Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 50

Оглавление

13 Februarie – Loof God vir sy goedheid!

13 FEBRUARIE

Lees: Psalm 27:11–14

Loof God vir sy goedheid!

As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …! – Psalm 27:13

Die wêreld waarin ons woon, is so korrup en sondig, selfs die omstandighede waarin God se kinders verkeer, is soms so negatief dat ons by tye vergeet hoe goed God vir ons is. Die Here is ’n goeie God. Hy dra sy kinders se belange op die hart. Dit is nodig dat ons Hom opnuut sal loof vir sy allesoortreffende goedheid aan ons. Wanneer ek aan God se goedheid dink, onthou ek die ou beryming van Gesang 40 wat ons graag gesing het:

U goedheid Heer, kan ons nie peil nie,

wie word daardeur nie diep getref!

Niks anders bring vir ons die heil nie,

ons wil ons hart tot U verhef.

Die psalmdigters het nooit God se goedheid uit die oog verloor of opgehou om daaroor te skryf nie. “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” verklaar Psalm 106:1. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” nooi Psalm 34:9.

God kan álle dinge, ook pyn en lyding, vir jou uiteindelik ten goede laat meewerk. “Die Here sal vir my alles goed laat afloop,” beloof Psalm 138:8. Aan hierdie beloftes kan jy vashou in krisistye. Maak ’n gewoonte daarvan om God vir sy goedheid te loof, totdat hierdie feit dat God goed is, onlosmaaklik deel word van jou lewe.

Here, u goedheid aan my gaan my verstand te bowe. Ek kan dit nooit begryp nie, maar ek het dit al soveel keer in my lewe ervaar dat ek U graag daarvoor wil loof en prys. Amen.

'n Uur van lig

Подняться наверх