Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit - Страница 5

2

Оглавление

Soos Bina verwag het, is Dawid redelik vroeg by sy pa se winkel. Hy kon nog altyd so lewendig in alles belangstel. Sy lei af dat hulle voordag aangekom het, waarna hy na die lastige kind moes omsien terwyl sy vrou slaap.

Sy oë is rooierig van moegheid. Hy bring die dogtertjie saam, om te spog soos hy sê, en “om haar ’n rukkie uit Molly se hande te vat”. Hierdie woorde het vir oom Daan, rooierig en sweterig en blesserig, ’n grimmige laggie laat kry.

Bina lei verder af dat die brekfis wat sy ma kamer toe gestuur het, onaangeraak op die skinkbord koud geword het. Dawid self het in die kombuis ontbyt geëet, en wys laggend die spikkels op sy hemp waar die kleintjie ’n mond vol pap uitgeproes het.

Is dit moontlik, wonder Bina met ’n hoopvolheid wat haar beskaam, dat Molly se kos kamer toe gestuur is om haar langer uit die geselskap te hou?

Dis ’n mooi ou dogtertjie wat net begin loop. Sy word nie dikwels op die naam genoem nie, hoewel Dawid allerhande troetelnaampies vir haar het. Haar naam is glo Zonaline, nogal moelik om te onthou. “Ek sê maar sommer Lientjie as Molly ver is,” lag hy. Hy lag altyd saam met die praat. Bina het hom nog nooit bedruk gesien nie.

Terwyl Dawid energiek winkelsake met sy pa gesels, probeer Bina ongemerk maats maak met Lientjie, soos sy ook verkies om die kleintjie te noem. Dit moet tog net nie lyk of sy Dawid se guns deur Lientjie probeer wen nie. Sy is o, so versigtig. Sy ken verwerping in haar lewe; want ja, sedert daardie gesprek met die skoolhoof weet sy dat haar pa haar doodgewoon weggegooi het, niks anders nie. Hy kon harder geveg het om haar te behou, wat die vreemde vrou ook al gedoen of gesê het.

Dis ook maar goed dat sy haar nie openlik met die kind besig hou nie, want na sowat ’n uur kom Molly daar aan en waaier dadelik vir Dawid in oor die lekkergoed in Lientjie se hand. Dit was juis tyd vir ’n koppie kitskoffie, wat deur Bina gemaak en staan-staan by die toonbank gedrink is. Oom Daan bring altyd flesse vol moerkoffie, maar dit lyk of dit vanoggend agterweë gebly het. Die geselligheid het natuurlik die rietskraal mensie vies gemaak, want vir Bina groet sy nie eers nie.

Sy gryp die lekkergoed en hou die kleintjie se taai handjie in die lug, asof dit so besmet is dat dit afgekap moet word. “Really, Dave, you know it’s spoiling Zonaline’s appetite,” sê sy in noukeurige Engels vir Dawid wat Dave geword het.

Vir Bina, wat ’n werklik tweetalige Engelsjuffrou gehad het, is dit duidelik aangeleer. Die er is net te veel met die tong gerol. “Fetch me a damp cloth, will you,” beveel sy vir Bina. In oom Daan se rigting kyk sy nie eers nie.

“Die voer van ape is verbode,” sê Dawid in Bina se rigting, sodat sy besef hoe ver hy van sy tuisbodem weggegroei het. Hy praat van ’n stadse dieretuin, terwyl hier net blouape in rivierbome is. En Molly praat ’n soort rolprent-Engels. Sy bring nietemin die klam vadoekie en kyk hoe Molly eers daaraan ruik en dan met rukkerige bewegings die mollige handjie en huilende smoeletjie afvee.

Dat hy vir Bina aangespreek het, was ’n tweede fout. “Don’t be ridiculous, Dave,” sê Molly en gryp die kind wat nou woes oor die lekkergoed skreeu, op haar smal heup. Eintlik lyk sy self nog soos ’n dogtertjie, rokkie en al.

“Hoekom praat jy weer net Engels?” vererg Dawid hom regtig ’n bietjie, sodat die lag uit sy stem verdwyn.

“I’m a city girl,” hap sy terug.

“Fietas,” kreun oom Daan ligweg en toe lyk dit of hy die woord wil terughap. Hy vee met die hand oor sy beswete voorkop.

En weg is Molly met die skreeuende, skommelende kind op die heup.

“Wat sê Pa tog nou hiervan,” sê-vra Dawid in ’n moedelose stem, nou sonder lag.

“Ek sê ’n man staan by sy vrou,” antwoord oom Daan.

“Maar as sy jou van jou mense wil vervreem?”

“Dan staan jy nog by haar. Van eie bloed kan jy nooit vervreem word nie. Maar haar liefde moet jy elke dag verdien.” Daar is pyn in die pa se oë, maar sy fynerige stem is vas. Bina verstaan waarom almal hom met soveel respek bejeën.

“Ja, Pa,” sê Dawid gedwee: “Wat sê Pa nou van my plan om mure uit te breek en ’n slag al die ou motgevrete voorraad uit te gooi?”

“Ons lewe goed genoeg, ek en jou ma. Doen dit eendag as jy moet kom oorvat.”

“En as my eendag vroeër as Pa s’n is?”

“Ja, ek het so verlangs vermoed jy wil kom om te bly. Hoe jy by Molly verby sal kom, weet ek nie.”

Dit moet wees dat hulle van Bina vergeet het, want hulle praat asof sy nie bestaan of verstaan nie. Sy voel skuldig omdat sy toegelaat het dat Dawid se vrou haar as bedreiging sien, want sy is dit nie. Sy is maar net Bina wat oor die rantjie stap om hier te werk, wat nog nooit ver gereis het nie, behalwe in boeke. Bina wat saans vir Makkie die Swietse bokooi melk, vir die knaende Japie koffie maak, wat buite tussen oom Kola en Tanna se kateltjies slaap, wonder oor die sterrehemel en oor die geheimenisse van ’n onbekende lewe … en skadeloos oor Dawid droom.

Dat hy en sy vrou haaks is, maak haar nie gelukkig of ongelukkig nie. Dis net aangenaam om hom naby te hê, soos in die verlede as hy in die skoolbus met sy rug teen hare gesit en sy die warmte deur sy dun skoolhemp gevoel het. Sy vra vereers niks meer van die lewe nie. Wat kan sy ook? Dawid behoort nie aan haar nie, dis die begin en end van die storie. En tog, waarom kry sy nie vrede nie?

Sy dink: daar is mos eintlik niks wat ’n regte begin het nie. Alles loop maar aan en aan, soos ’n pad met gelyk plekke hier en bulte daar. Een of ander tyd kyk jy om en dink: ek het heeltyd opdraand gekom. Geen wonder ek voel so afgemat nie.

Maar tog is daar ook aan elke saak ’n vatplek, ’n handvatsel, waar jy jou hand om kan sluit en kan sê: hier, net hier. So voel sy oor die nuwe onvergenoegdheid wat sy ondervind. Onlosmaaklik knoop sy dit aan die dag in verlede week, toe Dawid Duraan met sy kleinding in die winkel gekom het, aan die ligte onsmaaklikheid met sy vrou, die daaropvolgende weemoed van die laatmiddag en die trane wat sy daardie aand onder die sterre opnuut in haar kussing laat wegweek het. So sag moontlik, anders raak oom Kola en Tanna onrustig op hulle kateltjies aan weerskante van haar.

As Dawid nou maar liewer wil wegbly uit die winkel, maar hy boer daar. Dis seker ook reg, hy help mos sy pa. Die kind het hy nog nie weer saamgebring nie, maar die huis is naby, sodat Molly soms daar aankom met die meisietjie op die heup. Dit lyk of sy ook nie van Dawid af kan wegbly nie. Of is sy jaloers? Dit lyk so, aan die manier waarop sy haar rug op Bina draai of haar rondorder asof sy ’n diensmeisie is.

Bina twyfel nie meer nie: oom Daan kan vir Molly nie verdra nie. Probeer soos hy wil, hy kan dit nie wegsteek nie. Hy praat met haar as dit moet, maar hy kyk nooit direk na haar nie. Van tant Rykie weet sy nie, want dié is ’n vrou wat van haar huis se mure hou en selde buite kom, nie eers in die winkel nie. Tog is sy nie onvriendelik nie en help graag vir Bina as dit by rokmakery kom. Tant Rykie het haar ook geleer hoe om verskillende soorte kunsnaaldwerk te doen, sodat sy al ’n hele tas vol lopers en stelletjies en sierslope het. Dis kruissteek, knoopwerk, hardangerwerk, en selfs viltwerk vir ’n kaggelskerm wat sy seker nooit sal gebruik nie want geen huis hier het ’n kaggel nie.

Maar dit moet wees dat die lang verblyf van die Kaapse kinders vir tant Rykie begin knyp. Van die ander kinders wat naby woon, wys in hierdie tyd ook nie hulle gesigte nie. Wat vreemd is, want familie kuier tog saam as daar een van ver af kom.

Dit word ’n tyd van spanning en verborge ekstase, want daar kom die tydjies wat sy en Dawid alleen is, al is sy pa net in die slaghuis langsaan. Vanmôre het Dawid die winkel kom oopsluit, ’n bietjie laat, en met ongekamde hare. Sy pa moes glo stasie toe ry om voorraad wat met die trein gekom het, af te haal. “Maar oupa is gisteraand mos toe so gaaf om vir Lientjie met sy bos sleutels te laat speel,” vertel hy vir Bina, wat al staan en wag. “Gevolglik moes almal wat leef en beef, vanmôre eers sleutels soek.”

Dis eintlik nie besonders nie, maar omdat Dawid dit vertel, is dit oulik. Bina vertel dit die aand aan Japie oor. Nie omdat sy so graag met Japie wil praat nie, maar omdat sy so graag oor Dawid wil praat. Japie gaan die afgelope aande nie daar nuus luister nie, omdat Molly glo vir hom in Engels gevra het wat hy al weer kom soek. Japie wou dit nie teenoor Bina herhaal nie, want almal weet Japie kan skaars “jis” en “no” sê.

Hy onthul dit op sy beurt aan Tanna en oom Kola. “… glo ’n verskriklike affere,” hoor sy hom hier vlak agter haar rug vertel waar sy in die kleinkombuis koffie maak. “Almal … rep en roer …” Omdat hy Dawid se naam ook noem, verwens Bina die harde kop van die pompstofie wat soveel meer geraas maak as die sagte kop wat weer makliker onklaar raak. Sy draai die skroef effens los om die druk en geraas minder te maak.

“Toe hy by die winkel aankom, was hy glo in ’n vreeslike toestand. Bina sê sy hare was nog nie eers gekam nie en hy het ook nog nie nat of droog oor sy lippe gehad nie,” berig Japie soos ’n brommer teen ’n ruit. Sy het niks van die “nat of droog” gesê nie, maar Japie se afleiding kan nie te ver verkeerd wees nie. Sy het vir Dawid koffie gemaak nadat hy eindelik die winkel oopgesluit het en hy was baie dankbaar, het twee koppies gedrink, en vertel hoe hulle Lientjie se skoenspoortjies gevolg het tot by die regte plek.

“Jy’t dan nooit vertel van die sleutels nie, Binatjie,” verwyt Tanna toe Bina die skinkbord aandra.

“Aag, ek hoor Japie maak dit so erg. Hulle het maar net baie gesoek, dis al. Toe vind hulle dit glo tussen die shasta-madeliefies.” Sy kon hom sien, met sy deurmekaar donker hare, soekende na die sleutels in die wit blommeruigte.

“Almiskie. Sê nou dit was kwaaddoeners wat die sleutels weggedra het om in te breek.”

“Dit was sommer die dogtertjie wat dit rondgedra het, Tanna.” Tanna weet tog hier word nooit ingebreek nie, dis so veilig dat almal sorgeloos snags buite slaap.

“Almiskie.”

“Bly tog stil, ou Antjie,” knor oom Kola. Veral as Japie naby is, is sy renons groot. “Sê nou die hemel val op ons koppe, dan is ons almal dood.” Dan vat hy die koppie by Bina, wat reeds vir hom net genoeg suiker en vars bokmelk ingegooi het. “Dankie, ou Bienkels.” Dis die naam wat hy altyd vir haar gehad het en wat haar kon laat glo alles is reg, ook al was alles verkeerd, ’n moeilike skooltoets, ’n skimp op haar huislike omstandighede, verdriet omdat sy nie ’n eie ouerhuis het nie.

Dis nie dat oom Kola ooit sy liefde openlik betuig nie. Oënskynlik weet hy kwalik van Bina se bestaan, en tog weet sy instinktief dat hy haar heeltyd dophou vir die geringste teken van nood of ongelukkigheid. Ander mense dink hy is ’n ou nukkebol, maar sy weet sy kan op hom peil trek. Waar hy kan, sal hy haar bederf, al is dit net met ’n sappige jong geelwortel wat by die sluis skoon afgespoel is. Sy weet egter dat sy hom nie moet bedank, veral in Tanna se teenwoordigheid nie. Die kleed van weldoener pas hom swak.

In hierdie dae, terwyl Dawid by sy ouers kuier (of woon, want dis vir niemand duidelik nie), sodat Bina hom elke dag sien, maak sy partykeer amper haar mond oop om met oom Kola te praat. Tanna, dié is so eenvoudig van hart. Sy sal nie eers mooi verstaan wat aangaan as Bina haar probleme bieg nie. Dat sy begeer om ook ’n wye wêreld te betree, soos Dawid gedoen het. Dat sy die lande en stede wat in boeke vir haar oopgemaak het, graag wil verken. Studeer, reis, lewe.

Oom Kola, ja, hy sal waarskynlik begryp. Hy het ’n ongeslypte wysheid wat nie verwerf kan word nie, dis ingebore. Sy oorlede pa, wat redelik jonk en arm dood is, was glo ’n spookvanger, wat dit ook al beteken. Hy het nie vreemde dinge gedoen nie, hy het meer soos ’n speurder te werk gegaan. Meestal was daar dan ’n natuurlike verklaring. Hy besweer kastig die spook, en almal is tevrede. Die “spook” weet ook hy is ontmasker.

Dalk het oom Kola sy pa se talent geërf. Dan kan hy haar gevoel vir Dawid, wat so by haar spook, besweer sodat dit weggaan. Maar wat dink sy tog? Sy moet die gevoel self uitroei.

Dawid is getroud, en sy pa sal toesien dat hy by Molly staan. Sy, Bina, wil ook nie op iemand anders se ashoop aas nie. Al los Dawid sy vrou, wil sy nog niks met hom te doen hê nie. Sy ly reeds onder die geskinder oor Kola Estruis en Anna Verrene, die dierbare mense wat haar grootgemaak het. Hoekom sal sy nog so ’n smaad op haar kop haal? Of dit waar is of nie, sý sal die skuld kry as Dawid se huwelik misluk en hy wend hom tot haar. Afgevry, sal die woord wees. Bina O’Connell het vir Dawid Duraan openlik van sy vrou afgevry. Al gaan sy en hy ook in die Kaap of in anderland bly, haar naam sal nooit weer skoon kom nie. Dan bly sy liewer alleen. Na Japie sal sy tog nooit kyk nie. Lelik is hy nie, net domastrant verby.

Ja, oom Kola sal na haar luister. Maar wat sal sy eintlik vir hom sê? Hoe sal dit tog klink? Oom, ek wil nie Dawid sien nie, maar ek sien hom elke dag. Daarom wil ek ook nie siek of weg wees nie, omdat hy elke dag winkel toe kom. Ek onthou die banke in die skoolbus, oom Kola, met sy rugspiere teen myne. En die aand by die veldpiekniek, toe oom en Tanna my saam met die Duraans laat gaan het om my glo van my pa af weg te hou. Al ons kinders wat daar was, het onder die maanlig Nommers gespeel. Dawid en ek is as maats aangewys en ek moes voor hom in die kring staan. Toe my nommer eenkeer geroep word, het ek weggespring … vinnig, want ’n meisie maak haar goedkoop as sy te lank bly staan. Maar hy was vinniger en met sy koel hande liggies op my skouers het hy gekeer dat ek padgee. As hy daardie aand van my ontslae wou raak, kon hy net gemaak het asof hy ingedagte was. Weet oom Kola, daardie aand saam met die ander dogters op die kermisbed onder die maan, het ek so snaaks gevoel dat ek gedink het dis wat die Bybel met “maansiek” bedoel.

“Tanna weet,” dreun Japie se stem onderlangs terwyl hy kort-kort met die oog na Bina vang om goedkeuring, “Ma sê mos vir my tant Rykie sê dat die vroutjie van Dawid so brutaal met haar en oom Daan praat.”

“Maar my liewe genade tog. Kool Estruis, Binatjie, hoor julle? Japie sê vir my …”

“Los tog ander mense uit, ou Antjie,” belet oom Kola kwaai. “Los uit, sê ek.”

Bina maak die koppies bymekaar. “Ek wil maar aanstaltes maak,” maan sy Japie aan om afskeid te neem.

Hy staan gehoorsaam op. “Moet ek vir jou die seile van die buitekatels af help trek, Bina?”

“Dis koeler vanaand. Ek slaap in my kamer. Ek weet nie van oom Kola en Tanna nie.”

Oom Kola gluur slegs nukkerig voor hom uit, terwyl Tanna se hande eintlik roer van begeerte om terug te kom op die onderwerp wat so kru deur oom Kola onderbreek is.

“Hoe dan so brutaal, Japie?” Sy praat op harde fluistertoon, asof dit die skinder-element kan versag.

“Ag, Tanna. Sommer so. Sê vir hulle dis godverlate en een uur voel soos een dag. Sy gaan nooit hier kom bly nie.”

“In Ingels?” wonder Tanna.

“Ma’t nou nie gesê nie, Tanna.”

“Hier kom bly nie?” Bina kon die vinnige vraag nie weerhou nie.

“Heiden, Bina, weet jy dan nie?” lag Japie ingenome. “Dawid het mos sy werk in die Kaap gelos, hy sit sonder ’n bloue duit en nou wil hy die winkel oorvat.” Japie besef nie hoe tant Miemie Kleinveld se stem deur haar seun se keel eggo nie.

“Eendag, ja,” antwoord Bina en probeer verveeld lyk. Sy onthou Dawid se vraag: “En as my eendag vroeër as pa s’n is?” Kan dit wees dat Dawid met daardie doel gekom het? Haar hart klop met swaar, dowwe slae, iewers tussen haar ore rond. Dit sal verklaar hoekom hy elke dag by die winkel boer. Dis weer eens nie om haar, Bina O’Connell nie. Dit sal ook verklaar waarom Molly so ekstra dwars is.

“Nie eendag nie, heiden jissie, Bina, weet jy dan van niks?” As Japie ’n lelie was, het hy geblom. “Dawid wil glad nie terug Kaap toe nie. Hy moes slegte skofte werk, en hy sê hy is nie anderman se slaaf nie. Molly is ook bang as hy in die nagte moet werk.”

“Maar sy is dan hier ook nie tevrede nie,” laat Bina glip. Sy wil eerlikwaar nie oor Dawid se vrou praat nie, hoekom doen sy dit dan?

“Dis wat ma sê wat tannie Rykie ook sê. Sy sê glo sy bly eerder saam met ’n swartslang in die huis. En hoekom moes Dawid nou sy werk deur sy agterent trek.”

“Nee magtag, jong, moenie jou twakbek hier kom staan en uitspoel nie.” Oom Kola was lank laas so bloedig vererg. “Ontsien dan vir ou Bienkels in die geselskap.”

En meteens weet Bina dat oom Kola weet, alles weet van haar vergeefse liefde , en hoe sy stry teen die begeerte om iets slegs van Dawid se vrou te hoor. Sy hoef hom absoluut niks te vertel, nie eers met ’n enkele woordjie of sug nie.

Japie voel nie te erg in die gesig gevat nie. Sy lewe lank al jak mense hom af, en op ’n manier is dit olie op sy vuur. “Ja maar dit kan by die nuwe predikant beland, oom Kola,” seil hy netjies by die gaping in. “Ek meen, as daar huislike onenigheid is, moet hy optree, word hy nie betaal nie? Word sy spens nie volgepak nie?”

“Het jy al in al die jare ooit iets vir ’n dominee se spens gevat?” kom oom Kola op vir die einste amp wat hy op ’n keer die huis belet het.

Hier sit Japie sonder ’n woord, en dit gee weer vir Tanna die beurt op ’n gaping. “Maar wat se nuwe predikant dan, Japie? Die kerkraad beroep mos nog.” Die vorige dominee het afskeid geneem en sedertdien het ’n ouderling ’n preek voorgelees as die konsulent nie kan kom nie. Sy sê sy glo nie aan “menskerk” nie. Anders ry sy en Bina Sondae saam met oom Daan en tannie Rykie Duraan. Maar noudat die kinders daar kuier, ook nie.

Japie blom soos tien lelies. “Heiden jissie, weet Tanna dan nie? ’n Proponent het die beroep aangeneem. Papnat agter die ore, sê Ma, en dit klink ook nie eers of hy ’n vrou het wat die werk kan doen nie.”

“Jy begin al weer,” dreig oom Kola.

“Stil, Kool Estruis, laat ek tog hoor. Het jy gekyk dat Makkie nie te veel groen lusern eet nie? Aans staan sy opgeblaas, en dan sit ons sonder melk.”

“Ek het gekyk toe ek haar gaan melk, Tanna,” verseker Bina haar. Sy sal nog so nooit toelaat dat Makkie iets oorkom nie, teen wie druk sy dan haar voorkop om te huil? Sy het gehoor die koeimeisies in sekere lande het in die ou tyd bles voorkoppe gekry. Het hulle ook dinge gehad om oor te huil? Het hulle nie net gemelk, gedans en gejodel nie?

Japie sien ’n gaping: “Noudat Tanna so van melkbokke praat, my oorle’ pa het mos eenkeer ’n hanskalf gehad wat …”

Met die lae gegons van Japie se stem in haar ore, ontvlug Bina kamer toe. Sy skuif die vernsterraam hoog op sodat die koeler lug van die afgelope aande kan instroom. Sy giet water in die waskom op die tafeltjie en was haar sommer so in die skemerdonker. ’n Regte bad is daar wel op die toegeboude stukkie agterstoep, maar sy wil nie heen en weer verby Japie nie, en daar is ook net ’n kouekraan.

Die ou dominee is weg, dink sy met spyt, en ek het nie betyds vir hom ’n getuigskrif gevra nie. ’n Nuwe een sal nie ’n getuigskrif wil gee nie want hy ken haar nie, en hy sal ook gou genoeg hoor van haar ongewenste verblyf. Want ja, sy sal ander werk in die dorp moet soek, by oom Daan kan sy nie aanbly as Dawid permanent hierheen kom nie. Dan sal sy ’n getuigskrif nodig hê.

Alles is so anders die laaste tyd. Haar rus en tevredenheid is weg, en die soet, bekende getreur oor Dawid. In die plek daarvan het ’n maling van gemoed gekom, ’n onrus, ’n voortdurende afwagting dat iets moet gebeur, maar daar gebeur ook nie regtig iets nie. Die tyd is vir niks ryp nie. Die dae is wyer en die nagte dieper, asof die horisonne verdwyn het en sy self in onbepaalde ruimtes ronddrywe.

Sy eet so min die laaste tyd, kry net niks in nie, al kook Tanna die jongkool met botter en gerasperde neutmuskaat, en bak die vleisie bruin in die oond. Saans as sy vir Makkie melk, word die geskril van die bekende sonbesie in die kameeldoring ’n refrein in haar kop, een skreeuroepie wat op die verkeerde spoed gespeel word en wat boonop vasgehaak het. As sy die melk ingevat het en die son gaan rooi onder, klim sy teen die lae rantjie agter die kameelboom uit en sit op die hoogste klip tussen die aalwyne en blinkblaarbossies. Sy kyk oor die omgewing, oor die lappies gesaaides en kronkelende leivore, die wit of vaal huisies tussen vrugtebome en afgeoeste wingerde.

Sy kan die winkel en huis van oom Daan net skrams hiervandaan sien. Daar is ’n kortpad waarlangs sy stap as oom Kola haar nie op- of aflaai nie, want met die grootpad is dit ’n hele entjie. Oom Daan se werf is taamlik kaal, nie so groen rondom nie. Hy sê hy hou van oopte. Dit is seker deel van die rede waarom Molly nie hier wil bly nie, die Kaap is mos groen. Oom Kola het ’n verkyker maar sy sal dit nooit vat nie, sy is geen afloerder nie. Maar as sy tog maar ’n mot teen die Duraans se aandmuur kan wees, kan sien hoe die familie teenoor mekaar optree en veral teenoor Dawid se vrou.

Sy kom agter dat sy te lank hier teen die rantjie sit. Japie kom vroeër saans noudat hy nie meer nuus kan luister nie, te wyte aan Molly. Maar sy wil nie haastig wees nie. Sy wil stadig loop, baie sit en baie droom. Sy wil kennis dra van dinge sonder dat sy daarby betrek word. Sy wil luister na Tanna en oom Kola se geskoor met mekaar en Japie se brommende onthullings sonder dat sy een keer haar mond hoef oop te maak om deel te hê daaraan. Sy wil Makkie se wit melk in die beker laat skuim en wag dat die koffiewater op die primus kook. Sy is bang dat iemand kan vra: “Hoe was dit vandag in die winkel?” En tog wens sy dat iemand dit wil vra.

Sy wil nie sê nie. Net weet. Dat Dawid in die winkel was, en dat hy goeters op die rakke kan bykom waarvoor sy te kort is. Dat hy die potlood bo sy oorskulp inwig sodat die donker hare daaroor krul en haar so lus maak om daardie potlood net een keer self vir hom af te haal as hy vinnig iets moet skryf. Want hy skryf baie. Hy is heeltyd met sy pa se boekwerk besig, en dis duidelik dat daar ’n intensie agter skuil. Dit moet waar wees dat hy beplan om oor te neem.

Om te dink dat Dawid, die skoolseun, nou al ’n dogtertjie het wat hy agtertoe vat as sy haar beentjies toeknyp. Hy lag dan helder, met ’n stem soos ’n klok. Bina bied nooit aan om die kind agtertoe te vat nie, dis nie haar voorreg nie. Sy moet haar plek ken.

Sy het nie eers boeke gaan uitneem nie. Die wat sy het, is al oor die datum. Sy het van die winkel af gebel en gevra dat dit hernu word, sy is te besig om self te kom. Wat nie waar is nie, sy is eintlik ’n orige jukskei noudat Dawid alles so noukeurig deurgaan en behartig. Maar sy wil op die oomblik net drywe, net wees. Dit is ten minste geregverdig. Niemand kan sê, as sy sommer net bestaan, dat sy ’n ogie op ’n ander vrou se man het nie. Dat sy rusteloos op hom wag nie, al is dit net om sy rugkant te sien. Nemand kan sê, as sy weier om in sy rigting te kyk, dat sy net vir hom oë het nie. Nee, niemand kan sê nie.

Sy bind haar hare soos elke vorige môre in een dik string wat oor haar linkerskouer val. Daar is geen rede voor nie. Haar hare is net gewoond daaraan, en val reeds vanself so. Dit krul los by die punte. Op skool was dit twee vlegsels. Sy begin wonder of haar hare nog sal krul as sy dit kort sny. Mens kan soveel meer met kort hare doen. Maar vir wie tog? Sy gaan niks verander of aanpak solank Dawid hier is nie, ingeval dit lyk of sy dit vir hom doen. Sy dra niks aan haar gesig nie, en daar is ook geen rede voor nie, behalwe dat dit warm is en dat enigiets sal afsweet. Verder het sy nooit begin grimeer nie, omdat Tanna dit as “besmeer” beskou. Molly besmeer dan seker haar gesig, met rooi mond en omkringde oë.

Smiddae kom sy huis toe vir die uitgerekte etensuur, met ’n middagete van vleis en groente of rys en mieliegruis, met poeding slegs op Sondae. Namiddae is daar amper niks werk by die winkel nie. Daarom kon Bina voorheen by die werk ook sit en lees, en oom Daan het nie omgegee nie. Hy kry self sy koerant elke dag, al is dit meestal die vorige dag s’n.

Alles was so goed en rustig en reg. Maar wil sy dit terughê soos dit was? Nee, eintlik wil sy dit hê soos nou: hierdie swaar, polsende onrus, hierdie onmag om daadwerklik die hand uit die mou te steek soos sy voorheen gedoen het.

Saam met die koeler weer kom wolke. En, uiteindelik, reën. Gelukkig is die druiwe-oes reeds ingehaal, maar daar is altyd oewerboere met lusern op die lande, en lusern wil nie reën hê nie. Die eerste druppels val teen vieruur en toe hulle die winkel om vyfuur toesluit, sous dit behoorlik. “Jy kan nie in die reën stap nie,” sê Dawid. “Kom ek gaan jou gou aflaai, die bakkie staan tog buite.” Hy het voorraad in die dorp gaan haal.

“Bina is g’n potplantjie nie,” wys oom Daan kastig kwaai sy seun tereg. “Bina, iewers in die stoor moet ons ’n paar sambrele hê. As die rotte hulle nie al ontdek het nie.” Hier soek niemand ooit ’n sambreel nie. Dalk nog vir son, maar nooit vir reën nie.

“Nee dankie, oom,” weier sy byna oorhaastig. “Ek loop graag in die reën.”

“Wag dan net dat dit bietjie afbreek, kom solank oor na ons toe. Gaan bêre maar die bakkie, Dawid, ons stap sommer, ek en Bina is ewe lief vir die nat op ons koppe.”

Kan dit wees dat oom Daan ook praatjies probeer afkeer? Dat sy tog nie saam met Dawid moet ry nie? Hy, die man wat altyd sag praat, in sy fynerige stem, wat nooit iemand probeer verkul nie en wie se skaal altyd reg weeg. Sy brilglase blink as hy opkyk, sodat mens nie maklik in sy oë kan lees wat hy dink nie. Hy hou sommer ’n platgedrukte kartonboks oor hulle koppe. Sy koes saam met hom huis toe, vreemd teensinnig en tog opgewonde oor die geleentheid om die hart van die huishouding te betree noudat Dawid-hulle ook hier is. As sy maar net gou genoeg weer die pad kan vat, voordat oom Kola haar kom probeer haal.

Die huis staan teen ’n skotige opdraand en het ’n verandastoep reg rondom, wat dit yslik groot laat lyk. Van kleins af was Bina beïndruk met die huis, wat soveel plek vir die Duraan-kinders gehad het.

Hulle vee hulle voete aan die ou lorrie-verkoeler by die agterdeur af. “Ja, kom in, julle reent nat,” maan tant Rykie onnodig uit die stoof se koers. Die kombuis is broeiwarm. Sy is besig om lewer met uie in ’n pan te braai, en die geur daarvan vul die kombuis en verdring dié van die warm, klam grond buite. Oom Daan wou al ’n gasstoof koop, maar Rykie staan en val by haar Ellis de Luxe, winter en somer.

Op die rakke is “kleidjie” soos almal die stywe plastiek met die flennierug noem, en wat tant Rykie geduldig self in ’n saagtandpatroon geknip het. Dit het ’n motief van veelkleurige vrugte. Daar is die ry blink panne en lepels aan hakies teen die muur langs die stoof, die houtkis vol fynhout en dikker stompies. Alles adem ’n vreemdheid wat dit voorheen nie vir Bina gehad het nie. Sy voel so buite alles, alleen en sonder die reg om hier te wees, asof sy ’n wet oortree.

“Sit tog, Bina,” nooi Rykie Duraan.

“Dankie, ta’ Rykie, maar ek wag net dat die reën afbreek. Oom Kola kom my dalk ook soek.”

Rykie lag. “Ja, jy is die enigste een wat die ou kan sagmaak. Hy kom met min mense klaar.”

“Hy het ’n goeie hart,” verweer Bina.

“Ja, dis waar, hy sal iemand ’n guns doen, solank daar nie oor gepraat word nie. En hy het ook nie ’n lui haar op sy kop nie.”

Bina vermoed dat tant Rykie en oom Daan van die min mense is wat nie aanvaar dat Tanna en oom Kola soos getroudes lewe nie. Anders steek hulle dit goed weg.

Buite suis die reën, en hier binne sis die vetterige sousies in die pan op die swart stoof. Molly en die kind is tot dusver nie te sien nie. Dawid het die bakkie gebêre en kom binne. “Nou sit jy tog maar vasgekeer hier by ons ou klomp, Bina,” lag hy.

As hy maar weet dat sy nêrens anders vasgekeer sou wou wees nie. Of nee, hy moenie weet nie. ’n Goeie skoot reën het hom van agter bygekom en die dun somerhemp klou aan sy blaaie toe hy na sy ma toe draai. “Allawêreld, Ma, dit ruik lekker. Maar Ma moet tog leer dat Molly nie lewer of enige binnegoed eet nie.”

“Dan moet sy maar ’n stukkie brood eet,” antwoord tant Rykie stroewerig. “Ek het gebak.”

“Sonder semels, Ma? Onthou sy eet net fynbrood.”

Rykie antwoord nie, en dit praat harder as tale. Toe sy spens toe loop, volg Dawid haar. Hy begin in ’n dringende fluisterstem praat, met sy ma wat in ’n lae stem kort-kort teenwerpsels lewer. Bina probeer om nie te luister nie, maar haar ore spits vanself. Sy hoor grepies: “ … het Ma nou al …” “… genoeg kinders grootgemaak, Dawid …” “… ek sal mos ook hier wees, Ma …” “Hoe sal ek nou ook … inmeng … van een duiwel twee maak …” “Asseblief, Ma, ek sal …” “…antwoord bly nee …”

Kan dit waar wees? Pleit Dawid by sy ma om die kind vir hom te help grootmaak? Hier? En Molly, wat van Molly? Die antwoord kom taamlik hard en duidelik toe die mooi krulkoppie vanuit die gang die kombuis binnegestrompel kom, reguit na Bina toe. Sy ken immers al hierdie tannie, daar in die wonderwêreld van oupa se winkel, en sy weet die tannie druk soms iets te ete in haar mondjie, vee haar taai handjies af.

Bina se reaksie is ewe spontaan toe sy haar hand uitsteek om die wankele treetjies op koers te probeer hou. Maar die volgende oomblik warrel ’n furie binne in die vorm van Molly, wat verontwaardig haar kind kom weggryp, so bruusk dat die kleintjie verskrik aan die skreeu gaan. Oom Daan was sy brilglase aan ’t blink vrywe met sy sakdoek, en hy werk net vinniger. Dawid en sy ma bondel tegelyk in die spensdeur. Dit alles sien Bina soos flitse.

“Jy los my kind uit, hoor jy?” Molly moet haar stem verhef en sy gluur vir Bina aan asof sy die kind die grootste kwaad wou aandoen. In die bohaai is Bina sonder woorde. Toe sy wel praat, berou sy dit dadelik, want dis giftige woorde: “Moet jy nie Engels praat nie?”

Nog ’n warreling, en die ma is met kind en al weg, die diep huis binne. Bina besef die omvang van haar flater toe die twee ouer mense en Dawid elkeen ’n glimlag probeer wegsteek. Dalk het nie een van hulle nog die moed gehad om Molly so op haar plek te sit nie.

Daar kon geen groter verligting kom as dat die bekende ou bakkie die opdraand opgery kom nie. “Hier is oom Kola nou,” kondig sy onnodig aan en staan ook sommer deur se kant toe.

“Wil hy dan nie bietjie inkom nie,” huiwer oom Daan, duidelik onwillig dat iemand hierdie gespanne atmosfeer moet betree. Hy moet tog ook weet dat oom Kola nie van los kuiertjies hou nie. Kom oom Kola haar haal om te keer dat Dawid haar aflaai? Tant Rykie bied haastig aan: “Vat dan ’n bietjie lewer vir ou Kola en Anna saam, dan hoef jy jou nie nog vir ete uit te sit nie.” Sy begin sommer skep in ’n erdebakkie met ’n deksel en draai ’n vadoek om. Bina wil nee dankie sê, maar dit sal net nog ’n affront wees. Die mense hier rond gee graag ’n ietsie saam, dis die vaste gebruik. Maar die seerkry knaag in haar. Sy weet wat Molly eintlik wou sê: Jy los my man uit, hoor jy.

En sy dink, terwyl oom Kola se ou bakkie haar stampend oor die reënwasige rantjie voer: sy moet gouer wegkom as wat sy gedink het, en verder weg ook. Nie net dorp toe nie. Sy sal haar tuiste moet opgee. En juis vanaand is alles so knus en bekend. Die reën het die geure van die kleipleistering en rietdak losgemaak. Tanna kloek tevrede oor die lewer en ontevrede oor Bina se welsyn, asof sy in ’n tornado vasgevang was. Sy raas omdat oom Kola nie vroeër gery het nie, “nou moes sy by die Duraans gaan sit en ginnegaap, en die ou vroutjie van Dawid is juis so onsmaaklik, vertel Japie my.”

Bina wil kreun: Japie. Dis te veel gehoop dat die stortbui hom sal wegkeer. Buite reën dit nog sag, en sy sien hoe die klam rooi bougainvilleablommetjies by die voordeur spelerig aan die ranke klou. Dis die enigste blomme op die werf. Sy versamel altyd dié wat afval en droog rondritsel. Sy knip dit en hou dit in ’n boks onderin haar klerekas. Sy het dit eintlik begin doen vir die mollige weduweetjie Malie Rossouw, wat weer sou trou en dit as konfetti wou hê. Maar die man was ’n nikswerd rondloper, wat op listige wyse haar man se klein erfporsie uitgemors en toe padgegee het. Maar uit gewoonte doen Bina dit steeds. Dalk moet sy ophou, en die ou voorraad weggooi voor dit verbleik en dalk goggatjies kry.

Die harde neerslag het die ballerjak op die voorwal gekneus, en die skerp kruisementgeur hang in die lug. Hoe bekend en gelief is alles tog. Sal sy dit ooit regkry om weg te gaan?

Sy vat die groot erdebeker en gaan uit om vir Makkie te melk. Oom Kola het haar onder die afdak vasgemaak teen die reën. Die liewe swart bokooi wil nie lekker sak nie. Is dit omdat sy nie op haar gewone plekkie op die voorwal staan nie, of omdat sy agterkom dat haar melker gespanne is?

As Dawid tog maar vanaand in plaas van Japie kon kom. Al sit hy in die verste hoekie en gesels met oom Kola, wat nogal van hom hou omdat hy nie ’n windlawaai is nie. Of as hy en sy saam in lamplig kon sit, al is dit aan weerskante van die tafel. Verder as dit durf sy nie dink of droom nie.

“Makkie wou nie juis sak nie,” vertel sy toe sy die halwe beker bokmelk op die kombuistafel neersit.

“Ja’k,” sê oom Kola, “sy is dalk ook aan ’t opdroog.”

Sy kry die indruk dat oom Kola haar dophou. Haar jammer kry. Omdat hy op sy manier alles in haar lewe raaksien en weet. Sy volgende woorde bevestig dit: “Vir wat sal jy jou ook afsloof, ou Bienkels. Ons kan mos swart koffie drink as die melk opraak.”

Sy verborge simpatie verdiep net haar weemoed. Beskimmeld sit sy aan tafel vir die vroeë aandmaal wat deels uit die Duraans se kombuis kom. Ja, dink sy, swart sal ons drink as die melk opraak, en dit sal nie saak maak nie. Niks sal saak maak nie. Want Dawid is op hierdie oomblik onder dieselfde dak as sy vrou. En hoe hulle skoorsteen ook rook, hy sal slapenstyd maar weer witvoetjie by haar soek. Hulle sal in dieselfde bed lê, warm teen mekaar. Verder wil sy nie dink nie.

“Dankie, oom Kola,” sê sy net. Hy sal weet waarvoor alles. Haar neus is toe, wat vir Tanna laat kloek: “Dis die natreënery. Kool Estruis, ek het gesê jy moet vroeër ry om haar te kry. Maar nee, toe sit jy soos gewoonlik en slaap. Kyk nou net, sy is klaar onlustig. Sy is koors aan ’t kry. Dubbele longontsteking. Dit het jy nou daarvan, Kool Estruis.”

“Stil jy, ou Antjie. Wat het jy altemit gedoen? Nie eers aandkos gemaak nie. As Rykie Duraan haar nie ontferm het nie.”

“Nou praat jy jou los, en Binatjie is doodsiek.”

“Ek makeer niks, Tanna. Ek is net moeg. En die reën is heerlik.”

Wegkom, dink sy. Hoe gaan ek van hulle af weg, en waarheen? Die plan om te studeer het koud geword, en die destydse skoolhoof is ook weg.

As haar pa in Johannesburg is, kan hy haar daar touwys maak wat werk en verblyf betref. Sy sal niks verder vra, nie by hom in die huis probeer intrek nie. Dis die minste wat hy vir haar kan doen. Maar waar en hoe vind sy hom? As hy werklik posorders vir haar onderhoud stuur of gestuur het, dan beteken dit dat Tanna besonderhede van hom moet hê. Tensy sy elke keer alle spore vernietig.

Maar haar pa is ’n ver, vae spook uit die verlede. Vir haar het hy nie eers ’n gesig, ’n stem, ’n reuk, ’n lyf nie. Sy wil hom nie soek of sien of hê nie. Al mense vir wie sy wil hê, is oom Kola en Tanna.

En vir Dawid.

Louisa du Toit Omnibus 10

Подняться наверх