Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 7

AFSKEID

Оглавление

Emigreer. Sy het die woord al meermale gehoor, maar die afgelope maand het dit ’n werklikheid geword. Soos ’n oulike troeteldiertjie waaroor jy droom en op ’n dag staan ’n skreeulelike straatbrak wat versorg wil word voor jou agterdeur.

Mammie se broer, Uncle David die dapper soldaat, het teruggekeer van die oorlog met die nuus dat hy na Australië wil emigreer. En van die oomblik dat Mammie sy brief ontvang het tot vanmiddag, terwyl sy saam met hom in die voorkamer sit en wag dat Sina vir hulle tee bedien, vloei Mammie se trane selfs makliker as gewoonlik. Ek was so bang ek gaan hom in die oorlog verloor, snuif sy aanmekaar, en nou verloor ek hom nadat die oorlog verby is.

Ouboet het laas week gesê hy vermoed Mammie sou dit verkies het as haar broer in die oorlog dood is, dan kon sy minstens spog oor watse groot held hy was. In Mammie se vriendekring word emigrasie ongelukkig nie as ’n heldedaad beskou nie – veral nie na so ’n onbeskaafde koloniale outpost soos Australië nie. As dit Engeland was, meen Ouboet, sou Mammie in haar noppies gewees het. Sy en Uncle David met hulle Engelse Father glo mos van kleins af “there’ll always be an England”. En dan neurie Kleinboet die opswepende lied wat Vera Lynn so mooi sing, sy bruin oë blink van die terglus, en Mammie maak asof sy hom nie hoor nie.

Colette dink Ouboet is sommer net onnodig wreed omdat Mammie dwarsdeur die oorlog so ’n ophef gemaak het van “my brave brother the officer” wat teen die Nazi’s baklei. En almal in hierdie huis weet tog Ouboet is gegrief oor die verdomde Engelse al wéér as oorwinnaars uit die stryd tree. Hy praat nie die Duitsers goed nie, skerm Ouboet elke keer as iemand na die gruwels van die konsentrasiekampe verwys, maar onthou net wie het die eerste konsentrasiekampe in hierdie einste land begin.

En wie was die eerste slagoffers van hierdie soort volksmoord.

Dan vlóéi Mammie se trane weer van voor af.

Maar vanmiddag is Ouboet nie hier om nare aanmerkings oor die Rooinekke te maak nie, ook nie Kleinboet om almal te terg nie, hulle is in hulle seunskoshuis in die Paarl, by die skool waar Deddie ook lank gelede was. En Deddie is aan diens by die hospitaal, dus kan Mammie en Uncle David rustig oor ’n koppie tee gesels. “A confidential chat,” dis wat Mammie dit noem, terwyl sy betekenisvol na Colette kyk. Colette maak asof sy nie die betekenisvolle blik raaksien nie. Sy vermy haar ma se oë en kyk af na haar rooi Sloppy Joe-trui en haar sonbruin bene en haar wit Bobby socks, want dis vir haar tog te lekker om langs haar aantreklike offisier-oom in die deftige voorkamer te sit.

“Colette.” Mammie maak keel skoon. “Wil jy nie vir Sina gaan help om die teeskinkbord mooi te rangskik nie?”

“Dis nie nodig om haar te help nie, Mammie het haar mos mooi geleer,” antwoord sy en glimlag vir Uncle David.

“Om te dink jou jongste gaan oor ’n paar maande hoërskool toe, Liz,” sê Uncle David en skud sy kop. “Waar vlieg die jare heen?”

“Vra dit,” sug Mammie en vat aan haar opgedoende blonde hare. Sy het vanoggend meer tyd as gewoonlik voor die spieël bestee om die twee victory rolls bokant haar slape reg te kry, want sy wou op haar beste lyk vir haar “klein boetie”. Sy dra selfs ’n nuwe rok wat sy nou die dag gemaak het, wit kolletjies op ’n donkerblou agtergrond, rayon of viscose of een of ander glansende sintetiese soort lap. Ongelukkig vat dit elke jaar ’n bietjie langer om op haar beste te lyk, het sy gekla terwyl sy haar rooi lipstiek aansmeer.

Colette vergaap haar aan die diep duik wat die kuiltjie in haar oom se ken maak wanneer hy glimlag. Voor die oorlog was hy amper té mooi vir ’n man, soos sy al vir Mammie hoor opmerk het, maar nou het hy rêrig dashing geword. Sy gesig is goudbruin gebrand deur die woestynson in Noord-Afrika en daar’s ’n fantastiese litteken op sy wang wat deur glasskerwe in ’n bomontploffing veroorsaak is en hy stap effens mank omdat sy linkerbeen in dieselfde ontploffing beseer is.

Maar dit bly vreemd om hom sonder ’n uniform te sien, in ’n wit oopnekhemp en ’n gestreepte sportbaadjie en ’n wye beige langbroek met plooitjies onder die belt. Nie dat Colette hom al dikwels in haar lewe gesien het nie, want hy het nog altyd ver van hulle in Natal gewoon. Tussen die Rooinekke, volgens Ouboet. En die laaste paar jaar was hy bloot ’n byna onbekende soldaat in ’n uniform op ’n foto wat Mammie pal in haar handsak gedra het. Dis hoe Colette aan hom leer dink het. The unknown soldier.

“Colette,” herhaal Mammie, dié keer dreigend. “Moenie dink omdat jy amper op hoërskool is, gaan ek jou toelaat om tande te tel as grootmense wil gesels nie. Van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg.”

Sy staan gedwee op en loop sleepvoet kombuis toe.

“Jy was net so nuuskierig toe jy haar ouderdom was,” hoor sy haar oom geamuseerd opmerk.

“En ek is geleer nuuskierige agie brand sy magie. Dis wat Moeder altyd gesê het.”

“And Father said curiosity killed the cat,” sê Uncle David en lag, maar dan kan sy nie verder hoor nie, want die kombuisdeur swaai agter haar toe.

Sy kyk hoe Sina die kookwater versigtig oor die teeblare in die fynste wit porseleinpot skink, presies nes Mammie haar geleer het, en gaps ’n tuisgemaakte gemmerkoekie uit die bakkie wat klaar op die silwerskinkbord met die geborduurde lappie gerangskik is.

“Sie jy ophou om so aspris te wees,” brom Sina met ’n kwaai frons onder haar geblomde kopdoek. “Daar’s winkelkoekies in die kas vir jou. Hierdies het jou magoed gister vir master David gebak.”

“Hierdie hele groot sjokoladekoek het sy ook vir ‘master David’ gebak,” sê Colette en gaan sit met haar boude op die kombuistafel langs die teeskinkbord. Sy sprei haar treinbankgroen dirndl-rompie wyd uit oor die tafel en swaai haar voete in haar wit sokkies verveeld heen en weer. “Jy sou sweer sy dink daar’s nie sjokoladekoek in Australië nie.”

“Nie wat jou ma gebak het nie,” sê Sina baie beslis.

Colette hou vir Sina dop terwyl sy ’n paar laaie ooptrek om teelepeltjies en koekvurkies uit te haal en die silwerteesiffie te soek, so klein en seningrig skraal dat dit moeilik is om te glo sy is al sestien. Die spierwit gestyfde voorskoot wat sy bo-oor ’n verbleikte werkrok vasgebind het, vou amper reg rondom haar dun lyf – nie net ’n voorskoot nie, spot sy self, maar sommer ook ’n agterskoot – en hang tot op haar enkels. Onder die soom steek ’n paar ou wit tennisskoene uit wat lankal te klein geword het vir Colette, maar steeds effens te groot gaap aan Sina se voetjies. En tog, elke keer as Colette onthou hoe tingerig en teruggetrokke die meisietjie was wat hulle drie jaar gelede op Somerverdriet gaan haal het, besef sy dat Sina al ’n hele paar duim moes gegroei het en tien keer meer selfvertroue gekry het.

Partykeer voel dit vir Colette asof Sina – al sal sy seker altyd die kleinste in die huis bly – lankal die oudste in die huis geword het. As sy so vir jou gluur met haar swart kraalogies in haar geelbruin gesiggie, lyk sy sweerlik ouer as Tafelberg, slimmer as Jan Smuts. Boesmanbloed, sê Pappie, gemeng met Slamaaier. En natuurlik iewers langs die pad ook ’n bietjie melk by die koffie.

Colette het maar onlangs eers agtergekom wat Pappie bedoel as hy so van melk en koffie praat. Sekere dinge word eenvoudig nie by die naam genoem nie, dit het Colette ook al op amper dertien geleer, nie in hierdie huis nie. Vermoedelik ook nie eintlik in die res van die land nie.

“Wat wil hy in elk geval in Australië gaan soek?” mompel sy so half vir haarself.

“Dis nie wat hy gat soek nie. Hy’t klaar gesoek, nou gat hy net sy prys haal,” antwoord Sina en begin met ’n onverwagse kekkellaggie sing: “En ek wil ek wil ek wil by my noientjie gaan vry, sy is so mooi en so liefies vir my … Hy’t mos die nursie van daai land in die oorlog leer ken.”

Asof dit alles verklaar.

“Ek dog sy’t ’n ambulans bestuur,” sê Colette, sommer vies vir hierdie onbekende Australiese meisie wat haar oom afgerokkel het.

“Sal nie kan sê nie. Weet net dis iets met ’n hospitaal te doen, dis mos hoe hulle ontmoet het, ná hy seergekry het in die ontploffing.”

Sina staan ’n tree terug om die teeskinkbord met ’n skewe kop te bestudeer. Dan knik sy, blykbaar tevrede dat miesies Lizzie tevrede sal wees.

“Maar vir wat wil hy nou agter haar aan foeter na ’n ander land toe? Hoekom bring hy haar nie hierheen nie?”

“Jou ma-goed sê hy wil ‘’n nuwe lewe in ’n nuwe land’ begin.”

Colette swaai haar hangende voete al hoe driftiger. “Ek het ook gehoor sy sê vir my pa jy sou sweer Uncle David skaam hom vir sy familie in Afrika.”

Sina kyk op ’n vreemde manier na haar, so asof sy dink Uncle David het dalk ’n punt beet, voordat sy weer prakties word. “Dra jy die tjoklitkoek in, dan bring ek die skinkbord met die res van die goete.”

Colette tel die enorme koek op ’n silwerbord op en balanseer dit versigtig op een hand terwyl sy die kombuisdeur met haar ander hand ooptrek.

“Dis nie ’n sy nie, Liz, dis ’n hy,” hoor sy haar oom in die voorkamer sê.

“Jy bedoel …” Die skrik in haar ma se stem laat Colette in die deurkosyn versteen.

“Ek gaan Australië toe agter ’n man aan.”

Colette kyk oor haar skouer na Sina wat met die swaar gelaaide skinkbord aangestap kom, skud haar kop benoud en beduie sjuut met haar vinger voor haar mond, terwyl sy terselfdertyd geluidloos agteruit probeer tree.

“Ek het altyd vermoed …” sê haar ma, haar stem verslae. “Maar ek het gehoop …”

“Lizzie, I’ll never be myself in this country. You’d probably die of shame if I tried. As ek weggaan, hoef niemand ooit te weet nie, nie jou skoonfamilie of jou kinders of …”

“Verskoon my, David, dis net … die skok …” sê haar ma en spring op en skarrel by die vertrek uit.

“Hier kom sy!” fluister Colette paniekbevange en gee so ’n vinnige tree agtertoe dat sy amper vir Sina onderstebo stamp. Jy hoor net silwer en porselein rinkel en ’n enkele oneindige oomblik lank lyk dit asof die skinkbord op die vloer gaan beland en Mammie se mooiste teepot in skerwe gaan spat. Colette gryp met een hand na die skinkbord om vir Sina te help en voel hoe die sjokoladekoek van die silwerbord in haar ander hand afgly. Magteloos kyk sy hoe die koek op die swart-en-wit teëlvloer val. Dan hoor sy haar ma se voetstappe op die trap, seker op pad na haar slaapkamer om haar neus te blaas en te poeier, en sy wonder wanhopig of daar nie ’n manier is om die bruin pappery op die vloer bymekaar te skraap en die koek weer reg te dokter voor Mammie terugkom nie.

“Shame.” Sina sit die skinkbord op die tafel neer en buk om die oorblyfsels van die koek op te tel. “Nóg ’n skok vir arme miesies Lizzie.”

En skielik begin Colette giggel. Miskien is dit net van skrik en senuweeagtigheid, maar die gedagte dat ’n verwoeste sjokoladekoek vir haar ma ewe erg kan wees as die nuus dat Uncle David op ’n man verlief geraak het, is meteens vir haar baie snaaks.

“Sie jy ophou om so verspot te wees,” sis Sina. “Gee vir my die skoppie en die besempie aan, gou-gou, voor jou ma kom.”

“Kan jy glo my oom is ’n homoseksualis?” fluister Colette met haar oë wyd gerek terwyl sy op die vloer hurk om vir Sina te help.

“Toe nou, dis ook nie só erg nie,” mompel Sina sonder om op te kyk. “Selfs op die plaas is daar diere wat … anders is.”

“Moffiediere? Mannetjies wat mekaar …?”

“Mannetjies wat enigiets bykom wat beweeg. Tot hulle eie kleintjies ook. En ek praat nie net van diere nie.”

Sina spoeg die woorde uit met so ’n bitter trek om haar wye mond dat Colette haar verstom aangaap. Sy het al voorheen gewonder waarom Sina nooit oor haar kinderjare op die plaas praat nie.

“Maar as Ouboet dit moet hoor …” fluister sy benoud. “Hy hou klaar nie van Uncle David nie oor hy dink hy’s aan die Engelse se kant!”

“Hy hoef dit nie te hoor nie.” Sina staar stip na haar, haar stem sissend sag. “Niemand anders in die huis hoef dit te hoor nie. Verstaan ons mekaar, Lettie?”

Colette knik. Die wete dat daar nou nóg iets is wat nooit by die naam genoem gaan word nie, laat haar keel toetrek. Uncle David sal emigreer en Mammie sal hartseer wees, want sy weet nie wanneer sy hom ooit weer sal sien nie, maar sy sal vir niemand vertel wat haar broer haar vanmiddag vertel het nie. Dalk nie eens vir Deddie nie.

En wat, wonder Colette, moet sý met al hierdie ongewenste inligting maak? Oor melk en koffie en haar mooi oom die moffie en Somerverdriet se mense wat hulle soos diere gedra en wie weet wat nog alles. Iewers in haar agterkop sal sy plek moet inruim vir alles waaroor sy nie mag praat nie, ’n soort solder waarin sy al die skaamtes en skandes van haar huis en haar familie en haar land kan wegsteek. Ja, dís wat sy nodig het, besef sy daar op die swart-en-wit teëls van die kombuisvloer terwyl Sina opstaan om die morsige oorblyfsels van die koek in die vullisdrom te gaan gooi. ’n Denkbeeldige solder waar al hierdie geheime in die donker kan lê en stof vergaar tot die tyd eendag ryp is om ’n lig daarop te skyn. Wanneer dit sal gebeur, óf dit ooit moontlik sal wees, daaraan durf sy nie nou al dink nie.

Re: Sintra

• Colette Niemand 11/8/2007

To vuurvis@iafrica.com

Toe maar, dis net ’n nare griep wat my ’n paar dae platgetrek het, niks om oor bekommerd te wees nie. En dis heerlike inniebedblyweer, hoor. As dit so koud en nat is buite, voel dit mos amper soos bederf om onder ’n donsduvet na die reën teen die ruit te lê en luister. En Sina sorg vir my, soos altyd. Ons twee ou tannies sorg vir mekaar.

Goed, dis heeltemal genoeg oor my gesondheid, kom ons keer terug na Sintra! Ek hoef net my oë toe te maak, dan sien ek die dorp voor my. Ek onthou die paleis van Pena hoog op die heuwel, die Moorse balkonne met die uitsig op die see, die vergeelde ou foto’s van die laaste Portugese koningsgesin. Soveel vergange glorie, nè. Dit het my destyds al melankolies laat voel, al was ek amper so jonk soos jy. Maar nou ja, teen dié tyd het jy ook al agtergekom dat jy jou in ’n land bevind waar melankolie maklik vastrapplek in jou siel kry.

Ek is nie ’n teenstander – of ’n voorstander – van koninklike krone nie. Net nog iets waaroor ek nooit werklik ’n mening gevorm het nie? Of miskien het ek soveel kere van mening verander dat ek nie meer mooi weet wat dit oorspronklik was nie. Ek onthou wel dat ek en Mammie nogal opgetrek was toe die ou Engelse koning George en sy statige vrou en die twee pragtige prinsesse deur die Unie kom toer het. Sestig jaar later is die jongste prinses lankal saliger en die oudste sussie ’n bejaarde koningin van ’n ryk wat al hoe kleiner krimp en die Unie ’n onafhanklike demokratiese land met ’n swart president. En al wat ek eintlik voel as ek aan al hierdie omwentelinge dink, is oud.

Nee wat, liefkind, moet jou nie aan my skete en my stiltes steur nie. Hou asseblief tog aan om vir my te skryf, al antwoord ek nie altyd nie, en moenie ophou soek nie. Jou hart sal vir jou die pad wys. Dit bly maar die beste kompas. As ek myne ’n halfeeu gelede gevolg het, sou ek nie nou so verdwaal gevoel het nie. Miskien ook nie so verdomp óúd nie.

Liefde van jou bedlêende beskermengel (maar môre is ek weer op die been, belowe).

Die blou van onthou

Подняться наверх