Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 58
Оглавление21 Februarie – Loof God vir sy vertroosting
21 FEBRUARIE
Lees: Psalm 94:16–23
Loof God vir sy vertroosting
Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. – Psalm 94:18–19
Niemand kan deur die lewe gaan sonder om verlies te ervaar nie. En verlies en swaarkry laat ons soms ver van God voel. Eintlik behoort die teenoorgestelde waar te wees; in tye van hartseer en verlies kan jy maar net na God gaan om getroos te word. Hy is altyd daar vir jou, en daar is niemand wat jou so liefhet en so goed verstaan soos Hy nie. Selfs al word alle ánder dinge van jou weggeneem, sal jy nog steeds vir God oorhê; dit is juis dan wanneer jy gaan ontdek dat Hy genoeg is, dat jy geen ander troos benodig as juis syne nie. “Wees seker daarvan dat God kan troos soos niemand anders nie; dat Hy jou trane sal afvee, en voordat jy nog roep, sal antwoord,” skryf Adam Bartmenthlo.*
Nadat jy deur God getroos is, gebeur daar iets met jou: dan word jy deur jou ervaring van verlies toegerus om ook ’n trooster vir ander te wees wat deur dieselfde trauma as jy gaan. Om iemand anders te troos wat hartseer is of ’n verlies gely het, is een van die belangrikste maniere waarop jy vir ander mense kan omgee. Loof God dat Hy altyd daar is om jou te troos, en loof Hom ook omdat Hy deur jou stuk verlies van jou ’n trooster gemaak het.
Here, ek loof U dat U my Self troos elke keer as ek hartseer is. Dankie dat U my deur my eie verliese geleer het om self ’n trooster vir ander te wees. Amen.
* A Bartmenthlo