Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 8
PRINSES
Оглавление“Seën, Heer, wat ons eet en laat ons nimmer U vergeet,” bid Deddie aan die Sondagmiddagtafel, elke woord van die versie stadig en duidelik uitgespreek, asof hy dit net daar sit en uitdink. Hy herinner sy kinders gereeld dat die eerste Afrikaanse Bybel eers ná Colette se geboorte verskyn het. Vir hulle is dit vanselfsprekend om in Afrikaans te bid; vir hom bly dit ’n voorreg.
Dan rol hy sy hempsmoue op, wikkel sy skouers soos ’n dirigent net voordat hy sy stokkie lig, tel ’n vlymskerp mes en ’n groot vurk op – hier verbeel Colette haar altyd sy hoor die eerste dawerende note van Beethoven se Vyfde Simfonie – en begin die gebraaide beesvleis sny.
Mammie dink omdat hy ’n dokter is, kan hy beter vleis sny as enigiemand anders wat sy ken. Deddie sê alles wat hy van die sny van vleis weet, het hy op die plaas by sy pa en sy oupa geleer, nie in die mediese skool nie. Nonsies, sê Mammie, hy het ’n dokter se hande, nie ’n slagter se hande nie. Dan grinnik Deddie en sê hy is bevrees Mammie was maar nog altyd ’n snob.
Saam met die rosbief en gravy is daar ook hoenderpastei op die tafel, en pampoenmoes en soetpatats en blomkool met witsous en sousboontjies en beetslaai. En rys en aartappels, natuurlik. Mammie skep solank die ander kos op en hou elke bord voor Deddie sodat hy ’n sny vleis daarop kan rangskik, so half bo-oor die ander kos, want teen daardie tyd is die borde propvol. In baie huise is witbrood en goeie vleis twee jaar ná die einde van die oorlog nog skaars, maar danksy ouma Trui wat gereeld vrugte en groente, tuisgebakte brood en heuning, botter en eiers, slaghoenders en rooivleis van Somerverdriet af stad toe stuur, ly die Cronjés van Rondebosch nooit honger nie. En wanneer Colette se broers naweke van hulle koshuise kom kuier, word daar geëet asof die oordeelsdag môre aanbreek.
“Is die rosbief ter ere van die Britse koning?” spot Ouboet toe hy sy bord aanvat.
Mammie klik haar tong vies. “Asof ons nooit roast beef geëet het voordat die koning kom kuier het nie.”
“Ek vra maar net. Colette het die laaste ruk so aangegaan oor die prinsesse dat ek gedog het …”
“Ek het nie ‘aangegaan’ nie,” protesteer Colette. “Ek sal dit nie waag as jy by is nie. Almal weet jy hou nie van die Royals nie!”
“Kinders,” vermaan Mammie.
“Would Her Royal Highness graciously accept to pass me the salt?” vra Kleinboet vir Mammie met ’n hele aartappel in sy kies gedruk, sy Britse aksent so oordrewe dat hulle almal uitbars van die lag.
Dankie tog vir hierdie broer wat so snaaks kan wees, dink Colette al hoe meer, want die oudste een word al hoe moeiliker. Kleinboet is in matriek, in Deddie se ou skool in die Paarl, en Ouboet het laas jaar ’n Matie geword. So trots op sy maroen gestreepte kleurbaadjie dat hy dit selfs naweke by die huis dra. ’n Skrander student, sê almal, ’n natuurlike leier, ’n jong man vir wie daar ’n Blink Toekoms voorspel word. Maar vir Colette is hy bowenal ’n beterweterige spoil sport. Vandat koning George en sy gesin twee maande gelede in Kaapstad aan wal gestap het, het hy nog nie opgehou om haar te treiter nie. En dit net omdat sy en Mammie daardie dag saam met derduisende ander mense op die sypaadjie staan en wag het vir die koninklike optog.
Goed, sy wás miskien ’n bietjie te opgewonde oor die lang swart kar met die Union Jack waarin hulle so stadig deur die strate van die stad gery het. En die snaakse manier waarop die koningin vir die skares wuif, so met die agterkant van haar hand soos ’n bejaarde ballerina. En sy hét seker nogal baie gebabbel oor prinses Elizabeth en prinses Margaret en hulle hoede en handskoene en hare en alles wat vir haar so onvergeetlik mooi was. Maar dit maak haar nog nie ’n Rooinek of ’n volksverraaier nie!
“Ek was Maandag by die Youth Rally,” sê sy, “en dit was glad nie net ’n Engelse affêre nie. Daar was tot ’n groep wat Volkspele gedoen het. Hulle het ‘Jan Pierewiet’ gesing, en ‘Sarie Marais’ en …”
“Alles tot eer van die magtige Britse Empire,” sê Ouboet kopskuddend.
“Nee, tot eer van die prinses se 21ste verjaardag. Almal het vir haar ‘Happy Birthday’ gesing en die orkes het ‘For she’s a jolly good fellow’ gespeel en daar was Kleurlingkinders wat in wit rokke gedans het, die oulikste klein klimeidjie wat heel voor op haar toontjies getrippel het, ek het so gewens Mammie kon dit sien!”
“Was Mammie nie daar nie?” Ouboet klink verbaas. “Moeg geraak vir die koninklikes?”
“Dit was ’n Youth Rally, Ouboet,” sê Mammie. “Ek tel ongelukkig nie meer onder die jeug nie.”
Sy glimlag koketterig en vee oor haar blonde krulle, wat sy deesdae kleur om die grys drade weg te steek, en kyk afwagtend na Deddie. Hy is nou veronderstel om iets te sê soos: ag, my vrou, vir my sal jy altyd jonk en mooi bly. Maar Deddie kyk na sy bord en kou aan sy vleis, sy gedagtes op ’n ander plek.
Dis waar dat Mammie eintlik nog goed lyk vir iemand wat al oor die veertig is. Plomper as toe Colette kleiner was, maar niks wat ’n goeie steppien nie kan wegsteek nie, soos sy gereeld vir Colette verseker terwyl sy steun en kreun om die hakies van haar inklimgordel vas te kry. Vandag dra sy ’n blou-en-grys geruite oorvourok met ’n breë belt in die styl van die Amerikaanse ontwerper Claire McCardell, wat sy soos gewoonlik self gemaak het. Meisies soos ons kan maar elke dag blou dra, sê sy vir Colette, dit bring die blou in ons oë uit. Dis nou nie meer vir Colette so oulik as haar ma van “ons meisies” praat nie. Vandat sy laas jaar hoërskool toe is, beskou sy haarself as groot genoeg om ’n meisie te wees, maar Mammie is mos darem lankal nie meer ’n meisie nie. Mammie is ’n tannie, en soms wens Colette sy wil haar ’n bietjie meer soos ’n tannie gedra, en ’n bietjie minder soos die lawwe flapper wat sy twintig jaar gelede was. En tog vermoed sy dat Mammie eendag op tagtig steeds diep in haar hart ’n flapper sal wees. ’n Patetiese gryskopvroutjie wat met ’n tandelose glimlag wag dat haar man haar verseker dat sy vir hom altyd jonk en mooi sal bly.
Colette raak so benoud dat sy sommer met haar mond vol rosbief verder praat. “En die prinses het ’n toespraak gemaak ook. Sy praat die móóiste Engels!”
“I am very glaaad to see so many young people heaahr todaaay.” Kleinboet boots die prinses se hoë stemmetjie en koninklike aksent so goed na dat almal weer aan die lag raak.
“Wel, ék is baie bly sy het nou op die skip terug Engeland toe geklim,” sê Ouboet net voordat hy ’n yslike hap hoenderpastei vat. “Nou kan ons hopelik van die Britse koningshuis vergeet en weer ’n slag op ons eie probleme in die Unie konsentreer.”
“Tot sy weer kom,” terg Colette. “Sy’t gesê sy wil gou weer kom kuier.”
“Ons sal sien,” sê Ouboet op ’n onheilspellende toon. “Dit sal afhang van wie die land vorentoe gaan regeer. Of hoe sê ek, Pa? Pa!”
Deddie knip sy oë asof iemand skielik ’n skerp flitslig daarin skyn. “Jammer, ek kan net nie ophou wonder oor Peers se grot waar ons gister was nie. Die Vishoekman se brein was soveel groter as wat ons tot dusver geglo het. Ons weet eintlik nog só min van ons prehistoriese voorouers, nè.”
“Ai, my man, jy kan tog so wroeg oor wat ons weet en wat ons nie weet nie. Al wat ék weet, is dat die uitsig van die grot af my asem weggeslaan het. Die hele Skiereiland en al twee die oseane. Wie die Vishoekman ook al was, hy was slim genoeg om ’n fantastiese uitsig vir sy huis te kies.”
“Wat ék graag wil weet,” sê Kleinboet, “is hoe Pa dit reggekry het om vir Mammie en Colette om te praat om tot daar bo by die grot te klim. Het hulle nie heelpad gekla nie?”
“Nogals nie,” glimlag Deddie. “Ek het hulle nie omgepraat nie, sien, ek het hulle eintlik omgekoop. Belowe as die prinsesse weer kom kuier, sal ek saam met hulle in die warm son staan en waai vir die optog. So, kom ons hoop jy’s reg, Ouboet. As óns mense aan bewind kom, sal die prinsesse nie gou weer genooi word nie.”
Deddie en Ouboet grinnik vir mekaar, kompleet nes twee skelms wat ’n komplot smee.
“Wie’s óns mense?” vra Colette.
“Kom ek gaan haal die poeding,” sê Mammie en staan haastig op. Klaar gepraat.
Ná ete moet Colette en Kleinboet die skottelgoed afdroog en wegpak terwyl Mammie was, want Sina werk nie vandag nie. Colette is nogal nuuskierig oor wat Sina op haar vry Sondae doen. Die ander inslaapbediendes in die buurt is almal ouer en praat Engels, wat Sina sukkel om te verstaan, of ’n Bantoetaal, wat Sina nie eens probeer verstaan nie. Colette vermoed dat sy meestal maar in haar buitekamer bly en deur die ou tydskrifte blaai wat Mammie vir haar versamel. Toe Colette laas in die buitekamer was, het sy vir Sina gehelp om mooi kleurprente van natuurtonele uit te knip en teen die kaal mure te plak, maar Deddie het ’n stokkie daarvoor gesteek. Hou jou by jou soort, Lettie. Deddie is nooit naar met Sina nie, hy behandel haar altyd beleef, maar hy beskou haar klaarblyklik nie as van dieselfde soort as die Cronjés nie.
Colette pak die skoon glase al fluitend weg, “Jan Pierewiet” se deuntjie wat sedert die Youth Rally in haar kop bly draai, tot Mammie agter die wasbak waarsku dat meisies wat fluit by die deur uitgesmyt word. Om die vrede te bewaar neurie sy dan maar verder, hoewel sy nog nooit kon verstaan waarom meisies mag neurie maar nie mag fluit nie. Toe sy buk om ’n stapel borde in ’n lae kas te pak, piets Kleinboet haar met ’n nat vadoek op die boud.
“Aitsa! Hoe lyk dit dan vir my of my maer klein sussie besig is om lekker stewige Boesmanstêre te kry? Pla die kêrels jou nog nie, Lettie-lief?”
“Moenie vir jou laf hou nie,” giggel Colette.
“Wel, as hulle lastig word, onthou jy’t twee ouer broers wat jou eer sal beskerm. Dis meer as wat die arme prinses Elizabeth kan sê.”
“Sy’t nie broers nodig nie, sy’t lyfwagte. Wat haar beter behandel as wat my broers my nog ooit behandel het.”
“Hoor net daar, Ma! Het ons haar nie nog altyd soos ’n prinses behandel nie?”
“Soos ’n prinses,” glimlag Mammie vir die skuimwater in die wasbak. “Ons eie prinses Lettie-lief.”
“Maar as ouma Trui moet sien hoe styf daai langbroek oor prinses Lettie-lief se boude span, sal sy die stuipe kry.”
“Op die plaas sou ek nie op ’n Sondag ’n langbroek mag gedra het nie, al het dit ook soos ’n streepsak aan my lyf gehang.”
“En op ander dae word dit ook maar erg onwillig verduur,” sug Mammie. Vandat Deddie en oom Kleingert oor die Ossewabrandwag begin baklei het, gaan Mammie met ’n verdrietige winterse hart op Somerverdriet kuier. “Julle ouma en oupa is oud, hulle weet nie van beter nie, mens kan verstaan dat hulle nie die moderne wêreld verstaan nie. Maar daai broer van julle pa het wraggies nie ’n verskoning om so uit die oude doos te wees nie!”
“Tannie Wilma is nog erger,” kla Colette. “Daar’s so baie dinge wat mens op Sondae nie daar mag doen nie. Jy mag nie brei of naaldwerk doen nie, dan steek jy die naald in die Here se oog, jy mag nie lag of grappies maak nie, want ná vrolikheid kom olikheid, jy mag nie langbroek of lipstiek dra nie, moenie my vra hoekom nie, jy mag dan nie eens papierpop speel nie! Nie dat ek nog papierpop wil speel nie,” voeg sy vinnig by voordat haar broer haar weer terg. “Ek sê maar net. Voel vir my al wat mens mag doen, is om handjies gevou te sit en wag dat die dag verbygaan.”
“Terwyl die volk al die werk moet doen,” sê Kleinboet gemaak sedig. “Dan kan hulle mos in ons Blankes se plek hel toe gaan omdat hulle die Sabbat onteer.”
“Haai nee, Kleinboet, só kan jy darem nie sê nie!” maak Mammie beswaar.
“Is Mammie bang Ouboet hoor my?”
Mammie skrop so kwaai aan ’n kastrol dat die skuimwater tot op die vloer spat. Gelukkig het sy ’n voorskoot bo-oor haar nagemaakte Claire McCardell-rok vasgebind. Hulle hoor Ouboet se ontstoke stem op die stoep, seker weer besig om te praat oor dinge wat Mammie nie wil hoor nie, terwyl Pappie swyend aan sy pyp sit en suig.
Colette rangskik die swaar silwermessegoed wat hulle net Sondae gebruik in die oopklapboks met die koningsblou fluweelvoering en loer onderlangs na haar broer. In sy kakielangbroek en wit hemp, kraag oopgeknoop en moue opgerol, donker hare blink geolie en agtertoe gekam, lyk hy heelwat ouer as ’n matriekseun. Kleinboet is nie juis wat sy dashing sal noem nie, hy is te kort en stewig gebou, sy vel is te blas, sy neus te groot. En tog behaal hy baie meer sukses met die teenoorgestelde geslag as Ouboet wat gans te ernstig is om te flankeer, te besig om sy Briljante Toekoms te bou. Die pad na ’n meisie se hart loop deur haar lagspiere, beweer Kleinboet. Hy katrol die nooiens in, die een na die ander, met humor. Soos hy van kleins af sy ma en sy sussie ingekatrol het.
Maar Colette wonder waar hy deesdae aan sommige van sy ernstiger idees kom. Voorheen het hy hulle ouer broer as ’n held beskou – sy ook, natuurlik, dis moeilik om nie geïmponeer te word deur iemand van wie daar omtrent van geboorte af Groot Dinge verwag word nie – maar toe sê Ouboet op ’n dag miskien is oom Kleingert tog reg oor die Ossewabrandwag, en dat Pappie miskien net te lief vir die Engelse is omdat hy ’n Engelse skoonpa het. Toe word Kleinboet soos ’n hond wat omswaai om sy baas te byt. En jy’t ’n Engelse oupa, het hy vir Ouboet toegesnou, en ’n half-Engelse ma! Skáám jy jou nie? Van daardie dag af kyk Kleinboet anders na sy ouer broer.
Dis amper asof hy soms die vreemdste dinge sê net om vir Ouboet vies te maak.
“Ouboet is nie soos oom Kleingert nie.” Dit klink of Mammie met haarself staan en praat. Sy skrop nou stadiger en staar deur die venster na die vrugtebome in die agterplaas wat hulle herfskleure begin wys. “Ek stem nie altyd saam met sy idees nie. Maar hy behoort darem nou ook nie aan die Ossewabrandwag nie, nè.”
“Nie sover ons weet nie,” mompel Kleinboet.
Wat Colette weet, en Mammie seker ook, is dat Ouboet brand om lid te word van ’n ander geheime organisasie vir Afrikaanse mans, die een of ander bond, maar daar kan jy nie sommer net gaan aansluit nie, jy moet wag tot jy gevra word. Deddie is nooit gevra nie. Blykbaar iets met sy half-Engelse vrou te doen, maar sy kan nie seker wees nie, want dis iets waaroor daar nooit gepraat word nie. Nie in hierdie huis of in enige ander Afrikaanse huis nie. Dis ’n geheime organisasie, onthou. Mens praat nie oor geheime nie.
Verdere stilte
• Colette Niemand 13/8/2007
To ?
Coimbra … Jinne, kind, jy lei my hart soos ’n steeks perd terug na soete waters. Al wat ek hoef te doen, is om my kop te laat sak en diep te drink.
Maar ek sou nie daar geaard het nie. Nie in Coimbra of Sintra of Lissabon of enige van die ander oorde langs jou Portugese roete nie. Daarvan probeer ek myself immers al ’n lewe lank oortuig. En nou kom flikflooi jy oor aalwyne en bloekoms en dergelike plante wat op meer as een plek kan wortelskiet, ai tog, en ek sak weer weg in vertwyfeling en selfverwyt.
Soete waters? Altemit. Maar vir my is daar geen rus langs daardie waters nie. Mag soet en stil wees, maar onder draai die duiwels rond. Moenie dink ek weet nie waarvan ek praat nie. My wreedste duiwel se naam is onthou en die afgelope week martel hy my weer soos lanklaas.
Ek vermoed dis nog ’n briefie dié wat ek liewers nie vir jou sal stuur nie.
My verlede is voorwaar alles wat ek gefaal het om te wees. Nee, dis nie ek wat so sê nie, dis al weer Pessoa. En moenie my vra waarom ek dan aanhou skryf as ek nie vir jou wil wys wat ek skryf nie. Sou dit nie ironies wees as ek hier op my oudag weer ’n joernaal begin hou nie? Asof die vorige een nie genoeg verwoesting gesaai het nie! En die vorige keer het ek ’n goeie verskoning gehad. Ek was jonk en verward. Vyftig jaar later is ek oud en verward. Hoe meer dinge verander?
Die onthouduiwel bring geen helderheid nie, net verlange en deurmekaar drome. Ek verlang nou al dae lank na my familie, na Deddie en Mammie en Kleinboet en Ouboet, ja, selfs na Ouboet! Ek wens ek kon hom nog net één keer sien, hom laat verstaan dat ek altyd vir hom lief gebly het, al het ons mettertyd niks meer vir mekaar te sê gehad nie. Bloed bly bloed, nè. Soos jy ook onlangs agtergekom het, liefkind.
Maar meer as enigiets anders verlang ek na ’n tydperk in my lewe, na daardie sorgelose paar weke in Portugal toe ek die twee Fernando’s leer ken het, die dooie digter en sy besonder lewendige naamgenoot wat my minnaar geword het. Ek verlang na die moedige jong vrou wat ek vyftig jaar gelede was. Here, ek het nie geweet dis moontlik om so na jouself te verlang nie!