Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit - Страница 7

4

Оглавление

Die ontvangs van die jong dominee word toe vir Tanna ontsê. Oom Kola het botweg geweier om hulle te vat, en Bina het op haar beurt geweier om saam met Japie-hulle te ry. Oom Daan Duraan het nie gevra of aangebied nie, en ook maar beter.

Oor die algemeen beter dat sy bly, het Bina besluit. Sy sien nie kans vir mense nie. Die half grappige, half neerhalende manier waarop oom Kola en Tanna gegroet word, en sy is immers hulle aangelapte kind, sonder bande of agtergrond. Sy weet hoogstens dat daar respek vir haar oorlede ma was, en dat haar pa glo ’n vriendelike man is, of was.

Nee, laat hulle drie randfigure maar liewer saamskaar. Al is dit merendeels ’n geval van twis en kerm, is hulle tog veilig by mekaar. Mens weet ook nooit watter onbeskofte antwoord oom Kola kan gee op ’n ondeurdagte groet of opmerking nie.

So kom dit dat die nuwe dominee eerste by hulle uitkom. Nie dat hy wyksbesoek beplan het nie, anders sou die ouderling hulle gewaarsku het. Die een in oom Daan Duraan se plek, want oom Daan het glo gevra om ’n jaar of twee nie herkies te word nie. As dit amptelike besoek was, sou Japie ook vooraf kom vertel het, want met tydings uitsnuffel, is hy beter as ’n windhond.

Ook maar beter dat die besoek onverwags was, anders het oom Kola dalk sommer ’n koers ingeslaan tot die ongewenste besoeker weer weg is. Bina, wat die rusie met die vorige leraar onthou, is angsbevange dat dit weer kan gebeur.

Wat sy afgewag en gevrees het, gebeur dus sommer so onverhoeds. Sy het om vyfuur van die werk af gekom en besluit om eerste te gaan melk, vir ’n vroeë aandete, sodat sy haar lyf skaars kan hou as Japie opdaag. Haar kamer en bed, hoe eenvoudig ook, is ’n hawe van veiligheid. Dit behoort net aan haar, dit berg haar gedagtes en haar hartseer, dit vra nie vrae of maak nie verwyte nie.

Daarby het sy ’n nuwe boek wat mevrou De Wet, die bibliotekaresse, spesiaal vir haar gehou het. Dis uit Duits in Engels vertaal, die verhaal van drie geslagte vroue in Europa tussen die twee Wêreldoorloë. Dis veral Ilona, die beeldskone ouma, en haar destydse verhouding met die tragiese dog wyse prins Taszilo Kontowski, wat haar ure lank kan meesleur. Dit leer haar, soos alle goeie boeke, dat probleme universeel is. Haar klein leed is nie eerste of laaste op aarde nie. Haar algehele begrip van die lewe word verruim.

Sy is dus by Makkie besig toe sy ’n ligte gedreun op die voorwerf hoor, soos ’n motor wat stilhou. Oomblikke later roep Tanna oor die onderdeur: “Binatjie, kry dan klaar. Die dominee is hier.” En, meer vir die besoeker om te hoor: “Ek het vir hom gesê jy melk nog die bok.” Die man lag nou seker in sy mou. Dorpenaars sit saans hulle melkbottels uit met ’n koepon daarby, en kry soggens vars voorraad by die agterdeur.

Maar sy is meer bekommerd oor oom Kola se reaksie. Tanna is so eenvoudig van hart dat sy oor niks aanstoot neem nie. Vir haar is ’n predikant ’n onaantasbare wese en wat hy bo of onder die kansel sê, is evangelie. Daarom het sy haar nie vir die vorige dominee se gekrap in hulle sake vererg nie. Maar oom Kola is ’n ander saak. Hy het laas gesweer dat hy enige “kastige herder” wat weer sy bek hier kom rek, van die werf af sal jaag. Dis eintlik Tanna se werf, maar toe maar.

Sy moet verby die besoeker loop om die melkbeker in die paraffienyskas te sit. Hy staan beleef op. Dis tog sleg dat hier, ter wille van drie slaapkamers, geen sitkamer is nie. Sy knik net eers: “Middag, dominee. Ek groet nou-nou.” Tog weet sy met een oogopslag presies hoe hy lyk: middelmatig gebou, gemaklik aangetrek, meer mooi as lelik, kort hare wat boontoe groei, met ’n duidelike donker V op die voorkop. Opmerksame, half verwonderde oë.

“Hallo, juffrou.” Hy staan hoflik op. “Of moet ek sê Binatjie.” Sy oë terg effens.

“Net Bina, dominee.”

“Wel, -tjie ofte nie, ek hoop daar kom koffie saam met daardie vars melk.”

“Ons kan ’n plan maak,” sê sy en bied hom nou haar hand wat dalk na Makkie ruik. Oom Kola lyk stuurs genoeg, maar bly darem sit, effens dwars gedraai op die regop stoel. Daar is nie juis gemakstoele nie.

“Elzar met ’n z,” stel hy hom bekend. “Enslin.” Asof almal nie teen hierdie tyd sy van weet nie. “Moet dit net nie vinnig probeer sê nie, dan knoop jou tong.”

“Ek is nie van plan om te probeer nie,” verseker sy hom en kry ook ’n stoel. Hulle vier sit ewe regop in ’n halfmaan.

“Die mense wil nog nie aan voorname vir die pastoriemense byt nie,” gesels hy, “maar ek sien dit vir almal kom. Hulle moet maar gewoond raak. Aan my klere ook,” en hy beduie na sy koel wit kortmouhemp. Geen pak, das of baadjie nie. O, hy kan maklik teenspoed optel, voorsien Bina. Die vraag is of dit hom sal seermaak. Sy het soveel ontsag daarvoor, want sy weet hoe dit voel. Maar om mens te wees, is seker om seer te moet kry.

Dis waar, dit sal eintlik snaaks wees om hom formeel aan te spreek, want hy lyk inderdaad jonk, veral met ’n paar swart sproete op die bowange, soos ’n seun wat dikwels buite kettie skiet. Maar as hy na matriek gaan studeer het, moet hy al halfpad in die twintig wees. Dalk lyk hy meer ongedeerd as jonk.

“Dis nie offisiële huisbesoek nie,” gesels hy. “Ons kom nog, ek en die ouderling. Ek ry maar so in vrye tydjies rond. Sommer op elke afdraaipaadjie. As ek ’n voordeur sien oopstaan, hou ek stil.”

“Waar was dominee dan nog oral?” waag Tanna.

“Nie vanmiddag iewers nie, ek kom van ’n vergadering af en het uit my warm pak geklim. Die rivier oorgesteek, sommer gery. Mens kan jou in die groen paradys verlustig. Met vaal rantjies tussenin. Baie mooi wêreld.”

“Ek wil net sê, by rustende ouderling Duraan is daar huislike moeilikheid, die seun se ou vroutjie praat glo so brutaal met mevrou Duraan.” Die deftige “mevrou Duraan” moet demonstreer dat Tanna weet hoe om ’n gesprek in alle ordentlikheid te voer.

Oom Kola stem duidelik nie saam nie, en ’n blaasgeluid gee dit te kenne.

Elzar Enslin lyk danig teleurgesteld. “Ek wou juis vir mevrou al my eie geheimpies vertel, maar dit lyk dan nou vir my dis nie veilig nie.”

“Dis nie dat ek rondpraat nie, dominee, ek gee maar net om vir my naaste.”

Nog ’n geluid van oom Kola, en Bina ag dit wys om maar die primus te gaan opsteek vir koffiewater. “Maar Binatjie,” sê Tanna vir haar rugkant, “dominee sal tog seker ’n aandkossie saameet?”

“Mag ek?” vra hy onverbloemd gretig, sodat al Bina se besware oor die eenvoud van die kos en die algehele skrapsheid van hulle bestaan, op haar tong verstil.

Sy draai om: “As u … as jy nie omgee vir oorskietkos, en om saam met die hoenders te eet nie. Ons doen alles saam met die hoenders, dan kan ons nie verkeerd gaan nie … Elzar.” Sy besluit om gebruik te maak van die voornaamaanbod, solank hulle nie tussen ander mense is nie. Hy is net eens te gemaklik, met homself en met andere, vir formaliteit.

“Ek het nie hoenders op die werf gesien nie. Beteken dit hier is nie eiers in die huis nie?”

“Ons koop by oom Daan, meneer Duraan se winkel. Die rustende ouderling,” sê sy met opsetlike hekeling wat hy duidelik snap. “Dis waar ek ook werk.”

“Gaaf dan. Die moeders van die ongetroude jongedogters dra nie na wense eetgoed aan nie. Ek het mos reeds ’n meisie, sien. Dit skrik hulle af. Maar nou ja, ek vrek oor gebakte eiers, en my ma wou my nooit meer as twee op ’n slag gee nie.”

“Vir my sal dit gal gee,” reken Tanna. “My moeilikheid is mos maar gal.”

Die nederige ete van oorskietvleis, gebakte eiers, brood, tamatie en konfyt, verloop in harmonie tot oom Kola sy stoel agteruit stoot. “Noudat jou maag vol is, wil jy seker weet of ek en ou Antjie getroud is? Dis mos waarvoor jy gekom het.”

Elzar lyk verwonderd. “Oor my maag, ek sou nog drie eiers kon eet, oom. En nee, ek lei af julle is ongetroud, want julle is Esterhuysen en Van Reenen. Maar julle haat mekaar genoeg dat julle net sowel getroud kon wees.” Want affronte en geblaf het die afgelope halfuur nie ontbreek nie.

“Hoor nou net weer daar,” brom oom Kola, maar hy is taamlik koudgesit. Die angel is uit die situasie gehaal.

En toe is dit natuurlik tyd vir Japie om op te daag. Bina het skoon van hom vergeet. Kon hy tog nie maar omdraai toe hy ’n motor sien staan nie? Solank Elzar nie dink dis haar kêrel nie. Sy gesonde verstand sal hom hopelik van die teendeel oortuig. Almal duld vir Japie net omdat die samelewing verstaan dat elke dorp sy sufferd moet hê.

Elzar was juis aan ’t afskeid neem, met die versekering dat hy lank laas sy gebakte eiers so geniet het, en die geselskap daarby. Japie voel redelik vernaam toe die leraar onthou dat hy meneer Kleinveld is. Hulle het by die ontvangs ontmoet. Hy onthou ook dat Japie by sy ma woon, sowaar. Vir Japie klink dit soos ’n soort toekenning of sertifikaat.

“Nou ja, juffrou O’Connell,” sê Elzar ewe formeel, “die boek wat die biblioteek vir jou gestuur het, lê in my kar. Kom kry dit net, anders ry ek weer daarmee weg.”

“Toe maar, ek sal dit sommer gaan haal, dominee,” bied Japie aan in ’n helder, eerlike stem. “Hoe lyk hy?”

“So vierkantig, met harde blaaie buite en sagte blaaie binne,” antwoord Elzar ernstig. “Maar laat ek dit liewer self gaan kry. Kom, juffrou, ek is nogal haastig.”

Sy snap dat hy ’n voorwendsel soek. Dis koel buite, hoewel die dae nog goed warm is. Die maan kom vroeg op, ’n skyf soos ryp kaas. Daar is ’n geur van groenigheid in die aandlug. Toe hy die deur oopmaak, ruik die motor na ’n versorgde jong man, hoewel sy dit nie kan omskryf nie. “Jammer ek het geen boek vir jou nie, ek het maar net verneem dat jy so baie lees. Hogere boeke, lei ek af. Jy was skynbaar laas net voor my daar. Sy was nog met jou kaartjies besig.”

“O,” sê sy net. “Ek sou nie dink dat jy nog tyd vir lees kry nie. So nuut, met al die werk.”

“Jy vergeet ek loer mos oral in. Sulke blitsies. Ek sal graag lank en lekker wou kuier. Mense se stories hoor. Ek wil nie rondhol met allerlei reëlings en afsprake nie. Maar dis deel van die pakket, en ek aanvaar dit so.”

“Jy het niks oor ons kerkgang gevra nie.”

“Ek kan mos sien julle is nie ongelowig nie. Die oom se tafelgebed …”

“Elzar,” vra sy eerlik, in die besef dat hulle tydjie afgemeet is hier onder die koel aandhemel waar sterre reeds begin prik, “jy het ons nie sommer net raakgery nie. Hoekom het jy reguit na ons toe gekom?”

“Ja goed, jy verdien die waarheid. Is dit te veel gevra dat ons ’n rukkie in die motor sit?”

Sy lag. “Natuurlik. Moenie naïef wees nie. Jy is nou die dominee, nie meer ’n student nie. En met Japie hierso, hy is ’n storie op pote.”

“En hy dink hy kuier by jou.”

“Regtig?” skrik sy.

“Wie is nou naïef?”

“O my aarde, dan moet ek dit stopsit.”

“Want iemand anders kan ook dink hy kuier by jou, en dan?”

“Wie anders?” wil sy onrustig weet.

“Die rustende ouderling se seun. Ek het jou gesig gesien tot mevrou Van Ree… toe jou Tanna daarvan praat. Die romans noem dit naakte pyn.”

Sy weet dit nou: Elzar Enslin is nie net ’n gemoedelike groentjie nie. Hy is ’n waarnemer, gebore en geskool; ’n skerp gees wat as pastor sy plek vol sal kan staan. Sonder veroordeling, en met begrip. Hy is ’n uitsonderlike mens, onopvallend verpak. In ’n skare sal hy nie die oog trek nie. Eerder sal mense omkyk as hulle Dawid se lagpraterige stem hoor.

Daarom stry sy nie. “Dalk het jy dan raad vir wat ek moet doen. As hy van sy vrou vervreem sou raak, en hy bly alleen hier, moet ek liewer padgee?”

“Waarheen?” vra hy nugter. “Dit kom my voor jy hoort hier.”

“Ja. Dis seker ook nie ’n vraag met ’n maklike antwoord nie.”

“En dis die beste as jou antwoord van binne af kom, Bina. Glo my, ek sit ook met vrae wat soos katnaels aan my binnekant trek. Maar eers, oor hoekom ek reguit hierheen gery het … ook nie so reguit nie, ek het bietjie lekker verdwaal. Maar ek het jou gesien voor die bib, skrams, toe jy by ’n oom in ’n goeie bakkie klim met ’n gerf boeke in jou arm.”

“Oom Daan by wie ek werk. Ek neem gereeld sy vrou se boeke ook uit.”

“Hoe ook al. Jou kaartjies het nog daar gelê, en mevrou Ras was op die foon, toe sien ek jou naam. Nog ’n bietjie speurwerk later, en ek weet waar jy bly. Ek weet ook jy is nie familie van die dierbare ou twee nie.”

“En? Toe kry jy drie gebakte eiers. Is dit die hele storie?”

“Nee, ek het gedink: ’n meisie wat só lees, het ’n fontein van wysheid opgebou. Goeie boeke, al is dit nie geestelike werk soos my vak voorskryf nie; daar is altyd iets in wat op die gewone lewe van toepassing gemaak kan word. Iemand met wie ek kan praat.”

“Omdat ek dalk ’n oplossing sal hê vir die katnaeltjies in jou? Jy het dan nie vir my raad nie.”

“Wanneer gaan jy weer biblioteek toe? Dan kan ek jou kastig daar tussen die rakke raakloop. Bietjie by ’n tafeltjie sit.”

“Sonder dat ons raakgesien word?” lag sy openlik.

“Ja, jy is reg. En my kar kan ook nie twee keer voor julle huis staan nie. Soos jy sê, ek was as student gewoond om enige tyd my meisie …” Die skemer meng met maanlig om sy verleentheid te openbaar.

“Maar net jou ouers was by die ontvangs, het ek gehoor, geen meisie nie. Jy is onder die vergrootglas, onthou.”

“Nie net ’n meisie nie, dis ernstiger. Ons is so te sê verloof. Ek dink hulle noem dit privaat verloof. Net die ring kort nog.”

“Maar sy kon nie hier wees nie?”

“Verstandtand-operasie wat skeefgeloop het, infeksie en so. Sal jy my oordeel as ek sê dat ek verlig was sy kon nie kom nie?”

“Was jy bang sy raak afgeskrik deur die rol wat op haar wag?”

“Net mooi andersom.”

Toe kom Tanna op die klein, kaal voorstoep uit. “Binatjie, as dominee nie die boek kry nie, hier lê mos ’n stawel boeke.”

“Hy soek nog, Tanna,” roep Bina.

“Almiskie, maar kom hoor dan, Japie vertel van ’n vrou wat glo so vreeslik gesoek word. Wil dominee nie ook kom luister nie?”

“Noodberigte oor die radio,” lig Bina gedemp in, en besef dat Japie dan weer by die Duraans aandnuus geluister het. Is hy nie meer vir Molly bang nie?

Elzar gee ’n innige laggie. “O, ek is mal, absoluut gaga oor haar … oor hulle. Hoe begeer ek so ’n ongekompliseerde lewe. Die lewenseenvoud. Dis wondermooi. Die roeping van die mens is om mens te wees, niks meer nie.” Hy gooi sy hande in die lug, bleek, mooi hande in die maanskyn: “Die huisie is wat dit sedert die skepping bedoel is om te wees: ’n beskerming teen die elemente. Geen elektrisiteit, geen telefoon, en tog ’n sinvolle lewe.”

“Nie dat daar nie baie oor dit alles gekerm word nie, veral ’n telefoon.” Daar is ’n laggie in haar stem. “Maar as Tanna kerm, sê oom Kola net hy rol nie in die geld soos sy nie.”

“En? Is dit so? Is sy in werklikheid dalk ’n skatryk ou lady?”

“Ouderdomspensioen,” verklaar sy. “Maar tog, as oom Kola ’n geldjie verdien, kom hy dit op die kombuistafel neersit sodat Tanna dit in die teeblikkie kan bêre.”

“Nog wonderskoner. Ja, so wil ek lewe.”

“Jy kan jou lewe ook eenvoudig hou,” weifel sy.

“Nie as my telefoon rooi gelui op die mikkie staan nie. En veral nie as my aanstaande verloofde eers hier kom invaar en oorvat nie.”

“Oorvat?”

“Ja, sy kan nie wag nie. Om my aan te vul.” Hy sê dit met ’n tikkie spot. “Om saam in die span te trek, noem sy dit, wat eintlik beteken dat sy voor sal loop. Sy is dan ook ’n vorstelike verskynsel, verstaan, groot en mooi en regop en sterk.”

“Dan moet jy mos trots op haar wees. Klink na ’n juweel.”

“O ja, al die onverbonde tokkelokke was agter haar aan. Toe kies sy vir my. En dit ontaard in ’n dilemma. Sy dikteer nou al oor hoe om die gemeente maksimaal te ontwikkel sodat dit in die sinodale annale opgeteken sal staan. Die susters betrokke te kry.” Dit klink of hy resiteer. Hy haal diep asem en breek af. Begin weer, na oomblikke: “Ek wonder partykeer of ek nie jaloers op haar is nie. Haar dryfkrag en werksetiek. Sy is ’n maatskaplike werkster, en weergaloos. Ekskuus, die hele uitstorting was ongevraag. Ek moet groet, voor ek ’n groter gek van my maak.”

Toe hy sit, draai hy die ruit af en sê: “Ek het lank laas so lekker gesels. Dis nou behalwe die kuier en die drie gebakte eiers.”

Ja, dink sy, lekker gesels en min gesê. Mense kom maar moeilik by mekaar se binneste in. Hy roep verlaas deur die venster: “Ek sal in die toekoms maar my toiletgoedjies daar by julle kom koop, net om te kyk of jy jou gedra.” Dit gaan met ’n grinnik gepaard, maar onderliggend is erns. Waarsku hy haar? Teen haar gevoel vir Dawid? Ten spyte van sy rouheid in die amp, lê hy reeds ’n merkwaardige opmerksaamheid aan die dag. Hoe kan hy dink dat sy vrou, enige vrou, hom ooit sal oorskadu? Met sy minsaamheid sal hy harte wen, indien sy informele aanslag dalk teen hom tel.

Sy staan alleen in die wit maanlig, met die aandgeur van landerye en grootvoor, die ligte geblêr van Makkie, die ruising van die rivier ver agter, die geselsbrom van Japie naderby.

Natuurlik sal sy haar teenoor Dawid gedra. Sy doen dit trouens so stiptelik, dat sy stram in sy teenwoordigheid is. Sy, wat met ’n vreemde vanaand ’n hond uit ’n bos kon gesels. Sy doen tog niks verkeerds nie? As sy net in stilte liefhet en in stilte daaroor ly, vir wie doen sy kwaad aan? Jy kan mos nie jou gedagtes uithaal en ophang soos winkelgoed, emmers en strooihoede en fietsbinnebande, hoog waar dit niemand teen die kop kan klap nie?

In die kombuisvoorhuis is Japie aan ’t orakel oor die aandnuus en die Duraans se huisnuus.

“Nou jaag die Ingelse vroutjie van Dawid jou nie meer weg nie, Japie?” vis Tanna.

“Nee, Tanna, Ma sê mos sy boer soos ’n meelmot net in die diepte van die huis. Sy is glo nie tevrede dat oom Daan en tant Rykie net dalk in die dorp gaan bly nie, sy wil eerder hê hulle moet see toe trek, dan kan sy hierso oorvat en regeer.”

Vertel nog, wil Bina pleit, maar in plaas daarvan snou sy hom toe: “Maar jy skinder mos nou lekker, Japie.” Sy begin met haar rug na die ander die skottelgoed was.

“Sê ek mos ook,” brom oom Kola wat met sy bene gekruis en weggedraai sit, asof Japie per abuis aan hom kan raak. Hy mompel iets wat soos “windlawaai” klink en vervolg hardop: “As jy ’n ordentlike geselskap wil voer, loop leer by die nuwe predikantjie.”

“Het oom Kola hom dan nie ook weggejaag nie?” vra Japie. “Ek sien hy lyk so bekaf.”

“Is jy besimpeld? Hy het my niks aangedoen nie. Hy weet ook wanneer om sy ry te kry.”

“O,” sê Japie teleurgesteld. “Ek het gehoop oom lees hom die leviete voor oor sy manier van aantrek, Ma sê hoe kan mens respek vir die gebod hê as die gesalfde in skaapsklere rondloop.”

“Raak jy nie nou deurmekaar met die wolf in skaapsklere nie?” vra Bina oor haar skouer.

“Ja, nog reg, dis wat Ma gesê het, wolf in skaapsklere.”

Oom Kola is nou behoorlik opgestook. “Nou sê jy vir jou ma, Kola Estruis sê as sy nie haar bek van die man af hou nie, sal ek sorg dat sy voor die kerkraad verskyn. Hulle kan haar onder sensuur sit.”

Japie skrik hom oor ’n mik: “Nee, heiden jissie oom Kola, los tog maar liewers, dalk het Ma ook nie heeltemal presies so gesê nie. Dit het hoeka niks met ons te doen nie. As hy by Bina wil kom kuier, is dit sy saak, hoewel ek eerste by haar gekuier het.”

Voordat Bina haar kan keer, loop sy Japie met ’n koppie vol skottelgoedwater storm en smyt dit in sy gesig uit.

Hy runnik van pret. “Heiden jissie, Bina, jy moet sê as jy speletjies wil speel, dan karnuffel ek jou so gou soos nou.”

Bina weet een ding: as daar nie iets gedoen word nie, gaan sy in trane uitbars. Bitterlike trane, ’n rivier vol. Oom Kola kom dit dalk ook agter, want hy staan op, vat vir Japie aan die arm en help hom onsag by die oop deur uit. “Oom, ek laat my darem nie uitgooi nie, oom. Ek belowe oom, hiervan sal Ma én oom Daan én die dominee hoor,” dreig Japie met al die oortuiging van sy ongeoefende breinkrag.

“Nou toe, voor die paadjie vol duwweltjies word.” En, aan die protesterende Tanna: “Stil, ou Antjie, of moet ek jou ook op die werf uitgooi?”

Haar mond gaan oop en toe. Waarskynlik wil sy hom daaraan herinner dat dit eintlik haar huis is, maar dit kan ook wees dat sy twyfel. Oom Kola kom tot by Bina: “Los, ou Bienkels, ek sal. Gaan jy kamer toe. Loop lees jou boek, dis ’n lekker mooi dik boek, ek het gesien.”

Vir die eerste keer in sy lewe was Kola Esterhuysen skottelgoed, sy lomp hande die ene knokkels en kneukels.

“Nie so nie, Kool Estruis, só,” kom Tanna hom reghelp. “Mens maak nie die vadoek bondeltjie nie. Nou het Binatjie nie eers gehoor van die hond waarvan Japie vertel het, wat glo ’n medalje gekry het nie, en dit na sy dood. Hy sê Miemie sê hulle kon dit liewers gegee het vir die mense sonder kos.”

“Moet hulle dan nou die medalje vreet, of die dooie hond?”

Snaaks genoeg troos die bekende geskoor vir Bina beter en dieper as wat die trane sou kon doen, en sy lê op haar bed en lees aan die boeiende verhaal van Ilona, die meisie wat langs die spoor grootgeword en later met ’n prins getrou het, maar met ’n tragiese faset in sy intieme lewe.

Die bed is nie meer so broeiend soos in hoogsomer nie. Buiteslaap is nie meer nodig nie, die seiltjies sal pakkamer toe gaan en die matrasse en kateltjies ook, regop teen die growwe muur tot volgende somer. Hoe intens het Elzar belang gestel in die drie “spookbedjies” met die wit seil oor. Hoe het hy gewens dat hy dit ook kan doen. Hulle het in enkele minute meer gesels as wat sy woordeliks kan herroep.

Maar sy onthou dat hy gevra het of sy vir hom ’n stukkie wysheid het. Hy het gesê in ’n goeie boek is daar altyd iets wat op die gewone lewe van toepassing gemaak kan word. Hy het sy kommer uitgestort oor ’n toekoms saam met sy aanstaande. Maar hy is tog seker ook lief vir haar. Dalk moet sy hierdie stukkie wysheid van Ilona aan hom oordra: “You didn’t fight the waves that carried you.” Hy moet hom oorgee aan die golwe wat hom voortvoer. En sy moet ook.

Maar as sy ophou veg teen die golwe, wat kan nie dan alles gebeur nie? Tussen haar en Dawid? Sy sou ophou om hom uit haar gedagtes te wil werk. Dit help in elk geval nie. Hoe meer sy probeer ophou dink aan hom, hoe meer dink sy aan hom.

Dalk moet sy eerder aan Elzar dink. Dis veiliger, gemoedeliker. Want dit sal tog nooit verder as gesels gaan nie. Hulle lewe in aparte wêrelde. Maar hulle deel die raakpunt van ’n groot lewensprobleem: sy met haar geheime liefde, hy met sy voortreflike liefde.

Môre sal sy weer winkel toe gaan, want die tyd is nog nie ryp om daar pad te gee nie. Sy sal haar geheime gedagtes diep wegsluit. Sy sal met mense praat, hulle vriendelik oor die weg help. Heel eerste sal Dawid oopsluit. Hy dra ’n oopnekhemp en sy hare wil nie plat lê by die kroontjie nie. As sy skoenveter losgaan, trap hy op ’n paraffienblik en maak dit weer vas. As hy uitreken, krap hy teen sy kop met die agterkant van die potlood. As hy ingedagte is, staan hy en uitkyk na die vaal bult waarteen die groot verandahuis staan. As hy vir Molly sien aankom, byt hy so effens aan die binnekant van sy lip. As hy sy kind optel, hou hy haar met die een arm vas en vee met sy ander hand oor haar gesiggie, ingeval daar klammigheid is.

Sy weet alles wat Dawid doen, sonder om te kyk.

As oom Daan uit die winkel gaan, is sy alleen met Dawid, en dit is vir haar genoeg, al staan hy net ’n entjie van haar af en gesels met sy een hand in die sy en die ander hand op die toonbank. Hy het nooit weer aan haar hand probeer raak nie, al moet hy haar meermale met ’n nuwe blik of sak of kartonboks help.

Sy wil niks meer hê nie, want sy is nie op meer geregtig nie. Maar wat as genoeg nie meer genoeg is nie? Kan ’n mens maar altyd tevrede bly met sulke ou krummeltjies?

Is Elzar Enslin se probleem groter as hare, of kleiner? Hy het lief en sy liefde word beantwoord. Is dit nie die belangrikste nie?

Louisa du Toit Omnibus 10

Подняться наверх