Читать книгу Agaat - Marlene van Niekerk - Страница 11
6
ОглавлениеAgaat kom in met my middagkos. Sy praat met kaneel. Dit trek agter haar aan, ’n wimpel van welsprekendheid.
Sy gun my my neus vandag.
Ek moet my verbly in my voorregte.
Ek moet vasbyt en agter my sit die tandepoets en die draadspan, die windpomp en die boorgat, ek moet onthou sy is ook maar net ’n mens en sy het haar beperkings.
Asof dit my oortuig!
Ek moet nou maar net berus daarby dat sy my alleen gelos het vir ure aaneen die laaste paar dae.
Ek moet dit haar nie toereken dat sy net haar plig gedoen het nie, deeglik en op die regte tyd, maar sonder sagtheid, sonder woorde.
Ek moet weet ek het gesoek daarvoor.
Ek moenie moeilik wees nie.
Ek moenie goed staan en beduie wat niemand op God se aarde kan raai wat dit is nie. Ek moet dit eenvoudig hou asseblief sy het haar hande vol soos dit is dankie.
Ek moet haar nie beskuldig nie.
Sy doen alles so goed as wat sy kan.
Sy doen haar heel beste vir my.
Dit is die argumentasie, die pleidooi van speserye soos sy dit vir my gesprinkel het en ingewerk het met ’n vurk: Die kaneel, die kardemom, saam met die botter, die suiker, tot perfekte pampoenmoes.
Ek ruik so al wat ek kan om al die boodskappe te kry. As ek kon, sou ek hard gesnuif het om te sê: Ek verstaan, Agaat, jou bedoeling is vir my glashelder. Kapokaartappel met vleissous, soet pampoen met kaneel, rooi jellie met vla. Wat wil ’n mens meer hê? Dit is ’n hele storie op sy eie. Sondagkos op Grootmoedersdrift.
Maar dis nie Sondag nie.
Watter dag is dit? vra ek met my oë op die kalender, ek kan nie so ver meer sien nie.
Agaat sit die skinkbord op die trollie neer. Sy tel die klokkie van die vloer af op waar dit al drie dae lank lê, dit lyk vreemd in haar klein handjie, die gebaar waarmee sy dit in haar voorskootsak steek, bevat iets selfbetigtigends.
Maandag elf November, die jaar van ons Here negentien ses en negentig, sê sy, die koring staan wit op die lande.
Wat sou sy wou hê ek moet sê as ek kon praat? Sou sy ooit so iets vir my gesê het toe ek nog kon praat? Sy sê soms sulke dinge met haar reguit blufgesig en gelykmatige stem asof dit die gewoonste ding is, asof sy met haarself praat. Die koring staan wit op die lande. Moet ek iets word wat ek nog nie is nie?
Dawid het seergekry, sê sy, sy kyk nie vir my nie, sy steriliseer my teelepel in ’n glas kookwater.
Hy het ’n sny aan die hand van ’n combinelem wat gebreek het en ek moes dit eers verbind, dis hoekom alles laat is vandag. Jy is seker honger al.
Klienk, sit sy die teelepel in die piering, toets die hitte van die aartappel met die agterkant van haar linkerhand se pinkie. Te warm nog.
Sy praat met haar rug na my toe terwyl sy die gordyne en die netvoerings verder ooptrek. Haar bewegings is minder kortaf, sy oefen haar stem in sagtheid in. Die pers gloed van die bougainvillea val die kamer binne.
Hooi is sterk vanjaar, sê sy.
Daar is oneffenheid in haar stem, sy maak keel skoon.
Pitte is dikgeswel, ons wen meer as vyf sak Sterling op ’n morg. Ek het laat Dawid ’n proef maal en ’n broodjie gebak en hy’t, hy’t, bó by die pan … uitgerys.
Haar stem raak weg na die einde toe.
Het jy dit geruik? kry sy nog uit.
Ek sien haar helder staan by die aanmaak van die spons in die prille môre, by die sprinkel van die tafel met wit meel, sprinkel-sprinkel met die klein vink van die regterhand wat weet om met die bymekaar vingerpunte bietjies-bietjies te gryp in die meelsakkie, ek sien haar meng en knie, knie en terugdruk met die sterk hand se palm, omvou met die klein handjie, knie en knie tot die deeg terugspring, dan die toedek in ’n stil koel plek vir die eerste rys, die afknie, die tweede rys en die deurknie, ek sien haar by die opmaak in die panne, by die insteek in die warm oond en ’n uur later buk vir die toets met die staalbreipen, die klop op die rug van die klein bruin konyn, die uitdop op die ou gebuigde draadrakkie. Hoeveel brode, hoeveel koeke is al op daardie raampie uitgekeer? Hom sal sy nie weggegooi het nie, vir seker nie.
En die eet, Agaat? Die sny en die botter en die appelkooskonfyt en die proe alleen by jou gedekte plek as jy klaar is met my hier voor in die regtervleuel?
Van brood word vir my vertel.
Honger word vir my verbeel.
Lig word my gegun.
Tyd.
Kleur.
Lewe vloei in my in soos deur ’n transfuus gehang tussen my en haar. Sy beheer die tempo van die deurvloei.
Die bougainvillea brand my oë. Agaat staan voor die deur en kyk uit, sy hang daar, sy haak haar daar vas vir krag.
Hy blom of hy betáál word, sê sy, lank gevat, maar nou’t hy koers gekry uiteindelik.
Ek kyk na haar rug met die kruis van die voorskootbande.
Draai om, wil ek sê, kyk na my, vergeet nou daarvan, dis verby nou. Jy doen alles wat jy kan. Daar is niks wat my ontbreek nie. Dis nie jou skuld nie. Jy is die beste verpleegster wat ’n mens kan wens. Ons sal langs ’n ander weg probeer. Hoe moet jy nou ook kan raai wat ek wil hê? Die dag sal kom dat jy self daaraan sal dink, uit jou eie. Dan sal jy hier inkom met die kaarte onder jou arm en met triomf op jou gesig.
En ek weet hoe daardie bakkies van jou dan sal lyk, jou kennebak sal dáár staan, jy sal jou glimlag inhou maar die moesie op jou wang sal ’n uitroepteken wees. So kom nou maar weg van die deur, dis nie so erg alles nie.
Soms as ek hard genoeg na haar rug kyk, voel sy dit, dan draai sy om. Braaf, so oop as moontlik om op te vang wat na haar toe kom.
Vandag kan ek sien aan die skouer wat effens hoog staan sy is nog nie gereed nie. Maar hy is al laer as wat hy gister was, as wat hy vanoggend was. En sy praat oor brood.
Ek moenie kyk nie, ek moet haar los.
Agaat se pratende skouer.
Ek wag, ek kyk in die spieël. Groen van stukkies boom, die verskillende groene van die siersipresse en die waterbessie en die johannesbroodboom, rooi vlekkies daartussen van die weeping bottlebrush wat weer uitgeloop het ná sy dit laat snoei het aan die einde van die winter. ’n Blink skerf van die skuur se dak, ’n sweem van heuwels verder aan, alles geraam in die donkerpers van die bougainvillea wat rank oor die stoep se prieel. En in die een hoek, mens sou dit maklik kon mis, Agaat se profiel. Sy weet nie ek kan haar voorkant sien nie, van die kant af net, maar genoeg om dit te lees. Daar is ’n frons op haar gesig, of sy die bougainvillea nie kan verstaan nie, of sy die brood probeer peil.
Of hy verjáár, blom hy, sê Agaat weer.
Sy lig haar hande op, druk-druk aan haar kep.
Bo by die pan uit …
Ek maak plek, ek gee haar ’n kans. Ek kyk na die beeld in die spieël, kyk saam met Agaat wat nie weet ek kyk saam met haar nie. Sy sal die hele tuin sien, omraam deur die pers. Vir my is dit opgekerf en in stukke bymekaargegooi in die drie panele, stukkies van die blombeddings. Die middelste paneel is helderder as die ander twee. Die een wat gebreek het lank gelede. Elf maande lank reeds staan die spieël op dieselfde plek met sy panele op dieselfde stand. Ek ken die inhoud van die weerkaatsing, ek probeer my die stukke wat weggelaat is voorstel, die lanings agapante wat nou vol in die blom moet wees, die randakkers vilette en leeubekkies en grasangeliere en pers en wit petunias soos Agaat gesaai en laat plant het in die laatlente, in die vroegsomer, dat ek dit mag beleef nog, en die mense wat sal kom vir my begrafnis.
Sy het die pakkies somerbolle en saad voor my kom hou in September.
Kies, het sy gesê, ek het tien pakkies van alles gekoop en vyfhonderd bolle bestel van Starke Ayres.
Álles, saai álles, het ek beduie, plant alles, dis my laaste tuin.
Tóé was ek reg, kon ek sien, sy wóú alles saai, haar oë het geblink. Sy het hulle vinnig geknip en omgedraai en drie dae lank saadjies gesaai en bolle geplant en geloop en sing en fluit om die huis dat ek kan hoor waar sy besig is, en met etenstye vir my kom sê drie beddings vol wit swaardlelies agter en pers dahlias in die middel en heel voor pers en wit heuningblommetjies. En tussenin vinkel vir die lekkerruik en vir die fyn veertjies loof en vir die geel blomkoppe wat die strakheid van dahlias en swaardlelies sal teëwerk en die wit en pers sal breek.
Tabaksblom, kaliforniese papawers, en boerepapawers, en kantblom vir fynigheid, en in die droër beddings sonneblomme en jakobregop en afrikaners hoog en laag. Sou sy nie ’n plan geteken het nie? Sou sy dit hierdie keer uit die losse hand gedoen het? Ietwat meer argeloos, oordadig, deurmekaarder as gewoonlik? Vir die musiek? Vir die uitgeleide?
Dit moet ’n spogtuin wees wat blom daar buite.
’n Lushof.
Sy laat natmaak elke dag. Van vroeg af elke oggend kan ek die sproeiers hoor tsjiep-tsjiep-tirrrr oor die grasperke. Tot die son begin warm skyn negeuur en dan weer saans as die plante tot bedaring gekom het na die branding van die dag.
Agaat weet hoe om met ’n tuin te werk.
Vanaand as dit windstil is, as ek gelukkig is, as haar bui aanhou vermurwe, sal sy die stoepdeure oopmaak. Vir my om te ruik wat alles blom. Miskien sal ek deur háár bewegings te volg, op háár bedoelings te konsentreer, my sin kan kry. Miskien sal ek skelmpies haar wil kan kaap en dit in my warmhou, sonder dat sy eers agterkom ek besit dit, dit insmelt in myne sodat ons één wil kan hê vir hierdie laaste dae.
Rúik die wêreld! Vát die spoor, ál met die beddings af en verder met die grensdrade langs! Wys my die buitelyne! Kry die kaarte uit die sideboard!
Sy vang my blik in die spieël, betrap my op berekening, op ’n wensdroom. Ek sien die verontwaardiging in haar gesig spring, haar oë vernou. Ek moes my oë toegehou het. As sy omdraai is haar blik neutraal, maar die oorlog duur voort, ek hoor dit aan haar hakke.
Ek het dit nie so bedoel nie! Asseblief!
Sy stel die bed dat ek regop sit, sy sit die nekstut aan. Haar hande is koud en vinnig. Sy sit die skinkbord hard neer op die brug.
Ek knip my oë om te sê: Jy’s te liggeraak! Mens kan niks doen nie of jy vererg jou. Ek wil nie eet nie. Ek is nie gereed vir jou geurige weldade nie.
Sy ignoreer my. Ek knip my oë.
Ek sê weer: Ek wil nie! Ek is nie reg nie!
Sy maak of sy dit nie sien nie. Sy sit die borslap op my bors, sy trek en pluk daaraan. Sy buig haar kop.
Seën Here wat ons eet, bid sy.
Sy skep die eerste teelepel halfvol pampoen.
Nou sal sy my asemhaling dophou, die lepeltjie in my mond bring, agtertoe kantel waar my slukrefleks dit kan beetkry. Ek kyk haar net, ek kyk die lepel, ek kyk die spieël.
Wat kyk jy tog so, Ounooi?
Ounooi. Om brood en blomme se ontwil!
Sy kyk waar ek kyk in die spieël wat lyk of sy rande gaan uitbars van bougainvillea, wat lyk of hy opgehang is in ’n landskap vol bome. Daar is ’n flits. Voëls, klein voëltjies, meelogies wat wegvlieg uit die vyeboom wat ek nie kan sien nie, wat net om die hoek staan. Wat ek, Here, nie kan sien nie. Die voorvye in die top ryp klokke. Die eerste liggroen vye op ’n bord gerangskik met ’n takkie pers bougainvillea, so het ek dit voorgesit, vir die seisoen, om dit te merk, om dit te vier, midsomer op Grootmoedersdrift. My vye.
Hmm, sê Agaat, ons moet ’n bietjie kyk of daar al vye is, die boom hier om die draai se takke hang op die grond vanjaar.
Sy het snuf in die neus, sy krink haar nek, sy bly kyk saam met my in die spieël. Vasbeslote om my arm te draai om te eet. Die windpomp moet draai, die vuurtoring moet swaai. Die pampoen moet in.
En die bougainvillea, hy blom of hy nooit weer gaan ophou nie, sê sy.
Is sy vermakerig? Dink sy ek moet ’n voorbeeld vat daaraan, aan die blomme, aan die koring, aan die brood?
Ek het ore om te hoor, flikker ek, hoeveel keer gaan jy dit nog sê vandag? Van wanneer af verwag jy dat ek moet kompeteer met bougainvilleas? Maar sy kyk nie vir my nie.
Sy bly wegkyk na die stoepdeur. Ek sien haar nek, die nek van Agaat van die kant af met die negester van donker moesies, en die ry haarnaalde waarmee die wit kep vasgesteek is.
Stadig draai sy haar kop terug, versigtig op haar kruk om die beste uit die oomblik te kry, gespits daarop om my op ’n plek te kry waar ek sal instem en my oë sal knip om te sê: Goed ek sal eet, kom maar nader met jou teelepel, Agaat, druk dit stadig neer op die punt van my tong en gly dit ferm opwaarts al op die middel tot halfpad, sodat ek minder werk het om te doen, en ek sal sluk wat jy vir my berei het. Voed ook onse siele so.
Maar ek doen dit nie. Die skerwe groen in die spieël is ’n weergawe, ’n herhaling op ’n ander plan, volgens ’n ander formaat. Soos ’n kaart is van ’n plek. As ek haar kan kry om die analogie te snap. Spieël, kaart, afbeelding, herhaling.
Ek druk met my blik teen die voorkant van Agaat se wit kep. Asof dit ’n seil is en my wil ’n windrigting.
Ek kyk verby haar na die spieël en dan vinnig na die muur langs my bed. Na die spieël, na die muur. Van die gebreekte tuin na die effe wit oppervlakte van die muur. Van wat ontbreek in die weerkaatste somer tot wat ontbreek op die ontluisterde muur, ’n beeld, ’n rûensplaas op ’n plattegrond, opgehang aan sy lus aan die portretlys. Heen en weer kyk ek, heen en weer, saam met die meelogies wat flits op die spieël, óm die onsigbare hoek, na die onsigbare vyeboom, Agaat, sién jy dan nie, die onsienlike, die wêreldrond, sien jy dit nie, tussen die kwartiere van die kompas, oos wes suid noord! Die werf, die dam, die berg, die drif!
Stadig wyk sy terug van my. Sy sit die teelepel op die piering se rand neer. Sy skuif af van haar hoë kruk langs my bed.
Laat sak die meid, sê sy saggies op ’n teruggehaalde asem deur haar tande.
Heen en weer kyk sy, soos ek gekyk het, ek knip my oë aanmekaar. Sy kyk na my, sy kyk waar ek kyk, sy knik stadig.
Spieëltjie, spieëltjie, sê sy. Hinder hy jou? Te veel gesien? Aan die wand? Watter land?
Dit is ’n begin! sein ek. Jy’s warm! Dit is uitstekende vordering! Ja, sein ek, ja Agaat, jy is op die regte spoor! Dink nou net verder! Dink nou net: Landkaart aan die wand, dink plat aarde, dink getekende handpalm, dink lewenslyn, dink vingerafdruk!
Agaat gee my haar oë. Ek kyk diep in, ek vat haar oë vas met myne, ek draai hulle na die deur toe, af in die gang, tot in die voorhuis, tot voor die sideboard langs die muur, tot by die kokers wat daar lê, agter die fotoalbums. Ek maak my oë stadig toe en hou hulle toe. Ek vergader ’n gerf, vanagter haar voorskoot, vanuit haar borskas. Ek sien ’n groot seilskip wat met bollende seile stadig windop laveer. Kieldiep in die wuiwende koring kom sy na my toe aan, heuwelrug na heuwelrug, verdwynend in die holtes, elke keer groter as sy weer verskyn tot ek haar skorte kan hoor kraak in die deining en haar boegbeeld kan uitmaak, die profiel van ’n skikgodin, die kakebeen geset om die storms wat sy voorbeskik het sonder weerwoord te trotseer.
*
Eers toe dit regtig tot hom deurgedring het dat hy ’n pa gaan word, het Jak ’n bietjie beter geraak met jou. Jy het dit nie heeltemal vertrou nie. Dit was die agtste maand van jou swangerskap en skielik het jy allerlei geskenkies gekry, ’n langspeelplaat met saksofoonmusiek waaraan jy weliswaar nie veel erg gehad het nie, Wonderland by Night, parfuum van Elizabeth Arden, ’n nuwe teestel. Hy het jou selfs Swellendam toe gevat vir Die heks van Leipoldt wat die amateurtoneelgeselskap daar opgevoer het. Nie dat sy gedagte daarby was nie, maar jy het die poging waardeer.
Jy moes luister na sy fantasieë oor hoe die kind net soos hy sal lyk, watter sterling bloed in die De Wets se are vloei en hoe hy hom sterk en fiks gaan maak net soos sy pa, ’n gentlemanboer. Saans het hy planne opgetrek van speelgoed wat hy vir die kind wou bou. Vlieërs waaraan mens kon hang, vliegtuie, rakette wat regtig kon opstyg.
Jy het gevra, wat as dit ’n meisietjie is? In sy familie, het Jak gesê, was die eerste een altyd ’n seun.
Jy het gekyk na hierdie man van jou, waar hy saans gebukkend in sy onderklere sy gesig gewas het en sy tande geborsel het. Soms as hy die handdoek voor sy gesig wegvat, het dit vir jou gelyk of hy wil huil. Partykeer het jy hom gekry dat hy deur een van jou boeke op die nagkassie blaai en dit toeklap as hy sien jy kyk. Snags het hy uit die stoepkamer gekom en agter jou rug kom lê soos ’n klein seuntjie. Soggens as jy wakker word, was hy reeds weg.
So gedweë as wat hy met jou was, so ongedurig was hy met die werksmense. Hy het onder hulle ingeklim vir die geringste bagatel. Jy het dit nog maar altyd oor die hoof gesien, die suiker en die koffie wat weggeraak het uit die huis, die honde se bene wat verdwyn het uit die sifhok, maar Jak het jaggemaak op hulle. Hy het die kleingoed wat snags pampoene van die skuur se dak afgesteel het, ingewag en op hulle geskiet met die windbuks. Jy het daarvan geweet omdat hulle ma’s hulle kermend na jou toe gebring het met die koeëltjies wat versweer het in hulle boude. Jy moes dit uithaal met skoongebrande naalde en sorg vir salf en pleisters totdat die wond opgeklaar het. Hulle het nooit gesê wat gebeur het nie, en party van hulle het ook nie eers geweet nie, want Jak het hom natuurlik nie laat sien nie. As jy die koeël uitgeslag het op die kombuistafel met die ma wat die skreeuende kind op die tafel vasdruk, het jy gesê, moenie kyk nie, en die bewysstuk weggemoffel tussen jou borste.
Een aand het jy die koeëltjies op Jak se bord gesit. Daar was vyf.
Jak, dis kinders, het jy gesê, hulle kan pampoene vat soveel hulle wil hê, jy eet dit tog nie. En jy plant dit ook nie en jy lei hulle nie nat nie en jy stapel hulle nie op die dakkie nie, dis my pampoene waarmee ek op die mark ’n ekstratjie verdien om die bediendes te betaal, ek kan dit maar netsowel as deel van hulle loon beskou.
Hy het niks gesê nie, die koeëls in sy hempsak gesit.
Die kinders word groot hier op die plaas, het jy gesê, as hulle uitgegroeide mans is, sal hulle dit onthou, skaam jy jou nie?
Die goed teel net aan hier, het Jak gesê, ek is lus en steek die hele lot in die pad, hulle kan nie kom maak soos hulle lus het op my werf nie, hulle lê net rond vir kwaadgeld.
Jý kan ook nie op die werf maak wat jý wil nie, het jy gesê. Dis mense, onthou, dis nie vee nie.
Jy het stilgebly toe die kos opgedra word. Jy het jou vinger op jou lippe gelê om Jak te waarsku om nie verder te praat nie.
Maar hy het dit klaar gesê.
Jy maak die goed alles gewoond, Milla, het hy gesê, jy skep verwagtings by hulle, nie ek nie. Onthou: Gee jy die pinkie dan vat hulle die hele hand, moenie eendag by my kom kla as hulle voor jou kom staan met allerhande eise nie. Gedenk net hierdie waarheid, die Romeine het dit al geweet, gee ’n hotnot ’n harde baas en hy sal verlang na ’n sagte baas, gee hom ’n sagte baas en hy begin droom van sy eie baas wees. Is dit wat jy wil hê? Waar dink jy moet dit dan donnerswil eindig met ons in hierdie land?
Dit was die ou patroon. Die groot politieke regverdiging vir doodgewone gemeenheid.
Dat jy op kinders skiet of hulle bobbejane is, het jy gesê, het niks te doen met politiek nie, Jak.
En dat jy hulle die alfabet leer asof hulle papegaaie is? Waarmee het dit te doen? En dan dink jy jy kan dit agteraf hokslaan? Jy mag dink jy weet alles van boerdery, Milla, maar jy moenie vir my kom vertel van politiek nie.
Wat kon jy doen? Jy kon nie eers keer dat hy kliphard praat vir die hele wêreld om te hoor nie.
Wie ore het om te hoor, laat hulle maar hoor, Milla, het hy gesê toe jy hom probeer stilmaak, ek sal my nie in my eie huis ’n kop laat aansit nie. Not by a long shot.
Jy was nie eerstehands goed op hoogte van sake in daardie laaste ruk voor Jakkie se geboorte nie, jou bene was opgeswel en jy het nie meer so baie op die werf gekom nie. Maar jy het binne minute geweet as daar iets gebeur het.
Wie het jou kom vertel van die bakleiery? Dat Jak eerste aan Koos Makkelwyn gestamp het oor hy sy mond vol gehad het?
Dit was nie vir jou aanvanklik duidelik wat gebeur het nie. En jy kon niks uit Jak self kry nie. Koponderstebo, sy ryklere vol stof en perdemis en sy rypet ingeduik het hy in die middel van die middag by die huis aangekom om te kom bad en toe is hy sonder ’n woord weg met die bakkie.
Makkelwyn was ’n stewige, netjiese man van in die vyftig wat Jak spesiaal gehuur het om sy stalperde te versorg. Hy was ’n hoefsmid en ’n inbreker van wilde perde en hy het soggens vroeg ewe spoggerig op ’n skimmel-gangloper van The Glen af gekom waar hy stalmeester was. Sy mense, die McCalvins, was van altyd af al perdebeslaners in die streek.
Jy het vir Dawid laat roep toe Jak weg is. Toe bring hy sy pa saam.
Jy sien hulle nog staan, die ouman in die sewentig, en sy seun, al twee met die Okkenels se skewe monde en liggroen oë, en met hulle olierige kakiehoedens in hulle hande in die kombuis. In Dawid se ander hand die blink rypeits, onvanpas het dit gelyk teen die vuil broek, die afgetrapte skoene.
Wat het in die perdestal gebeur, Dawid? Uit daarmee!
Jy was geïrriteerd. Waarom het die ouman saamgekom? As OuKarel in die kombuis verskyn het, dit het jy van kleins af geweet, dan is daar moeilikheid. Jy was moeg. Jy was nie lus vir moeilikheid nie.
Dawid het vir sy pa gekyk.
Praat, het die ouman vir hom gesê, ek is hier as jou getuie.
Dawid het jou reguit in die oë gekyk. Jy het nie gehou daarvan nie.
Mister Makkelwyn het die baas gekapittel, het Dawid gesê. Hy het teen sy broekspyp gevryf met die peits.
Oor wat?
Oor die baas sy perde deur die pis ry en dan moet mister Makkelwyn dae lank sukkel met bevange perde.
En toe?
Toe stamp die baas hom voor die bors en sê hy moet sy donnerse bek hou.
En toe?
Toe sê mister Makkelwyn hy sal nie sy bek hou nie en hy sal nie vir hom laat vloek en rondstamp deur ’n bogsnuiter wat nie respek het vir ’n edeldier nie.
Dawid het sy gewig versit.
Gaan aan, het OuKarel gesê.
Toe raps die baas vir mister Makkelwyn met sy peits deur die gesig en toe gryp mister Makkelwyn die peits se punt en toe ruk die baas vir mister Makkelwyn teen die grond en wil hom skop en toe gryp mister Makkelwyn die baas aan die been en toe val hy en toe’s hulle nou al twee plat aan die rol daar in die strooi en die perdemis en die baas kan nie vir mister Makkelwyn kleinkry nie, want mister Makkelwyn hou vir hom kort dat hy niks kan maak nie.
En toe?
Toe skel die baas op my en sê vir wat staan ek net daar kan ek nie sien die verdomde geutbaster het hom aan die strot beet nie ek moet help ek moet die hooivurk vat.
Die Aga se deurtjie het geklap en die vuur het uit die plaatgate gespring want die aandkos was aan die opsit om warm te word.
Dawid het weggekyk.
Nooi, het hy gesê, ek is jammer …
Waaroor Dawid?
Weer het Dawid na sy pa gekyk.
Die ouman was saaklik, maar jy kon sien hy het iets anders op die brein, daar was ’n trek op sy gesig asof hy homself oefen om pateties te lyk.
My heup is seer, my klong, praat jou praat en kry klaar, het Karel gesê, die mense wil hulle aandkosse maak hier.
Jy het gesien hoe kyk OuKarel vir die potte soos die deksels afkom en daar geroer word met die potlepels. Vleis met kluitjies en soetpatats en vinkelbolle met witsous was dit. Die beetslaai was aan die rasper saam met uie. Daar was ’n spek-en-spinasiesop. Baie kos vir drie mense. Die ou se oë het begin traan daarvan.
En toe, Dawid?
Toe sê ek, baas, soos ek die saak sien is die hooivurk bedoel vir hooi skep en ek word nie betaal om die baas se vuilwerk vir hom te doen nie, ek is die voorman, en al wat ek toe doen is die staldeur toemaak dat niemand verder kan sien wat daar aangaan nie want toe rol hulle heen en weer daar en mister Makkelwyn pen die baas se arms vas dat hy nie kan slaan nie.
Twee vars brode was aan die uitkeer uit die panne, ’n pond botter is uitgehaal. Die geluide in die kombuis was hard in jou ore.
En toe?
Toe staan ek daar want toe wil ek sien dat mister Makkelwyn oukei daar uitkom. Maar ek hoef nie te gekommer het nie want die baas is toe lankal flou gespook en toe staan mister Makkelwyn op en stof sy gat af en hy steek sy hand uit om die baas op te help en toe klap die baas die hand weg en toe sê mister Makkelwyn dan moet die baas nou maar verder self sien en kom klaar met sy royal rossies en die baas moet sy geld wat hy hom nog skuld asseblief na sy broer se huis op Suurbraak vat vanaand nog hy sal hom die verleentheid spaar om op The Glen aan te kom om die stalmeester om verskoning te kom vra, dit sal suffel en suffel wees en as die baas versuim sal hy vir hom gaan aangee vir aanranding al is dit net vir die saak se nommer in die boek en al is dit net vir die waarsku van die sersant oor wat hier aangaan op Grootmoedersdrift.
Daar was ’n stilte waarin net die swiep van die peits teen die broek hoorbaar was. Jy het gedink wat jy volgende moes sê.
OuKarel het die gaping gevat.
Grootmoedersdrift, ai ai ai … ek kom nou al van altyd af al saam …
Hy het sy kop geskud.
Hier, het jy geweet, het die eintlike storie gekom.
Ek is moeg gewerk, kleinnooi, ek soek ’n pensioentjie, kleinnooi, ek moet medisyne koop vir my rumatiek en ek wil nou rus by die huis en darem af en toe ’n stukkie vleis eet en ’n blik perskes koop.
Jy was verstom. Asof dit niks was nie, nie een woord kommentaar op die gebeure in die stalle nie, ’n klip in die stroom, om op oor te trap.
Ek sal kyk wat ek kan doen, Karel, het jy gesê.
Jy het van beter geweet as om te vra: Maar wat het dit met die prys van eiers te doen en hoekom nou?
Dit was ’n oerou onderhandeling en dit was ewe effektief as wat dit subtiel was.
Dawid het nie op hom laat wag nie.
Ons is honger, nooi, ons kinders loop agter die baas aan en tel die tarentale op wat hy vrekskiet maar dan jaag hy hulle weg, ons kan nie van melk en askoek alleen lewe nie, nooi …
Daar was ’n pouse. Hy het die peits op die kombuistafel neergesit.
Van melk en askoek en … pámpóén nie, nooi, kan die nooi dan nie onse rantsoene aanvul met bietjie varkvleis en vet en bone nie?
Ek sal kyk wat ek kan doen, Dawid, het jy gesê.
Pámpóén. Die woord is vir jou opgesteek soos ’n rooi vlaggie, ’n rooi speldekop waarmee ’n mens ’n kritieke punt merk op ’n kaart.
Jy het laat inskep twee groot enemmelbakke kos, en ’n emmertjie sop en al twee die brode en die pond botter laat inpak en ’n bottel ingemaakte perskes uit die spens laat haal.
Jak, het jy geweet, sou tog nie terugkom vir aandete nie en jy was nie eintlik honger nie.
Ai, nooi, ek het nou nie bedoel … het OuKarel gesê, en jy het sy verontskuldiging geglo, maar Dawid se gesig, dit was ’n speeltoneel toe hy die mandjies met die kos by jou aanvat, oormoedig geword van sy eie woorde oor wat daar in die perdestal gebeur het, gestut deur sy pa se versoek. Al het die versoek uit ’n vroeër tyd se lojaliteite gekom en al was dit geënt op ou verstandhoudings.
Ái, maar dit sal nou vir jou vórentoe smaak, het hy gesê, en, baie dankie, nooi, ek is bly ons verstaan mekaar hier.
Kom Dawid, het OuKarel gesê en sy hoed opgesit. Jy kon aan die ou man se rug sien hy dink die seun gaan te ver.
Wat jy moes verstaan, wat as verstaande geïmpliseer is, was meer as wat jy in ’n dag se tyd sou kon opskryf.
In die deur het Karel omgedraai.
Ek is darem nou nie heeltemal ongebruiklik nie, kleinnooi, ek kan die jong manne die slag wys, ek kan nog hand bysit met die safte joppies, laat weet maar as die kleinnooi my nodig kry. En sê groete as die kleinnooi met die ounooi praat, as die ounooi hier kom, sê sy moet laat roep daar by die drif, ek sal kom groet, ek wil sien hoe maak die ounooi dit.
Dit was nog ’n duidelike boodskap.
Jy het beter geweet as om Jak te konfronteer, hy, die fikse gespierde baas van Grootmoedersdrift plat gestoei op ’n stalvloer en vasgehou deur ’n bruin man twintig jaar ouer as hy.
Jy het gesorg dat sy ryklere gewas en gestryk kom en sy kamaste gepoets en sy rypet uitgeduik en afgestof en die pluis van die groen fluweel opgeborsel. Jy het dit alles mooi vir hom reggesit op ’n stapeltjie op die divan in sy stoepkantoor met die leerpeits wat Dawid saamgebring het, blink opgevryf en skuins teen die ronding van die pet aangeleun.
Oplaas was dit die honde. Woedend was jy telkens as jy hom daarop betrap het.
Maar hy het altyd sy hand omgedraai in ’n liefkosing, sy voet gerig op ’n bal of ’n stok. Hy het gesê jy is mal, hy speel net met die honde.
Ma het nie gelyk of sy verbaas is toe sy dit die dag agterkom nie. Dit was die eerste naweek van Julie. Sy het oorgekom om te help met die laaste voorbereidings, darem gesê die nuwe kamers was ’n goeie idee. Na jou het sy gekyk met ’n mengsel van misprysing en gefassineerdheid en jammerte. Jy was swaar en stadig, jou knieë en enkels dik en rooi.
Jak was plofbaar. Jy was bang op die Saterdagmiddag dat hy iets sou ontketen as hy by die huis kom, opgewerk na sy sportbyeenkoms. Dis waarom jy jou ma laat kom het.
Jy was in die babakamer besig om ’n gaasgordyntjie op te sit. Jy het die venster oopgemaak om die verfreuk uit te kry. Ma was in die kombuis besig om koffie te maak na haar middagslapie. Die kombuisdeur was oop. Van waar jy was kon jy oor die agterplaas die geklingel van koppies hoor. Die bakkie het ingery en die honde het geblaf. Jak was terug van die rugbywedstryd, terug van die kroeg waar hy na die tyd gaan kuier het, jy kon dit hoor aan die manier waarop hy die werf binnegery het, die klap van die bakkie se deur. Hy sou agter inkom. ’n Beweging het jou aandag getrek. Die buitekamer se deur was nog oop van Ma wat vroeër die middag die plek geïnspekteer het. Het jy jou verbeel iets roer daar agter die gordyne? Die koppies het opgehou rinkel.
Toe kom Jak om die hoek en swets en kyk onder sy sole. In ’n hondedrol getrap, en dadelik kwaad. Sy nuwe kalfsleerstewels. Salomo die rifrug en Sofietjie die halfom Skotse terriër was op hulle sye aan die kruip na hom toe. Hulle het al van beter geweet as om op te spring en te lek. Hand in die sy het hy hulle staan en betrag. Onder Sofietjie het die sement donker geword soos sy gepie het. Salomo se ore was agtertoe en sy lip was opgetrek. Sy hele lyf het gebewe.
Jak het gegrinnik, die honde nadergepaai. Agter die sifdeur kon jy die wit vlek van jou ma se gesig uitmaak. Jy het teruggestaan agter die kantgordyn.
Jy sou hom kon keer, jy sou die venster kon oopmaak, jy sou kon sê: Jak, die koffie is klaar in die kombuis, hoe was die rugby? Maar jy het niks gesê nie. Jy het geweet jou ma sou ook nie haar teenwoordigheid verklap nie. Sien, is wat julle wou doen, kyk, en mekaar se getuies wees. Weer ’n roering in die buitekamer. Hoeveel pare oë was daar die middag?
Jak was met sy rug na jou toe, vlak voor die kombuisdeur. Jy kon alles hoor.
Dink jy kan vir my knor, dink julle kan my uitblaf uit my eie agterplaas uit, dink julle kan die wêreld vol kak hier!
Toe drie skoppe. Een na Sofietjie voordat sy kon wegkom, en twee in Salomo se lyf in waar hy op die grond gelê het.
So siejy! het hy deur sy tande met Salomo gepraat, hangbal! Moet ’n onderbroek dra, jy, het hy gesnou. Meelpeester! Nikswerd, jy sal dat hulle ons rot en kaal besteel hier!
Die hond het opgesukkel, omkyk-omkyk weggehink. Jak het sy skoensole afgeskraap met ’n stokkie, sy hande by die agterplaas se kraan gewas en hulle aan sy broek drooggemaak, op sy horlosie gekyk.
Toe het jy die venster van die babakamer oopgestoot.
Jak, het jy gesê, die koffie staan klaar in die kombuis, Ma het gemaak.
Hy het jou aangekyk, toe ’n blik na die sifdeur gewerp. Hy het vinnig weggeloop, na die skure se kant.
Jy het op die stoel in die kinderkamer gaan sit en gewag. Jy het die speelgoedlampkap wat jy nog moes opsit, oopgevou. ’n Geel gesig met ’n wye laggende mond. Oop en toe het jy dit gevou, die son ’n waaier in jou hand.
Jou ma het ingekom met ’n skinkbord en drie koppies. Sy het die skinkbord op die wastafeltjie neergesit, die oop venster toegemaak, die gordyne toegetrek en jou aangekyk tot jy gaan sit het.
Sy het niks gesê nie, gewag dat jy praat.
Jak is gefrustreerd, het jy gesê.
Jy het jou stem lig gehou. Dit het gevoel of dit jy was wat die honde geskop het. Jy het opgestaan en begin vroetel aan die babagoedjies op die wastafel.
Hy is nie eintlik ’n boer nie, Ma weet dit tog self, het jy gesê.
Sy het geswyg. Sy het gewag. Jy het ’n blik na haar gesteel. Sy het elke woord wat jy sou sê, reeds geweet.
Hy voel waardeloos, dan haal hy dit op die honde uit.
Sy het ’n geluid gemaak.
Hy voel ek sit op sy kop. En nou is ek swanger, uiteindelik na al die jare, die middelpunt van die aandag. Hy voel seker afgeskeep.
Jou stem het opgedroog. Jy het begin kwaad word. Ou vleer wat op my aas, het jy gedink, eers is hy nie goed om op jou grond te boer nie, dan skyn die son uit hom uit twaalf jaar lank terwyl hy my sleg behandel, en jy maak of dit niks is nie, en noudat ek swanger is, is hy skielik ’n skurk as hy ’n paar honde skop. Hou jou neus uit my sake, het jy gedink. Jou wange het gebrand.
Jy het opgestaan, die gordyne weer oopgetrek. Die buitekamer se deur was nou wyd oop. Êrens in die huis het jy ’n deur hoor oopgaan en toeslaan. Iets het op die vloer in die agterkamer geval. Jy het vuil gevoel. Jou huis het vuil gevoel.
Jou ma se stem was soos ’n dipstok in jou nek, ondertoe moes jy, af in die wit melkerige gif.
Milla, kyk vir my, het sy gesê, sit daar op die stoel dat ek kan praat met jou. Ek is oud, ek weet meer, en ek verstaan meer as wat jy dink. My lewe is amper verby, ek kan maar praat nou, ek moet praat sodat jy nie eendag kan sê jou ma het tot haar dood toe ’n front voorgehou nie.
Ma, los dit net! Jy het met jou hande om jou kop gewaai.
Jy sal luister, Kamilla. En die mure sal luister.
Die gangplanke het gekraak. Jy het beduie met jou vinger voor jou lippe.
Maar sy het net harder gepraat.
Te veel begrip vir die boosdoener en te min verontwaardiging oor die boosheid, het sy gesê, dit is hoe die vroue ’n deug maak van hulle eie lyding en hoe die mans wegkom met moord. Jy hoef nie meer vir my te kom mooi storietjies vertel nie. Hy ook nie. En moenie jouself hier uit die skuld probeer hou nie. Jak de Wet skop sy honde oor twee redes: Omdat hulle hom nie in volsinne kan vlei nie en omdat hulle vir niemand kan vertel wat ’n verraderlike misbaksel hy is nie.
Jy het geprotesteer, sy het haar hande opgehou in die lug om jou te keer.
Laat ek klaar praat, het sy gesê.
Wil jy aanhou sy hond wees? Jy is nou die moeder van sy kind. Jy weet jy kan hom van jou afhou met dieselfde kunsies waarmee jy hom gevang het. Moenie dink ek het nie opgelet hoe jy hom bewerk nie. Maar jy kan meer doen. Jy is nou ’n volwaardige vrou. Mense sal na jou luister nou. Jy kan mense vertel wat aangaan, jou vriendinne, jou ma. Ons vrouens mag die swakkere vat wees, maar ons is eintlik die baas, dit weet jy net so goed soos ek. Ons werk net op ander maniere. Ons hoef nie bang te wees nie. Ons het hulle beet waar dit die seerste maak.
Sy het haar hand uitgesteek. Die elmboog was stram. Dit was net half gebuig, ’n kort entjie voor haar uitgehou. Jy wou wegkyk, maar jy kon nie. Die hand het iets denkbeeldigs omvou, van onder af, dit geliefkoos, die vingers het gekrioel, gegryp, gedraai. Uiteindelik het sy haar hand laat sak. Daar het dit gelê, in haar skoot, groot, verweerd, met knopperige litte.
’n Storie, het sy gesê, is ’n maklike ding om te versprei.
Jy kon nie wegkyk van die hand nie. Jy het gedink, los my uit, ek is klaar geïnfekteer, jy kan my nie sieker maak as wat ek klaar is nie. Jy het nie geweet waarom jy dit gedink het nie. Die hele tyd daar in die klein kamertjie het jy tegelyk ondermyn en ondersteun gevoel. Gevoer en terselfdertyd aan gevreet. Jy het jou skouers gerol en jou oë geknip om van die gevoel ontslae te raak, jy het haar probeer sien soos sy was, probeer hoor wat sy sê, want sy het vir die eerste keer in ’n baie lang tyd werklik met jou probeer praat.
As die storie nie al kláár versprei het nie, het sy aangehou. Daar is mos niks soos ’n goeie huismeid om die waarheid die wêreld in te stuur nie. Jy hoef net die woord te spreek. Dis vroumense. Hulle weet van. Hulle leef vir hulle miesiese, wat het hulle anders om voor te leef? Hulle mans miskien? Jy hoef so ene net ’n bietjie aan te moedig en daar trek dit, ’n veldbrand. Kombuis, koöperasie, konsistorie. Jy het mos ’n hele paar hier op wie se nommer jy kan druk. Die jongetjie lyk my ekstra geskik vir die doel. ’n Gerug in hierdie streke, sê ek vandag vir jou, is die beste manier om die man van jou op sy plek te hou. As die mense weet, sal hulle hom snaaks aankyk, verbyhou, hom uitstoot uit plekke waar dit saak maak om gesien te wees, om by te hoort. Dan sal hy kom huil by jou. Hy sal kom vra jy moet hom help. Dan kan jy jou voorwaardes stel. Hy sal alles en enigiets doen om weer in die guns te kom. Hy sal ophou, ek ken die soort, dan sal hy ophou.
Ma, stop, het jy gesê, dis nie jou besigheid nie.
Ek ken die soort man, Milla, jy kan maar luister vir my. Ek is jou ma, en ek ken jou ook. Hulle vind sterk slim vrouens aantreklik, mans soos Jak, hulle kan nie sonder goedkeuring bestaan nie. Hulle leef van bevestiging en bewondering soos van lug. Hulle is soos kinders. So bang soos wat kinders is vir die donker, so bang is hulle dat mense nie van hulle gaan hou nie.
Haar mondhoeke het na onder gebuig, sy het haar lippe vorentoe gestoot asof sy iets aan die sluk was.
So, besluit jy wat hy van nou af aan vir jou werd is en gebruik hom dienooreenkomstig.
Jy wou skree, ek weet dit! Lankal! Maar dit wou jy haar nie toegee nie. Dit was ’n strik. Sy was jou aan die uitlok, sy was jaloers, sy wou oorlede Pa sleg maak by jou, jou pa wat jou liefgehad het net soos jy was, onvoorwaardelik, sy wou uitvind hoe ver dinge gegaan het met jou en Jak. Sy sou jou reaksie, wat dit ook al was, teen jou gebruik. Sy het opsetlik hard gepraat. Sy het jou veelbetekenend aangekyk, met elke woord haar oë gerol na die agterplaas en die deur en die gang. Daar was sagte voetstappe in die gang.
Watse ouvroustories sit julle hier en praat?
Jak het in die deur verskyn, teen die kosyn aangeleun, hand in die broeksak om homself ’n houding te gee. Hy was op sy sokkies.
Jy het hom jammer gekry. Hy het klein gelyk. Sy gesig was deurmekaar. Jou ma het opgestaan en langs hom verbygeskuur. In die gang het sy teruggedraai en van agter sy rug na jou gekyk.
Die dierebeskermingsvereniging, Milla, het hulle ’n nommer in die boek?
Die gids is daar in die gang, Ma, kyk self, het jy gesê.
Jak het jou aangekyk, hulpeloos.
Jy het opgestaan en na hom toe gegaan en jou hand deur sy hare gevryf.
Toemaar, het jy gesê, sy is oud. Haar blaf is erger as haar byt.
Jy het gefluister sodat sy nie moes hoor nie. Maar jy kon nie sag genoeg praat nie. Sy het met harde voetstappe weggestap van die tafeltjie in die gang waar die telefoon was sonder om die nommer in die boek na te slaan. Sy het ’n verskoning gehad om nie te bel nie. Jy het dit verskaf.
*
ter helle neergedaal my regterhand ’n sterreval dit reën die gemekker op die velde naglank lê ek wakker spasmas klop my teen die ringe duim en indeks teen mekaar gedruk maak die ogie van ’n haas daar spring verkeerde skaduwee my duim verknak pen papier glip uit my hand ’n ritseling in struikgewas ’n akkedis ’n muis ’n keiservlinder in die blaredak hoe hou ’n mens ’n eier vas die stingel van ’n roos ’n deurknop ’n vensterknip alles laat ek oop is jy in ’n kerk gebore? gemaak en gelaat staan? knoop en knoopsgat bly apart wat hang jy daar jou glorie uit? dit is die vraag agaat
*
12/13 Julie 1960 na middernag
Het nou hier in die sitkamer kom sit sjaal oor my nagrok. Wakker geword v.d. klimop ’n snaakse skaduhandjie teen die venster & kon nie weer aan die slaap raak nie.
Helder volmaan buite. Koud nogal. Lus vir iets maar ek weet nie wat nie. Tee & gemmerkoekies? ’n Glas warm wyn sou help maar dis buite die kwessie nou dis ál of ek wag vir iets ál of ek iets mis. Dis die kind waarskynlik ek voel hom skop gewoonlik roer hy vroegaand & dan word hy rustig in die nag.
Volk se honde sou geblaf het eende sou geraas het by die dam as iets fout was maar dis stil. Krieke. Paddas. Miskien moet ek ’n draai op die werf gaan stap vir vars lug. Halwe naar gevoel wil nie weggaan nie.
1-uur
Werf stil maar iets is nie reg nie. Wil nie vir J. wakker maak nie hy sal sê dis my verbeelding hy sal sê ek loop weer in my slaap maar ek is wakker & ek was wakker nou net al voel ek heeltyd of ek ’n entjie bokant die grond loop op iemand anders se plaas in ’n droom in iemand anders se kop. Maar dit is my plaas. Dit is Grootmoedersdrift. Myself al geknyp glad.
Daar was niks buite wat ek nie geken het & nie verwag het nie die werf in die maanlig & alles versorg alles die toonbeeld van orde en rus. Wit gewels van die skure hekpale by die ingang v.d. rivierland swart & regop brandwagte die swart skaduwees van die afdakke waaronder ek weet die hout & bale & rolle draad & hangpaaltjies alles netjies gestapel is. Die sweetsoet ruik van gevlegte uie uit die uiestoor. ’n Sweem van die yesterday-today-and-tomorrow wat altyd buitenstyds blom? Kan mens so ’n reuk droom? Sal mens beter onraad kan ruik in maanlig?
Het doodseker gemaak aan al die slotte gaan voel die werf se hekke nagegaan & gekyk of die sluis v.d. leivoortjie toe is of die hanslammers teenaan mekaar lê in die slaapskuurtjie agter die groentetuin. Hulle is altyd ’n bietjie onrustig nadat een van hulle geslag is & die reling van die sleepwa vol pampoene deurgevoel gekyk of al die pype goed diep in die gate gesteek is sodat hulle nie sal lostrek as die vrag miskien skuif op die pas nie.
Nie ’n enkele ding uit plek uit nie. Het selfs die hek v.d. voeropslag oopgestoot & aan die bale lusern gevoel louerig soos dit hoort sou nie warmer word nie.
By die sydeur v.d. implementeskuur ingegaan & daar in die donker gestaan tot ek die buitelyne v.d. masjinerie kon sien in die donker kon ek die neus v.d. Massey Ferguson uitmaak die reliëf v.d. chroomletters. Onwerklike gevoel. Maar wie sal nou droom hulle vingerlees in die donker?
By die hoenderhok slaapgeluide van henne op hulle stellasie & die reuk van mis en vere. Langs die blindekant van die huis opgestap om te kyk of die sifhok waar die vars vleis te kuur hang op knip was teen die jakkalse. Oorkant die drif se klein jakkalsies. Dié staan mos deesdae op mekaar se skouers om ’n skaapboud te bekom of die honde se skenkels. Verbeel ek my of is hulle meer waagmoedig vanaf die dag dat ek die buitekamer begin regmaak het die vader weet hoe hulle dit so gou agtergekom het seker Saar wat geklik het miskien dink hulle hulle het nou ’n vooruitgeskowe stelling in A. miskien is A. lankal aan die konkel met hulle. Ai skaam jou Milla dis mos nou gans en al onwaarskynlik.
Twintig voor twee
Wou net weer in my bed inkruip toe weet ek skielik wat verkeerd is dis Agaat! Daardie buitekamerdeur was nog altyd oop toe ek daar verby is van die vleishok af. Op ’n skreef! Het aan die venster geklop. Sal sy regtig weg wees? Moet weer gaan kyk!
Twee-uur
A. is weg! Godasseblief sy’t nie in haar bed geslaap nie die koffer is weg twee Sondagrokkies vort baie klere weg het getel tot 8 haarnaalde & ’n kep here help! een paar skoene & een paar sokkies is ook weg & die pak DrWhite’s was oop een doekie is uitgehaal & bruin koffer met al hr eie goedjies WEG! Orals gesoek maar wil nie roep & almal opjaag nie ek het honde aangesê soek ek slaan haar stert vir haar vuurwarm as ek hr kry ondankbare klein nerf waar sal sy kan wees? My rooi trui wat ek vir hr geleen het is ewe opgehang aan die hakie by die kombuisdeur astrant! sy weet waar die vuil klere kom ek sal vir hr regstel net vir gou het nie tyd vir parmantige skepsels hier op Gdrift nie wat moet ek doen?
Al die werfligte & die huisligte aangesit dat sy kan weet daar waar sy wegkruip ek het agtergekom sy’s weg. J. moet in godsnaam net nie wakker word nie dan is die hel los hy sal hr in die pad steek.
Tien oor twee
Weer al die ligte gaan afsit sy moet net nie dink ek is alte besorg nie!
Halfdrie
Nou kan jy meer! A. is op die berg in haar nuwe uniform! Ek staan buite op die stoep nou net eers dag ek ek hoor ’n gesing toe dag ek ek sien iets wits roer op die voetbergie dag eers dis ghwanosakke wat ek daar vasgemaak het om te wys waar die wattels uitgekap moet kom toe’s dit al die tyd A. Kon hr duidelik uitmaak met J. se verkyker. Kan nie sien wat sy daar aan’t uitvoer is nie snaakse passe & gebare daar teen die hang.
Negeuur oggend 13 Julie
Die hele nag wakker gelê & ek kon nie weer warm word na al die gerondlopery buite nie toe hoor ek sesuur roer in die kombuis ek dag nou maak ek of ek van g’n sout of water weet nie & daar kom sy tsjietsjie op die nuwe sole af in die gang nie ’n kroes krulletjie in sig nie netjies aangetrek in hr uniform kep presies reg vasgesteek & keurig koffie op ’n skinkbord effense reuk van gras & bossies maar verder klankloos honde agter haar aan & druk die neuse in hr in. Weet wat dit beteken of miskien is dit net die uniform wat ruik na winkel.
Die weglopery in die nag. Voel of ek dit alles kon gedroom het. Hoe sy my laat skrik het, vaderland! Maar ek hou my as-aan. Miskien sal sy my eendag vertel wat sy nou eintlik daar gaan maak het wat haar in godsnaam beweeg het & wat van die koffer geword het & hr huisklere die twee mooi rokkies wat ek vir hr gemaak het & die vuil klere van die skaapslagtery. Nie dat dit ’n groot skade is as dit weg is nie was tog alles ou goed & sou gou te klein wees vir haar. My rooi trui aan die hakie. Vlag en teken ek ken hr.
Daardie gedoe daar op die kleinbergie kan ek nie kleinkry nie. Sywaarts & agterwaarts knieë gebuig voetgestamp al op die een been spring-spring-spring & wys-wys met die een arm na die grond. Toe die arms strak langs die sye. Toe vou sy hulle & toe strek sy hulle. Het gelyk of sy die een arm met die ander arm in die lug hou & wuif. Eers gedink o so ek is laat dis seker al lank aan die gang die nagtelike ontmoetings maar ek het niemand sien kom nie niks gefluit of geroep nie net die gedreun twee drie note oor en oor.
Hoe vreemd tog. Hr kop op in die lug soos sy kyk vir hr klein armpie of dit ’n stok is. Kieriestok? Skermstok? Dan weer die arm stil voor hr uit palm na bo palm na onder. Vonnis? Seën? Oor die rûens die plaaspaaie oor die vallei langs die rivier? ’n Vaarwelritueel? Waar sou sy daaraan kom? So raar alles ek kan die beelde nie uit my kop kry nie dink die hele tyd daaraan. Waarom daar bo? Wat sou sy wil sien? Kan my goed verbeel hoe dit sou gelyk het in die maanlig die rivier tussen die bome die weivelde aan die valleikant die maanvaal heuwels aan die suidoostekant hier & daar ’n oopte sodat mens die groot vlakte daaragter kan sien lê. Niks wat sy nie al baie keer gesien het nie.
Kon die verkyker my parte gespeel het? Hr arm ’n wysstok? Aanwys uitwys wat gaan vir wat & wie is wie? ’n Spaan? ’n Lem? Hr vuis wat die vleis losdruk v.d. vlies of sy ’n slagding bewerk? Maar nie ’n skaap nie, asof sy die parte van die nag skei. Of iets in haarself verdeel. Wortelklomp.
Vergesog, Milla! Jou verbeelding is te groot vir jou eie gesondheid. Maar mens kan dit tog nie uitdink nie. A. in haar werksklere in die maanlig op ’n berg in die middel van die nag ’n fieteldans aan die doen. Dit kon ek tog nie gedroom het nie. Daar moet ’n eenvoudige verklaring wees. Miskien is sy hrself aan die opwerk om weg te loop. Sal seker eendag agter die waarheid kom. Moet gaan kyk miskien is die koffer terug.