Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 11

JUFFROU

Оглавление

Die reuk van bordkryt en blou ink en tienersweet hang swaar in die bedompige klaskamer. Dis die warmste, lomerigste uur van die skooldag, kort voor die laaste klok lui, in die warmste, luiste week van die jaar, die laaste week voor die lang somervakansie.

Die enigste geluide is die gegirts van vulpenne op papier, bladsye wat omgeblaai word, ’n brommer wat hoog in ’n hoek naby die plafon vasgekeer is. Buite, in die bewende wit lig, die jillende stemme van laerskoolkinders wat vroeër mag huis toe gaan. Hier binne so nou en dan ’n selfbejammerende sug van ’n leerling wat half aan die slaap aan sy lessenaar hang, soos ’n drenkeling wat met sy laaste bietjie krag aan ’n drywende plank vasklou.

Siestog, dink Colette, as die hitte vir haar in ’n koel somerrok hier voor in die klaskamer so erg is, hoe ondraaglik moet dit nie vir hulle in ’n skooluniform wees nie. Die stywe dasse en die lang grys sokkies van die seuns, die dik en donker materiaal van die meisies se jurke, die beklemmende veterskoene om sweterige tone en skurwe hakskene. Hierdie kinders van koringplase en plattelandse stofstrate word kaalvoet groot, hulle kan skoenloos deur ’n veld vol duwweltjies draf, soos haar neefs en niggies kleintyd op Somerverdriet, hulle voetsole soos leer gebrei.

Maar hulle moet darem seker meer gewoond wees aan die versengende hitte as hulle jong “Engelse juffrou” wat haar skooljare in ’n milder klimaat deurgebring het. Laerskool aan die reënerige agterkant van Tafelberg, hoërskool in die beskermende bakhand van die moederstad. Soos ’n ma wat oor ’n bord kos blaas voordat sy dit vir haar kind voer, so blaas die sagte seebriese in Kaapstad altyd die kwaaiste hitte weg. Behalwe natuurlik wanneer die Suidoos van agter die berg opstoot om jou heeltemal van jou voete af te waai. Niks moederliks aan die Kaapse dokter nie.

Op sulke snikhete windstil dae tussen die witgeel koringlande is die verlange na Kaapstad soos ’n maagsweer wat haar van binne af verteer. ’n Hartsweer, mymer sy terwyl haar ooglede al hoe swaarder word. Hoewel sy eintlik na veel meer as Kaapstad verlang. Sy smag na kosmopolitaanse wêreldstede wat sy nog net op foto’s gesien het, na oorsese kunsskatte en katedrale waarvan sy nog net gelees het, na vreemde tale en onbekende kosse, na opwinding en avontuur. Storieboekplekke, dis waarna sy al die hele jaar lank hunker, terwyl sy in ’n losieshuis op Piketberg tuisgaan en vir plaaskinders probeer Engels leer.

’n Onverwagse knal ruk haar regop, uit haar dagdrome, terug na die werklikheid van ’n plattelandse klaskamer met prente van Shakespeare en Edna St Vincent Millay en albei die koninginne Elizabeth, die eerste en die tweede, teen die mure geplak. Op die swartbord agter haar, in haar eie netjiese bordkrytskrif, die onderwerp waaroor die standerd- agts vandag ’n paar sinne moet skryf: I shall always remember 1955 as the year when …

“Sorry, Miss Cronjé,” sê ’n gespierde lummel grinnikend in die agterste ry. “I had to make dead this fly.” En terwyl almal onderlangs proes, hou hy sy groot palm met die groenblink brommer wat hy pas vermorsel het na haar toe uit.

Op sulke oomblikke wonder sy waarom sy nog bodder. ’n Jong man soos Leendert van Niekerk, minstens twee jaar ouer as die meeste van sy klasmaats omdat hy al minstens twee standerds gedop het, gaan nooit leer om Shakespeare se taal te waardeer nie. En waarom sou hy ook? Hy gaan binnekort die boerdery by sy pa oorneem, begin vry na ’n meisie van die distrik tot haar maag boep staan en hulle haastig moet trou – moontlik een van die skoolmeisies wat nou hier sit en giggel vir sy streke – en dan gaan hulle saam ’n klomp kinders grootmaak wat oor ’n paar jaar ook in hierdie klaskamer sal sit en vlieë doodklap. Waar sou Leendert van Niekerk en sy toekomstige gesin ooit Engelse gedigte nodig kry? Sekerlik nie in die kerk, die kroeg of die koöperasie nie, en ook nie wanneer hulle een keer ’n jaar op Strandfontein gaan seevakansie hou nie.

“You didn’t have to ‘make it dead’, Leendert,” sê sy. “You could have simply killed it. But please warn me next time you want to kill anything.”

Nou lag die res van die klas hardop, fluister vir mekaar, maak aanmerkings en grappies, ’n algemene oproerigheid wat dreig om handuit te ruk as dit nie dadelik in die kiem gesmoor word nie. “Quiet!” roep sy uit met haar strengste stem, slaan met ’n liniaal teen die tafel, marsjeer soos ’n wafferse sersant-majoor tussen die rye lessenaars. “You have fifteen minutes to finish your essay.” Dis vir haar moeilik om kwaai met die kinders te wees, sy wil hulle nie met vrees beheer soos soveel onderwysers in haar eie skooldae gedoen het nie, sy sou eintlik vreeslik graag wou hê hulle moet van haar hou. Maar in hierdie eerste jaar as hoërskoolonderwyseres het sy gou geleer dat dit bitter moeilik is vir ’n jong juffrou om respek af te dwing as daar nie ook ’n mate van vrees betrokke is nie. Al is dit dan nou net die ewige dreigement van die skoolhoof se kantoor. Die swiep van sy kweperlat en die dowwe slag wanneer sagte boudvel getref word, dáár’s nou vir jou klanke wat respek afdwing. Nog een van die vele ontnugterings van die onderwys vir Miss Cronjé.

Nie dat sy danig hoë verwagtinge gekoester het nie. Om eerlik te wees, het sy eintlik maar ’n “Engelse juffrou” geword omdat sy nie geweet het wat anders om te word nie. Behalwe huisvrou en moeder – en daarvoor is sy nog nie gereed nie. Eers wil sy iets van die wyer wêreld sien. Maar die enigste min of meer respektabele werk wat ’n jong meisie met universiteitsopleiding (B.A. Manvang, soos dit op Stellenbosch genoem word) deur die wye wêreld kan laat reis, is die opwindende nuwe beroep van lugwaardin – en dis helaas nog nie respektabel genoeg in haar ouers se oë nie. Toe word sy maar ’n juffrou, terwyl sy spaar om die wye wêreld oor ’n jaar of drie te gaan verken.

Soveel makliker om te spaar op die platteland ook, weg van versoekings soos winkels met die jongste modes en plate van The Platters of Bill Haley en sy komete, ver weg van onweerstaanbare bioskoopsale soos die Alhambra of die Plaza, van musiekkonserte met oorsese kunstenaars en onvergeetlike toneelstukke soos Yerma met Lydia Lindeque. Hier’s niks om jou geld op uit te gee nie, behalwe buskaartjies na Kaapstad elke vakansie.

Soms, net soms, wanneer die stof en die stilte en die honger vir haar ma se kos te swaar word om te verduur, vlug sy ook vir ’n naweek huis toe.

Haar pa se familieplaas is iewers in hierdie geweste, maar sy was nog nooit honger genoeg om vir ’n naweek dáár te gaan kuier nie. Vandat haar oupa en ouma kort na mekaar dood is, gaan haar pa ook nie eintlik meer plaas toe nie. Oom Kleingert se seun, Gerhard, wat blykbaar sy pa se bewondering vir Hitler deel, het die boerdery oorgeneem en ’n spoggerige supermoderne platdakhuis vir hom en sy gesin laat bou. So Spaanserig, volgens tannie Heilige Wilma, tog te pragtig, hoor. En die beskeie familie-opstal wat amper honderd jaar oud is, waarin haar pa en vele ander Cronjés gebore is, staan nou leeg met gebreekte ruite en gapende deure en vlermuismis op die vloere. So het Deddie kom verslag lewer nadat hy die laaste keer op Somerverdriet was.

Colette het besluit sy wil dit eerder nie sien nie. Van haar aangenaamste kleintydherinneringe kom uit daardie huis met die plat pampoene op die sinkdak. Die breë stoep met die diamantvormige gekleurde glasvenstertjies in die symure, die skitterende verskuiwende patrone wat op die blink gepoleerde vloer gevorm word wanneer die son deur die glas gloei, groen en geel en blou en rooi …

Sy marsjeer met regop rug en streng blik tussen die lessenaars en probeer haar gedagtes hokslaan, soos skape terug na die kraal in haar kop jaag, terwyl sy hier en daar iets oor haar leerlinge se skouers lees. Dis om van te ween. Nie net die verminking van Shakespeare se taal nie – daaraan behoort sy teen dié tyd gewoond te wees – maar hoe klein hulle wêreldjie is, hoe min enige internasionale of selfs nasionale nuus hulle raak. Sy het vroeër die week ’n stapel ou Time- en Life-tydskrifte klas toe gebring, in die vae hoop dat ’n paar van hulle geprikkel sou word om oor iets belangrikers as ’n skooluitstappie na Zebrakop of ’n rugbywedstryd teen ’n buurdorp te skryf. Nou beskaam selfs hierdie vae hoop. Sover sy kan agterkom, was daar vanjaar net een gebeurtenis buite Piketberg wat op sommige ’n indruk gemaak het: Drie meisies en een van die seuns sal 1955 altyd onthou as die jaar toe die tienerheld James Dean so tragies dood is in ’n motorongeluk.

Nie dat Miss Cronjé immuun was teen die dierlike aantrekkingsdrag van dié jong rolprentster nie. Natuurlik nie. Een van die redes waarom sy haar nou al maande lank die hof laat maak deur ’n jong boertjie van die distrik, is juis omdat hierdie Janneman Diederiks haar aan James Dean laat dink. Groter, growwer, meer Afrikaans as Amerikaans, maar daar is ongetwyfeld ooreenkomste. Benewens hulle voorletters en ’n voorliefde vir vinnige motors, deel die twee JD’s ’n soort voor-op-die-wa-seksualiteit wat Miss Cronjé se wange warm maak. En meer verborge dele van haar lyf ook.

Sy voel aan dat sy dopgehou word en vang Leendert se oog, sy blik ’n bietjie te uitdagend vir haar gemak, asof hy raai in watter rigting haar gedagtes nou weer gedraai het. Leendert is ’n agtienjarige kêrel wat elke oggend moet skeer, en hy is lank nie die enigste hardebaard in hierdie standerdagt-klas nie. Selfs in die jonger klasse is daar seuns van veertien, vyftien, wat moontlik meer seksuele ervaring as hulle kamtig gesofistikeerde Engelse juffrou het. Is dit die uitgestrekte blou lug en die eindelose koringlande wat die knape so onbelemmerd laat groei, sulke groot voete, sulke gespierde bobene, die harde boude wat die grys skoolbroeke so styf laat span? Miskien die hitte wat hulle so vroegryp hitsig maak? Of dalk net die aanhoudende nabyheid van diere, skape, beeste, perde, bokke, varke, honde, katte, die gedurige gepaar en gebaar, gepaar en gebaar, van geboorte tot dood?

“Anneke!” Sy hou haar hand uit vir die skelm briefie wat Anneke Benade vir Leendert probeer aangee. Anneke oorhandig die flenter papier pruilend. Miss Cronjé prop dit in haar rok se borssak sonder om dit te lees. Dis erg genoeg dat sy hulle swak opstelle moet lees. Die hemel behoed haar teen hulle intieme liefdesverklarings en ander gekrabbel. “Come and see me after class if you want it back.”

Die meisies lyk net so ryp, Anneke en ’n paar ander al amper oorryp soos waatlemoene wat op die land agtergebly het, die skuddende borste wat uit die skooljurke wil bars, die swaaiende heupe en plomp wit dye, maar hulle is darem meer bedees as die seuns. Of miskien net meer skynheilig. Hulle word so grootgemaak, hierdie toekomstige volksmoeders. Preutsheid is hulle leuse, preutsheid en vroomheid en sedelikheid en al die ander heide van ordentlikheid, ’n hele landskap van bloemryke skynheiligheid, maar daar onder draai die duiwels rond. Daar onder, dáár onder, woel die wellus. Sy wat Miss Cronjé is, self ook ’n toekomstige volksmoeder, wéét mos.

Vat nou maar die mooie Marietjie Pretorius in die voorste ry. Die ene sestienjarige maagdelikheid met haar bleek vel en blosende wange en lang swart vlegsel, jy sou sweer sy’s Sneeuwitjie soos sy daar diep ingedagte vooroor gebuig sit en krabbel. Maar wat Marietjie bowenal van die jaar 1955 sal onthou, as Miss Cronjé moet oordeel aan haar opstel tot dusver, is ’n vakansieromanse op Dwarskersbos. Intieme wandelinge saam met ’n aantreklike kêrel terwyl die son oor die see sak. ’n Swymelende beskrywing van die sonsondergang (Marietjie het literêre pretensies, het Miss Cronjé al agtergekom), elke noun bygestaan deur minstens drie adjectives soos ’n bruid met te veel strooimeisies, and then …

Marietjie se bleek hand is in die pad, Miss Cronjé kan nie verder lees nie. Maar dis hoogs onwaarskynlik dat Marietjie enige aksie ná sonsondergang sal beskryf. Knyp die kat in die donker, dis ’n gesegde wat Marietjie en haar meisiemaats maar te goed ken. Nee wat, Marietjie se opstel sal wees soos die liefdesromannetjies waarop sy so versot is, vol hunkerende erotiese suggesties, maar enigiets verder as ’n kuise soen word eenvoudig met drie klein kolletjies aan die verbeelding oorgelaat. Puntjie, puntjie, puntjie.

Ai tog, dink Miss Cronjé as sy haar eie tienerjare aan ’n vooraanstaande stadskool onthou, genade, hoe óúd laat dit haar nie voel nie. Hoor jy die magtige dreuning van hormone? Oor die veld kom dit wyd gesweeeef. Dít behoort die nie-amptelike skoollied van Afrikaanse hoërskole te wees. Maar toe sy op hoërskool was, ses, sewe jaar terug, was sy tog meer bestand teen die golwe van wellus wat dreig om haar hier in haar plattelandse bannelingskap van haar voete af te slaan.

Of dalk was dit net omdat sy destyds nog groen koring was. Die afgelope maande voel sy geil, ryp gebak deur die son, asof haar are wil oopbars. Op die vooraand van haar drie-en-twintigste verjaardag voel die Engelse juffrou reg om geoes te word. Janneman Diederiks kan maar sy sekel kom swaai. A nee a, betig sy haarself, waar kom hierdie stuitigheid vandaan?

Wat sal Mammie sê!

Want die feit dat sy nie met Janneman Diederiks wil trou nie – nog minder met enige van die ander boertjies wat vanjaar na die jong blonde skooljuffrou in die losieshuis kom vry het – word vir Mammie ’n saak van ernstige kommer. Op byna drie-en-twintig behoort ’n meisie se trousseaukis klaar propvol te wees en haar kop kansel toe te staan, dis nou maar hoe dit is, anders bly sy altemit op die rak agter. En wat wil Colette nou meer hê as ’n oulike boerseun uit ’n vooraanstaande familie met ’n pragtige plaas? As hy boonop ’n bietjie boekgeleerdheid ook het, soos Piketberg se eie James Dean, ’n klavier of ’n kitaar kan tokkel, ’n lagie “fyn beskawing” soos ’n parfuum oor homself kan spuit, well, really, Colette, what more do you want? vra Mammie met groeiende ongeduld.

En Colette weet nie wat om te antwoord nie. Sy weet net sy wil méér hê. Meer as wat sy hier kan kry. Miskien, as sy eers oorsee was, as sy ’n wyle gereis het en iets van die wêreld gesien het, vreemde tale gehoor het en onbekende geure geruik het en eksotiese smake geproe het, miskien sal sy dan tevrede wees om met ’n jong boer soos Janneman Diederiks te trou en op Dwarskersbos te gaan vakansie hou? Maar nie nou al nie, Mammie, verstaan tog, asseblief?

“Wakey, wakey, Leendert!” Sy klap met haar liniaal teen Leendert van Niekerk se lessenaar en hy ruk vervaard regop, wat weer eens ’n rimpeling van giggelende genot deur die klas laat trek.

“But I’m finished, Miss!” kla hy.

“I have finished,” korrigeer sy outomaties. Vir wat bodder sy nog?

Nie nou al die huweliksbed nie, Mammie. Dáárvan is sy seker. Waarvan sy glad nie meer seker is nie, is of sy haar Afrikaanse James Dean se smeulende seksualiteit veel langer sal kan weerstaan sonder om saam met hom in ’n bed te beland. Of dalk nie eens ’n bed nie. Sê nou sy swig een donker nag op die voorste sitplek van sy rooi-en-wit Chevrolet Bel Air met die afslaandak en die punt-in-die-wind stertvinne? Ai, ai, ai, die skande. Sy kry al hoe warmer en die leerlinge vroetel en fluister al hoe meer agter haar rug. Ook maar goed die Kersvakansie begin volgende week. Dankie tog sy kan weer ’n slag stad toe vlug, terug na die beskerming van haar ordentlike familie, weg van die hitsigheid van haar losieshuiskamer en die spulsheid van ’n kêrel met ’n sportmotor.

Sy tel ’n Time van haar tafel op en wikkel dit soos ’n waaier voor haar gloeiende gesig. Calm down, Miss Cronjé. Op die voorblad pryk prinses Margaret se bloesende portret in pastelkleure geskilder, nog ’n jong vrou wat vanjaar gepla is deur haar hormone – maar op die ou end tog die tradisionele, rasionele weg gekies het en vir Group Captain Peter Townsend afgesê het. Siestog.

’n Vragmotor dreun verby in Van der Stelstraat, genoem na die goewerneur wat drie eeue tevore naby die huidige dorp deur ’n renoster bestorm en byna verpletter is. Nou se dae is daar nie meer renosters in hierdie geweste nie, almal uitgewis deur die boere met hulle roere, die koloniale grootwildjagters, die genadelose mars van die wit beskawing in Afrika. Hoor sy Kleinboet se spottende stem in haar ore? Hier is wel nog ’n magdom slange en skerpioene, harige spinnekoppe en vieslike vlieë en ander goggas wat die Engelse juffrou uit die stad tot in haar tone laat gril. Iewers het sy gelees dat daar nie slange in Engeland is nie. Of is dit Ierland? Hoe wonderlik moet dit nie wees om op ’n sagte groen slanglose eiland te lewe nie …

So droom Miss Cronjé die laaste martelende minute van die skooldag om terwyl sy teen die muur agter in die klaskamer leun. Oor haar linkerskouer gluur Elizabeth I; oor haar regterskouer die hedendaagse Elizabeth, ousus van die prinses met die hormone; voor haar kriewel die leerlinge soos perde wat die stal geruik het, niks kan hulle nou meer beteuel nie. Slegs Samuel Levy, die skrander Boerejoodjie twee rye van agter, buig steeds met volle konsentrasie oor sy opstel. Omdat hy erg bysiende is, ondanks sy swartraambril, raak sy lang neus amper aan sy lessenaar, wat dit moeilik maak om te sien waaroor hy so vlytig skryf. Miss Cronjé skuifel ongemerk nader. Hy is die enigste kind in die klas wat die Rooitaal met gemak kan rondgooi. Wel, hy sou kon, maar hy is heeltemal te skugter en te lomp om enigiets te gooi, nie ’n bal nie en ook nie ’n taal nie.

Dan merk sy twee woorde op wat soos vlamme van die papier af spring en sy deins terug asof sy bang is dat sy gebrand sal word. Emmett Till, lees sy. En, met ingehoue asem, ’n paar reëls laer: gouging out his eye before shooting him. Byna aan die einde van die bladsy, net voordat Samuel Levy omblaai, kry sy dit reg om ’n volle sin te lees. His mother decided to have an open coffin funeral because she wanted the world to see what white men had done to a 14-year-old black boy.

Hier kom moeilikheid, voel Miss Cronjé aan haar bloed wat skielik hoorbaar deur haar kop suis. Sy weet wie Emmett Till is. Was. Sy het iewers gelees van die Negerseun wat in Mississippi deur wit mans gemartel, vermoor en in die Tallahatchierivier gegooi is omdat hy glo op ’n parmantige manier met ’n wit vrou gepraat het. Nie in die Time-eksemplare wat sy klas toe gebring het nie, nee, sy weet nie of Time se gerespekteerde joernaliste enigsins oor Emmett Till se moord verslag gedoen het nie. Waarom sou hulle? Dis die soort ontstellende berig wat wit middelklas-lesers in Amerika nie werklik wil lees nie. In Suid-Afrika nog minder, natuurlik.

Dis nie ’n mooi storie nie, dis ’n stink storie, en waarom sou die skrander en skugter Samuel Levy nou so ’n vrot eier hier onder haar neus kom oopbreek? Dit onthuts haar, dit ontstig haar, dit ontstel haar, nie omdat dit in die verre Mississippi gebeur het nie, maar omdat sy haar kan voorstel hoe maklik dit hiér kan gebeur. Piketberg of Potchefstroom, Pretoria of Port Elizabeth, van die stowwerigste gehuggie tot die grootste stad, oral in hierdie land is daar woedende wit mans wat niks daarvan sal dink om ’n hansgat hotnotjie of ’n kordaat kaffertjie op die wreedste moontlike manier te straf nie.

Die Nasionale Party se beleid, hierdie aanhoudende opeenhoping van wette, wette, wette wat apartheid genoem word, dis ook ’n eier met ’n reuk wat al hoe meer verdag word. Die Verbod op Gemengde Huwelike en die Ontugwet en die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet en die wet wat strande en sportgeriewe en bioskoopsale skei en die wet wat Bantoes dwing om na aparte skole te gaan en die onsmaaklike manier waarop die regering besig is om die Senaat te vergroot sodat Kleurlinge van die Kaapse kieserslys verwyder kan word en, en, en, alles in skaars sewe jaar! En met dié dat die bejaarde doktor Malan nou opgevolg is deur die vurige Leeu van die Noorde, noudat Strydom baas van die plaas geword het, gaan die eiers sweerlik net nog vrotter word.

Wáár gaan dit eindig? wonder Miss Cronjé in haar stinkwarm klaskamer met ’n hart wat al hoe wilder klop en ’n kop wat draai asof sy gaan omkap. As al hierdie eiers gelyk breek, gaan dit mos tot in die hemel geruik word. Sy haal so hard asem dat Samuel Levy oor sy skouer opkyk na haar, sy oë knippend agter sy dik brillense. Verbeel sy haar, of betrag hy haar nou op ’n parmantige manier?

Calm down, Miss Cronjé. Sy het daarvoor gesoek, het sy nie? I shall always remember 1955 as the year when, staan daar in haar eie pedagogiese sierskrif op die swartbord geskryf, gevolg deur drie suggestiewe puntjies soos in ’n goedkoop liefdesroman. Sy hét tog die vae vlammetjie van hoop gekoester dat party van die leerlinge oor iets meer as hulle eie eng plattelandse lewetjies sou skryf. Het sy nie?

En nou voel sy asof sy ’n brandende vuurhoutjie in ’n hooimied laat val het. Die vlamme lek hoog die lug in, niks wat sy daaraan kan doen nie, behalwe om hulpeloos toe te kyk en te wonder waar dit gaan eindig.

Sy sluk swaar aan haar spoeg en knik vir Samuel Levy, byna ongemerk, ’n suggestie eerder as ’n werklike beweging van haar kop. Nie om te sê sy stem saam met hom nie, eerder ’n bedekte waarskuwing. Trap in jou spoor, Samuel, wil sy hom meedeel, want van hierdie oomblik af gaan ek jou dophou. Sy staar stip na die blink lagie sweet tussen sy sensuele bolip en sy neus, na die ernstige knippende oë agter die swaar swart brilraam, na die skraal vingers wat die pen vasklem. Hy is al ’n jaar lank in haar klas, maar dis die eerste keer dat sy hom werklik sién.

Dan stap sy vinnig terug na haar tafel. Nog net twee minute voordat die klok lui. Sy klap haar hande om die onrustige klas tot bedaring te bring. Sy wonder of Samuel weet van Rosa Parks – van wie sy self laas week eers gehoor het – ’n Negervrou van Montgomery, Alabama, wat vroeër die maand geweier het om haar sitplek in ’n bus aan ’n wit man af te staan. ’n Eenvoudige gebaar van ’n moeë werkende vrou, maar weer eens ’n klein vlammetjie wat ’n hooimied aan die brand gesteek het. Die Negers van Alabama is almal aan die staak en die oproerigheid is besig om na die res van die land te versprei. En as so iets hier moet gebeur? As Mammie se dierbare Sina van Somerverdriet op ’n dag moet weier om Pappie se hemde te stryk of beddens op te maak of skottelgoed te was omdat sy doodgewoon moeg is? As al die ander Sinas in al die ander wit huise, van Piketberg tot Potchefstroom, opstandig moet raak, oproerig, rebels?

Nee, sy moet wegkom, besluit Miss Cronjé toe die laaste skoolklok van die dag oplaas lui om haar en haar leerlinge se marteling te beëindig. Sy moet na ander lande reis, wyer gaan kyk, meer gaan ervaar, sodat sy kan verstaan wat in die wêreld aangaan. Hoe gouer, hoe beter. Staak die gevryery met plaaslike boertjies. Sê vir Janneman Diederiks af voordat sy op die sitplek van sy Chevrolet Bel Air swig. Anders gaan sy hier vasgevang word. Anders staan sy binnekort voor die kansel met ’n broodjie in die oond. Die broodjie én die oond versteek deur ’n wye wit rok.

“Miss, can I have my paper, please, Miss?” vra Anneke meteens vlak voor haar terwyl die leerlinge in ’n ongeduldige bondel by die deur uitbeur.

“Your paper?” Sy onthou die onderskepte briefie in haar rok se sak, haal die verkreukelde stukkie papier uit en oorhandig dit afgetrokke aan hierdie kind wat waarskynlik lank voor haar Engelsjuffrou ’n broodjie in die oond gaan hê. Anneke lyk ’n oomblik oorbluf omdat sy nie gestraf word nie, maar prop dan die briefie bo by haar skooljurk in en wikkel haar stewige boude om so gou moontlik te ontsnap.

Nee, Mammie, ek gaan nie trou en kinders kry voor ek oorsee was nie, nee, nee, nee, prewel Miss Cronjé terwyl die agterosse ook uit die klaskamer skuifel. Heel agter is die Boerejoodjie wat haar ’n vreemde kyk gee – parmantig? kordaat? hansgat? – toe hy sy opstel op die tafel neersit, maar sy maak asof sy dit nie opmerk nie. Al word Mammie ook hoe bekommerd dat sy op die rak gaan bly sit. En miskien is dit ook nie só erg nie, bespiegel sy, solank die rak in ’n ander land is. ’n Rak waarop sy ’n vreemde taal kan praat.

Toe maar, Pappie, moenie bekommerd wees nie. Ek het ’n Engelse juffrou geword, ek sal graag ’n Latynse taal ook wil leer praat, maar vir jou sal ek altyd in Afrikaans bly skryf. O soetste taal, jou het ek lief bo alles.

Só moedig Miss Cronjé haarself aan in haar leë klaskamer terwyl sy die frase op die swartbord uitvee. I shall always remember 1955 as the year when …

Re: Kontak!

• Colette Niemand 18/8/2007

To vuurvis@iafrica.com

Dankie vir die bel, my ou vuurvissie. Dit was wonderlik om weer ’n slag jou stem te hoor, so jonk en so asemlooos opgewonde. Dis iets waarvan ek nooit genoeg sal kan kry nie omdat ek so lank daarsonder moes lewe.

Maar wat jy my vertel het, klink nie vir my so wonderlik nie. Probeer tog verstaan. Jy is op ’n ouderdom waar jy sonder te veel wroeging jou hele lewe kan verander, in ’n vreemde land kan gaan woon, ’n onbekende taal kan leer praat, as ’t ware ’n nuwe mens kan word. Ek is op ’n ouderdom waar enige verandering in my saai weeklikse roetine van eet en slaap en lees en stap onthutsend kan wees. Glo my, toe ek so oud soos jy was, het ek nooit kon droom dat ek so ’n vervelige ou vrou sou word nie.

Ek was altyd versigtig – oor wat ek sê en wat ek eet, hoe ek klink en hoe ek lyk, later selfs oor wat ek dink – en mettertyd het die versigtigheid seker maar in verveligheid verander. So geleidelik dat ek dit nie eens agtergekom het nie. Tot ek op ’n dag in ’n spieël gekyk het en glad nie die bang en bejaarde tannie voor my herken het nie.

Maar selfs toe ek jou ouderdom was, toe my skip eindelik gekom het, toe ek die kans gekry het om my hele lewensloop te verander, het my voete so koud geword dat ek dit nie kon doen nie. My hart het noord gemik en my voete het suid geloop. Dis die storie van my lewe.

Nou vra ek jou, lieweling, as ek toe al ’n ou bangbroek was, wat dink jy het ek vyftig jaar later geword? ’n Samoerai? Nee wat, kom ons maak so: ek moedig jou aan om na hartelus te verander, om ’n splinternuwe wese te word as jy wil, en jy gun my my koue voete en my voorspelbare lewe as die weduwee Niemand.

Verlange, ook van Sina en Kolletjie en die res van die Kaapse familie.

Die blou van onthou

Подняться наверх