Читать книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver - Страница 9

5. Digterlike vryheid

Оглавление

“Gaan ons nou Naam, van, dier, dorp speel?” vra Amos ná aand­ete, ongeduldig, terwyl ek en hy skottelgoed was.

Mana het ons in werkspanne ingedeel. Nog een van haar pogings om ons as gesin saam te snoer. Nog ’n manier om die vakansie in ’n strafkamp te verander, meen Yann. Werkspanne met gemengde gene, soos Mana dit noem. As ek en Tibo saam moet skottelgoed was, sal ons dalk ’n kliek vorm teen Beyers se seuns. Ek weet nie waar sy haar idees optel nie. As ek en Tibo saam moet skottelgoed was, sal ons aanmekaar stry oor messe wat nie goed gewas is nie en borde wat nie behoorlik afgedroog is nie. Presies soos ek en Amos maak. Niks met gene te doen nie.

“Nie nou nie,” sê Mana, uitgestrek op die rusbank, terwyl ek ’n sopkastrol staan en skuur. “Beyers gaan eers vir ons ’n paar gedigte lees.”

Ek dog eers dis weer ’n nuwe grap. Maar dan sien ek dat Beyers sowaar deur Groot Verseboek 2000 sit en blaai. So ’n swaar blou baksteen van ’n boek.

“Wie se idee is dít nou?” mompel Yann met ’n mismoedige uitdrukking.

Verstaan my mooi, Beyers kan ’n gedig lees dat jou kleintongetjie krul van lekkerkry. Ek het hom al in aksie gesien, voor ’n saal vol mense wat aan sy lippe hang, maar dis nie die soort ding wat hy ooit by die huis doen nie. Ons is nie die soort gesin wat saam gedigte lees nie. Kry mens nog sulke gesinne? Mana dink blykbaar so.

“Watse gedigte?” vra Tibo wantrouig. “Goed wat ons ken?”

“Net wat julle wil,” sê Beyers. “Oud, nuut, hartseer, snaaks …”

“Nie hartseer nie,” sê Tibo. “Ek is klaar hartseer oor ek nie kan TV kyk nie.”

Hy lyk nogal droewig soos hy daar sit, in ’n bondeltjie op die vloer voor die koolstoof, so na aan die hitte as wat hy kan kom sonder om sy klere aan die brand te steek.

“Ek verstaan,” sê Beyers. “’n Hartseer gedig sal meer wees as wat vlees en bloed kan verduur.”

“Ook nie te oud nie,” sê Amos terwyl hy ’n vadoek halfhartig oor ’n bord vee. “Ek sukkel met daardie outydse Afrikaans.”

“Ook nie te nuut nie,” sê Mana. “Verkieslik nie een van daardie nuwe gedigte vol vloekwoorde en dinge wat nie vir kinders se ore bedoel is nie.”

“En tog net nie politieke protes nie!” roep Yann uit.

“Wat het jy teen politieke protes?” vra Beyers.

“Dis boring,” sê Yann en druk sy oorfone op sy kop.

Sy oë word amper onmiddellik wasig. Die meisies by die skool is mal oor my stiefbroer se oë. Bloublasieblou met swaar swart wenkbroue en lang swart wimpers. Sharon het op ’n keer vir my gevra of hy nie dalk sy wimpers kleur nie. Ek het my sommer vererg. My pa mag dalk maskara dra, maar dit beteken nog nie dat al my manlike familielede met hulle wimpers lol nie.

“En wat van jou musiek?” Beyers praat harder as gewoonlik om seker te maak Yann hoor hom bo die geraas in sy ore. “Baie daarvan is tog ook politieke protes?”

“Solank daar ’n beat is,” sê Yann, “is dit oukei. Gedigte het nie ’n beat nie.”

“Goed,” sug Beyers. “Nou het ons ou gedigte, nuwe gedigte, politieke gedigte en hartseer gedigte uitgeskakel. Wat bly oor?”

“Miskien moet ons eerder Naam, van, dorp, dier speel?” stel Amos hoopvol voor.

Op die ou end, liewe leser, ignoreer Beyers al die voorskrifte en lees presies wat hy wil. Een of twee oues, een of twee nuwes (met vloekwoorde en al), ’n bietjie politiek, ’n bietjie droewigheid, ’n paar wat ons lekker laat lag. Selfs Yann wat kamstig dikmond na die koolstoof staar, sit daar met ’n grinnik op sy bakkies.

En ek voel hoe ’n idee in my maag begin borrel. Dis waar al my beste idees altyd begin. In my maag.

Miskien moet ek eerder ’n digter word.

Vergeet van speurverhale. Ek weet in elk geval nie hoe op aarde Fabienne die valse Minister van Appels en Pere gaan vastrek nie.

Terwyl ons vanoggend weer deur die fynbos moes marsjeer, het ek gewonder of die minister met die verkeerde tande nie dalk ’n alien kan wees nie. ’n Wese van ’n ander planeet wat die minis­ter se lyf oorgeneem het. Toe dog ek maar dan kan al die ander ministers se lywe mos ook oorgeneem word! Dan kan die hele parlement mos vol aliens wees!

Toe ek vir Beyers vra of hy ’n storie sal lees waarin die parlement deur aliens oorgeneem word, toe grinnik hy en sê nee, dit klink heeltemal te na aan die werklikheid. En hy stap fluitend voort. In so ’n vrolike bui dat jy sou sweer sý lyf is deur ’n alien oorgeneem.

Nou sit ek op my bed, langs ’n flikkerende kers op ’n omgekeerde boks, en wonder waaroor ek kan dig. Ek sien niks in die kamer wat my inspireer nie. Dis ’n baie basiese vertrek, omtrent so groot soos ’n tronksel, met ’n kaal houtvloer, twee bewerige ysterkatels en vier hake waaraan ’n paar kledingstukke opgehang kan word. Die hake sit bokant ’n klein venstertjie, sodat die hangende klere sommer ook as gordyne kan dien. G’n plafon nie, net swaar houtbalke wat die rietdak stut. G’n matjie of muurversiering nie. ’n Eenvoudige, koue kamer. Dis al.

Hoe gaan daardie versie nou weer?

Dis die vloer,

dis die muur,

dis die donkerste uur.

Dis al.

Dis die pen in my hand,

dis die leë papier,

dis die bitterste uur.

Dis al.

Hanna Hoekom. Winter 2002. Bitterberg.

Oukei, ek weet, dis nou nie juis Antjie Krog nie. Maar sy moes ook iewers begin. Ek sal my eerste versie Stillewe noem. Ter na­gedagtenis aan my eerste speurverhaal wat so vroeg moes sneu­wel.

Eintlik is die berg se naam Botterberg. Maar toe Beyers dit van­oggend sê, hoor ek Bitterberg. En ek sug dramaties en sê: “My bitter vakansie op ’n bitter berg.”

“Nee,” lag hy. “Botterberg. ’n Berg vol botter vir ons wittebrood!”

“Jy kan maar sê ons het met ons sterte in die botter geval!” lag Mana vrolik saam.

Ek sal dit nie sê nie.

Ek het gedog ’n gedig sou makliker as ’n speurverhaal wees. ’n Gedig het nie ’n spannende storielyn of ’n geloofwaardige ontknoping nodig nie. Net woorde.

Nou weet ek van beter.

Die bom bars oor middagete. Ek sit ewe niksvermoedend langs die kombuistafel en kou aan ’n gebakte aartappel, dankbaar dat ek nie weer sop hoef te sluk nie, toe Amos iets agter sy hand vir Tibo fluister. Die volgende oomblik proes hulle saam van die lag. En iets aan die manier waarop hulle na my loer, laat my lont ruik.

“Wat’s so snaaks?”

“Dis die aartappel in my mond,” gie-gie Amos.

“Dis die hond op die grond,” giggel Tibo.

“Dis al!” roep hulle saam uit en val amper vooroor in hulle borde soos hulle lag.

My kop ruk regop. Ek vóél hoe my gesig wit word. Hoe die bloed uit my vel gesuig word deur ’n verskriklike woede.

“Dit klink of ons poësie-aandjie julle begeester het,” sê Mana ingenome.

“Dis die vuur, dis die muur,” sê Tibo met toe oë, soos een wat in ’n beswyming gaan. “Dis die bitterste uur.”

“Ek sien twee seuntjies wie se bitterste uur aangebreek het,” sis ek deur my tande.

“Dis al!” proeslag hulle weer saam.

“Julle het in my kamer rondgekrap. Julle het my boek gelees!”

“Ons het nie rondgekrap nie,” sê Tibo vinnig. “Die boek het oop en bloot daar langs die bed gelê.”

“Die deur was toe!” bulder ek. “Julle wéét julle moet wegbly as die deur toe is!”

Ek wonder wát hulle alles gelees het. Die gedig kan ek miskien nog aflag as ’n grap, maar wat van my sielkundige riller? My bloederige rolprenttoneel? My onvoltooide speurverhaal? My hele lewe lê oopgevlek tussen die harde swart buiteblaaie van daardie boek!

“Dis wat jy altyd by die huis sê,” skerm Tibo. “Ons is nie nou by die huis nie. Dis nie jou slaapkamer nie.”

Hy het altyd ’n antwoord. Mana glo hy gaan ’n advokaat word. Ek glo hy gaan deur sy halfsuster vermoor word lank voordat hy oud genoeg is om ’n advokaat te word.

“Toe nou, Tibo,” sê Mana met ’n kwaai frons, “jy weet dis nie ’n verskoning nie.”

Sy kan sien ek is so briesend dat ek nie ’n woord kan uitkry nie.

“Tj’aag, dis net ’n simpel ou versie wat ons gelees het,” sê Amos. “Dis nie enigiets belangriks nie.”

“Ek het nie geweet jy skryf gedigte nie, Hanna,” sê Beyers.

Net om my weer kalm te kry. Ek ignoreer hom en gluur na die twee oorkant my. Amos se sproetgesig begin ’n bietjie skuldig lyk. Hy staar na sy bord, sy oë weggesteek onder sy krullerige kuif. Tibo toon geen teken van berou nie. Hy sukkel om sy selfvoldane grinnik af te sluk. My vingers vou styf om die mes in my regterhand.

“Wie is julle om te besluit of dit belangrik is of nie? Dis ék wat dit geskryf het! Vir mý is dit belangrik!”

“Wanneer was julle in Hanna se kamer?” vra Mana.

“Net voor ons begin eet het,” sê Tibo. “Skaars vyf minute. Ek weet nie waarom sy so aangaan daaroor nie.”

“Dit maak nie saak hoe lank julle daar was nie, jou bobbejaan! Julle het nie die reg om daar in te gaan nie!”

“Jy mors jou asem,” sug Yann. “Hulle het g’n respek vir enigiemand se privaatheid nie.”

Ek maak my mond oop om hom iets bitsigs toe te snou. Dan sien ek dat hy sowaar met ’n bietjie simpatie na my kyk. Die mes glip uit my hand en val kletterend op die vloer.

“Hulle snuffel alewig deur my goed ook. Ek moet elke paar dae ’n nuwe wegsteekplek vir my CD’s kry. Dis só vervelig.”

“Lyk of ons hulle ’n les moet leer,” sê Beyers en vryf ingedagte oor sy ken. “Miskien moet ons vir Hanna vra om ’n straf voor te stel. Aangesien sy die laaste een is wie se privaatheid aangetas is.”

“Nee!” roep Tibo en Amos saam uit. “Ons sal nie weer nie! Nooit weer nie! Belowe!”

“Hmmmm. Laat ek sien …” Ek begin die situasie nogal geniet. Die skielike gevoel van mag wat my kop so effens laat draai. Die feit dat my ouer stiefbroer vir die eerste keer in sy lewe my kant gekies het. “Miskien moet ek vir hulle die ‘simpel ou versie’ gee dat hulle dit ’n paar honderd keer uitskryf … as hulle lank genoeg aanhou, sal hulle dalk ’n dieper betekenis daarin begin sien?”

“Nee!” steun Tibo.

“Asseblief nie!” smeek Amos.

“Uitstekende idee,” glimlag Beyers. “En as jy weer ’n gedig skryf, Hanna, sal ek geëerd voel as jy my toelaat om dit te lees.”

“Ag, dit was sommer net iets wat ek gedoen het om my besig te hou,” skerm ek dadelik. “Ek dink nie ek is eintlik ’n digter nie.”

Twee dae later wéét ek dat ek vir ewig genees is van die versoeking om ’n digter te word. Soggens terwyl ons oor berge en deur dale marsjeer, smiddae terwyl ons kos maak of skottelgoed was, saans terwyl ons om die koolstoof kaartspeel, elke nou en dan kom iemand vorendag met ’n verspotte rympie.

“Dis my wrede pa,” kreun Yann douvoordag, “wat my uit die bed opja …”

“Dis al!” skaterlag Amos uit die kamer langsaan.

“My maag is so vol, ek voel ek gaan rol,” prewel Tibo aan tafel.

“Ag nee. O wee,” sug Beyers. “Die kos is koud. Iets is fout.”

Ek weier natuurlik om deel te neem. Steek net my neus in die lug en maak of ek hulle nie hoor nie. Maar dis nogal aansteeklik, so ’n rymelary. Teen die tweede aand, terwyl ons ’n eenvoudige vorm van poker speel, begin selfs Mana in versreëls praat. Sonder dat sy dit bedoel.

“Ek sal my siel verpand,” sê sy so half mymerend, “vir die kaart in Yann se hand.”

Ons lag almal vir die verraste uitdrukking wat skielik oor haar gesig flits. Ja, selfs ek. En Yann lag die lekkerste van almal. Hy het die hele dag lank nie sy oorfone opgesit nie.

Dis wraggies ’n vreemde vakansie dié.

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe)

Подняться наверх