Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 4

BRIEF UIT PORTUGAL

Оглавление

Dis dalk die belangrikste brief wat sy nog ontvang het. Dis moontlik dat dit alles in haar lewe kan verander.

Maar wat is álles as jy amper vyf-en-sewentig jaar oud is?

Sy staan op van haar bed, moeisaam, want sy was nog nooit so bewus van haar ouderdom soos op hierdie oomblik nie. Langs die venster in haar slaapkamer staan ’n outydse ovaalvormige vollengte-spieël met ’n houtvoetstuk, die glas al ’n bietjie dof, wat sy lank gelede van haar ma geërf het. Of dalk is dit net haar oë wat dof geword het. Elke keer as Mammie vir haar klere gemaak het, kon Colette die resultaat in hierdie spieël bekyk, bewonder, kritiseer. Gewoonlik darem bewonder.

Sy onthou ’n voorskoolse kind met ’n pruik van gladde swart hare en ’n rooi strikkie op die pruik en ’n mond so rooi soos die strikkie geverf, asemloos opgewonde oor die Sneeuwitjie-uitrusting wat sy op haar eerste kostuumpartytjie gaan dra. Sy onthou ’n tiener met krullerige blonde hare en blosende wange in ’n dinner dress wat Mammie uit glimmende donkerblou lap geknip het, Dior se New Look, asemophoustyf om die middel met ’n lang wye romp, haar eerste grootmensrok vir haar eerste aandpartytjie. En sy onthou die rooi-wit-en-blou going-away outfit wat haar soos ’n Franse vlag laat voel het, asof sy nie vir haar geliefdes op die kaai hoef te waai nie, asof sy maar net daar op die dek van die Union Castle-skip kon staan en wapper.

Maar wat sy nou in die spieël sien, is ’n bejaarde vrou met ’n netjiese silwergrys kapsel, geklee in ’n sober swart linnelangbroek en beige toeknooptrui. Winkelklere. ’n Deftige winkel se duur klere. Hoe teleurgesteld sou haar spaarsamige en vlytige ma vandag weer gewees het.

Wat sy veral sien, selfs sonder die leesbril wat aan ’n silwerkettinkie om haar nek hang, is plooie. Diep kepe oral op haar gesig uitgekerf soos ’n boombas wat deur ’n vandaal met ’n mes bygekom is. Swaar sakke onder haar oë. Pap vel onder haar ken.

Wat het geword van Colette Cronjé wat ’n halwe eeu gelede met soveel jubelende oorgawe haar eie lyf in Lissabon ontdek het? Prys my lyf daar’s blye galme. Daar’s ’n roering in die bed daar binne. Daar’s ’n roering in my lyf hier buite. My minnaar word wakker. Dis die mooiste sin wat ek al ooit geskryf het. My minnaar word wakker. Frases uit haar Portugese reisjoernaal, woorde wat soms soos flenters papier teen haar vaswaai, asof sy dit toe tog reggekry het om elke bladsy uit daardie boek op te skeur en in die wind weg te gooi.

Anders gestel, wat bly oor vir die bejaarde mevrou Niemand? Kyk net hoe hang haar skouers. Sy trek haar skouers moedig agtertoe, maar dit laat haar nie jonger lyk nie, miskien net ’n klein bietjie minder bang. Sy soek al soveel jare lank. En noudat die soektog oplaas iets opgelewer het, voel sy te oud en te bang vir al die veranderinge wat dit kan meebring.

En tog.

Op daardie winderige vroegherfsdag vyf maande gelede, toe haar kleinkind haar die eerste keer gebel het, het sy weer begin lewe. Versigtig, voetjie vir voetjie, een skuifelende treetjie agtertoe na alles wat gebeur het, een skuifelende treetjie vorentoe na alles wat opnuut moontlik geword het, agtertoe, vorentoe, ’n wiegende dans op ’n droewige deuntjie. Stadig, stadig oor die klippertjies. Die reën val sulke wonderlike druppeltjies. Afrikaanse fado?

Saudade, het haar Portugese minnaar lank gelede vir haar verduidelik, is ’n soort ewig verlangende liefde. Die liefde wat bly ná die voorwerp van die liefde verdwyn het. Sy was te jonk en ongeskonde om te begryp, maar nadat sy eers haar kind en toe haar kleinkind verloor het, het saudade vir haar ’n lewenslange toestand geword.

Sy draai weg van die ou vrou in die spieël en stap terug na die skootrekenaar op die bed. Staar ’n paar oomblikke hulpeloos na haar hande op die toetsbord, die vel dun en droog soos kreukelpapier, die donker vlekke wat die tyd op die papieragtige tekstuur geverf het, die blou are wat onder die oppervlak uitbult. Hoe het haar dogter dit nou weer in haar afskeidsbrief gestel? ’n Vel is mos maar net die papier waarin die present toegedraai is? Dan begin haar stram vingers beweeg.

Skryf en vertel als, tik sy vir haar kleindogter in Portugal, waar hierdie storie vyftig jaar gelede begin het.

Die blou van onthou

Подняться наверх