Читать книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen - Страница 13

9

Оглавление

Lea se scrambler staan onder ’n blou seil in die hoek van die waenhuis. Toe dit met die eerste skop brandslaan, weet sy dat Krisjan gereeld daarmee skaap toe gery het. Zacharias sou nie; hy het van die begin af gesê dit laat hom voel soos ’n beer op ’n haakspeld.

Die begraafplaas is vier kilometer van die plaas af, dorp se kant toe. Die lug kraak in haar ore toe sy wegtrek en in die veldpaadjie afpoer, boegoe en wildeknoffel in haar neus. Af en toe vang die voorwiel die middelmannetjie en gooi dit haar bosse toe. Haar balans is uit.

Die grondpaadjie deur die sipresse is diep en nou uitgetrap, bestrooi met ’n fyn geel sand. Veel fyner as die res van Sutherland se grond. Snuifgetrap deur dié wat gaan seker maak dat die dooies hulle nie vergeet nie.

Lea loop eers ’n ompad deur die engele van die Louws en die Blink Rouxs na haar ma se plek aan die ander kant van die blok. Sy groet die sementengele op hulle name, altyd spyt dat hulle so met gestolle vlerke moet bly waak oor die dooies.

Die eerste sestien jaar van haar lewe was daar niks om haar ma se graf mee te identifiseer nie. Net die stom bult grond met waaigras daaroor soos die rughare van ’n ou hond. Zacharias wou geen grafsteen toelaat nie. “Wat sal ek haar nou in die skaduwee van ’n naam en ’n Godsversie vasgekeer hou?” het hy gesê as die dorpsmense hom van verwaarlosing beskuldig het.

Tot Lea op ’n dag gesê het dat dit nou tyd is. “Dan moet jy maar sê wat ons moet doen,” het hy haar laat begaan.

Vir haar was daar net een manier.

Die daaropvolgende week het sy saam met Zacharias Worcester toe gery om keramiekblokkies te gaan aankoop vir die mosaïek. Vir ’n verdere week lank het sy oral op die plaas rondgeloop en potskerwe bymekaar gemaak. Gebreekte borde die kleur van suurmelk, glasstukke in gevriesde akwa en mos, klein stukkies spieël. Zacharias het nie ingevra nie.

Toe die tyd reg was, het sy die graf met fynsand-sement voorberei. Krisjan het haar gehelp om pleisterklei te meng en toe het sy hom weggestuur. Met die mosaïekblokkies en skerwe het sy ’n reusevlinder opgebou. Iets wat sy seker was in die sonlig sowel as die maanlig sou loskom in vlug.

Sy het geweet dat Zacharias haar soms van ’n afstand staan en dophou het, maar sy het dit nooit laat blyk nie. Behalwe toe haar doenigheid van die nuuskierige dorpsmense gelok het.

“Neuk weg, daar!” het sy Zacharias hoor bulder. “Loop nou!”

Toe sy opkyk, het hy omgedraai en bakkie toe geloop.

Daardie aand het hy die molvelboekie vir haar kamer toe gebring.

“Jou ma s’n. Sy het vir jou ’n storie begin skryf. Jy kan daarmee maak wat jy wil.” Hulle het mekaar nie in die oog gekyk nie, want Zacharias het dit swaar om oor Olga te praat. Om so verby mekaar te praat, het hulle manier geword, van vroeg af aan.

Toe hy van haar wegstap, het sy die dun bruin molvelboekie oopgemaak. In ’n smal handskrif met hoë boë en onderkrul het daar gestaan:

Aan die begin was die skaapwagter en sy vrou tevrede.

Soggens het sy saam met hom deur die veld geloop tot by die klein deurloop van die rivier. Dan het sy die fles oopgedraai en vir elkeen ’n koppie koffie geskink. Die skaapwagter het die broodjies met versigtige vingers uit die omhulsel gehaal en op die moeseliendoek uitgepak.

Die dag toe sy vrou hom vertel van die kind onder haar voorskoot, het hy haar met ’n kroon van vingerkannablomme huis toe gestuur. Soos sy van hom weggestap het, het die son die kring blomme op haar kop geel oopgestryk.

Daarna het hulle, in die nag, dig teen mekaar na die roep van die jakkals lê en luister en gewonder of dit die kind eendag sou verskrik.

Toe kom die dag dat die skaapwagter se vrou nie meer die kind in haar lyf kon grootmaak nie. Vroegdag het die kind afgekom soos die groot bruin rivier na’ ’n wolkbreuk.

“Kerf vir my ’n hart uit seepsteen, my man,” het die vrou met haar eerste asem gevra. “Want van hier af aan sal ek my hart buite my lyf moet dra.”

Sy het die baba in haar dasvelkombers toegedraai en vir die skaapwagter aangegee.

Lea lê ’n bos laventel op die glasvlinder neer. Sy skuifel rond tot sy gemaklik op die grafrand sit, versit haar voete. “Dis goed om terug te wees, Ma!” praat sy. “Daar anderkant was dit eensaam.” Sy bly vir ’n rukkie stil, omdat sy nie seker is hoeveel die dooies van die lewendes weet nie. “Soms moes ek vir Mirjam oproep as ek nie meer geweet het nie. Dan het sy my weer vertel van spinnerak op die wonde sit, en van nieskruid. Maar dit wou nie heel nie.”

Sy herrangskik die gerf op die graf. “Toe kom ek terug, en nou kry ek hier ’n slagter in my plek. Bastos, sê hy is sy naam.” Verwilderd kom sy orent. “God weet, ek het genoeg gehad van slagters.” Sy kyk na weerskante om te meet hoeveel die begraafplaas gegroei het in die twee jaar dat sy weg was. “So, dan loop ek nou maar eers.”

Toe sy omdraai, sien sy die buitelyn van ’n ou vrou in die skadu van die sipresse. Haar lang, dun arms wieg soos die takke van ’n wilg. Sy maak tekens in die lug met haar hande en sing hardop. ’n Uitgerekte lamentasie wat klim en daal deur die grys lug. Die einste Mirjam, Sutterland se banshee.

Die een met die klipbeelde van oergoed in haar tuin. Rose ook, ja, in die godvergete klipgrond van die Roggeveld. Swaar koppe osbloedrooi. Die trappies na haar voordeur ’n groen, geronde skulprand, sodat sy soos Venus de Milo daar staan elke keer dat sy die voordeur oopmaak.

Lea hurk agter ’n Loubser-grafsteen weg tot Mirjam klein raak in die pad af. Later sal sy gaan groet.

Vir die vrou met die onpaar oë sien sy nie nóú al kans nie.

Chinchilla

Подняться наверх