Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit - Страница 6
3
ОглавлениеJapie is in die sewende hemel.
Dae aaneen kan hy nie uitgepraat raak oor die middag toe Bina vermis was nie. Hy het van sy werk af gekom en dit het verskriklik gereën, so erg dat hy nie die lug van die aarde kon onderskei nie. Toe dog hy by homself: Vandag is die dag wat hy vir Bina O’Connell by die werk moet gaan oplaai, reg voor oom Daan se winkel, anders loop sy in die reën en kry bronkaaitis. Nie net Bina sou dankbaar wees nie, maar ook oom Kola en Tanna, omdat hy die enigste een was wat verder gedink het as wat sy neus lank is.
As dit nie vas dat sy “whaaipers” vasgesteek het nie, sou hy ook betyds gewees het. Maar toe moet hy eers in die verskriklike wolkbreuk uitklim en die goed met die hand aanhelp. Toe hy eindelik by oom Daan se winkel kom, staan alles morsdood verlate. “En ek jaag oor die rant dat die water in walle onder my wiele uit spat, want ek reken toe so, ek sal jou mos halfpad kry, Bina. Tot by julle huis, geen teken nie, toe moet ek maar eers omdraai huis toe anders bekommer my ma haar morsdood oor my, en ek moet ook die koei melk en alles.”
Japie se storie groei aand na aand as hy kom kuier. Sy heldedaad word so groot dat dit blyk hy het Bina van verdrinking uit die rivier gered. Hoe dit moontlik sou wees, met die rivier ’n kilometer verder en totaal uit haar pad en nie eers in vloed nie maar laag op die sandbanke, blyk nie duidelik nie. Japie moet sy eie nuus fabriseer noudat hy as gevolg van Dawid se vrou nie meer draadloosnuus by die Duraans kan luister nie.
Op die ou end vererg oom Kola hom bloedig. “Sal jy nou ophou twak praat, Kleinveld. As jy soos ’n simpel ding wil rondjaag met jou hoenderstellasie-mouterding, moenie maak of dit van goedgeid of slimgeid was nie. Bina, gee sy koffie dat hy sy koers kan kry.”
Japie runnik. “Oom Kola is weer vol dingetjies vanaand. Ek weet nie hoe Tanna dit met hom uithou nie.”
“Sy hou nie met my uit nie, dis ek wat met haar uithou.”
En aanmekaar is oom Kola en Tanna weer, sodat Bina die vrede moet probeer lap en stop. “Die water kook. Bietjie lekker koffietjies vir almal?” Sy hou haar opgeruimd, al word haar hartseer elke dag groter. Want Dawid is nou voltyds in die winkel en oom Daan wys vir hom die boeke en alles. Hulle werk in byna grimmige stilte, sonder Dawid se gewone opgeruimde lagstem, sodat Bina wonder wat presies aangaan.
Sou Japie dalk iets weet? Wat hy nie op die stasie hoor nie, hoor hy by sy ma. Terwyl die ketel op die primus sing en sy die gevlekte linnekoffiesak op die erdeketel pas om koffie uit die blik af te meet, spits sy haar ore vir wat hy nog kan weet. Dit gaan oor die ontvangs wat vir die nuwe dominee gereël word. Die jong een wat nog nat agter die ore is, en sonder ’n vrou wat die werk kan doen. “Ma sê hoe sal so ’n snuiter die rusies in die gemeente kan oplos en sal hy nou die Skrif kan uitlê?”
“My heiden, Japie,” sê Bina vanuit die kleinkombuis, “dis waarvoor hy jare lank geleer het. Hy ken die Skrif.”
“Maar wat van die dwarstrekkery?” troef Japie haar. “Kyk nou soos in oom Daan se huis, ta’ Rykie en Dawid se vrou sit g’n langs een vuur nie en as hulle nou hier kom intrek …”
“Dan wat?” vra oom Kola uitdagend. “Hou jou neus uit anderman se sake.”
Bina se hande staan oomblikke lank stil. Is daar vir haar nooit en nêrens wegkomkans van Dawid Duraan nie, moet sy die res van haar lewe slyt om haar ore stomp te luister vir ’n woordjie oor hom?
Tanna se nuuskierigheid oor die nuwe dominee se ontvangs is nie bevredig, met oom Kola se inmengery nie. Sy wil self die saak by Japie se ma gaan uithoor, en Bina moet saamgaan, laterig Sondagmiddag. Bina willig in, nie dat sy ’n keuse het nie. Sy gaan saam dat Tanna nie alleen hoef te stap nie, maar ook uit ’n onblusbare drang om tog dalk via tant Miemie Kleinveld meer oor die Duraans se sake te hoor. Soos dit ’n sakeman betaam, hou oom Daan sy kaarte dig teen sy bors. Indien daar sprake is van Dawid se intrede, lek geen woordjie daaroor uit nie. Dis eerder ’n atmosfeer wat in die winkel rondhang.
Miemie Kleinveld is effens hardhorend en praat in ’n raserige stem, asof dit haar hoorders is wat doof is. Sy klim ook amper by jou mond in soos sy luister, en praat dan sommer die laaste stukkie van elke sin klaar voor jy self daarby kan uitkom. Daarby is sy baie lief om elkeen wat kom of gaan, met ’n dubbele druksoen te groet. Dis een van die redes waarom oom Kola nooit loswerk hier wou doen, selfs toe haar man nog gelewe het nie. Hy haal vir Salomo aan, dat die soene van die vyand oorvloedig is.
Japie as werksman is nie veel werd nie, daarom behartig haar ouer seun alles, maar hy woon nie self hier nie. Die huis het ook nie vir nog ’n gesin plek nie. Dis feitlik net een lang rousteenvertrek met ’n slaap-, sit- en kookdeel, nogal gesellig deurmekaar hoewel nie te skoon nie. Japie het die voerkamer vir hom ingerig. Maar daar is ’n geil druiweprieel wat die woonplek se voorkant versag en wat nou, met die aanvang van die herfs, pragtig verkleur. Die gevalle blare wat so in die Sondagmiddagwindjie ritsel, gee aan Bina ’n hartsverlore gevoel van eensaamheid.
“Ek sê, Miemie, Binatjie het so aangehou dat ons vanmiddag ’n bietjie …”
“ … ’n bietjie moet oorkom,” raaspraat tant Miemie. “Dis reg ook, sy is so erg oor Japie.” Sy vat vir Tanna vas vir die dubbele druksoen. Bina sien van agter net hoe Tanna soos ’n wipstertmier spook om los te kom.
Dit duur glad nie lank voor die gepratery oor die Duraans gaan nie. “Heidendom, Anna, Japie vertel my dan Dawid se ou vroutjie het hom verwilder toe hy net ewe onskuldig wil gaan sit en draadloos luister. Hy gaan mos elke aand en jy weet hoe erg Daan en Rykie oor hom is.”
Japie wat ook in die geselskap sit, straal van trots hieroor, nadat hy eers uit sy ma se mond moes verneem hoe erg Bina oor hom is. Almal weet tog die Duraans duld hom net omdat hulle self sulke ordentlike mense is, weet Bina egter.
Tant Miemie raas voort: “Jy weet, Anna, ek was nou die dag daar, en Rykie sê niks, maar ek kan sien trane is haar brood. Om te dink haar deur het vir die merrie oopgestaan. Hoe lank kuier hulle nou al, gaan dit nie ’n maand se koers toe nie? En Rykie moet haar van kop tot tone bedien. Japie sê sy is nog half-Ingels ook.”
Sy is net so min Engels soos ek, dink Bina, maar sit ’n wag voor haar mond. Aans hol tant Miemie weer rond en vertel Bina O’Connell het dit en dat gesê.
Sy gooi haar kop terug teen die growwe binnepleistering, laat haar oë gedagteloos dwaal oor die buffet waarin stowwerige glase en porselein uitgestal is, die regop houtstoele met leersitte wat gebars is van warm somers en ouderdom. Sy laat stemme rondom haar gons, die twee tantes s’n en ook dié van Japie wat haar afgekeer het maar tevrede is om net na homself te luister. Dat Bina half verveeld en byna aan die slaap is, kwel hom nie.
“Hoor dan hier, Binatjie …”
“Tanna …” Beskimmeld skrik sy op uit die dromende miserabelheid.
“Tant Miemie vra mos of ek en jy saam met hulle na die nuwe domineetjie …”
“… se ontvangs wil gaan,” voltooi Miemie.
Nou word daar al sommer in verkleinvorm van hom gepraat, dink Bina en kry hom by voorbaat jammer. Ja, sy wil graag saam, maar nie met Japie se vervoer en in sy geselskap nie, dan lyk dit of hulle danig is. Om saam met oom Daan Durand-hulle te ry sal beter wees, maar sy sal dit nie nou waag nie; tensy Dawid-hulle teen daardie tyd terug Kaap toe is, wat nie waarskynlik lyk nie.
“En oom Kola dan?” soek sy verskoning. Dalk gebeur die wonderwerk dat oom Kola vir haar en Tanna vat, al sit hy dan self nie sy voet in die kerk nie. As sy ou Bienkels hom baie mooi vra, wie weet? Sy moet net haar kans afwag.
“Maar Kola Estruis is mos verheidens, hoe sal hy dan gaan,” raaspraat tant Miemie, wat intussen lou koffie geskink het in koppies wat ’n permanente vuilerigheid by die drinkrandjie het. Bina het dus besluit om haar koppie in die linkerhand te vat, dit maak ’n verskil aangesien die meeste koffiedrinkers regs is.
Dit help tog nie om oom Kola te verdedig nie, want die hele wêreld hou hulle oor hom doof. Sy sê daarom net, hard en duidelik: “As hy ons nie vat nie, dan bly ons.”
Haar stem was so beslis, dat niemand haar weerspreek nie. Die geselskap loop ook sommer dood. Hulle ondergaan weer ’n dubbele druksoen van tant Miemie, hoewel Bina sorg dat sy ver genoeg staan om nie nog vasgedruk te word nie. Sy en Tanna loop terug, deur die vrugtebome en al langs die leivoorwalle, totdat hulle die bekende voetpad teen die rantjie uit vat.
Om te dink die huisie waarin sy gebore is, staan nie eers meer nie. Daar is landerye bo-oor gemaak. Bina weet nie of haar pa grond op sy naam gehad en dalk verkoop het nie. Sy weet hy het ’n ruk op die dorp self gewerk. Verder weet sy niks van hom af nie. Sy het geen raad met die gevoelens van weemoed en verlatenheid nie. Hulle kry ’n blik op die Duraans se huis op die bult, met die bakkie wat voor die agterdeur staan.
“Ek het so lank laas vir Rykie gesien,” skimp Tanna.
“Ek moet vir Makkie gaan melk, Tanna. Die son sak. En oom Kola is alleen.” Natuurlik wil Tanna net haar nuuskierigheid oor die tweedrag in die Duraans se huis gaan bevredig. Sy self wil liewer tuiskom, sodat sy haar voorkop teen Makkie se warm lies kan druk terwyl sy melk. Versigtig, sodat sy nie bles raak soos die outydse melkmeisies nie. Want sy wil nog die losserige, krullerige kuif oor haar voorkop hê wanneer sy haar hare in ’n string bind. Sy het gesien dat Dawid na haar hare kyk. Sy het gesien dat Molly haar hare moet pluis om na iets te lyk.
Sy het gesien … o, sy het gesien …
Van alles wat sy gesien het, hoe min ook in haar eenkant soort lewe, is daar niks wat sy gesien het wat sy begeer nie.
Behalwe, natuurlik, vir Dawid. Dawid, wat praatlaggend en bedrywig pakkies suiker en meel opmaak en die potlood bo sy oor afhaal om op te skryf.
Maar hoe lank en verlate ’n Sondag ook is, die Maandag breek altyd weer aan. Toe hierdie een aanbreek, is Dawid nie so lughartig soos gewoonlik nie. Hy en sy pa is albei aan die stil kant. Molly kom glad nie met Zonaline winkel toe nie. Sy is glo daarteen dat die kind se naam tot Lientjie afgekort word. “Mutilated”, het sy gesê en uitdagend na Bina gekyk, oortuig dat dié nie sal weet wat die woord beteken nie.
Terwyl Bina in die stoorkamer werk om ’n sak meel oop te maak, kan sy nie anders as om te hoor hoe pa en seun in haar afwesigheid begin praat nie. Of gee hulle nie eers om dat sy hoor nie? Tel sy so min? Die middeldeur staan immers oop.
Oom Daan gebruik sinsnedes soos: “As jy dan nou rêrig wil oorvat …”; “Jy moet net onthou …”; “In so ’n geval moet jy dan …”
Tot Dawid uiteindelik sê: “Aag, ek weet tog nie, Pa.”
“Die wat sy hand aan die ploeg geslaan het, kyk nie om nie. Jy het dan hierheen gekom met die intensie …” Bina kan in haar verbeelding sien hoe oom Daan se brilglase blink as hy opkyk.
“Ek het gedink ek kan, met of sonder Molly, maar …”
“Van ‘sonder’ moet jy maar vergeet. Ek sal dit nie toelaat nie. Sy is jou vrou, en jy bly of loop saam met haar. En wat haar betref, jy is haar man, en sy sal by jou staan.” Amper dreigend, die “sal”.
“Wat sal Pa tog daaraan kan doen? Dis soos om ’n perd by die water te bring …”
“Eerder ’n bok.” Vir die eerste keer is oom Daan se wrewel hoorbaar. “’n Jong bokooi wat net haar koers wil loop, met die kop ver vooruit.”
Stilte, terwyl Bina sukkel om die deurgevlegte toutjie van die vol meelsak los te ryg. Jy moet net die regte slag hê, aan die regte los puntjie trek, anders knoop jy dit net vaster. Dis waarlik soos haar eie lewe op die oomblik. Sy luister, omdat sy nie wil luister nie.
“Sy sal maar net moet leer om hier te bly. Jou susters het welaf mans wat nie in kleinbesigheid belangstel nie. En wat jou betref, jy is uit werk uit. Jy kan tog nie begin rondval en swerwe net omdat sy nie hier wil bly nie.”
“Wees Pa nou eerlik, sien julle regtig kans vir saam in een huis?”
“As dit moet, sal ons in die dorp gaan bly.”
“Nee, Pa, dan eerder ons.”
Dit klink of hulle dooiepunt bereik het, of dalk besef het dat Bina alles kan hoor. Dawid kom die stoorkamer binne. Nou lagpraat hy weer op sy ou manier: “Is dit nog altyd jy en die toutjie? Dis eintlik baie eenvoudig. Ek het eenkeer tyd gevat en dit uitgewerk. Moet ek jou wys?”
Sy bruin hande sluit vas oor haar vroetelende wit vingers. Sy trek haar hande weg. “Jy kan my maar net wys, Dawid, ek is nie onnosel nie.”
Hy begryp presies wat sy bedoel. “Ekskuus, ek sal nie weer nie.” Handig kry hy die regte toutjie uit die lus, en die stiksel zirts gladweg oop. Hy mompel iets van: “… ook met ’n vrou soos myne …”
“Jy wou darem met haar trou, Dawid.”
“Wou?” lag hy kort. “Ek moes.”
“En dit was seker die wind se skuld,” merk sy bitsig op.
“Jy is ook nie op jou mond geval nie.”
“Nee, Dawid Duraan.”
Die Maandagkos is gewoonlik oorskiet van Sondag, brokkies vleis en aartappel wat Tanna nogal lekker in vlak vetjies stadig in ’n pan op die stoof bruin braai. Met mieliegruis, en ’n gesnyde tamatie van die opslagstoel op die voorwal. Oom Kola se groentebedding gaan bietjie af noudat die najaar kom. Bina se bord is eenkant op die stoof, met nog ’n bord bo-op omgekeer. Sy is effens laat, en oom Kola en Tanna is reeds in hulle kamers. Selfs die bedrywige oom Kola rus in die hitte van hoogmiddag. Dalk het sy aspris getalm, sodat hulle nie op haar gesig kan lees wat sy dink nie.
Sy doen haar bes, anders kla Tanna. Maar sy het ’n knop op die maag wat haar eetlus wegvat. Hoe vergeet sy Dawid se hande op hare? En alles wat hy en sy pa gepraat het?
Sy kyk moedeloos na haar belaaide bord op die geruite tafeldoekie. Sy eet al minder en word al maerder. Die rokke wat sy self maak met tant Rykie se hulp, of koop by die smous wat by oom Daan se winkel aandoen, of af en toe in die dorpswinkel, sit al hoe losser om haar middel. Sy kan dit met haar hand voor omvou. Sy sal die nate moet invat, of van Dawid vergeet en regkom.
Liewer laasgenoemde. Om die rokke te verwerk, sal beteken om erkenning aan haar ellende te gee, om toe te gee dat sy van geen ander metode weet om haar probleem die hoof te bied nie.
Dis reg, sy kan weggaan, heeltemal weg van die winkel af, vir goed padgee agter die toonbank uit, maar sal dit maak dat haar rokke weer pas?
Sy hoor ’n geskuifel uit oom Kola se kamer en sy deur gaan oop. Die klein kamers het geverfde plankdeure, met garetolle as knoppe. Hy kom stil op ’n stoel sit. Dis ongewoon, en sy weet nie wat om te dink nie.
“Hoekom eet jy nie,” sê hy, eerder as vra.
“Ek kry nie juis honger nie. Dis die hitte.”
“Dis hierdie stappery, sê ek.”
“Oom weet ek hou onder die bome langs. Daar is genoeg skaduwee.”
Hy swaai sy gekruisde been in die wye kakiebroekspyp. “Jy moet eet,” sê hy. En toe: “Jy moet die mannetjie vergeet, ou Bienkels.”
Sy skrik yslik, en tog ook nie. Het sy nie altyd vermoed hy is ’n wyse ou man wat alles raaksien, veral waar dit haar aangaan nie? “Oom Kola?”
“Ek sê, vergeet. Die een wat sy nek deur die doringdraad steek, kan vassit. En seerkry.”
“Ek bly aan die regte kant, oom.”
“Maar sal hy?”
“Wil oom sê ek moet vlug?”
“Nee, hoe sal ek nou? Ek wil maar net sê, die lewe is langer as ’n dag. Alles verander. Wag jy maar net.”
“Op wat, oom?”
“Hoe moet ek weet? Ek weet maar net wat ek weet. En dis dat die hart vasgemaak kan word. Soos ’n boklam. En dan, later, gaan dit weer beter. Nooit heeltemal oor nie, hoor jy, maar beter.”
Toe weet sy dat hy ook iemand liefgehad, en verloor het. Hy, die sogenaamde ou nukkebol. Sy gee hom haar soetste glimlag, want sy weet dit kon hom altyd vermurwe. “Dankie, oom. Gaan rus nou maar weer.”
Toe hy weg is, gaan Tanna se deur oop en haar kop met die kastrolletjie-geknipte hare kom te voorskyn. “Wat het ou Kool dan gesê, Binatjie.”
“Sommer, Tanna.”
Snaaks genoeg, is Tanna doodtevrede. Sy skiet net een flou skoot af, bedoel om ook deur hom gehoor te word: “Dis ook oor hy so baie nonsens praat dat hy nooit tot sterwe sal kom nie.”
Oom Kola het gehoor, en roep terug: “Sê jy, ou Antjie, wat met een poot in die graf staan.”
Wat nie waar is nie, want hulle is eintlik albei fris en gesond en nog nie te oud nie. Maar dis die regte troos. Bina voel stukke beter toe sy ’n rukkie op haar warm bed gaan lê voor sy terug winkel toe gaan.