Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit - Страница 4

1

Оглавление

Bina probeer ongemerk by die onderdeur uitglip met die groot erdebeker in die hand. Sy hoop Makkie is vanaand op haar stukke, dan melk sy maklik hierdie beker tot by die rand vol. Die son begin water trek agter die klipperige rant waarteen die huisie met die vaal mure staan. Sy wil tog klaar wees met die melkery en die etery voor Japie kom. Want Japie Kleinveld kom elke liewe aand kuier, so seker soos wat die son in die weste ondergaan.

Dis nie moeilik om sy bewegings te voorspel nie. As hy tuiskom van die stasie waar hy in die goedereloods werk, gaan hy vir sy ma die koei melk. Hulle het darem ’n koei. As oom Kola of Tanna ’n koei gehad het, dink Bina, kon sy haar verbeel sy is ’n Switserse melkmeisie wat kan jodel ook. Maar nou glo oom Kola mos net aan bokmelk in sy koffie.

As Japie klaar geëet het, loop hy al op die wal van die kanaal langs om die vroeë aandnuus by oom Daan Duraan-hulle te gaan luister. Oom Daan het ’n FM-antenne op die dak, en die klank is mooi helder. Japie en sy ma se kortgolfradio kraak tog te verskriklik. By oom Daan aangekom, sit Japie eerbiedig en luister. As daar noodberigte is, kruip hy byna binne-in die toestel. Daarna loop hy na Bina-hulle toe, geheimsinnig swyend met al die groot nuus in sy kop. Hy weet dat hulle geen draadloos het nie, omdat oom Kola die ding verpes; hy maak dit af as “leuens”. Tanna kla en kerm, omdat daar glo sulke mooi stories op is. Bina self lees liewer, en luister plate; sy het ’n platespeler by oom Daan se winkel gekoop. Sy leen ook langspeelplate van die dorpsbiblioteek, saam met die tweeweeklikse stapeltjie boeke. Dis te danke aan haar gewese taal-onnies dat sy nie sommer enigiets lees nie, en die skoolbib was vir haar ’n nuut ontdekte paradys. Oom Daan laai haar altyd by die dorpsbib af en na ’n uurtjie weer op, want sy moet vir tant Rykie ook boeke uitneem, maar oor jong liefde. Bina self ontdek in haar ernstiger boeke hele lande. Beskawings, oud en nuut. Die universele mens, deur die eeue eenders.

Tanna kla dis nie lekker stories nie, en die meeste is in Engels, maar Tanna neem nooit self boeke uit nie. Sy verkies ’n geselsie, en dié is maar skaars. Hulle kry mos nie juis besoekers nie. Maar Bina sorg dat beide Tanna en oom Kola bibkaartjies het, wat sy self na hartelus gebruik.

Japie sal groet, en dan sugtend stilsit. Hulle kuier sommer in die kombuis as hy kom, trouens as enigiemand kom, selfs “mense” – wat Japie nie is nie. Daar is geen voorhuis nie. Die kombuis is smal maar lank, met genoeg plek dat daar ’n paar sitstoele inpas.

“Wat sug jy dan vanaand weer so, Japie?” sal Tanna afwagtend vra.

“Sommer maar, Tanna. Ai, vreeslik van die man wat hulle so soek.”

“Watter man dan? Ou Kool, kom dan eers. Japie vertel van ’n man wat hulle so soek.”

Oom Kola kom uit sy kamer, knorrig, met maer skouers in ’n kakiehemp. As hy in die kamer is, is dit omdat hy moeg is. Hy is nooit ledig nie, altyd ’n werkie; hetsy hier, hetsy elders. Bina het al gevoel hy moet ook rustiger begin lewe. Maar dan, hulle het die klein meevallers nodig wat hy verdien.

“Naand, oom Kola. Ai, Oom, ek sê vir Tanna van die man wat hulle so vreeslik soek.”

“Wag eers, Japie,” onderbreek Tanna nogeens. “Binatjie? Kom hoor wat Japie vertel.”

“Naandsê, Bina.” Japie laat nooit die bom bars voor sy gehoor van drie voltallig is nie. “Nee, Bina, ek sê sommer vir Tanna en oom Kola, ek hoor op oom Daan se draadloos van die man wat hulle so soek. In verband met sy grootmoeder, glo. Sy ouma,” lê hy uit ingeval Bina nie weet wat ’n grootmoeder is nie. “Hy ry in ’n liggroen Volkswagen met registrasienommer …” Japie besef hy het die nommer vergeet. “Bina, jy’t nie dalk vandag ’n liggroen …”

“Is jy laf, man. Waar moes ek die ding gesien het? Dis seker in ’n ander deel van die land.”

Nou sit Japie ’n nog geheimsinniger gesig op en speel sy troefkaart. Hy glo skynbaar vas dat hy Bina een of ander tyd sal beïndruk, so diep dat sy haar hand voor haar mond sal slaan en sê: “Haai, Japie, wat vertel jy my?”

“Dingetjies wil daar oorkant ook maar nie regkom nie,” onthul hy en wieg sy gekruisde bene. Hy dra skoene sonder kouse, en ’n stukkie kaal enkel wys bo elke broeksoom.

“Wat, regkom,” mompel oom Kola onderlangs. Hy kyk nooit vir Japie in die oë nie. Sy renons in elke soort medemens, maar veral in Japie, is stellig die grootste verskilpunt tussen hom en Tanna. Selfs nadat hulle saans onttrek het na hulle kamers, lê hulle afjakke na mekaar en roep. Bina kan nie anders as alles hoor nie. Daar is geen gang nie, en die drie kamers loop almal uit die kombuis.

Hulle is nie getroud nie, en slaap apart. Hulle is deur omstandighede saam onder een dak gesmyt. En sy, Bina, was die “omstandighede”. So het sy lankal uitgevind.

“Hoe dan so, Japie?” por Tanna.

“Aag, Tanna,” sug Japie swaarmoedig, “hulle skiet al weer daar oorkant.”

“Wat, klappers?” vra oom Kola.

“Hoor nou hoe ligsinnig,” betig Tanna. “Stil tog, Kool Estruis, laat Japie vertel.”

“Ja-nee, oom moet rêrig nie spot nie. Dingetjies lyk nie mooi daar oorkant nie.”

“Oorkant” is vir Japie alles wat ver en boos is, anders as by hierdie klompie bekende huise wat in ’n string teen die kanaal af lê, deur ’n rivierbrug van die dorp geskei.

As hy eers op hierdie onderwerp is, kry Bina kans om weg te beweeg en die pompstofie aan te steek vir koffie. Dit staan op die tafeltjie in die kleinkombuis, die uitgeboude oop hoekie van die kombuis.

Daarom probeer sy vanaand ook haar takies vroeg afhandel, sodat sy amper dadelik vir Japie kan koffie gee. Hoe gouer hy koffie kry, hoe gouer loop hy. Aan die ander kant gun sy die twee ouer mense, veral vir Tanna, die bietjie geselskap. Daar is maar min mense wat nie draaie om hulle loop nie. Hulle jare lange saamblyery is ’n steen des aanstoots. Daar word gespot dat hulle “gekombers” is, maar nie gekerk nie. Bina weet dis onwaar, maar sy is magteloos teen skinderstories. Wie sal haar ook glo?

Sy hurk langs Makkie en die gewillige swart “Swietse” bokooi se sponserige spene lewer mildelik toe die sterk, bekende vingers hulle beurtelings omsluit. Die ryk melk sjirts skuimerig in die erdebeker met die stewige handvatsel. Sjirts, sjirts. Dit vorm ’n deuntjie: Dawid kom. Maar hy kom nie na jou, want hy het ’n vrou.

Ja, Dawid Duraan kom glo uit die Kaap met sy vrou en dogtertjie, sommer gou ook. Oom Daan het in die winkel gesê: “Hy probeer nog die saak uitspook met die Molly. Sy wil wag tot dit koeler word, Maart is glo nog te warm hier.” Die Molly, nie “sy vrou” of “my skoondogter” nie. ’n Ander keer het oom Daan peinsend na Bina gekyk en gesê: “’n Ouer dink partykeer ook maar aan wat kon gewees het.”

As hulle net geëet kry voor Japie kom, anders sê hy: “Ek het eintlik al ’n stukkie geëet, maar as Tanna nou so aanhou …”

Dit word effens koeler, al hang die westeson nog rooi bo die kliprantjie. Makkie staan onder die kameeldoring vasgemaak. Die bekende sonbesie skril in die hoogste takke. Hy moet ’n ou kanniedood wees, want soms hoor Bina hom nog wanneer sy reeds op haar koel kateltjie onder die wye sterrehemel lê, tussen Tanna en oom Kola. Want hier in die riviervallei slaap almal so. Die huise is te bedompig van die daglange hitte. Tanna akkordeer goed met die hitte, dis die winters wat haar blou van die koue maak.

Bina se lewetjie saam met die twee mense wat ongemerk bejaard geword het, is klein en stil. Te stil, dit weet sy. Sy kry nooit kans om met ander jongmense te meng nie. In en om die huis is daar nie veel te doen nie. Tanna se bietjie lusernlande word verhuur, want lusern het vir oom Kola begin benoudebors gee. Net die huis en werf met vrugtebome is uitgehou. Alles in die klein woonhuis wentel dus hoofsaaklik om die drie etes per dag, die melkery van Makkie, die bewerk van perskes in die vrugtetyd, Japie se besoeke saans, en die kleine sorge van die daaglikse lewe, wat meestal draai om Bina se welsyn. Hulle versmoor haar eintlik met aandag, meestal van kompeterende aard. Sy verdra dit, want hulle doen alles in hulle lewe net vir haar.

Soggens gaan Bina werk toe. Sy is die enigste klerk in die eenvertrekwinkel van oom Daan Duraan. Sy word nie veel betaal nie, want die omset is klein. Die meeste mense ry liewer verby dorpswinkel toe. Maar dan, sy kan by oom Daan teen kosprys koop, sy bly besig, en sy hoor brokkies nuus oor Dawid. Daarby is sy vrymoedig met die klante, sy ken almal en doen lewendig navraag na almal en alles. Sy gee nie om dat hulle oor siektes en kleinkinders gesels nie. Alles boei haar. Sy is nie beskimmeld nie. As jy grootgeword het tussen twee ouer mense wie se afgodjie jy is, en wat bowendien oor jou toutrek, kan jy maklik dink jy is die kat se snor. Maar sy het genoeg goeie verstand en aanvoeling om dit te kanaliseer, nie selfgesentreerd te word nie.

Net soms, heel soms, wanneer sy voor die oop plankvenstertjie van die kombuis staan, soos nou, en uitkyk op die aandikkende skemer, word dit ’n weemoedsuur. Dan dink sy: as ek tog maar hier kan staan en wag vir ’n kêrel, my eie. Hy sal ’n amptenaar op die dorp wees, hierheen verplaas, van iewers ver af. Hy sou haar dadelik raaksien en hulle sou verlief raak. Hy sou haar Alberta noem of Berdine of iets, nie Bina wat van haar doopnaam Albertina afgelei is nie. Dis hoe haar oorlede ma haar wou noem, as laaste wens, pas na Bina se geboorte. Nou ja, die aantreklike jong man sou hier begin kuier, glad nie afgeskrik deur die eenvoudige omstandighede en die twee oumense wat op ’n manier verworpelinge is nie. Hy sal haar van Dawid Duraan laat vergeet.

Nie hoe lank nie, of hy sou vra of sy met hom sal trou. Hulle sal in die dorp in ’n wit huis woon, waar elektrisiteit is en nog meer geriewe wat vir ander mense vanselfsprekend is.

Ja, as sy tog hier by die venster kon staan en uitkyk wanneer sy motor kom. Nou is dit net Japie wat hier kuier, elke liewe aand, en hy tel regtig nie. Dalk skrik hy net ander moontlike kêrels af. Sy weet haar dagdrome is kinderagtig, maar sy wil dit soms wees. Haar lewe het andersins genoeg rede vir erns. Want die oumense word oud en kan sterwe, haar pa het haar afgesweer, en wat moet van haar word?

Op hoërskool het sy wel belangstelling geniet, want sy is goed gebou en haar oë is blou, en die string blonderige hare oor haar linkerskouer is dik en krullerig. Sy was geselserig en grappig, sodat niemand sou raai hoe skugter sy werklik is nie. Maar al die seuns is weg na ’n toekoms elders, die meisies ook, terwyl sy agtergebly het by Tanna en oom Kola. Sy het nie gevoel sy kan hulle in die steek laat nie. Dalk is plaaslike jong mans ook deur hulle ouers belet om hier te kom, wie weet? Die praatjies oor die twee oues het aan haar afgegee. Dis die waarheid, maar dit verander nie hoe sy oor hulle voel nie.

“Dit is ’n sonde dat jy nie verder wil gaan leer nie, Bina,” het die hoof gepraat. Dit was die keer toe hy haar laat roep het om ’n gesprek te voer wat haar oë in meer as een opsig oopgemaak het.

“Ek is te vas aan die huis, meneer.” Sy kon raai wat hy van die “huis” dink. Letterlik, ’n viervertrek-vaalmuurhuisie met ’n kombuis wat sommer ook voorhuis is, en drie klein slaapkamers. Figuurlik, ’n vreemde tuiste met Tanna en oom Kola wat so op losse voet by mekaar woon.

Dit was duidelik dat die hoof hom versigtig probeer uitdruk: “Ek verstaan dat die twee … die oom en tannie, nie eers familie van jou is nie.”

“Hulle het my grootgemaak, meneer. Dis al huis wat ek het. En hulle het my nodig.”

“Lojaliteit is ’n deug, maar nie ten koste van jouself nie. Jou toekoms … jy presteer buitengewoon. Jy hou ons naam hoog in die debatkompetisie. En die bibjuffrou praat met lof van jou tale-aanleg. Jy lees boeke waarvoor min ander kans sien. War and Peace. East of Eden. Dickens. Leroux.”

“Ek sal mos nie ophou met lees nie, meneer. En ek sal hier rond werk kry.”

“Toonbankwerk,” het hy grimmig besluit. “Ons kan beding vir ’n studiebeurs. Dis nie altyd net sleg om die huis te verlaat nie.”

Natuurlik bedoel hy daarmee dat sy van die minderwaardige invloed weggevat moet word. Sy volgende woorde het dit bevestig: “Ek verstaan die oom is maar moeilik, het die dominee weggejaag, is vervreem van kerk en samelewing.”

“Oor hulle met hom bodder, meneer. Ek was daar met die besoek van die dominee. Hy het gepraat oor onwelvoeglikheid en die slegte voorbeeld vir my.”

“Die dominee word betaal om …” Toe haal hy sy skouers op: “Wat sê jy nou van studie? Dink mooi. Stellenbosch. Eikebome en waterstrome.”

“Liewer nie dadelik nie, meneer,” het sy hom afgeweer. Sy het gedink aan die ironie, want sy woon langs ’n groter rivier as menige ander waterstroom. “Ek is jonk vir my klas. Ek kan eers ’n jaar of so werk.”

Dit was duidelik dat hy sy volgende woorde baie versigtig weeg.” Ek verstaan dat hulle twee ook nie eintlik … dieselfde van het nie. Hy is …”

“Esterhuysen,” het Bina gehelp, “sommer Estruis, meneer. En sy is Van Reenen, sommer Verrene.” Ta’ Anna, wat Tanna geword het.

Dit was die skinderstorie waarvan sy bewus geword het toe sy haar kinderskoene begin ontgroei. Hoekom moet mense die slegste dink van twee goeie mense? Sy het na hom toe opgekyk en sy het geweet, want sy bring wel genoeg tyd voor die spieël deur, dat haar oë baie blou is.

“Meneer bedoel, hulle is nie getroud nie,” het sy met eerlike vrymoedigheid gesê. “Maar ek kan vir meneer sê, hulle lewe nie soos man en vrou nie.”

“Hoe het dit dan gekom?” wou hy weet, met ’n mengeling van nuuskierigheid en belangstelling.

“Toe haar man dood is, meneer, het oom Kola haar grondjie help bewerk. Tanna het gesorg dat hy kos kry. Toe brand sy huis af, en hy sit sonder dak. Dis hoe dit gekom het, meneer.”

“Maar dis tog al baie jare terug. Hy kon intussen ’n ander plan gemaak het?”

“Hy het eers in die pakkamertjie gebly. Tot ek gekom het. Ek het glo so oor my pa geskree, dag en nag, dat net oom Kola my getroos kon kry. Toe trek hy in die huis in. En daarna wou al twee maar naby my wees.”

Dis hoe die praatjies begin het, ja: toe oom Kola onder die dak intrek. Albei self kinderloos, het hulle ter wille van “die kind” vrywillig die smaad van die samelewing verduur. Daarvoor sal sy hulle altyd huldig. Sy sorg dat sy ewe veel aandag aan hulle gee, anders woed daar kleinlike jaloesie. Sy tree ook op as algemene vredemaker. Die twee kom so sleg oor die weg dat Tanna glo vroeër sy kos buite die pakkamertjie moes neersit, anders jak hy haar af oor “die vetterige vleis en krummelrige mielegruis”.

“Verstaanbaar dat al twee naby jou wou wees,” het die ervare skoolhoof met opregte waardering gesê. En, na ’n rukkie se diep bepeinsing: “Het die Kinderhof jou ooit in hulle sorg geplaas?”

“Die Kinderhof?” het sy geskrik.

“Ja, ’n weeskind kan nie sommer net meer …”

“Ek is nie ’n weeskind nie, meneer, my pa lewe nog. Ek … ek dink so.”

“Ag natuurlik, ek bedoel eintlik ’n huislose kind.” Toe vra hy, steeds baie versigtig: “Wat is jy oor jou pa vertel?”

“Dat hy te siek was om my op te pas, meneer. Dat hy na ’n ander klimaat moes gaan. Johannesburg, dink ek.”

“Het die oom en tannie jou dit vertel?”

“Ja, meneer. Toe ek my verstand begin kry.”

Hy het deeglik oorweeg terwyl hy ’n potlood op sy omgekeerde wysvinger balanseer. “Ek dink jy verdien die waarheid, jy is verstandig en volwasse genoeg.”

“Meneer?” Onbegrypend, haar blik vas in syne.

“Hulle het die storie van sy gesondheid versin. Ek het gehoor hy is weg met ’n vrou wat nie vir sy kind kans gesien het nie.” Die potlood het afgeval. “Ek sê nie hy is ’n slegte pa nie. Ek het gehoor hy stuur geld vir onderhoud.”

Bina het gefrons, want daarvan weet sy niks. Maar hoe anders sou hulle aan die lewe kon bly? Die huurgeld van Tanna se lusernland is min en ongereeld, afhangende van die oes, wat afhang van die rivier se grille en van peste en plae. Oom Kola het nooit grond besit nie, hy doen sy lewe lank loswerk vir ander rivierboere. Hy het van tyd tot tyd vir Tanna se oorlede man ook gewerk. As jongste kind het hy sy ma versorg tot sy horingoud dood is. Hy het alleenloper gebly, nooit eers ’n wafferse huis gehad nie, hoogstens een van riet en klei, die een wat afgebrand het toe hy eendag probeer rooibye uitrook het.

Mense sê hy het nie die gees van ’n besitter nie. Maar hy is fluks en handig. Vir hulle kweek hy langs die voorwal altyd een of ander groente vir huisgebruik. Daar is gereeld ’n tamatie, ’n pampoen, ’n aartappel, ui, wortel of patat op tafel. Met kool het hy opgehou toe Tanna skimp: “Hierdie koolkop is net so stokkerig soos jy, Kool Estruis.”

Hy bring steeds iets in met katoen pluk, leivoorwalle opwerk, ertjies of lensies oes, masjinerie of meubels regmaak, ’n muur uitslaan, ’n deur inbou. Dis soldeer, sweis, karweiwerk dorp of stasie toe in sy afgeleefde bakkie. Hy het ’n slim kop en hande. Verder is hy ’n goeie swemmer en mense huur hom soms om vee deur te vat eiland toe, of te gaan haal.

Maar wat hy inbring is nie genoeg vir drie mense om van te lewe nie. Die meeste rivierboere behartig hulle eie herstelwerk in en om die huis. Dit help dat Tanna laas jaar begin “pay” kry het, ouderdomspensioen. Oom Kola is ietwat jonger en herinner haar gereeld daaraan deur haar “ou Antjie” te noem.

Hy en Tanna haal altyd self die pos by die poskantoor se toonbank af. Daar kon koeverte met posorders van haar pa af gewees het. Sê nou daar was soms briefies by? Vir haar? En sy ontvang dit nooit? Sy was verward, daar in die skoolhoof se kantoor. Wat moes sy glo?

Hy het voortgegaan: “Hy het glo wel eenkeer ’n naweek hier vertoef . Jou probeer sien, maar die twee het gesorg dat jy weg is.”

“Maar ek was in al die jare nooit weg nie.” Toe byt sy haar lip, want sy onthou die algemene veldpiekniek, en hoe sy nie kon verstaan toe sy so ewe skielik saam met oom Daan Duraan-hulle mag weggaan nie. En tog was dit wonderlik, want daardie naweek het sy haar hart op Dawid verloor, tot vandag toe, al is hy vier jaar ouer as sy. Sy het nogal gedink dit was dalk hy wat haar saam wou hê. Sy was dertien en in staat tot ware liefde, so het sy geglo.

Sy was nou pas een en twintig, en sy glo dit nog. Nou verstaan sy alles, en dis ’n dubbele ontnugtering: haar pa, en Dawid … dit het nooit oor háár gegaan nie. Ook maar beter Dawid woon met sy vrou en kind in die Kaap, het sy die dag in die skoolhoof se kantoor gedink.

Op daardie oomblik wou haar moed haar begewe, en die hoof moes dit raakgesien het. “Toe maar, Bina, ek wou net my plig doen. Niemand kan jou forseer om iets teen jou sin te doen nie. Wat van studie deur korrespondensie?”

“Ek dink daaraan, maar dit sal ook geld kos, meneer. Ek sal na matriek eers ’n jaar of so geld spaar.”

“As jy intussen anders besluit, kom praat met my.”

Nou werk en spaar sy reeds meer as twee jaar, en sy kan nie veel wys nie. Dis lekkerder, en nodiger, om oom Kola en Tanna te bederf met bydraes vir die huishouding. Om plate te luister en haar eensaamheid weg te lees met boek na boek. Sy hou veral van Dickens, omdat die karakters haar so baie aan oom Kola en Tanna laat dink.

Daardie gesprek het wel haar perspektief verander, maar nie haar besluit nie. Al kom haar pa terug, sy wil hom nie hê nie. Dis nie hy wat haar in die nag getroos het, wat haar koffie koudgeblaas het soos Tanna, haar met ’n ou bakkie skool toe gery het soos oom Kola nie.

Bina draai weg van die plankvenstertjie waar die ondergaande son die soel, bleek lug tot ’n sagter rooi begin indamp. Sy gee die primus ’n paar pompe sodat die water gouer kan kook. Die groter vlammetjie suis gesellig. Dankie tog sy hoef nie vuur in die stoof te maak nie, dis te warm daarvoor. Daar is ’n stukkie oorskietvleis wat oom Kola met ’n koue aartappel en ’n tamatie sal eet, terwyl sy en Tanna in die aand volstaan met brood en bokmelk. ’n Beskeie stukkie kookvleis kry sy billik by oom Daan Duraan, waar hy eenkant aan die winkel sy slaghuisie het.

’n Vreemde, diep weemoed lê vanaand in haar, soos wat sy nie ken en van weet nie. Is dit oor Dawid wat wil kom, maar sy vrou is dikmond? Hulle was voor die kind se geboorte laas hier, sy vrou het met die magie en gevoude arms en vies wipneus gestaan en rondkyk. Dit was of sy gril vir haar skoonpa se winkel en sommer vir alles en almal.

Sy wens Dawid wil liewer gou oud word en grys hare kry, jonk ofte nie. Dan sal haar versotheid op hom dalk bedaar. Sy sien hom so duidelik: nie groot van postuur nie maar met goeie skouers, gesellige stem, altyd ’n laggie, sy donker krulhare en effens gekromde neus. Hy is mos so skielik getroud, sodat Tanna gesê het: “Ek wonder darem.”

“Bly tog stil, ou Antjie,” het oom Kola gesnou, “dis omdat jy gedurig wonder dat jy so baie wonder.”

Bina dek die kombuistafel met die geruite tafeldoekie, brood en smeergoed. Alles in die huis is ’n bietjie min. Op pensioendag sal Tanna weer roekeloos raak en dinge koop soos kaassmeer en blikkies sardiens en polonie en winkelbrood. Oom Kola sal haar deurvat poskantoor en winkel toe, en sommer Japie se ma ook oplaai. Hy sal tant Miemie Kleinveld in die middel laat sit, nie vir Tanna nie. Hy hou vir Tanna altyd ten minste een armlengte ver van hom af, en dan dink die mense nog hulle slaap saam.

Met die terugkom word Japie se ma eers afgelaai. Dan is dit ook tyd vir middagete, en oom Kola laai sommer vir Bina by oom Daan se winkel op. “Jy kan nie so in die hitte loop nie, ou Bienkels,” knor hy dan. Sy knor vir Bina het ’n teer ondertoon, anders as sy grommerige knor vir ander mense. Oom Daan Duraan sê Bina is die enigste een wat hom om haar pinkie kan draai.

Kom hulle dan tuis, word daar heerlik geëet aan die winkel- en kafeelekkernye, tot gaskoeldrank. Op so ’n dag tel Makkie se melk nie juis nie.

Maar vanaand val in die skraps tyd, en daar is nie veel om op tafel te sit nie. Alles is buitendien eenvoudig ingerig. Niks is sierlik, of op effek gemik nie. Wat daar is, is sigbaar en dienlik.

“Die aandkos is reg,” roep Bina, en Tanna kom uit die kamer, nie sonder ’n gekraak van bed en litte nie. Somertyd loop haar middagrus byna aaneen met die aandroetine. Dan roep Bina ook by die agterdeur, as dit lyk oom Kola in die waenhuis het nie gehoor nie. Daar is hy maar meestal met ’n werkie besig.

Hulle kom te voorskyn, met Tanna wat haar winkelbril op haar neus sit, en oom Kola wat die sweet op sy gesig met ’n voorarm afvee en sy broek hoër optrek. “Jy moet jou roer, Kool Estruis,” snou Tanna. “Aans kom Japie en jy’t nog nie hout en water ingebring nie.”

“Bly jy stil, ou Antjie. Ek ken my werk.”

Maar hulle is nog besig om te eet toe Japie kom. Bina is sommer vies, want hoekom is hy vroeër as ander aande? Sy sal maar in die geselskap moet bly, want dis te warm in die kamer en almal sal stoele uitdra om buite op die grondwerf te sit.

“Dis nou vir jou ’n ding,” val Japie met die deur in die huis.

“Wat se ding dan, Japie?” wil Tanna nuuskierig weet.

“Seker ’n wonderlike ding,” knor oom Kola.

“Bly stil, Kool Estruis. Laat mens tog hoor. Vertel maar, Japie. Moet jou nie aan oom Kola steur nie. Was daar iets oor die nuus?”

“Nee, heiden jissie, Tanna, daar was nie vanaand tyd vir nuus by oom Daan-hulle nie. Dis daar by hulle omtrent ’n deurmekaarspul.” Hy swyg afwagtend.

Tanna stel hom nie teleur nie. Haar oë word spits soos pylpuntjies: “Nou wat dan, Japie?”

“Nee, hulle kry toe laatmiddag ’n telegram dat Dawid-hulle môre vroeg hier sal wees, hulle ry deur die nag, vir die hitte, vir die kind, sien. Dwársdeur die nag,” beklemtoon hy vernaam.

In plaas van bly te word, kry Bina ’n groot verdriet in haar. Hulle ry deur die nag. Dalk lê Molly met haar kop teen sy skouer en slaap, want sy mag. Dawid is haar man.

Dawid sal môre eerste ’n draai by sy pa se winkel maak, want hy stel lewendig belang. En sy, Bina, sal ongeërg moet “Môre-Dawid-hoe-gaan-dit,” en voortgaan met haar werk. Haar hand, klein en wit, sal een oomblik in sy sterker, bruiner hand wees. Dawid aard na sy ma, want tant Rykie word ook maklik bruin van die son, al dra sy ’n kappie.

“Tanna,” kla Bina, en haar stem klink soos toe sy klein was, “ek voel nie so lekker nie, ek gaan ’n bietjie lê.”

Tanna lê bekommerd haar hand teen Bina se voorkop om te voel of sy koors het. Oom Kola knor: “Hierdie lopery in die son vir ou Duraan se bankrot winkeltjie moet end kry.”

Japie lewe op oor die “bankrot”, wat hy so gou moontlik weer aan oom Daan sal oordra. Maar hy lyk ook teleurgesteld oor Bina wat die geselskap wil verlaat. “Ek dog ons gaan nog bietjie buite sit, Bina, ek wil jou vertel van die affêre daar by die Duraans. Heiden jissie, die vrou van Dawid is mos opstêrs en met niks tevrede nie, ant’ Rykie is skoon op haar senuwees, dit maak skoon en dit bak en slag en was en stryk.”

“Wat laat jou dink ek stel belang om te hoor, Japie?” vra Bina gesmoord. “Vertel vir Tanna, ek loop.”

En sy vlug na haar broeiwarm kamertjie waar sy so sag moontlik probeer huil, die trane wat sy opgaar sedert sy vroeër vanaand haar voorkop teen Makkie se warm lies gedruk het terwyl die ryk bokmelk in die beker sjirts.

Louisa du Toit Omnibus 10

Подняться наверх