Читать книгу Agaat - Marlene van Niekerk - Страница 5
PROLOOG
ОглавлениеMatwit winter. Hortende verkeer. Noodweer. En ek. Op twee plekke soos altyd. Sneeu op my skouer, maar met die Overbergse lig wat by my spook, die nat blink dinge van die winter, die opgeefsels van die somer. Tuimelende lewerikie bo die ruisende koringlande. Twitter machine.
’n Hemel, my kindertyd. Hoe sou ek dit in hierdie stad aan iemand kon vertel? Die hemel is ’n kuriositeit hier. Hiernamaals. Vreemde woord in my kop. My reaksie op die telegram ook vreemd. Eers lam, toe benoud, later trane. Gaatjie in die kopbeen. Nou is die herinneringe ’n stroom, onstelpbaar.
For parting is no single act, it is like a trailing streamer.
Daardie eerste afklim hier elf jaar gelede, styf in al my gewrigte. Nie ’n oog toegemaak op die hele veertien uur lange vlug nie. Vrees, bekommernis, skuldgevoelens. Wat was ek? Wie was ek? ’n Tiendae-baard, ’n vakansievisum in ’n paspoort, ’n los kanon sonde geloofsbriewe. ’n Boer wat asiel soek sover dit die Kanadese amptenary betref. ’n Gedroste soldaat met sy opleidingsertifikate, sy vlieglisensies, sy eed van geheimhouding. Wat meer kon ek hulle gee? ’n Belydenis?
By die huis weg sonder groet of verduideliking. Daardie oggend, donker nog, die reuk van nat roet, Gaat wat die sideboard se sleuteltjie vir my gee dat ek my papiere kan uithaal. Haar gesig vaal en treurig, haar kep skeef. Vieruur in die oggend, al een wat geweet het waarnatoe ek op pad was en hoekom. Sal ek myself ooit daarvoor kan vergewe? Om haar met so ’n verantwoordelikheid op te saal?
Wit banke sneeu alkant van die pad. Ruitveërs op hoogste stand. Ek kan die beelde nie uitgewis kry nie. Gestreepte waatlemoen onder die herneutermes, boerpampoene tussen harige donkergroen blare, ’n bruingetopte vag Merinowol wat oopval, swaar van die olie, op die klasseertafel. Blou lupiene tot aan my bors in die blom, geel room van Jerseykoeie, die geluid as mens ’n granaat oopbreek, die wit vliese waarin die pitte gepak sit. Rooi en wit, nes bloed op pasgeskeerde skape.
Here, ek klink soos my ma. Melankoliese oorgevoelige Ma. Sterwende nou. Sal sy my herken? Met die baard? Gaat sal. Teen wil en dank.
Dieselfde droom gehad, oor en oor die laaste tyd. Gaat wat my roep, ons wat mekaar roep. Wakker. Stoornis. ’n Afgrond waar die slaap moet wees. Die geroep met ons hande bak voor ons monde, sy onder op die werf in haar wit voorskoot, sigbaar vir my waar ek wegkruip in die klowe bokant die huis. Later lang fluite wat mens agter op die droëland kon optel as jy onder die wind was. Nog later die geblaas op Hubbly Bubbly-bottels.
Stadig na die oppervlak, wakker van fluite gedra op die wind. Oopoog in Toronto. Nagmusiek. Tot ek weer insluimer, droom dat ons vir mekaar seine stuur op die bokramhoring, sagte lae note. Hoe versigtig moes ons nie wees wanneer ons die keiserskoenlapper gesoek het in die bos nie. Vaalswart, toegevou in die skaduwees tot hy sy vlerke oopmaak, net die een kant blou, flonkerend, oorwasem van silwer dat jou hart daarvan oorslaan.
Lekhart.
Aanmekaar die blou flikkering tussen die swiep van die ruitveërs. Sout op die pad, prut van smeltsneeu op die voorruit, op die agterruit. Lapis lazuli flikker dit, die kleur in die droom, ’n blou van oomblik tot oomblik anders, tussen die in- en die uitasem, dan op die een vlerk, dan op die ander. Boek van vespers. Apatura iris. Die reuse-keiserbosvlinder.
Mirakels. Katastrofes. Kontinent wat sy grondwater aanvul met bloed en met bloed bemes. Wie het dit geskryf?
Hier is die bloed klaar vergiet. Koud. Die slagtings effektief herdenk, funksioneel verpak, sanitêr. Net ek, varser gesny deur die geskiedenis, wat my eie weg soek in die koel argiewe. Cut grass lies frail. My reuk lok ander weerloosheid. Gister die Sainte-Marié-lêers gekry, Bleeding Heel, Broken Shoulder, Wounded Knee, vir die nuwe instrumentestudio in Toronto. ’n Perkussieteater waar die besoeker saadpeule sal ratel, die tinsimbaal met ’n hand vol gras bestryk.
Toe ek by die huis kom, lê dit daar. Op die voorstoepmat, in die sneeu. Poskantoorkoevert.
MÊME OP STERWE STOP BEVESTIG KOMS STOP LIEFDE AGAAT
Elf, amper twaalf jaar. Sal ek Ma nog herken? Op die laaste foto wat Gaat gestuur het, was sy klein tussen die pluimbosse in die voortuin, oë diep in hulle kasse. Amper heeltemal grys. Het ’n boek by haar gehad, wysvinger tussen die bladsye. The World’s Famous Piano Pieces. Het dit herken aan die dofpienk omslag. Altyd vir haarself gesit en sing van die blad af. Sodat ek nie verroes nie, het sy gesê.
Ma en haar airs, Ma wat gedroom het: Klein Jakkie de Wet, die liedersanger, beroemd van Hottentots-Holland tot Wene. Lieder eines fahrenden Gesellen. Inderdaad!
En Agaat, pokerbluf op die gesig, jakopeweroë waarmee sy jou sonder ’n enkele woord kon regsien, die blik wat sy dae lank kon afskakel om jou te straf. Houtoog. Hoe oud was sy toe ek daar weg is in ’85? Sewe en dertig?
Gaat, Ma se verpleegster. Here, dit sou ’n toneelstuk moes wees. Mourning becomes Kamilla. Of nog beter, The Night of the Nurse.
Gaat met haar stywe kep, verre besneeude piek wat sy soms na my toe afgebuig het dat ek dit van naby kon bekyk, dat ek – nét ek – daaraan mag raak, die fyn handwerk, wit op wit, waarvan ek nooit genoeg kon kry nie. Die naald flitsend in haar hand voor die kaggel, Gaat se linkerhand waarmee sy houte in die Aga se bek gesteek het, hom gestook het dat hy dreun, sterk warm hand waaraan ek die wêreld verken het – éne vínkel! Die verkeerdom arm se handjie ekstra diep weggesteek as sy Ma se vriendinne moes bedien, of die dominee op huisbesoek.
En ek wat moet sing vir die mense, Ma wat begelei. Here tog. Gee my ’n bok wat vlug oor die rant, Heidenröslein, afhangend van die gehoor.
Hoe is dit daar, daar waar jy grootgeword het? Jou land? Die ewige vraag toe ek aanvanklik hier gekom het. Altyd Larkin as antwoord gegee: Having grown up in shade of Church and State … Jare gevat voor ek my eie ryme kon aanlê om die soetheid, die wreedheid in een herinnering te bind. Later het niemand meer gevra nie. Toe eers kon ek fantaseer oor ’n ander antwoord.
Onderdeur die slagboom, ’n rooi elmboog. Parkeerskyf in my palm, koud, glad, obool met loodstrook. Aljander deur die bos. International Departures.
Was dit namens Ma, of heimlik opgedra aan haar, die fantasie van ’n lied, ’n alternatiewe antwoord vir my nuuskierige ondervraers?
Kyk, Moeder, ek het niks daarvan vergeet nie. Ek sal sing vir jou. Van die voetheuwels voor die opstal, die een gestapel op die ander, die verskillende gele en groene van fynbos, pienk en pers kolle vygies en kataar. Of van die berge sal ek sing, maar in ’n yler register, ’n wyer perspektief, die poeierblou kanteel wat die oog van die reisiger vashouplek gee al langs die kusroete.
My fantasie. Altyd die aanhef oor die riviere, die vleie vol soet wit blommetjies in die voorjaar. ’n Kantate van die groot bruin rivier, die Breërivier, sy opvang diep in die Grootwinterhoek, gevoed uit die afloop van varingpunte, van windgroewe in klip, tot ’n handbreedte stroompie, ’n oorspringsloot tussen ystervarkriet, ’n mistige waterval waar die rooi disas wieg in die sog. Totdat alle watervalle saamvloei oor ’n bodem van swart rots, en die stroom begin insny in die droë land, ’n kronkeling van sy eie vind, uiteindelik ’n waterweg word, breed genoeg vir bote, diep genoeg vir brûe, vir ponte, vir aanlegplek en handel.
Deeze stroom, de eerste welke men in Europa de naam van Rivier zoude geven, volgens Di Cappelli. Voorts Rio de Nazareth, Le Fleuve Large. Hottentotname sekerlik, maar wat is daarvan oor, en wie gee nog om? Die Sijnnarivier, miskien afgelei van die Nama, Sunnu-!a, Bakleirivier?
Wie het my dit die eerste keer vertel? Moes Ma gewees het.
Bakleiland.
Kakofonie.
Check-in counter. Venstersitplek of gangsitplek. Vinkel en koljander. Boarding pass. Charon agter rekenaarskerm.
Bosse. Diep geheimsinnige bosse. Koloniesbos, Duiwelsbos, Grootvadersbosch. En berge. Trappieshoogte, Tradouw, Twaalfuurkop.
Die riviere van my kindertyd! Hulle was anders, hulle name kan nie sê hoe mooi hulle was nie: Botrivier, Riviersonderend, Kleinkruisrivier, Duivenhoks, Maandagsoutrivier, Slangrivier, Buffeljagsrivier, Karringmelksrivier, Korenlandrivier. Kronkelende, hoopvolle, klipperige riviere. Wat sou van hulle oor wees?
Die riviere se skuld sou dit nie kon wees nie. Not of thy rivers, no. My country ’tis of thy people you’re dying. Waar, by wie het ek dit die eerste keer gehoor? Buffy Sainte-Marié met siddertremolo en mondboog, musiek op ’n wapen? Daardie oomblik van verheldering, die besef! Vyf en twintig, nie te oud om van voor af te studeer nie. Lettere, musiek, geskiedenis. Minder ambisieus as sommige van my tydgenote. Die fyn opgevoedes, die intellektuele, ongelooflik hoe hulle gekies het om te lewe na die gemors in Angola. Aanval en verweer soos altyd, die een na die ander selfregverdigende outobiografiese geskrif, variante van die Hemingway-opsie. Hoe jy op ’n beskaafde wyse by ’n onbeskaafde plek kom. En daar bly. ’n Verbete gestoei met moeder natuur. Ek kon nie aanklank vind nie.
’n Vel papier en ’n potlood geneem as die mense hier my uitgevra het. ’n Kaart geteken, ’n blokkie uitgelig uit ’n kaart van Suidelike Afrika, uit die onderpunt, uit die Suidwestelike Kaapprovinsie, dit uit die vry hand uitvergroot op ’n vel papier. Op die grondpad tussen Skeiding en Suurbraak, parallel aan die snelweg van die tuinroete, parallel aan die kuslyn vanaf Waenhuiskrans tot Witsand, tussen Swellendam en Heidelberg. Dáár. Vyf kruisies. Vyf plase in ’n vrugbare bekken, genestel teenaan die voetheuwels van die Langeberge, die reeks wat strek van Worcester af tot in die ewigheid waar dit oorgaan in die Outeniekwa. Grootmoedersdrift, die middelste plaas, tussen Frambooskop aan die oostekant en The Glen aan die westekant. Dáár. Uit die middelste, tusseninste plek. Dubbelsinnig gebore, bláás, bláás, – dáárdie verhaal! – watervalle in my ore. Miskien is dít wat my gered het van voltooidheid.
Vertaal Grootmoedersdrift. Probeer dit. Granny’s Ford? Wat sê dit? Karre was daar nog nie toe die plaas, genoem na my berugte oergrootjie Spies aan Ma se kant, sy naam gekry het nie. En na die vlak drif naby die woning. Gevaarlik in die reënseisoen, die brug oorstroom, glad van die slikmodder, soms weke afgesny van die grootpad. Mens moet stadig daar. Soos ons almal weet. Soos ons almal mekaar altyd gewaarsku het.
Stadig oor die drif!
Nou het ek net myself om te herinner. Gesig geskandeer deur die paspoortkontroleur. Charon agter koeëlvaste glas.
Net een keer in my lewe die drif heeltemal droog gesien. Skedelrige klippe, die stowwerige wattelbosse. Net gestaan en staar daarna, verbysterd deur die stilval van die paddas, die verdwyning van die waterhondjies.
Gyrinus natans. Die vraag het my altyd gekwel: Wat word van die waterskrywertjies as daar geen water is nie?
Sulke kwessies sou hulle nie interesseer nie, Moeder. Ek kon hulle aandag sien dwaal by die besonderhede, die topografie van my eerste wêreld, die bewerige lyntjies wat dáárheen gelei het, jóú werf, Grootmoedersdrift. ’n Entjie verder af langs die drif, aan die pad se kant, die werkers se huisies.
Dawid, sal hy nog daar wees? By die indraai van die plaas, in die eerste van die vier huisies aan die rand van die sloot?
Swart vuurherd en blikkitaar. Draadkarwêreld. Wit beenfluitjie in ruil vir ’n Dinky Toy. Was ek een keer daar binne-in, twee keer? Ek en Gaat? Met medisyne, ’n emmertjie melksnysels? Die reuk van roet en menselywe, die skemerte. Foeitog, Gaat, hulle het dan nie eens beddens nie. Los uit, Boetie, kom ons loop nou, help jy een, sit jy naand met ’n hele geskiedenis.
’n Hangbrug vanaf Dawid se voordeur tot in die swart wattelboskaas op die oorkantste wal. Lendelam en vol gate. Verbied om ooit ’n voet daarop te sit.
Flight AC 52 to Cape Town now boarding. Reisiger omwille die reis. Nomaad sonder trop. Veiliger so. ’n Hoorder by die tentseil, ’n oor, ’n oog, dis al, dis genoeg. Maar wie kan ’n etnograaf wees by sy moeder se sterfbed?
As die nuuskieriges aangedring het, het ek soms tekenaar gespeel, op ’n tweede vel papier rofweg die huis geteken waarin ek grootgeword het.
Die opstal van Grootmoedersdrift, half H-vormig, die linkerbeen korter as die regter. Die stoep voor en aan die oostekant, die agterplaas oop na die suide, met stoorkamers, ’n bediendekamer, Gaat se kamer. Voor twee wolfneusgewels met groot vensters, Ma se kamer regs, Pa se kamer links. Die verbrokkelde duiwe in vlakreliëf onder die oorhang. Dekriet. Voor die huis na die noorde, die strook gelyk rivierland tot teenaan die rivier. Aangeplante weiding vir beeste, ’n soom van inheemse bome langs die water, swartolienhout – vlam in die hart – (Olea africana), opregte geelhout (Podocarpus latfolius).
Die lied. Die ander antwoord vir my ondervraers. Fantasie vir ’n besneeude boer. Vir rietjie, vir trompie, met gesnuif, woordeloos. Here, sien ek kans hiervoor? Al die jare. Please fasten your seatbelts.
Vinnig stygende reeks heuwels oorkant die rivier. Diep klowe begroei met beskermde bos, die ou laning wildevye langs die tweespoorpad. Populierbos – fluisterpopuliere. Werf met skure, stalle, melkstalle en voerstalle. Jerseys. Ma se blomtuin waarvoor sy gelewe het. Gelewe het. Links die dam. Agter na die suide, oorkant die drif en die grondpad, die droëland, vir koring en skape. Kleinerige ronde rûens, die boonste gedeeltes bebou, tussenin steil stukke growwe bossiesveld. Heuwels met slaaplandjies van gras en sagte bossies en bloekomplantings rondom skaapsuipings.
Suipkrip. God, die woord. Pa se woord as hy nie van iemand gehou het nie. Suipkrip, giergat, smoorgewas. My grandiose koppige oukêrel, my mos moer toe gedril met tydrenne hardloop op plaaspaaie. Hindernisse deur spoelslote, oor suipkrippe. Miltsteek. Liesbreuk. Op en af in daardie berge. Dit sal ’n man maak van jou. Wat sou hy nou van my gedink het, ’n wolmus met ses somerhemde in ’n tas, skoenlapper in die hart? Oop en toe gaan die vlerke. Bestaan daar ruitveërs vir melankolie? No electronic equipment, please.
Vertalings vir wolfneusgewel, rûens, droëland, drif. Dink dit uit. Altyd ’n gelag by die werk, gemoedelik, kollegiaal, oor my pogings: grove of whispering poplars. Ek romantiseer, sê hulle. Quite a fan of the homely hymn, dis waar. Heimwee na die melodie en so. Maar dis net die helfte. Die res is granular precision, onsingbare intervalle.
Charon met passasierslys. Dr. de Wet, are you comfortable? Do you need assistance with your coat?
Almal dra ’n jas.
Sien hulle deur my deesdae, die ouer studente? Wil hulle my laat praat, my op dreef kry? Dink hulle ek moet gebloei word soos wat mens maak met koorsige perde, met verliefdes, met treurendes? Wat sal húlle nou weet van sulke ou boererate, ’n klomp kontemporêre musiekkenners, wát hoegenaamd vermoed daarvan? Van die noodsaak van vertel? Van die onderhuidse refreine?
Die blikkie se boom.
Now ready for take-off, please check that your seatbelt is securely fastened, baggage safely stowed away, emergency procedures in the seat pocket in front of you.
Ek bepaal my meestal by die klimaat as hulle uitvra.
Laat val soms per ongeluk iets, ’n indruk, oor die Breërivier, De Breede Rivier ten hoogte van Malgas.
Windharp.