Читать книгу Monument - Maretha Maartens - Страница 7
Hoofstuk 3
ОглавлениеOom Stander het alleen kerk toe gekom. Verdor soos ’n blaar, onversteurbaar en sonder haas het hy Sondag na Sondag die artikels van die Heidelbergse kategismus met die belydenisklas deurgewerk. Hy het na die hiernamaals gehunker en dit in die woorde van Paulus aan die Filippense vir hulle gesê: “Ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.”
Hy kon nie heengaan nie, want sy vrou was swart soos haar huiswerker van chroniese nierversaking. Hy moes haar nog eers deursien.
Jare later, toe Margo ’n boek oor El Greco in die Gericke-biblioteek op Stellenbosch deurblaai, het sy oom Stander daarin aangetref, sy ouderlingsbaadjie verruil vir die geelbruin skouerkleed van Simon Petrus in St. Peter in Penitence, die sleutels van die Koninkryk by hom.
“Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe, belydenisklas? Hoor wat sê die Heidelbergse kategismus: ‘My enigste troos is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.’ ”
Ek voel geen troos nie, oom Stander.
“Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.”
Vir Ma Chris ook, oom Stander?
“Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.”
Die verwoesting wat Ma Chris en Lukas Lubbe aangerig het, tot my saligheid? Die verwoesting wat my pa aangerig het, tot ons almal se heil?
“Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”
Ek is dood, oom Stander. En onoortuigbaar. Op sestien het ek oom só sit en kyk, so seker van alles, so ’n deurwinterde, God-deurligte mens. Nou is ek ook verwoes, derdegraadse brandwonde, ontploffing in my gesig, nog een.
Ek wil landuit, maar nie saam met die swerms nie. Ek wil gaan dwaal waar niemand my ken nie.