Читать книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen - Страница 9
5
ОглавлениеKwart oor vier die oggend lig die maan Lea uit haar slaap. Die dakvenster van haar solderkamer is op ’n skreef oop. Dit gooi die maan in ’n blouwit streep oor haar bed. Sy het geen twyfel oor waar sy is nie. In Sutherland bons die ure nie teen mekaar nie – hier is dit stil soos sterre.
Die reuk van bamboesrietjies hang in die lug. Reëlmatig aan mekaar gebind, volg dit steeds die noklyn van die dak. Nie een daarvan het verweer of weggeval terwyl sy weg was nie.
Agter die dakvenster lê die vyf ewe groot koppies. Ronderugoerdiere wat dig soos ’n trop bymekaar hou. Tussen die tweede en die derde is die bergpoel waaruit Zacharias ’n ou wewenaar, met sy klipgordel aan, gaan haal het. In die vierde koppie is die grot waarin mensbeendere gevind is. By die vyfde is ’n Boesmangraf wat met skalieklip toegepak is, die twee kniekoppe wat bokant die grond uitsteek. Aan die onderkant daarvan is die gronddam met stink sperwergate in die wal, waarin Piet Suip sy halfjack wegsteek van sy vrou.
Alles nog op sy plek.
Lea staan op en druk die dakvenster wyer oop. Die ruit stut liggies op haar kop, sodat dit die buitenste koue soos ’n yskroon op haar kop sit. So bly sy staan tot die koue na die binnekant van haar skedel pyn. Haar neus brand van die ysige lug wat sy stadig intrek en deur haar mond na buite stoot. Sy sal diep bly asemhaal en uitblaas – só sal sy haar binnekant weer skoonkry.
Laatnag het sy Zacharias teen die buitetrap hoor opkom met haar trommel. Hy het lank langs haar bed gestaan. Sy donker figuur onbeholpe en anderwêrelds met die blou maan op sy skouers.
Lea gaan kruip weer in die bed en trek die chinchilla-karos oor haar skouers. Teen haar mond roer die lang swart en wit skuthaartjies van die chinchilla-pels, wuiwend op die maat van haar asemhaling. Sy blaas op die pels sodat die langer haartjies oopkloof tot by die blougrys onderpels.
Dit is die karos wat Zacharias vir haar ma gemaak het; dieselfde pels waarin Lea toegedraai is pas ná haar geboorte. Die pels wat moes instaan vir die vel van haar ma wat sy nooit geken het nie. Die pels met die storie wat Krisjan saans vir haar vertel het wanneer sy soos ’n meerkat voor sy gat gesit en luister het:
Eendag, lank, lank gelede, in die vyftiende eeu, was daar ’n Indiaan-clan in die Andesgebergte – die Chinchas. Hulle het die chinchillas se pelse gebruik as lyfklede en kooigoed. Later is hulle deur die sterk Inka-Indiane oorwin en verbied om verder chinchilla-velle te dra, omdat dit die voorreg van die Inka-adel geword het.
Heelwat later, in die sestiende eeu, het die Inkas onder Spaanse oorheersing beland. En dit was toe dat ’n tussenganger, wat na die guns van die Spaanse koningshuis gevry het, ’n kis vol juwele en goudplaat aan die koningin gestuur het. Vir beskerming van die geskenk is die kis in ’n chinchilla-kleed toegedraai. Op pad na die koningin het die boodskapper besluit om self die juwele en goudplaat te vat. Hy het die chinchilla-kleed in die kis geprop, dit so vinnig moontlik by die koningshuis afgelewer en gemaak dat hy wegkom.
Die Spaanse koningin was só verruk deur die weelderige geskenk dat sy dadelik ’n soekgeselskap uitgestuur het om die boodskapper op te spoor en na die hof te bring. Nie om hom, soos die boodskapper verwag het, te martel of dood te maak nie, maar om hom tot ridder te slaan as blyk van haar waardering vir die seldsame, eksotiese pels.
Ou Krisjan en sy stories.
Sy sal vanoggend uitgaan na die chinchillas, om weer haar taak op te neem soos voorheen. Die keutelplate onder die hokke skoonmaak, waterbottels vol maak, kosbakkies met pille en stukkies wildegars vul, stofbaddens uitsit, puimstene vir die knaag, klipsoutringe aan die kant vasmaak, rosyntjies vir die knieseriges.
Hier sal sy weer van nut kan wees.
Sy staan op en loop klerekas toe. Haar denimoorpak en handskoene lê netjies opmekaar langs die rubberstewels soos sy dit twee jaar gelede hier gelos het. Onder die oorpak trek sy long johns aan. Toe sy dit oor haar heupe optrek, voel sy haar maagvel krimp van die hoendervleis. Sy kyk af na die donker lyn wat van haar pubis oploop tot teen haar naeltjie.
’n Misplaaste merk, buitentyds, ’n herinnering van ’n ander tyd in ’n ander wêreld. Linea negra, haar swart lyn van verlies.
’n Smaak stoot op in haar mond, mineraalagtig soos koper. Dit skok skielik soos aluminium teen ’n stopsel.
Sy vou haar arms om haar borste. Niemand het haar gewaarsku dat haar melk steeds sou inkom al was daar nie meer ’n kind om aan haar te drink nie. Die onwrikbaarheid van die natuur. Vir ’n volle nege dae loop sy al met die pyn van ongebruikte borste rond. Soms klim sy in die bad en gooi warm water oor haar blinkstywe borste sodat die melk daaruit kan drup. Die eerste drie dae, warm koolblare om die borste sagter te maak.
Lea buk om ’n tweede paar sokkies oor haar koue voete aan te trek. Sy trap in haar rubberstewels en vlug na buite vir vars lug. Later, as sy weer bymekaar gevat voel, sal sy afgaan kombuis toe.