Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 6

OORLOG

Оглавление

Mammie het haar opgetof vir die uitstappie na die stad, haar mond so rooi soos ’n brandweerwa geverf, haar blonde hare gekartel en vasgesteek onder ’n klein blou hoedjie wat amper soos ’n soldaat se stywe keppie lyk. Sy dra handskoene en hoëhakskoene en haar laaste paar ongeleerde sykouse. Haar rok het groot skouers en ’n dun wit beltjie om die middel en ’n romp wat nogal baie van haar bene wys. Dis nie dat sy haar bene wíl wys nie, moes sy vir ouma Trui op die plaas verduidelik, maar met die oorlog het lap skaars geword en roksome korter, dis nou maar hoe dit is.

Colette kan nie ophou om na haar ma te kyk nie, al die pad van Rondebosch tot in Kaapstad, terwyl hulle so wieg-wieg in die elektriese trein ry. Dis warm en die donkergroen leerbank voel taai teen die waaie van haar bene. Moenie so kriewel nie, vermaan Mammie, jy kreukel jou rok. Want Colette is ook uitgedos vir die stad. Haar rok is geknip uit ’n ou rok van Mammie, maar jy sal dit nooit raai nie, want die blou blommetjieslap lyk nog mooi nuut en Mammie is mos knap met naald en gare. Sy het die lyfie bo gesmok en ’n ronde wit kragie aangewerk en ’n ry blou Bakelite-knopies agter. Make do and mend, sê Mammie, dis deesdae die leuse van alle patriotiese vroue.

Colette vermoed sy word miskien ’n bietjie te oud vir gesmokte rokkies, maar Mammie sê nonsies, dink aan die arme dogtertjies in Europa wat glad nie eens meer rokkies het om te dra nie. Nie eens meer ’n dak oor hulle koppe het nie. Colette kan nie verstaan hoe haar gesmokte rok die Europese dogtertjies gaan help om ’n dak oor hulle kop te kry nie, maar sy besef dit het iets met patriotisme te doen, daarom dra sy maar die rok sonder om te kla.

Hulle gaan inkopies doen, nuwe kouse en ’n steppien vir Mammie en ’n papierpop vir Colette en ’n mooi bont kopdoek vir Sina, die klimeidjie wat Mammie vroeër vanjaar op die plaas gaan haal het om by hulle te kom werk. Siestog, sy mis haar mense vreeslik, sê Mammie, sy’s eintlik nog bogkind. Skaars ’n paar jaar ouer as Colette. Dit moet ááklig wees, sê Colette, om weggevat te word van jou huis en jou familie om by vreemde mense in ’n vreemde huis te gaan werk. “Ek weet nie wát ek sal doen as dit met my moet gebeur nie!” “Dit sal nie, my skat,” troos haar ma. “Jy’s ’n wit kind.”

Colette is nie seker of daar nog papierpoppe oor is in die stad nie, want met die oorlog is dit nie net lap wat skaars geword het nie. Maar Mammie sê aanmekaar ons kan nie kla nie, want hierdie sonskynland van ons is ’n paradys in vergelyking met oorsee. In Engeland is daar glad nie meer kouse te koop nie, nie sykouse of rayonkouse of nylonkouse of enigiets nie, die arme Engelse meisies smeer hulle bene bruin met gravy. Colette hoop rêrig dat hulle vandag kouse sal opspoor, want sy gril haar dood as sy dink dat Mammie dalk die sous vir hulle Sondagmiddaghoender aan haar lyf sal wil smeer.

Ná die inkopies gaan hulle in Stuttafords se restaurant in Adderleystraat koek en tee bestel, en dan gaan hulle nog bioskoop toe ook voordat hulle vanmiddag die trein terug huis toe kry. In for a penny, sê Mammie en lag opgewonde. Dis nie aldag dat ons twee meisies stad toe gaan nie, nè. Colette lag saam met haar. Dis vir haar vreeslik lekker as haar ma van “ons twee meisies” praat, asof Colette baie ouer is as net nege jaar.

Dis waar dat hulle min stad toe gaan, al woon hulle nou baie nader as toe sy kleiner was. Mammie sê dis almal se plig om minder te koop en minder rond te jakker in hierdie donker dae. Don’t STRAIN the trains, lees hulle op groot plakkate op die stasies, met snaakse prente van reisigers in waentjies wat deur olifante en kamele getrek word. Mammie brei saans serpe en musse vir die soldate, want haar jonger broer veg in Noord-Afrika. Colette probeer ook ’n serp brei, maar sy weet nie of enige soldaat so ’n skewe serp vol gate sal wil dra nie. Deddie terg haar en sê: Wat Uncle David in Noord-Afrika nodig het, is ’n vlieëplak, nie ’n warm serp nie.

Dan raak Mammie vies en sê dit gaan nie oor Uncle David nie, dit gaan oor die stryd teen die Nazi’s. Elkeen moet sy deel doen en sy doen haar deel met haar breipenne. Dan druk Kleinboet ’n opgerolde stuk koerantpapier in sy mond om Churchill se vet sigaar voor te stel en maak sy stem dik: “We shall fight them on the beaches, we shall fight them in the fields, we shall fight them behind our knitting neeldles, we shall NEVER surrender!” Altyd die hanswors in die familie, sê Mammie mos.

Maar haar pa vra wat het die Engelse al ooit vir ons gedoen? Waarom sal ons hulle help in hulle oorlog? Deddie is in die jaar 1900 gebore, terwyl ’n klein groepie Boere teen die magtige Britse Ryk baklei het, soos hy gereeld vir sy kinders vertel. En vandat hy by die groot nuwe hospitaal in die stad werk en hulle tussen die Engelse in Rondebosch kom woon het, is hy tog te prekerig oor Afrikaans.

“Besef jy, Lettie, dat ons taal kort voor jou geboorte eers amptelik erken is? Weet jy hoe lank ons teen die Engelse moes stry om dít reg te kry? Toe ek op skool was, is ek gestraf as ek Afrikaans praat. Ek moes in die hoek gaan staan met ’n papierhoed op my kop waarop Dunce geskryf staan.”

“Wat beteken ‘dunce’, Deddie?”

“Gaan soek dit op in ’n woordeboek. Dis belangrik dat jy goeie Engels ook leer praat. We shall speak the language of the conqueror as well as the conqueror,” sê Deddie met ’n deftige Engelse aksent en knipoog vir haar. “Dis ons wraak, Lettie-lief.”

“Maar Deddie …”

“En jy kan gerus ophou met hierdie ge-Deddie. Dit was oulik toe jy klein was, maar jy word nou groot. Noem my Pappie of Pa of Vader of wat ook al vir jou die maklikste is.”

Sy probeer nou al maande lank, maar Vader klink vir haar soos bid, en Pa so kortaf, soos ’n hond wat blaf, en aan Pappie kon sy nog nie gewoond raak nie. Deddie bly maar die maklikste. As sy onthou, noem sy hom Deddie-Pappie. Of Pappie-Deddie.

Maar al is Deddie ook hoe vies vir die Engelse, hy is darem nog nie aan die Nazi’s se kant soos sy broer op die plaas nie. Laas toe hulle op Somerverdriet gaan kuier het, het haar pa en oom Kleingert kwaai gestry. Oor die oorlog, oor Mammie se Engelse familie, en sommer ook oor Mammie se rokke wat so kort geword het.

Terug by die huis het haar pa hulle almal verstom deur sy kort swart snorretjie af te skeer.

“Net sodat niemand ooit weer sal dink ek bewonder vir Adolf Hitler nie,” het hy aangekondig. “My vyand se vyand is nie noodwendig my vriend nie.”

Colette se hart klop kadoefkadoef van afwagting toe die trein in Kaapstad stilhou. Sy voel darem nie meer heeltemal so plaasjapierig soos toe hulle nog in Wellington gewoon het nie, maar die baie mense wat so vinnig stap en die toetende karre en die besige strate en die groen-en-roomgeel trembusse maak haar steeds ’n bietjie bang. En nou is hier boonop soldate van oral in die wêreld, allerhande uniforms wat sy nie ken nie, mans in Skotse rompies met lelike knieë wat haar laat gril, seuns wat vir haar jonger as haar sestienjarige Ouboet lyk, ou ooms met rye blink medaljes op die bors, selfs tannies in uniform!

Sy hou haar ma se handskoenhand styf vas en gee vinnige klein treetjies om by haar ma se klikkende hoëhakskoene by te hou. Haar eie swart bandjieskoene is so blink gepoets dat sy haar weerkaatsing daarin kan sien as sy ver genoeg vooroor buig.

“Colette!” raas haar ma toe sy haar amper disnis stamp teen ’n lamppaal. “Lig jou kop en kyk waar jy loop. Moenie vir jou so niksgewoond hou nie.”

Maar Mammie stap darem nou ’n bietjie stadiger, wat Colette kans gee om die advertensies op busse en teen geboue behoorlik te bekyk. Burlington Shirts and Sportswear, lees sy bo ’n prent van ’n seun met ’n skitterwit glimlag in skitterwit krieketklere wat haar aan Kleinboet herinner. Hoe mooi moet die stad nie saans wees wanneer die slagspreuke teen geboue verlig word nie! Dis iets wat sy nog net op foto’s in koerante en tydskrifte gesien het.

In die begin van die oorlog het hulle black-out curtains vir die huis gekry, soos almal in die Kaapse voorstede, en die donker strate snags was vir Deddie amper soos ’n present. Hy’t elke aand met sy teleskoop gevroetel. Vir ’n sterrekyker is ’n gitswart naghemel mos iets wonderliks. Noudat die oorlog al drie jaar aan die gang is, glo niemand eintlik meer dat Kaapstad aangeval gaan word nie, en die meeste geboue word weer verlig. Dis net Mammie wat meen mens moet liewers saans tuisbly en brei. Colette sal dit natuurlik nie vir haar ma sê nie, maar soms geniet sy ook nogal die oorlog. By die skool word die kinders gedril vir moontlike bomaanvalle, dan moet hulle onder hulle houtlessenaars induik en hulle arms bo hulle kop hou, wat gewoonlik ’n gegiggel en ’n grapmakery afgee. Baie lekkerder as somme of Bybellesse.

Fletcher & Cartwrights for Fashion and Foods, lees sy op ’n gebou op die oorkantse hoek, maar Mammie trek al weer aan haar arm om Adderleystraat vinnig oor te steek voordat die verkeerslig rooi word. Sy is nog nie gewoond aan rooi-oranje-groen ligte wat jy moet gehoorsaam nie, ook nie aan die elektriese drade bo die strate waaraan die trembusse hang nie, ook nie aan Kleurlingmans in deftige pakke klere nie, sy vergaap haar aan alles. Maak toe jou mond voor jy ’n vlieg insluk, sê Mammie toe Colette met haar kop ver agteroor probeer tel hoeveel verdiepings die enorme winkelgebou van Stuttafords het. Vier, vyf, ses … Sy kom nie verder nie, want haar ma kry haar aan die skouers beet en stuur haar tussen ’n klomp ander mense by die groot deur in.

In die winkel hang haar mond éérs oop. Nou gee sy nie eens meer om as sy dalk ’n vlieg insluk nie. Nie dat sy haar kan voorstel dat jy ooit ’n vlieg in so ’n smart winkel sal sien nie. Selfs Mammie, wat nie graag “niksgewoond” wil lyk nie, stap so stadig soos ’n trapsuutjies na die hysbak sodat hulle alles langs die pad kan bekyk en bewonder, die wonderlike ware wat in blink glaskaste uitgestal word, die netjiese verkoopsdames agter glansende houttoonbanke, en natuurlik ook die deftige klante. Die vrou wat saam met hulle voor die hysbak wag, dra ’n swart pelsjas saam met lang rooi naels en ’n knewel van ’n diamantring. Colette wonder of sy nie vreeslik sweet nie, want die lentedag is gans te warm vir so ’n jas, maar sy ruik nie sweet nie, sy ruik net ’n swaar scent met heeltemal ’n ander soort geur as Mammie se oliekolonie.

“As jy so om jou rondkyk, sal jy nooit sê dis oorlog nie, nè,” sê Mammie met ’n sug. Colette kan nie agterkom of dit ’n gelukkige sug of ’n ontevrede sug is nie. Dan skuif die traliedeur van die hysbak krakend oop. Die omie wat die knoppies druk, groet die pelsjasvrou soos ’n ou bekende. Hy dra ook ’n uniform, ’n wynrooi baadjie met ’n keppie op die kop, maar hy lyk te oud en te vrolik om ’n soldaat te wees, meer soos iemand wat in ’n sirkus werk. Elke keer as die hysbak se deur so ruk-ruk oopskuif, kondig hy die verdieping aan asof dit iewers is waar hy nog altyd wou wees, ’n wit strand met palmbome of ’n ander planeet, en dan beur die klante almal ’n bietjie gretiger by die deur uit. Toe Colette en Mammie by Ladies’ Lingerie uitklim, knipoog hy vir Colette en sy druk haar hand vinnig voor haar mond om haar grinnik weg te steek, netnou dink Mammie weer sy’s niksgewoond.

“Kan ek nie solank na die speelgoed gaan kyk nie?” vra sy terwyl haar ma die hoeveelste steppien bestudeer. Mammie hou die snaakse affêre in die lug, voel-voel aan die streppies vir die kouse, trek aan die materiaal om te sien hoe goed dit rek, wonder hardop of sy wit of vleeskleur moet kies. Colette gril haar dood as sy dink dat sy oor ’n paar jaar ook so ’n ding sal moet dra.

“Nee, nie alleen nie, netnou verdwaal jy,” sê Mammie. “En ons moet vir jou bloomers koop, joune is almal deurgeskif.”

Colette word sommer dadelik dikmond. Sy het nie stad toe gekom om stupid bloomers vir skooldrag aan te pas nie, sy het gekom vir die Judy Garland-papierpop wat sy met ’n seer hart begeer. Shirley Temple was eers veronderstel om Dorothy se rol in The Wizard of Oz te speel, maar toe vervang Judy Garland haar mos – nie net in die film nie, maar sommer ook in Colette se hart. Sy was gek oor The Wizard of Oz, hoewel Mammie voorspel dat sy dalk ná vandag se matinée ’n nuwe gunsteling gaan hê. Hulle gaan in die Alhambra ’n animasieprent oor ’n bokkie met die naam Bambi kyk.

Eintlik maak dit nie saak wát hulle gaan kyk nie, enige film is fantasties in die Alhambra, wat soos Aladdin se sprokieskasteel lyk. Die balkonne en die versierde pilare aan die goue buitekant, die reusagtige saal met die sagte fluweelsitplekke binne, die nagemaakte bome wat kompleet nes regte bome lyk en die plafon wat jou aan ’n donkerblou naghemel met miljoene flonkerende sterretjies laat dink, alles is ’n wonder in Colette se oë. Maar nou moet sy ongelukkig eers bloomers koop.

Ure later, of so voel dit vir Colette, het hulle eindelik die onderklere en haar cut-out doll en Sina se kopdoek aangeskaf. Hulle sit in Stuttafords se restaurant, op die balkon wat oor Adderleystraat uitkyk, en Mammie bestel skons met aarbeikonfyt en room. Colette kies die hoogste, vetste sny sjokoladekoek wat sy nog ooit gesien het. Terwyl hulle wag dat die kelnerin die skinkbord bring, bewonder Colette haar Judy Garland-papierpop en blaai deur die boekie met al die klere wat sy by die huis gaan uitknip. Sy is die blyste oor die Wizard of Oz-uitrusting, ’n ligblou pinafore oor ’n wit bloesie met pofmoue, ’n rooi strikkie vir die kop nes Snow White s’n, ligblou sokkies en natuurlik die glansende rooi skoentjies. Ai, om darem so ’n paar rooi hakskoene te hê!

“As ek ooit weer ’n fancy dress hou, wil ek soos Dorothy aantrek,” sê sy met ’n dromerige sug.

“Hmmm,” sê haar ma. “Hopelik kom die helfte van die kinders nie weer in Voortrekkerdrag nie.”

“Mammie hoef nie daaroor te worry nie. Waar ons nou woon, weet die meeste kinders nie eens hoe lýk Voortrekkerdrag nie. Gelukkig is my naam darem Engelserig, anders sou die buurdogtertjies nie met my wou speel nie.”

“Colette is nie Engels nie,” sê Mammie met haar neus in die lug. “Dis Frans.”

“Waarom het julle vir my ’n Franse naam gegee?”

“Omdat dit by Cronjé pas. Omdat ek en Deddie albei Hugenote as voorvaders het.”

“Maar waarom Colette? Eerder as …” Sy probeer vinnig aan nog Franse name dink en onthou van die koningin wat haar kop verloor het. “Eerder as Antoinette of Suzette of so iets?”

“Ek het eenkeer ’n storie gelees deur ’n Franse skryfster met die naam van Colette en dit was vir my mooi …” Mammie glimlag ’n bietjie verleë, wat haar soos ’n jong meisie laat lyk. Dan vat sy aan haar opgedoende hare onder die soldatekeppie en vra: “Jy sou tog seker nie verkies het dat ons jou na een van jou oumas noem nie? Gertruida Aletta of Johanna Magdalena?”

“Nee.” Colette giggel agter haar hand. “Ek sal liewers Colette wil wees. Ek wou maar net …”

Sy skrik haar woorde skoon weg toe ’n kanon naby hulle bulder. Die Nazi’s, is haar eerste wilde gedagte, terwyl honderde duiwe van die vensternisse en dakke van die geboue om hulle opfladder. Sy verwag dat die restaurant se klante almal onder die tafels gaan induik met hulle hande oor die kop, soos die kinders by die skool geleer is, maar tot haar verstomming gebeur iets selfs vreemder. Pleks daarvan om op te spring en plat te val en rond te skarrel, versteen almal. Niemand beweeg nie, selfs die kelnerin wat die skinkbord met hulle tee en skons en sjokoladekoek bring, gaan doodstil staan asof sy in ’n standbeeld verander het. Dit word tjoepstil om hulle. Colette kyk af na Adderleystraat en besef dat al die voetgangers daar ook versteen het.

Dis die vréémdste gesig.

Sy maak haar mond oop om te vra wat aangaan, maar haar ma beduie sjuut met haar vinger voor haar mond en staar aandagtig na die tafeldoek. Die meeste mense kyk af, asof hulle diep ingedagte is. Of met oop oë aan die slaap geraak het?

Dan begin almal weer gelyk gesels en eet en drink – so onverwags soos toe hulle versteen het – en die voetgangers in Adderleystraat kry ook weer lewe. Die kelnerin werskaf rondom hulle om die teekoppies op die tafel te rangskik en binne oomblikke is daar soveel stemme en stadsgeraas in Colette se ore dat sy wonder of sy alles gedroom het.

“Mammie?” vra sy verdwaas.

“Dit was die twaalfuurkanon, Colette.” Haar ma se dun geplukte wenkbroue maak twee hoë brûe op haar voorkop. “Moenie vir my sê jy het dit nog nooit gehoor nie?”

Colette skud haar kop. “Maar hoekom het almal daarna in standbeelde verander?”

“O, dis die tweeminute-stilte,” verduidelik haar ma terwyl sy vir hulle tee skink, “om te dink aan almal wat dood is in die oorlog.”

Colette trek die yslike sny sjokoladekoek nader met ’n snaakse hol gevoel in haar maag. “Net ons dooies? Of die Nazi’s se dooies ook?”

“Ek weet nie of mens van ‘ons’ en ‘hulle’ kan praat as dit by die dood kom nie, my skat. Dood is dood.”

Skielik weet sy nie of sy so ’n groot stuk koek alleen kan opeet nie. “Ken Mammie iemand wat in die oorlog dood is?”

“Nog niemand na aan my nie, dank die hemel.” Mammie knip haar oë vinnig en vat ’n sluk tee. Sy dink seker aan Uncle David in Noord-Afrika. “Kom ons hoop en bid dis alles verby voordat Ouboet oud genoeg is om te gaan baklei.”

“Hy sal nie,” troos Colette. “Ek het gehoor hoe sê hy vir Kleinboet hy sal nie vir Engeland gaan baklei nie. Hy’t gesê dalk is oom Kleingert reg, dalk is die Nazi’s nie die vyand …”

Mammie se hande fladder van haar teekoppie na haar wange wat wasbleek geword het en sy maak haar oë toe asof sy iets sien wat te erg is om te aanskou.

En skielik sou Colette alles wou prysgee – haar nuwe Judy Garland-papierpop, Bambi in die Alhambra, selfs hierdie hele uitstappie stad toe – as sy tog net haar woorde kon terugtrek. Sy sal moet leer om ’n wag voor haar mond te plaas, soos Mammie haar gereeld vermaan. Soms is stilbly ook ’n antwoord.

Stilte?

• Colette Niemand 9/8/2007

To ?

Soms is stilbly ook ’n antwoord? Ag, liefkind, ek wil vir jou skryf, ek wil sê nee, ek ken nie Lissabon se lieflike Metro-stasies nie, ook nie die lang sierlike brug oor die Tagus nie, dis alles ná my tyd opgerig. Soos ook die standbeeld van Fernando Pessoa by sy buitelug-kafeetafeltjie. Toe ek daar was, het die melankoliese digter nog nie uit die dode verrys om toeriste te vermaak nie. Niemand het eintlik nog van hom geweet nie, behalwe ander melankoliese siele soos my geliefde gids.

Maar nou voel dit asof daardie gids ook uit die dode verrys. En dit maak my so beangs dat ek van nuuts af met stomheid geslaan word. Ek kan tog nie vir jou skryf dat ek nie jou soet drome deel nie, dat ek die afgelope paar nagte weer deur spoke uit die verlede gepla word nie? Portugese spoke, natuurlik, maar ook veel ouer dwalende geeste. Deddie in die dae toe hy nog sy Hitler-snorretjie gedra het; Mammie wat aanmekaar fluister sjjjt, wat sal die mense sê; my mooiste oom wat na Australië gevlug het; almal van hulle het laas nag my slaap kom verdryf.

Uncle David het ’n stuk sjokoladekoek in sy vuis verkrummel en die bruin versiersuiker oor die letsels op sy gesig gesmeer, sy eens aantreklike gesig so liederlik vermink dat ek hom slegs aan sy soldate-uniform kon herken. “Ek dra die wonde van die veldslae wat ek geveg het,” het hy verwytend opgemerk. “Maar die ergste wonde is dié wat jy nie kan sien nie.” Ek het my oë toegeknyp en my ore toegedruk, maar ek kon hom steeds soos ’n stem in my eie kop hoor praat. Noudat ek dood is, het hy gesê, is ek spyt oor alles wat ek gemis het.

Ek het sopnat gesweet wakker geskrik, my vel aan die brand, koorsig. Ek vermoed ek is besig om siek te raak. Is dit moontlik om siek te raak van onthou?

Nee, dít kan ek nie met jou deel nie, lieweling, jy is nog te jonk om soveel spoke te hanteer. Miskien was my ma tog reg. Miskien moet mens soms eerder stilbly. Hierdie briefie sal ek liewers nie vir jou stuur nie.

Maar van ver oorkant die water, uit ’n winterse Kaap van Storms, wens ek jou glansende goue somerdrome toe.

Die blou van onthou

Подняться наверх