Читать книгу Agaat - Marlene van Niekerk - Страница 8
3
ОглавлениеDie oggendson skyn van agter af deur Agaat se kep. Vol borduurgaatjies is dit, dig omgewerk met blink wit garedraad. Die ligpunte in die inslag flikker soos sy naderkom. Sy huiwer oor my bed, neig haar kop, tas met al twee hande die hoë spits af, raak aan die basis weerskante, of dit goed vasgesteek is, of dit reg sit. As die kep goed op is, sal sy deur die vuur kan loop. Haar kroon van verheerlikte katoen, haar myter, haar konka vol ligstippels, dit maak haar bestand teen die doderyk. Sy raak met opset so daaraan dat daar vir my geen twyfel mag bestaan oor haar voorneme nie. Sy is aangetree, sy is paraat, ek moenie verder sukkel nie, sy sal my regsien hier, sy is die aanvoerder van my moontlikhede.
Sy gaan hulle vir my opnoem, die opsies wat vir my oorgebly het, sonder om iets oor te slaan. Soos die Gees haar lei, met verwysings na my onvermoë.
Die lys word al korter.
Sy hersien dit steeds meer gereeld.
Snags op haar kampbed in die gang dink sy uit wat sy moet skrap.
Drie jaar terug se lys was vol interessante variasies.
Sal ons saam met Dawid lande toe ry?
Sal jy hou van ’n piekniek in jou rystoel by die dam?
Moet ek gaan roei met jou op die drif? Grappie.
Wil jy in jou loopraam op en af op die stoep loop?
Wil jy skryf met die spalk aan jou hand?
Wil jy oefeninge doen?
Wil jy alleen stil sit in die tuin, by die laventelheining, by die rankroos oor die traliewerk, onder die johannesbroodboom?
Wil jy note lees en hum?
Wil jy gaan swem in die reservoirdam?
Sal ek vir jou vla maak met appelkooskonfyt en piesangs?
Maar dit is alles verby nou.
Ek maak my oë toe.
Ek het ’n lewe buite jou lys, wil dit sê. Ek het behoeftes wat jy jou nie kan verbeel nie, al giet jy jou kep in brons.
Dit maak haar rasend. Dat sy my behoeftes nie volledig kan tegemoetkom nie, dat sy nie alles weet wat ek dink nie, dit frustreer haar verby alle grense.
Om in my kop te kyk na wat daar speel, is wat sy begeer. Daar is protes in haar stem as sy praat, maar ek weet dis net die boonste laag, dis wat sy kan bekostig om te laat hoor.
Sal ek die gordyne ’n bietjie toetrek?
Wil jy na die oggenddiens luister?
’n Bandjie?
Wine women and song?
Die pan vir nommer een?
Die pan vir nommer twee?
Te koud?
Te warm?
Meer regop sit?
Platter lê?
Nog ’n bietjie pap eet?
Vrugtemoes? Daar is koue spanspek? Met ’n bietjie sout?
Water?
Tee met heuning en suurlemoen?
Na elke vraag wag sy dat ek antwoord, maar ek hou my oë toe. Dit beteken jy’s koud, jy is ver uit, jy het nie ’n idee nie, my behoefte is ’n subtiele een.
Ek maak my oë oop. Ek soek haar blik. Ek rek my oë:
Nee! nee! en nogmaals nee!
Alles swem voor my, maar sy hou aan. Sy dwing my, ek moet die omvang van haar goedgunstigheid begryp. Niks wat sy nie vir my sal doen nie. Enigiets wat val binne die grense van geregtigheid en redelikheid.
Ek maak my oë weer toe.
Haar stem styg met ’n hele toon. Effens vinniger kom dit nou.
Lees? Moet ek die leesstaander opsit en omblaai?
Moet ek voorlees?
Genesis?
Job?
’n Psalm van Dawid?
Openbaring?
Die Bybel volgens Agaat. God se horries en die mens se verbystering. verbystering
Ek maak my oë oop, maar ek gee geen sein nie, ek kyk reguit voor my. Dit beteken: Gaan weg, jy irriteer my.
Uit die hoek van my oog sien ek hoe ruk sy haar skouer op. Sy ritsel met ’n vinger deur die stapel blou boekies op die stoel.
Of iets uit jou eie pen? Dit interesseer jou tog altyd. Die goeie ou tyd. “Agaat en die tuin van Grootmoedersdrift 1980”? Maar hierdie een is leeg. Hier staan “paradys” bo-aan en dan is dit net ’n lys plante.
Sy trek haar vinger oor die bladsy. Maanblom, sierkweper, silwerberk, lees sy. Sy klap die boekie toe.
Jammer dis nie die hele storie nie, sê sy met haar mond op ’n plooi, dis net ’n geraamte. En die tuinmakery was nogals lekker. Sy klop op die voorkant van die boekie.
Miskien moet ek dit self bietjie opskryf hier. Maar miskien moet ons eers my paradys klaar betrek voor ons by jóúne kom, of hoe sê jy? Ons is nou reg in die middel daarvan. Hr kmrtjie wat jy so mooi reggemaak het vir hr hier agter, onthou jy? Hoe het die baas altyd gesê? Iets vir die Guinness Book of Records. Eerste keer in die geskiedenis. Binnenshuise verfraaiing vir ’n buitekamer. Gedink jy kan dit vir my wegsteek. Toe kom hou die ounooi inspeksie en los die deur oop. Toe sien Saar. Maar toe weet ek lankal.
Agaat probeer my uitlok. Ek gee nie bes nie. Ek hou my oë neutraal.
Tot vervelens toe het ek dit al gehoor in verskillende uitvoerings. Miskien gaan sy dit weer sing vanaand.
Sewe voorskote, sewe keppe, een dosyn wit sokkies en ’n blompotjie vir die huislikheid.
Miskien sal sy tyd hou met haar skoen in haar hand op die stoel se armleuning. Dit sal beter wees. Enigiets sal beter wees as dat sy stil sit en lees en af en toe vir my kyk of ek haar iets aangedoen het.
Sy kan maar spring, sy kan maar dans, sy kan die een boekie na die ander gryp en neersit en in die rondte draai in die middel van die kamer, ’n derwisj met ’n stywe voorskoot sonder enige heilige verademing.
Sy moet net verstaan ek het ook my regte.
Ek wil my grond sien, ek wil my land sien, al is dit dan net in buitelyne, plekname op ’n plat vlak. Ek wil my oë laat reis.
Miskien is jy lus vir ’n video?
Sy kyk nie vir my nie, sy kyk vir die boekies op die stapeltjie. Ek het gesien sy tel hulle die ander aand. Daar is drie en sestig. Ek het gedink daar was meer.
Die een van die sneeuwolwe?
Of die swart-en-wit roofwalvisse?
Of die reuse-vlermuise van die Amasone?
Haar mond vertrek. Asof sy sien hoe ek my vasgryp met klam kloutjies aan die maanhaar van ’n perd, hoe ek my heg aan die nekslagaar, asof daar ’n nabyopname is van my suigende monddele.
Enigiets liewer as te moet beken ek is hier opgesluit soos iemand agter dik eenrigtingglas en sy is daar buite en sy weet nie wat dit dan is wat ek wil hê nie.
Of ’n storieprent ? Voor ek hulle môre gaan omruil?
A Passage to India?
A Room with a View?
On Golden Pond?
Hoeveel sillabes kan ’n mens praat sonder om ’n “k” te sê? Hoeveel sinne uitspreek sonder om die woord “kaart” te gebruik? Hoeveel gedagtes dink voordat jy stuit op die idee van ’n skematiese weergawe van die wêreld?
Mens sou dink dit is onontbeerlik, soos die lug wat jy asem.
My wange is nat.
Ek maak my oë toe. Ek hou hulle toe. Ek gee op. Ek flikker my ooglede sonder om hulle te open. Astrant, moet dit beteken, jy kan mos sién dis heeltemal iets anders, kry jou stryk met jou verdomde lyste hier uit my kamer uit.
Ek hoor haar omdraai op haar hak. Vinnige treë die gang af na die badkamer. Sy kom terug met ’n warm nat lap. Sy vee my gesig af in twee hale.
Hou op grens, jy sal verstik, sê haar oë.
Dis tyd vir tandepoets, sê haar mond.
Ek knipper deur my trane, poets jouself.
Aitsa! sê Agaat, hó-nou, sê sy.
Sy druk die muurprop van die elektriese tandeborsel in die kontakpunt. Sy hou die groen tandeborsel met die ronde draaikop in die lug op om dit te toets. Tsiemmm, maak dit, tsiemmm-tsoemmm. Sy draai die dekseltjie van die poeierspul oop. Sy druk die tandeborsel se kop daarin. Dis ’n droë poets. Dit smaak na kalk, na stof, na bordkryt. In die teenlig kan ek sien hoe werwel die stofdeeltjies om haar hande.
Reg, sê Agaat, volbek, tand vir tand, van die middel voor af na agter, eers kieskant dan tongkant, ons begin bo.
Sy sit die tandeborsel neer in ’n bakkie op die trollie. Sy trek ’n paar latex-handskoene aan. Die rubber klik en skiet. Die klein handjie lyk soos ’n mol. Dit vroetel blinderig in die handskoen in. Die ander hand lyk soos ’n tang.
Die trane die rol oor jou bokkie, sing sy op ’n teruggehaalde asem.
Sy haal die mondskroef uit die steriele water. Sy laat dit afdrup. Dan spin sy die skroef dig. Wrrrr, draai dit met die draad langs. Die druppels spat in my gesig.
Ek knipper met my oë, kyk asseblief wat jy doen!
Ag ekskuus tog, sê sy. Sy dep my wange met ’n stukkie watte. Dep, dep, dep. Links regs links.
Die trane die rol oor jou, sing sy verder.
Here, sê ek met my oë, Here jy.
Hoesê? vra Agaat.
Sy druk die veer van die skroef plat en werk dit in my mond in. Die plat koue voet van vlekvrye staal kom op my tong, die gekromde bostuk pas in die holte van my verhemelte. Sy laat skiet die veer. My mond trek oop.
Opgejack, sê Agaat.
Sy kyk by die deure uit terwyl sy die skroef oopdraai in my mond. Sy ken die operasie. Sy hou van Leroux se apparate. Die droogpoetstandeborsel was vol in die kol. Dit gee haar ’n kans om in my mond te kom, onder my tong, agter my tande.
Droogpoets spaar jou, het sy gesê toe sy die tandeborsel uitgepak het die dag, al waarvoor ons die mond van jou moet gebruik, is sluk.
Nou, sê sy, konsentreer, haal asem.
My kake kraak.
Nog ’n bietjie, sê Agaat, sy draai aan die skroef, sodat ons mooi orals kan bykom, sê sy.
Met die laaste paar draaie kyk sy wat sy doen. Sy vermy my oë. Haar blik is stip in my mondholte. Daar is ’n flikkering op haar gesig.
In die pad is ’n gat, sê sy.
Ek ken die res. In die gat is ’n kluit, in die kluit is ’n geluid. Raai, raai, wat is dit?
Nou kyk sy in my oë.
Ons doen dit in een slag, sê sy. Dis beter as om te stop in die helfte. Anders proe jy die sleg goed, reg? En dan wil jy sluk, maar ons spaar jou sluk vir kos, reg?
Tsiemmm, gaan die borsel, tsiemmm-tsoemmm in die lug.
Ek maak my oë toe. Ek voel hoe Agaat my bolip van my voortande wegtrek. Dit kan ’n halfuur vat of vyf minute. Dit hang af. As sy trane sien, word ek gestraf. Die tandeborsel is op sy laagste stand. Dit maak ’n lae drilgeluid as dit teen my tande kom. My hele kop vibreer daarvan. Die poeier stuif in my neus op. Ek konsentreer. Ek haal asem. Ek moenie verstik nie.
Daar waar die son en die maan ondergaan, hervat sy, asof daar niks tussenin gekom het nie. Sy werk my bo-kaak se tande deur. Sy lig my lip op soos ’n mat se rand.
Bokkie ek moet huis toe gaan.
Nou onder die modderskerm, sê sy.
Sy peul my onderlip van my tandvleis weg. Vir my onderste kaak het sy ’n halleluja.
Red wat verlore gaan, sing sy, soek die wat sterwe. Sy sit die tandeborsel af.
Lê net so, sê sy, ek hoor ’n hond blaf. Sy trek die een handskoen grrrts, af.
Ek lê met my mond oopgespalk. Die lug is koud in my mond, die chroomplaat druk teen my verhemelte. Op my tong sypel die kalkerige smaak van die poeier.
Ek hoor geen hond blaf nie. Tortelduiwe is wat ek hoor.
My werf se duiwe.
Alles gaan aan soos altyd, alles sal wees soos dit was, die skaduwees van die bloekoms, die duiwe van die oggend. Reeds die volgende dag al, as ek weg is, sal vol wees van die gewone geluide, asof niks gebeur het nie. Die hingsel sal klink teen die emmer, die pakkamerdeur sal skuur oor die drumpel, die gelag van die klonkies onder by die drif waar hulle draadkar speel op die bruggie, mens sal dit tot op die werf kan hoor, soos nou, die sifdeur sal klap met die oggend se in en uit by die kombuis.
Agaat skuur haar skoene af op die voordeur se matjie. Sy kom gangaf. Ek het die bakkie hoor terugkom. Miskien het Dawid gaan pos uithaal op die dorp. Miskien was daar ’n brief van Jakkie. Of ’n bandjie met die een of ander pigmeëmusiek.
Maar as sy inkom, verklap haar blik niks van die aard nie.
Waar was ons, sê sy.
Elke oppervlak kry aandag. Sy sê niks verder van die honde nie. Ek ken haar al. Sy gaan weg en los my so net omdat sy weer wil inkom by die deur. Sodat sy ’n vars blik kan kry op haar pasiënt. Op die stand van die operasie.
In die kluit is geen geluid.
Onder is die son en die maan is onder.
En bokkie se bek is in die yster.
Sy draai die skroef los, wirrr dit in my mond, trek dit uit, ploeps dit in die water terug.
Daar is ’n bietjie te veel gebaar in die pols. Of sy blomme rangskik voor ’n gehoor.
Reg, sê sy, nou vir die afstof. Sy doop ’n depper in water. Sy vee my tandvleise uit, my verhemelte, my mondhoeke. Daar is ’n spesiale spons vir my tong om aanpaksel te verwyder.
Sê “a” vir dokter, sê Agaat.
Ek maak my oë toe. Wat het ek misdaan?
Die molhandjie se vingers vroetel my tong los. Die skroef het dit platgedruk in my mondholte. My verweerde tong, ingevalle, vervorm deur die verlamming. Op ’n tyd kon ek dit nog uitsteek en daarvoor kyk in die spieël, self die tekens lees. ’n Mens se tong verklap alles van jou ingewande.
Ek voel ’n trek aan my tong. Daar is ’n klein temptasie voelbaar in die greep: Waar is dit vas? hoe stewig? met watter stringe? hoe lank is dit?
My tong word gelyk gestryk vir sy wasbeurt.
Die sponsie is grof. Met flinke hale word my tong afgeskrop. Dit smaak sterk na peperment. Drie keer word dit vervars voor Agaat tevrede is. My tong voel weg.
So ja, sê sy, sy trek my lippe weg oor my tande om haar werk te inspekteer.
Ouooi, sê sy, volbek.
Sy laat my lippe terugsak, rangskik hulle reg oor my tande sodat ek nie gryns nie, en bekyk my hand in die sy.
Al ander opsie is om al jou tande eenvoudig te trek. Almal op een slag. Dan sit die muis vir jou geld in jou skoen. Die vraag is, sê sy, ’n glim in die oog, hoeveel spuit mens jou in dat jy heeltemal niks voel nie?
Sy draai weg vir die punchline, spreek dit uit of dit die normaalste sin is.
Jy kan mos nie wriemel of skree nie.
Sy spoel haar sterk hand af in die bakkie water.
Nou nog net die tandvleise en die verhemelte. Daarvan hou jy tog, of hoe?
Sy doop haar vingers in die pepermentmondspoel. Sy steek haar duim en voorvinger weerskante in my mond. Sy masseer my tandvleise, eers onder en dan bo. Sy kyk by die stoepdeur uit terwyl sy dit doen. Die ritme van die masseeraksie kalmeer haar. Sy word rustiger. Haar vingers beweeg sagter, meer gemoedelik op my tandvleise. Dan raak dit strelend. Vergewe my, vra die vingers, ek het dit ook maar moeilik met jou, jy weet.
Nog kyk sy nie na my nie. Jy kan nie praat nie, sê die vingers. Hoe moet ek in godsnaam weet wat jy wil hê? Dae lank sukkel jy al met my oor iets wat jy wil hê hier. Ek weet nie wat dit is nie! Ek is nie helderhorend nie!
Driftiger raak die beweging. Agaat vloek my in die mond met haar duim en indeks. Jou moer! voel ek teen my verhemelte, jou moer en jou ma se moer! Ek het nie gevra om hier te wees nie!
Ek lees haar vingertaal met my mond se vleise, toe-oë.
As ek jou bek aan die praat kan vrywe, dan sal ek dit doen, hoor! Jy beter in jou spoor trap met my saam! Jy sal krepeer sonder my! Jy krepeer klaar, ek kan nie help nie. En dis ék wat krepeer, ék is die eintlike een wat swaarkry hier.
Sy haal haar hand uit my mond. Lang drade kwyl trek sy saam. Sy trek die handskoene uit. Plaps, plaps, val hulle in die drommetjie. Sy vee my gesig af, die trane van my wange.
Dankie, sein ek vlugtig.
Nie te danke, sê Agaat.
Sy draai haar rug op my. Sy pak die goed op die trollie reg. Sy kyk op haar horlosie. Skielik is sy haastig. Sy trek die gordyne met vinnige plukkies toe, trek die dekens reg oor my.
Ek lê met my oë toe. My mond voel dood. Beter dat sy nie my oë sien nie. Beter dat sy nie nou dink ek vra haar iets nie. Ek wag vir haar hand op my skouer. Dit sou beteken: Ons doen wat ons kan, so goed ons kan, ek en jy, en: Ek gaan nie ver weg nie.
Ek wag vir haar stem, dat sy iets sal sê soos: Ek sal dink wat dit kan wees, ek sal uitvind, gee my net ’n kans, ek raai altyd reg op die ou end.
Maar sy sê niks, skuif iets kouds onder my hand in.
Grappie.
Afronding van die toneel.
Dis die klokkie.
Lui jy jou klokkie, dan lui ek myne.
Meedoënloos is haar geheue.
Ek sal die klokkie miskien kan laat wegrol oor die deken, van die bed laat afval.
Hou jy nou net op met grens, sê die blik wat sy my toewerp. Sy trek die gordyne toe op ’n skreef na, loop uit met vinnige treë.
In die voorhuis slaan die staanhorlosie agtuur. Ek hoor hoe Agaat die glasdeur van die horlosie oopmaak en hom opwen. Aan die tempo van die opwen kan ek hoor sy weet ek luister. Sy draai stadig sodat ek die ratjies duidelik kan hoor, die veer, hoe hy styf raak.
Die tyd stap aan, beteken die toemaak van die horlosie se glasdeur.
Kliks, sit sy die opwensleuteltjie neer agter die kap van die horlosie.
Tsjiek, is haar volgende geluid.
Dis die sideboard se donker deurtjie. Jy kan huil tot jy blou is, maar jou tyd het jy gehad, sê dit.
Oordenk dit, sê die toemaak. Tsjiek.
Elegante simmetrie, Agaat, daardie getoe- en oopmakery van jou daar in die voorhuis. Jy kan dit nie weerstaan nie. Die geleeg- en volmakery.
Tyd wat agtertoe wegstroom, tyd wat vorentoe aantik, tyd wat opgewen word vir die afloop.
Daar, agter die blou boekies, lê die kaarte wat ek wil sien.
En jy mag heers oor my ure wat jy daar aftel en indeel met jou skelm klein slanghandjie en jou wit helm voor die wysterplaat, Agaat. Maar daar is ook ruimte, gekartografeer, uitgestippel, onwegwensbaar, die berge, die valleie, die afstand van A tot B, bestendig in plekname, vir ’n eeu of twee of drie, Susverlore of Sogevonden.
Sou sy die kokers kan sien, daar waar sy nou buk? Hoeveel boekies sou daar nog wees wat haar uitsig versper? Daar was ’n derde pak. Daarvan het ons nog niks gelees nie. Sou dit hulle wees wat haar verblind?
Met ’n mond vol peperment lê ek.
Wat moet ek doen as ek nie mag huil nie? Om te huil is ’n laaste vermoë in my verskraalde bestek. Dis iets wat nog uit my kan uit, iets van my, iets anders as pie of poep of kondensasie. Hierdie drie. Sy sou hulle wou weeg en meet, my sweet aftrek in ’n dampdoek en opslaan in die koelhok. Ek kan dit sien op haar gesig as sy my ekskresies verwyder. Dat ek iets tasbaars afgee, het groot oortuigingskrag. Waarom is sy dan so onverskillig oor my trane? Vir hulle sou sy ’n unieke indeks kon ontwikkel. Soutgehalte, snikwaarde, soortlike gewig van verdriet. Sy sou kon proe, fynproewer wat sy is: Die smaak van skuld, die essens van amandel in my trane, en verbystering en verlange, aromas van bloekom, sweme van vinkel. Nou is die tyd dat sy eerder sou moes improviseer met my, in plaas van my nougeset te verpleeg, maar sy sien dit nie in nie. Eens op ’n tyd kon sy, maar sy het haarself dit afgeleer. Ek het haar afgeleer.
Ek luister hoe Agaat die res van die dag se take op gang kry. Sy deel bevele uit in die kombuis. Haar toon is gebiedend, sy praat stadig en met nadruk. As sy klaar is, is daar dadelik ’n versnelling in die bewegings. Die sifdeur klap. Dit sal Lietja wees wat die room en die huis se melk uit die melkkamer gaan haal, en Dawid-hulle se melk, om dit in bottels in die groot yskas te sit tot vanaand. Daar skuur die klein stoorkamertjie se deur oop.
Onthou ek die reuk van fyn hoendermeel? Kan ek die treë tel van die agterplaas tot by die hoenderhok?
Agaat gaan die kuikens kosgee, en dan sal sy terugkom en ’n paar bottels volmaak van die melk wat oorgeskiet het in die emmers. Sy sal die hanslammers laat drink, almal ’n beurt gee aan die tiet, vir die kleinstetjie die langste, terwyl sy alles saggies vir hom of haar vertel.
Agter die toegetrekte gordyne hoor ek die stoepmeubels geskuif raak. Dit is Saar. Tok, maak haar besem, tok, tok, soos sy in die stoep se hoeke uitvee. Tok, tok, tok. Hier kom haar gesig voor die skreef, ’n skuinssnit van Saar, kopdoek, bont voorskoot. Aan die spleet in die gordyne, as sy dit oplet, steur sy haar nie. Haar blik eindig teen die glasruitjies van die swaaideur. Ek kon netsowel nie hier gewees het nie.
*
Die grond is alles, het jy vir Jak gesê, gesonde grond gee gesonde diere en gesonde mense.
Julle was op die braakland waar OuKarel Okkenel en sy seun die vorige November geoes het. Dit was julle eerste Maartmaand saam op Grootmoedersdrift. 1948. Jy het op die graaf getrap, ’n stuk van die kors het losgekom, jy het ’n hand vol grond opgetel, dit gevryf, dit deur jou vingers laat loop. Dis fyn korrels wat effens kleierig word as dit natreën, jy het dit van kleins af geken, geweet hoe dit ruik as dit nat word.
Dit was tienuur in die oggend. Die son het op jou kop gebrand. Jy het Jak met moeite sover gekry om saam met jou te kom. Die vorige dag moes jy onderhandel met OuKarel.
Jy en jou trek kan aanbly op die plaas, Karel, het jy gesê, ek sal jou ’n loon betaal, maar ons gaan nou self saai.
Ai, kleinnooi, het OuKarel gesê. Jy het gesien hoe vol plooie hy was. Hy het sy hoed voor hom staan en frommel.
Ek het gedog my Dawidklong …
Jy het hom in die rede geval. Dawid kan aanbly as hy wil werk, oudste, het jy gesê, maar ek sê die deel op, ons gaan nou professioneel boer hier, julle ploeg verkeerd, die grond spoel weg, ons gaan met skeurploeë op die kontoer begin ploeg.
Jy het die idee van die grondkombers vir hom probeer verduidelik, maar hy het jou net staan en aankyk.
Julle sal julle rantsoen kry soos altyd, end van die maand, het jy gesê. Hy het net geknik, sy hoed weer opgesit.
Jak was die volgende een wat moes leer hoe dinge gaan werk.
Ek wil jou iets gaan wys, het jy gesê.
Dit beter iets groots wees, het hy gesê vanagter sy motortydskrif.
Dit is, het jy gesê. Dit is die begin en die einde van alles.
Jy het ’n graaf en ’n pik en ’n sif in die bakkie gelaai. Jy wou hom leer van grond, maar hy het net staan en kluite skop daar langs jou op die land. Jy het gedink: Hoe moet ek jou beweeg? Moet ek jóú nou eers hier tusssen die stoppels bewerk? Sal dit maak dat jy na my luister?
Dit is wat jy gedink het, maar wat jy gesê het was: Hier moet jy my tog net help dink, my man. Sonder jou kan ek nie hierdie saak aanpak nie.
Moenie dink jy kan my omkoop met vleitaal nie, het Jak gebrom.
Jy het hom op sy mond gesoen. Hy het effens weggetrek. Hy het nie gehou van soen nie.
Kyk, het jy gesê, dis nou die een tipe droëland wat mens hier kry, vlak grond op skalie. Aan die suur kant. Arm aan fosfor.
Jak het sy skouers opgetrek. En?
En dus kalktoevoegings en superfosfaat. En soutlek vir die diere.
Jy het die grondkaart met illustrasies saamgebring. Jy het ’n deeglike studie gemaak, jy het gemeen hy moet op hoogte kom van die sake. Hy wou niks weet van die nuwe publikasies oor landbouontwikkeling vir die distrik nie, wat nog te sê luister na die voorligtingsbeampte. Daar op die land onder die helder Maartse son het jy weer probeer. Jy het digby hom gestaan. Jy het gesorg dat jou heup teen sy kruis druk. Jy het vir hom die foto’s van die afgrawings gewys.
Nege duim diep op die rûens en dan klip, het jy verduidelik, dis maar ’n skraal hulpbron.
Jy het agtergekom hoe swak sy kennis is. Sy kamtige diploma, hy het net gesorg dat hy inskryf, een of twee klasse bygewoon, nooit eers die prakties gedoen nie. Jy moes hom op ’n trekker leer sit. Hy het gegril vir ’n koei se uier.
Mens kry gelerige en rooierige vlak grond op die koppe langs, het jy probeer. Mispah en Glenrosa. Soms raak dit ’n bietjie dieper. Onder aan die hellings in die ongeploegde veld is dit anders, Hutton- en Clovellygronde, mediumdiep rooi en geel gronde wat goed dreineer. Maar hier bo waar mens kan ploeg, spoel dit maklik weg, hier moet ons goeie kontoere en aflope maak.
Jy het liggies teen sy lyf gewieg, die pas aangemaak soos wat jy die inligting doseer het.
Jak het agter jou gestaan. Hy het sy lyf teen jou gedruk.
Hy het oor jou skouer gewys na die weivelde onder na die rivier se kant toe.
So hier is dit droog en daar onder is dit nat, het hy met ’n laggie gesê.
Juis, Jakop, het jy gesê. Jy het gelag vir sy toespeling terwyl jy eintlik geïrriteerd was, jy het agtertoe teen hom gedruk met jou boude.
By die rivier langs is die watertafel hoog in die winter en daar kry jy dat die grond toeslaan en versuip, daar moet ons sugslote grawe.
Regtig? Nou vertel vir my mevrou die gronddeskundige, hoe heet die hulpbron daar benede? Crumpet catch, hmm? Banana bower? Hy het sy hande op jou heupe gesit en jou styf teen hom aangetrek.
Estcourt, Westleigh, Oakleaf, het jy die name afgerits, Longlands, Dundee, Avalon. Jy het vir hom die prentjies in die boek gewys.
Sommige is vlak nat dupleksgronde en ander is nat brak alluviale sandleem of kleileem. Ook maar arm.
So hoe gaan ons ryk word op arm grond, vertel my dit? Sy mond was in jou nek, jy het hoendervleis uitgeslaan. Hy het die teken geken.
Stadig, het jy gesê, baie stadig en met verdrag.
Hy het jou misverstaan, net een ding op sy brein gehad, sy belt afgehaal, gesê hy is ’n vinnige hond, wou hê jy moet hom net daar op die oop land bedien. Maar jy het gedink die les sal makliker vat op hom in ’n koel kamer by die huis.
Dit werk maar met die meeste dinge so as dit by mans kom, het jou ma jou geleer, jy moet jou versoeke doop in ’n bietjie suiker. Onthou, die waarheid is niks op sigself nie. Verpak dit op ’n aantreklike manier.
Jy het jou bloes bo oopgeknoop en gesê dat om ryk te word op Grootmoedersdrift jare gaan vat, ’n dekade of meer. Jy het sy hand gevat en dit teen jou bors gehou en hom stories vertel van boere wat te vinnig gegroei het en net so vinnig bankrot gespeel het.
Jy het jou rok uitgetrek terwyl jy die beginsels van wisselbou aan hom voorgehou het, jy het sy gulp stadig losgemaak. Knoop vir knoop het jy die onderoppervlak-metode van bewerking aan sy verstand probeer bring. Jy het jou hande onder sy hemp ingesteek en sy tepels gevryf en vir hom verduidelik hoekom grond ongestoord moet lê vir langer periodes en dat rus die beste manier is om die grondstruktuur ryk en krummelrig te kry. Jy het jou kop gebuig oor sy onderlyf en hom ’n plesier gedoen en alles gesluk, want uitspoeg het jy geweet ervaar hy as ’n belediging.
Wel, het Jak daardie oggend in die bed gesê, sy maatstaf vir gesonde grond is goeie opbrengste.
Gereelde aktiwiteit, my vrou, dis al wat nodig is, het hy gesê, ook as ons twee wil vorentoe boer. What goes around, comes around. Of soos hulle sê in Afrikaans: Eet is lekker, stamp laat sweet.
En jy het teruggelê en hom vir ’n tweede keer sy gang laat gaan. Slaan, het jy gedink, slaan met jou swaard op die water, jy dink jy besit my, maar jy ken my nie. Dring binne, het jy gedink, dring in my in. Wat is jy sonder my oppervlakke wat jy kan breek? My oppervlakke is bloot my oppervlakke. Daaronder is ek ’n onpeilbaarheid en jy is ’n splinter in die leegte. Toe hy van jou afrol, het hy gesug en jou hand gevat, dit gedruk.
Stel jou voor, Millatjie, oor ’n paar jaar is daar sommer ’n string De Wetjies wat kan help saai en oes eendag. So ons beter genoeg wins maak om vir hulle grond by te koop.
Dit was die begin van die verskille. Jakop en Millatjie se verskille. Hy wou die groot stukke natuurlike veld op Grootmoedersdrift onmiddellik omploeg vir kleingraan. Jy het gesê dis van onskatbare waarde, julle moet dit opdeel in kampe en dit net so ongeskonde gebruik vir wisselbeweiding. Hy wou die braaklande met vyf skottels diep omkeer en skoonploeg en platsleep met ’n spoorstaaf soos hy gesien het by die ander boere. Jy het gesê, nee, ons maak die grond net genoeg los om te saai, met ’n skeurploeg sodat daar nie te veel lug inkom nie en ons anker die stoppels net liggies in die bogrond. Hy het gesê dit lyk na ’n hotnosboerdery. Jy het gesê dis ’n kombers, dit bewaar die vog, dit bewaar die stikstof. Hy wou elke jaar al die grond tegelyk vol koring saai. Jy het volgehou vierskot is die beste: Koring, braak, ouland, koring, met ’n groenbemesting soos lupiene al om die ander siklus ingeploeg en droëlandlusern onder die koring gesaai vir weiding as die oes af is. Al wat hy wou toegee, was tweeskot. Koring, braak, koring, braak. Hy wou sommer regaf met die val ploeg op die steil hellings soos die Okkenels al die jare gemaak het. Oor jou dooie liggaam, het jy gesê, daar móét kontoere kom want die grond het reeds sleg verspoel op plekke.
Die uiteinde was seker voorspelbaar.
Hy het gesê, wel, dan boer jy alleen.
Jy het gesê, maar jy is my man, dis ons twee se grond, jy het belowe om saam met my daarop te boer.
Toe jy weer sien het hy ’n lening gevat by die Landbank met Grootmoedersdrift opgeskryf as sekuriteit en nog ’n groot stuk aangrensende rûensgrond na die suide toe aangekoop.
Kom ons kyk, het hy gesê, jy maak soos jy goeddink op jou heilige ou plasie en ek boer die nuwe grond.
Die geluk was aan sy kant. Ná hy op groot skaal nuwe kunsmisstowwe toegedien het, het hy dubbeldik gesaai, nuwe variëteite kortsteelkoring op skoongeploegde grond. Hy moet oppas vir roes op die fyngeteelde koring, het jy gewaarsku. O, my liewe onheilsprofetessie al weer, het hy gelag. En inderdaad. Net goedheid en guns het hom toegeval. Geen noemenswaardige somerreëns nie, die lug droog en skoon, geen teken van swamme nie. Daardie Oktober het jy gesien hoe die boere van die pad aftrek en deur die drade klim om in Jak se lande in te stap en aan die lang vet are en die kort dik pyp van die koring te voel. Nooit weer Klipkous nie, het hulle vir mekaar gesê. Dit was die laaste ryp land waarin jy jou pa sien staan het, hand in die sy, met ’n ver kyk in sy oë.
Veels geluk, ou seun, het hy vir Jak gesê, jy bring ’n nuwe geluid hier op die ou plaas. Maar jy kon hoor sy hart was nie daarin nie. ’48 was dit, die jaar voor sy dood.
Jak het ’n groot New Holland-graandroër uit Amerika ingevoer en dubbeld seker gemaak die koring vrot nie in die sak nie. Hy het vyf woekeroeste in agtereenvolgende jare binnegehaal, nuwe voertuie en implemente gekoop, al die ou skure uit jou ma se tyd platgeslaan en groot nuwe strukture met skuifdeure en blink staaldakke gebou en nuwe stoetdiere gekoop om die bees- en skaapkuddes te verbeter.
So, wat sê jy nou, Milla my vrou? het hy gevra. Nou is dit nog net jy wat moet wys dat jy kan vorentoe boer.
Hy het teen jou maag getik soos wat mens teen die glas van ’n stilgevalle horlosie sal tik om te kyk of die wysters nie wil beweeg nie.
*
was dit die begin? die eerste voelbare begin daarvan? goeie vrydag neëntien drie en neëntig die ooie van die pase wagtend in die groen op berge en in dale wagtend op die lammerval die veraf sang van skape in die nag wyl die kudde stilaan groei en smôrens staan die eerste tweeling van april kniediep in die wei in die hawer hul ter wille staan op eerste bene in die ondergrondse klawer staan op amber kloutjies onder motreën onder ’n algemene snoet van seëning snoet van goedertierenheid gedruk teen heuwelhange staan wankelend mede met die kraanvoëls in die vleie en wat is dit wat in my vingers prik? ek hakkel dink ek van ontdaanheid in die lamtyd dit is herfs die blare val maar die keer is dit anders asof ek dragtig is aan iets of siek van daardie heimwee wat siekte voor hom uitstoot soos ’n voet my voet is swaar ek wankel my hand is swaar my hele regterkant met my lippe wil ek pase sê agaat dis pase die jaar van onse here drie en neëntig kom ons bak ’n koek ’n paaskoek om die lamtyd se ontwil geel en wit skei ek die eiers en sewe val sewe eiers op die grond ’n algemene eierval ek is onhandig kinds ’n teken van die tye ’n weemoed van die paasgety breek jy die eiers gaat laat sit my aan die tafelrand sodat ek kan sny juwele vir die koningskroon die pynappel die kersies en die vye rooi en groen en geel die edelstene en skerwe van angelika
*
4 Julie 1960 tienuur oggend
Spesiaal dorp toe met my groot lyf en al om A. se spaarboek by die poskantoor te gaan reël my kans waargeneem toe die kus skoon was & hr doopsertifkt. & hr inentingsrekords polio & witseerkeel & pokke gevat & in ’n fluweeltoerygsakkie gesit & dit in die boonste rak van hr kassie onder hr onderklere gaan bêre.
Alles weer nagegaan meer sou niemand kon doen nie meer sou verkeerd wees. J. miskien reg hieroor hoe sal ek weet. A. moenie op hierdie stadium aan meer gewoond raak nie sê hy dan kry jy naderhand net moeilikhd A. sal nooit moeilikhd maak nie sê ek J. sê dis nie sy nie dis die ander volk wat die moeilikhd sal maak omdat sy voorregte het wat hulle nie het nie. Ek vra hoe? hy sê jy weet nooit die land is onrustig die kffrs is klaar astrant aan die word in die Noorde & hy wil nie ’n klomp astrant htnts sien in die Suide nie dit sal ’n perd van ’n ander kleur wees ons wil nie ’n Sharpeville vir onsself grootmaak hier in die Overberg nie sê hy. Ek sê die mndrbevoorrgts sal altyd by ons wees. Dit help nie ons hou ons blind vir hulle nood nie.
Beatrice kom oor vir tee. Sy het ook te veel tyd op hande die vrou. Kan sy nie verstaan ek is besig nie? Tog nie lus vir skynheilige praatjies nie.
Na middagete
Vanoggend lank in die buitekamer. Alles weer gekontroleer of ek niks vergeet het nie.
Sewe onderbroeke miskien nog twee? vir geval ’n ongeluk & toe nog ’n idee gekry onderlaken opgesit & die bed weer oor opgemaak onthou hoe hewig mens kan bloei as jy jonk is.
Gordyntjie voor die klerereling trek nie lekker glad oor die bloudraad nie het kerswas gesmeer dat ringetjies nie meer die skuurgeluid maak nie het die kerswas op rak bo wastafel gesit dat A. dit kan bywerk sal gou afslyt gordyn moet maar toe wees daar altyd. Ek moes keer J. wou die venster glad toespyker sê hy wil nie elke keer as hy by die kombuisdeur uitkom in ’n meidebed vaskyk nie dis ook nie ’n goeie idee dat die ander volk sien hoe luuks A. dit het hier by die witmense nie sê hy.
Het maar niks gesê dat dit lankal my plan is om vir die volk nuwe huise te bou nie. Eerste vir Dawid-hulle die krot waarin hulle woon is nog uit Ma se tyd & die mure sleg aan die verbrokkel dak lek & daar is ’n hele string kleintjies by van D. se newe wat bygekom het na OuKarel se dood. Alle dinge met verdrag D. moet maar self solank ’n plan maak sal ’n paar sinkplate van die skeerders se kookkaias gee. Weet nie wat dan as hulle weer kom volgende seisoen nie tyd bring raad.
Almal moet nou net eers gewoond raak aan die toestand met A. in die agterplaas.
Voor aandete
Vreemde gevoel kan nie ophou skryf oor die buitekamer nie ek dink aanmekaar aan nog iets om by te voeg. Het vnggnd die Sionsbybel op die krat langs die bed oopgeslaan & toe nog ’n idee gekry & die gehekelde boekmerkie van Ma uit my Bybel gaan haal dit ingesit by Ps 23 die Here is my herder niks sal my ontbreek nie.
Kon nie ophou vroetel daar nie nes ’n broeis hen ai. ’n Takkie vinkel in die blompotjie gesteek toe laat die reuk my skielik huil seker maar die hormone wat deurmekaar is.
Het die ketel uitgespoel & bietjie water op die tweeplaatstofie gekook. Het skielik gevoel ek wil ’n koppie tee drink daar. Wou A. se beker uittoets & die beskuit wat ek vir haar gebak het proe ek het die rooibos soet gemaak soos sy daarvan sal hou & die beskuit gedoop goeie baksel lekker ryk karringmelk. Blikbeker te warm om vas te hou my vingers verbrand gewag dat dit afkoel & al A. se ander leesstof uit die krat gehaal waar ek dit gebêre het lees toe die inleiding deur Haar Edele Mevr. Dr. Verwrd in die borduurboek & dis toe heel inspirerend: Die boek uit liefde gebore vir die ontwikkeling van die volk & die huislike atmosfeer wat borduurwerk skep want dis die merkteken van ’n kultuurbewuste nasie het die woorde onderstreep & voorin geskryf: Mag hierdie boek jou nog veel plesier verskaf in die leë uurtjies op Gdrift. Dit lyk so droog maar wat anders kon ek nou skryf? Toe nog ’n plan gekry. ’n Potlood & mes om dit mee skerp te maak binne gaan kry & leë notaboekie uit J. se kantoor in hoofletters voorop geskryf: My eie Patrone & Ontwerpe moes hard druk want die buiteblad was van gladde papier en die potlood wou nie lekker vat nie & toe die borduurboek weer gebêre in die krat met die notaboekie daar bo-op.
Die ou FAK het my bietjie opgebeur. Het saggies dat niemand my hoor nie daar agter vir myself sit en liedjies sing. Die brug op ons plaas Op die dood van die uil Op my ou ramkietjie By die ou meulstroom. Sal dit haar ook troos? Die idee dat sy daar agter alleen sal sit en sing. Toe sit ek die sangbundel weer weg want toe wil ek weer net huil.
Toe drink ek die soet tee & ek lees die hoofstuk oor velle in die ou Hulpboek vir boere die afmaak van hare in semels & in mis & brei v.d. rieme tot gaar & die koor spierwit (“core”? ou boek = vol snaakse woorde & spelfoute moet vir A. attent maak daarop) & looi van klein & groot velle met vitrioel & bergbas. Metodes waarvan min mense nog weet.
Pa’t my die belang van hierdie ou kennis geleer hy’t gesê die wiel draai altyd my kind daar kom weer ’n tyd van armoe & nood & die boer wat dan nie weet van die ou weë nie sal in sy glorie wees toe huil ek daar oor Pa se onderstrepings by die stukke oor die veldverval in ons land & die uitputting & verniel van die grond. Dis wat A. ook moet leer die ou weë & die sorg vir die weerlose aarde, die pannetjies & die vleie & die “skulpaaie” & hoe ons dit moet beskerm teen die aanslae v.d. sg. beskawing want hoeveel eeue vat dit nie vir die moederrots om te verbrokkel & te ontbind tot grond nie & dan kom die mens & verwoes dit deur gierigheid & onverskilligheid.
J. is eintlik die een wat dit alles moet lees maar hy steur hom tog nie aan my nie het destyds ook gelag oor ek gesê het ek verkoop nie die donkies wat Ma aangehou het nie wat is ’n plaas sonder ’n donkie. As die ploeg gebreek of die trekker gaan staan het in daardie eerste jare & die parte kon nie dadelik van die dorp af kom nie dan kon mens aangaan met die diere & handploeg sodat die werk nie te veel agter geraak het nie. Dan het mens sommer weer ’n slaggie respek gekry vir die bloedsweet waarmee Gdrift uit die aarde gekerwe was.
Het met die potlood die sin in die Voorwoord vir A. onderstreep wat sê dat die Hulpboek die boer sal help in sy materiële groei net soos wat die Bybel hom help in sy geestelike groei & toe gaan lê ek op haar bed want toe’s ek skielik baie moeg & maak my oë toe & ek bid vir my kind wat in hierdie wêreld gebore moet word. Het seker ’n rukkie weggedommel want toe ek weer kyk was die son ’n streep oor die linoleum. Binne was die middagkos al aan die opdra J. was aan tafel daar frons hy toe hy my sien & wys met sy vurk na my kop daar’s dit een van A. se keppe wat ek uitprobeer het daar agter in haar kamer voor haar spieël so lig is dit mens kom nie eers agter jy dra dit nie. Wat is dit? vra J. is dit jou moederskappie? Gelukkig kon ek dit afhaal voor Iemand Anders dit gesien het.