Читать книгу Kortetjies en 'n lange - PG du Plessis - Страница 5
Potyster sweis nie
ОглавлениеTussen die hope yster in die skrootwerf grawe ek die dag ’n weggooistofie uit. Oud, mooi, geroes, stukkend. Ek koop hom per gewig, laai hom op die bakkie en ry die plat Wes-Transvaalse pad plaas toe vir die derde keer dié week.
Met die bakkie se radio is ek verneuk, want hy sis net as hy wil-wil vermoed ek draai hom by ’n stasie verby.
Ek laai dus maar die skoolseun op wat met sy kleurbaadjie staan en duimgooi.
Hy groet met ’n seunstem waarin die grootword begin kraak. Ek sien die kleurbaadjie word vinnig uitgegroei en hy trek sy te lang arms so ’n bietjie terug om die moue nie te kort te laat lyk nie.
Hy sê waar hy skoolgaan, dat hy op pad huis toe is vir die naweek – van die koshuis af. Hy vra ook of ek ou yster bymekaarmaak vir verkoop. In ou yster is baie geld, sê hy oor my stofie, voor ek hom kan vertel dat ek eintlik met woorde probeer boer.
Die stofie interesseer hom, en ek sit en vertel hoe ek die ding weer in gebruik wil kry. Regmaak, sweis, staanmaak en gebruik.
Potyster, verseker hy my, weld nie sommer nie. Ek gee toe dat ek daaraan nou nie eintlik gedink het nie, en dat ek maar sukkel met die sweisery.
Dis duidelik dat hy die toekoms van my en die stofie nie met vertroue tegemoet sien nie.
Net iemand wat yster ken, sal die ding weer kan regkry. Soos sy pa, byvoorbeeld. Sy pa kan omtrent enigiets regmaak.
Nee, sy pa is nie ’n sweiser nie. Sy pa is in besigheid.
Maar sy pa is die soort mens wat enigiets kan regmaak … en ja, hy sal van die toebroodjies wat die oom aanbied, kry, want in die koshuis is die kos nie altyd te waffers nie.
So tussen die kou deur, vertel hy van Maandag se wors en aartappels, Dinsdag se vis en aartappels, Woensdag se mystery balls en aartappels en so aan tot by die poeding. Dié kry hy by die koshuis net een keer per week, en by die huis elke dag. Sy pa wou hom al uit die koshuis vat, omdat die kos nie goed is nie, maar sy pa is baie besig met sy sake en hy wil nie sy pa met ’n ryery pla nie. Dié dat sy pa hom nie die dag kom haal het nie, is oor hy self vir sy pa gesê het hy sal self by die huis kom. Anders kom haal sy pa hom altyd met die kar, of met een van die bakkies. Sy pa het twee soos myne.
Maar hy moet Saterdag by die huis wees, want dan speel almal saam tennis by die huis, en van sy vriende kom oor om te kom swem, en sy ma gee sommer vir hulle op die grasperk kos. Sy pa is dan ook by die huis. Sy pa braai altyd Saterdagaande.
Hy’s dié keer byna bang om huis toe te gaan, want kyk hoe lyk sy skoene. Dis sy eie skuld, want hulle het met die goed in die veld gaan rondfoeter, en hy moes eintlik sy stapskoene aangetrek het.
Ons ry deur ’n lap plotte met êrens in die middel ’n Portugese groentewinkel-kafee-garage. Die oom kan hom sommer by die winkeltjie aflaai, want hy sal sy ma van daar af bel om hom te kom haal met haar motortjie.
Dit pas my, want ek moet brood koop, en dié sal die Portugees wel aanhou.
Met die afklim, vra ek hom of hy lus is vir koeldrank. Ja, sê hy, ’seblief, want sy sakgeld loop die week bietjie laag.
Ek koop brood en twee koeldranke, betaal, soek my reisgenoot. Hy staan buite, sê dankie vir die koeldrank en stap saam bakkie toe.
Die Portugees ontdek dat ek van my kleingeld misgevat het en kom agterna.
Hy sê vir die seun as sy ma môre weer nie opdaag nie, moet sy nie weer probeer kom nie. Die tjips kom nie vanself gaar nie en hy’s nou moeg.
Van die siekspelery, sê hy.
Die seun kyk my ’n oomblik aan en begin wegstap.
Die Portugees praat hom agterna: Hy kan nie aanhou om uit jammerte vir mense te sorg net omdat die pa weggeloop het nie.
Dit was stomp van my om die seun agterna te ry – waar hy langs die pad loop met ’n stywe seunsrug wat weier om iets te wys.
Ek het vir hom gesê ek wil hom iets gee vir die geselskap, maar hy het die tienrandnoot een keer aangekyk, sy kop vorentoe gedraai en nie weer na my gekyk nie.
Dit was onmoontlik om vir hom te sê hy’t my iets geleer van tennisbane, stapskoene, poedings, pa’s en potyster.