Читать книгу Agaat - Marlene van Niekerk - Страница 9
4
ОглавлениеAgaat roer op haar bed in die gang. Ek sien die eerste gloor deur ’n spleet in die gordyne. Dis vyfuur op die fosforwysters van die wekker op die nagkassie.
Agaat het nie ’n wekker nodig nie. Elke oggend net voor die staanhorlosie die uur slaan, ontwaak sy. Dan lê ek lankal wakker. Partykeer maak ek of ek slaap sodat sy kan sing. Agaat sing my wakker.
Daar is net een kraak soos sy regop sit op die kampbedjie. Terwyl die slae in die voorhuis galm, roer sy nie. Waaraan sal sy dink tussen die vyf slae deur? Sal sy haarself staal daar op haar bed, afkyk in die donker gang met die eerste lig wat uit die kamers val, van deuropening tot deuropening? Sal sy haar skedule vir die dag vinnig in oënskou neem? Bid miskien? Nee, Agaat bid nie, sy bid net namens my, sê sy, dit moet maar genoeg wees.
Aan die begin van die winter het sy vir die eerste keer die kampbedjie uit die stoorkamer ingedra. Te skraps vir haar as ek moet oordeel, sy het dik geword die laaste jare. Vandat sy my versorg, werk sy nie meer so baie self om die huis en die tuin nie. Spit hier, skrop daar, hoor ek sy gee orders.
In die nag hoor ek haar nie roer nie. Sy slaap soos ’n laaistok op daardie baar. Ek sien dit voor my. Op haar rug met die hande op die bors. Die slaap van die waaksames. Twee keer per nag, een keer in die voornag en een keer in die nanag kom staan sy in die donker by my bed op kaal voete. Sy is nie amptelik wakker nie. Ek ook nie, ek hou my aan die slaap. Soms die laaste tyd gaan sy dan agter uit en bly ’n uur of langer weg. Ek hoor nie dat sy by die buitekamer ingaan nie. Waar sou sy tog ronddool?
Daar is nou die eerste beweging. Die kampbed kraak soos sy strek om die ganglig se skakelaar by te kom. Sy vat een sluk water uit haar beker. Die enemmel maak grrts op die vloer toe sy dit neersit. Nog ’n kraak soos sy haar bene van die bedjie afswaai. ’n Swiepgeluid soos sy haar oorjas aantrek oor haar nagrok. ’n Piep en ’n klap soos sy die kampbed toevou, ’n gestommel soos sy dit inskuif in die tweede besemkas langs die badkamer.
Sy loop in die gang af. Doef, doef, doef, gaan haar kaal voete op die planke. Sy sluit die kombuisdeur oop, praat met die honde, maak die onderdeur weer toe agter haar. Die sifdeur kraak, die sifdeur klap, sewe treë, die buitekamer se deur word oopgemaak, die slot, die skuifknip, die onderdeur wat skuur op die linoleum. Was en aantrek is wat sy gaan doen. Gebruik die badkamer in die huis, probeer ek aan haar verstand bring, maar sy maak of sy my nie verstaan nie.
Koffie en Boela maak tjankgeluidjies. Ek hoor hulle krap aan die kombuis se onderdeur. Sy laat hulle nie meer in my kamer kom nie. Op aanbeveling van Leroux, sê sy.
Ek glo haar nie. Vanaf die dag toe sy uit die boekies begin lees het, het sy hulle verbied hier. Asof sy self die hond wil wees.
Sy kan nie ander lewe in my kamer voor haar oë verdra nie.
Net so min as wat sy die idee kan verdra om in die spaarkamer in te trek en ordentlik in die huis te woon saam met my. Vir wat nie? Hier is meer as genoeg plek beduie ek, maar verniet of sy dit wil verstaan.
Ek mis die honde. Altyd as hulle hier ingegalop het, het ek gevoel ek is nog iemand se baas. Eers met die voorpote op die bedrand, nat snoete ingedruk onder my hande, reuk van hondelyf in my neus, lagbekke en jaagasems, ’n hele warm bruin pelsbedekte lewe hier oor my wit dekens. Met hulle swaaisterte het hulle soggens die lug lewendig geroer hier in die kamer. Na ’n ruk sou hulle tot bedaring kom en gaan lê, op die matjie by die glasdeur langs Agaat se stoel. En ek sou kyk hoe hulle wenkbroue roer soos hulle my dophou vir ’n ruk en hoe hulle dan uiteindelik sug en aan die slaap raak. Ek kon hulle so dophou tot hulle aan die droom raak, tot die agterbene begin skop-skop, en die spiertjie begin spring in die voorpoot, en die lip begin tril van ’n binnensmondse knor. Hasejag.
Nou is dit net Agaat se stoel daar voor die glasdeur. Daar sit sy en borduur bedags as sy tyd het, as sy my ter wille voel, en saans tot ek aan die slaap raak.
Dis ’n groot lap. Vandat ek nie meer beweeg nie, werk sy al daaraan, elf maande al. Lankal begin daarmee lyk dit, want die een kant was al goed bewerk toe sy dit hier ingebring het die eerste keer. Ek beduie dikwels met my oë, wys ’n bietjie, maar sy maak of sy nie sien nie. Nou streep die eerste lig deur die spleet in die gordyne op die borduurlap waar sy dit neergesit het op haar stoel. Die versiering is dig en dik in wit satyndraad, ’n ingewikkelde kombinasie van saamtrek en skadu-steke. As ek op ’n sekere manier fokus, lyk die strook waarop die lig val soos ’n band wit marmer waarop ingewikkelde besonderhede in vlak reliëf gebeeldhou is.
Sy het dit ver gebring met die borduuwerk, Agaat, sy sou teen dié tyd ’n paar hoofstukke kon byskryf in die borduurboek.
Kwart oor vyf slaan dit. Sy is terug in die kombuis waar sy die ketel aangesit het op pad uit, sodat sy nou net kookwater by die sakkie en die verdikkingspoeier hoef te gooi. Hier kom sy nou gangaf. Eerste skinkbord, gisteraand al reggesit, tweede kwartier van die dag. Tee. Oggendmedisyne.
Met haar reuk van Lifebuoy en Mum en Calamine kom sy die kamer binne.
Prys die Heer met blye galme, sing sy. Sy hou op as sy sien ek is klaar wakker.
Haar uniform kraak. Haar kep straal soos ’n baken. Sy het ’n skoon swart huisrok met kort moue aan, ’n wit gehekelde truitjie bo-oor. Ek kan die kouewater-Omo ruik. Die voorskoot is styf gestysel. Haar rubbersole maak suiggeluide soos sy laveer om my bed.
Sy krink my op, sy skud my kussings, sy hys my nek uit my lyf, sy stut my kop, sy trek my reg.
Alwieker alwakker al oor die akker, sê sy.
Sy kom met ’n louwarm nat sponsie en vee my mond uit.
Hond uit die mond, sê sy.
Sy maak die doek tussen my bene los, sit dit eenkant in ’n bondeltjie en skuif die nommer eenpan onder my in.
Sy sit my borslap aan.
Sy klamp die beker met die lang tuit en die pypie aan die reling van die bed vas. Sy buig die drupstingel met die mondstuk tot bo my lippe. Sy stel die drupgaatjie. Sy sit die mondstuk in my mond.
Tien tellings tussen elke sluk, sê sy. Ready steady go!
Sy trek die klep oop. Die eerste druppel warm dikgemaakte vog sprei oor my tong. Rooibos.
Een sluk tee en een sluk asem en tel tot tien, sê Agaat, dink aan die mndrbevoorrgts.
’n Mond vol medeklinkers. Nooit mag ek vergeet wat ek geskryf het nie.
Ek probeer my bes. Die helfte loop by my ken af.
Sy hou my fyn dop terwyl sy alles regkry. Sy druk die borslap dieper onder my ken in. Sy vee my ken af. Ek kry die ritme beet. Ek is dors. Ek tel tien. Ek sluk. Ek tel tien tiene en kry tien slukke in, ’n kwartmond vol op ’n keer. Hierdie beker.
Agaat maak die plastiekkom vol warm water uit die ketel wat sy saamgebring het uit die kombuis. Sy kry die handdoeke, die waslappe, die seep en die sponse, alles netjies op ’n ry op die groot hospitaaltrollie wat Leroux hier aangebring het.
Ek drink nog drie tiene.
Lekker drink sy vanmôre, sê Agaat. Het jy al gepie, Ounooi?
Ek sein, nee, jy kan mos sien die doek is droog. Sy kyk nie.
Ek vrá, het jy al gepié?
Nou kyk sy. Ek sein weer nee, ek het nog nie en moenie so brutaal wees so vroeg in die oggend nie.
Nou toe pie, Ounooi, ek het nie heeldag tyd nie.
Moenie vir my kyk nie, beduie ek, kyk anderpad.
Agaat maak fluitgeluidjies tussen haar tande om my aan te moedig.
Dit wil nie kom nie.
Ek hoor niks, sê sy. Sy sit haar hand agter haar oor.
Sit die kraantjie vas vanoggend, hmmm? Wel, miskien kan jy nie drink en pie gelyk nie. Kom ons draai die boonste kraan toe, dan gaan die onderste een miskien oop.
Sy hou haar gesig reguit. Sy draai die teedrup toe en haal die tuit uit my mond. Haar rubbersole suig hard aan die vloer, dit klink asof daar ekstra wringkrag, ekstra gewig in haar tred is. Ek ken dit. Dis wat sy doen as ek nie kan nie. Dis wat sy doen as sy agterkom sy kan my nie máák nie. Sy draai haar rug op my. Ek weet wat sy gaan doen. Sy spoel die water in die waskom rond. Sy draai die lap uit dat hy drup in die water. Nog niks. Ek weet sy luister. Haar ore is agtertoe. Sy vat ’n glas, sy gooi die water, oor en oor, van ’n hoogte af.
Ek probeer aan iets anders dink. My blaas is vol. Ek wil. Ek wou nie in die doek nie, dan is daar weer allerhande kommentaar. En ek wil nie ekstra probleme maak nie, ek wil nie haar aandag aflei nie.
Pie en teedrink is nie die probleem nie. Agaat is die probleem. Sy hou haar dom. Dis nou al vyf dae dat ek beduie daar is iets, daar voor, in die sideboard, in die voorhuis, by die fotoalbums.
Sy hou nie van die idee dat ek afskeid wil neem nie. Miskien kan ek twee vlieë met een klap kry. Miskien werk telepatie beter deur pis in die pan as met golfies gesein deur die lug tot deur die klipsteenharde kopbeen van Agaat.
Strome van seën, sing Agaat, dit het die liefde beloof, heerlike bron van verkwikking, vloei uit ons Heiland en Hoof.
Ek dink aan die waterkaart. Ek dink aan die ondergrondse waterkamers in die berg, aan die are wat uit hulle vertak, aan die oë in die klowe, aan die fonteine van Grootmoedersdrift, die watervalle in die klowe. Ek dink aan die drif as hy in vloed is, die skuimende watermassa, die drif in die reën, as die druppels silwer ringetjies op die donker water val. En as dit net opgeklaar het, as die swart watteltakke swaar en druipend oor die sloot hang en die paddas opklink uit die kletsnat grasruigtes op die wal. Herinneringe in my en ek ’n spoeling tussen hemel en aarde. Wat is vas en waar? Wat werklik? As ek net weer die plekke gemerk kan sien op die kaart, die rooi hakies wat hekke, motorhekke, sluise aangee, die rooi is-gelyk-aan-teken van die brug oor die drif, eerste en laaste poort waaroor die lewende hawe van Grootmoedersdrift beweeg en sal aanhou beweeg as ek weg is. Skape, beeste, motors, vragmotors, draadkarre, water, modder en tyd. Glippende, soepel, skelm, silwerige tyd.
Kaarte gelei leeftye. Wat is ’n eeu daarsonder? Ek sien dit, sale vol ledige melankoliese kartograwe in die tydlose hiernamaals. Heuwels sal daar tog moet wees in die hemel, maar ewiges, Ewige Rûens, en Ewige Mooiweer. Ledige melankoliese metereoloë. Wat is ’n regte mens? ’n Afloop. ’n Geut van minute vir God die Spoeler. Hy wat met mense flodder.
Miskien het ek aangesteek by Agaat. Sy laster lankal.
Dit kom. Hier kom dit, deur my heilige pissfinkter, eerste afslaan van die dag.
Soet kind, sê Agaat. Jy wil nie dalk die nommer tweepan ook hê nie, siende dat jy nou aan die gang is? Les ses, onthou? Mens wil nie mis en pis oor alles hê as jy dit kan help nie.
Doodreg, knipper ek, maar ek is nie ’n slagding nie.
Sy knipper terug.
Anders sal ons jou maar weer ’n Pink Lady moet injaag, sê sy, ’n Pink Lady vir die lady van Gdrift, dis vyf dae nou dat haar derms vassit. Miskien is dit wat haar so onrustig maak. Wat ingaan moet mos darem uitkom, allawêreld!
Haal die pan weg, beduie ek.
Nee, drup jy nou maar eers lekker droog. Dan kry ons jou eers bo reg.
Dis ’n kwartlyf se was vanoggend. Halwe was is al om die twee dae en volle was is elke vierde dag. Vyfde dag is kwartwas. A lick and a promise, noem Agaat die kwartwas.
Sy vee my nek en gesig met ’n lou lap af. Dan my hals. Sy werk die lap in onder my hospitaaljurk, oor my skouers. Sy borsel my hare met ’n droë sjampoe. Sy stut my kop met die klein handjie, dat hy nie knak of rol nie. Sy smeer room op my gesig en salf in my mondhoeke. Nou die nekstut. Grrrts, garrrts, trek sy die velcro los en vas tot hy reg sit. Hy raak al wyer. My nek voel los.
Sy bring die handspieël nader. Ek maak my oë toe. Vat weg jou spieël. Ons kyk lankal nie meer in die spieël nie. Ek ken die bui. Sy wil my treiter. Sy is kapabel en grawe weer die lipstif en maskara êrens uit.
Spieëltjie, spieëltjie, aan die wand, sê Agaat, wie is die mooiste in die land?
Ek hou my oë toe. My gesig word warm soos ek haar trotseer. Ek weier om te kyk, ek wag tot sy wegbeweeg. Ek hoor hoe sy water bygooi in die waskom. Sy trek die pan onder my uit. Ek hoor hoe sy wegloop daarmee. Ek loer uit die hoek van my oog wat sy doen. Sy sit haar bril op, bestudeer die inhoud voor die venster. Sy sit dit neer op die bokkiestafel, gooi ’n lap oor. Sy skryf op die kalender met die potlood wat daar hang aan ’n toutjie, Leroux se urinerekord wat hy elke keer as hy my besoek, wil sien. My logboek. Die bewegings van my ingang en my uitgang. Vandag kyk Agaat oor en oor in die pan asof dit ’n boodskap moet bevat. Sy haal haar vergrootglas uit die spieëltafel se laai. Sy kyk daardeur en sy skryf en sy kyk weer. Wiggelaar van my elemente, wie sal haar verhoed om my pis te interpreteer? Miskien is daar paddavissies in.
Heeltemal bevredigend onder die omstandighede, sê Agaat, ’n ligte ou wolkerigheidjie, maar niks om oor te kommer nie.
Sy blaai die kalender terug, tik een keer met die potlood daarop voor sy dit terugsit in die gaatjie van November. Sy sit die vergrootglas terug in die laai. Tieng, gaan die spieëlkas se klinkerhandvatseltjie soos sy die laai toestamp met haar bobeen. Sy weet ek loer vir haar.
Sy gooi die dekens van my af. Sy wring die waslap uit, gee my een vinnige vee tussen die bene met die lap. Dit is te warm. Sy weet goed dit is te warm.
Ek hou my oë toe.
Pie soos ’n merrieperd, sê Agaat, niks verkeerd met die pié nie.
Ek wag dat sy die dekens weer oor my gooi, ek kry koud.
Sy wag dat ek moet byt.
Mooi liggeel. Helder behalwe vir die ou sleepseltjie. En glad nie te skerp op die neus nie, sê sy, so te sê perfekte pie.
Wat kan ek daarop antwoord? Watter akrobatiek van ooglede om aan te gee: Jou sarkasme is gemors op my. As ek kon doodgaan om jou te verlos, sou ek dit doen, vandag nog. Gaan soek iemand anders om perfek vir jou te pie op jou bevel. Dis jy wat perfek wil wees. Jy wil hê ék moet perfek wees. Niks mag ons ontbreek nie. As jy kan klaarkom sonder, moet ek kan klaarkom sonder, dis wat jy dink.
’n Volmaakte verpleegster. ’n Volmaakte pasiënt.
Soos ek jou geleer het.
Volgens die boek.
Wat meer kan enigiemand verwag? dink jy. En wat jou dwars in die krop steek, is my surplus behoeftigheid, en dat jy nie meer weet wie ek is nie, en dat jy nie verstaan ek het verander nie, dat ek nog elke dag dat ek hier lê, verander. En dat ek iets spesifieks van jou verlang.
Ek maak my oë oop. Sy staan langs my bed met haar een hand toegevou in die ander.
Dis alles reg, Agaat, sein ek, moet jou nie so opwen oor niks nie, ek is so tevrede soos ’n slakkie in kropslaai.
Maar dis te maklik. Sy soek nie ’n maklike oorwinning nie. Sy wil my kwaad sien. Sy wil opstand sien. Sy wil sien hoe opstand lyk in die rug van ’n verlamde. In my bors voel ek ’n sug. Ek het te min asem om te sug. Daar kom ’n kreun uit my. Ek voel trane. Ek hou hulle terug, maar dis te laat, sy het my klaar betrap.
Tyd vir jou oefeninge, sê sy, die ken ver vooruit. Niks soos beweging om die gemoed te lig nie, sê sy, en die ou derms van jou aan die gang te kry nie.
Jou gat, sein ek.
Pluk die dag, sê Agaat. Sy trek die gordyne oop, die lig stroom die kamer binne.
Die beddekens word heeltemal van die bed afgetrek, uitgeruk uit die voetenent, die matras skud onder my, my bedsokkies word afgetrek van my voete.
Nee, beduie ek, asseblief nie nou nie, ek is moeg. Ek sluit my oë weer, stadig. Laaste verweer, speel dood, speel oorsomering. Wilde ertjie.
Wat wou móég! Dokter se orders is dokter se orders! sê Agaat.
Kont.
Haai! sê Agaat, moenie so lelik praat nie! Kóm nou, hándjies klap.
Sy buig oor my en tel my arms aan die polse op en bring my hande in ’n langsame applousbeweging.
Een, twee, drie, een, twee, drie, ons groet, ons groet die grote son!
Mooi diep asemhaal, sê sy.
Sy bring my polse tot langs my sye, laat hulle skielik die laaste entjie val.
Oeps, sê sy.
Sy is aan die voetenent. Vinnig. Dit is nog net opwarming. Sy druk haar vuiste teen die onderkante van my voete in ’n kniebeweging, ’n mimiek van pedale onder my sole. Die een pedaal is swakker as die ander een.
Vóétjies trap, sê sy.
Hou op, hou op, hou op!
Enige klagtes sover, mevrou DeWet? Sy kyk nie op van my voete nie.
Sy beweeg vinnig om na die kant van die bed, kyk my vol aan. Haar stem ’n nabootsing van sagte oorreding.
Jy word seer, jy word styf, jou bloed loop nie lekker nie, jy word koud, jou voete word blou, kyk hoe blou is hulle klaar, jy raak hardlywig, jou algemene kondisie gaan agteruit as jy nie toelaat dat ek jou oefen nie.
Tóélaat, sê ek met my oë, tóélaat!
Sy pak my een arm by die pols, hou die elmboog reguit met die klein handjie. Wye sirkelbewegings maak sy, eers die een kant om en dan die ander kant om.
Windpomp in die suidoos, sê sy, windpomp in die noordwes. Iksjee, iksjee, iksjee. Water in die dam, modder in die sloot, trap op haar kop, dan is sy dood.
My arm met sy stywe klou aan die punt swaai deur die lug. Agaat se asem kom vinniger, haar oë blink.
Nou knák, sê sy. Sy werk die elmbooggewrig.
Knákkerteknák, sê sy. Búig die boompie, knák die riet.
My ander arm is ’n vuurtoringlig. Hy swaai oor woeste bare. Agaat blaas op die horing. Twee basnote.
Wat sê jy, missus? Nou speel ons lekker, nè? Nou werk ons hierdie ou lyf van jou se sake.
Skipskop toe, Skipskop toe, sing sy, kyk hoe hol die bokkie na die water toe.
Agaat se kleur is hoog. Haar asem jaag. Ek vang haar oog.
Agaat, jy maak my seer!
Moet nét nie pieperig wees nie, sê sy.
Stádig, flikker ek, stádig met wat oor is van my.
Sjaddap, nou die bene, sê Agaat, maar daar kom niks klank uit haar nie, net haar lippe roer.
Met dapper en stapper, sê sy hardop, sy maak met my bene ’n hoek van neëntig grade bo my romp. Sy buig my hangvoete op en af.
Haar voete gaat na Wellington, sing sy, maar sy gaat Worcester toe.
Agaat plant hoekpale. Sy sit hulle in gate. Sy slaan hulle in met ’n tienpondhamer. Sy anker hulle met buiteankers, sy verf hulle silwer, sy hang die hangpaaltjies. Ek ruik teer. Sy sit die trekstang op. Sy wen die draad styf tot hy sing. My enkels, my tone.
Kolonieslag! sê sy soos sy hulle kurktrekker in haar hande.
En nou, sê sy, nou vir die uitstyg bo hierdie aardse tranedal. Voed ook onse siele so met die brood van die lewe, Heer!
Sy maak my bymekaar, die klein armpie onder die waai van my bene, die sterk arm onder my arms deur.
Deeg, deeg, sê sy, rys ’n slag. Hup! sê sy en lig my, lig my amper op, los van die bed.
Goed geknie, lank gewag, sê sy, hup nog ’n keer.
Skud uit die rosyntjies, sê sy, skud hulle uit, got-hup helpjou!
Ek bons effens op die bed soos sy my los.
Sy staan terug. Arms in die sye. Haar bors gaan op en af.
Ál hoe ligter, sê sy.
Sy steek haar klein handjie na my toe uit. Met haar sterk hand maak sy die verpotte pinkie los uit die bondel vingers van haar kreupel hand. Sy hou die pinkie apart tussen duim en voorvinger, in die lug, voor my neus.
Straks, sê sy, straks lig ek jou met my pinkie.
*
Die eerste sewe jaar op Grootmoedersdrift. Elke dag van die maand het jy jou opnuut ingestel. Ysterpille gedrink en radyse geëet. Gebid en jou bene oopgespalk vir Jak.
Bedags het jy jou besimpeld gewerk op die plaas. Tenniselmboog van kuilvoer sny, gewrigsontsteking van help melk, krampe in jou kuite van dae lank die kontoere afloop met die landmeter op die steil hellings.
Ure lank moes jy in die bad lê saans met die mosterd-ekstrakte wat jy van Ma gekry het.
Hoekom sloof jy jou so af? het Jak gevra, jy is nie ’n donnerse slaaf nie!
Hy was woedend as jy siek geword het. Jy het dit gevoel aan sy lyf wat hy in jou ingestamp het.
Moderne hulpmiddels is die antwoord, Milla, het hy gesê, dis nie meer die Middeleeue nie. Wat karring jy met lusern en lupiene en kompos as daar kunsmis is?
Dit gaan oor samehange, Jak, het jy probeer walgooi, ’n spel wat mens moet speel. Met die natuur. Dis subtiel. Die natuur is subtiel en verwikkeld. Alles is belangrik. Tot die kleinste insek toe, selfs die vermolmde boom, die onderste klip in die drif.
Die onderste klip in die drif. Dit het jou laat huil.
Jy is een om te praat! het Jak geskel. Subtiel! Ba! Natuur! En jy kan nie swanger raak nie!
Ek sal gaan vir toetse, het jy gesnuif, vir behandeling, daar is moderne hulpmiddels. Vir mans ook.
Was dit toe dat Jak met sy vreemde teorieë oor jou begin het?
Oor my dooie liggaam, het hy gesê, daar is niks met my verkeerd nie. En met jou ook nie. Dis in jou kóp wat die moeilikheid is. Dis oor jy jouself so afrem, het hy gesê, hou net op gréns, dan sal dit regkom, dis oor jy so klá oor alles, oor jy met ’n lang gesig hier op die plaas rondfladder. Waar is die liewe sagte Milla wat ek getrou het? Kyk hoe lyk jy, skoon bleek, of jy aan bloedarmoede ly.
Hy het gedink jy sit aan as jy gesê het jy is moeg. Aspris vir Beatrice en Thys genooi saans sodat jy moes gaan aantrek en jou grimeer.
Kyk net hoeveel lewe is daar nog in haar na ’n dag se geswoeg, het hy voor hulle gesê, ’n regte kanniedood, my ou Kamillatjie.
En dan het hy geknipoog vir jou, en dit nog verder ingevryf.
Netnou nog het sy opgevou aan ’n takkie gehang soos ’n vlermuis, doodmoeg, nou kwetter sy soos ’n vink. Wys julle wat goeie vriende vir ’n mens beteken hier in die Overberg.
Jy het gesien hoe kyk Beatrice van hom na jou en weer terug. Ek is hier as jy my nodig het, het sy ’n paar keer al vir jou gefluister, maar jy het haar weerstaan. Sy was meer nuuskierig as iets anders. En gulsig. Na mag, na status. Altyd haar man se posisie in die gemeenskap met Jak s’n vergelyk. En die geskinder oor wie die voorsitter van dit en die penningmeester van dat wil wees, was of gaan word. Moddergooiery. Jaloesie. Die afstigting van Swellendam se NP-lede van die Bredasdorptak was die nuutste, en hoe sy by Van Eeden, die nuwe voorsitter se vrou, gaan tee drink het. Jy in jou eie terme was nie ’n item nie. Bar. Gusooi. Jy het gevoel almal is teen jou. Jak het soos jou ma begin klink as hy jou tempteer. En die skinderbekke het gesit en wag vir nuus van Grootmoedersdrift, vir redes, vir skandaal.
Ma was besorgd aan die een kant, maar ook krities oor jou kinderlose toestand. Jy kon dit hoor aan haar stem op die telefoon, soms smalend, het jy gedink. Tog het jy haar elke aand gebel. Met wie anders kon jy daaroor praat? Sy het boererate aanbeveel. Soos op jou kop staan na die tyd, soos aftreksel van brandnetel drink.
Jy kon party aande nie ophou huil as jy die telefoon neergesit het nie. Dit het Jak verskriklik ontstig.
Daardie ma van jou, het hy gesê, ’n violent tea cosy as daar ooit een was, cosy bolangs en onderlangs slaan sy haar kloue in jou in.
Dan het jy éérs gehuil. Jak was reg. Dit was nie oor wat jy kon regkry of nie kon regkry nie. Dit was jyself, iets in jou wat haar gegrief het. Jou karakter.
Ek is wie ek is, hoe kan ek dit help? het jy gehuil.
Jak het deure geklap en die huis uitgestorm en weggery as jy so was.
Moet my nie alleen los nie, het jy gepleit.
Jy het alles probeer dat hy nie weggaan nie. Op sy gevoel gespeel, hom gevlei, teen hom aangenestel.
Uit uit my uit! het hy jou weggedruk, gaan blaas in vadersnaam jou neus!
Maar jy het geweet as hy woes genoeg raak met jou, kon jy hom by jou hou. Dan was hy ten minste betrokke. Jy het geleer om sy woede te gebruik, die energie daarvan. Dit was minder as niks.
’n Dwars klap, ’n hou op die rug.
Liefkosings op Grootmoedersdrift.
Jy kon nie ophou huil oor dit alles nie. Mag ek dan nooit swak voel nie? het jy gevra, maar daarvan het hy net nog kwater geraak.
Dit het vinnig gegaan. Twee, drie jaar. Jy het nooit meer sy hand oor jou lyf gelei om hom te leer hoe om aan jou te raak nie. Jy was op iets anders gerig. Jy het jou kop gebuig en hom afgesuig en sy semen in jou hand opgevang en jouself probeer insemineer.
Sy voorkeur in ieder geval. Ek wil nie jou gesig sien as jy so ellendig is nie, het hy gesê. Hy het dikwels nie eers agtergekom jy huil nie.
Jy het elke keer gebid dat jy sou vat, prentjies in jou kop gemaak van selle wat gelyktydig verskiet, ’n kometereën, ’n kataklisme, ’n versmelting.
Waarom kan die diere dit so maklik regkry? Is ek dan verkeerde natuur? Troos my dan, hou my tog net vas, het jy meermale gepleit.
Maar as hy nie ’n kussing oor sy kop getrek en sy rug op jou gedraai het nie, het hy sy kombers gevat en in die stoepkamer gaan slaap.
Naweke en vakansies was dit die ergste. En in die stil tye op die plaas tussen die seisoene. Want dan wou hy gaan bergklim en hardloop of roei, of sy boeke van Ian Fleming en Louis L’Amour lees, altyd so ver as moontlik van jou af. Jy moes dinge uitdink om hom op die plaas te hou. Verfwerk, ’n nuwe kuilvoertoring, grootskaalse werfopruimery, houtmakery, die groot komposprojek saam met die buurplase.
Jy het gesorg dat ander mense die werk kon kom besigtig op die mees dramatiese moment. As ’n projek pas afgehandel was, het jy partytjies gereël, middagetes vir die bure, landboudae met inligtingsessies vir die lede van die boereverenigings.
Dan het Jak gestraal onder al die aandag, behoorlik op sy stukke.
Laat ons die tuin herbeplan, het jy gesê, daar is niks wat ’n opstal so mooi laat lyk as ’n blomtuin nie. Het jy dan vergeet dat jy my dit belowe het, die paradys?
Moenie dink ek kan nie deur jou sien nie, het hy gesê, jy is meer geslepe as die slang. Dis ál stuk paradys wat daar ooit sal wees op hierdie plaas.
Jy het gedink, as ons dan nie minnaars kan wees nie, dan ten minste vriende. Vriende kan leer verskil, selfs oor die paradys. Maar hy wou altyd weg, uit, na mense toe.
Jy het jouself probeer troos met werk. As daar volop drukte was op die plaas, dinge wat dringend en presies gedoen moes word, was jy op jou gelukkigste. Jy het gehou van saam met mense in ’n span werk, volgens ’n vaste plan, met ’n voorspelbare uitkoms, met ’n vooruitsig op die lang termyn. Dis al hoe ’n boerdery kan werk, het jy by jou ma geleer.
Ons kan vir jou ’n Amerikaanse saalperd koop as die wolprys goed is, het jy vir Jak gesê, of ’n nuwe kar as ons die nuwe Jerseyverse verkoop het.
Teen beloning het hy jou goed gehelp by tye. Maar eenvoudig net iets vir hom vra, dit kon nie.
Hoekom moet ek altyd jou handjie vashou by alles wat jy gedoen wil hê? Jy’s mos die eintlike boer hier soos jy my wil laat verstaan.
Dit het lank gevat voor dit tot jou deurgedring het dat as jy dinge gedoen wou kry op die plaas, jy dit alles self alleen moes uitdink. En dat jy jou tot OuKarel en sy seun moes wend om saam met jou voor te vat en ’n begin te maak. Hulle het vir mekaar gekyk en OuKarel het woordeloos vir Dawid beduie: Doen soos jy gevra word. Daarvan het Jak nie gehou nie. As hy gesien het dat hulle jou help, het hy ewe kom hand bysit vir ’n rukkie. Hulle het gou agtergekom hoe dit werk, hom gedruk vir meer betaling.
Hulle het hulle deelboerdery verloor, was OuKarel se argument, hoe moes hy nou sy afhanklikes onderhou? Nie dat jy geweet het wie hy almal bedoel nie, hy was byna sy hele lewe lank ’n wewenaar, en Dawid was so te sien ’n alleenloper, maar soos wat Jak mettertyd ingegee het onder die druk en die Okkenels se vroeëre status tot die helfte herstel het deur hulle voormanne te maak op Grootmoedersdrift, het die afhanklikes hulleself kom aanmeld: OuKarel se kleinnewe en hulle vrouens en kinders wat nie almal kon leef van die skrynwerkersbesigheid wat sy broers op Suurbraak bedryf het nie. ’n Nimmereindigende aanloop was dit. Die huise was oorvol, maar Jak het verseg om aan te bou en hulle verbied om kaias op te rig.
Wil jy die hele bastergespuis met hulle kamma Skotse vanne en sendingstasiehoudings hier op jou voorstoep hê, Milla? Oor my dooie liggaam, het hy gesê, genoeg is genoeg.
Jy het probeer goedhou deur te sorg dat daar genoeg sakke meel en emmers melk hulle weg gevind het oor die drif na die werkershuisies toe. En jy het gesindhede probeer bou deur gereeld ’n stoel of ’n tafeltjie te gaan koop by die familiebesigheid op Suurbraak. Die vyf Okkenelbroers, almal soos OuKarel met die hoë voorkop en die groen oë en die skerp neus, het meewarig vir jou gekyk en goed geweet hoe om ’n prys te maak wat gepas het by jou skuldgevoel. Jy het met die jare besef dat dit ’n fout was om die deelboerdery af te skaf. Dit was hulle enigste bron van kapitaal vir die koop van goeie meubelhout en daar was genoeg koring nadat hulle die gewendes verkoop het om broodmeel aan die hele clan te verskaf.
Jak wou nie hoor van weer ’n deel instel nie. Hy het gedroom van ’n volledig gemeganiseerde boerdery waarby net een of twee pare hande sou nodig wees.
Daar was nooit ’n kontrak nie, het hy gesê, jou ma het die mense hier aangehou vir haar eie gerief, ons is onder geen verpligting nie. Hoe minder van hulle hoe beter.
Jy het jou geskaam vir die houding. Waar moes die mense heen? Dit was hulle land ook tog, hulle plek. En hulle moes ook werk en eet.
Hoekom het jy jou mond gehou, Milla? Waarvoor was jy bang? Waarom kon jy nooit dink dat daar ander moontlikhede was nie? En Jak, hoekom het jy sy barsheid en sy selfsugtigheid en sy ydelheid verdra? Jy het jou verwonder in die tyd aan die kortverhale wat jy in die tydskrifte gelees het. Die heldin wat met rooi wange uitroep: Nou is dit genoeg, nou verlaat ek jou! Anders sou daar ter plaatse ook nie een tydskrif verkoop word nie, het jy gedink. Maar jy het nie verder gedink nie.
Jy het nugter om jou probeer kyk na die ander vrouens se mans en jy kon nie eintlik sien dat jou posisie slegter was nie. Jak was nog altyd die aantreklikste en die mees intelligente onder hulle. Daar was nie een van die vrouens wat jy geken het, wat sogenaamd “vervuld” was nie. Jy kon dit op hulle gesigte sien. Maar hulle was onwrikbaar lojaal. Basie voor en Fanie agter en Thys het gewen klap hande. Veral dié in jou vriendekring. En tog was almal die hele tyd honger vir geselskap. Altyd iemand wat wou luister. Nie een vrou van wie jy geweet het wat nie eensaam geraak het op ’n rûensplaas nie. Nie dat die uitwisseling van gemeenplase jou aan die lewe kon hou nie.
Vir ’n paar maande op ’n keer kon jy ’n leeskring aan die gang hou, of ’n musiekbeluisteringskring, maar die vrouens het stilswyend in jou voorhuis gesit. Asof die musiek van Schubert en Brahms en Mahler hulle skaam gemaak het. Bach was aanvaarbaar. Het genoegsaam na kerk geklink. Jou boeke wat jy vir hulle geleen het, het hulle ongelees neergesit op die halfmaantafeltjie in die portaal en verder oor laslappies gepraat en gekla oor hulle meide wat seep steel.
Wat heeltemal misluk het, was die wandelklub vir amateurbotaniste wat jy op die been probeer bring het. Self het jy nie so baie geweet nie, maar jy het jou pa se boom- en fynbosboeke geërf en aan sy hand as kind die grondbeginsels geleer van plantidentifikasie. Maar nadat jy ’n paar keer die voetheuwels ingevaar het met die vroutjies, met hulle kuierskoene waarmee hulle aanmekaar gestruikel het, en hulle rokke wat aan alles gehaak het, en hulle angstige uitasem tronies waarop daar geen sorg te sien was behalwe wat hulle vir aandete vir hulle mans moes voorsit nie, het jy opgegee. Jy was nie soos hulle nie, het jy gedink, jy was vir ’n meer avontuurlike weg in die wieg gelê.
Maar die weg het jou ontglip die eerste sewe jaar op Grootmoedersdrift, en die eensaamheid het jou begin onderkry.
Jou ma was ’n laaste opsie as jy te alleen geraak het.
Vat my dan maar Barrydale toe, het jy gesê as Jak op openbare vakansiedae of vir lang naweke na die lamtyd of die saaityd wou weggaan op sy ekspedisies.
Nie dat jy so graag by haar wou wees nie, want haar kon jy nooit tevrede kry nie. Sy was nog erger na Pa se dood. Sy het strikke vir jou gespan om jou te toets, het jy gevoel. Die rusies was erger nog as by die huis met Jak. Teen jou ma het jy geen wapen gehad nie.
Dit was die somer van ’53. Ma het probleme gehad met haar volk op die plaas. Sy het jou laat voel jy moet dit oplos. Jy het die uitdaging aanvaar, wou haar ’n slag wys mens hoef nie ’n slagoffer van omstandighede te wees nie, hoef nie toe te laat dat ander mense slagoffers word nie.
Jy maak vir jou ’n bed op, is wat sy gesê het, toe sy hoor wat jy wou doen. Jy meng jou in met sake waarvan jy die einde nooit sal hoor nie.
Julle het in die spens gestaan, 16 Desember 1953, jy wou kos vat na die strooise. Jy het met ’n gaar boud vleis in jou hande gestaan wat jy wou inpak om vir die mense te vat.
Wat doen jy nóú in vadersnaam? het sy uitgevaar. Wil jy hulle omkoop? Wat gaan dit jou baat? En dan sit ék met die gebakte pere as jy weg is.
Dit was die laaste strooi. Jy het begin skree op haar.
Wat sal dan ooit reg en goed wees vir jou, Ma? Ek dog jy wil hê ek moet jou help, ek dog ek moet jou volk hier help, namens jou? Wat wil jy hê moet ek dan doen? Ek wil jou die beste gee wat ek het, my geloof, my vindingrykheid, my liefde, my moed, die beste jare van my lewe en jy is nog nie tevrede nie? Hoekom kan ek nooit goed genoeg wees vir jou nie?
Jy was so buite jouself, jy kon jou tande in die vleis slaan en dit uitmekaar skeur, maar jy het dit net opgelig in jou hande. Hier is my liggaam, dis wat jy gedink het. Jy het dit laat val voor haar voete. Sy het haar arms gevou en vir die vleis op die grond gekyk.
Of wil jy my uitmekaar haal en herskape oor en oor na jou eie beeld totdat ek na jou sin sal wees, op ’n druppel water? Sal ek dán reg wees?
Jy mors met kos, het sy gesê.
Sy het haar rug op jou gedraai. Jy was buite jou sinne. Jy het ’n tree agterna gegee.
Toe kom dit by jou op. Jy het dit begin sê. Jy kon nie stop nie. Sy het omgedraai toe sy die nuwe toon hoor. Jy het sag gepraat, in haar gesig.
Of is jou moeilikheid dat jy nie wéét hoe presies jy my wil hê nie, Ma? Is dit jou eintlike probleem? Omdat daar geen beeld is waarop jy my kán skoei nie? Omdat daar net ’n gat is daar waar jy is, ’n swyende gat in die grond? Wel, ek is iéts, Ma, het jy gesis, ek is nie niks nie, ek is iémand en ek weet wat ek wil hê in die lewe en ek wéét wat om te doen om dit te kry. Ek sal voorsiening maak vir myself.
Dit was die enigste keer dat jy haar ooit in jou lewe bang gesien het. Haar pupille het groot geword en haar mond het oopgegaan, maar sy het niks gesê nie. Jy het verby haar gedruk. Dit was sy wat alleen in die spens agtergebly het.
Dit was die eerste en die enigste keer. Daarna was sy anders met jou tot aan haar dood.
Ek trek my hande van jou af, het sy later daardie aand in jou kamerdeur vir jou kom sê. Net dit, en haar slaapkamerdeur toegemaak.
Jy was alleen met die plan wat jou lewe sou verander.
Die hele storie van hoe alles begin het, het niemand behalwe jy en Ma geweet nie. Jy het dit self nie eers goed verstaan nie. Jy wou dit jou hele lewe lank nog altyd opskryf, net vir jouself, om helderheid te probeer kry daaroor. Maar jy het nooit sover gekom nie. Dit was ’n oorgeslaande hoofstuk. Jy kon jouself nie daartoe bring nie.
*
drumpel randsteen trap oordink hulle hierdie barrikades draal talm halt kamoefleer die tred die struikelgang snags van venster na bed die voet wat haper aan die fraiings van matte die oneffenheid in die tuinpad hoe het dit begin? was dit al die kom en die gaan van my jare dwarsoor die klippie in die skoen dwarsoor die hakskeenvrat ongeag die toonnael wat ingroei en bloei was dit die warm sand? daardie hardloop met een sandaal? daardie agternaduik en vang aan die nek van die asvoethaas? was dit waar die kiem gekom het in my hiel die boei om my enkel die swart pondgewig wat swaai aan die brug van my voet? hangvoet sleepvoet slaapvoet buite loop ’n skaap
*
12 Julie 1960 8-uur (na aandete)
Wat ’n dag! Half onrustig. Dis al of ek iets vergéét maar wat? Het nou net gaan loer of die buitekamer se lig al af is maar dit brand nog. J. sê dis die eerste keer dat hy hoor van ’n meidekamer met elektrisiteit is dit nou my interpretasie van die Lig wat ons aan die Suidpunt van Afrika moet laat skyn. Het my voet eenvoudig neergesit. Sy moet kan sien om te lees & te borduur hoe anders moet sy hrself daar agter besighou saans? J. kyk my aan of ek van lotjie getik is.
Die deur staan nog altyd oop op ’n skrefie soos ek dit agter my gelos het sy drink seker hr tee dis ook seker maar nuut vir hr alles miskien was sy hr klere. Weet nie hoe sy die bloed uit die wit truitjie gaan kry nie.
Het eerlik gedink dit sal goed wees as sy hrself pootuit werk voordat sy hr kamer betrek. Het die bruin koffer met hr goed in vnggnd solank op die dwarsskot onder die tafel in hr kamer gaan sit. Eers in die verleiding om hr te verras en alles vir hr uit te pak soos tafeltjie dek jou maar het my bedink. Sy moet selfstandig wees. Mens moet in elk geval self nes skrop in ’n nuwe plek miskien sien sy nou self hr ou goed pas nie by hr nuwe goed nie & miskien pak sy dit glad nie uit nie & vergeet daarvan dit sal die beste wees.
En ek moet ook vergeet. Anders sal ek mal word. Of siek. Kan dit nie nou bekostig met die kind in my nie.
Het gister al ’n hele lys take uitgewerk wat ons moet afhandel vandag dat sy kan besig bly mens moenie te veel tyd hê om te dink op so ’n dag nie. Eers roetinewerkies om hr mee op te warm stoep vee skottelgoed was wasgoed was & stryk & opvou & wegpak dan skaapslag.
Ek reken ek sal met die kind nie tyd hê om persoonlik toesig te hou nie A. moet die slaghand word op Gdrift. Het laat weet strooise toe gisteraand Dawid moet hr touwys maak & ek sal bystaan dat hy vir hom kan reghou. Tienuur vnggnd staan hy in die kombuisdeur nee die slagding is klaar uitgesoek wil ek hom eers sien vra hy nee sê ek maak die skaap vas in die koelte & gee water want ek wou nie te ver van A. af gaan nie sy was nog besig met hemde & lakens stryk in die spaarkamer & ek moes hr wys hoe jy die kraag glad sonder kreukels kry & hoe jy die laken vou.
Alles het redelik glad verloop met die slagtery behalwe ekself wat daar by die slaggeut onwel geword het. D. & twee handlangers het die skapie nadergebring dik hameltjie, half lammer nog uit die kampie hansgoed wat ons moes uitdun. Vat hom aan sy oor sê ek vir A. moenie beskimmeld wees nie daar vat A. die oor met hr klein handjie & die hameltjie kyk vir hr vat met jou sterk hand sê ek hy sal losruk daar trap die hameltjie woes agteruit ek gee vir A. die mes in hr goeie hand & ek sê hou vas hr hand wys die slag sê ek daar’s D. skoon giggelrig van so naby aan die meisiekind se lyf wees & hr verkeerde hand vashou daar ruk die hameltjie met die kop saam & blêr & trap agtertoe & tjorts ’n groen blerts oor D. se skoene & teen A. se rok & oor hr been die volk lê soos hulle lag & toe’s die hele werf se kleingoed daar sie-a skree D. nee hy weet nie so mooi of dit gaan werk nie nooi A. is te klein nog vir skaapslag. Hy moet sy mond hou & sy moet alles leer sê ek sy is slim.
Eerste les van skaapslag leer ek vir haar mooi die slagding moet 3 dae lank niks vreet nie sodat die derm mooi skoon kan kom & die laaste dag gee jy semels dit absorbeer alles wat nog in die pens kan wees & dit spoel maklik uit maar nou met al die gepratery was die skapie skoon woes maak lê druk vas sê ek. Daar sê D. meestal loop ek so ’n skapie van agter af by in die kamp voor hy weet wat met hom gebeur is sy keel af wyl hy nog staan & verjaar in die lusernblommetjies dan as jy hom eet is sy vleisies soet want hy was nooit bang nie.
Dis die tweede les leer ek hr: Skape wat dit benoud het voor hulle geslag word se vleis is bitter hulle skei iets af uit die bynier v.d. angs so moet nooit draal met die doodmaak nie toe trek hulle die skaap oor op sy sy & hou sy nek oor die rand v.d. sementgeut & die hameltjie spartel toe nou allerverskrikliks so kan dit nie aangaan nie dag ek nou tel ons drie sê ek vir A. dié se oge stokstyf in hulle kasse staan nader sê D. almal wat die Here liefhet staan nou nader sing die kombuismeide buk sê D. vir A. hy druk hr hand vas in syne vinnig trek hulle die lem oor die hameltjie se keel daar spuit die bloed. A. staan terug & die mes val uit hr hand & rol af op die skuinste v.d. slagbodem a nee a sê ek mens gooi nie jou mes so weg nie klim daar in haal hom uit die volk lag hulle dood daar’s hy Asgat kyk net so ’n plaasmeid skree hulle. Bly stil sê ek die honde lek die bloed van A. se skoene sy staan doodstil D. gaan tel haar mes op & druk dit in haar hand. Saar kom met die wit enemmelkom die volk jil vang die bloed vang die bloed die wol is wit & die vleis is soet skei uit raas ek dis hr eerste slagbeurt & die hameltjie se oë dop om & die bolip sak terug & die riffels op die neus stryk uit & die ore gaan lê plat wys ek die tekens vir A. daar trek die hamel se lyf op ’n knop & hy gee ’n allemintige skop teen hr skene ruk al die hande los nog ’n blerts mis oor die voete.
Let op les 3: Mens los nie die pote te vinnig nie dis ’n stuipskop dis ’n dodekramp & die dier is halfvrek maar dit maak die seerste.
Daar sien ek Jak staan hand in die sy & betrag die saak. Nou dit lyk vir my mos nou na besigheid Milla sê hy: Slagter bakster skinkster dan maak jy hr jou hoofmeid oor honderd. Pleks dat hy hom bepaal by sy eie sake dis tog alles op sy aandrang.
Nou eers weer gaan loer of die buitekamer se lig al af is hoop tog alles werk reg uit met hr daar agter ek voel die hele tyd of ek iets vergeet het.
10-uur
Alles stil vensters styf toe daar agter slaap seker ek kry nie die slagtery uit my kop nie dis tog net gewone skaapslag. Hoekom wil ek dit alles opskryf? Het ek iets nagelaat? Alles tog mooi vir haar geleer, stap vir stap. Nie maklik nie maar almal moet maar die eerste keer daardeur.
Les 4: Mooi leegbloei anders is die vleis sponserig.
Les 5: Higiëne. Sorg vir ’n lap & water mens kan nie slag as mens toe is onder die skaapmis nie kyk hoe pak die vlieë. Buk daar met my dik lyf & al & ek was die skaapmis van hr bene & skoene af & daar gaan hr knieë aan’t rukke stuipe stuipe skree die klonkies bly stil sê ek dis die laaste keer of julle kry niks long nie.
Ek vat hr hand met die mes & ek buk agter hr & ek begin oopsny vanaf die gat in die keel. Kon nie lekker deur die borsbeen kom nie nou jy & D. alleen verder sê ek vir A. & ek druk die mes in hr hand sing sê ek vir D. dat sy kan krag vat sikketir sikketir sikketir sikketreis sing D. die skapie kom blok toe met sy wol en sy vleis sing saam A. sê ek dat jy kan lewe kry maar hr mond is ’n streep & daar kry sy skielik lewe & sy kyk vir my ’n reguit kyk & sy vat die mes.
Nie te diep insny nie sê ek hier is les 6: Ons wil nie mis & pis oor alles hê nie & sy sny vlak & vinnig op die penslyn langs dat ek my skoon verbaas.
Toe vat D. hr twee hande in syne & sy trek die binnegoed los daar val die dermklomp uit toe word ek naar & gaan in huis toe maar ek kots & kry klaar want toe’s ons in die middel ek kon nie vir A. alleen daar los nie toe sorteer hulle die binnegoed dat sy kan sien die vuiles & die skones die peester & die blaas & die maag & die gal & die kleinderms & die grootderm eenkant & hartlongenierelewer apart.
A. se regtermou teen daardie tyd vol bloed of sy seergekry het & ek die hele tyd naar op my maag & geïrriteerd met die omstand & die toeskouers.
Les 7: Die een plek waar mens gou kan agterkom of ’n skaap gesond is is die binnegoed. Kyk vir wurms in die derm & parasiete in die longe hulle moet mooi sponsig & rooi wees & die lewer sag & donker & die hart die regte grootte soos die vuis van jou goeie hand. Klein hardverpit of waterig opgesit beteken daar’s fout met die hart bes moontlik met die hele skaap die hart is die bloed se windpomp leer ek hr as hy nie gooi nie verdor die dier.
Het A. aan alles laat voel & alles laat identifiseer. Kon net naderhand nie die bloedmou wat aanmekaar deur alles sleep meer vat nie óf jy trek daardie trui uit sê ek óf ons stroop daardie mou op maar A. klem die bloedmou met haar duim vas. Dawid hang die skaap onder die bloekoms aan bloudraadhake aan die hakskene toe kan A. nie bykom nie. Hy bring ’n appelkis nee sê ek dis nie stewig nie knip langer hake daar sing die meide: Oi oi oi die mou v.d. aap verhoog die meid of laat sak die skaap.
Hou julle bekke sê ek maar hulle dans met die boude in die lug al om A. haar lip die bewe & ek sê dis net kombuismeide moet jou nie aan hulle steur nie hulle kry net kop & derms & vanaand kry jy tjops.
Daar hang die skaap sny af die kop sê ek dit drup op haar voete. Daar sien ek D. sny eers die oor af & druk dit in A. se roksak sonder kepe nog nie gemerk vir slag soos ons maak met die hansgoed nie. Sien hy sê iets vir A. wat ek nie kan hoor nie & ek wil nie voor almal vra nie (moet keer vir intieme kontak tussen A. & die mansvolk).
Toe wys D. vir A. hoe sy die vel moet losmaak & die vleis wegdruk van die vlies & ek hou vas & eers gaan dit moeilik dan te diep dan te vlak sny sy. Ek sê vat jou vuis knie die vleis los van die vel terwyl jy die lem voer & eers toe gaan dit bietjie beter die regtervuis in die wit gehekelde truitjie ’n bloedknoets lyk of dit geamputeer is maar sy’t mooi uitgehou al het dit drie keer langer gevat as normaal maar toe ken sy al die snitstukke ook van die nek tot die lende & die lies & waarvoor mens dit die beste kan gebruik, vir braai, vir bak in die oond of vir stowe.
Goedso my meidjie nou ken jy jou vleis. Volgende keer slag ons bees jy sal nog ’n voorslagter word hier op Gdrift sê ek ons sal net vir daardie armpie van jou ’n plan moet uitdink ’n slagtersmou.