Читать книгу Monument - Maretha Maartens - Страница 12
Hoofstuk 8
ОглавлениеAan die onderpunt van die trap gaan Genene staan. “Jou ma het vir my gesê dié deel van die huis was nog in aanbou toe jy kom groet het.”
Toe ek en sy nie by mekaar kon uitkom nie, albei verdwaal in die nag, Lukas Lubbe op pad terug van China af. Dit was hoogsomer; niks het daardie nag afgekoel nie. In die ongepleisterde muur agter die trap was die drie vensteropeninge nog ruitloos, ’n geswolle volmaan dan in die een, dan in die ander geraam. Van raam tot raam het die volmaan gedryf, watergevulde ballon in die liglose waters waarin grotduikers duik.
In hulle slaapkamer, wat ná die aanbou die gastekamer sou word, was die uitstalling van swart Battersby-hoed en vrouetoerygskoene nog op die rak onder die muurgemonteerde platskermtelevisiestel. In die nuwe draai van die gang, ’n ou stoorkamer glo platgeslaan, het ’n kruiwa gestaan, sy skewe bak met nat Vrydagmiddag-dagha onderin. Die werkers het hulle oorpakke oor die handvatsels gelos; hulle reuk het saam agtergebly. Die troffels, waterpas, koevoet en ’n dryfhamer teen die kruiwawiel het “naweek” gespel, die geel BB-twaksakkies en Peter Stuyvesant-sigaretboksies “veertig uur werkweek met armoedeverligting”.
Margo kon die vraag nie keer nie. “Wat sê hy daarvan dat Ma ouma Grot se skoene, die Strydom-hoed, die doilies en die grotpot saamgebring en hier kom opstel het?”
“Opstel” was die opsetlike woord wat sy daardie aand gebruik het. Opstel, soos ’n verklaring, die uitpak van identiteit. Nie uitstal nie, opstel. As ’n vrou ’n uitstalling skep, beoog sy om wortels in te slaan.
Geniet wat jy kan solank jy kan, Lukas Lubbe.
Ma Chris het gedissiplineerd geswyg, selfbeheersing tot in haar pupille. Sê wat jy vannag wil sê, Margo, jy is op pad Israel toe. As ek niks sê nie, is daar niks om later weer te probeer regstel nie, niks waaroor ek myself verder kan verwyt nie. Maar om te sê ek val van die een man na die ander, onversadigbaar …
Sê niks, dan is daar niks.
Só kan ’n mens dan met niks uit jou ma se huis vertrek: geen begrip, geen heling, geen openbaring van iets in jou ma of iets goeds wat in jouself oorgebly het nie.
Sy en Ma Chris was saam in hulle eie Boesmansgrot, daardie naweek in 2007. Hulle het nie geduik nie. Spelonkduik is immers die gevaarlikste ekstreme sportsoort, ’n reeks stappe wat afstuur op die finale daad: om af te gaan in dieptes waarin die moontlikheid van redding uitgeskakel is. Om dalk, soos Adriaan destyds, te weet die liggaam van ’n duiker wat vroeër daar ingegaan het, is nog daar onder, dalk op 260, dalk op 271 meter, die droombestemming.
Adriaan het dit twee weke voor sy matriekeksamen reggekry om saam met Alf Jones, vir wie Oumbecca geen ooghare gehad het nie, in Boesmansgrot by Daniëlskuil te gaan duik. Natuurlik het hy oor Alf gelieg. ’n Paar van ons pelle gaan saam blok, Oumbecca, ek en Tollies en Louis, op Louis-hulle se plaas naby Kuruman. Tollies is ’n boffin met Biologie, ek kan doen met ’n naweek saam met ’n boffin.
Alf Jones het nie bestaan nie, sy naam is nooit genoem nie.
“Ek wil jou nie weer by daardie man sien nie, Adriaan, hy’s nie jou portuur of ons soort nie. En jy, Margo: as hulle oë so na aan mekaar sit en hulle in frokke in plaas van oorpakke op die steiers staan, moet jy nie eens opkyk nie, al val hulle ook uit die lug van die steiers af. Op daardie soort bouers se voorkoppe staan daar ’n M geskryf – M vir moeilikheid.”
Op elf kon sy begin raai watter soort moeilikheid. Alf Jones het vir haar van die steiers by die nuwe huis in Groenstraat gefluit, wolwefluite, die eerste keer dat sy dit in Petrusburg gehoor het, nogal vir háár.
Adriaan het in Boesmansgrot gaan duik. Hy het die keuse gemaak om sonder die moontlikheid van redding, sonder suurstof en heeltemal alleen uit die lig uit in die donker dieptes af te gaan.
“Pa dink mos ek gaan ’n washout word, Margo. Daai Maandagoggend op pad dorp toe, toe hy en Ma Chris gefight het, het hy gesê ek is gebore om ’n washout te wees, oor ’n flippen rugby jersey wat weggeraak het!”
Daarby was Adriaan ’n testosteroonfabriek.
Genene beduie hulle moet boontoe gaan. Margo raak aan die relingstut van die trapreling. “Ek het nog nooit dié soort hout gesien nie.”
“Afrika-slanghout. Die res van die trapreling is eikehout.”
“Dis ’n ongelooflike hout.”
“Jou ma het kort gelede nog vir my gesê ’n vrou wil elke dag aan iets raak wat so mooi is dat jou hart in ’n soort rus inskop. En dat sy so skuldig gevoel het om by Lukas aan te hou oor ’n relingstut van slanghout totdat hy bes gegee het. But a thing of beauty …”
Genene praat sagter: “As hulle tog maar ’n loper op die trap gelê het. Hout kan onmoontlik glad wees. Net een stortsel uit ’n glas water kan die begin van ’n tragedie wees.”
Hier het Lukas Lubbe se kleinseun dan op Ma Chris afgekom.
“Nee, niemand kan sê hoe lank sy daar gelê het nie,” het Cheri oor die telefoon gesê. “Ek is jammer dis ek wat jou oor so iets moet bel, Margo. Adriaan is weg vir die week, dis dié dat ek bel. Gelukkig het hy jou telefoonnommer hier op die telefoongids by die telefoon geskryf, anders het ek nie geweet hoe om by jou uit te kom nie.”
Toe Margo stilbly, het Cheri voortgegaan met die slegte nuus.
“Sy’s baie deurmekaar, die Genene-vrou sê sy het ernstige breinbeserings. En natuurlik die verlamming in haar onderlyf, hulle weet nie of dit permanent is nie. Ek weet nie van die rugmurg nie, sy het net van die rugwerwels gesê. Jou ma is uit ICU, ek dink ek moet môre ry en gaan kyk wat aangaan. Ek het gebel, maar hulle het gesê hulle gee nie inligting aan die publiek nie. Die Genene-vrou sê jou ma wil net huis toe gaan, sy het vir Evangeline, sy sal beter af wees by haar huis.”
Eindelik kon Margo ’n paar verwarde vrae uitkry.
“Ek weet regtig nie. Die Genene-vrou sê sy het nie gesond geëet nie, sommer net koffie en brood. Sy het blackouts gekry vandat Lukas Lubbe dood is. En sy het baie gestres oor misdaad en wat in die land aangaan en sy so alleen. Die week voor sy geval het, het sy glo vir Genene gesê haar bloeddruk is 90 op 52, wat hel laag is.”
Hier het Ma Chris gelê. Kom huis toe, Margo. Ek het my rug gebreek, ek sal jou nooit weer so kan teleurstel nie.