Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 57

Оглавление

20 Februarie – Loof God omdat Hy vrede bring

20 FEBRUARIE

Lees: Filippense 4:1–9

Loof God omdat Hy vrede bring

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. – Filippense 4:6–7

Daar is baie dinge om ons wat ons bang maak. As hierdie vrese te lank aanhou, verander hulle in angstigheid, en volgehoue angstigheid maak ’n mens mettertyd moedeloos en depressief. Die Bybel vertel ons egter baie duidelik wat ons met ons bekommernisse en angstigheid moet doen. As ons hulle na God neem, sal Hy hulle verruil vir sy vrede “wat alle verstand te bowe gaan,” en hierdie vrede sal oor ons harte en gedagtes die wag hou.

Jy behoort te leer om God te loof die oomblik wanneer jy vrees en angs ervaar. Loof Hom omdat Hy die Koning van vrede is wat nie net vir jou vrede in jou eie lewe waarborg nie, maar dit vir jou moontlik maak om in vrede met God én ander mense te lewe. Vra Hom ook om jou te help om vrede met jou eie foute te maak en bid vir vrede oor die dinge wat in die verlede met jou gebeur het waaroor jy steeds stres. “Wanneer jy God loof ten spyte van jou angs, vrees en moedeloosheid, maak jy die kanale oop waardeur God se vrede, liefde en bemoediging deur jou vloei. Dit is die verborge krag van lofpry-sing,” skryf Stormie Omartian.*

Vader God, ek loof U dat U die Koning van vrede is wat my onrus en angstigheid kom verruil vir u vrede en rustigheid. Help my om ’n vredemaker te wees, sodat u vrede deur my na ander sal vloei. Amen.

* S Omartian, Die gebed wat alles verander, p 190

'n Uur van lig

Подняться наверх