “Ek het gedink ek laai jou op vir my eie gerief,” grinnik hy. “Ek het nie gedink ek sal jou heeltyd uit ander mans se omhelsings moet bevry nie.” Dan vervolg hy, ietwat meer besorg: “En sluit jou en Bambie se deur vannag, hoor. Ek wil nie nog van hierdie soort nonsens hê nie.”

“Dink jy ék wil?” snou sy hom toe. Sy gril nog tot in haar tone. Sy bedank hom egter nie weer, soos gisteraand met Hartogh nie. Sy durf nie te diep in die skuld by Roux le Roux raak nie. Sy wil nie haar oë uitgegrou hê as Nerida Nel haar bykom nie, en Roux is buitendien te vol griewe en geite, hy sê dalk sommer: Ek het dit nie vir dank gedoen nie.

Nie eens die openbaarmaking van haar ma se eenvoudige testament, waarvolgens haar volle boedel en bates, die huis ingesluit, aan haar enigste dogter bemaak word, kan die diep en futiele verdriet in Berna se gemoed besweer nie. Al wat haar genoeë verskaf, is die stiefbroer se suur gesig toe dit blyk dat hy nou sy pa in sy sorg sal moet neem.

“Ek hoop jy is nou tevrede,” sê hy vir Berna, sy groot, nat krokodiltrane vergete, sy bultende gesig wolkdonker.

“Heeltemal,” glimlag sy soet met hom, “jou vatterige vark.”

Sy sal die huisie opknap en verhuur, later dalk vir ’n uitvlugplekkie gebruik. Dit voel of daar eindelik weer ’n stukkie van haar ma aan haar behoort.

Louisa du Toit Omnibus 8

Подняться наверх