Читать книгу Agaat - Marlene van Niekerk - Страница 7

2

Оглавление

Halfnege op die wekker. Ontbyt. Stiptelik op tyd. Aan haar voetval kan ek hoor ek het weer iets ontketen hier. Tsjie, tsjie, tsjie, maak haar sole op die vloer soos sy in die gang afkom, ekstra nadruk in die hakke. Liggeraak as ek iets buite die normale roetine verlang. Beter om dan nie in haar oë te kyk nie. Ek hou my blik op die wit papier waarop my hand lê in sy spalk.

Sy sit die skinkbord op die spieëltafel neer. Sy tel die pen op wat uit my hand geval het. Sy steun met die regopkom.

Ai, ai, sê sy, ai ai ai, watse bogtery is dit nou tog weer?

Sy trek die klapbord onder my hand uit, draai dit onderstebo, kyk daarna en draai dit weer terug na my. Sy hou die papier met die bewerige strepie na my toe uit en tik daarop met die agterkant van die pen.

L, klank sy, l, dat ek haar tong kan sien voor in haar mond.

L staan vir lê, sê sy. Ek weet jy lê.

Sy verstel drie van die bed se rugpanele sodat ek effens kantel, ’n bietjie skuinser, my kop hoër, maar nog steeds op my rug. So kan ek die beste asemhaal.

Daar lê die ding, singpraat Agaat deur haar tande op die inasem, daar lê die ding, terwyl sy die penne instoot en die skroewe weer vasdraai.

’n Verandering, sê sy, is so goed soos ’n vakansie. Lê jy nou beter, Ounooi?

Ek knip my oë een keer baie stadig. Dit beteken ek lê nou beter, dankie, maar jy mis die punt, gebruik jou verstand, sê vir my al die letters wat ’n afstrepie bevat, sê hulle: p, h, f, m, n, l, t, i, j, k.

Ons telepatie werk nie vandag nie. Ek knip my oë nog ’n keer, effens vinniger. Dit beteken, los my dan maar uit, vat dit weg.

Sy trek die spalk van my hand af. Sy hoef dit nie los te maak nie, dit is wyd, die hele mou en hand, na die armskut van ’n valkenier lyk dit. As my woord maar daarop wou kom sit, mak en gehoorsaam, as ek dit ’n kap met klokkies oor die kop kon trek. Klein rooi valk met stippe op die bors, met die gekurfde vlerkpunte, wat sweef oor die land, wat hang in die lugstrome, kantelend tussen die horisonne, Potberg in die suide en Twaalfuurkop in die noorde, hier op my handrug, ’n getuie.

Dit sal tyd vat om duidelik te maak dat die afstrepie die begin van ’n k is en dat k staan vir kaart, dat ek die kaarte van Grootmoedersdrift wil sien, die kaarte van die streek, van my plek. Vaste punte, waaragtige plekke, die ligging van my grond tussen die Korenlandrivier en die Buffeljagsrivier, ’n laaste oorsig in voëlvlug, op stippellyne, op die asse tussen die lengte- en breedtegrade. Opgeteken en gewaarmerk wil ek die afstande sien, tussen die grootpad en die voetheuwels, vanaf die stalle tot by die ouboord, my oog wil ek heg aan die blou aartjie met die rooi hakie wat die drif, die brug oor die drif aandui, die pyltjie waar die drif se water ontspring, die vertakking in die rivier. ’n Plattegrond van die werfuitleg, die planne van die buitegeboue, die mure, die dakkappe, die val van die geute, die syfers en woorde in drukskrif. Ek sal langs ’n grensdraad afstap en die klein karkassies tel wat die laksman opgehang het, ek sal ’n eiland vind in die rivier, toegegroei van wilde braambosse, ek sal onder die balke van ’n solder deurkoes en my sit kry op ’n goiingsak en my verkneukel daarin dat niemand weet waar ek is nie. Plekke om my aan vas te klamp, ’n ruimte buite hierdie binnekamerse sisteme van vergelding, iets om my verbeelding, my herinneringe, op te ent, ’n snit, ’n inkerwing, ’n okulering wat weglei van hierdie steriele oppervlaktes.

Agaat skuif die brug nader oor die bed en sit die skinkbord daarop neer.

Sy sit die nekstut aan.

Kopklem, sê sy, anders swaai die ou bees.

Sy vat die bordjie pap in die goeie hand, die teelepel in die vingerpuntjies van die ander hand wat uitsteek by haar mou. Sy skep die pap om dit koeler te maak, sy blaas daarop.

Wat ingaan ontheilig nie, sê sy.

Sy kom met die eerste teelepel, hou dit naby, wag tot sy die ritme van my asemhaling kan sien en sit dit tussen die in- en die uitasem in my mond. Ek hou die klein bietjie lou pap op my tong tot ek dit kan sluk. Ek kan voel dat dit nie meer lank is voordat ek die sluktoestel sal moet begin gebruik nie.

Maar ek stel uit. Dit is ’n waagstuk, glo. Wat kan ek verloor? Hierdie dwangvoeding? Hierdie geforseerde lewe? Hierdie drukgang na die einde toe?

En dan, as ek die slukpypie nie meer kan hou nie, sê Leroux, sal hy ’n trageotomie doen as ek wil en ’n voedingsbuis onderkant my sluk insit. Die volgende stap is die ventilator plus ’n ander pyp in my maag. Daarmee sal ek dan in die hospitaal op die dorp moet gaan lê.

Maar ek wil nie. Ek wil hier bly, by Agaat, hier op my plek wat ek ken. Ek het geteken. Sy het geteken. Niemand kan ons dwing nie. Dis ons twee wat aan mekaar gewaag is.

Ek voel die pap weerskant teen my tong afsypel voor ek reg is daarvoor. Ek sluit my oë en stel my voor die sluis in die leisloot, die water wat opdam, ’n hand wat die sluitpen uittrek en die plaat optrek in sy gleuwe, die water laat deurloop, en weer laat sak, sodat dit digstamp onder in die spoor van die sluiskosyn. So probeer ek my sluk aktiveer.

Elke keer ’n waagstuk, ’n verswakte refleks van verbeelding voorsien.

Dis hoe Leroux dit aan ons gestel het. Elke sluk ’n sprong in die duister.

Hieroor sou daar volgens hom by ons geen misverstand moes wees nie.

Misverstand.

Hy weet nie wat hy sê nie, die man.

Ek sluk nog ’n keer.

Daar’s hy, sê Agaat, wie nie waag nie wen nie. Konsentreer, Ounooi, hier kom nog een. Drie maal is skeepsreg.

Die derde sluk put my uit. Ek maak my oë toe, bietjies-bietjies kry ek dit deurgesluk. As ek dit uiteindelik inhet, maak ek my oë oop, ek maak my mond oop en ek probeer k sê. Ek weet goed hoe dit moet. Ek moet die voorste gedeelte van my sagte verhemelte vinnig ondertoe laat sak, teen die agterste plat afdraande van my tong, daar waar die lou pap so pas langs afgeloop het. ’n Kort vinnige sluitslag moet dit wees met asem daaragter. ’n Sagte stemlose plofgeluid, ’n tik so kort soos ’n sekonde. Die klik van ’n deur in sy knip. K vir kaart.

Agaat is vinnig by.

Verstik jy, Ounooi? Wag, wag ek help jou. Rustig maar. Nou net ’n klein asempie en dan sluk en dan uitblaas. Sluk, Ounooi, sluk, ek sal vryf, kom nou, sluk ’n slaggie.

Ek voel haar vingerpunte op my keel. Liggies masseer sy, soos Leroux haar dit voorgedoen het, net beter, omdat sy al ontelbaar veel klein sterwende diertjies in haar lewe gevoer het.

Voëltjies. Niemand wat hulle kon grootmaak soos Agaat nie. Met brood, met rou koringdeeg uit haar mond, gekou met haar spoeg. Van duif tot lammervanger. Almal deurgehaal het sy. Altyd. En laat vlieg uiteindelik. Uit die hand, die wye lugte in. Soms het die aanhankliker soorte bly terugkom vir ’n rukkie. Sy sou gevlei wees, sou die eerste paar dae nog kos uitsit, elke oggend minder, om hulle af te leer. Later het sy hulle verjaag by die enemmelborde wat sy nie meer vol brood en saad gemaak het nie.

Vlieg! Word wild weer! Sorg vir julleself nou! het sy geroep en haar arms in die lug gegooi, die kragtige linker wat streng wegjaag, die dun fladderarmpie agterna.

Vat die kosbakke weg, het ek altyd gesê, anders behou hulle die hoop.

Liggies, met die inasem, op teen my strot vryf sy in klein sirkelbewegings, en met die uitasem stryk sy af, af, af om die laaste bietjie van my slukrefleks te probeer versterk. Om te sluk, om ’n berg oor te steek, eenkant op, met moeite, en anderkant met die afdraand af, nie makliker nie. Hoe vals is tog die digters se beloftes.

Uber allen Gipfeln - sit umlaut op U - Über

1st Ruh’,

In allen Wipfeln

Spürest du

Kaum einen Hauch;

Die Vögelein schweigen im Walde.

Warte nur, balde

Ruhest du auch.

Waarom dink ek nou daaraan? Die ou gediggie uit die hoof geleer by Herr Doktor Blumer toe ek ’n student was?

Dit is nog nie my tyd nie, nog ver van voëltjiedood.

Sy dink sy besit my tyd.

Sy dink dit.

Ek maak my oë wyd oop, vinnig. Ek is nie ’n kákkeling nie! Ek wil ’n kaart sien van my plaas! Hierdie bestek binne chroomrelings, hierdie steriele kamer waar jy my aan die strot beethet, ek is méér as dit! Ek is meer as ’n konyn in ’n hok!

Agaat vat haar hand vinnig weg.

Wat nou? Is daar iets in jou mond wat jou hinder? Laat ek kyk.

Dit is ’n logiese tweede, ’n bekende probleem, kos wat nie gesluk kan kom nie en teen die verhemelte plak. Dit is die dril.

Agaat druk my tong plat met ’n roomysstokkie. Sy kyk in my mond. Ek probeer weer om my k uit te kry, miskien is dit makliker noudat die voorste gedeelte van my tong nie aan my verhemelte kleef nie.

So lank as die lepel in die pappot staan, sê Agaat.

Ek hou my oë wyd oop om haar aandag te hou. Sy kyk. Soos een wat staan in die helder sonlig voor die bek van ’n grot, kyk sy in my in.

Ek knip my oë stadig, reëlmatig, as aanmoediging.

Vind dit, Agaat, vind die woord in my mond, kry die roersel waaruit dit moet ontspruit, vis dit uit as bedoeling, as verlange. Die omtrekke van Grootmoedersdrift, sy bakens, sy hoogtes, sy laagtes. Jy kan my dit nie ontsê nie.

K, probeer ek weer. Agaat se mond gaan oop. Ek knipper vinnig. Nou is jy warm, sê dit, nou is jy op die regte spoor. Sy knipper terug. My hart klop vinniger. Nou is daar verstandhouding. In mekaar se kele kyk is die naam van die speletjie, twee kele op soek na ’n woord.

Goed, goed, Agaat, kyk of jy my kleintongetjie kan sien afsak, dan boots jy dit na, dan klank jy dit vir my, dan sê jy “k”, dan sê jy “kaart”, dan bring jy die kokers daar uit die sideboard, daar waar jy elke oggend nog ’n blou boekie gaan uitgrawe, en dan haal jy die rolle uit en vou dit vir my oop dat ek kan sien waar ek is tussen hemel en aarde, want my bed hier is vir my te klein.

My mond is oop, haar mond is oop. Nog ’n keer probeer. Ek sien jou sagte verhemelte, Agaat, en ek sal sein as jy dit reg beweeg.

Skielik ruik ek Agaat se asem. Na soet rooibostee ruik dit, ’n uur gelede s’n, die enemmelbeker s’n.

Agaat maak haar mond toe. Haar hande druk op myne.

Moet nou nie vir jou staan en opwen onnodig nie, sê sy. Sy staan terug. Behoedsaam.

Kom ons gaan deur ons lysie, sê sy, dan kyk ons wat dit is wat jy wil hê.

*

12 Desember 1947. Die dag voor jou troue, dis toe dit die eerste keer gebeur het. Daarna, die dae daarna, die eerste weke, het jy na musiek geluister om jouself te kalmeer. Jy het jouself vertel Jak was maar net paniekerig oor die trouery, senuagtig oor al die nuwe verantwoordelikhede, bang vir sy skoonma.

En dan het jy nog in sy ore gestaan en neul ook. Dis hoe jy dit vir jouself probeer goedpraat het. Die gedagte om dit vir Beatrice te vertel het jy uit jou kop gedruk. Jou pa was die ander moontlikheid. Hy het die aand voor jou troue by jou kom staan en sy hand op jou skouer gesit. Ek maak my sorge oor jou, my kind, het hy gesê, is iets verkeerd? Jy het in sy gesig gekyk, gegroef en uitgeteer van sy siekte. Wat sou gebeur as jy hom sou vertel? Hy sou werk maak daarvan, dadelik. Hy sou Jak reguit ’n paar dinge meedeel. En jy kon dit nie bekostig om Jak te verloor nie.

Jy wou so graag die huis heeltemal reg hê voor die groot dag, want die resepsie sou op Grootmoedersdrift wees. Die tuin was ’n ander saak. Dit was deurmekaar en toegegroei. Daar het jy groot drome voor gehad, maar dit sou moes wag. Daar was belangriker dinge. En jy was in elk geval sentimenteel oor die ouderwetse plante wat daarin gegroei het. Jy sou hulle altyd daar wou hê. Die Maartlelies en die purperwinde en die kappertjies om die voet van die watertenk, die woeste jasmynheining wat in die ou koejawelbome opgerank was en die blackeyed Susan, die ouderwetse pers bougainvillea wat die systoep oorwoeker het, die vilette en die geurige rooi kleinkop-angeliere, die soetemaling. As jy mooi gekyk het, was dit reeds die paradys.

Pa se trougeskenk aan julle was ruim, ’n splinternuwe rietdak vir die ou opstal, gedek deur die voorste dekkers van Suurbraak, en ’n nuwe vloer op ’n ruim ondervloerse met ordentlike luggate in die fondamente ingebreek. Vir die sitkamer het Pa op sy laaste bene nog geelhoutplanke in die hande gekry van ’n ou huis wat hulle aan die restoureer was op Swellendam. Die ouderwetse smal gekwaste dennehoutplankies het hy oor die jare bymekaargemaak sodat daar genoeg was toe die vloere gelê moes word in die res van die huis. Ma het ’n hele span Maleiers uit die Hermityk gekry om die werk te doen. Dit was in hulle bloed, het sy gesê, messelwerk en skrynwerk. ’n Stuk van die stoeptrap wat verbrokkel het, het hulle netjies opgebou en luggate in die wolfendgewels aangebring sodat die nuwe dak goed sou lug. Die twee duifies onder die oorhang van elke gewel, die geheime versierinkie waarvoor jy van kleins af so lief was, is bygewerk, sodat as die namiddaglig skuins genoeg was, mens hulle daar kon sien, die koppies na mekaar, koerend in wit gipssement. Die voordeur het hulle afgeskuur en groen geverf, en ’n ou koperdeurknop en -klopper met ’n rooikatkop aangebring wat nog in Ma se erftrommel was. Hulle het al die rommel uit die kelders gedra en die ruimtes dieper uitgewerk vir stoorplek. Van opslag kon mens nooit genoeg hê op ’n plaas nie, het Ma gesê. En Jak sal tog seker sy wyn êrens wil bêre. Sy het self kom toesig hou by die werk aan die kelders en die goed gesorteer vir wegmaak en stoor in die pakkamers agter die huis. Daar was baie ou meubels wat jy met die tyd wou laat regmaak, sy het die waardevolste stukke vir jou uitgewys en etikette aan die pote vasgemaak. Die boeke wou sy en Jak almal wegmaak, maar jy het gekeer. Moenie dink oordat Pa siek is julle kan maak met sy goed wat julle wil nie, het jy gesê. Baie van die ou boeke was mooi gebind in leerkafte; ensiklopedieë en naslaanwerke oor insekte en dieregedrag en gesteentes; ook nog gedateerde populêr-wetenskaplike werke wat aan jou pa behoort het. Hulle sal mooi lyk in die sitkamer se rakke, het jy gesê en mens weet nooit wanneer jy inligting nodig het oor onwaarskynlike sake nie. Jy het hulle langs die digbundels, die romans en dramas wat jy op universiteit gelees het, langs Wuthering Heights en Northanger Abbey en Belydenis in die skemering en Die kersieboord en Die heks van Leipoldt en Kringloop van die winde en Die siel van die mier in die rakke gepak. Die ou naslaanwerke waarmee jy grootgeword het, jy sou ook hulle bestudeer en joune maak. Jou pa het vir jou daaruit lesgegee toe jy klein was, oor die aardvlooi Collembolla met sy springveer onder sy stert wat ’n lusernlandjie oornag kon verwoes. Dit was deel van jou boerderytoerusting, het jy gesê terwyl jy stapels van die ou volumes na binne gedra het.

Verder het jy binne en buite laat verf en al die houtwerk laat afskuur en vernis. Jy het ’n paar gekraakte glasruitjies laat vervang en matte en spreie en gordyne op hulle plek gekry. Al die belangrikste was gedoen voor die troudatum. Jou nes was geveer.

Dit was meer as goed genoeg vir ’n begin, maar jy het ’n ertjie gehad. Jy het aan Jak gesit om jou op die laaste minuut nog te help om die kombuiskassies te verf.

Dit lyk sleg, het jy gesê, wat sal die ander vrouens van jou dink met sulke kombuiskassies? Dit lyk vuil. Wat sal jou ma van julle dink dat julle nie self ’n bietjie julle arms uit julle moue kon steek nie? Dis wat hy nie kon vat nie. Dat jy hom dreig met ander se opinies. Nie wat jy van hom gedink het nie, maar hoe ander hom sou oordeel. Want dáárop was hy baie gesteld.

Toe gebeur dit. Die dag voor die troue. Aan jou hare gesleep oor die agterstoep van Grootmoedersdrift se opstal. Gestamp en gestoot voor jou bors dat jy geval het op die sement. Jou net daar laat lê en weggestap.

Die aand het jy jouself kaal in die spieël bekyk in die kamer van jou ma se dorpshuis in Barrydale waar jy voor die troue oorgebly het. Jy het jou hare agtertoe getrek met jou hande sodat die vorm van jou kop gewys het. Jy het jou lyf bekyk, jou gelaatstrekke. Jy was nie ’n mooi vrou in die gewone sin van die woord nie. Jou mond was skeef aangeset, jou oë ook, jou lyf het nie die reëlmaat en die proporsies gehad wat die tydskrifte voorgehou het nie. Jou hare was vlermuiserig, geneig om punte te staan. Jy het verkeerde kroontjies op jou kop gehad.

Jy het oor die skrape en die blou kolle gevoel. Daar was ’n groot knop voor jou kop. Jy kon jou een knie moeilik buig. Jy het op jou bed gesit en gehuil. Later opgehou. Jy sou nie met dikgeswelde oë voor die kansel staan nie, nie jy nie.

Jy het jou gesig gewas en Pa se ou 78-spoedplaat met Frauenliebe und -leben op die draaitafel in jou kamer gesit. Kathleen Ferrier kon namens jou huil. Jy het lang voile-moue en ’n opstaankraag van stywe kant aan jou trourok vasgewerk sodat niemand iets sou agterkom nie. Die trourok was gemaak van die allerfynste damasgoed uit jou ma se trousseau nog, oorspronklik bedoel vir ’n bedsprei, te goed vir ’n bedsprei. Jy het tussen die steke deur opgekyk in die spieël. Geslaande bruid, het jy gedink. Nun hast du mir den ersten Schmerz getan.

Jy was besig om jou trourok te bederf, dit het begin lyk soos ’n swierige nagrok. Vir jou ma het jy gesê die rok was te kaal. Sy het haar oë op skrefies getrek, sy het jou nie geglo nie. Sy het geweet hoe jy aantrek, kaal was nog nooit vir jou ’n beswaar nie. Miskien, het sy gesê, staan die idee jou nie aan om in ’n bedsprei te trou nie, maar wat dit betref moet jy maar van jou fiemies ontslae raak, want van nou af ís jy die bed.

Die behoorlik opgemaakte vrou, het jy gedink, die teruggeslaande, die oopgeslaande, die nuut oorgetrekte vrou. ’n Vrou met binnevere en ’n stewige kopstuk, ’n vrou met koperbeslag.

Jy het die fyn steke gemaak, die garing versigtig deurgetrek, steek vir steek het jy jouself vasgewerk, in die verbloemende moue, in die kraag wat die merke aan jou nek moes toedek.

En soos jy gewerk het, het jy gesit en gedink aan die eerste keer. Die eerste keer was voor jou troue, daardie dag toe julle amper die ongeluk met die waatlemoenlorrie gehad het.

Julle wou nie een wag nie, jy was net so hartstogtelik, net so roekeloos soos Jak. Maar daar waar jy kamoeflering aan jou trourok sit en werk het, het jy ’n ander perspektief op daardie middag begin kry.

Hy het jou oor die drumpel gedra en op die ou katel in Ma-hulle se oorslaapkamer gegooi en sy sin met jou gekry. Sonder omhaal of sagtheid, niks.

Wag, het jy nog gevra, wag ’n bietjie Jakop, stadig eers, maar hy kon jou nie hoor nie.

Die miet het uit die stukkende plafon gestuif en die vloerplanke het gekraak onder die piepende stee. Jy was onthuts. Jy het gedink, nee, nie so nie, maar jy het jouself bymekaargehou. Van binne het jy jouself verweer terwyl hy sy gang gegaan het. Dit sal regkom, het jy gedink. Julle sal mekaar nog leer ken.

Jy was verbysterd oor die baie bloed op die deken na die tyd, maar hy was onverskillig.

Dis natuurlik, het hy gesê met sy rug na jou, jy’s mos ’n boervrou. Nou’s jy mooi ingebreek. Kitskursussie. Moenie so pieperig wees nie. Hoe het jou ma gesê? ’n Afrikanervrou gaan haar weë in stilte en swye.

Toe jy jou rok klaar afgewerk het, was jy ’n ander mens. Jy het gedink jy verstaan waarvoor jy jou ingelaat het. Jy het gedink: Dis beter dat ek dit nou verstaan as later. Jy het voor die spieël met jou haarstyl geëksperimenteer om die skade weg te steek. Jy kon jou nuwe insig nie eers vir jou ma vertel nie.

Jou neefs was almal daar, maar jy het niemand daar genoeg vertrou om hulle te vertel nie. Beatrice, jou vriendin van skooldae af, het jou ondersoekend aangekyk, ’n paar keer. Maar jy het nie bes gegee nie. Jy het geglimlag en alles reg gedoen die hele dag lank van die troue. Dit sou nie weer gebeur nie. Dit het niks met ander te doen gehad nie. En jy wás lief vir Jak en jy hét hom jammer gekry tussen al jou mense, jou pa wat alte ernstig sy hand skud en jou neefs wat hom hard op die blaaie slaan.

MooiJak, het hulle vir hom gesê, Jak met die vroumensgesig.

Hulle het hom bewonder vir sy slag met woorde. Want hy het ’n dawerende bruidegomstoespraak gemaak, jou Jak, soos jy geweet het hy sou. Jy het sy styl leer ken. Sy Toastmastersklub op Stellenbosch waarheen hy jou as student saamgesleep het. Jy het nie besonder veel daarvan gehou nie maar dit was in ruil vir die liederaande wat hy op sy beurt moes deursit in die konservatoriumsaaltjie. Hy het die mense altyd aan sy voete gehad, daarvan gehou dat jy dit hoor. Net soos met die troudagtoespraak.

Daar was eendag ’n wonderskone plasie, het hy begin, en na jou geknipoog.

Aan die voet van ’n berg, digby ’n stroom, met ’n rietdakhuis tussen die bome. Maar die werf was stil en verlate. In die aand het die bome gesug en die huis het gekraak en die berg het vir die rivier gefluister: Wanneer kry ons dan ’n baas, ’n man en sy vrou wat lewe en luister sal bring op hierdie werf en mekaar sal liefhê bo alles?

Was dit net jy wat ’n ondertoon van spot gehoor het? Jy het jou pa se oog gevang. Hy het nie gehou daarvan nie, dit kon jy sien, maar hy het sy gesig reggetrek en geglimlag.

Miskien het Jak die blik onderskep. Die spot het uit sy stem verdwyn. Hy het homself en al die ander gesjarmeer, opgerui selfs. Op die ou end het hy al tweehonderd bruilofsgaste aan die sing gehad. O boereplaas, geboortegrond, het dit gedawer daar oor Grootmoedersdrift se werf, jou het ek lief bo alles.

Toe hy klaar was, het almal geglo sprokies kan waarheid word.

Eers na middernag, toe die gaste begin afskeid neem het, het jy jou alleen gemaak maar jy het nie gehuil nie, jy het gewik en geweeg en jou planne agtermekaargekry. Jak het jou kom soek. Hy was aangeklam, vol spraak, en ewe vryerig na die gedruis van die huweliksfees.

Hy het agter jou voor die spieël kom staan waar jy in jou onderrok gesit het, jou nek gestreel.

Sweetheart sweatheart sweetheart, het hy vir jou gesing, will you love me ever.

Jy het saamgeneurie vir die geleentheid.

Ek sou nooit met ’n mooi vrou kon trou nie, het hy gesê, dit sou my te veel laat wakker lê in die nag.

Jy het geglimlag. My liewe man, het jy gesê, wat kan ’n boervrou nou meer wens as ’n man wat soggens vars en uitgerus uit die bed spring vir sy dagtaak.

*

hoe lank lê wilde ertjies voor dit uitslaan? hoe lank loop ’n skaap met ’n verkeerde tong voor dit blou raak? hoe lank het in my voeë die warmassies gewoeker? in watter plooie en voue van die kraag en die mik die onsigbare myt van brandsiek? hoeveel jaar die inkubasie van verskrikking? in watter ondergrondse are slaan geskiedenis neer? ’n opvang van reën kies homself nie die berge kies en ’n mond vir ’n stroom word gegee deur die see hoe het ek dan so verkeerd opgegaar geraak so ’n stil gistende poel?

*

Woensdag 12 Mei 1960

Alles raak meer werklik nou soos wat ek die lyste maak. Twee prosesse (drie!) hulle hou mekaar op gang maar daar is baie dinge om gelyk aan te dink. Solank ek aan die dinge dink en nie aan die redes nie. Here help my soms voel dit te veel.

Kriel & Kie lys 1
Baba (’n dogtertjie of ’n seuntjie?!)Doeke & speldeKombersies (vashou en toedek, wolkatoen) (5)Frokkietjies (langmoue dit sal winter wees) (7) Ma sê mens kan nooit genoeg daarvan hê nieKruippakkies (oopknoop voor)Oorbroekies (waterdig)Wiegie (miskien tog my ou wit kot by Ma kry? Of is hy nog hier onder in die kelder?) Stootwaentjie (Dunlop verstelbaar)Kussinkies & oortreksels2 Badjies (dik plastiek)Handdoeke (4 groot & 4 klein)Babasjampoe & seepBadolieBabapoeierWatteOorpluisiesSkêrtjie2 x 4 bottels + ringe + tieteBottelborsels 2(’n Raampie gesien met gekleurde balletjies wat ratel & draaidingetjie vol engeltjies & voëltjies om bokant die wieg te hang)

Kriel & Kie lys 2
7 Langmou-uniformrokke (swart – sou dit seker self kon maak maar het nie nou tyd nie)7 Voorskote (hoë bef rugbande oorkruis vgl. Royal Hotel)7 Wit keppe met rekke (probeer by Good Hope Kafee as Kriel & Kie nie het nie die meide dra dit daar vra Georgie se vrou)Haarnaalde (2 x 24 groot)Onderbroeke (sterk swart wolkatoen skoolafdeling)Skoolskoene (rubbersole)Wit sokkies (dosyn)Flennienagrokke (2)Nylonnagrokke (2)4 bra’s 32A (moet maar ingroei daarin ek sien die tetjies stoot vinnig)Handdoeke & waslappe (gordyne?) kan ek bymekaarsoek uit die onpaarlaai van die linnekas Beddegoed & kussings genoeg. Afvallap! – bel Oog v.d. Naald – moet gou vir haar ’n Sondagrok of twee aanmekaarslaan naaldwerk kan sy al genoeg sy sal maar net eenvoudig moet inspring self & opdons ek sal nie tyd hê niekan regtig nie alles klaar koop nieDr White’s 4 dosyn (Lewenspraatjie! Wat sal die goeie moment tog wees?) – skuif Dr afRek met lusseMum (smeersoort)Lacto Calamine LotionLifebuoy seep x 6Johnsons babapoeier (sal haar moet leer hoe mens toe skoene vars hou!)Pepsodent x 6Swart politoer (& borsel & poetslappe)Drie swart strykystertjies & strykplank (sy moenie soggens die huis s’n gebruik nie moet kraakvars uit die buitekmr kom klaar & reg vir die dag)VimSkoppie & besemOmoWasplankStysel (skryf resep op vir haar: kouwater en gewone)Blousel 2 Blikemmers Sunlightseep (x 4)SinkbadjieNog nie water in die buitekmr elektrisiteit een punt?
(Tweeplaatstofie?)BlikketelGroot pot vir waswater warmmaakBekerRooibosteeFriscoPoeiermelkSuiker (blik)(NB vir haar naaldwerkmandjie: ekstra knope vir die uniform & stopwol & stopskulp naalde spelde skêr hekelpen hekeldraad oorskietwol vir nog van die truitjies wat sy dra sy sal hulle nou self moet begin hekel)BybelFAK (ou een)Kook & Geniet?Hulpboek vir boere (Pa se ou kopie, A. moet die beginsels leer ou & nuwe metodes mens weet nooit & dis goeie dissipline) BorduurboekOpsioneel:Blik gemmerkoekiesBlik beskuitMariebeskuitjiesSuurklontjiesPeppermint Humbugs

Darem ’n ou ietsie om aan te suig & iets om by hr tee te geniet in die aand voor sy gaan slaap. So baie om te doen nog. Skoon naar van daaraan dink. Ek vra vir J. voel hy dan niks oor alles wat nou gebeur nie hy sê nee dis nie nodig dat hy iets voel nie ek het genoeg gevoelens vir twee. Toe ek weer sien het hy vir homself ’n hele boks vol nuwe klere gaan koop. ’n Nuwe geluid op Gdrift sê hy & hy kan darem nie sonder kostuum vir die volgende bedryf verskyn nie. Ek sê gaan lees liewer iets om jou te stig jou snedigheid beïndruk my nie meer nie. Vandat ek swanger is, is hy ten minste versigtiger. Lyk nie asof hy hoegenaamd aan my wil raak nie, wat nog te sê slaan. Maar die taal wat hy besig. Kom gryp netnou die dagboek hier onder my uit. Salig is die maker van lyste skepper van hemel en aarde roep hy. Heil die leser kap ek terug. Wat moet van ons word?

13 Mei 1960

Alles werk uit of dit so beskik is. Drie kamers tegelykertyd gemeubileer babakamer & A. se kamer & die wolfendkamer van die linkervleuel vir J. se kantoor. Hy slaap tog nou meestal daar & met die baba sal dit beslis beter wees hy sê dit self.

Nou skoon moeg na die hele dag se organisasie. Heeltyd bang ek vergeet iets belangriks. Angstig. Wat ’n omwenteling tog! Weet dis reg maar ek hou tog my hart vas oor alles.

Wieg & waskassie laat insit in babakmr met gat in die blad waarin die badkomme pas & genoeg plek langsaan om die kindjie te versorg. Onder die badjie plek vir doeke & badgoedjies. Enkelbedjie daar ingedra & ’n leunstoel sodat ek daar kan lê as dit nodig is & ’n plek om te sit vir voedings & laaikassie met genoeg laaie sodat ek in een oogopslag my hand op alles kan lê.

Gordynmateriaal gekoop met halfmane & sterre die vensters maak oop op die agterplaas sodat A. kan help luister in die nag.

Linoleum op hr skroptafel laat spyker waarop hr ketel kan staan. OuKarel het tussenplanke tussen die bene van die tafel ingesit vir hr sinkbad & hr koffer. Bokant die tafel ’n plank laat vasskroef op ysterarms waarop sy hr koffie & tee & bekers & seep & skoonmaakgoed kan bêre & spyker ingekap vir spieël een hoek gekraak maar heeltemal goed bruikbaar. ’n Koperpyp in die muur tussen die twee halfskotte laat insit waar die rakke van die stoorkamer was om hr uniforms & rokke op te hang (soek ou draadhangers NB) ’n tweepantgordyntjie aan ’n koord geprakseer dat hr goed nie so oop & bloot hoef te hang nie langs die bed ’n krat met ’n lap oor die oopkant vir hr Bybel & hr glas water vir die nag & hr kers amper van die kers vergeet sit by op lys 2 (Binne-in die krat kan sy hr ander leesgoed hou.) Vir Dawid 4 appelkissies op mekaar laat vasspyker & twee lae wit geverf & twee hakies bo ingedraai & daar ook ’n gordyntjie voor gemaak vir hr skoene & skoenpoets onderin & onderklere & hr wol & lappe & hr naaldwerkmandjie.

Ou geel blompotjie vir bietjie huislikheid met kappertjies in sal dit mooi lyk daar. Mure nog kaal & gloeilamp sonder kap maar sy moet nou ook nie dink dis ’n hotel nie ou badmatjie voor die bed gesit dat sy nie met die opstaanslag so op die koue linoleum hoef te staan nie & ou kombuisgordyne gehang bietjie skraps moes die plooie uitryg maar heel skaflik nog.

Wat sal sy van dit alles dink? Moet maar net goed genoeg wees. Gelukkig mooi verstandig.

J. se kantoor nou in stoepkmr. Lessenaar & liasseerkabinet & plaaspapiere wat in die tweede spens was oorgedra & sy oefenapparate uit die slaapkamer dank Vader. Foto’s & bekers & goed wat die hele huis volgehang & gestaan het. Die meid in haar klein hoekie die baas in syn sing J. Herre die man. Hy sal nou ten minste weer die mense in die oë kan kyk sê hy. En in een oogopslag sien wat op die werf aan die gang is. Asof die werf hom een jota kan skeel. Solank hy nou net tevrede is het nie nou nog tyd vir sy nonsens ook nie. Verwag dat Beatrice Kansellap ook die een of ander tyd sal wil kom inspeksie hou. Kort ’n kopwieletjie soos Pa sou sê.

Agaat

Подняться наверх