Читать книгу Monument - Maretha Maartens - Страница 13
Hoofstuk 9
ОглавлениеDie haak vir die katetersak sit nog onder die matras. Genene het ’n handjievol lyfpoeier in die lug geblaas voor sy uit is. “Jy en ek is mos laventelmeisies, Christina.”
Margo bly ongemaklik staan. Was dit nie vir die swart om Ma Chris se oë en die kaalgeskeerde vierkant op haar kop nie – so ’n verrassend klein toegangsopening na die bloeding en die brein – sou sy vir haar gesê het: “Ma, jy lyk nes ’n Nasa-ruimtevaarder. En jou nekstut lyk ongemakliker as die harnas om jou lyf.”
Op ses het Diederick eendag verveeld aan Oumbecca se porseleinpoppe gekarring. Die een wat van die boonste rak afgeval het, het só gelyk. Oumbecca het dit met klere en al in ’n swartsak gegooi. As jy eendag ’n dogtertjie het, Margo, laat ek maar ’n ander een vir jou maak.
“Hi, Ma.”
Sy maak haar regterhand oop en toe, oop en toe, die vuis elke keer kneukelwit gebal. Kantpaadjie net soos altyd, maar die haarwortels is asgrys. Die perlemoennaellak aan haar toonnaels het begin afskilfer, maar haar gesig is gegrimeer.
“Waar is Michael?”
“Genene se man het hom by hom in die sitkamer gehad.”
“En Genene?”
“Sy het gesê daar’s ’n vergadering by haar huis, hulle is huis toe. Onthou Ma, sy het Ma se hakskene ingesmeer.”
“Hoekom het sy dan nie gegroet nie?”
Haar spraak is aangetas. Sy praat soos wat haar kinders nooit toegelaat is om te praat nie.
“Sy hét gegroet, Ma. Sy’t nog gesê oom Piet het die Sondagmiddag-vaakheid oor hom, hy gaan dit nie tot aan die einde van die vergadering maak nie.”
“Oor die plaasmoorde?”
“Hoe bedoel Ma?”
“Ons was by my pa se graf gewees.”
“Wie, Ma?”
“Hoekom kan jy nie onthou nie? Ek en Oumbecca, dis die eerste wat ek van my pa gesien het, 6th South African Armoured Division Cemetery by Castiglione dei Pepoli.”
Sy vat haar ma se hand, maar dis soos om ’n budjie te probeer vashou. Haar ma se vuis skop in haar handpalm.
“Die meeste kinders doen dit nie op dertien nie, jy sou nie.”
“Ma kyk my vlak.” Korswel is ook toenadering. Sy is so gekneus, hoe moes sy nie ná die val gelyk het nie?
“Daar was rose, Italië is vol rose, bloedrooi. Bill Hallman het nie gereis nie, dank die Vader.”
Margo weet nie wat om te sê nie. “Sy raak deur die blare,” het Cheri berig. “Al die ligte aan, maar niemand in die kamer nie. Sy het my uitgevra oor jou, of ek weet jy het ’n Jood vir ’n boyfriend, dieselfde soldaat wat op jou oumagrootjie Jacomina afgekom het toe sy meel en suiker uit die spens gaan haal het. Toe raak sy net weg, sy slaap verskriklik diep.”
En skielik kom sy terug, wawyd wakker. “So, watse vergadering is dit by Genene?”
“Sy het van ’n gesinskamp gepraat, Heart Cry of iets. Hulle hou vergadering daaroor by haar huis.”
“Wie?”
“Ma, ek ken mos nie die mense nie. Haar man het net na haar geroep en gesê hy sien Hugo se kar staan al voor hulle deur. ”
“Die kamp is in September. Jy kan gerus gaan, Johnie en Isabel is wonderlike mense. Of hoekom is jy hier?”
Haar tong sleep soos soms op ’n Vrydagaand in die tydgleuf tussen die gasontploffing en die liefde wat alles en almal uit hulle plekke en bane geruk het.
Toegegee: Was dit nie vir Lukas Lubbe nie, was Ma Chris ’n alkoholis. Hy was op presies die verkeerde tyd betyds gewees toe hy op Vrydag 5 April, die eerste dag van die Aartappel-en-Wildfees van 2002, die een geraamde skildery na die ander by die Landbousaal ingedra en teen die muur regs van Ma Chris se stalletjie kom neersit het.
“Dit sal my leer om alles in een rit te wil doen,” het hy gegrinnik. “Ryk vrouens ken nie iets soos tyd wanneer hulle skilderye kyk nie.”
Pa het van sy stoel af opgestaan. Ma het hom aan Lukas Lubbe voorgestel. “My man, Boet Diederichs.”
Lukas Lubbe het hand uitgesteek, onvoorbereid, maar met ’n soort ruwe grasie. “Aangenaam, Boet.” Hy het Pa in die oë gekyk, asof neusvleuels en simmetrie, ooglede en plastiekpienk brandwondvlekke nie saak maak nie. “Ook een van Petrusburg se groot aartappelboere?”
“Gemeng,” het Pa gesê. “Mielies, bees, aartappels. Dis harde wêreld dié, mens teen die natuur. Maar dis goeie grond. My vrou het begin dahlias kweek. Sy kan nie voorbly nie.”
Lukas Lubbe het verras gelyk. “Nou toe nou. My ma het altyd dahlias in haar tuin gehad. Maar deesdae sien ’n mens hulle mos nie meer nie.”
Margo het ook nadergestaan.
“Ons dogter, Margo,” het Ma haar aan hom voorgestel. “Sy’s in graad elf. Na regte behoort ek haar terug te stuur na haar ouma se huis dat sy by die boeke kan uitkom. Maar …”
“… sy wou nie die demonstrasie van plaaswerktuie misloop nie.”
Lukas Lubbe het volledig skadeloos gelyk. Lagkreukels om die oë, ’n maag soos al die mans in die saal, bleskop en beursie in die boudsak. “Of het Steve Hofmeyr en Dozi dalk toevallig al aangekom, Margo?”
Dit was etenstyd; hulle het saam potjiekos uit polistireenbakkies geëet. Ma Chris het drie bestel: een vir Pa en een vir die man van die skilderye. Die derde een het sy en Ma gedeel, te veel vir een mens.
“En wat sê julle jongklomp van die Aartappel-en-Wildfees, Margo?”
“Jis, oom, Petrusburg het so iets nodig.”
“Alles word teruggeploeg in die gemeenskap,” het Pa gesê. “Hier is baie bejaardes en die subsidies het opgedroog.” Hy het die pryse van die skilderye een vir een met die oë deurgegaan. “Jy kan vir jou ’n prent hier uitsoek, Christina.”
Ma se oë het wyd gerek. “As dit room reën …”
Vier jaar en sewe maande later sou sy verduidelik: “Ek was net so verskriklik eensaam in daardie tyd, Margo. So getap, altyd net rusie in die lug. En onredelikheid. Jou pa …ek het hom as onredelik beleef, ek erken dit was verkeerd. Hy het sy eie gesig gehaat, ek sou ook as dit ek was. Dit het hom moeilik gemaak. Ek het vasgekeer gevoel, was seker weerloos op ’n manier.”
Pa wou haar behou: haar lyf, haar hart.
Of nee: Pa wou haar lyf en hart terughê. Maar harde rusies en smeulende agterna-emosies oor die ongebreidelde wreedheid daarvan, het albei van hulle swak en lam gelaat. Teen die tyd dat Lukas Lubbe vir Ma Chris ’n toffieappel aangedra het – oop en bloot by haar aartappelkebab-stalletjie op 6 April 2002 in die Landbousaal regs van die ou rugbypaviljoen – het hulle nie geweet dat haar hart en lyf onbereikbaar geraak het nie. Hulle was gedreineer; hulle kon nie meer op hulle spore teruggaan nie. Daarom het hulle met elke verdere rusie net vorentoe beweeg, nader aan die ravyn.
Boonop het Ma in daardie tyd laat elke Vrydagaand reeds begin om twee rye spore te loop.