Читать книгу Kortetjies en 'n lange - PG du Plessis - Страница 15
Die glimlag van Johanna
ОглавлениеSoms moet ’n mens lieg.
Soos ek vandag. Want wat ek vertel, het nie presies só gebeur nie, maar amper-so. Maar dié storie het oordadige stroop nodig. Hy moet erger en sagter gemaak word, met lieg. Die waarheid soos hy was, dié kan ek tot vandag toe nie oor my lippe kry nie. My binnekop draai weg van die hoe-dit-regtig-was.
Luister na my half-leuen:
Hier is op die plaas nog delfgrond. Dis die waarheid.
En ek word in der waarheid gepla deur mense wat in die wêreld se gruis glo.
Ek het die goed nie verloor nie, dus gaan ek hulle nie soek nie, maar so nou en dan, op ongehoorde tye, hou hier motors en ander voertuie stil met mense wat vra of ek beswaar sal hê as hulle kom delf – op watter lisensie nou ook al.
Ek sê nee, hou my doof vir pleitinge, beloftes en die voorskilderinge van onmeetlike rykdom.
Toe die bakkie dus stilhou, los ek maar die jong loodgieter waar ek hom van verkeerde raad bedien oor die verskuiwing van die badkamerpype en gaan groet.
Daar’s vier op die trokkie. Voor ry pa en ma. Agter, onder die kap, twee dogters. Nie onaardige mense nie, en omdat delwers dinge van ver af vat, vra ek maar vir Josephine om tee te maak.
Ons is vyf op die stoep. Pa, ma, ek, die twee dogters en later die loodgietertjie met die hemp los oor sy jongmanslyf.
Die dogters is so vyftienrig, die een bietjie ouer, en nie een van die twee sê iets nie.
Toe die tee kom, en die pa begin so stadig om die gesprek na my onontginde gruis te voer, staan die jongste dogter op en gaan haal ’n bababottel uit die bakkie.
Die oudste se tee word daarin gegooi, baba-getoets vir hitte, en vir haar gegee om aan te suig.
Ek en die loodgietertjie maak of ons dit nie raaksien nie.
Maar ons albei sien, skielik, dat sy verskriklik mooi is, die oudste dogter; dat sy in alle opsigte normaal lyk en dat die vroulikheid van haar lyf ryp geword het.
Ons gesels oor delf en die ma verduidelik tussenin dat haar oudste dogter nie kan praat nie, van hoe hulle haar moet oppas, dat sy mors as sy eet, soos ’n baba, dat hulle aangehaal is met die kind.
Ek sê hoe mooi sy is.
Ja, sê die ma, sy is mooi, en vir die jongste sê sy dat sy met Johanna moet gaan loop. Dié vat Johanna se hand en hulle loop af rivier toe.
Ma hoor daar’s water en haar vermanings tot versigtigheid gaan die twee agterna.
Ons praat oor delf.
Tot die jongste met nat hare aangehardloop kom en sê Johanna is in die rivier.
Die ma se ontsteltenis word ’n stroom verwyte. Ek dink, so deur die hardloop, die ergste, al is die water vlak en helder onder tussen die wilgers.
Sy het nie verdrink nie. Sy staan in haar jong naaktheid in ’n vlak kuil. Asof die Here haar pas gemaak en daar vergeet het. Te gou vergeet, dag ek, al glimlag haar onskuld hom nog aan.
Sy glimlag. Die jonger suster pleit dat hulle net ingegaan het oor dit so warm was en dat sy nie geweet het Johanna sal nie weer wil uitkom nie.
Want voor die dreigemente en pleitinge van die wal af glimlag Johanna net.
Tussen pa en ma groei die argument oor ’n inrigting.
Iemand moet haar gaan uithaal.
Ek is half onseker. Die pragtige kind is verskriklik kaal.
Ons loodgietertjie het die lawaai gehoor en hy kom aangehardloop. Hy trek sy hemp uit om haar te gaan uithaal.
Maar hy hoef nie.
Sy kom self na hom toe. En haar glimlag verdwyn eers toe sy by die wal kom en hy omdraai en wegloop.
Ons loop dat hulle haar kan aantrek.
Toe hulle weg is, gaan ek na hom toe waar hy draad in die pype sny.
Hy draai die draadsnyer met woede, en hy sê: “Here, Meneer …!”
Ek sien hy het sy hemp toegeknoop.