Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 10
TROUE
ОглавлениеNou almal saam, roep die mank fotograaf-mannetjie met die eienaardige aksent uit: “Say cheeeeza.” En vir die hoeveelste keer herhaal die groep voor die kamera almal laggend “cheeeeza”.
“Ek sal nooit in my lewe weer kaas kan eet sonder om aan my troudag te dink nie,” kla Ouboet kastig.
Hulle poseer al amper ’n uur lank vir Mister Giuseppe; eers net die bruidspaar terwyl die res toekyk, daarna die bruidspaar saam met hulle ouers, en nou die hele boksemdais, strooimeisies, strooijonkers, blommemeisie en hofknapie ook. Die amptelike troufoto’s word in die roostuin van ’n Bolandse spogplaas geneem, teen die agtergrond van ’n dam met eende, ’n witgepleisterde slaweklok en ’n Kaaps-Hollandse gewelhuis. Te mooi vir woorde, sê die bruidegom se bewoë moeder elke nou en dan met ’n sug. Ouboet se bruid het in hierdie gewelhuis grootgeword, oudste dogter en oogappel van ’n welgestelde wynboer wat deesdae ook Lid van die Volksraad is. Vir doktor Malan se party, natuurlik.
“Jou broer het omtrent met sy stert in die botter geval toe dié nooi vir hom ja gesê het,” het die hoofstrooijonker gister teenoor Kleinboet opgemerk terwyl die bruidspaar en hulle gevolg in die NG kerk op die dorp vir die seremonie gerepeteer het. Aikôna, het Kleinboet gesê, my broer is nie die soort wat ooit val nie. Nie eens in die botter nie. Alles word sorgvuldig beplan.
Colette was nogal geskok deur sy aanmerking. Só koelbloedig is Ouboet darem nie, het sy ná die repetisie met Kleinboet geraas. Enigeen kan sien hy’s dolverlief op Elsa!
“Natuurlik,” het Kleinboet gepaai. “Kom ons sê maar net dit was vir hom makliker om dolverlief te raak op ’n meisie met ’n ryk en vername pa as op enige ander meisie.”
Maar Ouboet het nie ’n ryk of vername skoonpa nodig nie, meen Colette. Daar word tog al van kleins af vir hom ’n Blink Toekoms voorspel. Hy was elke jaar ’n presteerder in sy regskursus op Stellenbosch, die laaste jaar ook in die Studenteraad, almal op die kampus ken sy naam. Soos sy gou agtergekom het toe sy laas jaar begin studeer het. Selfs noudat Ouboet weg is van die kampus, besig om naam te maak as briljante jong prokureur in die stad, gooi sy Blink Toekoms ’n swaar skaduwee oor haar en Kleinboet.
Kyk net hoe staan en grinnik hy daar in sy swaelstertpak met sy stralende bruid aan sy arm, sy vername skoonouers en sy trotse ouers en sy groot gevolg soos ’n waaier oopgesprei rondom hom, die strooijonkers almal ook in swaelstertpakke, die strooimeisies in kuikengeel brokaat en sy. Colette hou nie van geel klere nie; dit bring die geel in haar blonde hare en bleek vel uit en laat haar soos iemand met nierversaking lyk. Maar as derde strooimeisie, saam met die bruid se beste vriendin en die bruid se jonger suster, het sy nie eintlik ’n sê nie. Elsa is gek oor geel, dit pas goed by haar gebronste vel en goudbruin hare, en op hierdie heuglike dag wou sy haarself met geel omring. Selfs die strooimeisies se satynskoene en lang handskoene is liggeel. Kleinboet is ook ’n strooijonker, saam met twee van Ouboet se studentemaats, Pietman en Hannes, en voel sekerlik net so ongemaklik in sy swaelstertpak as sy suster in haar kuikenuitrusting. Een swaeltjie maak nie ’n somer nie, so troos Colette haarself, nes een kuiken nie ’n bruilof kan bederf nie.
Elsa se trourok is ’n mirakel van brokaat en tulle en kant, ’n hartvormige bolyfie en ’n noupassende baadjie van deurskynende kant en pêrelknopies wat haar kaal skouers en arms bedek en tog ook vertoon – ordentlik genoeg vir die kerkseremonie, maklik genoeg om die baadjie later by die onthaal uit te trek – en ’n romp so uitspattig wyd dat sy op pad kansel toe amper in die kerkpaadjie vasgesit het.
Daar was ’n absurde oomblik terwyl die eerste orrelnote van die troumars deur die kerk dreun en die gaste in die kerkbanke almal afwagtend omkyk en die bruid versteen bly staan omdat sy skielik besef het dat haar rok aan die ewe uitspattige ruikers teen die kante van die kerkbanke kan vashaak. Dít het niemand voorsien nie! Vir die sorgvuldige repetisie gister het die bruid natuurlik nie haar trourok gedra nie. En die ruikers van pienk en geel rose uit die plaas se tuin was nog nie teen die kerkbanke vasgemaak nie. Toe die bruid dus onverwags in haar spore vassteek, het die tweede strooimeisie in die eerste strooimeisie vasgeloop, waarna albei van skone senuweeagtigheid aan die giggel geraak het. Colette, heel agter in die ry, het gewonder hoeveel etiketreëls sy sou breek en of haar ma haar ooit sou vergewe as sy vorentoe skarrel om vir die bruid ’n pad deur die blomme te probeer baan.
Gelukkig het ’n praktiese plaastannie in een van die agterste rye die situasie gered deur die roosruiker naaste aan haar weg te trek en vir die gaste vorentoe te beduie om dieselfde te doen. Die boodskap is fluisterend van een kerkbank na die volgende gedra en die blomme het voor die bruid en haar gevolg padgegee soos die Rooi See voor Moses en die Israeliete, ’n rare spektakel wat Colette vir die res van die seremonie teen ’n onbedaarlike lagbui laat stry het. Elke nou en dan het sy die stryd verloor en haar skouers voel skud van die lag, daar waar sy saam met die res van die gevolg voor die kansel moes staan. Sy kon maar net hoop die gaste agter haar sou dink sy huil. Bewoënheid is tog seker ’n bewonderenswaardige emosie vir ’n bruidegom se suster?
Die eerste twee strooimeisies, teen dié tyd herstel van hulle eie kortstondige giggelbuitjie, het haar ’n paar verontwaardigde kyke gegee. Kleinboet het sy wenkbroue besorg gelig. Net Hannes, die tweede strooijonker, het gelyk of hy ook dik van die lag is. Blykbaar was dit bowenal die derde strooimeisie se desperate poging om nie te lag nie wat hom so geamuseer het.
Of so het hy pas teenoor haar bely, terwyl hulle onder ’n peperboom staan en kyk hoe die bruidspaar nog vir oulaas alleen vir Mister Giuseppe poseer. Colette probeer haar verleentheid wegsteek deur na haar geel satynskoene te staar. Een van haar papierpoppe het presies net so ’n paar skoene gehad. Judy Garland? Vivienne Leigh? Sy hou die plat kartondoos met die versameling cut-outs steeds onder haar bed by die huis.
En nou vir die heel laaste keer, roep Mister Giuseppe uit, beeeg cheeeeza. Die donker mannetjie met die mank been het glo as Italiaanse krygsgevangene in Suid-Afrika beland en ná die oorlog besluit om hier vir hom ’n toekoms te bou. Baie meer geleenthede as in die armoedige suide van Italië waar hy gebore is, so het hy tussen die fotonemery deur vir Kleinboet vertel – die enigste lid van die bruidspaar se gevolg wat ’n geselsie met hom aangeknoop het. Meer geleenthede vir ’n wit man, dis gewis, het Kleinboet gesê.
“Wel, ek sal nooit-ooit weer oor ’n wye trourok droom nie,” sê Colette. “Dis goed vir ’n papierpop of ’n prinses in ’n katedraal, maar dit werk nie vir ’n gewone bruid in ’n NG kerk nie. Dit het ek vandag geleer.”
“Wat ek uit die afgelope twee dae se repetisies en gedoentes geleer het,” sê Hannes, “is dat dit dalk beter is om stil-stil in ’n landdroshof te trou.”
“Ná die afgelope twee dae,” sê Kleinboet, “dink ek dis beter om glad nie te trou nie.”
“Nie eens as jy in so ’n pragtige troukar kan ry nie?” Hannes beduie na die glansende swart Jaguar met roomkleurige leersitplekke – spesiaal vir die troue iewers geleen – waarin die bruidspaar binne enkele oomblikke na die onthaal op die dorp vervoer sal word. Soos die lenige roofdier wat hom sy naam gegee het, staan die ryding daar om deur almal bewonder te word, sy neus hoog en rond, sy stert laag en plat, chroomwerk skitterend in die laatmiddagson.
“Daar moet makliker maniere wees om ’n rit in so ’n kar te verdien,” sê Kleinboet met ’n sug.
Die twee strooijonkers staar ’n paar oomblikke smagtend na die motor. Colette wonder, nie vir die eerste keer in haar lewe nie, waarom die meeste mans makliker ’n mooi meisie as ’n mooi ryding kan weerstaan. Nie dat sy wil hê Hannes – of enige ander jong man op hierdie troue – moet haar onweerstaanbaar vind nie. Maar darem.
Pappie-Deddie word oud, besef Colette toe haar pa later op die onthaal ’n amptelike heildronk instel. Toe hy ná die oorlog besluit om weer ’n snor te kweek, het dit silwergrys uitgekom. Nou dra hy dit weliger as voorheen, niks wat jou naastenby aan Hitler sal laat dink nie, eerder aan ’n afgetrede Britse lugmagoffisier. Sy staalgrys hare pleister hy steeds plat teen sy kop met olie. Anders as Mammie, word hy nie plomper met die jare nie, net al hoe gryser. Selfs sy vel begin ’n vae grys skynsel kry.
Hy is sowaar al in die vyftig. Vir Colette, wat op hierdie eerste naweek van April 1952 skaars negentien is, voel dit onvoorstelbaar oud. Almal moet oud word en doodgaan, so probeer sy haarself oortuig, geen uitsondering nie. Behalwe natuurlik dié wat jonk doodgaan. Nie juis ’n vertroostende gedagte nie. Dan maar liewers oud word. Skaars twee maande gelede het die Engelse koning omgekap, nou is die jong prinses Elizabeth die koningin van die magtige Britse Ryk. Hoewel Ouboet oortuig is dat die Unie nie veel langer ’n lid van hierdie Empire sal bly nie. Dis die Afrikaner se Godgegewe bestemming, so glo Ouboet, om ’n onafhanklike vaderland met ’n eie vlag en ’n eie volkslied te hê.
“Maar ek hóú van die Union Jack,” protesteer Mammie. “Ek hou daarvan om dit bo geboue te sien fladder!” Wapper, korrigeer Deddie, altyd gesteld op keurige Afrikaans. ’n Vlag wapper, ’n vlinder fladder. “En ek hóú daarvan om ‘God save the King’ te sing,” gaan Mammie ongestoord voort. “Ag, ek bedoel ‘God save the Queen’.”
Ouboet se nuwe skoonpa, die vername LV wat ná Deddie opstaan om ook ’n toespraak te lewer, glo net so vas soos Ouboet aan die Godgegewe bestemming van die Afrikaner. Jy kan sommer dadelik hoor dis ’n man wat gewoond is daaraan om voor groot skares op politieke vergaderings en landbouskoue te praat. Sy stem dra soveel beter as Deddie s’n, sy toon is soveel jovialer en meer selfversekerd, en hy onderbreek sy frases kort-kort met sulke afwagtende stiltes, seker om die gehoor kans te gee om vir hom hande te klap.
“Dis vir ons almal ’n besonderse naweek dié,” sê Frans Louw LV met sy luide stem, voordat hy eers ’n rukkie stilbly. “Nie net omdat ons die bruilof van twee besonderse jong mense vier nie, maar ook omdat ons ’n besonderse dag gedenk.” Nog ’n kort stiltetjie. “Die dag toe Jan van Riebeeck die lig van die Europese beskawing na hierdie donker vasteland gebring het.” Langer stilte. “Môre, 6 April 1952, sal dit presies driehonderd jaar gelede wees dat die drie skepe uit Holland hier anker gegooi het.” Swaar gewyde stilte.
Mammie staar amper oopmond van bewondering na die spreker. Sy is tog te opgetrek met die nuwe skoonfamilie, nie oor die verbintenis met die regerende party nie, net oor die pragtige ou plaas en die “fyn beskaafdheid” van die mense. Mammie word steeds plomper met die jare, maar vandag het sy haar bulte en haar bondels in ’n moordende inklimgordel ingedwing sodat sy ’n noupassende rok van hemelblou sjantoeng kan dra. Met enkele geel aksente, ter wille van die bruid. Sy lyk stylvol en waardig, moet Colette erken, in teenstelling met die bruid se moeder, wat seker ook eens op ’n tyd ’n mooi meisie was, maar nou soos ’n sak aartappels met ’n donkerblou hoed en handskoene lyk. Dik nek, dubbelken en geswolle enkels. Siestog, dink Colette, as dit waar is dat meisies eendag soos hulle ma’s gaan lyk, is sy besonder dankbaar sy is nie Elsa nie.
“Vele van ons het die afgelope maand deelgeneem aan die feestelikhede in Kaapstad,” praat die bruid se pa verder. “Ons het die imposante Feesterrein besoek.” Stilte. “Die besonderse vlotoptogte bewonder.”
Colette vang Kleinboet se oog oorkant haar aan die tafel waar die bruidspaar se gevolg geplaas is en sien hoe sy wenkbroue in konsternasie lig. Hy het vroeër die week taamlik teensinnig vir haar en twee studentevriendinne stad toe vergesel om na die vlotoptog deur die strate te gaan kyk. Die enigste rede waarom hy dit gedoen het, was omdat haar twee vriendinne albei buitengewoon aantreklik is, een lank en donker en atleties, die ander een petiet en blond soos ’n poppie. Sy ken mos haar broer. Hulle drie meisies het gedink die optog is fantasties, die geskiedkundige taferele wat deur verskillende dorpe uitgebeeld is, die geskiedkundige figure soos Jan van Riebeeck en Piet Retief en Paul Kruger wat deur regte lopende, pratende mense voorgestel is, alles het ’n groot indruk op hulle gemaak. Vir Kleinboet was alles ’n groot grap. Toe die dorp Worcester se vlot by hulle verbyvaar, het hy gekraai van die lag. Die tafereel het iets met Piet Retief se Manifes te doen, dit was duidelik aan die spul jong meisies in Voortrekkerrokke met kappies, maar heel voor op die vlot het ’n paar blonde kêrels met gespierde kaal bolywe ’n paal in die lug gehou. Dit was nie duidelik waarom hulle halfkaal was of wat hulle met die paal wou doen nie.
“Hoop seker om een van die meisies daarop te sit,” het Kleinboet swak van die lag gesê.
Colette was nie seker of hy bedoel wat sy dink hy bedoel nie. Sy het vinnig na die volgende vlot gekyk en gehoop haar twee vriendinne het nie haar onbeskofte broer gehoor nie. Maar toe sê Vera, die atletiese ene: “Nee, man, dis nie ’n paal nie, dis ’n fakkel! Seker simbolies van die lig van die beskawing wat die Voortrekkers dieper in Afrika ingedra het.” Doodernstig.
Toe lag Kleinboet éérs.
Noudat sy daaraan terugdink, word dit vir haar ook snaakser as wat dit aanvanklik was. Of dalk is dit die soet pienk vonkelwyn wat alles snaakser as gewoonlik maak. Sy vat nog ’n paar vinnige slukke. Net om te kyk of dit nie miskien nog snaakser kan word nie.
“Die Van Riebeeckfees het ons tróts op ons land gemaak,” sê Frans Louw LV, “tróts op die fyn beskawing wat ’n klein groepie wit setlaars in ’n donker onbeskaafde vasteland kon vestig, tróts om Afrikaans te wees!”
“Hoor, hoor!” roep ’n paar jong mans uit.
Die oom is nou behoorlik op dreef. Sy frases word langer, sy stiltes minder. Hy vertrou dat hierdie besonderse egpaar ons in die jare wat kom nog trótser gaan maak om deel te wees van ’n besonderse volk met ’n Godgegewe bestemming. Hy voorspel ’n besonderse blink toekoms vir hulle en hulle kinders …
“Kinders by die dosyne!” roep ’n stuitige jong man uit, wat almal laat lag en die bruid laat bloos.
Colette hoor haar maag grom van die honger en sluk die res van die vonkelwyn in haar glas af. Die tweede strooijonker skink haar glas weer vol. Elke keer as hy na haar kyk, kry hy dieselfde geamuseerde uitdrukking as in die kerk. Dis rêrig nie die reaksie wat sy by haar broer se ouer en meer wêreldwyse vriende op hierdie bruilofsfees wou uitlok nie.
Die bruid se vader het oplaas klaar gepraat en almal het nog ’n keer hulle glase gelig. Nou nog net die bruidegom se toespraak, dan kan hulle begin eet en dans. Hoewel sy nie weet met wie die armsalige derde strooimeisie veronderstel is om te dans nie. Haar pa sal met haar ma moet dans, daarvoor sal haar ma sorg, en haar oudste broer is mos nie ’n danser nie. Hy sal net die verpligte eerste wals met sy bruid so vinnig moontlik agter die rug kry en daarna met kamtige groothartigheid vir al die ander mans in die saal ’n kans gee om met die bruid te dans. Kleinboet dans lekker, maar daar is soveel mooi meisies in hierdie saal dat hy beslis nie sy tyd met sy sussie gaan mors nie. En sy het nie veel hoop dat enige ander aantreklike jong man haar sal vra nie, nie in hierdie strooimeisierok wat haar soos ’n kuiken met geelsug laat lyk nie.
Die oomblik toe Ouboet opstaan, verander die atmosfeer in die warm saal. ’n Vlaag opgewondenheid trek deur die jonger gaste soos ’n wind deur ’n koringland. Ouboet het skaars sy mond oopgemaak of Pietman begin bulderend sing: “Hy lyk vir my so baie soos tant Koek se hoenderhaan,” en onmiddellik word die liedjie deur ’n koor van manstemme verder gesing. Ouboet wag geduldig, met ’n gedwonge glimlag, voordat hy weer probeer.
“Almal het my gewaarsku dat dit die moeilikste toespraak van my lewe gaan wees …”
Niemand hoor ’n woord verder nie, want Pietman het weggeval met “Bobbejaan klim die berg”. Dié keer probeer Ouboet verder praat voordat die laaste stemme wegsterf. Dadelik word die koor weer ’n keer herhaal: “O, moenie huiiil nie, o, moenie treuuur nie, die Stellenbosse boys kom weer.” En weer en wéér. Elke keer as Ouboet ’n frase uitkry, kom die Stellenbosse boys weer met hulle dawerende koor. Party kap met hulle hande op die tafels en ander stamp met hulle voete op die vloer en die lawaai word heeltemal oorverdowend.
Oorkant Colette sing Kleinboet uit volle bors saam. Moet seker nogal salig wees om sy beterweterige ouer broer ’n slag stil te kry. Langs haar verkneukel Hannes hom ook in Ouboet se penarie. Die tweede strooijonker is nie ’n lelike kêrel nie, nie so voorbarig soos Pietman nie en nie so vroom soos Ouboet nie. Al wat eintlik teen hom tel, is dat hy Ouboet se vriend is. Die enigste mens in die saal wat skynbaar vir Ouboet jammer kry, is Mammie. Sy sit aan die hooftafel, effens weggesteek agter ’n bos geel en pienk rose, en kyk na Ouboet met die benoude uitdrukking wat sy gewoonlik kry wanneer sy ’n groot nood het. Of dalk het sy inderdaad ’n groot nood. In daardie geval is daar niemand in die saal wat die bruidegom bejammer nie.
Uit die hoek van haar oog, heel agter teen ’n muur, sien Colette vir Sina in ’n ou geblomde rok van Mammie langs die mank Mister Giuseppe met sy swaar kamera staan. Dit tref haar dat die Italiaanse mannetjie donkerder van kleur is as Sina met haar gelerige vel. En sy wonder onwillekeurig wat hierdie twee weglêhoendertjies, hierdie rare voëls van anderste vere, van die Godgegewe bestemming van die Afrikaner sou dink.
Re: Kontak!
• Colette Niemand 17/8/2007
To vuurvis@iafrica.com
Ek dink aan jou, my skat, ek dink heeltyd aan jou. Terwyl ek die koue Kaapse winter verduur, ry ek saam met jou in Lissabon se vrolike geel trems. Dan vergeet ek sommer van die koue en die ouderdom en kry ek dit amper weer reg om jonk en hoopvol te voel. Tot ek die reën teen my kamervenster hoor tik en die blaarlose bome in die tuin sien. Dan onthou ek weer waar ek is en hoe laat dit geword het. Dan klim ek uit die trem en kom lê op my bed en dink aan lank gelede, aan hoe graag ek wou wegkom voor dit te laat was, en dan wonder ek waarom ek teruggekom het. En dan dink ek weer aan jou. Ek dink heeltyd aan jou, lieweling.