Читать книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen - Страница 11

7

Оглавление

Kwart oor vier daardie oggend swaai Zacharias sy bene van die bed af. Sy kind is terug. Sy lê soos kleintyd in haar solderkamer onder die velkaros. Hy soek met een voet na sy Wellingtons en vat-vat na sy pyp. Hy steek dit dadelik in sy mond en laat die ronding van die babakalbas in een hand rus terwyl hy met die ander na die tabaksak soek. Die koue smaak van die hol pyp is tegelyk bekend en sleg.

Die vel van sy tabaksak voel klam en is kouer as twee weke gelede. Die winter het teen hulle kom opkruip. Daar is alreeds minder voëls in die granaatboom voor sy venster. Daar is die konkareuk van vroeër vure wat van Jantjie-hulle se huisies na hom toe optrek. Hy sal maar sy skaapvelonderbaadjie aantrek wanneer hy Shamal uitneem vir haar jag. Waarskynlik die laaste, want die meeste eende is al vort oor die koue.

Zacharias snork om die nagslym los te maak. Hy bondel dit agter in sy keel saam en stuur dit met ’n geoefende tong tot in die holte van sy harde verhemelte. Toe leun hy vooroor, kom op sy voete, skuifel drie tree tot by die venster en lanseer ’n silwer verskietende ster bo-oor die vensterraam. Deurentyd stamper sy regtervoorvinger, swart gevlek aan die punt, pluise tabak in sy pyp. Hy haal die vuurhoutjiedoos uit sy tabaksak en skud dit sonder om sy oë van die kim af te haal. Hy trek ’n vuurhoutjie en hou dit bo die bek van die pyp. Die vlam lek ritmies in op die twak. Paf-paf, drie kortes, in en uit. Die vierde en vyfde teug is diep en intens, smakkend aan die geure van esdoring, kersie en rum. Zacharias maak sy oë toe en hou die rook daar, tot dit in sy neus opslaan. Daarna maak hy sy oë oop en laat die klam bolling rook vry. Op die rug daarvan is ’n digte wolk van sy eie wit winterwasem.

Dis ’n goeie dag om Shamal uit te neem vir jag. Sy kop is gisteraand skeef gevang so met die kind wat skielik op sy drumpel kom staan het. Vandag sal hy Shamal lank vry laat vlieg. Sy het mos nou al bewys dat sy weer terugkom vuis toe.

Zacharias loop hangkas toe en vroetel in die donker totdat hy die onderbaadjie raak vat. Hy trek dit oor sy slaapklere aan en prop die tabaksak in sy bosak. Sy beeld is grys en groot in die ovaal spieël toe hy die kasdeur toedruk. Hy kantel sy kop vorentoe en vryf oor sy baard terwyl hy na homself kyk. Hy vat aan sy neuspunt en voel hoe die oggendvog aan sy vingers agterbly. “Wintersnot,” sê hy met die skorheid van ’n eerste oggendstem. “Vanaand pak ek vuur.” Toe hy wegdraai van die spieël af, tik hy met sy hand op die tabaksak om seker te maak dat die vuurhoutjies daarin opklink.

In die kombuis ruik hy die koue moer van die vorige nag se koffie. Daar is nie nou tyd vir vuur maak nie. Zacharias gooi die bodeur oop en snuif aan die lug terwyl hy sy leerhandskoen van die spyker afhaak en oor sy regterhand trek. Hy voel hoe die punt van sy neus rooi brand van die koue. Met sy knie lig hy die houtgrendel op en stamp die onderdeur oop.

Terwyl hy valkhok toe stap, fluit hy saggies hulle lied. Sy en Shamal s’n. Zacharias soek in die halfdonker na sy valk. Die een wat hy na ’n woestynwind genoem het. Verskroeier van die aarde, in Arabies.

Sy sit op die hoogste sport van die houtstellasie wat hy destyds vir haar gebou het. In die skadu van die regterhoek, met ’n gluur in haar kyk, gif op die oog. Gaan weg, krys haar lyf. Die regtervlerk in klein plukkies van irritasie terwyl sy haar kloue versit, die een na die ander oopstrek, die naels krom en veragtend, asof sy regmaak vir ’n aanval. Dan verstil die valk soos ’n opstopdier en klou aan die houtsport vas asof die wêreld enige oomblik gaan kantel.

Shamal is in ’n bui. Zacharias hou op met fluit.

“Ek weet jy het honger, en dis goed so.” Toe die sin uit is, weet Zacharias dat dit die voël verder gaan ontstig. Shamal draai haar lyf weg. In moedswil hou sy egter haar klein, vasberade koppie gekantel in sy rigting, een swart oog gloeiend op hom gerig.

Zacharias maak die sifdeur versigtig agter hom toe en gaan staan wydsbeen met sy hande in sy sakke. Hy begin weer fluit aan die verlokkingstoneel uit Carmen.

Deur koorsige dae en slaaplose nagte, die muwwe skuur, fleskoffie, Pro-Vita en peanuts, die onverbiddelike valk, was dit hulle albei se redding. Carmen. Altyd dieselfde klank, dieselfde toneel – voorspelbaar, verleidelik, koketterig – die verleier en die objek, die meester en sy onderdaan, mens en sy dier.

Die dag toe hy, drie jaar gelede, met die jong valk in die houtkrat aangery gekom het, was dit die musiek wat vanuit Lea se solderkamer gekom uit. Sy wou niks weet van die nuwe valk nie, het ook nie afgekom toe sy Studebaker voor die agterdeur tot stilstand gekom het nie. Nóg ’n valk om sy obsessie te voed, sou sy gesê het. Nóg ’n rede om homself te isoleer, sou sy gedink het.

Om die verwilderde valkkuiken nie verder te verwar nie, het hy die verlokking van die musiek nagefluit. Op daardie oomblik het dit húlle musiek geword, sy en Shamal s’n.

“Kom, jy het honger.” Hy hou sy regterarm na die valk uit. Dieselfde arm wat onder die dik, gewatteerde lap die letsels dra van haar kloue. Haar opvlieënde buie, koorsige aanvalle, die byte wat bloed getrek het. Die lap ruik na die olie van haar vere. Die harde vere wat soms koel onder sy vingerpunte voel. Daardie onverwagte oomblik waarin hy toegelaat word om haar aan te raak.

Toe Zacharias met die valk op die arm oor die werf stap in die rigting van die koppies, staan Lea op die bopunt van die buitetrap. Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om saam met hom te gaan stap, maar die intimiteit van die manier waarop hy sy kop dig teen die valk hou, weerhou haar daarvan. Sy tree terug in die deuropening en wag tot Zacharias klein word op die kim. Sy sal liefs die dag begin met ’n sterk koppie koffie. En Krisjan sal altyd daar wees.

Chinchilla

Подняться наверх