Читать книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen - Страница 12
8
ОглавлениеZacharias was ses toe hy die tjankgeluidjies in die waenhuis gehoor het. Langs die wiel van die trekker het Trui Binneman met ’n baba gesit. ’n Dagoudkind toegedraai in vuil masjienlappe wat in ’n krat voor langs die trekkers gebêre was.
“Loop roep jou ma-goed, Sagrys. Sê vir haar sy moet die kind vat en vir hom naam gee.” Toe het sy ’n lap in haar mond geprop teen die huil en nooit is sy weer op Sutherland gesien nie.
Zacharias het met die baba soos ’n trofee in sy arms kombuis toe gehol en vir sy ma aangegee. “Vanaand slaap hy by my in die bed,” het hy gesê.
Anna Louw het nie die hart gehad om die bondelkind terug te stuur strooise toe nie. Trui Binneman sou rede gehad het. Sy het uitgestap na haar man waar hy sy pyp teen sy skoenhak uitgeklop het langs die watertenk. “Karel, dié kind het vandag hier aangekom. ’n Vondeling. Ek stel voor hy bly hier. Ek weet hoe om met ’n hanslam te maak.”
Met dié het sy omgedraai om die kind te gaan was en vir hom doeke te sny.
Teen skemer daardie aand het Karel die spul bymekaar gevat en dorpuit gery. In Verlatekloofpas het hy die baba opgehou sodat hy die omtes van sy vallei kon inneem. “Ons sal jou Krisjan noem,” het Karel teen die hellings afgebulder, “na my oorle broer se seun wat …”
“Ja, toe nou maar, my man. Krisjan is genoeg.” Anna het die kind by hom aangevat en haar pinkie in sy skreeuende bekkie gedruk. “Kom nou, die kind wil nie weet van name nie, hy het honger.”
So is hulle weer terug Bloutuin toe met die kind en die naam. Vandaar sou Krisjan in Karel se skaduwee loop. Van Anna het hy ’n mooi taal en hallelujas geleer, maar Zacharias was sy bondgenoot. Vir hom sou hy ’n berg verplant.
Lea kry vir Krisjan met die skaapskêr voor die masjienkamer. “Hef op, hef op …” sing hy diep bas, die geel strooihalms glad en blink teen sy donker hande. Gierts-gierts knip hy vyfsentimeter-stukkies strooi vir die chinchilla-hokke. Sieldodend reëlmatig. Hy sit met sy rug gestut teen die sonkant van die muur. Op die groen seil voor hom lê netjiese bondels strooi uitgepak.
Lea kom staan op die seil, haar voete weerspannig ver van mekaar af. Daar is moer in haar manier, dink Krisjan. Is seker oor die Portugees wat in haar skuur uitkamp.
“Ons sal ekstra strooi moet ingooi vir die das,” sê sy en buk om ’n strooihalm op te tel waaraan sy kan kou. “Die ryp lê al hard in die oggend, sien ek.”
Krisjan spoeg ’n pruimkousel eenkant toe en grawe in sy sak na sy rol om ’n vars stukkie af te sny. Terwyl hy dit doen, kyk hy teen die lou son op na Lea, korrel eenoog in haar gesig in op. “Hoekom trap jy so ongedurig rond?” Hy sny ’n stuk van die pruimrol af en sit die res terug in sy sak.
Lea volg sy hande. Wye palms, ’n harde wit binnehand met min swart lyne daarop – eenvoudig en skaamteloos groot saam met die knopperige litte en dun punte. Sy oë is ongeveins, die verkreukelde bruin van ’n ou pruim. Hoog op sy regterwang is ’n rytjie donkerswart moesies wat teen sy oë opstoot wanneer hy lag.
Krisjan maak eers ’n rookslympie agter in sy keel los voor hy met sy tong klap om die smaak van die pruimkousel los te ruk. Toe sy nie antwoord nie, kyk hy weer af op sy hande en begin sing aan een van sy hallelujas: “Hef op, hef op, hef op die hart, en prys die Heer der here …”
Lea vryf aan die syige blertse poeier tussen haar palms. Dit walm in haar neus op, nes Krisjan se lied, vertroulik en bekend. Sy vee die oortollige poeier aan haar heupe af, druk weer haar hande diep in die sakke van die voorskoot en wieg heen en weer op haar voete. Haar rubberstewels tjier ritmies.
“Ek gaan begraafplaas toe,” sê sy kortaf. “Moenie vir my wag vir ete nie.” Haar voetstappe kraak vinnig oor die gebreekte amandeldoppe.
“Hy pla nogal nie sommer nie,” roep Krisjan agter haar aan. “Not to worry.” Aan die twee driehoeke wat deur haar trui na agter stoot, sien hy hoe sy haar skouers geïrriteerd na agter druk. Die Portugees sit soos klitsklawer in haar klere, dié kan hy sien.
En dan is daar ’n ander pla-ding in die kind se oë. Hy wat Krisjan is, sal moet fyn kyk, want Zacharias sal maak of hy dit nie sien nie.