Читать книгу Monument - Maretha Maartens - Страница 14
Hoofstuk 10
ОглавлениеDie vrou daag sonder afspraak of vooraf-reëling op. Voordat enigeen van haar weet, draai sy aan die deurknop.
Michael spring teen die voordeur op, grommende derduiwel, aartsengel se voet. Evangeline staan in die middeldeur tussen die kombuis en die gang; die hond se geblaf en gegrom sny stukke van haar mededeling uit: “Die teesakkies is klaar, juffrou. Meneer se kinders wou nie gaan nie, ek het hulle gevra.”
Margo kan haar hare uit haar kop trek.
“Ani tzricha ezra, Yachin!” Ek het hulp nodig!
“What is the matter, Bubbeleh?”
Hy noem haar nog steeds sy skat en hy praat opgewek in haar oor, sy kantoorvensters waarskynlik oop, die hemel blou en herfsstil op hierdie Sondag in Augustus.
“Daar’s iemand by die deur. Ek bel jou later. Hoor die hond, dís hoe dit in my ma se huis klink.”
“Wow, some bark. Eason is wagging his tail like mad.”
Die vrou met die toonknobbels, ongeknipte toonnaels, sproete en droë vel het ’n tuisverpleërsak by haar, maar sy ruik na kerrie kook. Sy ken die huis; sy wag nie om ingenooi te word nie.
“Verskoon die sandale; my bunions baklei vandag teen toe skoene. Gelukkig het ek ’n Foley in my sak, dit was nie nodig om te gaan oopsluit nie. Ek het so half en half verwag sy gaan die kateter uittrek. Is jy …jy’s seker haar dogter van Israel af?”
Michael ken die vrou; hy spring teen haar op. Sy stoot hom weg. “Kry die ding tog van my af, Hugo.”
Die man op die drumpel doen dit reeds. Hy sleep die hond stoeptrappe toe, motorsleutels in die hand, gestreepte das skeef oor die skouer. Die hond verset hom intelligent: hy maak hom dooiegewig op die sementstoep.
“Moenie jou stunts met my uithaal nie, Michael!”
Die hond kom met fyn tjankgeluidjies orent, stert tussen die bene. Hugo frommel sy ore en gee hom ’n paar vrywe op die kop. “Oukei, ons maak vrede. Weg is jy.”
Evangeline bring die boodskap soos ’n duif wat deur ’n oop venster ingekom het en benoud tussen mense vlerke klap en ’n ontsnapopening soek.
“Antie Bettie sê ek moet vir juffrou sê as juffrou wil by wees, kan juffrou by wees. Maar juffrou hoef nie, dis juffrou se ma, so miskien wil juffrou nie.”
Margo skud haar kop. “Dankie, Evangeline.”
Die hond neem sy kans waar en pyl gang-af en trap-op om voor Ma Chris se kamerdeur te gaan weeklaag terwyl die kateter ingesit word.
Margo nooi die man binnetoe. Hy is gesandaal soos sy ma, en dit onder ’n formele grys broek. Hy lyk ook na sy ma: blasserige vel met sproete oor die neus, dieselfde plattelandse seningrigheid as sy.
Hy steek sy hand na haar uit. “Hugo van Niekerk.”
“Margo Diederichs. Christina se dogter.”
“In our culture shaking hands and thus touching a woman is seen as a sexual act, Bubbeleh. A handshake between a man and a woman does reveal feelings, don’t you think so?”
Vroeër, in my eerste lewe, sou ek gelag het, Yachin. Nou nie meer nie.
Toe dit gebeur het, was dit nie bladskud nie. Dit was ’n toevou, sagter en meer sensueel as enigiets wat ek my ooit in die bloekombos kon indink, die wilde plek van skerp bloekomsaaddoppe en miskruiers wat op die grond naby ’n mens se kop verbyloop.
Jy het my in jou handpalm toegevou, Yachin. Ons was te lank saam in dieselfde kantoor; eers Dawid en Jonatan besig om Our Voice te maak werk. Toe in die lente, in die tyd wanneer die konings optrek om oorlog te maak – dié keer met missiele – het ons Dawid en Batseba geword, onafwendbaar. Maar dit was Batseba wat vir Dawid begeer het, daar tussen die argeologiese opgrawings van die Jerusalem Argeologiese Park by die Davidson Sentrum. Dawid het haar hartstog aangevoel, sy hand oor hare geplaas en sy shomer negiah-tyd agtergelaat. Geen aanraking het aanraking geword.
Vra my om jou vrou te word, Yachin. As ’n vrou in die liefde glo, is sy ’n goeie vrou vir ’n man. Jy het dit reggekry om my weer in liefde te laat glo, trou met my. As Eason dan steeds op die bed by jou voete moet slaap, moet hy maar nog ’n tyd lank daar bly slaap, totdat ons hom van jou gespeen het.
Sy wou dit sê, maar sy het nie. Sy kon nie; hy was te geskok oor wat hy so geniet het.
Daardie Sondag is die twaalfjarige Ayoub Useila in ’n missielaanval uit Tel Aviv dood. ’n Kind wat die dood nie kon ontkom nie, selfs nie in die Jabalia-vlugtelingkamp nie.
Yachin kon nie ’n foto van hom in die hande kry nie. Dalk het daar nie een van hom bestaan nie. Maar enige foto van ’n Palestynse seun met die eerste donker donsies op sy bolip, stofvaal hemp en die gewoond-aan-die-hel-kyk van Palestynse vlugtelingkampkinders, sou gewerk het by die nuusberig wat hy daaroor geskryf het.
Die seun wat dié Sondagmiddag gesterf het, het uiteindelik maar net soos die sesjarige Ali al-Shawaf in die lykshuis van die Nasser-hospitaal in Khan Yunis gelyk. Vir altyd dood.
Hugo van Niekerk maak ongemaklik keel skoon.
“Ekskuus dat ek so deur die blare lyk,” sê sy. “Alles is op die oomblik net ’n bietjie oorweldigend, ek voel asof ek op ’n ander planeet is.”
Hy staan half oujongkêrelagtig. “Dit is dalk. Israel is baie anders.”
En hoe. Pas het Yachin vir haar oor die telefoon gesê: “Sondagnag gaan my skyfie maanlig regs en joune links bo ons sit, Bubbeleh. Maar die een en dertigste gaan ek die maan vroeg in die middag al afneem, dagmaan hier bo Our Voice se gebou. Once in a blue moon, August is blue moon month.”
Sy knik beleef. “Ek was vier jaar uit die land, dinge verander.”
“En is jy nou terug? Ek bedoel, permanent?”
“Ek werk in Jerusalem.” Sy wys na die sitkamerbank wat sy nie ken nie, die vertrek waarin sy self nog nooit gesit het nie. “Sit gerus.”
“O, waar?”
Hy kies die stoel soos ’n eie ruimte, albei hande op die armleunings, skouers soos dwarsbalke. Die kaal enkels wat onder die langbroek uitsteek, is meer besproet as sy neus en wange. Die horlosie aan sy regterarm is te groot vir ’n Sondagmiddag, maar verklap dat hy linkshandig is.
“By ’n Engelstalige koerant, Our Voice.”
“Dit klink na goeie ondervinding vir wanneer jy terugkom.”
Sy wil frons, so diep en gesteurd soos Yachin se ma en ouma oor alles aan haar wat hulle nie geval nie. Maar sy bied hom iets te drinke aan.
“Ons het glo nie tee in die huis nie, maar ek vermoed daar is nog koffie oor.”
Twee kinders kom deur die sitkamer geloop: ’n rietskraal dogtertjie met kiewietbene en albasteroë en die seun wat sy met die inkomslag in die televisiekamer gesien het. Hy het donker donsies op sy bolip en sy hare is gejel.
Die seun groet Hugo bedees: “Marrag, meneer.” Vir haar sê hy: “Ons het ’n sleutel, so jy hoef nie te worry nie.”
Hugo staan op. “Kom eers hier, Ronnie.” Hy steek sy hand in die lug en hou dit daar tot die seun syne ook lig. Die vat-vyf-klap is ’n sjampanjepropknal. “Hoe voel dit?”
Die seun grinnik. “Winburg-eerstespan is nie Grey Kollege-eerstespan nie, meneer. Maar dit voel great.”
Hugo vou sy arms. “Hou dit so. Van nou af is dit elke dag agt keer om die rugbyveld. Grey het die voorregte, jy het vir my by die Wiskundeklas se venster. Ek gaan tel.”
Die kinders sluit die voordeur oop en gaan buitentoe. Die dogtertjie wuifpraat met ’n hoë stemmetjie: “Bye, meneer.”
Die seun kyk oor sy skouer, sy ore bruinrooi. “Tot siens, meneer. Thanks, meneer.”
Margo kyk na Hugo en skud haar kop. “Ek ken nog niemand op dié planeet nie. Hierdie kinders …wie is hulle?”
Sy skouers staan nog steeds soos dwarsbalke. “Oorlede oom Lukas se kleinkinders, die middelste en die jongste dogtertjie. Ronnie is in my registerklas, ’n Cheetah-ondersteuner soos min. Hy en sy pel, Sylvester Liversage, ryloop Bloemfontein toe vir hulle wedstryde.”
“Kuier die kinders hier?”
Hy vryf aan sy wang. “Hulle bly hier.”
“Hier in my ma se huis?”
Hy lyk soos iemand wat vermoed hy bring slegte nuus. “Jou ma bly bo, hulle hier onder. Hulle deel die kombuis en so aan.”
Evangeline verskyn met ’n skinkbord in die deur, drie bekers op drie pierings, teelepels in die swart koffie.
“Ek het nie suiker en melk ingegooi nie,” sê sy. “Ek weet nie hoe juffrou juffrou s’n drink nie. Meneer drink mos meneer s’n on the rocks. En antie Bettie vat net twee suikers.”
Sy sit die skinkbord op die koffietafel neer en verdwyn so geluidloos soos wat sy verskyn het.
Hugo tel die skinkbord weer op, hou dit vir Margo.
“Ek drink my koffie ook on the rocks,” sê sy. “Dankie.”
Hy help homself, tydsaam. “Tannie Bettie se koffie gaan koud word. Sy is vinnig met die kateters en dinge, maar sy kúier as sy aan die kuier raak.”
“Hoekom noem jy haar tannie Bettie?” Iets klop nie.
Hy kyk vir haar oor die koffiebeker. “Wat behoort ek haar te noem?”
“Ma? Moeder?”
Hy proes en verstik half. “Hoekom? Dan ry sy in haar lewe nie weer saam met my nie.”
Jy lyk dan soos sy, wil Margo sê. Om die waarheid te sê, jy lyk soos haar oujongkêrelseun. Ek het aan Yachin se hand oor myne gedink, aan die dagmaan bo Jerusalem. Jy was op die rand van die prentjie; jy het daar iewers soos tant Bettie se seun gelyk. Toe sê my brein vir my dis ’n feit.
Dit is toe nie ’n feit nie. Dis ’n fout, en tant Bettie se oujongkêrelseun bly vir haar lag tussen sy dwarsbalkskouers.