Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 49

Оглавление

12 Februarie – Loof God vir sy Woord

12 FEBRUARIE

Lees: Psalm 119:11–24

Loof God vir sy Woord

U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie. […] U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. – Psalm 119:11, 24 (Die Boodskap)

In God se Woord is sy wysheid opgeteken. Hierdie Woord is ons padkaart tot ’n gelukkige lewe. Dit spel vir ons duidelik uit watter dinge reg en watter verkeerd is; dit maak God se wil aan ons bekend en wys vir ons hoe God wil hê dat ons sal lewe. Die Bybel is ook die mees doeltreffende wapen waarmee ons die duiwel elke keer op sy plek kan sit.

As jy nie tyd spandeer met God se Woord en dit leer ken en bestudeer nie, maak dit geen sin om God vir sy Woord te loof nie.

Is jý al bereid om die riglyne wat in jou Bybel opgeteken is te gehoorsaam? Vergeet gerus dat sommige mense meen dat die Bybel so lank gelede geskryf is dat dit nie meer relevant is vir hedendaagse mense nie. Jou Bybel is die beste plek waar jy God se Stem persoonlik kan hoor, waar jy sy teenwoordigheid kan ervaar en kan ontdek hoe Hy wil hê jy moet leef. Die Bybel leer jou ook hoe lief God jou het. “Wanneer ons God se liefdesbrief lees, kan ons sy hart van liefde beter verstaan,” skryf Stormie Omartian.*

Moenie langer aarsel om hierdie woord diep in die brandkluis van jóú hart weg te bêre nie!

Hemelse Vader, ek loof U vir u Woord waardeur U elke dag persoonlik met my praat. Dankie dat ek deur die woorde van hierdie Woord u teenwoordigheid in my lewe kan ervaar. Amen.

* Ibid, p 93

'n Uur van lig

Подняться наверх