Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit - Страница 10

7

Оглавление

Dis sononder toe Elzar daar aankom.

Hierdie keer stap hy deur na waar Bina vir Makkie aan ’t melk is. “Een keer in my lewe moet ek hierdie verskynsel van naby sien,” verklaar hy. “’n Mooi, moderne jong meisie wat ’n bok melk. Ek wens ek was ’n groot kunstenaar. Soos Johannes Vermeer, wat Het Melkmeisje geskilder het.”

“Is jy ’n kunskenner ook?” vra sy. Nie te verbaas nie, want hy was op universiteit en het seker nie net leer preek nie.

“Nee, maar Tanja …”

“Aha, die aanstaande. En sy het jou van Het Melkmeisje vertel … hoe lank gelede?” Tanja; maklik om te onthou, dis naby “Tanna”.

“Ek sal eerlik wees: onlangs. Ons foonrekening is hoog, ek sal maar my persoonlike oproepe betaal anders gaan die kerkraad kla.”

“Niks minder as reg nie. Maar, laat ek raai: jy het haar vertel dat hier sowaar nog ’n meisie is wat ’n bok melk. Toe gaan sy navorsing doen.”

“Hoe reg is jy.”

“Ek is bly as ek haar tot navorsing inspireer.”

“Ek en sy het ’n ewige redenasie oor goeie afdrukke van klassieke meesterstukke, of oorspronklike werk van onbekende skilders.”

“En? Wie wen? Wat gaan teen die pastoriemure kom? Ek kan nie wag nie.”

“Spot maar.” Hy sak op sy hurke langs haar neer. “Dink jy ek sal dit ook regkry?”

“Met vuil hande?”

“Hier loop die watervoor mos. Sê net.” Sy voete het met sy koms ’n ballerjaktak raakgetrap en die mentgeur van die gekneusde blare hang om hulle.

“Dis Makkie wat moet sê. Sy ken net my vingers.”

“Gelukkige Makkie.”

“Jy staan op troue, dominee.”

“O ja, ek vergeet.” Hy klap hom teen die kop. “Kan ek nou? Probeer melk, bedoel ek?”

“Behalwe dat dit nie so maklik is soos dit lyk nie, is ek feitlik klaar. Sy begin opdroog.”

“So, sy moet eers weer ’n slag trou en ’n boklammetjie kry voor sy nuwe melk het. Ek het darem familie op plase, hoor.”

“Ja, dalk moet oom Kola, solank ek weg is …” Dit het uitgeglip.

“Ek hoor van die weggaan, ja. G’n wonder jou hare is so blink gewas nie.”

Sy voel selfbewus omdat dit nog nie vasgebind is nie. ’n Redelike boskaas.

“Jou Tanna daar binne is so verhuil dat haar oë soos twee verdrinkte rosyntjies in haar kop sit. Jy kon my darem gister in die bib gesê het.”

“Ek het jou mos gesê ek sal my eie reëlings tref, het ek nie?”

“Jy was baie vaag. Maar toe sê meneer Duraan my netnou jy wil bietjie weg.”

“Jy was daar by hulle?” ys sy. Dinge is juis nou so sensitief. Maar hy wou mos gisteraand al kom, toe oom Daan hom weggekeer het met die storie dat hulle moet slag.

“Ek moes ’n draai maak. Dis my werk. Behalwe preek, doop, trou, katkiseer, begrawe. Nie die lekkerste deel, hierdie vredemakery nie, maar ek doen dit. Soos jy in die winkel kardoesies vul en toffies aftel.”

“So, hy en tant Rykie het nog nie gery nie? Dit word laat.”

“Nee, maar hulle was op die punt. Hulle slaap glo vannag eers by familie op ’n plaas, naby iewers. Ek het belowe om met hulle seun op te volg.”

Hy gaan met Dawid praat. Oor vergifnis. Versoening. Hoe gaan Dawid dit ontvang? Hom dalk vererg? Hy is goedig van aard, maar hy is ’n Duraan en kan sy man staan, en geen mens laat buitendien graag in sy privaatsake krap nie, deur wie ook al.

“Maar hoe kon oom Daan vir jou sê dat ek weggaan? Hy weet mos net dat ek verlof vat so lank as wat hulle weg is.”

“’n Verstandige stap,” knik hy. “Maar nee, dis eintlik mevrou Duraan wat uitgevind het jy gaan weg. Sy het glo vanmiddag jou oom Kola oor haar foon hoor reëlings tref.”

“Geluk, Elzar, jy begin verstaan ons tromme alte goed. Die nuustromme, soos in die oerwoude. Weet jy wat het ek alles van gister af gehoor? Dat ek en jy in die bib saamkoek, dat Tanna ’n galblaasoperasie moet ondergaan.”

Sy begin vertel maar toe sy by Japie en die kardoes kom, lag Elzar so dat hy kantel en omval. Hy bly net daar lê, magteloos – sodat sy, ook laggend, die melkbeker eenkant op die kweek neersit en hom probeer optrek, haar vingers sterk om syne. Die sonbesie het hom stom geskrik. “Ja, toe, stil jy ’n slag,” praat Elzar in die boom in. “Ons het groter probleme hier benede.”

“Jy hou jou aspris swaar,” verwyt sy.

“Nee, ek is so swaar. My hart weeg ’n ton. As ek opstaan, gaan dit deurval op my voete. Dis die vingers van jou.”

“Jy speel met my,” besef sy en los sy hand soos ’n warm patat. “Jy is net ’n ordinêre mansmens, hoor jy?” Maar sy is nie regtig kwaad nie, net ontsteld oor die aangename sensasie van hulle vingers wat so maklik verstrengel het.

Hy staan op, stof hom af, vat die beker by haar, teug daaruit. “Hmm … ek voel hoe die kalsium en vitamines my binnestroom. Amper soos Popeye met die spinasie.”

“Jy het ’n wit snor.”

“Vee jy dit vir my af?”

“O nee, netnou gryp jy my hand, en dan my hele lyf, en wat moet ek dan doen?” spot sy.

“Jy lees my gedagtes.” Hy vee die skuimsnor met sy hand se rugkant weg, lek dit af. Nou sit daar op sy bolip net die donkerige stuwing van stoppels onder die vel. “Nou ja, ek wou nog altyd ’n moestas hê, maar Tanja …”

Indien hy doelbewus die te intieme samesyn wou stopsit, het hy dit reggekry. Bina vind dit jammer. Sy het dit geniet om net bietjie te jil en selfs te flirt, om te vergeet van die wagtende ommekeer van haar afgebakende lewetjie. Met Dawid durf sy nooit so vrypostig raak nie, Japie is te simpel daarvoor.

Juis toe kom Tanna buite die agterdeur staan en roep: “Binatjie, kry dan klaar, Japie het gekom. Dominee sal seker ook bietjie met hom wil gesels.”

Tanna verdwyn betyds, sodat sy nie die dubbele nuwe proesbui op die voorwal hoor nie.

“Wat ís sy storie?” vra Elzar.

“Hy’s maar net sy ma en ole’ pa uitgeknip. Oom Kola sê jy kan nie twee donkies kruis en ’n perd verwag nie. Maar hy’s eintlik ’n goeie siel.”

“Nou ja, dis al wat ek hoef te weet. Die siel is my terrein.” Ernstig nou, byna somber, stap hy saam met haar die paar treë huis toe. “Ek hoor jou pa kom jou haal. Ek het nie geweet jy het ’n pa nie.”

“Alle mense het ’n pa. Waar dink jy kom jou dopelinge vandaan?”

“Ooievaar?” raai hy serieus. “Of hier in julle geweste is dit dit seker rivierapies wat gevang word … pot kookwater, hare afgeskraap, stert afgesny, daai bedryfie.”

“Laat ons maar net sê my pa kon my nie alleen grootmaak nie, my ma is dood toe ek klein was. Hy’t my vir Tanna gebring, en oom Kola het handgegee. Dit sou tydelik wees.”

Sy hoef niks verder te sê nie.

“Nou ja, jy is besig, en ek het net kom groet. Laat ek weg wees. Vergadering vanaand. Een van die swepe wat my op koers hou.”

“Ek is nie te besig om drie eiers vir jou te bak nie.”

“Lei my nie in die versoeking nie. Maar ek moet regtig waai. Ek kom dit eet as jy van jou omswerwinge terugkom. Hoe lank is jy weg?”

“Die idee is een week, maar wie sê ek kry geleentheid terug? So, ek weet self nie.” Dit hang ook af of sy in haar pa se huis in die hondehok sal moet slaap, maar sy sê dit nie. Sy het nou geen ander opsie as om dinge te aanvaar soos dit oor haar pad kom nie.

Japie is besonder stil. Anders hoor jy altyd sy stem soos ’n by wat onophoudelik teen ’n ruit zoem sonder om te vorder. Toe die ander twee die knus beknopte woonkombuis binnekom, spring hy manierlik op en gee vir Elzar hand. “Ek is nou bly om vir dominee op die lyf te loop, ek wou juis met dominee oor aspekte praat. Naand, Bina.”

“Wat se aspekte dan, meneer Kleinveld?”

“Ag, dominee, hy is mos Japie. Net Japie,” onderrig Tanna die onbeholpe gesalfde.

“Nou ja, Japie, wat se aspekte?”

“Dis nou half privaat, dominee, maar nou ja. Tanna en oom Kola kan maar luister, hulle ken my en Bina se sake net so goed soos ek en sy self.”

Elzar moes dadelik gesnap het waarheen die gesprek op pad is, maar hy slaag wonderlik daarin om onkunde te veins: “Maar onthou ek is ’n nuweling, Japie. Jy sal my op hoogte moet bring.”

“Ag, dominee kan maar eintlik vir Bina self vra, daar staan sy.”

Dis die waarheid, want Bina staan daar. Sy kan tog nie sit, lê, hol, spring of kruip nie. Hoewel sy graag op haar knieë uit die situasie sou wou wegkruip.

“Praat jy maar namens haar, Japie. Jy is die sterkere vat.”

“Die saak staan so, dominee, ek kuier nou al so lank by haar, en Ma sê die Skrif sê dis beter om te trou as om die askoek te verbrand.”

“Ek hou van jou ma se parafrase van die oerteks,” sê Elzar opsetlik geleerd.

“Dominee?” Japie se ystervarkhare staan regopper en sy gesig is ’n omgekeerde vraagteken, behalwe dat sy oë twee dotjies in plaas van een vorm.

“Dis niks, gaan voort. Maar die Skrif sê ook ons moenie onnodig baie woorde gebruik nie, en ek het hoeka netnou ’n vergadering.”

“Nou ja ek wou maar net vra, as Bina terugkom, aankomde week of so, dat ons die gebooie kom opgee.”

“Ek het nie geweet julle gaan trou nie?” vra Elzar soetverbaas aan Bina.

Sy sit die beker melk in die yskas, maak die deur toe, kry die bekende geur van stadig brandende paraffien in die tenkie, draai stadig om: “Daar’s g’n so ’n ding nie. Loop slaap in die Kaap, Japie.”

“Maar Bina, ek vry al hoe lank na jou. Koue of reën, dit sê nie, ek is hier.”

Dis oom Kola wat antwoord: “Sy vry jou nie met ’n haakkierie oor die telefoon nie, man. Loop in jou verstand.”

Japie kyk hulpsoekend na Tanna: “Maar sowaar, Tanna.”

Dis Elzar wat ingryp, deftig soos hy vermoed Japie dit verlang: “Kyk, Japie, drie weke se gebooie is nie meer nodig nie, net een keer se bekendmaking. Maar dinge is nou baie onklaar. Dis nie die regte tydstip vir sulke ernstige sake nie. Sit jou hand op papier solank Bina weg is. Lê vir haar jou hele hart bloot. Dalk vind jy guns in haar oë.”

Japie se oë draai in hulle kasse: “Bedoel dominee ek moet ’n brief skryf?”

“Juistement.”

Japie is so verslae dat selfs Bina hom jammer moet kry. “Jou ma kan jou mos help, Japie. Maar ek dink nie dit sal my van plan laat verander nie. Ek wil nie trou nie. Ek gaan ’n non word.”

“’n Non? Daai vroue wat soos pikkewyne aantrek?”

“Mens noem dit ’n ‘habit’,” help Elzar. “’n Ordekleed. Dit wys hoe ernstig hulle is om nooit die professie te verlaat nie. Vir mans is daar nie plek in hulle lewe nie. Hulle dien die kerk, hulle verpleeg en gee onderwys. Die wêreld sou armer sonder hulle gewees het.”

“Heiden jissie,” tob Japie. “Dan moet ek maar by Malie Rossouw begin kuier, Ma sê dis nie te sê daar is fout met ’n potjierol nie.”

Bina knik. “Jy sal beter doen as met my. Haar man is al twee jaar dood, en jy weet hoe daardie kastige nuwe vryer haar deurgeloop het. Sy verdien ’n goeie man. Soos jy,” onthou sy om by te voeg.

“Dalk wou sy al Bina se oë kom uitgrou,” reken Elzar. “So, as julle saamstem, los ons maar die gebooiestorie geheel en al, dan hoef jy ook nie vir Bina briewe te skryf nie.”

Almal is tevrede. Oom Kola het hom eintlik reeds gedistansieer deur ’n handleiding te sit en bestudeer. Iemand het ’n toestel gekoop wat aanmekaargesit moet word, en oom Kola het die boekie met instruksies huis toe gebring. Dit interesseer hom skynbaar meer as om te wil weet hoe Japie aanmekaargesit is.

Net Tanna is nie tevrede nie. “Die klere wat jy sal moet dra, Binatjie, sal Rykie jou daarmee kan help?”

Bina fluister iets in Tanna se oor, en toe is Tanna ook tevrede. Want om iets in die oor gefluister te kry deur ’n mooi jong mens, maak haar sommer ook jonger en mooier.

“Wat het jy vir Tanna gesê?” vra Elzar toe Bina hom op die werf wegsien. Die aand ruik na rivier, troebel water en en groenigheid. Dis al goed skemer, en sy moet dink aan die eerste keer toe hy hier was. Die vlakke van sy gesig lyk in die halwe maanlig reeds soveel bekender as toe. Hoe veilig voel dit saam met hom hier op die bekende, kaal klein werf. Die eerste keer het die somerkateltjies nog buite gestaan, en hy het so ’n nag onder die oop sterrehemel begeer. Die angs van skeiding pluk in haar binneste. Hoe durf sy saam met haar pa gaan, wat haar nooit voorheen in sy lewe wou hê nie?

“Vir haar gesê dis nie regtigwaar nie, ons sê maar net vir Japie so.”

“Dan is ek ook verlig, hoor. Ek lê nie graag jukke op die nek van die jongedogters in my gemeente nie.”

“Praat jy van Japie of van die lang jurk?”

“Sommer alles wat met ’n j begin.”

“Ek is bly jy was hier. Anders het ek dalk begin klipgooi.”

“Graag gedaan.”

“En so kry jy ook jou sin sonder dat jy ’n vinger hoef te gelig het. Ek gaan weg uit die gevaarlike winkel.” Sy kry ’n vermoede: “Jy het nie dalk agteraf met oom Kola gekonkel nie?”

“Dit sou nie bo my beginsels wees, as dit om jou welsyn gaan nie. Maar nee, ek het nie. Hy’s maar net ’n gebore ou sielkundige, lyk dit my. Maar nou dink ek: ons kry vir jou weg van jong Duraan af, maar ons los hierdie ou twee alleen. Sê nou hulle vreet mekaar op?”

“Van haat dalk, maar nie van liefde nie.”

“Hoe kan jy met sekerheid sê?”

“Omdat ek nog altyd hier gebly het om vrede tussen hulle te bewaar. En omdat …” Sy swyg. Dis ’n diep geheim wat oom Kola net vandag met haar gedeel het, daar in die waenhuis. Sy durf hom nie verraai nie.

“Omdat? Ek wil nou verskriklik graag weet.”

“Ek dog jy weerhou jou van horenseggen?”

“Dis anders as jy my dit vertel.”

“Sê maar net hy het my ’n kykie gegee in … wel, hoe om ’n koppige bok te tem.”

“Belowe jy sal my eendag vertel wat dit beteken?”

“Ek kan nie belowe nie.”

“Dis goed genoeg vir my. Nou tot siens dan. Voor sy kan keer, buk hy oor en soen haar vol op die mond. “Ry mooi, kuier lekker, en kom veilig terug.”

Terwyl sy agterliggies oor die grondpad hobbel en in die verte klein raak, plaas sy haar vingerpunte op haar lippe.

As dit Dawid se mond op hare kon wees …

Vandag was lank, ’n dag wat woerwoer met Bina se gemoed gespeel het. Sy het vanoggend in die winkel aangekom, net om te hoor dat Molly met die kind weg is en dat oom Daan-hulle ook ’n rukkie weggaan. Dat sy alleen met Dawid sal wees, en dit mag nie. Net gister in die biblioteek het Elzar ook op die situasie geskimp.

Toe laai oom Kola haar vandag tydens die etensuur op, met die skoknuus dat hy haar pa van tant Rykie af gebel het, en dat haar pa haar kom haal. Dat hy môreoggend hier sal wees. Sy het haar naels versorg, hare gewas, klere uitgesoek, gewas en gestryk, die tas nader getrek wat sy eenkeer by oom Daan gekoop het; wel nie egte leer nie, maar kunsleer. Nogtans lyk dit stukke beter as die ou soort van harde karton.

Sy voel hartseer en onseker, en Tanna is die ene trane, haar sakdoek is bolletjie in haar vuis gedruk, en sy kerm aaneen oor alles: die slagting op die paaie, die boosheid van die stad, die swak kos en onvriendelike mense, die misdaad, die sedeloosheid, en nou moet ou Kool vir Makkie melk, en hy kom altyd met ’n halwe beker tuis en vertel die bokooi wou nie sak nie. Sy kerm oor die durawelike reistas, en wat is verkeerd met die soetkys waarin Tanna haar oorskietlappies hou? Of die een wat nog van Bina se oorle’ ma af kom?

“Los jy vir ou Bienkels, sy weet wat sy doen,” het oom Kola kom knor.

“Almiskie, maar die Pieter kan haar deurtrek met geld en klere en soetkys en al.”

Bina sou kon lag as sy nie nader aan snik was nie. Die danige klere is maar min en die meeste tuisgemaak met behulp van tant Rykie, hoewel dié knap met die naald is.

Sal sy daar anderkant kan was en stryk? Sal haar pa se vyandige vrou (as hulle ooit wettig getroud is) haar darem iets toelaat? Of sal sy die hele tyd in haar kamer moet deurbring (is daar ooit vir haar ’n kamer, dalk net ’n rusbank?) en maar lees en radio luister? Sal sy by ’n winkel kan uitkom om iets by te koop? By ’n poskantoor, om ’n brief te pos? Sy het ’n posspaarboekie, en oom Kola het vir haar geldjies gebring wat sy nie graag wou vat nie, maar hy het aangedring.

Toe was dit skemer, en Elzar kom, en hy maak haar so opgeruimd en sorgvry met sy gejil daar langs die grootvoor waar hy kastig ook wou melk. Hulle vingers wat ineenvleg toe sy hom van die wildekweek af wil ophelp. Toe kom Japie, en hy praat troustories. Elzar help haar daaruit loskom, en buite op die maanligwerf gee hy haar ten afskeid ’n soen vol op haar mond.

En nou is die dag verby … of is dit?

Sy sit kastrolle water op die stoof en stook die vuur. Sy wil klaar bad voor sy gaan slaap, dan is dit môreoggend net vir aantrek. Intussen pak sy haar groot tas verder in. Meteens hoor sy werfklippies voor ’n haastige voetstap rol. Haar hart begin stamp. Sy ken daardie manier van stap. Jy kan sê haar ore is geskape slegs om dit uit te ken. Dis Dawid Duraan. Wat wil hy hê? Sy het hom tot siens gesê toe sy loop. Nie met ’n handdruk nie, want toe het sy nog nie geweet dat sy op reis gaan nie. Haar dag het met hom begin. Moet dit met hom afsluit? Sodat dit al die tussenin belewenisse nietig verklaar? Haar pa se verwagte aankoms, Elzar se besoek?

Sy wag in haar kamer dat Tanna hom binnenooi. Dis sy bekende stem, ja, laggerig. Oom Kola se stem kom ook by. Hy gesels altyd graag met Dawid. Bina luister hoe Dawid vra om met haar te praat, hoe Tanna hom inlig dat sy aan ’t inpak is. “Hoe moet dit dan wees?” vra Tanna. Die huis is so klein dat geen gesprek geheim kan wees nie, en haar deur is buitendien nie op knip nie.

“Inpak? Sy het gesê sy vat ’n paar dae vry, maar nie dat sy iewers heen gaan nie.” Sy stem het ’n ondertoon van gebelgdheid. “Dan loop sy net so van haar werk af weg? Ek het darem gedink ek kan haar ’n wyle inroep as daar probleme is.”

“Nou wat is jou probleme?” vra oom Kola.

“Ek sit môre hand in die hare, oom. Daar is ’n slagding of twee nodig vir die slaghuis, en dit moet van die eiland af gehaal word. Met die skuit. Dan moet daar geslag kom. Ek kan nie in die winkel ook nog nie. My pa lig my sowaar laatmiddag eers in dat die vleis in die koelkamer min is. Ons het vir die huis ’n lam geslag, maar nie vir die slaghuis nie. Toe spring hy en my ma netnou in die kar en ry weg.”

Bina kom agter dat sy snaarstyf gespanne luister, ’n stukkie klere in haar hande geklem, haar onderlip tussen haar tande. Natuurlik sal sy eerder winkel as Johannesburg toe gaan. Natuurlik sal sy eerder naby Dawid as naby haar onbekende pa wees. Maar dan was al haar wroeging en besluitneming verniet. Dis agteruitgang, nie vordering nie.

Toe praat oom Kola, ongeërg: “En wat is met my twee hande verkeerd? Ek sal jou help. Moet ek in die winkel wees, of moet ek vir jou die slaggoed deurswem?”

Tanna gooi dadelik koue water op die swemplan: “Kyk hierso, Kool Estruis, die rivier is nie op sy leegste nie. As jy deurgeswem kry sonder om te versuip, eet ek my hoed op.”

“Ek hoop dis daai lelike strooihoed waaraan die Swietse bok reeds gevreet het.”

“Net oor jy vergeet het om haar vas te maak.”

Dawid klink nie gekwel oor die geskoor nie. “Jitte, oom, ek wil oom nie in die gesig vat nie, maar Bina ken die winkel soos die palm van haar hand.”

“Ek het daar uitgehelp destyds, toe jou pa in die nood was. Toe jy al in die Kaap gesit en snoek vreet het.”

“Dis lank terug.”

“Ek het nie intussen dommer of onhandiger geword nie.”

“Om oom nou alles te wys en te leer, en dit vir ’n paar uur. As Bina net môre vir ’n heen-en-weertjie …”

Oom Kola se stem kry sy knor terug: “Los, sy’s op gewerk. Jy kan nie bloed uit ’n klip tap nie. Sy kan nie môre inkom nie, ook nie volgende week nie. Dalk nie eers volgende maand nie.”

“Hoe meen oom nou? Sy’t gepraat van ’n week.”

“Haar pa het gesê hy kom haar vir ’n onbepaalde tyd haal.”

Bina vergeet om te sluk, en stik byna in haar spoeg. Speel oom Kola toneel? Daar is mos geen sprake van “onbepaalde tyd” nie. Sy sou ’n week of so gaan, en klaar.

Dalk vergeet Dawid ook om te sluk, want oom Kola vra: “Hoe vroeg wil jy my môre by die winkel hê?”

“Dan weet ek nou nie, oom. Kan ek net by Bina hoor.”

“Jy’t niks by haar te hore nie. Sy pak in, en sy moet vroeg gaan slaap.” Dit moet die eerste keer wees dat hy vir Dawid afsnou. Baie ander mense, ja, maar nie vir Dawid Duraan nie. Bina weet voor haar siel dat, as Dawid nie getroud was nie, oom Kola hemel en aarde sou versit het om hulle by mekaar uit te bring.

“Dan moet oom maar so vroeg moontlik kom. Sesuur, halfsewe.” Dawid klink gelate.

En toe groet hy, en gaan weg, sonder om ’n tot siens vir haar te roep, want hy weet tog sy moet hoor; dis nie hulle yslike Duraan-huis met die baie kamers en rondomstoep nie. Hy stuur ook nie eers vir haar groete nie. Sy hoor die bekende voetstappe wegknars.

So is hierdie lang dag dan verby, dink sy. Durf sy die lamp doodblaas en hoop dat sy aan die slaap sal raak? O, hoe wens sy dat sy hier kon bly, in die knus veiligheid. Wat kan die verre vreemde tog alles met haar aanvang? Sy het haar beste naggoedjies ingepak en trek sommer ’n ou T-hemp en kortbroek van rekstof aan. Sy het te veel goed in die tas, die ritssluiter wil nie gladweg toemaak nie en sy durf dit nie forseer nie. Sy besef dat haar verslaenheid oor die klein probleem eintlik net ’n uitlaatklep vir haar dieper onrus is.

In die ander twee se kamers is dit reeds doodstil toe haar lamp nog brand. Sy is bang vir die bed. Tant Rykie, wat soms aan beswaardheid ly, het eendag vir haar gesê: “Mens weet dit kom aan wanneer jy bang is om bed toe te gaan.” Maar nee, sy is nie depressief nie, sy het ’n egalige natuur. Sy is net vanaand onrustig. Dis die verandering, die onbekende.

Dis waar, sy wil ook graag uitgaan in die wêreld, maar nie so stompweg nie. Niks sal erger wees as om te moet tuisgaan in ’n huis waar sy nie regtig welkom is nie.

Sy probeer ’n bietjie lees, maar kan nie konsentreer nie. Sy het nog nie lekker in Blind Path ingekom nie. Het dit maar gister uitgeneem, en vandag was te woelig om te lees. Net vanaand alleen was daar drie besoeke: van Elzar, Japie en Dawid. Sy, wat slegs ’n paar maande terug voor hierdie venster in die aandskemer gestaan en droom het van ’n vreemde jong man wat by die voordeur aankom, besef nou wat ’n futiele droom dit was. Want vir Japie wil sy nie hê nie, vir Dawid kan sy nie kry nie, en Elzar is net wat hy is: die oulike byna-verloofde jong dominee. Sy lippe op hare beteken niks. Teen hierdie tyd soen hy seker al die vroue in die gemeente. Sy meisie sal hy nie só soen nie. Of hulle oor alles saamstem of nie, hy sal haar so styf vashou dat hulle byna in mekaar inklim.

Hoekom kan sy nie tot rus kom nie? Is dit die vreemde gedagteflits wat sy vroeg vanmiddag gehad het toe sy by oom Kola in die bakkie sit? Die weerligbeeld van ’n motor op die oop pad, en sy wat langs iemand anders sit? Maar dit was nag, en sy gaan môre in helder daglig ry.

Sy het oom Kola voor slaaptyd verlangs uitgevra oor die “onbepaalde tyd”, waarop hy gemompel het: “Sommer.” Wat seker moet beteken dat hy net vir Dawid wou ontmoedig.

Dis elfuur. Waarom wag sy? Wat moet nog gebeur?

Dan kom die antwoord: motorligte vee oor die werf, slaan op teen die huisie se mure. En sy weet: dis my pa. Hy het nie gewag nie, maar dadelik na oom Kola se oproep vertrek. Die vraag is: waarom? Is dit oor haar?

Indien nie, wil sy hê hy moet liewer omdraai.

Louisa du Toit Omnibus 10

Подняться наверх