Читать книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver - Страница 5

OSSEWAENS

Оглавление

Maar eintlik het haar storie lank voor Lissabon begin. Dit sou immers nie vir haar moontlik gewees het om haar lewe in ’n leuen te verander as sy nie van jongs af deur leuens omring was nie. Grotes en kleintjies. Swartes en wittes. Stiltes en gapings.

Só probeer Colette Niemand (née Cronjé) haarself op haar oudag verskoon.

Sy sit aan Deddie se voete in die voorkamer en luister na die digter Totius se krakerige stem oor die radio. Ons het gerieeeken die jaarsyfer is negentienhonderd-agt-en-dertig. Nou sal ons gaan fieees vier … Mammie bak koek in die kombuis. Gewoonlik help sy graag vir Mammie, maar die laaste ruk raak Deddie so opgewonde oor die ossewaens en die ooms met die baarde en die tannies met die snaakse kappies dat hy gereeld na die toesprake oor die radio luister. Kom, Lettie, nooi hy haar, kom hoor wat aangaan in hierdie land van ons. Die meeste van die toesprake is vir haar amper so vervelig soos Sondae se gepreek in die kerk, maar darem ’n bietjie beter, want sy kan op die mat met haar papierpoppe speel terwyl sy maak of sy luister.

Sy het haar geliefde Shirley Temple uit die plat kartondoos vol cut-outs gehaal. Die poppie met die goue lokke en die oulikste kuiltjies op aarde is geklee in ’n wit frokkie en broekie, wit sokkies en skoene. Colette pas vir haar die een pragtige papierrok na die ander aan, vou die papierstrokies versigtig oor die papierskouers, geduldig op soek na die regte uitrusting. Maar onse barmhartige God het nie ’n fieees gegee nie, maar hun herlieeewing …

Deddie het sy pyp in sy hand – sy skoon, sagte huisdoktershand, soveel sagter as oupa Gert se eelterige plaashande – maar hy is so geboei deur die radiostem dat hy vergeet om te rook. Hy sit effens vooroor gebuig, sy swart skoene blink gepoets en sy swart hare ewe blink geolie. ’n Djentilmin, dis wat Mammie hom noem, and a gentle man too. Die twee gaan nie altyd saam nie, Colette. Sy kop is skuins gedraai om beter te hoor, sy oë vol van ’n vreemde lig, soos wanneer hy saans vir haar en haar broers die sterre wys.

“Kyk, Deddie, Mammie het vir Shirley Temple ’n Voortrekkerrok gemaak. En die kappie ook. Ek het dit self ingekleur en uitgeknip.”

Hy hoor haar nie. Sy lippe beweeg onder sy stomp swart snorretjie. Hy prewel die woorde van die volksdigter agterna: “Dit is ’n wonder in ons oë. Ons sien dit, maar ons deurgrond dit nie.”

Dalk is dít waarom sy hierdie oomblik so helder onthou, haar pa wat ’n onverstaanbare frase herhaal, fluisterend asof hy haar ’n geheim vertel, voordat sy stem uitgedoof word deur duisende singende stemme oor die radio. En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweeeef.

Want dit kan tog nie werklik haar eerste herinnering wees nie. In die lente van 1938 was sy darem al amper ses jaar oud. Van haar vierde of vyfde jaar onthou sy flitse, glimpe en geure, klanke en kleure. Die reuk van tuisgekookte seep op oupa Gert se plaas, die naam van die plaas teen ’n hek op ’n grondpad, Somerverdriet, so mooi, so hartseer, so onverklaarbaar. Hoe kan somer verdrietig wees? Winter, ja, dit kan sy kleinkry, winter is koud en nat soos trane. Maar somer beteken son en heeldag buite speel en vakansie by die see. Wat sy ook onthou, vaagweg, is die sneeuwit pieke van ’n Bolandse berg in ’n besonder koue winter, sneeuwit lakens wat soos baldadige hanslammers aan ’n wasgoedlyn ruk, die wind wat waai en waai, lang wit rokke wat opwarrel, ’n wit kappie met fladderende linte wat soos ’n ballon wegwaai, bebaarde jong mans wat laggend agterna hardloop en in die lug spring om die linte te vang.

Nee. Die warrelende rokke en die fladderende linte hoort ook in haar sesde jaar, toe vroue op die dorp nagte lank agter naaimasjiene sit en stik het om outydse rokke en kappies te maak. Amper soos vir ’n konsert, soos toe Mammie die keer ’n Kerskonsert op die plaas gereël het en tot laat snags moes stik om ’n stapel deurgeskifte lakens in klede vir ’n leërskare jubelende engele te omskep. Colette se boeties en nefies en niggies het die praatrolle gekry en die heel kleintjies soos sy is saam met die volk se kinders in die engelekoor gedruk, maar hulle hoef nie te gesing het nie. Daar is genoeg hemelse stemme in daardie koor, het Mammie gesug, hémels. Maar die volgende jaar het oom Kleingert op die plaas gesê ag, nee wat, los dit liewer, dit gee die hotnots net idees.

Mammie het dit gelos. Ook nie in Colette se sesde jaar saam met die buurvroue aan Voortrekkerrokke gestik nie. Net die papierrok en die papierkappie vir Shirley Temple, dis al wat Colette uit haar kon kry, en daarvoor moes sy twee weke soebat.

Ja, soos ’n konsert, dis hoe die Ossewatrek gevoel het, net beter, want hierdie konsert het dae, weke, máánde lank aangehou. Van die dag teen die einde van die winter toe die eerste waens uit Kaapstad vertrek het, met die plate varkblomme langs die pad so wit soos die vroue se kraaknuwe kappies, terwyl die skares op elke dorp groter en geesdriftiger word, jong mans met woeste Voortrekkerbaarde en huilende ou tannies in wye Voortrekkerrokke, verliefde paartjies wat sommer net daar in die veld langs die waens trou en wie weet hoeveel babadogtertjies wat Eeufesia gedoop word, so het dit die hele roete noordwaarts gegaan, deur Stellenbosch, Worcester, Graaff-Reinet, Bloemfontein, Johannesburg, singend en juigend in winterkoue en lentesonskyn en somerse donderstorms, dis die lied van ’n volk se ontwaaaking, van harte wat sidder en beeeef, al hoe meer stemme wat saam sing en saam juig, van Kaapland tot bo in die Noooorde, tot in Pretoria waar die hoeksteen van ’n toekomstige monument op 16 Desember 1938 voor ’n singende juigende skare van honderdduisende mense gelê is.

Dingaansdag, het Deddie vir haar verduidelik, om die Slag van Bloedrivier te gedenk, toe ’n klein groepie wit gelowiges ’n oormag van derduisende Zoeloes verslaan het. Op hierdie dag honderd jaar gelede het die Voortrekkers besef God is aan hulle kant. Maar op hierdie dag in 1938 het Colette besef haar ma en pa is nie altyd aan dieselfde kant nie.

Dis ’n Vrydag en ’n openbare vakansiedag, die ideale dag vir ’n partytjie, het Mammie gedog, om Colette se sesde verjaardag te vier. Sy verjaar eintlik eers die volgende week, maar dan sal hulle reeds by die see of op die plaas vakansie hou, soos elke jaar. Shame, sê Mammie, die kind het nog nooit ’n regte partytjie gehad met maatjies wat mooi aantrek en presente bring nie. Met ’n versierde tafel en ballonne en speletjies. Waarom hou ons nie ’n fancy dress nie? In for a penny …

Mammie pak die organisasie met groot geesdrif aan, amper so opgewonde soos toe sy ’n jaar of twee tevore daardie eerste en laaste Kerskonsert op die plaas gereël het. Pos handgeskrewe uitnodigings aan ’n tiental maatjies en hulle mammas, bak dosyne kleinkoekies en ’n groot sjokoladekoek, knip en meet tot laatnag aan Colette se Snow White-kostuum vir die fancy dress, met kopspelde tussen haar lippe vasgeknyp en die wiel van die Singer wat soos ’n wilde wind in ’n bloekombos klink wanneer sy die slinger driftig draai.

Sneeuwitjie, vermaan Deddie, sy het mos darem ’n Afrikaanse naam ook.

Nee, Deddie, stry Colette, Snow White. Soos in die prent wat ek en Mammie in die bioskoop gaan kyk het. Met Grumpy en Sneezy en Dopey …

Someday my prince will come, tralala, neurie Mammie agter die Singer.

Sy en Colette is albei versot op Walt Disney se eerste vollengte-animasiefilm. Dis soos om ’n hele koek vir aandete te kry in plaas van net ’n sny met koffietyd. Die lekker hou soveel langer aan as wanneer jy net ’n kort comic voor die hooffilm kan kyk. Maar dis nie maklik om Snow White se rok te maak nie. Darn difficult, sug Mammie, al is sy knap met naald en gare. Die noupassende donkerblou bostuk, ligter blou pofmoutjies met rooi insetsels, ’n wye geel romp en – moeilikste van alles, sê Mammie; belangrikste van alles, soebat Colette – die gestyfde wit kraag wat soos ’n varkblom se kelk om Snow White se nek moet oopvou.

Mammie leen selfs iewers ’n swart pruik om oor Colette se blonde krulhare vas te steek. Bo-op die pruik kom Mammie se final touch, die rooi Alice band met die strikkie. Colette staar verwonderd na die vreemde swartkopmeisietjie in die spieël terwyl Mammie vir haar met rooi lipstiek ’n roosknopmond verf. Sy lig die kante van die lang geel romp met haar vingerpunte op, kniebuig ’n paar keer, draai giggelend rondomtalie sodat die romp ’n wye bolling maak. Dis die mooiste kostuum in die hele wêreld, sê sy vir Mammie. Nou moet hulle net wag vir die gaste om op te daag.

Drie van die meisiemaatjies kom in outydse Voortrekkerrokke, met kappies en al, en twee van die seuns dra vals baarde en speelgoedgewere. Die een sê hy’s Piet Retief, die ander een Dirkie Uys. Die meisies sê nee, hulle het nie name nie, hulle is net Voortrekkervroue. Beatrix lig die lang rok se soom op om haar kaal voete te wys. “My ma sê hulle het kaalvoet oor die Drakensberge getrek.” Dadelik trek die ander twee Voortrekkervroue ook hulle sokkies en skoene uit. Dis wárm so kort voor Kersfees op ’n Bolandse dorp, veral as jy nie gewoond is om ’n lang rok te dra nie. Colette besluit dat Snow White seker ook maar kaalvoet kan loop, al is sy eintlik ’n prinses in vermomming.

“Kom ons gaan sny die sjokoladekoek,” sê Mammie vir die maatjies en die mammas wat in die voorkamer saamdrom, waar Deddie na die radio probeer luister.

“Maar dis die hoeksteenlegging!” protesteer Beatrix se ma, die plomp tannie Bea. “Dít wil ek nie mis nie, nie vir al die sjokoladekoek op aarde nie!”

“Die kinders hoort eintlik ook te luister,” sê Deddie. “Dis iets wat hulle vir die res van hulle lewe sal onthou.”

“Maar wat van Colette se partytjie?” vra Mammie.

“Sy sal nog baie partytjies hou,” troos Deddie met sy pyp in sy hand, “maar ’n dag soos vandag sal sy nie gou weer belewe nie. Dis die ontwaking van ’n volk, my vrou.”

“Dis nes Dokter daar sê,” beaam tannie Bea en skraap die vyf Voortrekkers op die fancy dress nader en plak hulle op die mat voor die radio neer.

Mammie gee die tannie ’n snaakse kyk, klap haar hande om die oorblywende maatjies se aandag te trek – ’n seerower en ’n boemelaar, twee prinsesse en ’n meermin wat aanmekaar oor haar stertvin struikel – en nooi hulle om solank in die eetkamer te kom koek eet. Héérlike sjokoladekoek, glimlag Mammie. Skielik laat sy Colette dink aan die heks wat Snow White met ’n glansende rooi appel wil verlei. Die maatjies kyk onseker na mekaar voordat hulle haar volg na die eetkamer wat met ballonne en papierlinte versier is.

“Ek gaan nou die kersies op die koek aansteek en dan sing ons vir Colette,” sê Mammie. Uit die voorkamer hoor hulle hoe derduisende stemme oor die radio sing. Van Kaapstad tot bo in die Noooorde ruis dawerend luid die akkoooorde. Colette wonder hardop of hulle nie eerder moet wag tot die Eeufees oor is voor hulle die kersies aansteek nie. “Tot die volk klaar ontwaak het?” vra Mammie met ’n skerp stem. “Nee wat. Jy kan altyd wéér ’n keer die kersies doodblaas as die klomp daar binne moeg word van die magtige dreuning.”

Colette kyk na die kwaai rooi kolle op haar ma se wange en wag tot die kersies behoorlik brand voordat sy haar asem diep intrek en bláás vir al wat sy werd is. Vyf vlammetjies gaan dadelik dood, maar die sesde bly flikker terwyl sy al hoe desperater blaas. Dan word die meermin langs haar ongeduldig en help haar om die laaste vlammetjie poefff dood te blaas. Colette kyk verskrik na haar ma. “Is dit nie kroek nie? Kan ek nog altyd ’n wens wens?”

“Jy’t haar mos nie gevra om jou te help blaas nie,” troos Mammie. “Wens jou wens terwyl ons vir jou sing.” En dan val Mammie in met haar stem wat vir Colette mooier is as enige stem wat sy al ooit in die bioskoop gehoor het. “Happy birthday to you, happy birthday to you …”

Die meermin sing hard en vals saam, die ander maatjies skameriger. Happy birthday, dear Colette … Maar uit die voorkamer hoor sy steeds die dawerende akkoorde van “Die lied van jong Suid-Afrika”, en die twee wysies so bo-oor mekaar laat haar skoon vergeet wat sy wou wens. Dat sy haar eie hondjie kan kry? Dat haar twee boeties sal ophou om haar te terg oor haar melktande wat uitval? Dat sy eendag so mooi soos Mammie en so slim soos Deddie sal wees?

“Waarom sing Mammie vir my in Engels?” vra sy toe haar ma by die laaste uitgerekte to youoo kom.

Mammie se glimlag val kaboem van haar gesig af. Haar wange vlek weer rooi. “Ek het nog altyd vir jou in Engels gesing. Dis hoe my moeder vir my gesing het. My vader was Engels, Colette, onthou dit. Jy het hom nooit geken nie, maar jy het ’n Engelse oupa. There were no Voortrekkers on my side of the family.” En sy sny die sjokoladekoek so ongeduldig dat die gestyfde linnetafeldoek vol bruin krummels gestrooi word.

Colette wonder hoe sy dit regkry om Voortrekkers amper soos ’n lelike woord te laat klink. In Deddie se mond klink dit altyd so groot en deftig. Onder Deddie se stomp swart snorretjie word dit ’n wonder vir die oor, soos herlieeewing of deurgrond.

Re: Lissabon!

• Colette Niemand 7/8/2007

To vuurvis@iafrica.com

My liefkind, dis verstaanbaar dat jy nog te jonk en ongeskonde voel vir Fernando Pessoa se Livro do Desassossego. Onthou, dit het byna vyf dekades ná sy dood eers verskyn, en ek het die Engelse vertaling laat in die jare negentig gelees, toe ek al ’n betreklik bejaarde vrou was wat haar kind én haar kleinkind verloor het. Toe ek lankal die wonde gedra het “van al die veldslae wat ek vermy het”.

Dáárdie aanhaling het soos ’n vuis om my hart gevou die oomblik toe ek dit lees. Toe ek jonger was, het ek gedog as ek net die oorlog op ’n veilige afstand kon hou, as ek die vieslike veldslae van persoonlike passie aan dapperder siele kon oorlaat, sou ek ongeskonde anderkant uitkom. Anderkant wát, wonder ek nou.

Dis hoekom ek vanaand vir jou wil sê dit maak nie saak as jy nie vind wat jy in Portugal gaan soek het nie. As jy net iets van jouself daar kan vind, my liefste klein vuurvissie, sal jou reis reeds die moeite werd wees. En dit klink vir my of dít klaar begin gebeur het. Hou vas daaraan, hoor, moet dit nóóit weer los nie.

Ek is ook mos indertyd oorsee “om myself te vind”. Ek het my eie stem gevind, ek het gehoor hoe ek werklik klink, en dit het my so groot laat skrik dat ek huis toe gevlug het en my tong uit my mond gesny het. Stilbly is ook ’n antwoord, het ek kleintyd by Mammie geleer. Ná my oorsese swerfjare het dit my leuse geword, my verskoning om alle verdere veldslae te vermy. As jy stom is, word jy nie ’n soldaat of ’n deelnemer nie, jy word ’n toeskouer.

Maar jý is nie ’n toeskouer nie, lieweling. Jy het al genoeg verliese in jou jong lewe gely om jou veel wyser te maak as wat ek op jou ouderdom was. (Al verstaan jy nog nie alles wat Pessoa kwytraak nie.) Jy het jou ma se veglus geërf – maar darem ook genoeg van jou ouma se versigtigheid om jou teen selfvernietigende dapperheid te beskerm. Nee wat, ek het volle vertroue in jou. Soek en jy sal vind.

Liefde uit die Kaap

Die blou van onthou

Подняться наверх