Читать книгу Kortetjies en 'n lange - PG du Plessis - Страница 22
Die dood se kleim
ОглавлениеDit word vir enige man in sy middeljare soms nodig om te ontken dat hy mal is.
Ek doen dit vandag hiermee. Ek is nie.
My stadsvriende se betoog dat ek mal is om my langs die Mooirivier te vestig, verwerp ek; die valleibewoners wat meen ek is mal om my aan die toemaak in plaas van oopmaak van delwersgate te vermoei, kan ek begryp; die feit dat Mattewis, my handlanger en gesant op die plaas, dit dink, kan weerlê word.
Om te weet hoekom ek nêrens anders as in die Mooirivier se plat vallei wil sit nie, moet jy Hendrik Potgieter verstaan.
Hy, Potgieter, die onrustigste onder die onrustiges, het die hele Transvaal en Natal gehad om van te kies, want struikelblokke sou hy wel oorkom het. Dit was sy aard. Maar dit was hier waar hy sy wilgerboom langs die rivier ingesteek het om die plek te merk waarheen hy wou terugkeer. Wys. Potgieter het helder water gekies – in standhoudende strome, genoeg vir enige Voortrekkerdorp met name Zilverstroom; Vryburg; Potchefstroom.
Net die onsienlike het Potgieter soms gevang. Soos die koors wat in die miste van Ohrigstad rondgedamp het, of die longsiekte waarvan hy nie kon weet nie, of die hawe-obsessie wat hom weggetrek het van die vallei. Of die verborge waters wat die Oudedorp van Potchefstroom onvas onder voet en fondasie gemaak het, sodat hulle bietjie stroomaf moes skuif. Maar nie ver nie.
Toe, later, het die vallei pokke gekry, want die spoelgrond had diamante.
Dus is die vallei, en my beskeie plekkie daarin, nou pokdalig en pok-hopiesrig. Die vet rooi bogrond is onuitsifbaar verwar met die spoelklippe en Jonasrotse van onder. Toetsgate, noem die delwers die kleintjies, en hulle het nie gedink aan latere tuine en landerye toe hul pikke die orde versteur het nie.
Ek, laatkommer, probeer nou, ten minste rondom die huis, die ouer orde herstel: bogrond bo, spoelklip onder. Jonasklip verkieslik uit die pad gerol, vir sover ’n Jonasklip aan hom laat rol.
Ons is dus besig om tailings terug te werk in ’n gat waar dit vandaan kom, toe Mattewis sy werk staak, graaf neersit, verseg en gaan loop natlei.
Met een woord verklaar hy die finaliteit van sy staking: grafte.
Dis nie maklik om die langwerpige hopies tussen al die hope raak te sien nie, veral nie as jy besig is om toe te gooi nie. Die masjien moes half op die een gestaan het, werk ek uit en ontdek mettertyd meer. Vier om presies te wees. En ek sien die blokkie grond waarin dit lê.
Jy kan ook nie anders nie, want dit was glo ’n ryk kolletjie dié en dis die enigste blokkie wat nie uitgedelf is nie.
Ek en Mattewis het dus een van ons gewone lewensbeskoulike konfrontasies. Dis nou wanneer ek die wyer wêreld aan hom bekend stel.
In dié geval gaan staan ek by hom waar hy die watertjie verskuiwe om die vroe-blomme aan die gang te kry.
Ek vertel hom van begraafplase, van die grêndes waar die Amerikaners so gras plant en gelykmaak, van die katakombes, van die opgrawing van Napoleon, van die plekke waar hulle jou later opgrawe en dan in rakke pak, soos in hoeveel wêreldstede …
Mattewis kyk my aan.
Ek voer my betoog verder, deur die teologiese aspekte van die saak, die onbelangrikheid van die tabernakel en die vlees, die breër beginsels van ewigheid en siel.
Mattewis sê ’n graf is nie net ’n vrotplek nie en die verassingsverskynsel keur hy af. Versteuring is versteuring.
En naderhand, want hy’t in dié wêreld grootgeword, sê hy dis ryk grond waar daardie mense lê. Die bottom is diep, sê hy.
Ek sê ek wil net bó gelykmaak, nie delf nie.
Hy sê ons kan onder op die bottom langs, onder die oumense deur bietjie uit-ream en dan was. Dis ryk daar, hy weet, sy oupa het hom vertel. En hy sal self daar gaan ream – maar onder die oumense deur.
Ons kyk mekaar aan met onverstand.
Vir ’n TV sal hy hulle van alkant af self uit-ream tot hulle wil inval.
Ek wil sy beginsel doodkry en ek vra hom of hy die plek gelyk sal maak vir ’n TV.
Hy dink lank. Nee, sê hy.
Ek staan verwonderd voor die beginselvastheid en ek bedink die saak tot by politieke sienings toe.
Nou hoor ek hy’t die aand by sy huis gaan sê hy dink die alleenbly vang my, want in die eerste plek ken ek nie die verskil van bo en onder ’n lêplek nie, en in die tweede plek moet ek mal wees om te dink ek sal hom ’n TV gee om ’n paar hopies graf gelyk te maak.
Ek ontken dat die alleenbly my vang en ek het net gevrá van die gelykmaak … van die ream-en-was word ek al minder in die nag wakker.