Читать книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen - Страница 14

10

Оглавление

Die volgende oggend staan Zacharias weer vroeg in die valkhok. Hy loop nader aan die houtstellasie en hou sy arm uit vir Shamal. Die jagseisoen is nou verby. Een van die dae is die water in die dam weer so vasgevries dat g’n eend daarop kan hou nie.

Van nou af sal hy Shamal op die voerblok laat eet: halfbevrore kuikens, lysters, fisant, wat hy ook al geskiet kry. Dan is daar darem altyd die geslagte chinchillas. Hy glo dis deel van die rede waarom Lea sy valke so verpes, alhoewel hulle nooit direk daaroor gepraat het nie. Krisjan gooi die das in die vrieskas, en hy gaan haal dit uit. Niemand sê niks.

“Kom-kom, tyd vir ons stappie.” Shamal roer nie, bly sit met haar vlerke knopperig van hom weggevou. Hy verbeel hom die vuis- en blokvoerdery maak haar lui, verwen haar. Wanneer sy genoeg gehad het, kyk sy hom nie eens aan nie. Die swart van haar oë dof van miskenning. Sy fluite gaan by haar verby.

Elke oggend moet hy haar weer terugwen, probeer om herkenning in haar oë te sien blink. Hy gaan stap ekstra draaie met haar, soggens voor die son opkom en saans as dit gaan sak. Lang, stil roetes teen die koppies uit.

Soms steier sy in woede van sy arm af, klap haar vlerke en skree soos ’n mal ding. Asof sy hom nie ken nie. As hy haar aan die jessies terugpluk op die vuis, hou sy haar bek oopgesper, die tong gebol van veragting. Draai selfs kop weg van ’n repie lewer.

“As jy vanoggend gat wip, los ek jou heeldag sonder kos.” Hy is skoon op sy senuwees omdat Lea aangebied het om saam te kom valkloop. Dit het nog nooit vantevore gebeur nie. Hy hoop nie die kind wil met hom praat oor dinge wat hy niks van weet nie.

Hy kan mos sien hoe sku sy loop vir mens noudat sy terug is. Blou sekels onder die oë, en pal by die das. So sonder taal. Hy’t geweet die vent met die blink skoene wat hier kom locum het in Scheltema se plek, gaan skeef trap. Hy het haar al eintlik eerder terugverwag. Maar jirreweet, nie só kliphard en krom nie.

“Kom, jy moet klim as jy wil uitkom.” Paai gaan hy vandag nie. Shamal strek haar lyf en flap met haar vlerke, laat ’n reeks skelnote los en draai haar rug op Zacharias. Pluk die koppie na links, na regs, versit die kloue, los ’n streep mis wat langsaam van die onderste sport afdrup. Weer sien Zacharias die breeklyn aan haar stertvere. “Sal jou stert binnekort kom inplant.”

Toe hy omdraai, staan Lea agter hom.

“So daar’s meer van ons met gebreekte stertvere.” Sinies, sonder skaamte. “Los die voël, Pa. Ek het Krisjan gevra om die kapkar in te span. Kom ry liewer saam met my.” Sy loop nader en begin die leerhandskoen van sy hand aftrek. “Ek wil Salpeterkop toe. Nelis Symington het gesê ek kan ’n paar lawaklippe kom haal vir die nis van my kaggel.”

“Waffer kaggel?”

“Ek gaan vir my ’n huis bou.” Sy hou die sifdeur vir Zacharias oop en volg hom kombuis toe om die leerhandskoen aan die spyker te gaan ophang. “In die hoek langs die Adamsvyboord.” Sy stoot haar hoed uit haar gesig. Klaar. “Krisjan het al begin sandsteen dress.”

Voor die agterdeur staan die swart perdekar met die frilletjieskap. Die enigste ligsinnige aankoop wat Zacharias ooit gemaak het. Die dag toe sy stoetram met al die pryse op skou gestaan het. Krisjan het hom by die hotel afgelaai en laatnag saam met Mordechai en Pluiskeil een vir een huis toe gery. Skeefgedrink.

Op pad terug plaas toe het Zacharias by die vensterraam uitgehang en maansiek die nag in gehuil. ’n Verdrietige weerwolf, saf van die verlange na sy dooie wyfie. “Sing vir haar, Krisjan,” het hy gebrul. “Sy moet weet ek gaan haar kom haal met my surrey. Net’ie vanaand nie,” het hy gemompel. Die frilletjiesoom swart soos ’n roukleed op sy sweterige voorkop. Krisjan wat hom eers troos met ’n neurie en toe hy slap terugval teen die sitplek, helder lostrek uit Oklahoma:

When I take you out tonight with me

Honey, here’s the way it’s gonna be

You will sit behind a team of snow-white horses

In the slickest gig you’ll ever see

Chicks and doves and geese … in a scurrey

When I take you out in the surrey

When I take you out in the surrey

with the fringe on top …

“Jou eie, aparte huis,” sê-vra hy aan Lea terwyl die kapkar skeef trek met sy gewig. “Meen dit nou jy’s klaar rondgeneuk?”

Sy kry haar sit langs haar pa, bly in opstand stil. Met een hand kap sy teen die flank van die kar. Maar Zacharias, wat gewoonlik nie pluis sit met praat nie, is nou moerig op dreef. “Elke nou en dan is jy vort. Niemand hou by nie. Loop weg van varsity, pak vis in Ysland, pluk druiwe in Spanje, wie weet waar nog? En Namibië? Ons het net mooi fokkol van jou gehoor. Vir twee jaar? Nee, man!”

Sy stem is hees van die skielike drif. Hy trappel met een been rond soos ’n dier oorval deur ’n wilde reuk. “Jy moenie dit aan ou Krisjan doen nie. Hy kry elke keer swaar.”

Lea skop haar bene reguit en skreeu by die kap uit op Krisjan: “Kap aan, kap aan!” Sy wring haar hande in haar broeksakke en draai haar gesig weg van Zacharias. “Die veld is droog,” sê sy oplaas.

Die wiele suis in die stofpad af. Drie hadidas trek honend oor, die perdepote kap ritmies.

Zacharias het homself in ’n hoek ingepraat, skielik bang dat die kind wel gaan verduidelik hoekom sy so verrinneweerd hier sit. “Ja, die wêreld is diep droog,” sê hy en trommel met sy vingers op sy bobene.

Lea maak haar serp los, bekyk die patrone daarop en vou dit omsigtig terug om haar nek. “Gaan Pa bly voer koop of begin skaap wegmaak?”

Zacharias sug verlig. Sy gaan nie praat nie. Verder gaan hy ook nie aan haar neuk nie. As sy eers gifoog gegooi het, soos Shamal, moet jy weet die hekke is toe. Mos sy eie kind.

“’n Boer van Ceres kom laai einde van die week drie vrag skaap.” Trommel, trommel die vingers. “Is nie nou ’n tyd vir goeie prys kry nie,” lig hy sy skouers, “maar voer koop, kom te duur uit.”

Voor die kar stop by Vrede se plaashek, is Lea reeds buite. “Sit,” wys sy vir Krisjan en gaan gooi self die hek oop. Soos Zacharias verby haar skuif, hou hulle mekaar se oë vas.

Jy hoef niks te sê nie, troos sy oë.

Kan nog nie, kyk sy terug.

Toe sy terugspring in die kar, is die lug nie meer so kil en koud nie. Die son blink reeds op die lawaklip. ’n Paar honderd meter ver toring Salpeterkop se wit kraag rondom sy uitgewoede bek.

Zacharias fluit uit Carmen terwyl hulle lawaklip bymekaar maak. Dit gaan vreemd wees om weer sy meisiekind op die werf te hê.

Ek sal uit sy pad bly, dink Lea. Hy’s ’n man vir sy valk en sy skaap; van menswees weet hy min.

Terug by Bloutuin wag Bastos hulle by die hek in. Hy het ’n swart bandana om sy hare gebind. Sy wange is syig van die donker baard. Hy lig sy hand tot by sy oogbank en salueer toe hulle verbyry. Tartend verseker van sy plek.

“Hoe het hy hier gekom?” vra Lea met ’n lae stem.

“Hy’s ’n vellemeester. Doen al jare die uitvoer na Europa.” Zacharias hou sy hand op die deurknip en loer onder sy wenkbroue deur na haar.

“En nou kom slag hy op ’n plek soos Sutherland? Tien chinchillas ’n maand? Wat maak die man met sy tyd?”

Sy bly stil toe Bastos die deur oopknip, skuur kromrug verby hom, oë op die grond. Toe sy langs hom staan, vat hy haar aan die arm. “Daar is twee wat, volgens my, reg is vir slag. Wil jy kom kyk?”

Sy gril teen haar rugstring af. “Ek kyk nooit.”

“Keur dan net die pelse. Krisjan sê jy is die een wat ontslag moet gee.”

Lea gee twee treë weg van die Portugees af. Die man laat haar vel kriewel. “Ek dag jy’s ’n vellemeester.”

“Ek is, maar jy’s blykbaar die boer.” Hy tol om en laat ’n wit draaikolk agter in die amandeldoppe. “Hulle is reeds in die slagkamer. Ek slag binne die volgende uur.”

Sy kyk hom agterna. Hy loop asof die grond waarop hy trap aan hom behoort. Bliksem.

Krisjan kom vat haar aan die skouer. “Gaan blaas maar gou oor die das om seker te maak. Mens weet nooit of daar al weer moult-kolle onder by die stert bygekom het nie. Toe-toe, gaan nou. Als is reg, moet jy net nie worry nie.”

Chinchilla

Подняться наверх