Читать книгу Monument - Maretha Maartens - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеAs ’n mens so deur rook kyk, sien jy die dorp van jou jeug as ’n verbleikte swart-en-wit foto, Kodak of Agfa. Die bloekoms het hoër geword, die bos digter saamgetrek om die geheime van haar hoërskooljare: die senuweeagtige luister vir voetstappe en stemme, die verruklike afstuur op losknoop en afpluk, aan die brand slaan, in ligte laaie wees.
Vat my, forseer my mond oop met jou vingers, soen my diep, ruk my saam met jou in die bosbrand in waar die vlamme na bloekomolie ruik, jy’s twee jaar ouer as ek, Oumbecca vra hoekom hou jy nie by jou portuur nie, as groot seuns popspeel speel hulle nie pop nie.
Deo Gloria Onafhanklike Skool, buite die dorp op pad na Boshof en Dealesville, was vir Margo ’n nuwe begin. Niemand het geweet hoe graag sy uit AJC Jooste wou wegkom nie. Sy het byna van die stoel afgeval toe Ma Chris vir haar sê hulle het besluit om haar by die nuwe skool in te skryf.
Sy en Oumbecca moes nog elke weeksoggend verby die paviljoen by die landbousaal ry, verby AJC Jooste agter lemmetjiesdraad, deur die stemme. Ook met die radio aan, ook in die middel van die winter, wanneer ’n eierdop se val die klank van ’n kalbas maak, het die lug by die draai na Dealesville sopdik gebly.
Deo Gloria was ’n nuwe begin, die bloekomplantasie verder nog as die paviljoen.
Vir die oues – die ouderlinge en kieriekommando wie se voorouers die gate vir die vrugbare moederbome laat grawe het – was die plantasie ’n windskut teen die aanslag van Augustusmaand se sandstorms. By meneer Human, Skeinat graad tien tot twaalf, AJC Jooste Hoërskool, het Ma Chris gehoor dat die bome die lug van koolsuurgas suiwer. Niemand het met meneer Human gestry of gesukkel nie. Hy het op die groen bord geteken; hulle het gekyk en aantekeninge gemaak, kompleet met sketse.
Die bloekoms het hoër geword, die bos digter.
Die student wat in die somer van 2000 by die graadneges van Deo Gloria geproef het, was goed voorberei, op die eerste trap boontoe, een van die klein getal mans wat nog kans gesien het vir die onderwys.
Hy het ’n PowerPoint-aanbieding gedoen, oopgeklapte skootrekenaar voor hom op die klaskamertafel. Die oggendverkeer in Shanghai, voertuie buffer teen buffer in ’n oseaan van loodgasse, swaweldioksied, propaan en industriële verbrandingsprodukte. Olieraffinaderye in Durban, Kaapstad en Sasolburg. ’n Smeulende vullishoop op die rand van ’n township.
Hy het sy hande aan weerskante van die skootrekenaar geplaas. “Hoe kry ons die lug weer skoon? Enige voorstelle?”
“ ’n Stofsuier, meneer?” Een van Kraai Esterhuizen se pelle wat probeer snaaks wees.
Hoekom het U nie gekeer dat hulle hier ingeskryf word nie, Here Jesus? Hulle is nie eens Christelik nie.
Hulle het nie toelating tot Grey in Bloemfontein gekry nie, Margo. Sommige dinge is nie ’n aanslag van die bose nie. Dis doodgewoon logies verklaarbaar.
Ek weet nie wat om te sê nie, Here. Mag ek asseblief kwaad bly totdat ek nie meer kwaad is nie?
Die proefstudent het net ’n oomblik geaarsel. “Stel een voor?”
So het hulle toe ook in Deo Gloria by die bloekombos uitgekom, die ou plantasie wat respireer, fotosinteer en die lug suiwer.
“Die eerste inwoners van Petrusburg het meer vir julle gedoen as wat hulle vooruit kon weet,” het die proefstudent geglimlag. “Praat nou vir vyf minute in julle groepe oor die belangrikheid van beginselgefundeerde optrede in elke saak. Identifiseer die saak in hierdie geval, die beginsel en die redes waarom elkeen wat die beginsel toepas weerstand kan verwag.”
’n Benoude meisiestem, modelskolier: “Sal meneer bietjie stadiger gaan, asseblief?”
Kraai Esterhuizen het sy hand reg voor Margo opgesteek. “So, meneer sê die lug bo die bloekombos is vuil? Hoekom juis dáár, meneer?”
Naby die klaskamer se deur het die dosent opgekyk van sy puntelys af: lesdoelstelling, effektiewe interaksie, bemeestering, klem op die praktiese toepassing van die leerinhoud. Die geproes van Kraai se pelle, seuns wie se pa’s hulle óf in ’n sportskool wou hê óf in ’n skool waar alles nie swart is nie, is in die kiem gesmoor.
Toe Margo by die klaskamer uitstap, haar wange aan die brand, het sy die dosent met die proefstudent oor Bloom se bemeesteringsleer hoor praat.
Die proefstudent het sag gepraat, omgekrap: “Het Bloom ook geskryf oor bemeesteringsweerstand, professor?” Hy het na naskeermiddel geruik en hy was so netjies, so roepingsbewus, so onvoorbereid.
Sy het Kraai voor haar sien loop, rugsak los oor die skouer, skoolbroek laag om die heupe, sy broer se opvolger waar hy ook al gaan. Hy het geweet. Natuurlik het hy geweet. En hy het alles wat hy geweet het Deo Gloria toe gebring.
Seuns is vuilgoed, mans ook. Behalwe oom Stander.
Die bloekombos was Petrusburg se Rietsee: Farao en Oumbecca met hulle strydwaens in aantog, die Beloofde Land voor. Of was die boom van kennis van goed en kwaad ’n bloekom? Geil van die stuifmeel, bewierook met die geur van grond, humus en reukolie, met bye wat in die saadtrosse dreunsing en insekte wat op die grond en teen die boomstamme paar?
In die bloekombos wat nou by die afdraai na die dorp in die rook dryf, is sy op droë blare en doringpuntige bloekomsaaddoppe neergegooi, vasgepen en gery. In dié blougrys bos is kantbelegsels van haar onderklere afgeskeur en het die silwerkettinkie wat Ma Chris vir haar op haar dertiende verjaardag gegee het, gebreek en vir altyd verlore geraak. Maar tweehonderd, driehonderd meter van waar haar motor nou staan, het sy meer as een keer uit die vuur gerol en opgespring, droë takkies in die hare, wange rooi van skaamte. Dis Oumbecca, het sy geweet. Sy is oral, sy kom op haar strydwa aan, ek hoor haar selfs in die vuur.
Ja, sy het uit die plantasie gekom, maar nie smetteloos nie, nie vlekkeloos en rein nie. Op veertien kry jy liggaamsvloeistowwe se vlekke nie uit jou klere nie. En hulle reuke bly in jou neus.
In Oumbecca se eetkamer het die bloekomboomskildery teen die muur hom aan haar opgedring. Die witgevlekte stamme in die skildery was replikas van dié in die plantasie. Ma Chris, beeldskone Ma, was saam met die skilder op skool: Piet Haasbroek van die plaas Greylingsfontein, links van die Bloemfonteinpad. Elke jaar in die skoutyd het Piet aan die teken geraak, elke jaar beter as die vorige jaar, elke jaar meer rooi rosette. Waar hy tyd vir skilder vandaan gekry het, het nugter alleen geweet, want hy het alles gedoen; was hoofseun ook en het redenaarsbekers soos seëls versamel.
Die bome by Greylingsfontein se hek het ’n naam gekry: Piet se bloekoms.
Oumbecca het een van Piet se bloekomprente jare later teen iemand se muur in Ons Woning gesien. Sy het die ou dame aan wie dit behoort het met moeite oorreed om dit aan haar te verkoop. “Daardie skildery,” het Oumbecca gepleit, “is geskilder in ’n tyd toe die lewe nog vir Christina gewink het. Nou vra sy vir my of vroeg sterf in die familie loop, of ek vir Margo sal moet grootmaak soos wat my ouma mý moes grootmaak.”
Toe Ma Chris die bloekomskildery ’n jaar of twee later terugbring van die plaas af, was Oumbecca platgeslaan. Sy’t nie meer plek daarvoor aan haar mure nie, het Ma Chris gesê.
“Vat dit vir Ma. Ma hou mos nog al die jare van die vlekke en kleure aan die stamme.”
“Maar Christina …”
“Ons maak huis skoon, Ma, aanvaar tog rede. En nou moet Ma my verskoon, Boet wag. Hy’s op pad koöperasie toe. Haai, Margo, is die skool dan al uit? Jy moet lekker netbal speel môre. Hoe laat maak julle klaar? O ja, dalk kom Adriaan jou haal. Ons slag, ek dink nie ek sal môre van die plaas af kan wegkom nie. Pas jouself mooi op, my kind.”
Van mooi oppas het graffiti gekom.
Leon Louw en Eagle Esterhuizen het haar net een keer bloekombos toe gevat en albei net een keer stuurs daar uitgebring. Leon het aanbeweeg met die Koei, die koshuismeisie wat van ’n verbeteringskool in Bloemfontein na die platteland uitgeplaas is.
Maar Eagle was ’n gemene verloorder. Hy het haar teen die deur van die seunskleedkamer onder die rugbypaviljoen met ’n paar spykerhale gekruisig: koplose nek, sirkels en strepe vir ’n bra, bloomer soos ’n museumkledingstuk. MD is ’n viskoek, was die byskrif.
Sy was veertien jaar oud, haar laaste jaar in AJC Jooste.