Читать книгу Agaat - Marlene van Niekerk - Страница 6

1

Оглавление

Om die kommunikasie op gang te kry is my einde. So was dit van meet af aan met haar.

Ek moes vanoggend aanmekaar na die swart boks kyk waar dit al elf maande lank lê. Uiteindelik kon ek haar oog vang, en beduie met my blik, dáár, waar die blink swart vernis van die boks sigbaar was, ónder die hoop leesstof. Ónder die groeiende stapel blou notaboekies, ónder die Saries, ónder die Fair Lady’s, ónder die Landbouweekblaaie op die spieëltafel voor die stoepdeur, dáár!

Eers het sy gedink ek wil hê sy moet voorlees. Sy het gegrinnik. Dit was nie voorleestyd nie. Dit was nog voor ontbyt, voor agt, net nadat sy die staanhorlosie opgewen het in die voorhuis, net nadat ek die tsjiek-geluid van die sideboard se deurtjie gehoor het en sy hier ingekom het met haar boekie.

Sy het klaar die stuk gemerk gehad wat sy vanaand wil lees, die oor van die bladsy nadruklik omgevou.

Die blou boekies op die stapel lyk almal dikker as wat hulle is van die omgevoude ore. Partykeer sê sy ek moet raai watter stuk dit gaan wees. Dan sê sy sý sou nooit kon geraai het wat sy alles daar sou lees nie. Maar partykeer maak sy die boekie toe op haar skoot en dra voor wat daar geskryf staan, lang stukke. Asof dit versies is, of ’n les. Dan vra sy my of dit goed was so, of ek kan onthou wanneer dit was.

Asof ek kan antwoord.

Sy kyk altyd of sy iets uitgelaat het, merk dit met haar rooi pen.

Hoe lank gelede sou sy dit uit haar kop begin leer het? Of maak sy dit plek-plek op?

Asof ek presies kan onthou wat ek alles daar opgeskryf het. Dertig, ses en dertig jaar gelede!

Sy het my inskripsie voorin die eerste boekie uitgeskeur en dit op die leesstaander voor my neus vasgesit. In opdrag van die Almagtige God staan daar, langs die ander teks wat sy my voor oë wil hou. Die tabel van my siekte. Die simptome-, medisyne- en terapietabel.

Sy haal dit nooit daar af nie, die twee velle.

Asof die een vir my ’n durende herinnering moet wees aan dit waaraan ek ly.

Asof die ander ’n bewys is dat alles wat sy vir my uit die boekies voorlees deur myself geskryf is.

Asof die twee dokumente tot dieselfde orde van waarheid behoort.

Ek is siek van vaskyk teen die twee verflenterde stukke papier elke keer as sy my leesboek of my tydskrif van die leesstaander haal en wegpak. Siek van dit moet aanhoor ook, want sy spel dit vir my hardop uit, druk met haar vinger daarop, op die tabel, op die opdrag.

Simptoom: Hardlywigheid.

Medisyne: Pink Lady.

Terapie: Oefening, verhoogde vloeistofinname.

Asof ek Canadian airforce exercises kan doen.

Asof, in hierdie dorre streke, daar iets is wat my dors kan les.

Asof medisyne sal help. Mens drink medisyne om beter te word.

Die skrif op die uitgeskeurde bladsy lyk nie eers vir my na my skrif nie.

In opdrag van die Almagtige God, Bestuurder van ons aller lot en Bewaarder van die Boek van die Lewe …

Ek was jonk. Dit was ook nie die eerste inskrywing nie. Die eintlike begin van alles het ek nooit opgeskryf nie.

Nooit kans gesien vir ’n herbesoek aan daardie dieptes nie.

Nie nadat ek uitgevind het wat ek my op die hals gehaal het nie.

Waar begin so iets in elk geval? ’n Mens se voorland? Waar begin dit?

Die “opdrag” het ek eers later uitgedink, toe dinge goed was vir ’n ruk, net na Jakkie se geboorte. Toe het ek dit voor in die eerste boekie op die omslag se binneblad opgeskryf. Datum en al, 14 September 1960.

Nou wil sy dit in my keel kom afdruk. My onnadenkende geskryf, op my nugter maag in my siekbed, en my met my hardlywigheid kom konfronteer. Watter sin het dit?

Asof ek kan protesteer.

Asof ek kan eet.

Ontbyt.

Kan mens dit ontbyt noem?

Ek moet dit maar net sluk.

Ek het haar hoor praat in die kombuis. Dawid was daar en Julies en Saar en Lietja. Hulle het gewag dat Agaat kom orders gee vir die dag. Stiptelik om agt moet hulle daar aantree. Hulle het hard gepraat. Agaat was haastig. Sy wou hulle gaan stilmaak. Hulle bly stil as hulle haar hoor aankom.

Ek het gewys met my oë, die boks, die boks.

Wag nou eers, het sy gesê, later. Sy het nog nie gesnap wat ek bedoel nie.

Maak soos ek sê, het ek beduie.

Wie is dan nou tog weer so vol dinge vnggnd, het sy gesê.

Nuwe ding, die gepraat sonder klinkers. Koggel my. Gemener as wat Jak ooit was oor die dagboeke.

Sy het die brug oor die bed nadergetrek, die leesstaander gebring en regop gestel.

Wil jy weer jou gelofte lees? Mens kan nie genoeg kry daarvan nie, nè? Miskien kry jy aptyt daarvan.

Dit was ’n goeie begin. Sy’t gedink ek wil sélf lees.

Nee, kon ek sein, dis nié wat ek wil lees nie.

Dit is my tegniek deesdae. Vooruitgang deur misverstande. Ek moes die misverstande net eers op gang kry. Die eerste een sou lei tot ’n ander tot ek my doel bereik het. Dit is ’n soort vertraagde logika, ’n afbreek van elkeen van my bedoelinge tot in die kleinste tussenstappe. Verby is die dae van die kortste afstand tussen A en B. Nou is ons op die omweë, ek en Agaat. Deur my oë na die stapel leesstof te rol kon ek sorg dat sy by die swart boks uitkom. Ek moet altyd haar aandag eers op die oppervlakke vestig. Dit is ’n begin. En dan moet ek haar aan die delf kry. Vanoggend was sy my ter wille, sy het die stapel blou boekies opsy gesit en deur die tydskrifte begin vroetel.

Wat wil jy lees, Ounooi? Sy het vinnig deur ’n Sarie geblaai.

Vier maniere om jou man aan jou kant te kry en te hou.

Nee.

Nee, het sy gesê, ek dink ook nie so nie.

Ek het weer na die stapel op die spieëltafel gekyk.

Sy het ’n Landbouweekblad gevat en oopgeblaai.

Nuwe ontwikkelings in die praktyke van wisselbou en wisselbeweiding: Die suidwestelike distrikte na 1994? Nee wat, dit ken jy. Wat van: Die toekoms van kleingraanverbouing in SA? Dit is tog so in jou kraal, Ounooi, die toekoms.

Lietja het hard gelag in die kombuis. Daar was ’n geklingel van melkkanne.

Hulle raak hans daar in die kombuis, ek moet gaan kyk, het Agaat gesê.

Sy het die tydskrif oop in die staander vasgeklamp, bo-oor die uitgeskeurde velletjie, bo-oor my simptomatiese behandelingslys, dit nog regopper gestel dat ek kon sien, my bril vir my opgesit.

Die toekoms. Sy het haar vinger onder die woorde gesit.

Nee, het ek beduie met my oë, nee, nee, moenie vir jou kom snaaks hou nie.

Weer het sy na die stapel gedraai en deur die tydskrifte gegaan.

Nou waar is al die Fair Lady’s dan, hulle was hier?

Sy het die hele stapel begin afpak, my oë vasgehou in die spieël.

Ounooi, jy maak my agter hier. Ek sien nie die Fair Lady’s nie, wag, hier is een. Fine Food for Fine Occasions.

Dit was die onderste tydskrif. Ek het haar oë afgedwing, nog meer ondertoe. Daar was die blink swart boks nou, oop en bloot. Sy kon nie my blik in die spieël volg nie, moes omdraai om beter te sien waar ek kyk.

Tsk, het sy gesê en haar kop geskud van nee.

Já, het ek met my oë gesê.

Sy het die kontrepsie uitgehaal. Dit was nog vasgemaak net soos sy dit weggepak het. Sy het my vingers reguit gemaak en dit oor my hand getrek. Dit was nie nodig om die gespes los te maak nie. Al die bruin leerbande was in die naaste gaatjie vasgetrek en die chroom-vleuelmoer was op sy diepste ingedraai. ’n Lang stuk draad het bokant die moer se kop uitgesteek soos ’n antenna. Die ding lyk soos ’n handskoen om radioaktiewe afval mee te hanteer. Lankal te groot vir my. Lankal te swaar. Soos al Leroux se gadgets waarmee hy hier aangesit kom, dit werk ’n tyd lank en dan ook nie meer nie.

Ek het na my hand gekyk. Ek het my verman. Ek het beduie, pen asseblief. En papier. Ek kan nie in die lug skryf nie.

Agaat het rondgekyk.

Nou het sy geweet wat ek wil doen maar sy kon kamtig nie onthou waar om skryfgoed te kry nie. Dit was lank gelede dat ek self geskryf het. Toe ek die lyste gemaak het, toe ons die huis opgeruim het, ’n jaar, anderhalf jaar gelede. Oplaas het ek gedikteer en sy het geskryf. Of sy het geskryf en ek het met my laaste kragte afgemerk wat weggegooi moes word. Die blou boekies. Ek het gesê gooi weg. Sy het die opdrag gelees en nie na my geluister nie.

Nou hou sy haar dom. Asof sy nie gereeld die klapbord uitkry om op te druk as sy haar nuutste lyste maak nie, haar rooi pen uit haar voorskoot se bosak haal nie. En daar hang die potlood aan sy toutjie langs die kalender. Sy maak die hele tyd notas. Skryf hulle orals op. Wat wil jy hê die mense moet eet op jou begrafnis, Ounooi? Vaalafval? So wat moet ek op jou kopsteen laat skryf, Ounooi? Toe sien God dat dit goed was?

Ja of nee kan ek sein. Of ek kan my oë toemaak.

Sy het die klapbord uit die onderste halfleë rak van die boekrak uitgetrek.

Tsk.

Die boeke het omgeval. Sy moes op haar knieë gaan om hulle regop te sit. Blink omslae en ou kanvaskafte. Party was nog my ma s’n. Ek het die meeste uitgegooi met die groot opruim. Agaat het hulle gehou. Soos sy die dagboeke gehou het. Sy het die titels opgesê soos sy hulle teruggesit het. Met ’n reguit stem, die hele lys. Laat vrugte, Die burgemeester van Slaplaagte, Foxtrot van die vleiseters, Sewe dae by die Silbersteins. Dis nog niks. Drie en veertig jaar by die De Wets, Vloedwater in die voorwinter, Op veld en rante, Kroniek van Kalkoenpoort, Kringe in ’n bos, Reguit spore in die halfwoestyn, Uitdraai, July’s People, Ek stamel ek sterwe, Die afdraand van die dag is kil, Wie skryf kry opdraand, Die swerfjare van Poppie Nongena, Stoetmeesters val nie flou nie, tsk, probeer Die vroedvrou van Tradouw, Hierdie lewe, Daardie Doodgaan, Juffrou Sophia vlug vorentoe, The Story of an African farm, hmf, dan liewer In the Heart of the Country. Dis wat sy nou laaste gelees het. Watwou, het sy gesê, sy sal ’n land beter aanmekaar kan boer as die stomme ou Johanna wat so die kluts kwytraak van niks en sy sal haar tog nie laat onderkry deur ’n spulletjie hanskaffers nie. Dit was voor sy The Seed is Mine gelees het wat die vrou van die biblioteek laas hier aangebring het. Daarvan was sy skoon stil. Ek weet wat in haar kop was. Vinkelsaad.

Soos ou bekendes het al die titels geklink soos sy hulle daar teruggepak het, na die name van familie. Sy het hulle almal vir my voorgelees die afgelope maande, of vir my omgeblaai op my staander dat ek self kon lees. Sy het die oues lankal al self gelees en al die nuwes eers beproef voordat sy dit vir my gelees het. Sy het hele stukke uit haar kop geken. Sy sê nie een lees so lekker soos my dagboeke nie, mens moet net die leestekens invul en alles vol uitskryf, dan het jy ’n treffer.

En dan is daar nog Jakkie se boeke en tydskrifte wat hy oor die jare aangestuur het en waarin daar hoofstukke en artikels is wat hy geskryf het. Agaat lees dit gereeld ewe vernaam voor, sukkelend oor die lang Engelse woorde, maar ek verstaan nog altyd nie veel daarvan nie. Private Speech, Public Pain: The Power of Women’s Laments in Ancient Greek Poetry and Tragedy, Mourning Songs of the Dirty Goddesses: Traces of the Lamia in Orthodox Baptismal Rites of the Levant, Echoes of the Troll Calls in Romantic Scandinavian Choir Music. Vreeslik obskuur alles. ’n Ander een oor die polifoniese gehuil van Australiese inboorlingvroue as iemand afdood. Waarmee hy hom ook besighou, die kind, hy het tog ’n ordentlike ingenieurskwalifikasie in lugvaartkunde. In die see gegooi. Vir etnomusikologie, wat dit ook al mag wees.

Daar was iets geskrywe op die voorste bladsy van die klapbord. Agaat het gekyk wat daar staan. Sy het na my gekyk. Sy wou iets sê, ek kon sien. Sy kon sien ek sien. Sy het haar bedink. Tien bladsye ver moes sy blaai. Op elke bladsy het haar oë die inhoud opgeneem. Begrafnisreëlings tot op datum. Sy wil vir haar werk maak. En vir my.

Sy het die knip oopgemaak en ’n skoon vel onder uitgetrek en bo-op ingeskuif. Sy het die knip hard laat toespring, weer ge-tsk met die tong.

Toe het sy kamtig in die spieëltafel se laai gegrawe na ’n pen, elke gebaar oordrewe nadruklik. In die spieël kon ek sien hoe sy haar mou opstroop en dit op die rug van haar swak handjie uittoets. Pure aspris, waar was die rooi pen skielik waarmee sy elke dag onderstreep het in my dagboeke, en bygeskryf en oorgeskryf het op die teenbladsye? Asof sy ’n onderwyseres was wat my stelwerk nagesien het. Asof ek ’n toets moes slaag.

Hy skryf, het sy gesê met ’n lang kakebeen.

Sy het die pen tussen my duim en my voorvinger gesit en hulle bymekaargedruk vir sover sy kon bykom tussen die gespes en die leer en die skroewe. Sy het die klapbord onder my hand ingeskuif. Dit was ’n moeisame rangskikking. Sy moes druk en trek en balanseer aan die spalk en die pen en die bord en my hand. Sy het ’n rif in die deken gemaak om die hele lot te stut. Soos mens maak met ’n lappop as jy haar in ’n stoel wil laat sit. Pomp haar in die ribbes. Druk haar voor die bors. Kop op. Stert plat. Sit pop sit. Vol semels. Of lupienepitte. Of skoon wit riviersand.

Toe het sy haar hand oor myne gesit, die sterk hand. Die effek was lagwekkend.

Ai, Ounooi, jy maak die lewe vir jouself moeilik. Hoe wil jy nou in vadersnaam?

Ek kon sien wat sy dink. Het jy jou in jou lewe nie al genoeg besondig aan ’n geskryf nie? Dis wat sy gedink het.

Bly stil, het ek met my oë gesê, bly jy net stil en los my uit. Vat weg jou hand.

Sy het haar ken uitgesteek en die piepskuimverpakking en die plastiek teruggesit in die boks en die deksel toegemaak.

Met vinnige treetjies is sy hier uit. In die verbygaan het sy haar borduurwerk van die stoel opgeraap. Ek weet wat dit beteken. Dis die ander straf. Ek sal haar vandag net etenstye en medisynetye sien. Anders sit sy vir ure hier en borduur by my, ’n groot lap, ek weet nie wat dit is nie, lyk ingewikkeld. Sy tel en meet of die wêreld vergaan, die hele lap uitgemerk met spelde en knope. Dit gaan al aan vandat ek nie meer self kan rondbeweeg nie. Anders het ek lankal ondersoek ingestel na wat dit is. Sy is geheimsinnig daaroor. Vermakerig soms. Partykeer kyk sy daarna of sy self nie kan glo wat sy daar aan die uitwerk is nie. Of soos netnou toe sy hier uit is, gryp dit asof dit ’n stuk vuil wasgoed is wat sy in die mandjie wil gaan gooi, kyk na my, asof ék dit vuilgemaak het.

Dit was alles ’n kwartier gelede. Die staanhorlosie in die voorhuis het geslaan. Kwart oor agt.

Nou moet ek begin. Nou moet ek skryf. Nou moet ek dit die moeite werd maak. Wat ek ontketen het.

Ek maak my op. Ek soek in my na aangrypingspunte. Raaigras, klaaslouwbos, watteltakke om my te anker teen die afgrond. Kanniedode. Ek voel in my. Daar is nog vegetasie, daar is water, daar is grond.

Om te begin het ek ’n aanloop nodig. Die aanloop is net so belangrik soos die daad self.

Alles op hierdie plaas moet goed voorberei word, alles word voorsien en geantisipeer sodat geen toevallige gebeurlikheid jou kan aflei van jou eintlike doel nie. Dit was die eerste gebod, nog altyd. So het ek Agaat geleer.

Mens dons nie sommer in ’n ding in nie, jy bekyk dit van alle kante en dan neem jy ’n ingeligte besluit en maak ’n behoorlike plan in duidelike fases, altyd op maat van die seisoene. En dan rond jy die fases een vir een af terwyl jy die hele tyd ’n oog op die geheel hou, die ritmes, die bewegings, net soos vir die inoefen van ’n stuk musiek.

So behou jy beheer, so voorkom jy lastige oponthoude in ’n later stadium.

Dit is die een beginsel van ’n ordentlike boer, veral vir ’n gemengde boerdery. So kry jy resultate. So bou jy jou eiendom op. Met ingeboude belonings op die lang en die kort termyn sodat jy moed kan hê om aan te gaan. Vastrapplek.

Maar my aanloop hier is nie myne nie. Hy is vir my uitgestippel op die oppervlaktes van die kamer soos Agaat dit ingerig het. Niks is aan die toeval oorgelaat nie. Die dood is haar doel. Sy het dit uitstekend voorberei. Self sou ek dit nie beter kon doen nie.

Eers het sy die kamer leeggemaak.

Alles oorbodigs het sy uitgedra. Kelder toe. Ek het gehoor hoe stamp en skuif sy, hier reg onder my bed, om plek te maak vir die goed. Die sitbank en voetstoele, die doilies en lappies op die spieëltafel, die ornamente en muurbehangsels. Die klerestaander, die hoedestaander, die kieriestaander, die loopraam, die rystoel, die sneeu van voorverlede jaar, die bossies gedroogde sewejaartjies.

Sodat sy vinnig kan beweeg en maklik kan skoonmaak, het sy gesê.

Want daar mag nie stof of hindernis wees nie. Dit sal die bes versorgde sterfte wees in die geskiedenis, jy sal sien, het haar oë gesê. Haar mond was op ’n streep.

Die mat is uitgehaal, die hangkaste met my jasse en rokke, die laaikaste met my truie en bloeses.

Dis ek wat dit begin het. Ek het die idee van die groot opruim in haar kop geplant.

Net die boekrak uit Jakkie se kamer het sy hier ekstra ingedra om die leesstof in te hou. Sy het al die boeke daarin uitgekies. En die televisie het sy uit die woonkamer ingebring en later weer weggevat omdat die inhoud my kwansuis sou ontstel.

Miskien is dit sy wat ontsteld was.

Daar gaan klaar te veel goed aan in hierdie kamer, het sy gesê, dat ons nog moet plek maak vir Die Nuwe Suid-Afrika en Noot vir Noot ook.

Nou stoot sy dit net in as sy dink ek wil na ’n video kyk. Maar ek wil nie meer Agaat se keuses sien nie. Ben Hur, Mary Poppins, My Fair Lady, A Day in the Life of Joe Egg.

Die radio mag gebly het. Vir die ledige uurtjies, het sy gesê. Die oggenddiens. Juig al wat leef. U eie keuse. Voortdurende beweging. In hierdie heilige tempel. Amper tyd vir Kersliedere. Hulle begin mos elke jaar vroeër. Dan sal Agaat weer hoog en laag hier met haar deskante en haar tweedestemme deur die huis loop en sing.

Jy hou mos van jou musiek, Ounooi.

Sy skakel die radio aan en af. Sy kies die stasie. Sy kies die melodie. Soms druk sy ’n bandjie in die gleuf. Nie altyd wat ek wil hoor nie. Indianegekrys van Jakkie as sy my wil irriteer.

Dat sy die driepaneelspieëltafel gelos het, is ’n wonder. Hy staan daar soos ’n museumstuk, sy donker hout opvallend teen al die ander strak voorwerpe in wit en chroom. Ek kan myself in sy middelste paneel sien, die een wat later ingesit is en blouer weerkaats as die ander twee. Sy het die spieëltafel presies so gedraai vir my.

Dat jy jouself geselskap kan hou as ek nie hier is nie, het sy gesê.

Die laaie is leeg nou. Maar dit was nie ek nie. Ek het nie die hart gehad om dit op te ruim nie. Die sweem van Chanel no.5 en lipstiffies wat in hulle gehang het, het seker lankal verslaan. Soms verlang ek na parfuum. Sou sy dit alles vir die meide gegee het?

Dis die laaste keer, het Agaat gesê, op die oggend van my verjaarsdag, geniet dit nou maar. ’n Vrou moet mos mooi lyk op haar verjaarsdag.

Sy het die datum afgemerk op die kalender. 11 Maart 1996. Sewentig jaar oud.

Toe het sy my opgemaak vir die gaste. Ek kon sien hoe skrik hulle toe hulle hier inkom.

Sy het nooit gehou daarvan om my te grimeer nie. Dit moes sy al heel vroeg doen, toe net my hande nog lam was, toe ons nog saam dorp toe gegaan het.

Maar verjaarsdae werk mos altyd op haar naarheid.

Toe lyk ek soos ’n bloukopkoggelman, wit kol tussen my oë, die een wat ek altyd daar kry vandat sy my grimeer, om my te waarsku teen afloer, om my te herinner aan wat ek nie moes gesien het daar met my kop teen die buitekamer se gekalkte vensterbank nie. Maskara. Blazing Bat op my kwylende mond. Ses soorte parfuum aan my nekstut gesmeer en die poeierkwas wat wolke maak om my kop. Byna verstik ek die dag in die poeier. Toe het sy ’n verskoning. Toe dop sy die spieëltafel se laaie uit in swart plastieksakke.

Kamtig haar adviese van Leroux gevat, maar sy was hom altyd een voor.

Daar mag niks wees wat die neus irriteer nie, het hy kwansuis vir haar gesê.

Ons het reeds daaraan gedink, het sy gesê. Geen honde, geen plante, geen stowwerige skoene of vuil goed kom ooit hier in nie. En van nou af aan geen gesigpoeier, geen parfuum, geen onderarmspuitkannetjies wat haar kan laat nies of proes nie.

Sy moes haarself stop. Dit was een van daardie dae.

Nou moet sy maar blink en stink, was op haar lippe om te sê. Maar Mum en kalamyn sou dit word.

Hou goed boek van alles, het Leroux gesê, en Agaat het hom beduie na die plaaskalender waarop sy lankal alles begin aanteken het in die oop kolomme. Met haar hande voor haar vasgehou het sy geluister hoe hy haar lys aflees. Urine, ontlasting, slaap, eet, hoofpyne, slym, temperatuur, asemhaling, gemoedstoestand, slukkrag, medisyne, oefening.

Sy sal my in soveel kategorieë wil beoordeel as wat sy kan uitdink, dis vir seker. Sfinkterdruk, smeltpunt, skaarsuiging, saaidigtheid, roesbestandheid, hewelhoogte, stertwind, afloopval, kartelindeks, omgekeerde eweredigheid, Sphaeropsis malorum, skimmel van die klokkehuis.

Ek kan sien jy is ’n baie goeie verpleegster, Agaat, het Leroux gesê nadat hy die kalender bestudeer het. Uitstekende rekords. Doe so voort.

En sy het. Onstuitbaar was sy. Sy het die binnedeur van my kamer afgeskroef want my nuwe bed kon nie daar in nie.

Moenie dom wees nie, wou ek sê, bring dit stoeplangs by die swaaideur in. Maar toe kon ek al nie meer goed praat nie.

Miskien is dit beter so. Nou kan ek alles hoor wat aangaan in die huis. Ek kan Agaat hoor aankom. Ek kan hoor hoe klink haar voetstappe. Ek kan my instel.

My slaapkamer se deur is die laaste deur wat sy afgeskroef het. Die ander deure in die huis het een vir een verdwyn.

Sodat Ounooi niks deurknoppe hoef te draai nie, sodat Ounooi met haar kieries en haar loopraam en haar rystoel maklik kan in en uit, het sy gesê.

Maar dit was net die een helfte van die rede. Die ander helfte is haar eie probleem. Agaat hou nie van toe deure nie. En sy hou nie van deurmekaar oppervlaktes nie.

Sy het ’n melamienblad op bokkies ingedra en daarop lê in rye en hopies gestapel teen die muur alles wat ons nodig het. Pakke deppers, nekstutte vir elke geleentheid, sneldrooglakens, matrasbeskermers, skoon hospitaaljurke, bedpanne. Onder die bokkietafel staan drie enemmel-emmers met deksels.

Daar is ’n drievlakvlekvrye hospitaaltrollie met waskom en skoon lappe en handdoeke en ontsmettingsmiddel en medisinale seep.

En ’n kleiner trollie van harde plastiek met uithaalbare mandjies met my medisynes en pille in botteltjies en dosies. Skoon water in ’n kraf. Sponsies, wattetjies, oorpluisies, salf vir my lippe wat droog word, papierhanddoeke vir ongelukke, sneesdoekies vir kwyl, vir trane. Alles raak gou deurmekaar in die trollie. Agaat pak hom elke dag reg, sorg dat al die botteltjies en buisies styf toegemaak is.

En dan is daar die brug, ’n breë plat skouer op een staalbeen wat oor my bed pas waarop my bakkies kos en my tuitbekers vol dikgemaakte tee kan staan. En my leesstaander.

Bokant my bed is ’n leeslamp, 100 watt met ’n verstelbare kop aan ’n lang arm, wat kan uittrek.

Genoeg lig in die skeerhuis, sê Agaat, of, mens dip nie ’n skaap in die donker nie.

Maar sy sit dit nie normaalweg aan in die nag nie. Net as dit moet.

Langs my bed is ’n houtkruk waarop sy sit as sy my kos vir my voer. Voor die venster staan haar regop stoel waarop sy sit as sy vir my lees of as sy borduur. Sy het dit uit haar buitekamer in die agterplaas ingebring. Sy sit tog nooit meer daar nie, sê sy, sy was haar net en trek aan daar. Dis nou net haar “locker room”, sê sy.

Sy slaap in die gang. Sy hoef nie, sy weet dit. Daar is baie kamers in die huis.

Al die kamers van my huis, die aanloop tot waar ek nou is, die geskiedenis wat gelei het tot hierdie laaste kamer, die bestek wat vir my oorgebly het. Krimpende bestek. Ek is in my eie lyf opgesluit, my ledemate stel ’n onduidelike kontoer onder die deken.

Nou gaan my aanloop oor my voete langs. Hulle is plat, hulle lê weg. Die deken sink oor my skene. My kniekoppe maak twee hobbels, die vleis het van my dye geval, tussen my heupe is ’n holte. Verder kan ek nie myself sien nie. My nek is gesluit teen die hoek wat Agaat vir my bepaal het. Haar kussings is soos bunkers om my gebou. In die spieël kan ek iets sien, ’n skadu van myself, my slinkende skouers, my gesig waarop my gelaatstrekke vaag lyk, asof ’n kunstenaar met sy mou oor ’n voorstudie gevee het, of die nat boetseersel met die palm platgedruk het. Omdat die aanset gefaal het, omdat die eerste probeerslag nie reg uitgekom het nie. Omdat die onderliggende strukture nie duidelik was nie.

Ek verset my. Gee my ’n kans. Laat ek self probeer, ’n selfportret, ’n outobiografie, tyd en dae van Milla de Wet, die plek van haar oorsprong, haar omtrekke, op Grootmoedersdrift, haar erfplaas. ’n Eerlike gelykenis. Vanaf die spieël, oor my voete, langs die lengte van my verlamde lyf, tot in my kop. Tussen my slape, bokant my neus, agter die voorhoofsbeen, dáár.

In die murgerige pulp voel ek na die begin, na ’n verdikking, die greinerigheid van ’n kiemsel. Ek hou aan net so lank tot ek my in die eenselwige tekstuur fyn draadjies kan voorstel. Ek rol hulle tussen my vingerpunte tot hulle vatplek kry in my verbeelding. En dan, versigtig, om hulle vae aanvange nie te versteur nie, begin ek hulle saam te trek in stringetjies, tot hulle dik genoeg is om te vleg, eers drie, dan nege, dan sewe en twintig en so verder. Drie honderd drie en sestig. Tot ek reg is om die hele wrong veilig in die holte van die breinstam, in die gat van die eerste werwel in te voer. Ek wag, ek hou alles mooi bymekaar, voordat ek dit deurtrek en aan die ander kant oopsprei soos ’n gerf. Fyner en fyner verbeel ek my die vertakkings, ’n maaswerk vlak onder die oppervlak, totdat ek seker is dat al die punte bedien is met my wil.

Ek wil skryf.

Aan die string wat in my regterarm afloop, bestee ek ekstra aandag. Ek stel my voor dit is donkerbruin. Ek maak ’n dik gladde bundel daarvan, blink soos ’n bamboes in die deining, ’n sierlike klos aan die uiteinde, lang gevoelige stringe wier met fyn vertakkings in elkeen van die eerste drie vingers van my regterhand.

Ek wag vir die regte moment. Niks om te verloor nie. Asem in, stuur die sein, asem uit vir die sprong.

Skryf!

Met presiese elektriese flitse markeer ek elke bog van die stroom, bo vanuit die breinpulp deur al die vlegsels van senuwees wat ek neergelê het in hulle bane. Met ekstra vaart dwing ek die opdrag in my hand af na die laaste uiteindes.

Skryf!

Ek kan die lang been van die k trek voordat die pen uit my vingers glip en oor die deken wegrol en van die bed afval.

My hand lê in die spalk soos ’n mol in ’n strik.

*

Die eerste keer toe jy met Jak geslaap het, was die dag nadat hy kom ouers vra het. Hy was gretig om weg te kom die oggend na die verlowing, gretig om onder jou ma se oë uit te kom na die preek wat hy van haar gekry het die vorige aand, en veral gretig om jóú by te kom.

Jy het dit geweet, Milla Redelinghuys, jy het hom gespeel.

Hoe het jy hom toe ervaar? Kan jy dit regtig onthou?

Moenie die sleutels vergeet nie, het Ma geroep. Sy het die groot bos sleutels van Grootmoedersdrift se opstal agter julle geskud soos julle teen die stoeptrap af na Jak se rooi Spider toe gestap het.

Vang! het sy geroep en dit vir hom gegooi.

Jy het hom fyn dopgehou die hele tyd, dit wel. Hy het die bos met ’n swierige gebaar raak gevang. Aspris, van ’n hoogte af, het hy dit in jou skoot laat val, vermakerig na jou ouers toe waar hulle julle op die trap afgesien het. Tenger het hulle gelyk teen die huis en die lug. Maar jy wou dit nie sien nie, jy het afgekyk na die sleutels wat tussen jou dye in die holte van jou rok gelê het. Jy het met jou vingers tussen hulle gerinkel, jy het die ou verslete sleutelkoppe deurgevoel. Die voordeur, die kombuis, die solder, die kelder, die buitekamers. Jy het jou verbeel hoe jy al die deure gaan oopsluit.

Dankie vir alles, het Jak geroep en gewuif.

Old Sweet ’n Sour, het hy onder sy asem gesê.

Jak, dit is my ma, jong, hê respek, het jy gesê. Maar jy het saam met hom gelag, want sy was op haar ergste die vorige aand. Dit het begin toe Jak by die aandete die duur verloofring aan jou vinger gesit het. Diamonds are forever, het hy gesê. Te duur, kon jy sien, dink Ma, te vertonerig. Dit was ’n knoets van ’n diamant gevat in goud. Jy kon haar gedagtes lees. Daar sou liewer iets prakties met sulke geld gedoen kon word, iets vir die plaas wat nou joune geword het omdat jy sou gaan trou. Maar sy het niks gesê nie. Omdat jy wat nog nooit kon guns vind in haar oë nie, uiteindelik volledig sou wees. Iemand se vrou. In die normale loop van dinge, iemand se ma.

En dan was geld ook nie alles nie, werk eerder, swoeg en sweet en deurdruk. Daar was heelwat te doen op Grootmoedersdrift voordat mens dit ’n modelplaas sou kon noem. Dit het jy nooit vir Jak weggesteek nie. Jy het jouself ook nie gebluf nie, van die begin af het jy verwag dat hy gaan kleinkoppie trek. Hy was nie ’n boerseun nie. Sy hande was sag, hy was die enigste seun van die dokter op Caledon, geskool tot gentleman op Bishops. Hy sou alles van voor af moes leer. Van jou en jou familie sou hy dit moes kry, want sy ouers is al twee vroeg dood.

Ma was skepties toe jy haar die eerste keer van hom vertel het. Van hoe hy jou na musiekkonserte en toneelstukke in die Kaap vergesel. Pure flikflooiery, het jou ma gesê, ek wil nog die man sien wat musiek en drama verkies bo rugby. Jy wou vra wat van Pa, maar Pa het sy vinger voor sy lippe gesit en jy het jou woorde gesluk. En dit was waar, Jak was verveeld na die tweede bedryf al. Jou ma was onverbiddelik. Na Jak sy graad in die regte op Stellenbosch gekry het, het sy gesê, moes jy sorg dat hy ’n diploma op Elsenburg gaan loop om hom voor te berei vir die boerdery. Of dit, of hy sit nie sy voete op my grond nie, het sy gesê.

Jy’t geweet jy moes jou sake reg speel tussen jou ma en Jak. En jy moes sorg dat niemand voel hulle trek aan die kortste end nie.

Het jy toe gedink aan wat jy self in die proses sou kon verloor? Kan jy dit nou na alles helder onthou? Toe was anders. Jy was ’n wenner toe. Was daar liefde? Genoeg om mee te begin, het jy gedink. Jak het geblom onder jou aanmoediging. Jy was verlief op sy mooi mond, op sy seunsagtige manier van doen. En hy sou groei saam met jou. Dit is wat jy geglo het. Aan sy begeerte het jy nie getwyfel nie, vandat julle begin uitgaan het moes jy net keer vir jou pêrels.

Ek wil jou papiere sien, jong man, het Ma gesê die aand van die verlowing, en ek sal jou self ’n paar vrae vra dat ek kan hoor of hulle jou iets geleer het daar by die kollege. Sy het julle om die beurt aangekyk.

Ek hoop jy is so verstandig as wat jy aantreklik is.

Jak het hom vervies, al het jy hom voor die tyd gewaarsku, net een mens het gepraat in die huis waar jy grootgeword het, en dit was jou ma.

Jou pa het opgestaan en by die venster gaan uitkyk. Jy het jou skoene uitgeskop en onder die tafel jou voete teen Jak se enkels gevryf. Na ’n ruk het hy jou hand onder die tafel gevat. Jy het jou been styf teen syne gedruk gedurende die hele preek oor die regte manier om met skape en koring en beeste te werk. Jy het voor jou op die tafel gekyk na die donker grein van die hout. Jy kon haar nooit in die oë kyk as sy so praat nie. Dit was asof sy van meer gepraat het as net die eise van ’n gemengde boerdery.

Jy het geprotesteer, lag-lag om die atmosfeer te probeer lig hou.

Ma sal vir Jak skoon bang praat hier.

Hy’s mans genoeg, het sy gesê. Jy sê mos hy is self so ’n goeie prater. Maar ek is bly om te sien hy kan luister ook. Die uitdrukking op haar gesig het gesê: Hy béter, anders, wat soek jy by hom?

Wat het jy by Jak gesoek? Was dit nie vir haar duidelik nie? Hy was ryk, hy was goed geleerd, hy was aantreklik, spitsvondig en wel ter tale, en gewild by mense. Hy was alles wat jy gevoel het jy nie was nie.

Maar al het jy soms onseker gevoel, en al was jy nou nie die mooiste vrou nie, het jy geweet jy was nie dom nie. Jy kon darem ’n B.A. met tale agter jou naam skryf, met jou ekstra musiek- en dramavakke byna tot op lisensiaatvlak voltooi. Jy was belese en nuuskierig en kunstig aangelê. Daarby het jy baie praktiese ervaring van boerdery gehad. Julle sou ’n aanwins wees vir die Overberg, nie net as boere nie maar ook vir die kulturele lewe in die streek. En jy het geweet dat hy ook gedink het hy het ’n slag geslaan met jou. Hy het gesê jy pas by hom, klein maar getrain en nootvas daarby.

Jou pa het alles meewarig gadegeslaan. Die belangrikste is dat jy gelukkig en gesond moet wees, my kind, het hy gesê, die res is bysaak, en moenie jou musiek verwaarloos nie. As julle nou eers ingetrek het en tot rus gekom het anderkant die berg, moet julle elke Vrydagaand kom kuier, dan luister ons musiek. Onthou, my hele versameling word eendag joune.

Jak het jou pa met versigtige respek aangehoor, hulle het nie lekker vat gekry aan mekaar nie, dit kon jy sien. Hoe lief jy ook al was vir jou pa, jy was geïrriteerd daardie naweek met sy sentimentaliteit en sy terughoudendheid, daar was nou ’n ander energie en ander prioriteite.

Jy is tog nie bang om my boertjie te word nie, nè Jak, het jy gesê toe julle die oggend deur Barrydale se hoofstraat weggery het in die rigting van die pas.

Jy sou hom die plaas anderkant die berg gaan wys vir die eerste keer. Jy het geweet jy sou moes hoog insit.

Jou “boertjie”! het Jak gesnork, maar hy het afgekyk na die sleutels tussen jou bene en jy het geweet hy was klaar in die strik, pens en pootjies.

My Boer dan, met ’n groot B, het jy gesê. Jy het jou hand hoog bo op sy dy gesit en oorgeleun en hom in sy oor gesoen.

Jy is ’n geslepe vrou, het hy vir jou gesê. Skuif nader. Ek het my eie planne met jou.

En jy is my slypsteen as ek dinge goed begryp, het jy geterg. Jy het sy bobeen gevryf.

So, Milla Redelinghuys, het jou storie van stapel geloop. Die situasie het jou ’n interessante soort opwinding verskaf. Hier het jy nou twee visse aan jou hoek, het jy gedink. ’n Plaas en ’n man. Maar jy het nie gerus gevoel nie. Daar was aas ook in die gedrang.

So vertel my weer waarmee gaan ons alles boer, ek en jy? het Jak gevra.

Jy het jou woorde getel, jy het hom gevoer met ’n paar feitjies wat hom nie sou laat skrik nie. Jy het jou hand liggies beweeg, op maat van die inligting wat jy vir hom gevoer het.

Ma het ’n tweehonderd Merino’s en ’n paar Jerseykoeie op Grootmoedersdrift aangehou. Daar was ’n voorman op die plaas, OuKarel Okkenel, van Suurbraak se Okkenels, en sy opgeskote seun Dawid wat ook op die plaas gewoon het. OuKarel was ’n wewenaar, ’n ordentlike mens, ’n afstammeling verlangs van die Skotse werktuigkundiges wat in 1817 onder Benjamin Moodie uitgekom het. OuKarel het elke jaar om ’n deel ’n hele paar morg koring vir Ma gesaai. Sy het beswaard gevoel dat die plaas aan die verwaarloos was. Nadat Pa sy grond geërf het en hulle op Goedbegin gaan boer het, het hulle elke week gaan kyk dat alles reg loop op Grootmoedersdrift. Vandat jy klein was, het sy en Pa met skeertyd en lamtyd en oestyd oor die berg gery en weke aaneen in die ou opstal oorgebly om toesig te hou en voor te vat. Baie keer was dit net jy en Pa, dit was julle beste tye, hy het jou opera-arias geleer en op veldekspedisies geneem. Jou pa met sy lang treë en sy perfekte gehoor, jy kon nie glo dat hy die windskeef oubaas geword het met die skuifelstappie nie.

Hulle raak oud, het jy vir Jak gesê, hulle kan dit nie meer bybring om so aanmekaar oor die berg te ry en twee plase aan die gang te hou nie. Ons trou op die regte tyd. Ons moet die koringboerdery oorneem van die Okkenels, die plaaslike mark is uitgehonger vir fyn wit meel nou na die oorlog, ons moet die skaap en beeskuddes uitbou, daar is uitstekende weiding langs die rivier vir ’n melkstoet, ons moet van Grootmoedersdrift maak wat dit kan wees, ’n boekvoorbeeld van gemengde boerdery, ons moet die naam gestand doen.

Jy het jou hand verskuif en hom aan die binnekant van sy dy gemasseer.

Jy maak my mal, het Jak gesê. Hy het rondgeskuif in sy sitplek en nog meer versnel.

Moenie mal raak nie, skat, hou in die pad, het jy gesê.

Jak het homself in die hand probeer hou. Hy het sy kop geskud, die vorige aand se gesprek bygehaal.

Rooikatrieme! Watse storie was dit nou tog gisteraand, het hy gevra, ek hoop nie jy aard te veel na die ma van jou nie, julle sal ’n man kláármaak.

Jy het gelag, jy het hom in die sagte vleis van sy binnedy geknyp.

Wel, ek weet nie na wie jy aard nie, het jy teruggespot. Jy het ’n diep asem gevat en dit gesê, jy was skaam, maar jy het dit gesê.

Jy is baie na aan kláár nog voor ek eers begin het, is wat jy gesê het. Jy het met jou oë beduie na sy gulp.

Jy het geweet wat die effek sou wees. Hy was die soort wat gehou het van skunnighede. Hy het soms vir jou goed gesê wat jou laat bloos het, maar jy het nooit te ver gegaan as julle gevry het nie. Jy was ’n maagd en dit was jou prys.

Genugtig, Milla, het Jak uitgeroep, vertel my meer!

Daar is ’n wag voor my mond, het jy geterg.

Wag maar, het Jak gesê, jy sal nog die wag in jou gladde bekkie kry.

Jy het nie heeltemal geweet wat hy bedoel nie, maar jy het saamgelag.

Jak was reg oor jou ma. Sy hét jou pa klaargemaak. Hy het oor die jare al hoe stiller geword. Moes al siek gewees het die aand met die verlowing. Jy kon dit sien aan sy teruggetrokkenheid terwyl jou ma die kaarte en die papiere van Grootmoedersdrift op die eetkamertafel uitgesprei het. Dit was haar erfgrond van geslagte terug aan moederskant, van die Steyns en die Spiese se kant. Dit was hulle wat volgens haar die wildevyeboomlaning daar geplant het en die opstal se fondamente met rooikatrieme uitgelê het.

Mens gooi nie jou lewensreg weg nie, het jou ma vir Jak gesê, dit wat jou voorsate tot stand gebring het met bloedsweet, dit pas jy op en dit leef jy na.

Ja, het jy gesê en vir jou pa geknipoog. Jy het geweet hy weet, nes jy, wat haar volgende sin sou wees.

“Dit was mense wat bosse moes platkap en klipmure moes stawel. Daar was nie tyd vir bog en soetsappigheid nie,” het julle al drie gesê.

Dit was jou ma se geliefde uitdrukking.

Jy kon sien hoe Jak rondkyk van nie weet wat aangaan nie.

Dis in Kamilla se bloed, moet jy weet, Jak, het sy voortgestoom. Haar oeroergrootjie het in die dae voor Hendrik Swellengrebel nog, dertig jaar lank alleen daar geboer na haar man se dood. Sy was ’n vrou wat kon vasvat en hou vir hou raak slaan.

Sy het ’n gat deur Jak gekyk. As jy dít nie kan doen nie, jong man, moet jy maar gerus eenkant toe staan, want dan deug jy nie, dan is jy net ’n oorlas vir ander.

Jy het jou geskaam. Jy het jou vingers deur Jak s’n gestrengel en oor hom geleun, sodat jou borste teen sy skouer gerus het terwyl jy kamtig die kaart bestudeer. Jy het die kaart uit jou kop uit geken. Jou ma het dit van kleins af vir jou uit die lang koker getrek om vir jou die plaas te wys wat eendag joune sou wees.

Jak het alles ewe geseglik met ’n reguit gesig aangehoor. Nou, soos julle die pas binnegegaan het, was hy openlik spottend.

Eendag, lank lank gelede, toe die wêreld nog jonk was, in die tyd van die heer Swellengrebel, het hy aangehef, was daar ’n oeroermoeder Spies, ’n boervrou sonder weerga …

Hy het na ’n laer rat geskakel teen die opdraande.

… En sy het haar plaas genoem Grootmoedersdrift en die grense daarvan uitgelê met, kan julle raai met wat? Met rooikatrieme!

Hoe klink dit vir ’n begin? het hy gevra. Hy het na jou gekyk.

Ek het veral gehou van die stukkie van ’n vrou wat kan vásvat, hou vir hou. Vertel my meer dáárvan.

Jy het hom in sy lies begin vryf. Die eerste keer dat jy so iets gedoen het. Skoon op hol was Jak daarvan, onkant gevang, hy het die pas gery of dit ’n resiesbaan was. Die klippers het gespat. Dit was die ou pas toe nog, in 1946, met smal haarnaalde, nêrens ’n randsteen nie. Elke af en toe het Jak na jou geloer en jy het teruggeloer. As jý soveel dinge in jou kop het, het jy by jouself gewonder, wat moet hy nie van dit alles maak nie?

Ry stadiger, Jak, het jy gesê, dis ’n pas.

Wat gee jy my?

Net wat jy vra.

Weet jy dan nie?

Ek kan raai, het jy gesê. Jy het die gespe van sy belt losgetrek.

Hy het jou verbaas aangekyk, gekreun.

So, en wat gaan jy my in ruil gee? wou jy weet.

Net wat jy vra.

En weet jy dan nie?

Ek is nie so slim soos jy nie.

Wel, in die eerste plek moet jy stadiger ry.

Maar jy maak dat ek baie vinnig êrens wil kóm!

Jy het jou hand weggevat. Hy het dit teruggevat en jy het gerem, maar nie te veel nie sodat hy dit kon sit waar hy dit wou hê.

Goed, ek sal stadiger ry, het hy gesê, en in elk geval, dit lyk my jy’t ’n waatlemoenlorrie aan jou kant.

’n Ent voor teen die pas met ’n lang string karre agterna het ’n lorrie vol spanspek en waatlemoen aangekruie.

Nee, dis jy wat die waatlemoen aan jóú kant het, het jy gesê en sy gulp oopgetrek en jou hand ingesteek.

Here, vroumens, het Jak gesê en sy kop agteroor gegooi en sy oë vir ’n oomblik toegemaak.

Kyk in die pad, De Wet, het jy gesê.

Dis wat jy gesê het maar jy het gedink: Dis ék wat álles bestuur, die skuins marsjerende kranse, die donker watergang ver onder, die draaie in die pad, die wolke hoog bo.

So watter probleme is dit waarvan jou ma praat daar op Grootmoedersdrift? het Jak met ’n dik stem gevra en gesluk.

Hy het sy kop geskud asof hy sterretjies aan die sien was. Jy het hom stewig beetgehad, langtermynbeloftes in jou greep.

Tulpe, het jy gesê, en vorentoe gesit sodat jy jou hand onder sy testikels kon inwerk. Daarna kon jy nooit genoeg kry daarvan nie. Die kontras van die syerige skuiwerende balle en die geweldige lengte van erekte vlees daarbo. Jy was gefassineer daardeur, verbaas dat jy geweet het wat om te doen.

Daar is wilde tulpe langs die rivier, en as die koeie dit eet en hulle drink water daarna, dan vrek hulle of jy hulle arseen ingegee het. Dis bolletjies. Mens sal hulle met die hand moet uittrek. As jy hulle ploeg, word hulle net meer.

Nou toe nou, het Jak gesê, klink maklik genoeg. Wat nog?

Dis te nat daar langs die rivier.

Hmmm, beter nat as droog, het hy geterg.

Die koeie kry sere en swamme en goed aan hulle hoewe daarvan. Die perde kry mok.

Mok? Nog nooit van gehoor nie. So wat kan mens doen, my handige boerenooi?

Dreineer, op groot skaal dreineer. Mens kan in elk geval nie weiding aanplant op toegeslaande grond nie.

Klink nog nie vir my na ’n ramp nie.

Wel, dan is daar nog die hellings op die droëland. Dis te steil om te ploeg daar. Dit verspoel. Daar moet kontoere kom en terrasse. En daar moet aflope geflodder kom en grasbane aangelê word vir die wegvloei.

Jy het skuins gedraai en sy klere oopgevroetel en sy onderbroek afgetrek en jou ander hand bygesit en ’n koker gemaak met jou vingers.

Flodder, het Jak uitgekry.

Dit is ’n landmeter se werk, het jy gesê, en dit sal maande vat.

Jy reken, het Jak gesê. Gots, ek kan dit nie meer hou nie!

Hy het vorentoe gesit en versnel en met sy een hand jou hande vaster om sy penis gevou. Tussen jou bene het dit warm gevoel, jou kop het gesuis.

Jy was net half bewus van die pad, die paar karre voor julle, die lorrie.

Hou vas, het Jak gesê en begin verbysteek.

Jak, oppas! het jy geskree, maar jy het roekeloos gevoel, swewerig, ’n regentes van die hele Tradouw, duskant en anderkant die berg, in die valleie teenaan die riviere en oor die rûens vanaf die Heidelbergse vlakte tot by Witsand. Dit het geswem voor jou oë. Alles jou gebied. Jy het jou mond gevoel, jou keel, daar was ’n lewendigheid op jou tong of jy radyse geëet het.

Jak het in ’n reën van klippers op ’n inham aan die berg se kant afgetrek en jou vasgedruk en jou gesoen en jou borste gevryf. Jy het gedink om te keer, die kar se dak was oop en julle was sigbaar van die pad af. Maar jy het nie regtig omgegee nie. Jy het ’n fantasie gehad dat jou ma julle sal sien. Met haar eie oë sal sien hoe besit en geskiedenis en erfenis almal hulle loop aan die kry is, soos dit voorbestem was, met die brute energie van ’n goeie begin. Dit was jou rolprent. Soos jy dit altyd wou gehad het, soos jy gedink het jou ma dit wou hê.

Watter probleme nog? het Jak in jou ore gehyg. Hy was woes, buite beheer, hy het op en in jou probeer kom maar die rat was in die pad en die ruimte te nou.

Rooikatte in die klowe, het jy gesê. Jy het hom in die nek gebyt.

Nog?

Lammervangers. Hulle pik die pasgeborenes se oë uit.

Jy het jou borste uit jou bra gehaal en sy kop teen hulle gedruk. Jy het hom ondergedompel. Hy moes opkom vir asem. Iets aan sy kop en sy nek so van bo gesien het soos ’n seuntjie s’n gelyk. Sy mond, die onweerstaanbare mond van Jak, nou moedeloos en bewend, het jou verteder. Sy stem was skor.

Ek sal alles doen, het hy gesê. Ploeg en saai en skeer en melk, ek belowe.

En my help om ’n tuin te maak?

En jou help om ’n tuin te maak.

Soos die paradys?

Soos die paradys.

En my nooit verlaat nie?

En jou nooit verlaat nie.

Jy het hom saggies weggedruk. Jy het oor sy kop gestreel om hom te kalmeer. Jy wou ry en anderkant kom. Anderkant die berg sou jy gaan lê vir hom, op jou eiendom, soos dit moes wees in jou storieboek.

Jy het hom gehelp om sy klere reg te trek. Haal diep asem, het jy vir hom gesê.

Ek hoef hom nie nou alles te vertel nie, het jy gedink, hy sou mettertyd die hele prentjie kry.

Jy was die enigste kind en erfgenaam van jou moeder en jou plaas was die moeilikste. Jou grondhonger neefs sou jou pa se grond erf. Hulle wou kamtig niks weet van die plaas anderkant die Tradouw in Die Geut soos die gebied onder die boere bekend was nie. Hulle was klein sagtevrugteboere in die Barrydaledistrik. Hulle was besig om groter en groter stukke van Pa se plase onder besproeiing te help kry vir perskes en wingerd.

Nee dankie, het hulle vir jou gesê as jou ma nie by was nie, Grootmoedersdrift is ’n nagmerrie. Daar sal ’n mens jou agterent sien met al die kapitale insette wat jy sou moes maak, die geld wat jy sou moes leen, die tyd wat dit sou vat om die plaas goed beboubaar te maak en al die ysters wat jy in die vuur sal moet hou om dan nog jou skulde ook af te betaal.

Jy was bly jou pa se familie was nie by op die aand van die verlowing nie. Al drie neefs het jou plaas begeer soos niks anders op die wêreld nie. Hulle sou die lewe moeilik kon maak vir Jak. Dit het jy hom ook al vertel.

Nou wil jy my nog vir die newe van jou ook gooi, het Jak gesê, toe julle uiteindelik van die tafel opstaan, jou ma is erg genoeg. Die huis was stil. Jou ma se huis het altyd die dik dreigende stilte gehad. Jak het voor die spieël in die gastekamer gestaan en oor sy gesig gevat asof hy wou seker maak alles is nog daar na die konfrontasie met sy nuwe skoonma.

Jy het agter hom gestaan, jou arms om sy skouers geslaan, jy was net bly die aand was verby.

Ek weet alles van boerdery, het jy in sy oor gefluister, ek het grootgeword daarmee, ek sal jou help. Ek sal jou alles wys môre. Rus nou, jy is moeg.

Jy het teen hom aangenestel, maar sy lyf was gespanne. Daar was iets in sy stem, in wat hy toe gesê het, wat jy nie wou hoor nie, jy het gedink jy verbeel jou.

Ja, het hy gesê, jy béter, ek kan nie wag nie, môre is die dag, jy béter my leer en jy béter my help dat ek die smaak kan kry. En jy beter my álles wys. Ek wil sién waar ek gaan boer. Ek kan nie wág nie. Goud het ek my mos laat raam hier.

Dit was die dag dat jy vir die eerste keer saam met Jak de Wet oor dieTradouwpas gery het, die grootTradouw, die diepTradouw, die weg van die vroue in die Hottentotte se taal, soos jou pa dit vir jou verduidelik het toe jy klein was.

Jy was ’n regte vrou nou, ’n ring aan jou vinger. Nou moes julle net anderkant kom. Jy was opgewonde daaroor. Jy het al soveel keer gefantaseer oor hoe dit sou wees om hom te bemin, by hom te lê, hom eindelose ure lank te soen, sy rug onder jou hande te voel.

Ag here, nee, nie al wéér nie! het Jak geswets.

Julle was weer agter die waatlemoenlorrie.

Dit kom van vry op die inham, my liefste Jakobus, het jy gesê.

Nou was die blou rook van die uitlaatpyp in jou gesig. Dit was ’n lendelam affêre, vol duike en skrape, met die hand oorgeverf, en gelap.

Wys net jy wil verbygaan, het jy gesê, dan trek hy dalk af by die volgende inham.

Jak het getoet en beduie en sy ligte geflikker, gevloek.

Dit het vinnig gebeur. Die lorrie het na links geswenk. Die vrag het geskuif. Waatlemoene oor die reling, bonsend oor die pad, rooi binnegoed oor die hele voorruit van die Spider.

Julle was te naby. Julle was te vinnig. Jy het die stuur gegryp.

Moenie rem nie, moenie rem nie! het jy geskree, jy sal gly, hou berg se kant!

Ou lesse van vorige ervarings, jou ma se woorde.

Die kar het doodgeruk. Jak was oorbluf. Julle het ’n ruk daar gesit, gekyk hoe die lorrie se bestuurder die pad probeer skoonkry. Toe het Jak die kar weer aangesit en julle het stadig aangery, verdwaas van skrik.

Gelukkig, het jy gesê, het jy die regte ding gedoen.

Jy het, het Jak gesê. Hy het vinnig na jou gekyk en weggekyk.

Toe begin hy. Vervang die font van die gemerkte woord my die korrekte font.

Ek sou die rem getrap het en regsom probeer kom het as jy nie gekeer het nie.

In sy stem was die kleinste ondertoon van ’n pruil.

Jy was wonderlik, het jy hom getroos, jy bestuur goed, ek voel veilig by jou.

Jy het jou rok opgetrek en sy hand gevat en dit tussen jou bene gedruk sodat hy kon voel hoe nat jy was. Al die pad tot op Grootmoedersdrift het hy met een hand bestuur en met die ander hand aan jou geraak. In jou skoot het die opstal se sleutels geklingel soos sy hand geroer het.

Jy het jou oë toegemaak, maar die beeld van die spattende waatlemoene wou nie voor jou oë wyk nie. Die hele kar het daarna geruik.

*

hoe begin ’n siekte? lamsiekte van geraamtes eet maar waar kom die geraamtes vandaan? domsiekte krimpsiekte predikantsluisellende omlê stinkbrand stamroes vaalblaar wurms kewers slakke motte kleinkommandoruspers almal onsigbare aanvange grond is lankmoediger as koring lankmoediger as skape grond word stadig diep verskole siek van dol van platslaan met die agterkant van die graaf van swaarghrop in somerwind ek is nog dorper nog kleintrou het ek dan gedink ek is god dat ek moet lê en dit vat het ek dan gedink ek is ’n berg of’n rug of’n rant en wie het dit my vertel en wie het besluit klippe het geen regte nie want klippe kan kwyn van ontken word van verguis word en wie het besluit wie die geploegde is en wie ploeg en waarom het ek nie opgestaan en waarom nie weggegaan en wat sou gebeur het as ek haar teengestaan het my moeder my leermeesteres van geseglikheid vrotpootjie slaphakskeentjie klakous nasellapol ramenas verbitterde tiran geraamte in die grond nou slaan dit uit slaan terug in my omdat ek nie teruggeslaan het nie ek versmoor in woorde wat niemand kan hoor nie ek heg my ek versamel my waters my waterhoudende kluite my leem my skalie ek is ouland maar nie deur my besluit nie wie sal my liggies op kontoer omploeg my stoppels inbraak en my duwweltjies en my met groen bemes en met strooi? wie in my neusgate blaas met asem van donker humus? wie daeraad in my saai of hoopvol? hoe sal my late opbrengs weerkaats en in watter water? wie sal oes wie skeer wie my vag erf my vlies my gerf my klein wit pitte? wie sal my kou tot ek bind want ek het gedoen soos aan my gedoen is dit is ons twee se siekte

*

21 April 1960

Goeie begin gemaak vandag met die regmaak van die kamers die buitekamer & die babakmr. Verstaan vir die eerste keer waarom alles moes gebeur soos dit gebeur het Gods grote Voorsienigheid. Het die babakamer laat uitverf & die buitekmr laat kalk binne & buite mooi netjies spierwit. Plascon vir die een & wit kalk vir die ander – ekonomies – kan dit altyd weer oorkalk. Wasbare Plascon vir babakamer handjies vat voetjies mors! ’n Goeie geleentheid om sommer al die buitekamers nuut te laat oorkalk & alles ’n slag mooi netjies te kry in die agterplaas.

A. kry die middelste stoorkmr hy het die grootste venster en nog ’n kleintjie agter.

Het laat uitdra & gesorteer & weggegooi & alles in twee ander kamertjies ingepas gekry grawe vurke kruiwaens klein tuingereedskap hoenderkos & varke se byvoeding & beenmeel & sakke kompos vir die tuin alles in die een laat pak & al die ou meubels in die ander. Beste bed & matras & kombuisstoel & skroptafel en wastafeltjie (die een met die teëltjies) in A. se kmr laat indra. Al die nodige gelukkig voorhande. Gedink aan ’n mat maar J. wil niks weet nie sal ’n plan maak oorskiet stukke linoleum solank los ingesit makliker om skoon te hou in elk geval.

Nou is alles soos dit hoort dit is seker die regte ding om te doen vir almal se onthalwe. Daar was tog nie ander genade nie. Het Beatrice gebel om haar te vertel van my besluit & dié is nou heel verlig & bak mooi broodjies & wil my voorstel vir voorsitster van die VLV. Stel jou voor! Ek kan die vrou klap, regtig.

Toestand met J. God sy dank beter noudat ek werk maak van die aangeleentheid. Dat dit soveel moet kos maar ek wil liewer nie daaraan dink nie. Hoe lank sal hy tevrede bly? Hy dreig om my dagboeke te verbrand. Hy sê as hy die hele tyd sy goed moet opruim asof dit gemors is waarom mag my boekies die wêreld vol rondlê geheimskrif sonder punte & kommas miskien moet ek dit hardop gaan voorlees vir die radio dat hy ook die siel van die vrou kan leer ken & die nood van hr meid.

Sou in elk geval kinderbediende moes inkry plaasmde te vuil & onopgevoed. J. dink hy’t nou gewys wat hy kan doen met koring & stel nie meer so erg belang in die plaas nie & ekself steeds meer betrokke by die boerdery dit sal nie agterweë kan bly met die koms van die kind nie. A. sal my oë en ore moet wees hier op Gdrift. Moet steeds meer oplet & roetines van skeer & saai & slag in die hand hou. Beplanning & bestuur verveel hom. Grond & water is alles my verantwoordelikheid & ek sê vir hom dis die verskil tussen ’n lewendige en ’n dooie plaas. Hy sê hy gaan ’n stuk skryf in die Landbouweekblad: Die opsies van die hereboer, ’n lewendige plaas met ’n dooie vrou of ’n dooie plaas met ’n lewendige vrou nou hou ek op met soebat.

J. sorg ten minste vir aankope & daar laat ek dit nou maar by. Wens net hy wil sy eie navorsing doen oor implemente en ophou neuk met agente. Verdwyn mos van die aardbol met hulle kommissie & eers as jy binne-in die oestyd sit met die stukkende combine hoor jy van foutiewe parte wat jy moes laat vervang het nog voor jy die ding aangeskakel het. ’n Onverskillige spesie. Goedkoop sielkunde & blink praatjies. J. moet nou maar leer deur sy foute.

Sal eerlik nie kan klaarkom sonder ’n goeie oppasster nie. A. kan goed lees en skryf & kook kan hr 100% vertrou baie pligsgetrou baie konsensieus behoort regtig nie te veel van ’n probleem te wees nie & sy sal nog mooi ontwikkel vorentoe.

Oorweeg salaris, spaarrekening poskantoor. Moet J. nog daarvan oortuig hy sê sy kry kos & klere & onderdak van begin tot einde dis beter as lewensversekering by Sanlam. Voorlopig is hy tevrede met sy nuwe stoepkantoor.

Moet die hele tyd ’n gesig opsit. Voel naar. Flou. Sien swart & moet gaan sit. Alles wat so vinnig verander. Moet net besig bly & aan niks dink nie. Of musiek luister. Bach. Bach help altyd. Moet wag tot J. uit is anders hoor ek weer sit af die konsistorienaaimasjien.

Agaat

Подняться наверх