Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 64

Оглавление

27 Februarie – Loof God vir oorwinning oor die duiwel

27 FEBRUARIE

Lees: 1 Petrus 5:8–11

Loof God vir oorwinning oor die duiwel

Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. – 1 Petrus 5:8–9

Hier op aarde sal God se kinders altyd in ’n oorlog teen die Bose gewikkel wees. Ook jy het ’n vyand wat rondloop soos ’n brullende leeu en jou ondergang om elke hoek en draai soek. Hoe gouer jy dit besef, hoe beter sal dit vir jou wees. Hierdie vyand is die duiwel. Die slegte nuus is dat hy baie sterker as jy is. Die goeie nuus is dat jy vir God aan jou kant het, en saam met Hóm, in sy krag, sal jy altyd as oorwinnaar uit die stryd teen die duiwel tree. Hierdie oorlog waarin jy gewikkel is, is ten diepste ’n saak vir God. Hy veg vir jou en in Efesiërs 6:10–17 gee Hy ook vir jou ’n wapenrusting waarmee jy die vyand kan verslaan. Lees hierdie Skrifgedeelte noukeurig en volg Paulus se raad aan die einde: “Doen dit alles biddend …” (Efesiërs 6:18). Sonder om te bid dat God jou teen die Bose se aanslae sal beskerm, gaan jy nie ver vorder in jou stryd teen die duiwel nie. Wees ook slaggereed vir die duiwel se aanslae, want hierdie oorlog gaan duur totdat Jesus weer kom.

Deur naby die Here te leef en Hom te loof omdat Hy elke keer vir jou die oorwinning in die stryd teen die Bose sal gee, kan jy die duiwel se houvas op jou verbreek en meer as ’n oorwinnaar wees.

Hemelse Vader, ek loof U dat U elke dag by my is en my telkens as oorwinnaar in die stryd teen die Bose laat seëvier. Amen.

'n Uur van lig

Подняться наверх