Читать книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver - Страница 7

3. Bloedvingers, suikervingers, groenvingers …

Оглавление

Maar kom ons keer terug na Fabienne se storie. Van die dag dat Fabienne se lieflingsuster se lekkerste sjokolademousse so onverklaarbaar in modder verander het, is alles nie meer pluis in Fabien­ne se lewe nie.

Snags in haar slaap keer die verfkwasvrou terug om haar te tart, met haar woeste hare en haar skelbont rokke, serpe, truie. Lemoenoranje en jakarandapers en koringblomblou, verbeel jou, kleure waarin Fabienne se ma nie dóód gesien sou word nie, nie eens een-een nie, en hierdie vrou hang al hierdie kleure gelyk aan haar lyf. En saans aan tafel, terwyl hulle smeltsagte lamsboud met roosmaryn of souserige beesstertbredie eet, staar Fabienne af­ge­trokke na haar gesin se vingers. Groenvingers, suikervingers, bloed­vingers. Dis die aftelrympie wat aanhoudend in Fabienne se kop draai. Bloedvingers, suikervingers, groenvingers. Wie gaan eerste uit­val?

Hulle gaan jou saggies versmoor, fluister die verfkwasvrou snags in haar oor. Hulle wéét jy hoort nie hier nie. Jy sal jouself moet red. Raak ontslae van hulle. Of raak ontslae van jou verfkwaste.

Fabienne word saggies waansinnig. Haar gesin merk dat sy al hoe minder eet en vermoed dat sy ’n dieetsiekte het. Hulle sleep haar na dokters en sielkundiges, maar sy word net al hoe maerder. Camille bak soos ’n besetene. Sy skep poedings asof haar suster se lewe daarvan afhang. Sy gebruik daagliks dosyne eiers en kilogramme suiker. Sy smelt enorme blokke sjokolade, tot alles, selfs haar ma se spogrose, soos sjokolade ruik. Fabienne voel of sy in ’n Paaseier vasgevang is. Alles om haar is donker en soet en hol.

Snags in haar bed, ná die verfkwasvrou kom kuier het, skakel sy haar gesin een-een uit. Elkeen op ’n gepaste manier. Niks meer as selfbeskerming nie, sê sy vir haarself.

Groenvingers sal deur ’n vleisetende plant verslind word, ’n reusagtige beblaarde gedrog uit ’n oerwoud in Suid-Amerika, ’n plant wat sy wou mak maak. Op ’n dag, as sy haar groen­ge­vingerde hand uitsteek om die plant se stingel te streel, pluk die plant haar nader en sluk haar heel in.

Suikervingers sal aan ’n sjokoladetruffel verstik. Nee, dink Fa-bienne, dit sal nie werk nie. Jy kan nie aan sjokolade verstik nie, dit smelt in jou keel. Maar sê nou net daar het ’n stuk eierdop in die vulsel agtergebly? Groot genoeg om Suikervingers se keelgat te versper?

En Bloedvingers sal deur ’n waansinnige pasiënt aangeval word. Wanneer hy sy hand in die man se mond steek, byt die man die tandarts se vingers vas, spring op uit die tandartsstoel en verwurg die tandarts. Hulle sê mos tandpyn kan jou mal maak.

Bedags verf Fabienne. Maar nie meer stillewes nie. As haar pa na haar skilderye kyk, kan hy nie ’n enkele blom uit haar ma se tuin herken nie. Al wat hy sien, is ’n klomp skelbont kleure. En hopeloos te veel skakerings van rooi.

Liewe leser, soos jy seker agtergekom het, skryf ek nou ’n siel­kundige riller. Bloedige stillewe? Vervloekte verfkwas? Ek sal nog aan ’n titel dink. Oor die volgende drie weke sal ek baie tyd hê om te dink.

Ons het eers laatmiddag hier aangekom, by die huis op die berg, ná ’n nagmerrierit in ’n oorvol kombi.

Die eerste twee ure was ’n nagmerrie omdat Tibo en Amos aanhoudend baklei het of gekla het hulle is honger of gekerm het hulle is verveeld. Maar daaraan is ek gewoond. Dit gebeur elke keer as ons meer as ’n kwartier in ’n kar deurbring. Yann het sy Walkman se oorfone opgesit en ’n glasige uitdrukking in sy oë gekry en nie ’n dooie woord gesê nie (soos elke keer as ons meer as ’n kwartier in ’n kar deurbring) behalwe reg teen die einde toe hy skielik uitgeroep het: “Ek moet pie! Dis dringend!” Dit was die vierde keer dat ons moes stilhou sodat iemand kan piepie. Die ander drie kere was dit Mana. Maar sy sê sy kan nie help nie, dis oor sy sewe maande verwagtend is. Verder het Pampoen of Patat of dalk albei karsiek geword en oor al die komberse gekots, maar dis ook nie die eerste keer dat dít gebeur nie.

Die laaste halfuur was ’n ander soort nagmerrie. Van ons van die teerpad afgedraai het iewers anderkant Piketberg (of dalk was dit ’n volgende dorp, ek weet nie, Yann sê mos ’n dorp is ’n dorp is ’n dorp) het die grondpad al slegter geword. Die eerste ent kon jy darem nog die spore van ander karre in die modder sien, maar ná ons deur ’n paar plaashekke gery het, was daar glad nie meer ’n teken dat iemand die afgelope tien jaar die pad gebruik het nie. As jy dit nog ’n pad kon noem. Dit was meer soos ’n kron­kelende erosiesloot, massiewe klippe en kuithoogte bosse net waar jy kyk, en plek-plek so steil dat ek bang was die kombi gaan agteroor bollemakiesie slaan. Op ’n kol moes ons deur ’n drif ry. Ek dog die idee van ’n drif is om ’n kar droog te hou, maar die stroom was so sterk dat dit gevoel het of ons gaan begin dryf. Die enigste gelukskoot was dat ons onder die reën uitgery het. Ek dink nie die arme kombi sou water van onder én water van bo kon hanteer nie.

Liewe leser, ek wéét wat jy dink. Ou Hanna Hoekom oordryf al weer. Sy kan mos nie ’n storie vertel sonder om dit in ’n drama te verander nie. Maar ek belowe dit was nie net my verbeelding nie. Ek kon sien almal in die kar was so benoud soos ek. Tibo en Amos het skoon vergeet om te kla, Yann se oë was vir ’n verande­ring glasig van skok eerder as van verveling, en Mana het die kar se kassetspeler al hoe harder gedraai, asof sy gehoop het Cecilia Bartoli se jubelende stem sal ons tot bo-op die berg dra.

Dit kan nie goed wees vir ’n ongebore baba om so rond­ge­skommel te word nie. Aan die ander kant, miskien is dit tyd dat Ditjie ’n bietjie taf gemaak word. Ditjie gaan nie ’n maklike lewe hê nie as Ditjie eers by hierdie gesin aangesluit het nie.

Die ergste van alles, sê Mana toe ons met bewerige knieë uitklim, is dat ons die pad oor ’n paar dae weer moet aandurf om kos op die naaste dorp te gaan koop. Ek bied dadelik aan om honger te ly eerder as om weer daardie pad te ry. Dit sal makliker gaan as die sleepwaentjie eers afgehaak is, troos Beyers. As die kar nie so oorlaai is nie. Maar niemand lyk juis getroos nie.

Ons kyk half verdwaas om ons rond. Soos skipbreukelinge wat op ’n manjifieke eiland uitgespoel het, maar nog nie mooi kan glo dat hulle nie dood is nie. Ons sien mistige blou berge en groen heuwels oral om ons, die skittering van ’n waterval teen ’n krans, ’n vlakte van fynbos om ’n vervalle huis. Ons hoor ’n oorverdowende gekwetter van voëls. Wel, miskien net ’n doodgewone gekwetter, maar vir my stadsore klink die voëls amper onbeskof rumoerig. En presies op hierdie oomblik, on cue soos Beyers sou sê, begin die son agter die huis sak en die hele prentjie kry so ’n sagte goue gloed.

Selfs Yann kon dit nie oor sy hart kry om ’n sarkastiese aanmerking te maak nie.

Ek sal nou nie sê die huis het my voete onder my uitgeslaan nie, maar so in die vleiende lig van die sonsondergang het dit darem nie té onaardig gelyk nie. ’n Eenvoudige reghoekige gebou met witgekalkte mure (wat oral afskilfer) en ’n rietdak (wat soos die vel van ’n brandsiek hond begin lyk), amper soos daardie outydse vissershuisies wat jy op Kaapse kusdorpies kry. ’n Ver­waar­loosde ou vrou wat jou tog laat vermoed dat sy eens op ’n tyd nogal mooi moes gewees het. Dog ek so ewe.

Dis eers toe ons die swaar houtvoordeur met die enorme outydse sleutel oopwikkel dat ons besef wat Beyers se vriend bedoel het toe hy gesê het die plek staan al lank leeg. Dis omtrent hoe die arme prins moes gevoel het toe hy ná ’n honderd jaar in Doringrosie se toegerankte paleis opdaag. Stof en spinnekoppe net waar jy kyk. Met so ’n muwwe reuk wat aan die meubels kleef. Nie dat daar veel meubels te sien is nie, net ’n enorme tafel, ’n ingesakte rusbank en ’n spul stokou stoele in ’n enkele leef­vertrek – kombuis en eetkamer en sitkamer en alles saam – met ’n paar deure wat na die slaapkamers lei.

“Dis ’n dump!” roep Yann uit en begin so onbedaarlik nies dat hy nie ’n woord verder kan uitkry nie.

Hy kry hooikoorsaanvalle van stof en stuifmeel en kathare en ek weet nie wat nog alles nie.

“Niks wat ’n besem en ’n verestowwer nie kan regruk nie!” roep Mana uit op haar valse vrolike manier. Teen dié tyd het sy klaar ’n besem en ’n stowwer in ’n kombuiskas opgespoor. En die stow­wer in my onwillige hande gedruk. “Yann, gaan help jy jou pa om die bagasie af te laai, dan raak die res van ons gou van die ergste stof ontslae.”

“Hoekom moet ék help afstof?” vra ek. “Is dit nie bietjie seksis­ties nie?”

“Ag, ou Hanna Hoekom,” sug Mana en begin die vloer met mening vee, “soms is dit makliker om prakties te wees as om polities korrek te wees.”

“Is hier dan nie ’n stofsuier nie?” vra Tibo.

“Hier’s nie elektrisiteit nie,” herinner Mana hom. “Gaan kry jy en Amos elk ’n lap in die kombuiskas. Maak dit klam – nie nat nie, net klam – en dan vee julle al die meubels af.”

“Watse meubels?” mompel Yann, nies weer ’n slag en vlug by die voordeur uit.

“O ja.” Tibo knik sy kop verslae, asof die volle omvang van die katastrofe hom nou eers tref. “Hier’s nie elektrisiteit nie.”

My enigste troos is dat Fabienne volgende naweek opdaag. Kyk hoe verspreek ek my nou. Ek wou eintlik sê my enigste troos is dat Sharon volgende naweek opdaag.

Haar pa kom haar aflaai met sy splinternuwe 4x4. Die slegte pad sal nie vir hulle ’n probleem wees nie. Met so ’n voertuig sal dit miskien selfs ’n avontuur wees. Dis nou te sê as Sharon se pa weet hoe om ’n 4x4 te bestuur behalwe op teerpaaie in die stad. As ek so na hom kyk, met sy sonbrilletjie en sy blinkleerskoene en sy duur donker pakke, weet ek nie so mooi nie.

Sharon se pa het ’n hoë pos in die staatsdiens, net onder een of ander minister. Ek dink hy was eers by die Minister van Toe­risme en nou’s hy by die Minister van Polisie. Of andersom. Hy maak vreeslik baie geld. En Sharon se ma nog meer. Sy het ’n hoë pos by ’n groot versekeringsmaatskappy. Human relations, sê Sharon met ’n verveelde uitdrukking elke keer as ek vra wat haar ma nou eintlik doen om soveel geld te verdien.

Ek weet steeds nie wat vir ’n werk human relations is nie. Ek dink ook nie Sharon weet nie. Ek wonder byvoorbeeld of jy ook baie geld kan maak met animal relations. Ek bedoel nou nie in ’n dieretuin nie, ek bedoel in ’n versekeringsmaatskappy. Of flower relations? (’n Moontlike pos vir Fabienne se groengevingerde ma?) En indien nie, hoekom hou hulle aan om dit human relations te noem? Hoekom nie net relations nie?

Liewe leser, teen dié tyd het jy seker al agtergekom hoekom my gesin my Hanna Hoekom noem.

Mana sê my eerste woord, toe ek tien maande oud was, was hoetom. (Ek kon nie ’n k sê tot kort voor my tweede verjaardag nie.) Nie mamma of pappa soos normale babas nie (sê Mana trots) maar die grootste filosofiese vraag van alle tye: Hoekom?

Liewe leser, wat anders kon ek sê? Mamma was ’n onbekende woord, want Mana het haarself nooit só genoem nie. En pappa was nie net ’n onbekende woord nie, dit was heeltemal ’n onbekende begrip. Toe ek tien maande oud was, het Gavin lankal nie meer saam met ons gewoon nie. Nee, hulle is nie kwaad uitmekaar nie, hulle het vooraf besluit sy sou my alleen grootmaak. Gavin sou nie babakots op sy modieuse klere kon hanteer nie.

As jy my vra (nie dat iemand my al ooit gevra het nie), was my eerste woord ’n gil van woede. Hoekom kan ek nie maar ’n normale baba met ’n normale ma en ’n normale pa wees nie?

En nou is ek vasgekeer op ’n berg waar ek oor tien dae my vyftiende verjaardag moet vier, saam met my abnormale ma, my in­gewikkelde gesin, my beste vriendin en – wait for this – my pa met die peroksiedhare. Ek was vreeslik dankbaar toe Sharon vra of sy nie ook so ’n stukkie van hierdie vreemde wittebrood saam met my kan kom hou nie. (Sy dink mos my gesinslewe is op­win­dend. Ná ’n paar dae saam met ons op die berg sal sy beslis anders dink.) En ek was vieslik ondankbaar toe Gavin uit Johan­nesburg laat weet hy wil óók my verjaardag saam met my kom vier.

Ek meen, hy’t nie een van my vorige veertien verjaardae saam met my gevier nie. Vir wat wil hy nóú met my kom bodder?

Maar ek het nie kans gekry om sy aanbod van die hand te wys nie. Ek het nie eens kans gekry om met hom te praat nie. Mana het die telefoon geantwoord en op haar gewone baasspelerige manier my hele lewe oorgeneem.

Eers was ek bly dat sy geantwoord het, want ek weet nooit wat om vir Gavin te sê as hy so uit die bloute bel nie. Wel, ek weet in elk geval nooit wat om vir hom te sê nie, maar as ek hom in lewende lywe sien, kan ek hom altyd uitvra oor sy nuwe handsak of sy snaakse sokkies of so iets. Nie dat ek belang stel in sy handsakke of sy sokkies nie, maar hy kan ure daaroor praat en ek hoef nie rêrig te luister nie. Hy’s ’n klereontwerper – het ek dit al gesê? – vir ’n reeks met die etiket Androgynous. Sharon sê dis onge­loof­like cool klere. Ek sal nie weet nie, want dit word verkoop in die soort boetieks wat ek seker nooit sal kan bekostig nie. Toe sê hy vir Mana hy moet Kaap toe kom vir ’n modeskou wat die naweek net voor my verjaardag gehou word en hy dink daaraan om ’n bietjie langer te bly …

“Wonderlik!” roep Mana uit. “Ons beplan ’n gróót partytjie in die gramadoelas!”

Watse partytjie, vra ek verbaas, ek dog dis net Sharon wat kom?

Maar Mana maak of sy my nie hoor nie en vertel vir Gavin van hierdie stunning huis op ’n berg waar ons gaan vakansie hou, laat dit soos ’n vyfsterhotel klink, tot Gavin haar omtrent soebat om hom saam te nooi.

“Oukei, dan bly jy oor vir ’n nag of twee,” sê Mana ingenome. Maak of sy nie sien hoe wanhopig ek my kop skud nie. “Wil jy iemand saambring? Die huis is groot genoeg, hoor!”

Net nie dít nie, dink ek, te wanhopig om selfs my kop te skud.

Asof dit nie erg genoeg is dat my moffie-pa op my verjaardag gaan opdaag om my voor my beste vriendin in die skande te steek nie. Sharon weet van Gavin, natuurlik, maar dis een ding om te weet van hom en heeltemal ’n ander ding om hom in lewende lywe te sien. As hy nou boonop ’n lover in swart leer of ’n slangvelbroek moet saamsleep …

“Dis die eerste woord wat ek van hierdie groot partytjie hoor,” sê ek deur geklemde kake toe Mana die telefoon neersit.

“As Gavin daar is, sál dit ’n partytjie wees,” verseker sy my. “Hy kan ’n begrafnis in ’n fees verander.”

As jy my vra, is dit ’n onmoontlike taak. Om jou ondankbare dogter se vyftiende verjaardag in ’n stowwerige bouval op ’n verlate berg in ’n fees te verander. Maar niemand vra mos ooit my mening oor my eie lewe nie.

Intussen wonder ek of ek rêrig ’n sielkundige riller wil skryf. Ek be­doel, as ek nou vir Fabienne toelaat om haar gesinslede een vir een dood te wens, gaan sy óf in ’n weeshuis óf in ’n malhuis be­land. Oukei, miskien gaan sy fantastiese kunswerke skep terwyl sy in ’n gestig toegesluit is – maar wat word dan van my? Die hele punt is tog dat ek my lewe wil omruil met hare.

Ek wil by die tandarts en die groenvingervrou gaan woon.

Ek wil ’n suster hê wat elke aand vir my sjokolademousse maak.

Ek is bevrees daar is net één oplossing. Ek sal van Fabienne ont­slae moet raak. Soms dwing die lewe ’n mens om wrede keuses te maak.

Vervloekte verfkwas sal eindig met ’n toneel waarop Stephen King trots sou wees. Dis nag (’n volmaannag, hoe dan anders?) in Fabienne se slaapkamer. Haar laken is om haar lyf verstrengel, haar kop rol rond op haar kussing en sy maak benoude mompelgeluidjies. Dis duidelik dat die verfkwasvrou met die woeste hare weer haar slaap versteur.

Die kamera beweeg stadig deur die kamer, wys haar ou teddie­bere en haar skoolboeke, die geraamde foto’s van haar gesin op haar lessenaar, pa glimlaggend in sy spierwit spreekkamer, ma glim­­laggend in haar geurige roostuin, ousus glimlaggend (klein bietjie sweet op die voorkop) voor die stoof. (Moenie vra waar die kamera skielik vandaan kom nie. Stephen King se boeke word mos altyd in flieks verander. Kan dit net sowel van die begin af as ’n fliek beskryf.) Die kamera staan stil by Fabienne se sketsboek (langs die foto’s op haar lessenaar) wat oopgeblaai is by ’n houtskoolskets. Eers lyk dit na niks, net ’n klomp swaar swart strepe en wilde kronkels, maar soos die kamera nader beweeg, sien jy dis ’n haastige gesinsportret. Of dalk ’n spotprent. Ma, pa en ousus is al drie met wawyd oop monde voorgestel. Dis nie duidelik of hulle lag of gil nie. Bokant hulle, effens eenkant in die linkerhoek, hang ’n geraamte met fantastiese tande. Die tande is die enigste deel van die portret wat versigtig en lewensgetrou geteken is.

Dan swaai die kamera terug na Fabienne se bed. Haar oë is nou oop maar glasig, soos Yann as hy met sy oorfone na Marilyn Man­son of die Dandy Warhols luister. Sy staan verdwaas op, vou die wit laken soos ’n mantel oor haar skouers, en sweef geluidloos deur die stil huis. Die maanlig stroom deur die groot vensters (almal presies ewe groot) in die sitkamer, spoel oor die bosse bont blomme wat Fabienne se ma op die koffietafel en die klavier ge­rangskik het, en laat Fabienne se gesig ligblou en amper deurskynend lyk. Onthou, sy het weke laas behoorlik geëet. Sy is teen hierdie tyd so bleek soos ’n lyk en so lig soos ’n spook.

In die sprankelende skoon kombuis (nie ’n krummeltjie op die vloer om te wys dat die liewe Camille heeldag voor die stoof staan en sweet het om die ondankbare Fabienne se lewe te pro­beer red nie) trek sy ’n laai oop en haal ’n vlymskerp vleismes uit. Zoem in op haar bewende hand met die lem wat silwer flits in die maanlig. Op hierdie punt sal daar seker ’n stukkie dramatiese musiek opklink om die spanning te verhoog. Gaan sy haar pa se tande uitslag? Haar ma se groen vingers afkap? Haar ousus se slukderm uitpluk?

Fabienne sweef terug na haar kamer, trek die laken van haar skouers af en sprei dit op die vloer oop, gaan staan in die middel van die laken en sny haar polse met die skerp lem. Sy draai in die rondte en swaai haar arms sodat haar bloed oral op die laken spat. Sak kreunend inmekaar en skryf – met haar laaste bietjie krag – haar naam in bewende bloedletters onder in die regterhoek van die laken.

Só verander Fabienne haar dood in ’n kunswerk.

Hoe’s dáái vir ’n dramatiese klimaks, juffrou Liebenberg!

Nee, jeg, dis heeltemal te grillerig.

Ek weet Shakespeare was mal oor bloederige eindes, maar ek is nie Shakespeare nie. Ek is nie eens Stephen King nie. My kop begin draai as ek net aan bloed dínk.

Ek is ’n meisie wat te veel vrae vra. Miskien moet ek eerder ’n speurverhaal skryf. Verlore verfkwas? Gesteelde stillewe? Vol tergen­de vrae soos: Wie het die stillewe gesteel? Wat is die sin van ’n stillewe? Noudat ek daaraan dink, wat is die sin van die lewe?

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe)

Подняться наверх