Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit - Страница 8

5

Оглавление

Elzar Enslin hou woord, en slaan so tien dae later by Duraan Kontantwinkel uit. Hy kom toiletware soek, en oom Daan vertolk dit op geen ander manier nie as dat hy die dominee tevrede moet stel, terwyl hy hom ook geselskap hou. Nie dat oom Daan anders kan nie, want hy is deur en deur ordentlik.

Bina het gehoop dat hy sal kom, en met haar gesels, selfs lag, sodat Dawid net een keer sal voel hoe dit is om buite te staan. Maar nou is Dawid nie eers hier nie, hy moes dorp toe met die bakkie. Die telefoon lui, en Bina moet vir oom Daan kom roep, sodat hy haar in beheer van Elzar se behoeftes stel. Hy sê net in die verbyloop saggies aan haar: “Vyftien persent, hoor?” Sy brilglase blink van tevredenheid. Dis ’n groot toegewing, want hy gee normaalweg tien persent afslag, om kopers aan te moedig om kontant te koop, anders kom dit op die boek en hy eindig met slegte skuld. Toe hy klaar is op die foon, kom daar mense by die slaghuisdeel in en hy moet soontoe haas.

Elzar vat behoorlik sy tyd om te kies tussen twee soorte deodorant en twee soorte skeerseep. Ewe skielik soek hy kastig ook kouse, en sakdoeke. “En wat is alles in daardie skoenbokse op die boonste rak?”

Toe sy wik en weeg, bieg hy: “Ek soek nie regtig skoene nie, ek hoop net jy gaan op die leertjie klim, dan kan ek na jou bene kyk.”

“Sjt,” keer sy angsvallig. Enigiemand kan instap, of oom Daan se gespitste ore kan die jillery hoor. Sy voeg by, net ingeval oom Daan regtig luister: “Maar as dominee …”

“Eina, hoe seer kry my ore. Maar goed, ek verstaan. Toe maar. Los die skoene. Kan ek van daardie roomtoffies in die fles kry? Verkoop julle dit los, of per dosyn?”

“Het dominee nie vanoggend werk nie,” vra sy hoflik, maar met lag in haar stem. Sy skroef die deksel af en hou die fles skuins: “Die eerste een is gratis, net ’n proefie.”

Hy neem twee, vroetel albei se papiertjies af en druk een in haar mond. Sy kou dapper om te kan sluk voor oom Daan kom. Sy hou van die ontspanne, gemaklike manier wat Elzar het. Sy het al gehoor hy is “minlik” en “sonder aansittery”. Maar hy sal tog versigtig moet wees. Mense laat nie maklik met hulle opvattings bodder nie. Hy moet darem sedig genoeg ook lyk.

“Elke dag as ek in die hoofstraat is, loer ek by die bib in,” skimp hy.

“Ek gaan môre.” Dis die waarheid. Tant Rykie se boeke moet ingegee word. Nie hernuwe nie, was die boodskap aan Bina, sy kry nie tyd om te lees “met die ou kleintjie in die huis en so” nie. Wat die “en so” is, kan Bina net raai. Rusies vreet tyd, sy sien mos maar met oom Kola en Tanna ook.

“Môre is lank. Ek werk met ’n rooster.” Hy haal ’n sakboekie uit sy hempsak en blaai dit oop. Daar pas ’n klein potlood in die spiraalruggie. Sonder dat iemand haar dit hoef te vertel, weet Bina dat sy byna-verloofde dit vir hom gekoop het. Op sy lessenaar sal hy wel ’n groter rooster hê. Daar gaan baie in so ’n gemeente aan. Op Sondagoggende is daar talle afkondiginge.

Sy brand om kerk toe te gaan en hom te hoor preek, maar sy wil ook nie so ewe skielik gaan nadat sy en Tanna so lank laas daar was nie. “As oom Daan my bib toe vat, dan ry ons gewoonlik elfuur, hy kry dan sommer sy pos ook.”

“En as hy jou nie vat nie?” Hy kyk haar vas aan, langsaam kouend aan die sagte toffie. Dis duidelik wat hy wil weet: vat die jong meneer Duraan haar dan?

“Dan gaan ek nie,” sê sy byna kortaf. Sy voel haar wange warmer word. Mag haar verleentheid tog nie sigbaar wees, o asseblief nie.

Hy stip dit aan. En so gaan Elzar Enslin weer, verlaat hy die winkel met sy beskeie aankope. Hy het te kenne gegee dat hy studieskuld afbetaal. En hy spaar seker ook om te kan trou. Die winkel is leeg toe hy weg is. Hy laat mens beter voel as voor jy hom gesien het; of is dit net sy wat dit so ondervind? Nee, selfs oom Kola was meer genaakbaar na hy die aand by hulle was.

Dawid kom eers teen elfuur ingestap. Hy steek hemp in en stryk oor sy hare. “Skuus Pa, Bina, ek moes eers Ma se huisgoedjies ook aflaai.”

“En ek dag jy bring ’n moerkoffietjie,” verwyt oom Daan in sy goedige, fynerige stem. “Ons het net nylonkoffie. Die dominee was hier en ons kon dit tog nie vir hom aanbied nie. Is jou ma se koffiekan dan droog?” Daar is twee groot termosflesse wat gereeld roteer.

“Pa moenie nog praat nie,” sê Dawid. Hy kyk skaars na Bina en die onweer broei in sy oë. “Die duiwel is los daar anderkant.” Die sweet slaan in klam kolle onder sy arms uit, en dit terwyl dit nie eens vandag so warm is nie. Juis vanmôre het Bina daaraan gedink dat die herfs in die lug is, toe sy die wingerde langs die voetpad sien verbruin.

“Nou wat is dit dan tog nou weer?” wil oom Daan sugtend weet.

“Nee, Molly het die stasie gebel om plek te bespreek, toe ek haar nie wil vat nie.”

“Waarheen? Dis dan afgespreek dat sy sal bly as ek en jou ma …”

“Nee, dit vat glo te lank. En ek het my voet neergesit en gesê dis julle huis, vir wat moet julle weg?”

“Ons moet dan maar doodeenvoudig begin pak, Dawid, ek het gevra jy moet bekwaam leë bokse …”

“Nee, Pa. Die Kaap was vir haar ook nie reg nie, sy verdien glo beter. Laat sy na haar ma-hulle toe gaan. Ek weet vir ’n feit hulle is armgatte, hulle kan skaars vir hulleself …”

“Tel jou woorde, Dawid. Maar my woord is my woord, ek het belowe ons sal dorp toe trek, al sal ons moeilik ons bekende dak en mure verlaat.”

“Nee, Pa, laat haar loop.” Die duiwel is nou in Dawid se oë, soos Bina dit nog nie voorheen gesien het nie.

“Maar julle het ’n kind, man, en die bloedjie is onskuldig.”

“Sy moenie dink sy sal vir Lientjie kry nie. Ekskuus tog, Bina.”

“Ja-nee, Dawid, ek gaan liewer meel en suiker afmaak.”

Sy sorg dat sy die stoorkamer se deur agter haar toemaak. Daar is ’n tafeltjie en ’n skaal en skepskoppies in die groot sakke, en sy begin kardoese vul.

Sy voel nie gelukkig nie. Dis tog ook nie hoe sy dit wil hê nie. Al moet dit wees dat sy op hierdie manier vir Dawid in die hande kry, is dit nie die regte manier nie. Moet sy afloer en afluister tot hy deur Molly op die ashoop gegooi word, en dan agterna loop om hom op te tel? En die band tussen hom en sy dogtertjie sal hy nooit heeltemal kan losmaak nie, anders as haar eie pa. ’n Ontreddering stuif in haar op, ’n ondraaglike weemoed oor wat in haar eie verlede gebeur het.

Haar pa vra nooit eers na haar uit, stuur nooit op haar verjaardag ’n kaartjie nie. Hy het haar glo daardie enkele keer te siene probeer kry, en nooit daarna weer nie. Of hy ooit geld gestuur het, betwyfel sy sterk. Hy nooi haar nooit om te kom kuier nie.

Moet dit so word met Dawid-hulle se dogtertjie met die fyn krulhaartjies en valletjiesbroekie? Dawid kan maklik praat, maar geen hof sal die kind vir hom gee nie. Molly drink nie en loop nie rond nie, sy speel behoorlik pop met die kind.

Toe die stemme stiller raak, waag sy dit weer die winkel in. Sy kom agter dat hulle steeds gesels, net sagter nou, omdat oom Daan nie ’n man is wat graag sy stem verhef nie.

Sy kan nie terug in die stoorkamer spring nie en moet ’n paar sinne hoor: “… nie tevrede, sy wil teen Tafelberg …” “… net miljoenêrs …” “Huur … paar kamers by die berg, daar sal tog … iets goedkopers …” “… jaag Pa my nou ook weg?” “Nee, maar julle … moeilikhede … nie gewoond … vrede in huis.”

Toe Dawid haar sien, hou hy op met praat. “Nou ja, Pa, ons praat later. Bina gee mos te kenne sy wil nie na ons nonsens luister nie.” Hy draai na haar toe, en sy lagstem is terug: “Jy moet oppas, Japie loop en rondvertel die nuwe predikantjie kuier by jou.”

Sy skrik tot in haar siel. Was sy nie juis daarvoor bang nie? As sy vir Japie nou beetkry, duik sy sommer sy adamsappel in. Maar hy sal dalk dink sy speel nooi-en-kêrel met hom. Sy sal vir Elzar moet waarsku, en gou ook. As sy hom môre by die biblioteek sien, moet daar geen lang geselsies wees nie. Mure en selfs boekrakke het ore.

“Jy weet tog seker Japie praat nonsens,” sê sy vir Dawid.

“Nee, hoe sal ek weet?” Sy oë kyk vreemd na haar, met ’n soort stil verwyt, asof sy hom in die steek gelaat het, asof hy en sy van mekaar behoort te weet, op ’n spesiale manier. Wat dink hy van hom? En wat dink hy van haar? En hoekom voel sy nie gebelg nie, net eindeloos verlore soos iemand wat totaal alleen op die aarde is?

Dis waar, sy voel nie meer so alleen met haar probleem sedert sy van Elzar s’n gehoor het nie. Maar sy durf sy vriendskap nie geniet nie, dit blyk nou duidelik.

Aldus is Bina onseker oor hoe om op te tree toe sy die volgende dag, besig tussen die biblioteekrakke, Elzar se stem by die ontvangstoonbank hoor. “Ek het gou weggebreek, het nou-nou ’n vergadering van die Eiendomskommissie by die pastorie. Maar mevrou weet mos al, boeke moet ek hê. Al lees ek eers twee-uur in die nag, ek moet lees.”

Bina weet nie of sy haar lyf skaars moet hou, of na vore tree en hom doodgewoon formeel groet nie. Sy besluit op laasgenoemde, en neem solank tant Rykie se boeke vorentoe. “O, môre, juffrou O’Connell,” groet hy, so effens hoogdrawend asof dit kastig sy posisie betaam, maar sy oë groet haar informeel. Hy beduie na die stapeltjie boeke: “Is dit u wat so liefdesverhale lees? Moet hulle tog nie glo nie, dis alles leuens.”

Dis nie nodig om te reageer nie, want mevrou De Wet tree in. “Maar ek het vir dominee vertel van die meisie wat sulke besonderse boeke lees.” Sy klink trots, asof dit ’n dorpsprestasie is wat in haar werkplek ontspring het. Gawe vrou, ’n knap en diensbare vrou, maar die oë kan ook redelik rondloer vir interessante storietjies.

“O, is dit sy?” Doodverbaas. “En ek was nogal nou die aand daar op siekebesoek, en sy sê my niks. Hoe gaan dit nou met mevrou Van Reenen? Volgens my sal ’n galblaasoperasie die enigste uitweg wees.” Sy tong klik ’n geluidjie van simpatie.

Bina snap gelukkig dadelik: die gebakte eiers, wat Tanna gesê het nie met haar gal akkordeer nie. “O, sy is te bang vir die mes. Ek sal bly wees as dominee met haar praat.”

“Ek sal tog weer eendag oorkom. Die program is net so bitter vol. So, watter interessante boeke kan u my wys? Dalk leer ek dit ook lees.”

“Bina,” raai mevrou De Wet niksvermoedend en entoesiasties aan, “vat vir dominee na daardie spesiale rak waar ek altyd vir jou boeke uithou. Wag, ek bring nog ’n stoel.”

Af en toe ruil die buurbiblioteke boeke uit en dan kom daar varses in. Of mevrou De Wet bestel nuwes, of ontvang skenkings van individue. Gewoonlik kan Bina nie wag om daar uit te kom nie, dis lekker apart. Sy kan selfs by ’n tafeltjie sit en blaai. Nou dink sy, ’n bietjie afgehaal: so onskadelik word ek geag. Ek kan maar met die jong dominee by ’n eenkant rak gesels, ek is mos net Bina wat woon by Kola Estruis en Anna Verrene, die kastige ou sondaars.

Net so onskadelik, ja, soos by Dawid in die winkel. Oom Daan oorweeg dit half en half om weg te gaan, sonder om te besef dat dit haar in ’n onhoudbare posisie sal plaas. En Dawid is bekommerd oor Molly wat kan weggaan, maar nie oor Bina wat kan bly nie.

Maar iemand beskou die posisie tog as potensieel skadelik, moet sy besef toe Elzar gedemp begin praat terwyl hulle voorgee om die bundel met Nederlandse kortverhale druk te bespreek: “Dit klink vir my asof mevrou De Wet ’n assistent nodig het. Die probleem is net die begroting. Maar dalk sien die dorpsraad hulle weg oop.”

“En hoekom sal jy daaroor … dis die dorpsraad, nie die kerkraad …” Dan snap sy alles, binne een oomblik. Sy maak die boek toe en staan op. “O, ek verstaan. Jy wil jou invloed gebruik. Jy wil my graag hier aan die werk sien, weg van oom Daan Duraan se winkel af.” En van sy seun af. Dis nie nodig dat sy dit sê nie, dit spreek vanself. Dis nie omdat hy haar graag wil sien dat Elzar vanoggend hierheen weggeglip het nie. Hy is bekommerd dat sy as “jongedogter” van sy gemeente skeef kan trap. Die gemeente is sy arbeidsveld. Hy is die herder van die skapies. Hy moet betyds jakkalsdraad span, anders skep hy net vir homself probleme en werk. Hy het gister haar ligte blos gesien daar in die winkel, toe Dawid ter sprake kom. Daardie twee oë van hom, so kastig verwonderd, kyk niks mis nie.

Hy ontken dit nie maar bevestig dit eerder toe hy ook opstaan, met ’n skuins blik na sy horlosie: “Ek is jou vriend, maar ek is eerstens jou leraar en raadgewer.”

En sy koms winkel toe gister, so vou die prentjie verder voor haar oop, was ook nie ter wille van haar of die toiletgoedjies wat hy kom koop het nie. Dit was om ’n saak van huislike onmin dop te hou. Die storie van Tanna wat hy wel met ’n grappie in die kiem gesmoor het, het in sy gemoed vasgeskop. Hy weet dat waar ’n rokie is, ook ’n vuurtjie moet wees. Hy is geroepe en opgelei, hy is boonop na deeglike keuring hierheen beroep.

Toe sê hy dit wat sy reeds gesnap het: “Voorkoming is beter as genesing.”

Sy skud die boeke wat sy uitgesoek het, in haar arm reg. “Jou aanstaande,” sis sy gedemp, “sal niks by jou kan oorvat nie. Wees gerus. Jy sit vierkantig op die stoel. Die preekstoel,” voeg sy by en wys hom haar rugkant.

Eintlik verdien sy ’n sarkastiese antwoord, iets soos “Weet jy ooit hoe die preekstoel lyk, as jy nooit daar kom nie?” Maar sy weet ook reeds dis nie Elzar se styl: sarkasme, vergelding nie. Hy is te gemaklik en menslik.

Hulle is nou naby mevrou De Wet, en hy sê so ewe: “Dankie vir die raad oor die boeke, juffrou Bina. En sê vir meneer Duraan daardie goedjies wat ek in sy winkel gekry het, is kwaliteit.”

Buite die biblioteek haal hy, kastig ongehaas, haar ongemerk in. Oom Daan se bakkie is nog nie daar nie en sy moet in die skaduwee van die boom op die sypaadjie wag. “Dink oor ’n pos in die biblioteek, of hoe?”

“As jy my wil wegkry waar ek is, sê net so. Maar ek sal self weggaan as en wanneer ek wil. Ek het nie nodig dat ’n joppie vir my bewimpel word nie.” Tog sou sy bitter graag hier werk. Heeldag tussen boeke, sien sy dalk eindelik kans om in te skryf vir posstudie. Van haar belofte aan die destydse skoolhoof het nog niks gekom nie.

“Kan ek jou woord hieroor vat?” Nou is hy dalk effentjies sarkasties, want hy het tog al moes aflei dat sy nêrens anders het om heen te gaan nie. Maar hy glimlag tog. En terwyl hy daar staan, moet hy na links en regs knik en groet en waai terwyl hy, so vermoed sy, seker nog sukkel om name onder die knie te kry. Hy staan een keer op die kansel en honderde mense ken hom en verwag dan dat hy hulle ook moet ken.

As die vorstelike byna-verloofde weet wat op haar wag, sal sy liewer nie so gretig wees om te kom “oorvat” nie. Wie sou hom help met die tee as hy die vele vergaderings aan huis het? Sy het gehoor hy het ’n bekwame huishoudster. In hierdie dorp hoor ’n mens ongeveer alles. Wat jy nie hoor nie, is nie die moeite werd nie. So, dalk sal die dorp nie hoor dat die dominee eers in die biblioteek en daarna buite op die sypaadjie ’n paar woorde met Bina gesels het nie. Ag, man, Bina Watsenaam, wat by die ou twee sondaars bly, sy werk by Duraan se winkeltjie, oorkant die rivier, die een wie se pa haar doerie jare weggesmyt het, jy weet mos?

Sy voel die res van die dag so verlate, verstote, weemoedig, op ’n kaal emosionele vlakte. Almal het iemand, net sy nie. Selfs oom Kola en Tanna het mekaar, al is dit net om te skoor. Oom Daan laai haar sommer tuis af vir middagete, aangesien dit amper toemaaktyd is. Ook maar beter, sy sien nie kans om in Dawid se teenwoordigheid te wees nie. Dawid, wat op die dominee se taaklysie staan. En sy self, Bina, het hy iewers iets oor haar neergeskryf, en wat? Hy het ’n volledige stel alfabetiese kaartjies oor al die lidmate. Dalk het hy geskryf: Potensiaal, maar onwenslike omstandighede.

Oom Daan moet aanvoel dat sy besonder teruggetrokke is, want hy praat ewe rustig, terwyl sy brilglase blink – en dit blink altyd, want hy verwerk sy spanning deur hulle op te vrywe, met ’n spesiale vryflappie in sy brilhuisie indien sy sakdoek nie meer skoon opgevou is nie. “Hoekom bly jy nie maar die res van die middag ’n slag tuis nie?” bied hy aan. “Jy gaan nooit eers met verlof of iets nie, ek voel al so skuldig.” Hy voeg by, met wonderbare takt en insig: “Jy is seker ook haastig om jou nuwe boeke te begin lees.” Hy beduie met die kop na die stapeltjie op haar skoot. “Jy hou dit vas of dit kosbare skatte is.”

“Maar dit is, oom Daan,” reageer sy dankbaar. “En goed, ek gaan dan vanmiddag sommer lekker in die kamer lê en lees, die huis is nie meer so warm nie. Sal oom en Dawid regkom?”

“Ja wat.” Effens grimmig, asof hy nie oor sy seun wil praat nie.

Sy lees inderdaad lekker nadat sy effens gesukkel het om te konsentreer. Die gevoel dat Elzar haar op ’n manier verraai het, wil haar nie verlaat nie. Sy probeer oor en oor van bladsy een af, soekend dat die storie haar moet boei. Dis ’n novelle wat uit Frans vertaal is, van die skrywer Georges Simenon. Blind Path handel oor ’n rykmanslewe van verveelde adellikes in afgeleefde herehuise en duur seiljagte teen die Franse Riviera, met die hoofkarakter ’n werknemer wat besonder geheimsinnig gebeeld word. Hy koester ook ’n tevergeefse liefde. Dit moet wees dat hy hom op ’n doodlooppad bevind. Net daarvoor sal sy aanhou lees, om uit te vind wat gebeur het en hoe hy dit hanteer het. Maar sy treur nog oor die boeke wat sy klaar gelees en omgeruil het, soos Ilona, want elkeen het ’n nuwe verlange in haar gesaai.

En so gaan die middag tog om, met oom Kola en Tanna wat bly is om haar die hele middag tuis te hê en kort-kort ietsie kom vra of aandra. Toe dit tyd is om vir Makkie te melk, het Bina se weemoed ’n nuwe tint, ingekleur met die weemoed van vreemde lande en ander tye. Indien sy ooit bles moet word soos die melkmeisies van destyds, sal dit vanaand gebeur, want sy rus haar voorkop teen Makkie se warm flank selfs nadat die spene leeg gemelk is.

Japie kom, tot haar ergernis, nog voor hulle kan eet. Hy loop sulke lang, vooroor treë asof sy kop sy voete wil verbysteek.

“Wat is dit dan wat jy daar in die kardoes het, Japie?” wil Tanna weet.

Want Japie sit met die bruin kardoes se opgewende opening op sy knie, soos ’n verlepte blommeruiker wat jy aan die stele vashou. Die kardoes self is so voos gebruik dat dit eintlik saf is. Dit lyk of Japie skoon daarvan vergeet het, want hy is tot barstens toe vol nuus oor dingetjies wat maar nie “daar oorkant” wil regkom nie. Menende dat hy soos gewoonlik van oorsese nuus praat, steur Bina haar nie verder aan hom nie, behalwe om te probeer raakluister of hy weer by oom Daan Duraan-hulle aan huis kom.

“Ek sal nou-nou van die kardoes vertel, Tanna,” en Japie borrel eers oor van die groter nuus. “Vanaand is die duiwel heeltemal los daar oorkant. Ek wil vanaand weer ’n slaggie nuus gaan luister het by oom Daan, want ek dink die twee oumense mis my ook maar. Maar heiden, Tanna, waar trek daardie Ingelse vroumensie los en sy skel almal dat die see hulle nie kan afwas nie. Ek het maar gou my koers gekry.”

“Nou wat dan nou weer, Japie?” vis Tanna uit. “Sy het alles van die beste daar by Rykie-hulle, sy hoef haar hande nie in die koue water te steek nie.”

“Ja, Tanna. Ma reken die dominee moet nou by oom Daan-hulle gaan ingryp, anders word dit ’n sweer in die samelewing. En Dawid sê nie ‘pap’ om sy vrou in toom te hou nie, sê Ma, ek bedoel, het ek met my eie oë vanaand gesien.”

“Dawid is vir vrede,” sê oom Kola kort. Hy het altyd van Dawid gehou.

“Ja, oom.” Japie is kennelik van stryk af, noudat oom Kola iets gesê het wat hy met sy beperkte denke nie self kon formuleer nie. “Ma bedoel eintlik, oom, ’n man moenie toelaat dat sy vrou so op hom skree nie. Veral nie as hy ’n man vir vrede is nie, soos oom self sê.”

Oom Kola verwerdig hom nie om verder te reageer nie. Net Tanna korrel nog weetsiek na Japie terwyl Bina stilweg vir aandete klaarmaak. Sy sal maar vir die knaende Japie ook ’n plek moet dek.

“Japie, het jy of jou ma dan nou nie gehoor presies wat die vroutjie vir Dawid skree nie?”

“Ons is ook maar versigtig, Tanna. Die vrou kan ’n mens prosedeer vir laster.”

“Is ook so, Japie.” Tanna hou haar oog op die kardoes.

“O ja, amper vergeet ek, Tanna, Ma stuur dié.” Japie hou die kardoes soos ’n offer na haar toe uit.

“Wat is dit dan, Japie?” Want Tanna kon sien dis iets sags, nie kosware soos hulle af en toe vir mekaar stuur nie.

“Sommer ingeval Tanna kort is aan slaapgoed as Tanna vir die operasie ingaan.”

Oom Kola se oë, normaalweg onder wenkbroue verskuil, vlieg soos helderblou vlaggies oop. Eintlik het Bina nooit voorheen geweet sy oë is so blou nie, of is dit maar oumensblou? “Waffer operasie, ou Antjie, en jy sê my niks?”

Tanna weet ook nie wat se operasie nie, maar sy loer nietemin in die kardoes. “Nou wat se stuk klereding is dit dan, Japie?” Sy haal dit uit, ’n ou nagrok waarvan die fleur af is en die kleur uitgewas.

“Sommer ’n stukkie nagklere wat ma nog skaars gebruik het, Tanna. Want so ’n skielike operasie kan mens sleg vang, sê Ma, mens moet ’n hele paar verskonings hê ingeval hulle, met permissie gesê, nie betyds met die bedpan is nie, sê Ma.”

“Wat se operasie dan, Japie?” wonder Tanna.

“Nee, Bina het glo vanmôre in die biblioteek vir die dominee gevra om tog vir Tanna te besoek, want die galblaas word uitgehaal. Mevrou De Wet sê glo Bina was baie aangedaan.”

“Jy sit weer lekker en twak praat, Japie,” snou Bina hom toe. “Dominee het maar net gevra of Tanna se gal nog probleme gee as sy gebakte eiers eet.”

Sy gryp die nagrok by Tanna en stop dit terug in die kardoes. “Vat die ou ding terug vir jou ma, sê sy moet liewer ’n vloerlap daarvan maak.”

En oom Kola knor saam: “Sê haar Anna hoef nie oorskiet te dra nie.”

En nou sal die hele wêreld seker weer hoor dat die meisiekind Bina en ou Kola Estruis vir Miemie Kleinvelt in die gesig gevat het.

Bina was nog altyd tevrede hier, die mense is haar mense. Maar deesdae weet sy nie meer so mooi nie. Na vanoggend se gesprek met Elzar weet sy veral nie. Die lewens hier kan so klein en verknoop raak.

Japie lyk nie juis geaffronteer nie en wen weer die kardoes se bek styf op. “Mevrou De Wet het nou maar net gesê wat sy die dominee gehoor sê het toe hy saam met jou in die biblioteek sit. Maar Ma sê as die dominee nou al helder oordag met elke meisie van die gemeente ginnegaap, moet hy oppas vir die kerkraad. Ma sê hier is genoeg ordentlike jongetjies as jy verleë is oor geselskap.”

“Sê jy vir daai ma van jou, Japie, die dominee raak verloof aan ’n voorslag vrou. ’n Vorstelike meisie. Weet jy wat vorstelik is?”

“Heiden jissie, natuurlik, Bina. Soos Queen Victoria mos.”

“Jou simpel affêre, die ou mens is al in die Boereoorlog dood,” knor oom Kola. Dis duidelik dat hy nou net mooi genoeg gehad het.

Maar Japie is soos ’n snuffelhond op die spoor. “As my kar nog bietjie ouer word, lyk dit net soos daai hoghe mense se mouterkarre,” spog hy. “Ma sê ek kan hom uitverhuur as troukar. Bina, as jy weet van iemand …”

“Ek self sal liewer ’n donkiekar huur,” verseker sy hom. Dit help dat hy nooit regtig aanstoot neem of kwaad bly nie. Nie van goedgeid nie, maar van simpelgeid, reken oom Kola.

En dat Japie nog aand na aand hier kom sit en klets, is tog iets wat dieselfde bly, iets wat alles net soos voorheen laat voel. Terwyl sy, Bina, weet dat alles eintlik aan ’t verander is. Sy weet net self nie waar en hoe nie.

Louisa du Toit Omnibus 10

Подняться наверх