Читать книгу Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe) - Marita van der Vyver - Страница 8

4. Fabienne verloor haar vader

Оглавление

Ek was nog nooit so dankbaar dat ek in die een-en-twintigste eeu lewe nie. Ná ’n enkele aand sonder elektrisiteit, almal van ons kou­lik saamgekoek om die koolstoof in die kombuis, wéét ek dat ek enige vorige eeu sou gehaat het. G’n wonder die meisies het aanmekaar flou geval of waansinnig geword nie. Wat anders was daar om te doen?

Ons was gisteraand uitgelewer aan mekaar se geselskap. Son­der televisie, rekenaar, telefoon of enige van die ander moderne masjiene wat ons gewoonlik so wonderlik teen mekaar beskerm. Ons was so verveeld dat ons ’n vasvraspeletjie begin speel het. ’n Skielike floute of ’n vinnige vlaag waansin sou ’n welkome afwisseling gewees het.

Die vasvraery het glad nie gewerk nie. Die punt van so ’n spele­tjie is tog om mekaar se algemene kennis te toets, maar nie een van ons se kennis is juis algemeen nie. Beyers weet alles van teater, van Shakespeare tot die nuutste toneelstukke op Broad­way, en Mana weet alles van elke skildery op aarde, waar die skilder gebore is en watse kos hy graag geëet het. Yann kan ure lank praat oor moderne musiek en ek kan amper net so lank praat oor boeke. Maar nie een van ons weet enigiets van oorloë of ontdekkingstogte of klippe of kieme of al die ander onderwerpe waaruit “algemene kennis” veronderstel is om te bestaan nie. Selfs die twee kleintjies se kennis is ongesond beperk. Tibo het ’n ob­sessie oor TV, ken elke sepie en dokkie en aanbieder se naam, en Amos is mal oor towenaars en toorkuns, van Houdini tot Harry Potter. Maar moenie vir hulle vra wat is die hoofstad van Pakistan nie!

Nie een van ons weet wat is die hoofstad van Pakistan nie.

Nie een van ons kon enigiemand anders se vrae beantwoord nie.

“Hier’s ’n maklike een!” het Yann ná ’n halfuur uitgeroep. “Selfs die oumense sal die antwoord ken! Wat’s die naam van die album wat Nirvana wêreldberoemd gemaak het?”

“Die oumense” het vraend na mekaar gekyk.

“Ek weet! Ek weet!” het Tibo gegil.

Dis wat hy elke keer gedoen het. Teen dié tyd het niemand eens meer na hom gekyk nie.

“I don’t care!” het ek uitgeroep.

“Ag nee, Hanna, moenie só wees nie,” het Mana gesê. “As jy nie die antwoord ken nie, kan jy mos maar raai.”

“Maar dis die antwoord! Is dit nie?”

Ek het vraend na Yann gekyk. Hy het sy kop mismoedig ge­skud. Die twee oumense kon nog vergewe word vir hulle on­kunde. Dis sy tienderjarige stiefsuster se onnoselheid wat hom ver­pletter het.

“Nevermind,” het hy gemompel. “Ek dink ek gaan eerder slaap.”

“Ag nee, Yann!” het Mana gekeer. “Moenie só wees nie! Gee vir ons die antwoord!”

“Dis die antwoord, Mana. Nevermind. Dis die naam van die album.”

“O.” Mana het net ’n oomblik afgehaal gelyk. “Toe maar wat, môre­aand sal ons dit makliker maak. Wanneer laas het julle Naam, van, dorp, dier gespeel?”

Yann het met ’n uitdrukking van afgryse na haar gestaar.

“Is dit die een waar jy ’n letter van die alfabet kies?” wou Amos weet. “En dan skryf jy allerhande woorde neer wat met die letter begin?”

“Ek sal liewers lees,” het ek vinnig gesê. “Ek het baie boeke saam­gebring.”

Of aan my nuwe idee vir ’n speurverhaal werk. Stillewe. Hou die titel eenvoudig, het ek besluit. Hou die sinne kort. Die wind waai koud. Iewers blaf ’n hond. Dié soort van ding.

“Jy kan heeldag lees, Hanna. Saans is die lig te swak.” Mana het haar voorbeeldige klaskapteinstem aangeplak. “Saans moet ons sáám iets doen. Die hele gesin.”

“Watse gesin?” het Yann gevra en soekend om hom rondgekyk.

“Élke aand?” het ek geprewel.

Liewe leser, ek weet nie of ek hierdie vakansie gaan oorleef nie. Ek weet nie of ek elke aand Naam, van, dorp, dier kan speel sonder om waansinnig te word nie. Of minstens nou en dan flou te val nie.

Ek wens ek kon vir Sharon bel. Haar soebat om ’n paar dae vroeër te kom. As Sharon eers by ons is, sal my ma ons nie kan dwing om elke aand te maak of ons ’n gesin uit ’n vorige eeu is nie. Maar Beyers se selfoon werk nie hier op die berg nie. Ons is heeltemal afgesny van die buitewêreld. Soos ’n gesin uit ’n vorige eeu.

Ek wens ek kon vir Gavin bel. Hom vra of ons nie maar die fees tot volgende jaar kan uitstel nie. Ek het veertien verjaardae sonder hom gevier. Ek kan nog ’n jaar wag.

Aan die ander kant, troos ek myself, hy sal seker geïmponeer wees met Sharon. Hy sal dalk selfs ’n bietjie meer geïmponeer wees met mý oor ek vir Sharon as beste vriendin kon inkatrol. Dis hoe ek soms aan Sharon dink. Soos ’n vet vis wat per ongeluk – per geluk! – deur ’n onbeholpe visser gevang is.

Sharon is baie mooier as ek. Sy trek baie beter aan as ek. Haar gesin het baie meer geld as myne. Ons het heeltemal toevallig op ons eerste dag op hoërskool langs mekaar beland. Ek het ’n aanmerking oor ’n onderwyser gemaak waaroor sy haar ’n papie wou lag. Ons het besluit ons hou van mekaar. Dit was so eenvoudig soos dit.

O ja, amper vergeet ek, daar’s nog ’n verskil tussen Hanna Hoe­kom en Sharon Bester. My vel is die kleur van melk met ’n titsel­tjie flou tee bygeskink. Sharon is helfte koffie, helfte melk. Goeie koffie, moet ek seker bysê. Duur koffie. Alles aan Sharon lyk duur.

Mana sê in die ou dae het witmense omtrent altyd meer geld gehad as mense van enige ander kleur. Sy dink dis fantasties dat die teenoorgestelde deesdae moontlik is. Ek ook, natuurlik. Maar ek moet erken soms kyk ek nogal afgunstig na my beste vriendin. Veral as sy so terloops laat val dat hulle die vorige aand weer steak geëet het.

Wat my weer aan Fabienne laat dink.

Fabienne kan nie doodgaan nie, het ek besluit. Nie eens so ’n kunstige, grillerige dood nie. Ek het te geheg geraak aan haar. Maar Fabienne se pa kan geheimsinnig doodgaan. Of dalk net ge­heimsinnig verdwyn. Oor hy in iemand se mond gekyk het, sê nou maar ’n belangrike politikus, en iets gesien het wat hy nie ver­onderstel was om te sien nie.

Nou moet ek net uitwerk watse lewensgevaarlike geheime in ’n politikus se tande kan skuil.

“Dis nie ’n vakansie nie,” kreun Yann vroegoggend terwyl hy ’n beker koffie langs die koolstoof afsluk. “Dis ’n strafkamp! Dis soos die army!”

“Wat weet jy van die army?” grinnik Beyers. “Wees dankbaar jy woon in ’n land waar laaities soos jy nie meer diensplig hoef te doen nie. Toe ek jonk was …”

“Ek weet, ek weet,” brom Yann. “Toe jy jonk was, moes jy jou land gaan verdedig teen kommuniste en terroriste en allerhande ander -iste.”

“Wel, ék is dankbaar my seun hoef nie ’n soldaat te word nie,” sê Mana en gee vir my ook ’n beker koffie aan.

“Ek sou nie omgegee het nie,” sê Tibo met ’n uitgerekte gaap terwyl hy ’n anorak oor sy Batman-pajamapak toerits. “Ek hou van kamoefleerklere.”

Mana gee hom ’n skewe kyk. Hy dink seker om ’n soldaat te wees is soos om met sy Action Men te speel. Ek wonder of ek hom moet waarsku dat ’n soldaat nie veronderstel is om ’n aand­rok met blinkertjies te dra nie. Maar ek is nog te deur die slaap om skoor te soek. Ek vat ’n sluk koffie in die hoop dat dit my wakker sal skok, en voel hoe die hare op my kop begin rys. Só geskok wou ek nou ook nie wees nie. Mana bars uit van die lag.

“Dis hoe boeretroos smaak,” sê sy. “Moerkoffie wat in ’n meelsak op ’n koolstoof gebrou is.”

“Ek dink ek sal liewers van jou groen tee begin drink.”

“Dis ’n outydse vakansie. Ons gaan outydse koffie drink.”

Dit lyk nie of die boeretroos enige uitwerking op Yann het nie. Hy drink sy beker soos ’n slaapwandelaar leeg en staar stug na die gloeiende kole agter die oop deurtjie van die oond. Dis nog nie heeltemal lig buite nie. Beyers het ons almal douvoordag uit die bed geboender om ’n ent te gaan stap voor ons ontbyt eet.

“As ons heeldag in die huis bly, gaan ons op mekaar se senu­wees begin werk,” het hy in my kamerdeur aangekondig. “Ons moet van ons oortollige energie ontslae raak.”

“Ek het nie oortollige energie nie,” het ek gekreun en die slaapsak oor my kop getrek. “Nie vyfuur in die oggend nie.”

“Dis amper sewe-uur!”

“Dit voel soos die middel van die nag,” mompel ek van diep onder in my slaapsak.

Maar hy is klaar in die kamer langsaan.

“Toe, toe, toe, opstaan!” hoor ek hom roep. “Die môrestond het goud in die mond.”

“Wat het ek gedoen om dít te verdien?” kerm Yann, sy stem dof, asof hy ook onder ’n kussing of ’n slaapsak wegkruip.

Amos is die enigste een wat sonder ’n woord van protes opgespring het. By die huis is hy ook altyd eerste wakker. Die res van ons is nou eenmaal nie wat jy oggendmense sal noem nie. Nie eens Beyers nie. As jy my vra, het die dun berglug sy verstand aan­getas. Of dalk is dit die koolstoof wat giftige dampe afgee. Dalk gaan ons almal oor die volgende drie weke anders as by die huis begin optree. Dalk sal Mana sober swart klere begin dra en haar hare in ’n ordentlike bolla vasmaak. Dis miskien selfs moontlik dat Yann my soos ’n oulike jonger sussie sal begin behandel.

Nee, dink ek terwyl ons ’n halfuur later deur die fynbos ploeter, dis nie moontlik nie. Yann het sy Walkman se oorfone oor sy kop gedruk om hom van alles en almal af te sluit. Hy hoor nie die gekwetter van voëls nie en hy sien nie die dou op die struike langs die voetpaadjie nie. Hy stap soos ’n soldaat wat nie ’n keuse het nie. Dis hoe hy die volgende drie weke gaan oorleef. Deur bevele te gehoorsaam en hom met musiek te verdoof. Die lááste ding wat hy gaan opmerk, is ’n oulike jonger sussie.

Tibo en Amos draf ’n ent voor ons uit saam met die twee honde. Hulle is ewe oud, maar Tibo is omtrent ’n kop kleiner as Amos, en baie skraler. Die honde se sterte wapper soos vlae. Hulle is gewoond aan ’n tuintjie vol onkruid in ’n voorstedelike dood­loopstraat. Hierdie wye oopte moet vir hulle soos die hemel voel.

Vir my voel dit ook of ek onverwags in die hemel beland het. ’n Ent onder my hang ’n digte misbank oor die vallei. Asof ek in ’n vliegtuig sit. Hoër as die wolke. Sowaar.

“Dis ’n toneel wat geverf moet word!” sê Mana uitgelate.

“Ag nee,” kreun Beyers.

“My vingers jeuk, Bey.” Sy gaan staan stil om asem te skep. Draai stadig in die rondte, oopmond van verwondering. “Jy weet wat dit beteken.”

“Ek weet,” sug Beyers. “Jy verdwyn agter jou esel en ek moet op my eie honeymoon hou.”

“Ek het vergeet dis veronderstel om ’n wittebrood te wees,” sê sy afgehaal.

“Vir die hele gesin,” herinner Beyers haar. “Jy’s die een wat gesê het ons moet almal sáám dinge doen.”

“Kan ons nie almal saam skilder nie?” vra sy laggend.

Ek probeer my voorstel hoe my ma hierdie toneel sal skilder. Die berge sal seker skarlakenrooi wees en die lug ’n snaakse skakering van groen. Soms as ek na haar prente kyk, wonder ek of sy nie dalk kleurblind is nie. As ek na haar klere kyk, wonder ek nog meer.

“Ek moes jou verbied het om jou verfgoed saam te bring,” mom­pel Beyers toe hy verder stap.

Asof Mana haar al ooit aan enige verbod gesteur het.

As die Muse die dag by jou kom kuier, glo my ma, moet jy alles los en doen wat sy jou beveel om te doen. Anders vervies sy haar dalk en besluit om nie weer te kom kuier nie. Mana gehoorsaam altyd haar Muse. Sy vergeet van alledaagse pligte soos honger kinders, vuil vloere, stapels skottelgoed. Sy vergeet selfs om haar hare te borsel of haar gesig te was. As Sharon haar só moet sien, sal sy sweerlik nooit weer vir my kom kuier nie. Ek kan maar net hoop my ma se Muse sal haar nie hier op die berg opspoor nie.

Iewers blaf ’n hond. Die tandarts se hande word klam van die sweet. Dis tog onmoontlik. Die pasiënt in die tandartsstoel kreun van die pyn. Dis die regte pasiënt. Vernon April. Minister van Appels en Pere. (Of so iets. Ek moet nog vir hom ’n portefeulje opmaak.) Dis die regte pasiënt. Met die verkeerde tande. Die stel tande in die oopgesperde mond onder die tandarts se hande behoort nie aan die Minister van Appels en Pere nie. Iewers kraai ’n haan. (Juffrou Liebenberg sal dink ek bedoel dit simbolies.) Dan voel die tandarts die loop van ’n rewolwer teen sy rug.

“Wat gaan hier aan?” vra die tandarts verskrik.

“Moenie vrae vra nie,” grom die minister se gespierde lyfwag en druk die rewolwer dieper in die tandarts se rug. “Doen iets aan die pyn. Trek die tand. En maak gou.”

“Ek kan nie die tand trek nie!” Die tandarts wys na die rekenaar langs hom. Op die skerm is ’n grafiese voorstelling van die minister se gebit. “Ek het dit laas jaar al getrek!”

“Trek dit weer,” beveel die lyfwag hom. “Vergeet van die rekenaar. Kyk na die tande voor jou.”

Dit sal nie help om vir die kreunende pasiënt te vra wat met sy tande gebeur het nie. Of wat met die Minister van Appels en Pere gebeur het nie. Die pasiënt lyk heeltemal bedwelm van pyn.

“Ek verstaan nie,” prewel die tandarts terwyl hy ’n spuitnaald in die pasiënt se tandvleis druk.

“Bly stil,” sê die lyfwag. “Of ek maak jou vir altyd stil.”

Dis hoe ver ek vanoggend met my speurverhaal gevorder het. Terwyl ons deur die fynbos gemarsjeer het. Nooit gedink my verbeelding kan so vrugbaar wees op ’n leë maag nie.

Die besoek van die minister met die verkeerde tande laat ont­spoor die tandarts se lewe. Hy sluit sy spreekkamer, te ontsteld om te werk, en bestel ’n klomp video’s van TV-programme waarin die Minister van Appels en Pere verskyn het. Hy kyk ure lank na die video’s, oor en oor, sy vinger pal op die Pause-knoppie van die afstandbeheerder. Soek die verskil. Dis die speletjie wat hy sonder ophou speel. Die verskil tussen die minister op die oudste video en die minister op die nuutste video.

Die tandarts vind géén verskil nie.

Dis tog nie moontlik nie, sê hy vir homself. Selfs al is hierdie man die beste toneelspeler in die wêreld, selfs al het die beste plastiese sjirurg in die wêreld sy hele voorkoms verander, dan moet daar tog iewers ’n verskil sigbaar wees. Behalwe nou in die man se mond.

Die tandarts wonder of hy nie waansinnig word nie. Of die valse minister se besoek nie net ’n nagmerrie was nie. Maar drie dae ná die besoek bel die lyfwag. Hy sê nie sy naam nie, hy herhaal net die woorde waarmee hy die tandarts in sy glansende wit spreekkamer gedreig het: “Hou jou mond. Anders sal jou vrou se mond gesnoer word. Of jou dogters se mooi mondjies …”

Omdat die tandarts vir niemand kan vertel wat hy gesien het nie, skryf hy die ongelooflike storie neer en steek die vel papier weg agter ’n portret wat in sy spreekkamer hang. ’n Stillewe wat sy kunstige dogter geskilder het. (Slim, nè? Nou hoef ek nie my speurverhaal se titel te verander nie. Stillewe klink nou eenmaal meer classy as Verlore tande.) En omdat hy ’n voorgevoel het dat hierdie kennis hom sy lewe gaan kos, waarsku hy een aand aan tafel vir Fabienne om tog nooit van die stillewe ontslae te raak nie.

“As ek miskien iets oorkom,” mompel hy terwyl hy aan die wit boud van ’n plomp plaashoender hap, “moet jy dit altyd naby jou hou.”

Fabienne is verbaas oor dié ernstige versoek. Maar ook nie só verbaas nie. Haar pa is mos maar ’n ernstige tandarts.

“Ek is seker Pappa sal nie sommer iets oorkom nie.”

“Maar ás iets gebeur. Belowe my.”

Fabienne belowe. Sy is haastig om haar suster se nuutste sjokoladepoeding te proe. (Dis nie die storie waarin Fabienne haar eetlus verloor nie, liewe leser. Dis die storie waarin Fabienne haar vader verloor.) Drie dae later verdwyn die tandarts, sonder ’n spoor, op pad van sy glansende wit huis na sy glansende wit spreekkamer. Fabienne onthou wat haar pa oor die stillewe gesê het en gaan haal die portret in sy spreekkamer. Toe sy dit in haar eie kamer ophang, merk sy dat iemand met die raam gepeuter het. Só ontdek sy die vel papier wat die tandarts weggesteek het.

Sy wys dit vir die polisie wat wyd en syd na haar pa soek. Die polisie reken hy het ’n senu-ineenstorting gehad. ’n Indringer in die Minister van Appels en Pere se lyf! Verbeel jou! Fabienne se ma met die groen vingers en Fabienne se suster met die suikervingers stem saam dat die tandarts die laaste paar dae voor sy verdwyning nie soos ’n normale man opgetree het nie.

Maar kyk op sy rekenaar, sê Fabienne, daar moet tog ’n grafiese voorstelling van die minister se tande wees! Die polisie vind die minister se lêer en vergelyk dit met die minister se tande. Alles klop. Iemand het met die rekenaar gepeuter, dink Fabienne. Of anders het haar pa sowaar waansinnig geword.

Liewe leser, wat sou jy geglo het as jy Fabienne was? Belang­riker: Wat sou jy gedóén het?

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (skooluitgawe)

Подняться наверх