Читать книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen - Страница 6
2
ОглавлениеDie tweedag-treinrit vanaf Swakop laat Lea verslete voel. Die aarde beweeg onder haar wanneer sy stilstaan. Haar kop voel hol en haar ore is dof van die treinwielritme toe sy op Worcester-stasie aankom. Sy oorweeg dit om eers hier in ’n klein hotelletjie tot verhaal te kom, voor die tog uit Sutherland toe, maar die gedagte maak haar angstig. Sy wink ’n taxi vanuit die skadu van ’n streep bloekoms nader. “Poskantoor, asseblief.”
Sy rol dadelik die agterruit af, want die bestuurder se vel damp van die vorige nag se drank. Verby hulle skuif massas Saterdag-drentelaars met arms vol kinders en inkopiesakke. Die lug ruik na boerewors. Oor ’n luidspreker hoor sy hoe die middag se dorpsrugby verkondig word.
Voor die poskantoor waar die taxi stilhou, sit ’n blinde man en speel op ’n klawerbord. Langs hom sit sy blinde gesellin en sing met haar gesig gelig na die donker son. Sy het haar wit kierie geanker in die laphoed wat voor haar voete lê. Lea gaan maak haar beursie in die hoed leeg, ’n bondel Namibiese dollars en enkele munte.
Toe sy die poskantoor instap om Zacharias te bel, sien sy hoe Kat Toelies ’n possak agterin sy waentjie laai.
“Is Sutherland op jou roete?” vra sy vlak agter hom.
“O, gottatog!” Hy vlieg om en gryp met pofferhande na sy bors. Sy ronde gesig verloor vorm soos hy lag toe hy die vroumens agter hom sien. “Op roete, ja!”
Hy vryf sy hande teen mekaar en kyk skreefoog na haar, kop gekantel. ’n Vrou van vroegdertig. ’n Bos donker hare in ’n vlegsel oor een skouer. Haar onderlip gebars soos een wat uit die droogte kom. Haar dun nek laat die kop met die hoed buite verhouding met haar skouers lyk. Maar dis die leeuoë in die skadu van die hoedrand wat hom tot orde roep.
“Ma’ is jy nou, of is jy nie …?”
“Ja, ek is,” knip sy hom kort. “Zacharias is my pa. Ek wil saamry Sutherland toe.”
Op pad tel sy die garingbome, dig teen die pad. Hulle is almal nog daar. Ook die skraal wilgers met hulle takke soos waterstroompies wat afwaarts gevries het. ’n Bleeksingvalk op die telefoonpaal. Die roeserige kliprante. Verlatekloofpas.
Om op die vooraand van die wit winter op Sutherland aan te kom pas haar. In die maand van Mei. Dit beteken dat sy haar sal kan toevou, en weghou van die ander.
In die pas staan die tolhuis afgeëts teen die skemer, klein en enkel. Die mure stom gekalk, en gevul met gekwelde geeste. Kat Toelies skel die bobbejane wat, soos hy glo, die klippe kransaf rol vir hulle plesier. Sy waentjie kreun as dit uitdraai vir die gebreekte rotse in die pad, en om die haarnaalddraaie beur dit na bo. Sutherland lê hoog, soveel nader aan die sterre as enige ander dorp waarin sy al ooit was.
Twee uur later stop Kat Toelies met sy poswaentjie voor Sutherland se hotel. ’n Flou lig skyn onder die toe voordeur, waar die twee sementleeus voorheen aan weerskante van die fasade gesit het, is nou lampe met blouerige ligte in. Sterrewag-besoekers word in drie tale welkom geheet. Links van die hotel klou die off-sales soos ’n bang kind aan die moedergebou. Vyfliter-papsakke for sale. Regs om die hoek is ’n nuwe koffiewinkel wat op ’n swartbord in die venster melktert en maaskaastert aankondig.
“Ga’ jy nou regkom, kind?” vra Kat Toelies met sy hoed in sy hand. Die vroumens wat so sonder woorde by die ruit sit en uitstaar, het hom skoon op sy senuwees. Hy skommel sy kunstande teenmekaar en draai sy venster af om die geur van aandete in te snuif. Nou het sy maag hom haastig.
“Dan gaan ek ma’ nou!” sê Kat Toelies en slaan met sy regterhand op die stuurwiel. Sy antwoord nie, sit en staar net na die rugsak op haar knieë. Hy probeer weer klaarmaak. “Ek kan jou maklik gou uitvat Bloutuin toe, dis mos maar ’n paar kilo’s verder aan?”
Daar is niks lewe by die vroumens nie. Sy sit met haar kop gekantel na die voordeur van die hotel. Dit lyk vir Kat Toelies of sy twyfel het oor afklim. Hy leun vorentoe en soek na haar gesig onder die hoed. Sy haal asem soos een wat diep slaap.
“Hoor jy my?” Hy versit sy boude en krap agter sy oor. Met albei hande om die stuurwiel geklem, probeer hy weer: “Moet Kat jou nou uitvat Bloutuin toe?”
“Nee!” skrik sy op. “Zacharias weet van niks.”
“Nou ja.” Hy knik sy swaar kop en vryf sy hande teen mekaar. “Dan is dit so.” Nou kan hy dank-die-jirre-tog die deur oopmaak om die vroumens af te laai. Hy vlieg by die waentjie uit en gaan maak die passasiersdeur oop.
Lea leun effe by die deur uit en kyk om haar rond.
Die straatlampe is ’n erewag langs die hoofstraat. Wasemkoppe wat wag hou oor die dorp wat sy lê begin kry het.
Skielik kom ’n kind verby hulle gehardloop. Hy klap met ’n pet op sy bobeen om vyf melkkoeie aan te jaag. Sy yl fluite trek angstig agter hulle aan. Hy’s laat met die bleddie koeie. Vanaand is die hel weer los. Die voorste koei, met die klok om haar nek, stoot met haar bek teen die donker en loei lank en droewig.
Lea vryf oor haar voorarms wat hoendervel getrek het. Sy swaai haar voete uit en klim uit in die skemer van Sutherland. Sy druk ’n paar note in Kat Toelies se hand sonder om na hom op te kyk. Toe hy die agterbak oopmaak om haar reistas en trommel uit te tel, keer sy hom skerp: “Los, ek sal regkom.”
Kat knik sy kop verleë en maal op die agtergrond rond totdat sy self die bagasie op die stoep van die hotel neergesit het. Eers toe sy regop langs haar bagasie gaan staan, trek hy weg.
Lea bly in die stofwolk staan, hande in die sakke. Die vilthoed diep oor haar oë getrek. Met die uitlaatgasse wat teen haar aan walm, laat sak sy haar kop om haarself te ruik in die warmgebroeide serp. Toe sy weer haar kop oplig, klamp die koue oor haar gesig. Sy snuif die lug rondom haar in, bekende lug: die suur van die steenkoolhope langs die polisiestasie oorkant die pad. Die gomreuk van die ry sipresse langs die magistraatskantoor. Die reuk van lusern op die leë erwe tussen die kerk en die hoekkafee. Ook die vars beesmis in die straat. Regs van haar, die roes van die ploegskaar voor die hotel. Dit kom lê blikkerig in haar mond. En toe die vlamreuk van die hotel se kaggelvuur, die opgewarmde roet in die kaggel en die geur van brandende rooikrans.
Hier is sy nou.
Weg van die klewerige mis van Swakop en die vuurtoring se nagtelike koggelswiep oor hulle dak. Martin se huis met die kantgordyne in die kamer. Haar skuilgordyne.
Sy haak die rugsak oor haar skouer en buk om die bagasie op te tel. Sy loop die voorportaal van Sutherland se hotel binne en druk die diensklokkie drie keer. Vanuit die kroeg klink die Vrydagaandboere se stemme op. In die agterplaas, weet sy, is ’n skaap op die spit. Die kole glim rooi onder die swart karkas. Die fluitnekke van vele bottels op die lang tafel met die bakke opgekookte aartappels daarop.
’n Naguiltjie in die peperboom roep nostalgies agter die sinkplaat-waenhuis oor hulle heen. ’n Vertroude prentjie.
Voor sy hom sien, hoor sy MacKenzie skuifelend in die gang afkom. Sy laat haar kop sak, sodat net haar mond in die lig is. Langs die diensklokkie sien sy die glassteenbokkie, en onthou dit van daardie tyd af aan.
“I’m on my way,” roep die hotelbaas en laat rinkel die bos sleutels in sy broeksak. ’n Onverwagte kliënt! Uitasem kom hy in die gang af gestoom tot voor haar. “Room for the night, lady?”
“Nee,” mompel sy en wys na haar bagasie op die dungeloopte rooi gangmat. “Maar ek wil my goed hier los tot môre.”
MacKenzie vryf oor sy baard en vat na sy bril wat aan ’n ketting om sy nek hang. Voor hy dit op sy neus kan sit, draai Lea deur toe. “Iemand van Bloutuin sal dit môre kom afhaal.” Uit by die deur.
“Of course, of course,” roep MacKenzie en skuifel agterna met sy hand in die lug. “But … nou sien ek mos eers.” Hy lag sodat sy bril ritmies op sy buik rondhop. “By Jove, ’is mos Zacharias se kind!”
Buite knoop Lea haar jas toe en haak albei haar arms deur die rugsakbande sodat sy vry kan loop. Sy druk die hoed vaster op haar kop. Dis nog agt kilometer uit Bloutuin toe.
Verby die onderdorp hoor sy die kinders jil soos hulle agter draadwiele in die pad af hardloop. Drie seuns het die buurt se dunlyf-honde mal aan die blaf met ’n rammelende kiskar waarmee hulle heuwelaf jaag. Een sit met ’n flits voor op die kiskar. ’n Ander gil oopbek in haar rigting om uit die pad uit te bly. Hulle is traanoog van die koue, die hande wat aan die toustuur klou, is wit om die kneukels. “Starrag, man, Koesie, onse holle kom vol splinters orie klippe. Jissuuuus!”
Om lê die wa.
Kosie spring kortom en hol terug in die rigting van die gloeiende konkas voor die beseerdes uit die stof kan opbeur. Kry hulle hom nou in die hande, bliksem hulle hom dom.
Lea kyk die bolling kinders agterna. “Ek’t julle gemis!” skreeu sy. Regs van haar skrik ’n trop vaalpatryse op en skarrel in die pad af om weer onder ’n ander bos te gaan skuil. Dis my plek hierdie, dink sy en kyk op sterre toe. Met haar hakke kap sy die grond los sodat die stof kan terugsif op haar stewels. Sy weet dat sy die pad Bloutuin toe moet inloop, sodat die geur van kruibos op haar kan kom lê: soutbos, renosterbos, plakkie en boegoe.
Dit het te donker geword om die kraaitulp te kan sien, maar sy weet hulle staan daar. Soos ook die witbaard aan die klippe, die klipblom wat Krisjan vir haar kleintyd gekook het om okerverf van te maak. Hy’t haar toegelaat om ook sý gesig te verf. Albei moes Indiane wees; Zacharias was die afwesige cowboy. Die een uit wie se pad hulle moes bly.
Toe motorligte van die Beukesse se afdraaipad indraai, glip sy agter ’n struik in. Sy vroetel aan die silwergrys blare daarvan, oumansoutbos. Terwyl sy op haar hurke sit, voel sy hoe die waaie van haar bene jeuk van die sweet. Nog drie kilometer om te gaan. Sy haal haar hoed af en vryf die sweet uit haar haarwortels, skud haar hare los en bly sit met haar gesig op haar knieë tot die stof verbygetrek het, voor sy weer aanstap. Wat gaan sy vir Zacharias sê?