Читать книгу Agaat - Marlene van Niekerk - Страница 10

5

Оглавление

Twaalfuurstilte. Die planke kraak in die gang. Is dit iemand wat by die telefoontafeltjie staan, die gewig van die een been na die ander verplaas? Of ’n foto teen die muur bestudeer, of huiwer, oorval deur ’n gedagte, ’n nagedagte? Wik en weeg?Vorentoe en agtertoe? Die planke kraak vanself.

Daar is niemand nie. Dit is die geluide van ’n ou huis.

My huis kan meer geluide maak as ek.

Ek verbeel my soms ek hoor voetstappe, vlugtig van voor na agter dwarsdeur die huis, ’n haastige, saaklike tred in die oggende. In die nag, in die middagure tussen twee en drie, ’n moeisame gang, ’n sleepvoet, ’n kierie.

Asof daar êrens ’n opname gemaak is van al die kere dat ek in die gange en die kamers van my huis geloop het, asof dit nou vir my teruggespeel word op ’n verweerde geluidsband, ’n rekord sonder duidelike mededeling.

Wat moet ek daaruit opmaak? Wat is die boodskap? Ek was bedoel om ’n regop dier te wees? Bedoel om my ledemate te strek, vier kwartiere in die lug te markeer, ’n goue snede, my reikwydte die bestek van my intensies? Gemaak om te swem, te stap, te klim, hoopvol genoeg om te probeer vlieg?

Hier lê ek. Gevierendeel deur perde sou beter wees.

Soms klop dit in die nok, een, twee, drie, vier keer hard as die dakpanne afkoel in die nag. Dan word ek wakker en ek wonder wie het gekom?

Wie wil inkom? wil ek roep, wie is daar?

Maar daar is niemand. As Agaat my alleen los, soos vandag, is ek niemand. Tussen my en my geen spleet van verskil.

Soggens as die dak opwarm, tiks-tiks dit vir ’n uur bokant my kop. Asof daar ’n gangmaker is wat my wil help dink, ’n gedagte wat ek nie alleen gedink kan kry nie.

Ek is minder as ’n dak.

Ek is ’n geut.

Ek hoor geritsel soms in die kosyne. Boorwurms moet dit wees, muise dalk, of kakkerlakke. Knaagsels wat afsif in die holtes tussen die hout en die muur, muise seker, insekte.

Ek sou vir Agaat aan die verstand kan bring om vir my ’n kakkerlak in ’n bottel te bring dat ek kan kyk hoe hy roer met sy plat vaal lyf, hoe hy roei met sy pote teen die glas. Sy sal haar kan verlekker in hoe jaloers ek is op ’n kakkerlak.

My bed waarin ek gekantel word, maak my gewig vir my voelbaar. My los gewig binne-in my vaste gewig. Elke keer voel ek hoe my binnegoed in my skuif. My hart in ’n mandjie, my derms ’n hoop roltwak wat eenkant toe val in ’n krat. Dit is al wat sy gedoen het vandag. My kom kantel hier. Sonder ’n woord.

My vleis is onregverdig verdeel oor my bene. Die gewig van my geraamte is my enigste eerlikheid. My vleis laat my huil.

Ek sien die kontoer van my voete onder die deken. My voete is stompe. Die spanning is uit my tone. My voete lyk soos knieë, my knieë lyk soos hompe, soos katkoppe, my heupbene maak rante en tussenin is ’n holte. My borskas loop skuins na my op, weerskante van my borsbeen is lankal niks behalwe velle. Ek onthou die gewig van my borste, die skaduwee van my borste.

Nou speel die lig om my, ’n kluit op die land, ’n vlak kontoer. Dit gradeer sigself oor my hoogtes en my laagtes, ’n geslepe boetseerder. Die deken is wit, die skaduwees blou. Die lig teken my bed se relings om my soos ’n traliehok. Ek is ’n geraamte in ’n geraamte, ’n krat in ’n trok, maar ek het nog tyd, in my is my tyd, my kwynende vleis hou my tyd in my.

’n Mens behoort net van been te wees as die sterfte begin. Maar ’n geanimeerde gebeente. ’n Skedel vol flitse, ’n hand wat kan skarnier soos ’n sinjaal. Een gebaar moet jou gegun wees bo die skepsels wat in onskuld mag doodgaan. En dan moet jy terugtree in gelid.

Donkertes glip langs die vloerlyste, lig kring oor die vloerplanke, oor die chroom, oor die stapels wit linne, oor die potjies en buisies en lap. Stippe en strepe en kolle. Hoe laat is dit? Ek wil nie weet nie. In die voorhuis tik die staanhorlosie.

My kamer skilder homself van uur tot uur, voltooi homself elke dag. My kamer is ’n perverse kunstenaar. Ek is die stillewe. Die vou in die lap, die oopgeblaaide boek.

Ek blaai myself na buite. Die geluide van die laaste oestyd kom skryf in my.

Dit moet net voor middag wees, tyd om die oggend se oes af te laai en herstelwerk te doen en asem te skep, die jeukerige kaf en die strooi uit die oë te was. Die stroper wat vanoggend uitgegaan het, kom teruggedreun werfop. Die drywer roep: Maak oop! Die deur skuif skurend op sy rollers oop, op sy spoor van staal geset in die drumpel, die enjin galm donkerder met die inrol onder die dak in. Hier kom die eerste trekker nou. Ek kan hoor hy trek ’n wa vol bale. Die tweede trekker trek ’n wa vol sakke, hy trek swaarder. So te hoor is dit ’n jaar van sterk gewigte.

Hulle roep op die werf. Hulle roep: Dra in, dra in! Vat voor! Dis Dawid en Kadys en die nuwe man, Kitaartjie. Ek hoor ’n bakkie. Dit moet Thys wees wat kom kyk. Agterlangs in die holtes van die skuur is daar ’n getieng-tieng van rondekophamertjies. Ek ken die geluid. Hulle klink nuwe lemmetjies in die rooi stroper se snystange vir môre. Die hooi moet sterk wees want die lemme spring, die lemme slyt.

Miskien kan hulle my nog een keer uitdra op die werf, op ’n baar. Hulle kan my nekstut aansit en my vasgord en my staanmaak onder die wildevyeboom. Sodat ek kan sien. Sodat ek die stof kan ruik, sodat ek die swart pluim dieselrook uit die trekker kan sien staan, sodat ek die krink van die wa aan die trekstang kan waardeer, en die bale kan tel soos hulle ingedra word in die skuur, en die halms kan tel op die rug van die draer, die een kan prys wat voor my voete ’n baal vir my sal oopbreek dat ek die digtheid kan sien, die krag, en die heerlikheid, die een wat sal weet hy moet ’n hand vol vir my bymekaarmaak uit die middel en dit teen my wang druk.

Iemand moet die klein skaal voor my bring en dit ophou in die lug totdat die wyster ophou bewe.

’n Skepel Daeraad wil ek sien weeg, ’n skepel Kleintrou, ’n skepel Sterling.

En iemand moet voor my staan en ’n mond vol Vondeling neem en dit kou vir my en in my oë kyk en ek wil die pupil sien kleiner word as die pitte kraak, en saggies hoor sing terwyl die kake maal, hei hou, span die wa maar in. En as die kousel bind, wil ek sien hoe die oog begin te blink.

En iemand moet ’n fuik vol kuikens bring en weerskante my hande in hulle hande hou en kuikens in my hande sit en hulle voer met die wilde deeg waarin spoeg en semel gestippel sit. Ek wil weer in my palms die tjilp en klop voel van ’n kuikenlyf.

En iemand moet my trane afvee en iemand moet keer dat ek nie verstik nie.

Want die kaart moet ek nog sien.

Hulle moet hom ooprol in die stof en klippe op sy hoeke sit dat hy nie toerol nie. Vier rooiblou skalieskerwe.

Hulle moet die stut afhaal sodat my nek kan buig.

Hulle moet my kop in hulle hande neem sodat dit nie te swaar word nie, en dit oplig en laat sak soos die stok wys op die kaart en die hand wys oor my wêreld, sodat ek die plan van Grootmoedersdrift kan sien en sy eindeloosheid. Die blou kronkelings op papier van die Korenlandrivier aan die westekant, van die Duivenhoks en die Buffeljags aan die oostekant, die digte kontoere, vingerafdrukagtig, van die Langeberg in die noorde en die Potberg in die suide. Die vierkantige stippe van die plekke ringsom: Suurbraak, Heidelberg, Witsand, Infanta, Struisbaai, Port Beaufort, Skipskop, Malgas, Swellendam, Stormsvlei, Riviersonderend, Caledon, Bredasdorp en Barrydale vlak agter die Tradouw en Montagu en Robertson en Worcester.

En tussen die berge en dorpe en riviere, met die reguit rooi streep van die verbypad deur sy lyf, die bestek van my plaas. Die stippellyn van die grense, die wit punte van bakens, die groen van bosse en boorde en die tuine op sy werf, die silwer damme, die aantal suipings en opgegaarde waters op die droëland, die stalle en die skure en die krale. Die grasweidings langs die Kliprivier en die landerye, die kampe vir die lam en die oorsomering, die stukkies driesland, die slaaplandjies en die swart skaduwees van bloekom.

Tussen die grond en die kaart moet ek kyk, op en af, ver en naby tot ek genoeg gehad het, tot ek versadig is van wat ek hier beset het.

En dan moet hulle dit oprol in ’n pasmaat en my nekstut weer aansit soos die mond van ’n koker. En ek sal my oë sluit en my voorberei sodat hulle my kop kan afskroef en die kaart in my leemtes kan laat ingly.

Sodat ek gevul kan wees en gestut van binne en sterk gemaak vir die vaart.

Want sonder my wêreld in my sal ek toeslaan en dig word nog meer as wat ek nou is, sonder spraak en sonder dade en sonder vashou in die tyd.

Ek stapel drie asems. Met my bors maak ek ’n helling. Die klokkie wat Agaat onder my hand gesit het, rol met ’n tinkel uit onder my palm. Dit val eers teen die ysterreling en dan verder tot op die vloer.

*

Die boere van die omgewing het jou en Jak graag uitgenooi na hulle partytjies, die blink byderwetse, kinderlose paar van Grootmoedersdrift. En hulle het oor hulle voete geval om te kom as jy hulle teruggenooi het. Daar was oesfeeste, wolfeeste, waterfeeste op Grootmoedersdrift, ’n fees van die drielinge as dit lamtyd was, ’n fees vir die nuwe kuilvoertoring met geoutomatiseerde snytrommel en aanvoerband. En jou partytjies was altyd die spoggerigste in die streek.

Jak was wellewend en spraaksaam by hierdie geleenthede, soos altyd waarderend na jou toe voor die mense. Die feesfeetjie het hy jou genoem. Nie dat hy ooit ’n vinger gelig het om te help nie. Trouens, niemand het geweet hoeseer die sukses van daardie etes in die laat 50’s op Grootmoedersdrift te danke was aan iemand op wie jy te alle tye kon reken nie. Almal het aangeneem dat dit Jak was wat jou ondersteun het. Niemand sou kon raai dat die boerdery hom nie veel geïnteresseer het nie. En niemand het geweet dat dit in die agterkamer was dat jy gaan troos soek het as hy jou alleen gelos het nie.

Jy het gesien hoe val hulle vir hom, die swerms vroutjies en die varsgeskropte jong boere. Hy was die pièce de résistance by elke geleentheid. Jy het jouself in hulle herken, in die manier waarop hulle nie genoeg kon kry van hom nie. Jy kon sien hoe hulle dink: Hoe het sy dit reggekry? Hoe kan ’n vrou so gelukkig wees?

Hulle ooglede het geflikker by die aanskoue van Jak se nuwe karre en vragmotors en implemente en nuutjies, sy ingevoerde stoetbulle en ramme. Hulle het geloer vir sy fyn Italiaanse skoene en die snit van sy broek, en gebloos vir die argelose manier waarop hy sy hempsmoue een slag opgerol het oor sy bruin polse. Dit alles terwyl jy ligweg oor boeke en musiek gepraat het, net genoeg om die geselskap rondom die etenstafel te bind en almal tog vry te laat in hulle verbeeldingsvlugte rondom MooiJak de Wet.

Dit het jou goed gepas. Jy wou nie Jak se swakhede opwys nie. Jy wou self goed vertoon. Jou werk was om hom te kamoefleer. Want behalwe vir sy Toastmastersgrappe het hy nie veel diskoers gehad nie. Spog kon hy, en spitsvondige kommentaar lewer op wat hy in die koerante gelees het, die planne van die Party kon hy uitlê, en die meganiek van sy implemente, maar hy was te lig vir jou. Dikwels in daardie voorhuis vol gelag, het jy op jou lip gebyt. Jy wou hom sterker hê, selfstandiger, minder deursigtig, jy wou hê dat hy meer van homself, van sy eie substansie moes bevat.

Wat moes hy wees? ’n Ankerpaal? ’n Voorloper? ’n Bron van insig? Hoe kon jy verwag dat hy dit moes verstaan?

Jy het dit self nie verstaan nie. Jy kon net skimp en kriewel. Jy was in die skaduwees. Dit is wat hom kwaad gemaak het sonder dat hy geweet het wat hom pla, dit: Dat jy sy binnegoed verplaas het met jou eie planne.

Maar wanneer het jy dit so begin insien? Nie met soveel duidelikheid in daardie eerste twaalf jare nie.

Jy wou ’n kind hê.

En daarvoor was hy goed genoeg.

Want dit was iets wat jy nie gehad het nie. Dit was in hom. Sy saad.

1 Januarie 1960. Die dag dat jy gehoor het jy is swanger was julle genooi na ’n Nuwejaarspartytjie op die buurplaas Frambooskop vir die verwelkoming van een van die Scottbroers wat teruggekom het uit Rhodesië om sy pa se plaas oor te vat.

Jy wou dit nie dadelik vir Jak vertel nie. Jy was ene fladdering. Jy het jou mooiste rok aangetrek, ’n swarte met ’n lae hals en oop skouers, met moue wat oopgeval het as jy jou arms oplig. Jy het dit laas die aand van jou verlowing aangehad. Dit het jou nog uitstekend gepas. Jy het gebloos daarvan.

Jy het oë op jou gevoel, oë wat jou ondervra het, ’n gesig wat onseker was oor hierdie nuwe bui van jou. Maar jy het die geheim weerhou.

Wie het ’n hand gelê teen jou arm asof jou temperatuur haar sou verwarm? Wie het gevoel aan die soom van jou rok? Wie die buisies en die potjies en die stiffies wat jy uitgehaal het om jou mooi te maak oor en oor in haar hande rondgedraai? Was daar iemand wat iets kon raai en wou deel in jou opwinding?

Nee, jy was alleen. Jy wou alleen wees. Jy het ’n ander mens geword. Alles het van belang en van skaal verander.

Twaalf jaar het jy gewag, twaalf maal drie honderd vyf en sestig dae. So het jy oor en oor vir jouself die som gemaak terwyl jy aangetrek het. Hoekom sou dit nóú uiteindelik gebeur?

Die dokter het ’n uur vantevore gebel met die nuus.

Goeie nuus vir die nuwe jaar, het hy gesê, ek moes iets by die spreekkamer gaan haal en toe is die uitslag daar van die Kaap af. Wees nou net versigtig, mevroutjie, het hy gesê, jy is al ’n paar weke ver, onthou geen ontsteltenisse, nie te veel beweging in die eerste drie maande nie, niks swaar goed optel nie, nie te veel alkohol nie, nie te veel ryk kos nie, swanger vrouens is geneig tot sooibrand.

Jy het jou tyd gevat om jou te grimeer en jy kon nie ophou om dit vir jouself te herhaal nie: Na al die jare, na alles wat jy moes verduur, na alles wat jy aangepak het, so goed en so sleg as wat dit kon, lank nadat jy al die hoop opgegee het, die beloning.

Jy het vir jouself geglimlag met rooi lippe in die spieël. Dit was die moeite werd dat jy teen wil en dank alles bymekaargehou het. Jy het jou nek gestreel. Jy het jou arms opgelig en in die rondte gedraai om die val van die moue te voel, die geritsel van die materiaal. Jy kon nie onthou wanneer laas jy iets so verlustigends gedoen het nie. Dit het gevoel asof jou ledemate, die hare op jou kop, die naels aan jou vingers besiel was, asof jou lyf gevibreer het, jou lyf, altyd te min, altyd minderwaardig, maar nou te veel, te vol. Jy was vervul van iets wat jyself vir een keer in jou lewe nie beplan of bereken het nie en waarvan die uitvoering en die afronding nie ’n moeisame kunsmatige en gedwonge saak was nie, maar ’n volkome natuurlike proses.

Goeie hemel, maar jy’s opgetert vanaand, wat het oor jou lewer geloop, het Jak gesê toe jy uitkom op die stoep waar hy gewag het.

Jy het geglimlag.

My liewe man, het jy gesê, jy lyk self so goed in daardie aandpak van jou en kyk net die nuwe strikdas!

Jy het gevoel hoe dit uit jou mond kom. Soos ’n lus het dit om sy nek geval. Jy het hom nadergetrek, sy kammerband effens hoër opgetrek, een mansjetknopie reguit gedraai, die skouers van sy pak afgestof.

Jy het begin lag. Jy kon dit nie glo nie. Jy het hom nie meer so nodig gehad nie. Jy het niks en niemand meer nodig gehad soos vantevore nie.

Wat lag jy? het Jak gevra.

Oor jy lyk soos ’n model, het jy gesê, oor ek dit nie kan gló nie.

So, jy dink ek lyk goed? Hy het homself van hoek tot kant in die spieël in die voorportaal bekyk terwyl jy hom reggetrek het.

Fantasties, het jy gesê, absoluut fantasties, jy hoort in ’n modeboek, in Parys.

Botter in jou hande. En jy kon hom vlei uit blote vrygewigheid.

Swanger.

Hy kon dit nie weet nie. Hy het dit veroorsaak, maar hy kon dit nie weet met sy lyf nie. Dit was net jou wete. In jou was dit geheg, ’n klein kluwe van selle wat reeds met ’n eie tempo en plan drie weke lank gespruit en verdeel het terwyl jy geëet en geslaap en gewerk het.

Jy het daardie aand opgelet hoe die ander mans na jou kyk. Jy het teruggekyk, geknik, geglimlag, gevoel jy het ’n reg om jouself te geniet.

Jy lyk ásemrówend, het Beatrice in jou oor kom fluister, is daar iets wat ek nie weet nie?

En jy lyk vérrúklik, het jy gesê, hoe gaan dit met jou spéénvarkies?

Jak het jou ’n kyk gegee.

Tydens die koffie het die mense aan julle tafel gekibbel oor landboukwessies. Die nuwe baas van Frambooskop het homself verskoon, hy wou duidelik nie op sy eie partytjie by ’n argument betrokke wees nie. Dit het gegaan oor winste en koste en optimale grondbenutting.

Tweeskot! Tweeskot! het almal geroep en Thys van Beatrice het die sillabes met sy hand op die tafel geslaan. Koring, braakland, koring, braakland, of, nog beter, koring op koring. Met die nuwe kunsmis kon mens nie ’n fout maak nie, was die konsensus, woekeroeste elke jaar, dit was ’n Overbergse wonderwerk. Hulle het na Jak gekyk, hy was die lewende bewys van die wonderwerk, al het hy die grond wat hom so goed behandel het ná vyf jaar verkoop om met vleisbeeste te begin boer.

Jak het die regte note gedruk. Die grondontledingslaboratorium van FOSFANITRA het hom van die begin af beïndruk, het hy gesê.

Beskeie genoeg kon hy wees.

Met sy gentlemanshande het hy beduie: Hulle kon wetenskaplik presies aangee hoeveel fosfor, hoeveel stikstof, hoeveel kalium mens per morg nodig gehad het vir ’n goeie opbrengs.

Wetenskap of te not, ek stem nie saam nie, het jy gesê.

Jak het jou onthuts aangekyk. Jy het gevoel hoe jy bloos, nog ’n sluk wyn gevat, maar jy het ook gesien hoe die mense wag om te hoor.

Dis ’n fout wat boere altyd kan maak, het jy gesê, dat hulle vir hulleself en hulle afhanklikes ’n dik lat pluk waarmee almal geslaan word die dag as die wiel draai.

Ag, Milla, van watter lat en van watter wiel praat jy tog nou, my liewe vrou?

Jy het gelag. Hy was so skynheilig. “My liewe vrou” voor die mense, my liewe opgeterte vrou oor wie se lewer iets moes loop voordat sy haarself ’n bietjie sal uitvat.

Jy was kwaad, twaalf jaar se kwaadgeit. Jy het ’n hele paar onderlangse blikke opgevang. Mense wou dit nie hardop sê nie, maar almal het geweet dat Dirk du Toit aan wie Jak die grond verkwansel het waarop hy sy winste gemaak het, so te sê bankrot was. Jy het geweet hoekom.

Ek praat van die wiel van Vrou Fortuin, het jy gesê, en ek praat van haar handlangers die geldskieters, my liewe man, hulle wat hulleself onmisbaar maak deur sekere noodsaaklike dienste en goedere op krediet aan te bied en ek praat van monopolieë.

Hulle het gewag dat jy aangaan, die mense, hulle kon hulle ore nie glo nie.

Vir boerdery is dit altyd ’n gevaarlike ding, het jy gesê. Hier in die Overberg weet ons dit al van die Barrys se dae af. Die lesse van die geskiedenis is daar vir die wat die moeite doen om dit te bestudeer.

Praat jy, het een gesê, ek boer vandag nog op ’n driehoekstukkie van die oorspronklike ronde familieplaas. Het my grootgrootjie nog op sy perd afgery, ’n mooi ronde plaas. Hy was tot aan sy nek verpand aan die Barrys se maatskappy en toe hulle bankrot gaan, het hy al sy grond verloor. Alles was hy kwyt van die een dag op die ander, hy het net so ’n snytjie oorgehou.

Dit was ’n sproeterige kêrel van Bredasdorp, ’n Van Zyl. Sy baadjiemoue was te kort. Sy dik polse vol digte rooi hare het uitgesteek soos hy ’n driehoek gemaak het met sy hande om die porsie te wys.

O allawêreld, het iemand geroep, ’n koeksnytjie, maar dit behoort heeltemal genoeg te wees vir jou, Flippie!

Mense het gelag vir die stoute toespeling, maar dit het nie gehelp nie. Daar was ’n gebrom onderlangs. Die direkteur van die kunsmisbesigheid was binne hoorafstand en ’n hele paar amptenare van Landboutegniesedienste het kom rondstaan toe hulle hoor die onderwerp word geopper.

Jy het gedink, goed, laat hulle maar hoor ’n slag.

My punt presies, het jy gesê. My ma het nog so ’n ou vyfpondnoot van hulle. ’n Halwe bank was hulle mos. “As jy lekker wil lewe, koop by Barry en Newe” staan daarop. So lekker dat toe die spul bankrot gaan, so te sê alles tot stilstand gekom het vanaf Port Beaufort, die hele Heidelbergse vlakte, die hele Overberg van Caledon tot by Riversdal en oor die berg tot by Worcester.

Ja-nee, vandag se dag moet mens seker sê: As jy nie Kuns Mis nie sal jy Af Kak, en dit rym nie eers nie.

Dit was die bydrae van een van die blas Dieners van Vreugdevol.

Die gebrul wat opgegaan het, het nog meer mense na die tafel gelok.

Wat gaan hier aan? Ons wil ook hoor! Wat is die grap?

Jak was ongemaklik. Hy het probeer, maar hy kon nie opstaan nie want die mense het om die tafel gedrom. Hy het gevroetel aan sy strikdas, groot teue uit sy glas geneem.

Vra vir Milla de Wet! het een geroep, sy’t begin daarmee. Vra vir Jak, lyk mos sy sit op sy kop!

Jy was kwaad, maar jou geheim van die dag het jou voortvarend gemaak. Jak moes maar ’n keer vir homself sorg, het jy gedink.

Kyk hoe lyk die grond, het jy gesê. Elke jaar valer en skraler. Kyk hoe staan dit van die stof as die wind waai voor saaityd, kyk hoe spoel dit in die winter. Van aanmekaar koring saai. Van gierigheid. En van benoudigheid. Want die op skuld gekoopte kunsmis moet nog terugbetaal word. En die Landbank druk.

Dis reg! Op die mallemeule al in die rondte in jou moer in!

Dit was Dirk du Toit wat Jak se grond gekoop het.

Sê vir hulle, Dirk, het jy geroep, sê vir hulle wat met jou gebeur het, hulle wil my mos nie glo nie.

Dirk het ’n afsnybeweging voor sy keel gemaak.

Ja, ek het hulle geskuld. Toe dwing hulle my om al my koring aan hulle te verkoop, teen kosprys. Hulle opvatting is: Dis ons kunsmis, so dis ons koring. Dan verkoop hulle dit weer, dan vat hulle die wins.

Almal het gelyk begin praat. Uit die hoek van jou oog het jy gesien hoe Adriaan, een van die Meyersbroers, eienaars van die kunsmismaatskappy, die gedoente gadeslaan, ’n suinige glimlaggie om sy mondhoeke.

Jy het met jou mes op jou glas getik.

Luister, het jy gesê, dis nie al nie, die eintlike punt is dit …

Aitsa! die vierskaartjie van Grootmoedersdrift, nou vat sy die middelvoor!

Dit was Gawie Tredoux van Vleitjies. Hy was ’n Bloedsap en ’n Vrymesselaar en hy het gehou van jou. Hy het ’n glas dessertwyn na jou aangestuur. Jy het dit in sy rigting gelig en ’n klein slukkie gevat, jou vinger voor jou lippe gesit, gewys jy kan nie te veel drink nie. Ag komaan, het hy terug beduie en ’n groot sluk uit sy eie glas gevat. Jy het jou hand op jou maag gesit. So? het hy met sy wenkbroue gewys. Werklikwaar? Jy het geknik. Hy het sy glas hoog na jou gelig: Geluk! Jak het die blik onderskep. Jy het liefies na hom geglimlag voor jy weer gepraat het.

Die eintlike punt is: Die Overberg is die broodmandjie van die hele land. Onthou: Goeie brood by almal op die plank, en die volk sal altyd die regering dank.

She’s a poet and she doesn’t know it! het iemand geroep en op die tafel geklop.

Jak het weggekyk.

Daar was nog een ander medestander aan tafel van wie jy geweet het, die nuwe jong voorligtingsbeampte, Kosie Greeff. Die mannetjie het benouderig rondgekyk toe hy sien jy wil iets sê. Sy vrou het gekyk na die glas in jou hand. Beatrice ook, al die vrouens aan tafel het gedink as ’n vrou haar mond só oopmaak in mansgeselskap moet dit wees omdat sy hoenderkop is.

Julle kan maar kyk soos julle lus het, het jy by jouself gedink en vir Beatrice geglimlag.

Dit was die klein Greeff wat jou oortuig het van die nuwe wisselboustelsels. Hy het ’n opdraande stryd gevoer in die streek. Nou was hy rooi in die gesig oor dit sy vakgebied was wat ter sprake gekom het.

Mevrou De Wet is reg, het hy gesê, en wat meer is, menere, die grondprobleem in die rûens is ’n groter probleem as die sogenaamde kleurprobleem in hierdie land.

Ek stem saam, het jy geroep. Jy was op dreef, jy kon hoor jy preek, maar jy het deurgedruk.

Mens kan nie meer uit die grond wil haal as wat jy daarin sit nie, het jy gesê. En hier is ons nou ’n klompie mense aan die suidpunt van Afrika wat hierdie nasionale bate totaal aan die vernietig is binne die bestek van ’n paar dekades. Al die kunsmisoeste mag jou ryk maak, maar dis nie ’n langtermynbelegging in die grond nie. Ouland is die

antwoord. Dis ’n tradisie gebore uit respek vir die natuur. In ’n toestand van skyndood herversamel jy jou wese. Dit weet selfs ’n padda.

Hoor-hoor! het die mense geroep.

’n Padda is ’n ding wat spring wat spring, ’n padda is ’n ding wat spring, het rooi Flippie gesing met ’n skunnige byklankie in die stem.

’n Gejil het opgegaan.

Beatrice het jou verstom aangekyk.

Milla, asseblief, hou op, jy maak ’n gek van jouself, het Jak onderlangs gesê, sy stem skor van irritasie.

Gee haar ’n kans, manne, het Gawie geroep, so ’n geleentheid kry julle nie gou weer nie!

Jy het die mense in hulle oë gekyk soos jy gepraat het.

Dis die ritmes van die natuur wat mens moet respekteer soos die Skepper dit bepaal het. Dit is waarop die landbou gebaseer moet wees. Hierdie nuwe snoepheid is barbaars, dis ’n vorm van heiligskennis.

En toe het ’n gedagte by jou opgekom en jy het dit gesê voor jy gedink het. Miskien was dit die slukkies wyn wat saam met jou opgewondenheid na jou kop gegaan het.

As ’n boer jaar vir jaar sy grond skoonploeg en platsleep, het jy gesê, is dit net so goed hy slaan elke aand sy vrou. By wyse van spreke, het jy toegevoeg, maar die woorde was uit en hulle was gesê.

Jy het gesien hoe Beatrice na haar asem snak en haar hand voor haar mond sit.

’n Swaar stilte het gehang.

Gawie het tot jou redding gekom.

Stof tot nadenke, manne, gewis stof tot nadenke, laat ons hoor wat wil Thys sê, hy lyk of hy iets gaan oorkom as hy nie ’n beurt kry nie.

Nóú is dit genoeg, het Jak gesis, nóú gaan ons huis toe, ek en jy.

By die deur het Gawie julle gegroet. Jou het hy op die wang gesoen en jou skouer gedruk.

Geluk, Jak ou maat, het hy gesê, jy het ’n vorentoe vrou getrou, pas haar goed op.

Hy het Jak se hand nadruklik geskud, maar Jak het nie geweet waaroor dit gaan nie. Hy het sy hand vinnig losgemaak.

Hy het in die kar geklim en sy deur toegeklap sonder om die deur vir jou oop te hou. Daarvan het hy meestal ’n groot vertoning gemaak voor mense.

Dit was ’n gejaag tot by die huis.

Liewehere, jý, het Jak gevloek, dink jy weet alles!

By die huis het hy uit die kar gesukkel en teen die eerste boom water afgeslaan. Hy het gewieg op sy bene so dronk was hy.

Jou bek is te groot! het hy geroep toe hy by die voordeur inkom.

Jy het kamer toe gegaan, gehoor hoe hy vir homself whisky inskink uit die kraf in die voorhuis.

Hy het jou in die kamer kom soek, in die deur kom staan en na jou gegluur.

Jak, ek het iets om jou te vertel, het jy gesê.

So, en wat miskien? Dat jy iets aan die gang het met Tredoux?

Jak, hy is ons vriend, hy het jou maar net gelukgewens.

Met wat miskien, met jou toespraak? Waar kom jy daaraan dat jy kan sit en preek vir boere oor hoe hulle hulle lande moet bewerk? Wat moet hulle van my dink? Jy en jou ma, julle is koeke van dieselfde deeg, julle dink julle weet alles. Hoe moet ek ooit weer my gesig wys by die kunsmismense?

Jak, het jy gesê, ek kan nie help jy voel so nie.

Kom hier, het jy gesê om hom te paai.

Hy het in die middel van die kamer gestaan en pluk aan sy klere.

En dat grond soos ’n vrou is wie se man haar slaan! Watse stront is dit nou miskien? Jy soek daarvoor, jy weet dit, jy soek my en jy soek my tot jy my kry!

Ja baas, het jy vir hom gesê.

Hy was dit nie gewoond nie. Jy het in die klap ingekyk sonder om te koes, reg in sy oë.

Jak, jy kan dit nie meer aan my doen nie, het jy gesê.

Hy het jou platgestamp op die bed.

As jy my grond wil wees, sal ek doen daarop wat ek wil. Klap is niks! Stamp is kinderspeletjies! Vertel my tog watse grond jy is? Klei, dalk? Vuilsand? Skalie? ’n Donnerse klipbank? Toe, jy’s mos die ekspert hier! Klas jouself ’n bietjie, dit mag die man help wat jou moet bewerk!

Jy het opgestaan van die bed af. Hy het jou weer platgestamp.

Wat doen mens met grond, hè? Wat doen mens daarmee?

Jy kap ’n paal daarin, jy ghrop dit, jy skraap ’n dam uit. Of jy grawe ’n gat vir jouself en val jou moer los. Dis wat met my gebeur het!

Hy het dreigend nadergekom. Jy het jou arms om jou maag gehou. Jy het gesien hy merk dit op. Jy het jou gebaar verander, jy het oor jou onderlyf gestreel.

Jak, het jy gesê en jou voet op ’n stoelleuning gesit, jy het jou rok tot in jou lies opgetrek en jou kousophouer begin losmaak, wil jy nie asseblief my rits losmaak nie?

Maak self, het hy gemompel.

Maar aan sy toon het jy gehoor dat jy hom gehad het waar jy hom wou hê. Jy hoef nie eers in sy rigting te gekyk het nie. Hy het op sy bene staan en swaai, met leepoë na jou gegluur.

Jy het die rits losgetrek en uit die rok gestap, jou ander kous losgemaak en stadig teen jou kuit afgerol terwyl jy na hom kyk. Jy het jou swart onderrok se bandjies oor jou skouers getrek en op die bed gaan lê.

Wat noem mens dit? So oopgesprei? Jy wou dit voel, sy onmag. Dit het jou opgewonde gemaak om daarvoor te wag. Jy het gevoel jy het ’n voorsprong, vir die eerste keer.

Hy was baie rof. Hy het net sy broek losgerits en jou half van die bed af getrek. Op jou knieë teen die bed het hy jou gedwing. Hy het jou onderrok geskeur en jou polse vasgeklem. Jy het jou kop gedraai om dit te sien.

Kyk voor jou! Kyk voor jou! het hy geskree en jou teen die kop geklap.

Jak, skaam jou, het jy gesê. Maar jy het jou stem gehoor. Daar was ’n kinkel in die woorde. Julle was saam daarin, in die skaamte.

Hoer! het Jak geskree, hoer!

Jy het gelag, dis wat jy gedoen het. Jy het gedink jy sien ’n beweging in die spieël maar dit was niks. Dit was net julle twee. Julle en julle skaduwees, dit was die rooi kammerband, dit was die flenters swart onderrok oor jou wit skouers.

Wat kyk jy? het hy geskree.

Hy het ’n voetstoel met een hand nadergegryp en die spieël stukkend gegooi.

Hy het homself in jou ingestamp.

Jy het jou hande agterom sy heupe geslaan en hom dieper in jou ingetrek. Jy het ’n ritme aangegee. Vir jouself.

Kom maar, het jy gefluister, jy bly die beste, kom maar. Ons is vir mekaar gemaak!

Dis wat jy van jouself gehoor het. Jy wou dit voel. Droog. Seer. Lekker. Jy het hom gehad waar jy hom wou hê, jy was klaar met hom, hy was net goed vir versiering. Om dit te weet, was die beloning.

Ek het iets om jou te vertel, het jy gesê toe hy klaar was.

Hy het beswymeld teen jou aangeleun.

Ek is swanger, Jak, het jy gesê, en as jy ooit weer jou hand teen my lig, sal ek die plaas verkoop en jou verlaat en jou kind saam met my vat en jy sal hom nooit weer sien nie.

Hy was te lam om iets terug te sê. Hy het half bo-oor jou op die bed gekruip en aan die slaap geraak. Sy penis het uitgehang. Dit het gelyk na ’n stuk ingewande.

’n Seun, het hy gemompel.

Hy het sy arm oor die kussing gegooi en sy bene reguit gemaak, jou in die gesig getrap waar jy oor die voetenent van die bed gelê het.

Jy het sy voete weggestoot uit jou gesig. Jy het vir jouself in die stukkende spieël gekyk tot hy begin snork het. Toe het jy ’n bad gaan tap en vir ure daarin gelê en warm water bygetap. Jy het geluister na die huis se geluide.

Voor jy gaan slaap het, het jy die spieëlskerwe opgevee en jou geskeurde klere bymekaargemaak in ’n bondeltjie en dit gaan weggooi in die agterplaas se drom. Die sypanele van die spieël was ongeskonde. Jy het die panele na mekaar toe gedraai en jouself van die een kant en die ander kant bekyk. Jy kon nie genoeg kry nie. Na twaalf jaar van vernieling word jy, Milla de Wet née Redelinghuys, ’n moeder.

Jy het die vleuels van die spieël toegevou sodat in die môre die skade in die middel nie sigbaar sou wees nie.

Hoe voller jy geraak het van die kind hoe meer tyd het Jak aan sy voorkoms spandeer. Pynlik het hy geraak oor wat hy eet, kombinasies van sekere kosse op sekere tye, kragpoeiers wat in blikke in die kombuis rondgestaan het. Jy kon nie byhou met kook wat hy wou hê nie en die meide het daar geen verstand van gehad nie.

Maak dan maar vir jouself kos, het jy gesê, en dan het hy aanmekaar rou gerasperde groente en macaroni geëet. Elke nag voor hy kom slaap, het hy in die stoepkamer met sy gewigte geoefen. Elke oggend en elke aand het hy lang ente in die berge gaan hardloop en byna elke naweek vandat jy swanger was aan tennistoernooie of wedlope gaan deelneem. Hy het die Overberg se langafstandkampioen geword en Tradouw se baasbergklimmer. Sy enigste verantwoordelikheid teenoor die wêreld, het hy skynbaar gedink, was dat hy nie dik moes word nie, dat hy nie met die jare grof en swaar soos die meeste ander boere moes begin lyk nie. Sy enigste rentmeester was sy stophorlosie, sy enigste regter die badkamerskaal.

Sy prestasies het hy om hom uitgestal. Hy het die kaarte van Grootmoedersdrift in sy nuwe stoepkantoor gehou. As hy daarop kon agteropskop en sy been lig soos ’n foksterriër, het jy gedink, sou hy miskien sy sin daarmee gekry het. Daar het hulle gehang tussen sy rakke vol bekers en gemonteerde medaljes met linte in uitstalkassies, tussen sy foto’s van homself.

Die foto’s op sigself was ’n hele verhaal van een man se ydelheid.

Jak op gradedag in sy toga, Jak op Elsenburg saam met die landboustudente se atletiekspan, Jak met sy eerste gerf kortsteelkoring, Jak saam met die agent by die nuwe combine, met ’n glas wyn in die hand by die NP se streekskoukus, Jak op sy Arabiese merrie, gestewel en gespoor vir ’n perderesies, Jak tydens die boeredag in sy wit klere, aangeleun teen sy eerste rooi oopdak-sportmotor, Jak van naby, op ’n studioportret, geoliede hare, glad agteroor gekam, sjarmante Jak de Wet, die gentlemanboer. Op ’n druppel water soos Gregory Peck, soos jou ma altyd gesê het.

In die tyd van die regmaak van die nuwe kamers het jy die gewoonte gehad om in Jak se kantoor in te gaan as hy nie daar was nie. Wie is hierdie pragtige man? het jy gewonder. Wat steek in hom? Niemand kan so mooi wees van buite en so leeg van binne nie. Nie eers in ’n derderangse roman nie. Wanneer gaan hy homself openbaar? Wanneer gaan hy wys wie hy eintlik is? Jy kon agterkom hy broei oor iets, maar wat?

Oor en oor het jy gekyk na die uitstalling, al die bekers opgetel en die inskripsies gelees, die medaljes aan hulle satynlinte uit die glaskassies gehaal en in jou hand geweeg, die foto’s van naby bestudeer, al sy vreemde harde apparate en harnasse en tuie aangeraak, die gespes en die gordels los- en vasgemaak, die gewigte probeer roer, die poeiers en olies tussen jou vingers getoets en beruik.

Miskien was daar ander redes vir hierdie sessies. As Jak, as enigiemand trouens, jou daar sou sien in sy kamer, sou hulle gedink het jy drink diep aan sy roem.

Dis wat Beatrice miskien gedink het toe sy jou die dag daar gekry het. Jy het haar nie hoor aankom nie. Toe sien sy jou daar staan voor die foto’s, kom staan langs jou en sug so ewe, slinks, as jy nou terugdink daaraan.

Ai, Milla, wat ’n wónderlike man het jy nie getrou nie, as Thys maar soos hy was …

Jy het saamgespeel vir ’n rukkie.

Wat is fout met Thys? het jy gevra, hy lyk my na ’n regte staatmaker.

Thys, hy, hy is … hárd.

Maar met jou? het jy gevra, met jou is hy tog seker sag?

Beatrice het weggekyk.

Wat het in jou gevaar? Wou jy haar skok? Miskien het jy gedink jou swangerskap het jou lisensie gegee, het jou mag gegee, veiligheid om openhartig te wees.

MooiJak de Wet is ’n hond, Beatrice, het jy gesê. ’n Doberman as jy wil, fyn van bou met ’n pragtige snoet, maar ’n hond nietemin.

Toe vertel jy haar van Jak, van hoe hy jou behandel het. Jy het haar alles vertel van die verf van die kassies en die sleep oor die sement en die skrape en die bloukolle en hoe dit deur die jare aangegaan het, en hoe hy in homself gekeer was, ’n tydbom wat wag om af te gaan. Sy het altyd gedink iets is fout, het sy gesê. Hoe meer jy vertel het, hoe minder wou sy hoor, maar jy het haar daar gehou.

Hoekom het ek met hom getrou, Beatrice? het jy gevra, wie is hierdie man? Hoe meer ek na hierdie foto’s kyk om te probeer verstaan, hoe groter raak die raaisel.

Miskien, het Beatrice begin, jy kon sien sy is huiwerig, miskien wou jy deel in sy … in sy …

Beatrice het weggekyk. Jy het gewag dat sy aangaan.

Miskien is jy afhanklik van sy …

Sy het haar handsak gevat, haar sin in die lug laat hang. Jy het die onderwerp verander.

Nee, het jy gesê, moet nog nie gaan nie, nou is dit jou beurt, praat jy nou maar eers met my, ek raai ook maar my raaie oor jou, jy weet.

En toe het jy dit gesien, hoe sy toeslaan, hoe die verweer oor haar kom, oor haar mond en in haar oë. Meer as verweer, afsku, oordeel. Oor jóú, nie oor Jak nie.

Ek sal nóóit uit die huis uit praat nie, Milla. Die huwelik is héilig en dit is priváát. Álles rus daarop. Thys hét sy foute maar hy is ’n góéie mens, ’n góéie mán, en ek staan by hom, deur dik en dún soos ek voor die heilige Here belóóf het.

Op haar hak het sy daar omgedraai en uitgestap. Jy het op ’n stoel gaan sit daar in Jak se kamer, in sy vertoonkas, asof sy uitgestalde goed jou moes vergewe vir wat jy uitgelap het. Wat ’n duister bui was dit wat jou daar uitgedryf het? Jy het sy kamera wat op sy lessenaar gelê het, gevat en hom gaan soek.

Jy het hom in die implementeskuur gekry by die nuwe skeurploeg. Jy het stadig oor die werf geloop, jou lyf was groot, dit was ’n maand voor Jakkie sou kom. Die ploeg was net daardie oggend deur die agent van International Harvester afgelewer. Jy het ’n goeie rede gehad om hom te gaan soek want die middagkos was op die tafel. Die skuur was donker, jy het stilgestaan sodat jou oë gewoond kon raak. Jak het oor die saadkas van die nuwe ploeg staan en streel. Sy lippe het beweeg.

Soilmaster, het jy hom hoor sê. Die woord het duidelik opgeklink in die skuur. Hy het in die agterstel van die ploeg ingehurk, sy oë was toe en hy het sy hande op en af oor die tande laat gaan.

Jy wou wegdraai en loop, jy het die kamera agter jou rug gehou, maar hy het jou klaar gesien.

Milla, het hy agter jou aangeroep.

Kom eet, wou jy sê, maar toe sê jy iets anders.

Toe sê jy vir hom, trek die ploeg uit onder die wildevy, ek wil foto’s neem. En jy loop terug huis toe met jou hart vol donker gevoelens en jy gaan blaai deur sy klerekas tot jy ’n olyfgroen hemp kry.

Dit sal die rooi van die ploeg beter afwys, het jy gesê, dis komplementêre kleure, rooi en groen.

En toe poseer jy hom, sus en so, en jy mik van onder en van bo, van naby en van ver, vol en halwe en kwartprofiele.

Glimlag, sê jy. Peins. Sê cheese, sing, het dag het overal, sing, I talk to the trees.

Die plaasklonkies wou ook op die foto’s staan. Hulle het oor die ploeg geswerm soos vlermuise en orals gevroetel en gevat asof daar iets eetbaars sou wees. En toe sê Jak skielik dis genoeg, hy is moeg nou. Sekerlik die eerste keer dat jy hom dit hoor sê het van ’n fotonemery.

Toe julle uiteindelik aansit aan tafel, het hy jou aangekyk, bleek in die gesig, gesê hy voel verskriklik uitgeput, hy hoop nie dis sy hart nie, en toe gaan lê hy sonder om te eet.

Jy het lank daar by die koue kos bly sit, ’n ystersmaak in jou mond.

*

pase dit is pase wil ek sê kom ons bak ’n koek vir die tweelinge vir die drielinge en vir die vierling van hulle vier sal ons die kleinstetjie die enetjie wat laaste was die een wat met haar snoet net bo die klawer lê haar sal ons vergader in ons arms wil ek sê ’n naam sal ons haar gee van wolke ’n naam van reën ’n naam van herfs wat hang in kweperbome sy wat een van ’n gevierte is van hemel aarde god en sterweling soet sal ons haar noem soeteling soetemaling spoeg van genade wil ek sê maar ek val vas my tong teen my tande vas die eiers op die grond kwips sê ek en kweep en stoet in plaas van soet en hase in plaas van pase en in plaas van heuning koning hoe het dit in my gekom? so het dit in my mond gekom soos die volgende minuut soos ’n dief in die nag soos die oorneig van die ondergrondse klawerblom om langs haar voet haar saad in die grond te sit soos die nagtelike rys van deeg in my lyf het dit gekom soos gis die slapende saad die dodderplant die wit lam wat uit my stoot en my onmagtig maak

*

12 Julie 1960 11-uur snags

Hoe meer ek terugdink aan die dag hoe meer voel ek miskien moes ek die hele ding anders gedoen het eers gepraat het & alles verduidelik het maar hoe verduidelik mens dit nou alles vir ’n kind?

Sy was glad nie lekker na die skaapslag vanoggend nie staan net daar in die kombuisdeur die regtermou uitgerek besmeer v.d. bloed & kyk my in die gesig. Trek reg jou gesig sê ek ons het nog baie om te doen ek dag ignoreer is die beste geweer maar sy bly koponderstebo & sit die een voet oor die ander een & die vuis in die mond. Toe gaan was jou sê ek kyk hoe lyk jy & staan regop en haal jou hand uit jou mond & gaan trek daardie trui uit mens loop nie so nie. Daar slaan sy haar arms styf om haar lyf die een arm oor die ander een & ek gryp haar aan die skouers. Saar skud haar kop & tsk of ek nou iets verkeerds doen moenie vir jou hier inmeng nie sê ek & gaan haal my ou rooi trui in die kamer sy kan nie langer in die bloederige ding loop nie. Daar wil A. dit nie voor my uittrek stank vir dank! Gee hr toe maar ’n stuk sunlightseep & sê gaan trek dit dan self uit buite by die kraan & seep dit in dat dit kan week & ek gee hr ’n emmer want toe wil ek nie hê sy moet in die huis in nie maar sy moet ook nie in haar buitekamer in nie. Dit sou al my planne net daar bederwe & daar staan sy & sy verseg. Ek het nog so ’n trui soos hierdie een sê sy waar’s my trui ek wil my eie trui hê sy mou is reg.

Moes dit net eenvoudig doodpraat want hr koffer met haar klere was klaar in die buitekamer. Toe moet ek vinnig dink om hr op hr plek te sit & ek druk vinnig my hand in hr roksak voor & hierdie skaapoor? wat soek hy hier? ek wil nikse bygelowe by jou sien nie sê ek & toe gooi ek die oor in die drom & toe lyk sy so treurig toe sê ek as jy skoon is kom drink tee daar’s gemmerkoekies jy’t baie mooi geleer slag ons moet maar almal goed doen in hierdie lewe waarvan ons nie hou nie & toe gee ek hr my rooi trui saam om te gaan aantrek agter die huis in privaatheid.

Na middagete het sy stoep gepoets & ek het Saar aangesê om hr te help daar hoor ek hulle sing saam. Goeie teken na alles van die oggend.

As ek ’n sweep het moet ek ’n juk hê

Vasdruk heet my juk

Langereep heet my sweep

Swaardra heet my wa

Lospetos heet my os

Altyd-reg heet my kneg

Welbemind heet my kind

Hartjietrou heet my vrou

Daar hoor ek leer A. vir Saar ’n nuwe reël: Goedgenoeg so heet die meid & Komgeswind so heet die kind stukkie lewer stukkie long vir die arme siek ou jong. Vader weet wat in daardie kop van hr aangaan maar sy het goed deur die lys gevorder lyk of sy moed gevat het soos die dag aangegaan het. Het haar geprys net waar ek kon.

Uie gevleg

Aartappels uitgehaal

Onkruid uitgetrek in groentetuin

Pampoene van staldakkie afgehaal

Kool & pampoen in sleepwa gelaai vir die mark

5-uur toe sê sy vir my haar hand is moeg. Het dit gesien aankom maar ek was reg vir haar: Nee wat sê ek baie werk maak daardie hand van jou sterk naand weet jy nie eers meer van hom nie. Het haar ’n koppie sterk koffie ingejaag & deurgedruk tot 6-uur toe & toe gesê gaan maak vuur nou gaan ons lekker vleisbraai jy kan na die tyd vir jou skoonmaak jy gaan tog nou in die rook staan.

12-uur

Oormoeg. Het my ooreis kan myself nie in die bed kry nie. Nog steeds naar moes nie daardie vleis geëet het nie moet versigtiger wees. Hoop A. het al tot rus gekom sy moet maar op haar eie tyd gewoond raak. Het kos gekry agter by die kombuistafel alles wat ons vir aandete gehad het sy sal nooit daaroor bekommerd hoef te wees nie vars skaaplewer in netvet & tjops & brood & sousb’tjies & tamaties. Wou nie hr mond aan die kos sit nie dink jy ek wil jou vergif? vra ek maar die kop bly onderstebo.

Het gewag tot sy klaar skottelgoed gewas het toe sê ek kom kyk hier agter is ’n verrassing vir jou.

Jammer van die skarnier wat nog nie reggemaak is nie daar skuur die onderdeur garrr oor die linoleum. Wys hr mooi mens tel hom bietjie op & ek sit die lig daar aan & die kamer lyk bietjie kaler as wat ek gedink het die peertjie gooi ’n donker kol op die linoleum & die bed lyk te hoog (onthou môre nog ’n appelkissie kry om voor die bed te sit).

Dis nou jou kamer A. sê ek net joune alleen vir jou gerief dis vir jou eie beswil jy is mooi groot mos al. En ek trek die gordyntjie weg tateratá-á-á! & ek wys die swart uniformrokke. Dis al wat jy dra ses dae van die week dan spaar jy jou huisklere sê ek & ek wys almal het lekker ekstra lang regtermoue soos sy daarvan hou & ek wys ek het spesiaal vir hr breë wit omslae aangewerk.

Het verduidelik van die voorskote een vir elke dag van die week. Sorg dat hulle altyd skoon & styf gestysel & gestryk is. Hr gewys waar al die skoonmaakgd. & strykplank & die strykystertjies is & die boraks & die terpentyn vir die stysel & die blousel vir die witmaak. Het onderstreep ek wil nooit niks vlekke & kreukels op hr uniform sien as sy in die huis werk nie & gewys hoe sy die strykystertjies om die beurt moet warm maak op die elektriese plaat maar nie rooiwarm dat hulle die strykgoed skroei nie & hoe sy die voorskote onder ’n klam stryklap moet stryk. Die keppe was die moeilikste. Ek sê ek weet jy hou nie van goed op jou kop nie maar dit moet jy nou maar op jou maag skryf. Mooi gevra sy moet elke dag ’n skoon ene opsit & dit mooi regop vassteek. Verstaan jy? vra ek want sy staan net daar & kyk voor haar. Ek dag ek wys haar hoe sy die kep moet opsit & ek sê ek wil niks van jou hare sien nie.

Daar’s niks om voor skaam of bang te wees nie. Dis hoe dit hoort. Jy sal my spesiale hulp wees hier op Gdrift sê ek. My regterhand in jou geval my linkerhand & ek steek die kep vas sy hou hr nek stokstyf. Die gesiggie lyk skoon klein so onder die wit strook. Ek wou hr in die spieël laat kyk maar die spieël is te hoog & ek was bang hy kraak verder as ek hom daar afhaal toe sê ek kyk in my oë hoe lyk jy vir jouself? – soos ’n deftige Hollandse huis maar sy kyk dwarsdeur my & sy soek nie hr weerkaatsing nie.

Maak toe jou oë sê ek want ek voel toe skoon arig maar sy bly my so aankyk toe druk ek maar 5 pond in hr hand. Dis meer as wat die ander meide saam in ’n hele maand verdien sê ek & dit sal jou dagloon wees & as dit goed gaan sal ek dit opskuif elke ses maande bewaar elke splinter vir die vuur in die winter sê ek. Het die spaarboek gewys. Sal hr leer hoe om self daarmee te werk sê ek maar niks maak haar opgewonde of bly nie. Hr eerste noot daarin gebêre. Sit dit weer weg op sy plek sê ek maar sy versit nie. Is jou tong af? vra ek & ek sit die ketel op die stoof ek wys die beskuit & alles.

Moenie ondankbaar wees nie sê ek & as jy iets het om te sê sê dit nou mens maak nie ’n moordkuil van jou hart nie maar die mond is op ’n streep. Drink nou lekker tee voor jy gaan slaap sê ek & laat my maar weet as jy nog iets nodig het. Sê jy dan nie dankie nie? Watse maniere is dit? Was nie lus vir verder sukkel nie toe gee ek maar die orders. 6-uur soggens moet sy op hr pos in die kombuis wees & ’n lekker koppie koffie vir my uit die blou koffiekan met die mooigooituit en vir die baas in sy kamer op die stoep & melk & suiker & beskuit op die skinkbord en ek wil nie ’n lang gesig sien nie.

Uit die bloute skielik vra sy: Waar is my goed wat het van my goed geword? Ek wys vir hr die koffer onder haar wastafel. Dink jy ek wil jou goed steel? vra ek. Maar toe’s ek erg naar kon nie betyds in die huis kom nie het vreeslik opgegooi in die drein daar langs die kombuis my maag in oproer ek vat ’n emmer in die kombuis & ek sê by haar deur gooi water in die drein & spoel die kots af want daar kom die honde ruik daaraan & toe ek loop sê ek sluit jou deur in die nag onthou jy’s ’n groot meisie nou daar loop skelms.

Nou ja meer kan ek nie aan haar saligheid doen nie & my pen is amper leeg. Moet onthou om nuwe botteltjie Quink te koop.

Halfeen

Het tog nog gou net weer gaan loer deur die babakamer se venster in die jaart in & haar lig brand nog die deur is darem nou toe maar die emmer staan nog net waar ek hom neergesit het & daar hang ’n kotslug in die agterplaas. Dit moet nou maar wees soos dit wil wees. Te moeg om nog ’n keer te praat. Moet nou in die bed kom anders is môre te swaar. Die kind voel of hy ondertoe druk in my.

Agaat

Подняться наверх