Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 47

Оглавление

10 Februarie – Loof God vir sy vergifnis

10 FEBRUARIE

Lees: Miga 7:18–19

Loof God vir sy vergifnis

Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde … U bly nie vir altyd kwaad nie … Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. – Miga 7:18–19

Dit is nooit nodig om met ’n swaar las van skuldgevoelens rond te loop as jy aan God behoort nie. Jy hoef nie, omdat Jesus reeds elke kriesel van jou sondeskuld aan die kruis vereffen het. God bied jou nou onbeperkte vergifnis aan, ook al doen jy weer en weer sonde, mits jy werklik berou oor hierdie sonde het. Jy is dus rééds vergewe vir die sonde wat jy in die verlede gedoen het, God sal die verkeerde dinge wat jy vandag doen vergewe, en ook die sonde wat jy nog gáán doen, is deur Jesus se kruisverdienste gedek. “God wil hê sy vergifnis moet wees soos die lug wat ons inasem. ’n Manier van lewe. Nie net ’n eenmalige ding nie. Nie net ’n betaal-soos-jy-sondig-kwessie nie,” skryf Stormie Omartian.*

God het lank tevore reeds jóú persoonlike sonde in die diepsee gegooi en besluit om nooit weer daaraan te dink nie. Dis net jyself wat nie kan ophou wroeg daaroor nie. Aanvaar dus God se onbeperkte vergifnis en loof Hom daarvoor! Wanneer die Heilige Gees jou dan weer van ’n spesifieke sonde in jou lewe bewus maak, bely dit en laat dit staan. Dis so eenvoudig soos dit. Waak net daarteen om God se vergifnis goedkoop te maak deur opsetlik te sondig omdat jy weet dat God jou elke keer sal vergewe.

Here, hoe wonderlik is dit nie dat U u onbeperkte vergifnis tot my beskikking stel nie. Ek wil U elke dag van my lewe daarvoor loof. Amen.

* S Omartian, Gebed wat alles verander, p 73

'n Uur van lig

Подняться наверх