Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 9

OORWINNING

Оглавление

Colette bekyk haarself in die vollengte-spieël in haar ouers se kamer. Dis wat die heldinne in die liefdesverhale wat sy deesdae verslind altyd iewers in die boek doen. Die maklikste manier om die leser te wys hoe die heldin lyk, en sommer ook hoe sy oor haarself voel. Dis een van die wenke wat sy opgetel het sedert sy self ’n paar stories probeer skryf het. Nie liefdesverhale nie – van die liefde weet sy op die ouderdom van vyftien-en-’n-half helaas nog heeltemal te min – sommer net stories. Soms ook gediggies, aangevuur deur Belydenis in die skemering van Elisabeth Eybers, wat haar pa laas jaar vir haar present gegee het.

Die grootste verrassing van hierdie nuwe skryfstokperdjie is dat amper alles in Afrikaans uitkom – hoewel sy amper net Engels lees. Dalk iets te doen met Elisabeth Eybers, die eerste vrou van wie sy weet wat ’n Afrikaanse digbundel uitgegee het, en vir wie sy amper soveel vurige bewondering koester as vir Edna St Vincent Millay. (Millay se gediggie oor die kersie wat aan albei kante brand en nie die hele nag sal hou nie, bly darem nog vir haar die heel mooiste.) Of dalk is die Afrikaanse skrywery te danke aan haar goeie Afrikaanse onderwysers in haar goeie Afrikaanse hoërskool in die stad. Maar dis waarskynlik meer as enigiets anders haar pa se invloed. Deddie, vir wie sy nou al jare lank vergeefs probeer Pappie noem, met sy ewige opgewondenheid oor hierdie jong taal wat sommer nou die dag nog hier aan die suidelikste punt van Afrika ontstaan het.

“Pretty as a picture,” sê haar ma agter haar in die spieël. En hoe meer Afrikaans haar pa word, so voel dit soms vir haar, hoe meer aspris-Engels word haar ma. “Wat sê jy, Sina?”

“Ek kan nie glo dis onse klein Lettie nie,” sê Sina, nou ook sigbaar in die spieël, haar hande saamgeslaan in bewondering. Colette het jare gelede al by Sina verbygegroei, maar Sina maak asof sy dit nie sien nie en hou eenvoudig aan om haar klein Lettie te noem.

“Ek lyk … groot.”

“Is dit nie wat jy wou hê nie?” sê Mammie en lag. “A dinner dress to make you look grown-up?”

Sy het inderdaad vir Mammie gevra om vir haar ’n “grootmensrok” te maak vir die aandpartytjie wat een van haar klasmaats die naweek hou. Maar sy het nooit gedroom dat ’n rok en hoëhakskoene só ’n verskil kan maak nie. Sy is gewoond om haarself in ’n skooluniform te sien, die gestreepte kleurbaadjie en wit hemp en das, die dik swart kouse en lelike swart veterskoene, haar blonde hare in twee kort, vet koeksister-vlegsels, haar een skouer altyd effens skeef getrek deur die swaar skoolkoffer vol boeke. Of anders naweke in Bobby socks en plat skoene en ’n gemaklike romp en ’n Sloppy Joe-oortrektrui, of in een van die langbroeke waarvan sy so baie hou en wat ouma Trui steeds so diep ongelukkig maak. Dis die Colette wat sy ken, met wie sy tuis voel, ’n skoolmeisie wat tussen ’n skare ander skoolmeisies sal wegraak.

En nou staan hier ’n vreemde jong vrou voor haar, in ’n rok van glansende middernagblou satyn met ’n stywe bolyfie – wat haar borste in ’n nuwe inklimgordel-buustelyfie soos twee tregters laat lyk – en ’n romp wat oordadig wyd uitklok van die perdebymiddeltjie af tot laag teen haar kuite. ’n Lieflike jong vrou, dit kan sy nie ontken nie, maar bowenal ’n onbekende jong vrou. Haar enkels lyk ballerinadun in ’n paar van Mammie se blinkswart hakskoene, haar nek lank en skraal en vreeslik wit teen die donkerblou satyn. Veral noudat Mammie haar hare oplig en teen haar agterkop stapel.

“Hmm, ek dink ons moet dit krul en vassteek, wat dink julle? En daardie nek kort iets. ’n Stringetjie pêrels?”

“Nee, ek dink nie so nie,” keer Colette, haar stem amper paniekbevange, en skud haar kop om haar hare weer tot op haar skouers te laat val. “Ek wil nie só anders lyk dat die kinders in my klas my nie môreaand herken nie.”

“Jy’s nog dieselfde Lettie-lief,” troos Mammie. “Net mooier en groter. Wag, ek dink ons kan die middellyf nog so ’n klein bietjie invat.” Mammie knyp aan die materiaal en vra vir Sina om haar speldekussing op die dressing table aan te gee.

“Nee, asseblief, Mammie, ek voel klaar of ek nie behoorlik kan asemhaal nie.”

“Ek het ook so gevoel toe ek die eerste keer ’n steppien gedra het. Jy sal gewoond raak daaraan.”

“Ek weet nie hoe ek môreaand enigiets geëet gaan kry nie!”

“Het jy dan nie geweet nie?” terg Mammie. “Deel van die doel van ’n steppien is om meisies te dwing om soos voëltjies te eet. Kyk, hier’s nog so ’n halwe duim speling om die middel …”

“En as ek ’n halwe pond optel, sal ek nooit weer my dinner dress kan dra nie, dan was al Mammie se moeite verniet!”

“Jy’s nie veronderstel om ’n halwe pond op te tel nie,” terg Mammie weer. Hoewel iets in haar stem vir Colette meer soos raas as soos terg klink. “Nie tot jy eendag my ouderdom is nie. Ai, wat ek darem sal gee om weer so ’n perdebylyfie te hê …”

“Toe Mammie jonk was, was perdebye nie in die mode nie. Julle flappers wou plat en regaf wees. Ag, hemel, ek wens ek kon eerder ’n flapper wees. Kyk net hierdie belaglike punte wat my brassière maak!”

“Ons moes ook maar in stilte ly om so plat en regaf te wees. Borste styf vasbind, alles vasbind, dis nie ’n grap in die bloedige son van Afrika nie.” Mammie kry ’n veraf trek in haar mooi blou oë. “Nee, dit was nog nooit ’n grap om ’n vrou te wees nie. Veral nie in Afrika nie. Of wat sê ek, Sina? Kom ons los maar die halwe duim vir haar hier om die middel.”

“Nes Miesies daar sê.” Sina knik ’n paar keer vinnig. Colette wonder waaroor sy so innig saamstem, oor die lot van vroue in Afrika, of oor die halwe duim speling om die middel. Dan kyk al drie van hulle gelyk na die radio langs die dressing table, want die Andrews Sisters en Danny Kaye het daardie verspotte liedjie “Bongo, Bongo, Bongo” begin sing wat Mammie en Colette altyd laat lag.

“Draai gou harder, Sina,” beveel Colette en swaai haar lyf op die maat van die musiek en voel hoe die wye rok om haar bene swiep, tog te mooi lyk sy so dansend in die spieël, ai, sy hoop daar word môreaand darem ook ’n bietjie gedans op daardie partytjie. “So bongo, bongo, bongo, I don’t wanna leave the Congo,” sing sy en Mammie vrolik saam met die Andrews Sisters, en selfs Sina, wat steeds nie eintlik Engels praat nie, val in toe hulle by “oh no no no no no” kom en trek haar rug hol en knak haar knieë om haar wikkelende boude te laat boep staan. “I’m so happy in the jungle,” sing al drie uit volle bors saam.

“Vergeet van die Andrew Sisters, hier kom die Cronjé Girls!” roep Mammie uit.

Colette hap kortasem na lug. “Ek voel soos Sneeuwitjie toe die heks daai stywe lint om haar middel vasgebind het. Kan ons nie eerder die materiaal bietjie uitlaat en dan dra ek dit sonder die steppien nie?”

“A nee a, Colette,” sê Mammie streng. “Die hele idee van Dior se New Look is dat die middel so klein as moontlik moet wees en die heupe so wyd as moontlik. Anders is dit maar net die gewone Old Look wat ons dwarsdeur die oorlog gedra het.”

“As ek geweet het ek sal so moet ly vir die New Look, het ek eerder by die oue gebly.” Nou het sy te ver gegaan, kan Colette dadelik aan haar ma se gesig sien. “Ek kla nie oor die rók nie, Mammie, dis sowaar die mooiste rok in die Kaap, dis net die bloeming steppien wat my onderkry. Voel of al die suurstof na my brein afgesny word.”

“As ’n meisie só mooi lyk, het sy nie ’n brein ook nog nodig nie.”

En weer eens vermoed Colette dat daar ’n wrede waarheid agter haar ma se spottende woorde wegkruip. Dat haar ma vir haar iets probeer meedeel, maar nie weet hoe om dit te doen nie.

“Deddie sê met my brein hoef ek nie té haastig te wees om te trou en kinders te kry nie.”

“Aag, jong, hy’s maar net bang vir die dag wanneer sy oogappel ’n ander man bo hom gaan verkies. Soos enige pa.”

“En Ma? Wil Ma dan nie hê ek moet verder gaan leer ná skool nie?”

Haar ma bly haar ’n antwoord skuldig, want op daardie oomblik hoor hulle hoe Ouboet by die voordeur inbars, in die portaal opgewonde na hulle roep en by die trap ophardloop na die boonste verdieping. “Ma? Colette? Is hier dan nie mense in hierdie huis nie?” Dan verskyn hy in die deur van die slaapkamer met ’n glimlag wat sweerlik tot by sy agterkop strek. “Middag, Ma! Middag, Lettie!”

“Middag, Kleinbaas,” sê Sina en gee haastig pad uit die vertrek, met skuifelvoetjies by die trap af, ondertoe, kombuis toe. Vir Colette en Kleinboet noem sy op die naam, met hulle maak sy grappies of raas oor hulle slordigheid, maar Ouboet was nog altyd Kleinbaas, vir hom behandel sy met ’n oordrewe respek, dalk selfs iets soos vrees. Toe sy pas van die plaas af gekom het, het sy vir Deddie Baas genoem en vir Mammie Noi, maar Mammie het haar geleer om eerder Master en Miesies te sê. Klink darem nie so kru nie, meen Mammie. Deddie skud sy kop geamuseerd en vra wat maak ’n Engelse Master minder kru as ’n Afrikaanse Baas?

Ouboet kry sy ma om die middel beet en lig haar van haar voete af en swaai haar in die rondte.

“A nee a, Ouboet, moenie vir jou laf hou nie, wat gaan aan met jou?” protesteer Mammie laggend, haar oë op skrefies van pure plesier. Sy is waarskynlik jare laas deur iemand opgetel.

“Wat gaan aan met my? Dis die gelukkigste week van my lewe, dis wat aangaan met my! Die regering het geval, ons mense is aan bewind, alles wat ek wou hê, het Woensdag waar geword!”

“O, jy’t nog nie oor die verkiesing gekom nie.” Mammie hou aan met glimlag, maar dis nie meer so ’n lekkerkry-glimlag nie.

“Dis nie iets waaroor mens sommer net so kom nie. Dis Geskiedenis, Ma! Geskiedenis met ’n hoofletter! Ons vier nou al twee nagte en twee dae lank aanmekaar fees op Stellenbosch.”

Hy val op die dubbelbed neer en grinnik vir hulle met sy hande agter sy kop gevou. Hy het glad nie eens haar New Look opgemerk nie, besef Colette. Hy sien haar waarskynlik nie eens ráák nie, skoon beswymeld van vreugde soos hy daar lê, amper soos iemand wat dronk is. Toe hy hulle Woensdagnag van Stellenbosch af bel, nadat die uitslae van die laaste vyf kiesafdelings bekend gemaak is en die ganse land met verstomming besef het dat doktor Malan se Herenigde Nasionale Party en die Afrikanerparty die verkiesing gewen het, het hy ook dronkerig geklink. Vermoedelik meer van blydskap as van drank, sy weet mos haar oudste broer is nie ’n drinker nie, maar op so ’n Geskiedkundige nag was enigiets seker moontlik. “Ons dans in die strate van Stellenbosch!” het hy oor die telefoon uitgeroep, sy stem hees gejuig. Dit was vir Colette moeilik om haar slim en sedige broer in sy gestreepte Matie-baadjie en sy netjiese das dansend in ’n straat voor te stel. Selfs op ’n dansbaan dans hy nie graag nie. “Smuts is in sy eie kiesafdeling op Standerton verslaan! Is dit nie wonderlik nie, Pa?”

“Wie sou dit nou kon dink,” het Deddie geprewel.

“Ek het julle mos gesê ons gaan wen en julle het almal gedink ek is van my kop af!”

Deddie se vreugde was net so diep soos Ouboet s’n, maar meer beskeie, stiller. Skoon bewoë van blydskap, dis hoe haar pa daardie nag vir Colette gelyk het. Sy was saam met hom bly, en die volgende dag was die opgewondenheid van baie van haar klasmaats aansteeklik, en sy het saam met hulle gejubel oor “ons mense” gewen het. Oor die Afrikaanse volk ’n Afrikaanse regering gaan kry. Is dit nie wonderlik nie?

En tog is sy heeltyd bewus van iets wat haar blydskap belemmer. Soos wanneer ’n splinter in jou voet vassteek, ’n byna onsigbare klein voorwerpie wat jou verhinder om behoorlik te loop. Haar splinter is die wete dat almal in haar gesin nie ewe gelukkig is oor hierdie Geskiedkundige oorwinning nie.

Mammie, vermoed sy, het vir generaal Smuts se Verenigde Party gestem. Natuurlik sonder dat sy dit ooit teenoor haar man sal erken. En Kleinboet het laas naweek luidkeels aangekondig dat dit domonnosel sal wees om vir doktor Malan te stem, ons kan nie die ander bevolkingsgroepe almal eenkant toe stoot nie, dit sal ’n ramp veroorsaak. Wat amper tot ’n vuisgeveg tussen hom en Ouboet gelei het. Ons moet eers ons eie mense help, het Ouboet ontstoke uitgeroep, voordat ons ander mense kan help! Mammie moes vrede maak, soos altyd.

“Waar is Kleinboet?” vra Mammie besorg. “Het julle nie op dieselfde trein gekom nie?”

“Wie wil nou saam met volksverraaiers treinry? Ek grap sommer, Ma,” voeg Ouboet vinnig by, maar Mammie lyk nie geamuseerd nie. “Ons het saamgery tot in die stad, maar hy wou eers by een van sy Engelse nooiens gaan vlerksleep. Soek seker ’n skouer om op te huil.”

“Haal jou voete van die bed af,” sê Mammie, “jy bederf die bedsprei.”

Kleinboet het nie Woensdagnag gebel nie. Eers gistermiddag, terwyl Colette verwonderd deur die koerante blaai – Die Burger wat Afrikaanse lesers se vreugde uitbasuin en The Argus wat soos ’n begrafnisrede klink – het hy van hom laat hoor. Welwetende dat sy pa by die hospitaal sou wees, dat net die vroumense smiddae by die huis is.

“Dis ’n geheime oproep dié,” het hy met ’n dramatiese fluisterstem aangekondig toe Colette die foon antwoord. “Ek bel van ’n ondergrondse skuilplek waar al Smuts se ondersteuners op Stellenbosch moet laaglê om nie op straat gestenig te word nie. Ek weet nie of ek dit durf waag om die naweek huis toe te kom nie. Sal jy jou lelike swart skoolkouse by jou kamervenster uithang as jy dink dis veilig?”

Wat beskou hy as veilig? wou sy giggelend weet. Hy gee nie om as sy pa vir hom preek nie, het hy haar verseker, hy wil net nie hê sy broer moet heeltyd aangaan oor watter wonderlike toekoms nou op die Afrikaner wag nie. Want dit gaan nie so wonderlik wees nie, het hy voorspel. Daar is iets kleinliks in die siel van die Afrikaner wat besig is om kop uit te steek, het hy gesê, skielik ernstig.

“Is jy dan nie ’n Afrikaner nie?” het Colette gevra.

“Natuurlik. Dis hoekom hierdie kleinlikheid my so bang maak.”

Dis toe die beeld van ’n splinter die eerste keer by Colette opgekom het, ’n splinter wat ’n sweer kan veroorsaak as mens nie betyds daarvan ontslae raak nie.

Sy kyk na Ouboet wat steeds uitgestrek op die bed lê – met sy voete darem nou op die vloer – en kou aan ’n appel wat hy uit sy maroen streepbaadjie se sak gehaal het. Omdat sy ses jaar jonger as hy is, kon hulle nooit werklik maats word nie, maar kleintyd het sy hom soos ’n onbereikbare storieboekheld bewonder. Sy blou oë, dieselfde kleur as haar en Mammie s’n, was vir haar soveel mooier as haar en Mammie s’n, soveel treffender saam met sy swart hare en sy swart wenkbroue. Maar dit was voordat daardie koue lig in sy oë begin skyn het. Wanneer het dit gebeur? wonder sy nou. Wat het daardie lig aangeskakel?

“Het jou ma jou nooit geleer dat jy horings gaan kry as jy lê en eet nie?” vra sy voordat sy terugdraai na die spieël.

Hy kom oordrewe verbaas regop. “En wie is hierdie beeldskone jong dame wat my so vrypostig aanspreek?”

Nou ja, as doktor Malan se oorwinning haar ouboet in ’n grapjas gaan verander, sal dit miskien tog iets wonderliks wees. Elke gesin het ’n nar nodig. En dit klink hoeka of haar jonger broer moeg geword het van hierdie rol.

“Ons Afrikaners was edel toe ons die Boereoorlog verloor het,” het Kleinboet gister oor die foon gesê. “Maar nou het ons gewen. En dis baie makliker om ’n edel verloorder te wees as ’n edel oorwinnaar. Jy sal sien, sussie, jy sal sien.”

Sy het gewag vir die onvermydelike grappie, die punch line wat haar moes laat lag, maar al wat sy kon hoor, was iets tussen ’n steun en ’n sug. Amper ’n dierlike geluid, anderkant woorde, soos ’n soldaat op ’n slagveld as hy besef hy is gewond. Sy het gewonder of sý nou veronderstel was om iets snaaks te sê, maar toe vra hy haar om vir Mammie te roep. En toe jaag Mammie haar kombuis toe, om vir Sina te help groente skil, voordat sy met hom begin praat. “Van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg, Colette.” En Mammie het dit nie as ’n grappie bedoel nie.

En nog stilte

• Colette Niemand 15/8/2007

To ?

Speak now or forever hold your peace. Waarsku jy my? Wel, ek vind dit interessant dat jy juis dié woorde gebruik, hierdie frase wat aan die trouformulier herinner, want die laaste paar dae tob ek onverpoos oor troues. Myne was ’n haastige seremonietjie in ’n Londense magistraatshof op ’n tipiese Engelse herfsdag, triestig en klam, asof die lae grys lug namens my wou huil. Asof die wolke al die trane wou stort wat ek myself so streng verbied het.

En dis omtrent al wat ek van my huweliksdag onthou. Dat dit gereën het, dat ek wou opgooi, dat ek gewens het ek was in Portugal. Dis nie iets wat ek juis wil oorvertel nie.

Jammer, liefkind, maar dis nog ’n briefie wat jy nie gaan lees nie.

Waarom onthou ek Ouboet se troue soveel helderder as my eie? Omdat dit soos gewoonlik makliker was om ’n toeskouer eerder as ’n deelnemer te wees? Ek weet nie, my ou vuurvissie, ek weet nie.

Maar ek vermoed soms kan stilbly seker ook ’n manier van praat word.

Die blou van onthou

Подняться наверх