Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 53
Оглавление16 Februarie – Loof God omdat Hy ’n doel met jou lewe het
16 FEBRUARIE
Lees: Efesiërs 2:1–10
Loof God omdat Hy ’n doel met jou lewe het
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. – Efesiërs 2:10
“As jy wil weet waarom jy op dié planeet geplaas is, moet jy met God begin. Jy is deur sy doel en vir sy doel gebore. Jy is deur God en vir God geskep – en die lewe sal eers sin maak as jy dit verstaan. Net in God ontdek ons ons oorsprong, ons identiteit, ons betekenis, ons doel, ons sin en ons lotsbestel. Elke ander pad is ’n doodloopstraat,” skryf Rick Warren.*
Jou hoofdoel hier op aarde is om God te dien en lief te hê, om sy koninkryk uit te brei en dié dinge te doen waarvoor Hy jou bestem het. Hy het ook ’n einddoel vir sy kinders: om eendag vir altyd in die hemel saam met Hom te leef. Dit geld vir álle Christene.
God het egter ook ’n spesifieke doel vir jou persoonlik. Hy gee vir jou spesifieke gawes om jou vir hierdie spesiale doel waarvoor Hy jou op aarde geplaas het, toe te rus. Jy ontdek hierdie doel deur ’n verhouding met Jesus. Sodra jy uitgevind het wat jóú spesifieke doel is, sal jou hele lewe verander en gaan jy ontdek wat dit beteken om werklik gelukkig te wees. Bid dat God Self jou spesifieke doel aan jou bekend sal maak.
Vader, ek loof U dat U ’n doel met my lewe het. Maak my gewillig om U lief te hê en te dien, om só te leef dat ek eendag vir altyd saam met U in die hemel sal wees. Maar help my ook om vandag nog my spesifieke doel te ontdek. Amen.
* R Warren, Die doelgerigte lewe, p 15–16