Читать книгу Kortetjies en 'n lange - PG du Plessis - Страница 14

Met die brug stroomop

Оглавление

Vanjaar kom daar weer behoorlike storms oor die Hoëveld.

Smiddae steek hy op, dreun sy dreiging, woed uit.

En as hy verby is, hang sy nadreun oor ons, staan die reënboog in die ooste, trou jakkals dalk nog ’n rukkie met wolf se vrou, en jy weet die Hoëveld-aand gaan stil en mild wees.

Dis dan, in ’n reënjaar soos vanjaar, dat ek terugwonder na my seunsdae op Cornelia. Kap daar ’n seun vis by die vishek wat ek in die stroomversnelling gepak het? Is hy so heilig op sy hoepel soos ek was?

Want ná Schoonspruit sy bruin woede in Vaalrivier loop stort het, het die geelvis teen die nawater opgebeur – en as jy in die stroomversnelling jou vishek gepak het, kon jy ’n oomblik sy rugvin bo die water sien, en hom kap met ’n hoepel wat jy agter die koöperasie of by oom Lukas se garage geskaai het.

Terwyl die spruit na die storm afkom, kon jy op die brug staan en sien hoe die water deur die vernouing sied.

As jy stip in die stroom kyk, dan is jy seker die brug beweeg stroomop, teen die vloei van die water in.

Soos wanneer jy op jou rug lê en na die wolke kyk. Dan skuif jy en die wêreld naderhand en die wolke staan stil. Soos wanneer die windwolke op ’n nag die maan kan laat terughaas na waar hy vandaan gekom het.

Wanneer Desember kom en dis ’n stormjaar soos vanjaar, is ek gedurig op die brug, foeter ek brug-en-al stroomop, Cornelia toe. Kyk ek weer stip in die bruin stroom, sodat die tyd wil-wil omdraai.

En ek weet: Sondag vir Sondag sit ek vir mense Ontmoetings en vertel, maar ek vermy die spruit, Schoonspruit se bruin water en ’n twaalfde Desember. Ek versin, lieg by, probeer die leser soms amuseer, maar ek vermy die ontmoeting wat saak gemaak het.

Op die middag van die twaalfde Desember in die veertigerjare het ek in die voortuin van ons ou-huis op Cornelia gestaan.

Daar is ’n storm verby. Hoër op as oor die dorp. Ek kon die spruit hoor dreun, en ek het seker oorweeg om te loop kyk hoe hoog die water dié keer teen die brugpilare styg.

Nie dat jy dit nie weke lank daarna nog kon sien nie, want die room op die bruin water het ’n ring gelaat – soos om ons nekke wanneer ons in die middag, kop-bo-water, ons koelie-ghoef in die kuile geghoef het.

Charles Meyer het verbygekom en vir my gesê ou Freddie het in die water geval. Dit was sy woorde: “… in die water geval.” Maar hy het hom gehaas na hul polisiehuis agter die polisiekantoor.

Ek het vir Ma gesê en ek het spruit toe gehardloop.

By die spruit het die bruin stroom nog deur die brugvernouing geskiet, maar die wêreld het beweeg en die wolke het stilgestaan.

Oom Mike het sy hemp geskeur en hulle moes hom keer om nie die water te wil in nie. Hy wou weet waar Freddie ingeval het. Toe ek verbyloop, het ek gesien ant Rina se oë kyk nie.

Later het dit geblyk dat hy hoër op ingeval het.

Ek onthou die soektog in die boonste swemkuil:

Tant Susan wat waarsku dat James hom moeg maak as hy te veel teen die stroom swem, dokter Fourie in sy swembroek, oom Kootjie, die Baptiste-predikant wat my stuur om wyn teen die koue vir die mense te loop haal, Ma wat probeer om vir ant Rina teen die seerkry vas te hou, Pa se gebleikte lyf in die water.

Taljaard het hom gekry: in die voorsloep, teen die sandbank wat my seunsvoete so goed geken het. Met sand in sy hemp.

Ek onthou hoe dokter Fourie – tog wetende dis te laat – probeer om kunsmatige asemhaling toe te pas. En ek onthou ant Rina se oë.

Ek onthou ook hoe wit Freddie was toe oom Hendrik Taljaard se polisieman-seun met die regop rug hom uit die water dra.

Oom Kootjie, die praktiese man wat die dood ken, het gebid, onthou ek. Ek weet nie wie geluister het nie, maar ek het, en ek het gehoor hoe sy gebed soos alle laaste gebede oorgaan van die vra vir meer lewe tot genade vir dié wat agterbly.

Nou, wanneer die storms oor die Hoëveld kom en die spruite bruin word Vaalrivier toe, wil ek soms op die brug staan en voel hoe ek en die brug, stroomop teen die tyd, teruggaan na die eerste ontmoetings.

Want by die skool, die volgende skooldag, het ons na mekaar gekyk en nie gepraat nie. Ons het iets nuuts geweet waarvoor daar nie woorde was nie.

Ons het geweet: dié is maar die eerste ontmoeting. En ons oë sal nog by sien verbykyk soos ant Rina s’n en ons lywe sal almal Freddies word.

Kortetjies en 'n lange

Подняться наверх