Читать книгу Monument - Maretha Maartens - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Dat beeste só in die rook kan bly lê, dink Margo.

Ná die paar uur onder haar broer en sy vrou se dak – hulle kinders opgeskote vlashaarvreemdelinge met Adriaan se loos oë en haar skoonsuster se ontwykende effensgeit – is Margo nie in die stemming vir foto’s neem nie. Maar daar is iets in die lug: die smeuling uit die bodem self waaroor sy en Yachin ure voor die nuus uit Suid-Afrika teen ’n graswal in die Gan Sacher-park lê en praat het. Of probeer praat het, want Eason was al tussen hulle in met snoet, pote en swaaiende stert, kwylend vir Yachin se draairoomys.

Sy besluit die toneel is tog ’n foto werd en trek van die pad af. Die bloekombos van haar grootwordjare skerm die dorp nog altyd van die buitewêreld af; hier is die bome nog nie afgemaai vir vuurmaakhout nie.

Suig die dorp se laerskoolkinders nog die bloekomsaaddoppies op uitsteektonge vas daar onder die bome?

Waarskynlik nie. Dit was die bos voor ’94.

Vry die hoërskoolkinders mekaar nog daar? Van liefde geen benul of sprake nie, geen rendezvous in die bos ooit iets meer as die verkenning van die een lyf en tong na die ander nie, die proe van die speeksel van verskillende monde.

Waarskynlik tóg. In sy jeug is die mens sugtende na singenot, het ouderling Stander een Sondagoggend gesê, ’n stelling wat ’n beroering onder die katkisante agter in die klaskamer ontketen het. ’n Moedswillige vraag het vanuit die agterbanke, die perdestalle, gekom: “Hoe oud was meneer toe dit opgehou het, meneer?”

Kraai Esterhuizen, Eagle se broer.

Margo was te broos; sy het nie omgekyk soos die ander meisies van die belydenisklas nie.

Oom Stander het ook vir Eagle vir sy belydenisaflegging afgerond. Kraai, die laaste Esterhuizen wat deur sy hande moes gaan, was dus vir hom soos kerkfamilie. Hy het Kraai op sy doopnaam genoem, sy goedgesindheid onvernietigbaar, sy stem die stem van ’n vader.

“Toe wat opgehou het, Schalk?”

“Meneer se gesug na …na …na wat meneer gesê het.” Die wind was uit Kraai se seile.

Oom Stander het verby hulle gekyk, asof hy nabetragting doen.

“Die lewe en elke blywende verandering in ons is ’n proses, klas. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.”

Hy het die Bybel, katkisasieboek en klasregister in sy verslete tassie gepak en sy kop weer stadig gelig, sy irisse veldspaat met aartjies en ouderdomsvlekke.“Drie dinge het ek op my lewenspad geleer, klas. Voordat julle belydenis van geloof aflê, wil ek dit in alle beskeidenheid met julle deel. Kom ons sluit af met gebed.”

Langs Margo het Sasha-May Danfuss op haar polshorlosie gekyk en gemompel: “Stick die dinge wat jy op jou lewenspad geleer het, oupa. Môre pluk ek Skeinat.”

Oom Stander het eerbied vir God gehad. Hy het Hom gevrees, maar hy was nie bang vir Hom nie.

“En dan nog een ding, Here,” bid hy, “die pa van een van ons katkisante hier. Ek hoef dit nie vir U te sê nie: Christina het haar kind deur water verloor. Betoon u mag; moenie dat sy nou ook haar man deur vuur verloor nie. Ons bid vir Margo hier by ons, vir haar broer Adriaan wat sy pa nog so nodig het. Ons bid vir Margo se ouma, die gryse Rebecca Hallman. Hou hulle in die holte van u hand, Here, laat hulle almal u hand om hulle voel.”

Sy het dié Vrydagmiddag die huis vir haarself gehad. Oumbecca en Ma Chris was Bloemfontein toe, want Pa het in Universitas Hospitaal gelê. Daar was ’n nota en geld op die kombuistafel: Margo, gaan kry brood aub.

Daar was nog twee witbroodkorsies in die broodblik; sy het vir haar roosterbrood en koffie gemaak. Die gordyne in die groot sitkamer was dig toegetrek. Sy het haar dus op die chaise longue in die leeskamer tuisgemaak. Haar oë het op die potjie handeroom en die Heidelbergse kate­gismus op die geelhoutkis langs die bank geval, die een vir haar ma, ’n berisping teen plaasverwaarlosing (Oumbecca se woord), die ander ’n aanmaning. Oom Stander het hoër eise aan die belydenisklas gestel as aan die jong kategete. Die uurglas was aan die leegloop; die kategismus moes saamgaan plaas toe. Die handeroom ook. Oumbecca het geen geduld met skurwe hande gehad nie.

Margo het haar korsiebrood tydsaam geëet, Oumbecca se oë op haar, maar anders as wat sy haar ouma ooit na enigeen van hulle sien kyk het, na Bill Hallman allermins. Bokant die ensiklopedieë, atlasse en Bill Hallman se miniatuurlikeur- en -brandewynbottels was Oumbecca se portret. Iewers tussen negentien en twee en twintig jaar oud, laaggetrekte rondebolhoedjie met ’n gestreepte satynband, pelsjas met ’n laproos daarop, ring aan die fyntjies gekromde pinkie (waarskynlik by een of ander mynmagnaat se seun gekry), pragtige mond, donker lipstiffie, vel glad soos marmer. Sy kyk nie vir die kamera nie, sal nie. Sy is die wewenaar Frikkie Wessels se aristokratiese kind, die eiesinnige skoonheid vir wie grootgrootouma Jacomina tot haar dood toe haar knieë eelte gebid het.

Oumbecca het Engelse bloed. Sy was nog altyd onomkoopbaar. In haar jong dae het sy haar kop altyd skuins gedraai vir die kamera. Maar nooit so volledig soos haar ma, Angelina Edwards-Fourie Wessels, nie.

Margo het haar skottelgoed opgeruim en haar fiets gevat en na Dolf se Plek toe gery. Gegroet waar sy moes groet, voet langs die fiets in die dik rooi sand gesleep waar sy moes. “Hy het derdegraadse brandwonde, tannie, hy het baie plasma gekry. Maar die infeksie is nou onder beheer. Hy’s oorgeskuif na ’n privaat kamer.”

“Jou arme ma, die tweede keer in haar lewe, ná alles. En dis iets vreesliks om nurse te wees vir iemand wat so verbrand het. Vra my, ek het verpleeg. Wanneer kom jou pa huis toe?”

“Hulle sê dis nog ’n lang pad, tannie. Hy sal veloorplantings moet kry.”

“Hoe sê hy, wat het die gasontploffing veroorsaak?”

“Hulle dink dit was ’n lek by die kleppe, tannie.”

“Dat dit juis hý moes wees, die een wat nie ’n vlieg skade sal aandoen nie.”

Margo het geknik, meer as een keer, want sy is ’n paar keer voorgekeer. My pa is nie een vir vlieë doodslaan nie, het sy gedink. Vlieë doodslaan is vrouenswerk. Maar vir Adriaan het my pa begin foeter ná die eerste brand, die een waarin die huis tot op sy fondamente afgebrand het.

“Dit kom van bederf, Christina,” het hy gesê. “Dit kom van die drek wat jy jouself wysmaak, van bleddie ongeloof. Ek het vir jou gesê God laat dieselfde ding nie twee keer gebeur nie, jy sal nie nog ’n kind verloor nie, maar jy het my nie geglo nie. Nee, dié een moet gepiep en getoemaar word, aan dié een mag niemand raak nie. Jy’t hom van die water af weggehou, maar nie van vuurhoutjies af nie. En nou? Daar’s jou huis, Christina. Ons is waar ons oupas en oumas ná die Oorlog was.”

My pa het vir Adriaan van sy grond af en tot by die delwe­rye gefoeter. “Daar sal nooit weer ’n gepiep en gepamperlang en getoemaar wees nie, mannetjie.”

Met die uitkom uit Dolf se Plek het Margo haar in Eagle Esterhuizen vasgeloop. Wydsbeen op die motorfiets se saal, leerhandskoene tussen die tande vasgebyt, valhelm pas afgehaal, het hy opgekyk. Sy is deur die middaghitte, deur die skok en deur die singgeluid in haar kop geslinger, asof hy met sy motorfiets in haar vasgejaag het.

“Margo!” Donker baardskaduwee op die kakebeen en wange, bruin oë wat daaroor kyk soos oor ’n heining.

Sy het gestamel, natuurlik het sy gestamel. “Jy …jy ry omtrent ’n meneer.”

Hy ry nie ’n meneer nie, moes sy dadelik verstaan. Hy ry ’n seksobjek.

“Sy het my in een uur vyf en dertig minute flat van Bloemhof af tot hier gebring.”

Margo wou wegkom, maar nie soos ’n opgejaagde hen nie. “Delf jy nog by Ottosdal?”

Hy het stadig van die motorfiets afgeklim, maar sonder die veragting om die mondhoeke, die harde haarjel. Sy lyf moet nog net so swaar wees, het ’n gedagte deur haar kop gegaan. Of swaarder. Hy moet al twintig wees.

“Daai diggings is soos die skou hier, jy’t nie ’n kans nie. Opgeskiet Bakerville toe, maar ek soek nie crap en bort nie. Toe skiet ek maar af rivier toe.”

“Rivier toe?” Alles aan hom het haar gewalg: sy wenkbroue, die timbre van sy stem, sy wydsbeenstaan in sy eie breë skaduwee.

“Die Vaal tussen Bloemhof en Christiana. ’n Jeweller’s shop, dis waar jy naifs soos neute uitduik.”

Naif. In Adriaan se geval ’n blinke. In Eagle Esterhuizen se geval …

Ek is nie meer naïef nie, wou sy sê. Maar sy het skielik besef dat sy sterker geword het.

“Jy was gelukkig om ’n permit te kry. My broer wag nou nog vir syne.”

Eagle het sy leerbaadjie oopgerits, uitgetrek en oor die saal van die groot motorfiets gegooi. “Niemand wag vir ’n permit nie. Noem ons die zama-zamas van die rivier. Adriaan was al baiekeer snags saam met my in die water.”

Adriaan by die Vaal? Hy’t vir hulle gesê hy delf by Lichtenburg.

Oë verander nooit nie. Maar die kettinkie met die bloedgroepplaatjie was nie meer aan sy arm nie.

“As jy wil weet hoe dit in die hel is, werk Juliemaand in die Vaal. Dis nie water nie, dis hel. Jy weet nie waar jou hande is nie, jou vingers is yspype.”

Ysstawe. Soos in die winter van 1999. Van die hel het jy my reeds geleer, wou sy sê. Maar sy het haar kop hoog gehou.

“Nou ja, lekker dag verder.”

Monument

Подняться наверх